Читать книгу Nadia - Nadia Beukes - Страница 9

Оглавление

Daar kom ’n tyd in jou lewe wat jy ’n rybewys en motor moet kry. Voordat jy die dag agtien jaar oud word, jou studies voltooi of selfs begin werk, is jy grootliks net ’n passasier in jou ouers se voertuig. Hulle neem jou na waar jy moet gaan en later betaal hulle dalk ook jou studies. As jy so gelukkig is.

Dit is egter die dag wat jy jou spreekwoordelike rybewys kry en nie meer so afhanklik is van jou ouers nie, wat die oorgang na volwassenheid begin. Vir sommige vind hierdie verskuiwing onverwags plaas. Vir ander is dit weer ’n natuurlike oorgang en is daar selfs diegene wat nooit volkome hul eie pad betree nie.

As jy die dag op jou eie voete moet staan, is jy skielik aan die stuur en kan jy begin besluit wie jy in jou “motor” toelaat. Jy kan sê wie moet agter inklim en wie mag voor sit. Baie keer laat jy toe dat die persoon wat agter jou sit, jou voorsê hoe en waarheen om te ry.

In die lewe, veral in verhoudings, was dit een gróót fout wat ek gemaak het. Ek het verskeie kere die verkeerde passasiers in my motor toegelaat en baie van hulle het my in die verkeerde rigtings gestuur. Dis maklik om nie verantwoordelikheid te neem as jy net die passasier is nie. As jou ouers trek, moet jy saam trek. Jy moet na die nuwe skool gaan, weer vriende maak en by gesinskeuses en jou ouers se reëls aanpas. Wanneer jy self bestuur en petrol ingooi, dan is dit ’n ander storie.

Toe dit by my studierigting kom, het ek nie eintlik my motor “bestuur” nie en ek het ook nie die brandstof in daardie motor ingegooi nie. Ek het wel die geleentheid gehad om in my ouers se motor universiteit toe te gaan en dit was beslis ’n voorreg, maar die plekke waar hulle wou stop, het nie juis bakens van die vermaaklikheidswêreld vertoon nie. Dit sou ’n kronkelpad wees om eindelik daar uit te kom …

Hoewel die meeste mense my seker eers in 2014 en die jaar daarna, as die aanbieder van Boer soek ’n Vrou sou leer ken, het dié geleentheid nie in my skoot geval nie. “The journey of a thousand miles must begin with a single step,” het die Chinese filosoof Lao Tzu gesê. So was dit ook met my loopbaan en lewe. Dié filosofiese gesegde, wat destyds teen die muur van my koshuiskamer in die dameskoshuis Skoonveld aan die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) vasgegom was, het my gemotiveer om met besigheidsvakke soos ondernemingsbestuur deur te druk. Dít terwyl my hele wese eintlik begeer het om in die kollig te wees, om mense te inspireer, te vermaak en hoop te gee. Maar dit sou moeilik gaan om my ouers te oortuig om hierdie begeerte te ondersteun. Hulle wou graag hê ek moes ’n meer stabiele loopbaankeuse maak omdat my pa en ma die onsekerhede van ’n kunstenaarslewe ken. Hulle het gemeen ’n loopbaan op die verhoog sou nie noodwendig vir my ’n standvastige werk en inkomste bied om selfstandig te kan funksioneer nie. Vir hulle was ’n graad agter my naam van groot belang.

Ironies genoeg is ek wel vandag baie dankbaar, maar ek glo ook dat as jy ’n droom in jou hart het, is dit beter om dit te voed eerder as om dit te onderdruk, aangesien daardie begeertes net so diep en vir so lank weggebêre kan word. Gelukkig glo ek dat met deursettingsvermoë, harde werk en tyd, kan jy enige droom waarmaak. Glo in jouself en ook in God. Jou ouers is daar om vir jou raad te gee en hoewel ’n jongmens hardkoppig en eiewys kan wees, moet ’n mens ook na raad luister.

Ek het in 2001 ingeskryf vir ’n BA-graad in bemarkingskommunikasie aan die destydse RAU, wat vandag as die Universiteit van Johannesburg bekend staan. In my eerste jaar in die koshuis het ek baie beskuit en gemorskos geëet en seker vyftien kilogram opgetel. Dit was blykbaar heel normaal vir eerstejaars om so gewig op te tel en die seniors het na dié kondisie as eerstejaarsvetsindroom of te wel EVS verwys. Ek was beslis ’n slagoffer van EVS en het sommer daar al afgesien van my tienerdroom om Mej Suid-Afrika te word! (Die feit dat ek nie eens vir joolkoningin benoem is nie, moes seker ook vir my iets gesê het …)

In die koshuis het ek sêr gesing en toe omdat ek tot my teleurstelling nie tot ’n huiskomiteelid verkies is nie, saam met my vriendin Adele Viljoen (gemotiveer deur Lizz Meiring en Heidi Mollentze – by wie ek deeltyds dramaopleiding ontvang het) vir die duetsangkompetise Zing! op kykNET ingeskryf.

Dit was ’n fantastiese geleentheid, maar het natuurlik groot opoffering geverg. Ek was in daardie vier maande van repetisies en regstreekse uitsendings min in die klas en dit het my so byna my graad gekos.

Al het ek die universiteit verteenwoordig, het een van my dosente besluit dat “al het jy ’n nier geskenk in die tyd wat jy weg was”, gaan sy nie toelaat dat ek my eksamen skryf nie. Ma Eureke het gelukkig ingegryp en die dekaan het ingestem dat ek ’n spesiale hereksamen kan skryf op voorwaarde dat ek al my ander vakke slaag.

En Zing! bring toe vir my en Adele ’n wonderlike beloning toe ons die finaal haal. Ek was gereed om my drome na te jaag en steeds my weg na die verhoog as sangeres te vind. Die sakewêreld was nie vir my nie.

My ouers wou hê ek moes my honneursgraad ook aanpak, maar ek het my teëgesit. Ek wóú sing. My ma het nugter gebly en gemaan: “Wonderlik, Nadia! Waar gaan jy sing?” Ek het my ma probeer oortuig dat ek danksy Zing! reeds ’n voet in die deur het. Weer wou my ma streng weet: “Het jy al ’n CD-kontrak? Kan jy bladmusiek lees? Kan jy ’n instrument speel?”

Sy was reg. Ek het nog geen van daardie prioriteite of geleenthede in plek gehad nie. Ek moes aanvaar dat drome eers met harde werk wel ’n werklikheid sal word en nie net gebeur nie. So het ek, genadiglik, die hereksamen geslaag om my graad te verwerf en my honneursgraad aangepak.

Tussenin het ek as au pair gewerk om as student ’n inkomste te verdien. Ek het drie kinders opgepas en selfs na die jongste, die sewejarige Wian, se rugbywedstryde gaan kyk. Dit was so lekker om iets vir hom te kon beteken. Om daar te wees waar sy ouers, soos myne, soms nie kon wees nie. As hy met die bal hardloop en agtertoe kyk, kon hy sien iemand kyk vir hom. Dit is al wat ’n mens mos wil hê, is dit nie? Om te weet iemand is daar vir jou. Iemand kyk vir jou.

As deel van die honneursstudie het ek my bemarkingsprojekte grootliks op die kykNET-kanaal toegespits. En daar, met al die navorsing en na aanleiding van my betrokkenheid by Zing! kry ek toe sowaar ’n werk as kontinuïteitsaanbieder.

Ek wou van kindsbeen af al op M-Net se destydse kinderkanaal, KTV, ’n aanbieder wees (wie van my generasie wou nie!). Ek was selfs vir ’n oudisie nadat ek my ma en pa gek gemaak het om my na die oudisies te neem. Dit het ongelukkig nooit gebeur nie. Ek wou soos die gewilde aanbieders Candice Hillebrand, Doreen Morris of Scot Scott wees. Maar voor die einde van my studie het M-Net opgehou om aanbieders tussen programme te plaas.

Maar toe kry ek die kykNET-werk. Ek het vir presies nege jaar dit gedoen wat ek nog altyd wou. Ek het selfs ’n toegangskaart vir die M-Net-gebou gehad. Dit was seker een van die grootste oomblikke in my lewe – om toegang te hê tot my drome. Ek het net ’n voet in die deur nodig gehad.

Soms is dit al wat ’n mens nodig het. Geluk … oftewel genade, wat na jou kant toe draai.

Baie joernaliste vra my vandag tydens onderhoude: Wat is sukses? Vir my is sukses wanneer voorbereiding en geleentheid bymekaar kom na aanleiding van die Romeinse filosoof Seneca se aanhaling: “Of dit nou is om fisiek fiks te word vir ’n marathon, of net geestelik, wanneer dít wat jy wil doen gebeur, moet jy gereed wees. Dan mag niks in jou pad staan nie.” Jy kan nie dan besef: “O, wêreld, ek wou nog tien kilogram verloor of ek het nog nie die liedjies geskryf vir die album wat ek nou wil opneem nie.” Jy moet dan voluit gaan om jou drome waar te maak. Soms dink jy iets in die lewe sal regtig opwindend wees om te doen en dan doen jy dit. Soms voldoen dit nie heeltemal aan jou verwagtinge nie en soms is dit veel beter.

Dit was vir my so met Zing!

Wat my die meeste gefassineer het, was om op televisie te wees. Dit begin basies met niks nie, maar dan trek hulle jou mooi aan, jy leer ’n liedjie en skielik word mense by die huis daardeur geraak. Hulle stem om jou daar te hou, jy stap ’n pad saam met hulle en jy gee net jou beste. Jy belê jouself emosioneel daarin. Toe dié gogga eers gebyt het, het ek besef ek kan en wil niks anders doen nie. Ek móés in die vermaaklikheidsbedryf werk.

Ek het een keer gelees dat alles op aarde vibreer. Die artikel het verduidelik dat ’n mens van sekere goed hou en van sekere goed nie hou nie. Jy weet jy is op die regte plek en doen die regte ding wanneer jy gemaklik voel met waar jy is. Die vibrasies voel net reg. Dis vir my ook hier waar die Heilige Gees ter sprake is. As ek moet sê wat of wie die Heilige Gees vir my is, is dit dat Hy daardie stem in my binneste is, daardie sesde sintuig of instink wat ek voel of hoor. Jy kan vir jouself sê: Ek gaan nie nou na hierdie stem luister nie, ek maak ’n kopbesluit of ’n hartsbesluit, maar ’n mens se kop en hart stem nie altyd ooreen nie. Tog as jy stil word, praat die Heilige Gees met jou en weet jy – hier pas die legkaartstuk in sy pasplek.

In my honneursjaar het my ouers my begin aanmoedig om my CV uit te stuur om ’n “regte werk” te kry. Ek het by my ma gepleit om my net tot ten minste Oktober ’n kans te gee om my drome van ’n loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf na te streef. My ma het gesê dis reg: “Ons bid tot Oktober.”

Mense gebruik graag die woord “toevallig”. Ek sê eerder “toe-val-lig”. En Lig het toe geval. Ek het by Volksblad se kunstefees praktiese publisiteitsondervinding onder leiding van kykNET se destydse bemarkingsbestuurder Handrie Basson as deel van my honneursgraad opgedoen toe Bondina Osterhoff en Karen Meiring (nou hoof van kykNET en voormalige lid van Cutt Glas) my met my vlamrooi hare raakgesien het waar ek agter die skerms van ’n vertoning van Amanda Strydom en Cutt Glas gewerk het. “Toevallig” was dit ook in die tyd wat die rooikop Jolette Odendaal die groep sou verlaat. Ses oudisies later was ek in Cutt Glas. Die datum was 22 Oktober 2004. Ek sal dit nooit vergeet nie. Ek het my ma gebel en gevra: “Tot wanneer het ons gesê bid ons?”

Vir drie en ’n half jaar het ek die land saam met Karen Wessels, Rozelle Blackie, Karen Meiring en Bondina Osterhoff deurkruis en tussendeur by kykNET gewerk. Xander Steyn (toe my kêrel) het baie musiekteater gedoen en my pa het my gehelp om ’n agent te kry. Later het ek en Xander ons by my goeie sielsvriend Jennis Williamson se nuwe talentagentskap aangesluit. En stadig maar seker het ek meer by die teaterwêreld betrokke geraak en uitgesien waarheen die pad my en Xander sou vat.


My eerste dag van skool.

Nadia

Подняться наверх