Читать книгу Nadia - Nadia Beukes - Страница 5

Оглавление

My ma het in haar matriekjaar in 1973 reeds besluit dat as sy eendag ’n dogtertjie sou hê, sy haar Nadia sou noem. Sy het op skool van die legendariese Roemeense gimnas Nadia Comăneci gehoor wat later in die Olimpiese Spele van 1976 drie goue medaljes sou verower en die eerste gimnas ter wêreld sou word om ’n perfekte telling van 10 te behaal.

Die naam Nadia, wat van Slawiese herkoms is, beteken “hoop”. Ek wonder of my ma bewustelik oor dié betekenis opgelees het toe sy my Nadia Marianne Beukes genoem het, want ek glo daar is hoop oor my lewe uitgespreek. Ek het altyd geglo daar is hoop, maak nie saak wat in my lewe gebeur nie. Daardie hoop het definitief nie uit myself gekom nie! Ek glo dit is die Here, want Hy het geweet ek sou baie daarvan nodig hê.

My begeerte om in die vermaaklikheidsbedryf te wees, het reeds kleintyd begin. Ek glo dit is ’n liefde wat ek by my pa geërf het. As befaamde operasanger het my pa, Rouel, die land en later oor die wêreld heen getoer om vir ons ’n goeie lewe te kon voorsien.

Ek onthou die dag toe my onderwyseres-ma, Eureke, my as kaalvoetkleuter by ons huis in Midrand in Johannesburg my oor my drome uitgevra het. “Wat wil jy eendag word as jy groot is, Niets?” Hoewel ek die vraag onthou, het my presiese antwoord oor die jare vervaag. Al wat ek onthou, is dat ek net in die kollig wou wees. “Jy wou ’n prinses word,” het my ma my onlangs help onthou. “’n Prinses? Maar dit is dan nie eers ’n regte werk nie?” het ek gereageer. Weer het sy my antwoord van destyds bevestig. Sy het my immers dieselfde vraag gevra. Sy wou toe ook by my weet: “Nou wat doen ’n prinses?” My antwoord was blykbaar kort en kragtig: “’n Prinses trek mooi aan en waai vir die mense!” In hierdie onskuldige antwoord wat dalk as oppervlakkig kan oorkom, was my meisie-hart versluier.

Die behoefte om aanvaar en waardeer te word, om geliefd te wees, om in ’n posisie van invloed te wees en mense te inspireer, het van kleins af in my geleef. Ek wou in die mooi van die lewe deel en ook ander daarvan deel maak. Die meeste van ons ken die verhaal van Aspoestertjie, wat ná haar ouers se dood by ’n nare stiefma en stiefsusters moes gaan bly. Sy moes haarself dag ná dag vir hulle afsloof totdat sy uiteindelik haar prins ontmoet het. In die jongste rolprentweergawe van hierdie verhaal, sê Aspoestertjie se ma vir haar as klein dogtertjie voor haar lewenspad dié aaklige draai neem: “I have to tell you a secret that will see you through all the trials that life can offer; have courage and be kind.” Dít was vir my só ’n belangrike les oor hoe om die lewe aan te pak – en dit is waarna ek streef.


Ek het in ’n goeie huis grootgeword. My ouers is gelowiges wat ’n vervullende en veilige hawe vir my en my broer, De Villiers geskep het. Vandag besef ek hoe gelukkig ek was om my kinderjare in so ’n bevoorregte omgewing te kon deurbring. My kamer was prinsespienk en by ons kinderpartytjies was daar altyd baie lekkergoed, springkastele en maats.

In die huis onthou ek ’n formele sitkamer met ’n wollerige wit mat waar ons die dominee kon onthaal. Buite was ’n groot en baie diep swembad.

Benewens die swemlesse het ek en my broer van ’n jong ouderdom aan verskeie aktiwiteite deelgeneem – van karate vir De Villiers tot allerlei danssoorte op die verhoog vir my. Al het ek nie enige titels verwerf of groot kompetisies gewen nie, het my ma my altyd mooi aangetrek, my hare gekrul en het ek altyd soos ’n prinses gevoel. Ek het alle soorte dansstyle probeer, maar in moderne danse en klopdanse uitgeblink. Ballet was heeltemal te gedissiplineerd vir my hardkoppige persoonlikheid wat van kleins af al alles bevraagteken het.

Hoewel my hardkoppigheid my vandag steeds soms in die warmwater laat beland, bly ek glo dat dit ’n goeie eienskap is. As kind het dit my egter baie meer in die moeilikheid laat beland as ek soos ’n snip begin terugpraat het. Dissipline is goed en my ouers was nooit onredelik nie. Die struktuur en stabiliteit wat hulle vir my en De Villiers in ons kinderjare gegee het, was baie waardevol.

Ons werf was eintlik meer soos ’n plaas. Ironies dat ek as totale stadsmeisie my jare later op vele plase in ’n Toyota-bakkie sou bevind met die reeks Boer soek ’n Vrou.

Asof al die verskeie troeteldiere nie genoeg was nie, was daar ook jaarliks ’n gewemel in die huis van my hordes sywurms. In ons tuin was ’n groot moerbeiboom en daar kon ek blare pluk sodat die sywurms hulleself trommeldik kon vreet. Vir my kleine self was dit hartverskeurend toe ek een keer die eiertjies op die vloer van een van die vertrekke in ons huis onder ’n tafel laat lê en die miere alles verorber het. Ek het dae lank oor die verlies getreur, want wat die begin van ’n nuwe lewensiklus moes wees, is eensklaps beëindig.

Ná jare in Midrand het ons in my standerd een, ofte wel graad drie jaar, in 1991 na Centurion verhuis. Daar kon ek jare lank sorgeloos met my fiets na die Laerskool Hennopspark ’n paar blokke ver ry en het vinnig met die bure se kinders vriende gemaak.

In dié huis was my kamer met ’n Biggie Best-tema gestileer, kompleet met muurpapier in skakerings van appelkoos en ligte blou. Daar was altyd genoeg slaapplek as ’n maatjie kom kuier het. My ma het ’n stokkie daarvoor gesteek toe ek ’n skelpienk Barbie-kamer wou gehad het. As troosprys het sy vir my ’n Barbie-kussingsloop gekoop.

Ek onthou soos gister hoe ek op dié gunstelingsloop en met my geel en wit Telly Quack-eendjie van die TV-speletjiesprogram Telly Fun Quiz snags aan die slaap geraak en gedroom het om soos my pa op die verhoog te wees. Ek het definitief my liefde vir die kunste van hom gekry.

My pa het in ons kinderjare voltyds by die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (TRUK) gewerk. My ma was byna 40 jaar lank ’n onderwyser en het 34 jaar daarvan by Halfway House Primary in Midrand skoolgehou, wat destyds nog as Laerskool Halfway House bekend gestaan het.

As gesin het ons ’n redelike normale ritme gehad. My pa was in daardie tyd by verskeie fantastiese verhoogproduksies in die Pretoriase Staatsteater betrokke en het ons altyd saam na vertonings geneem. Dit was betowerend! Ek dink dit is daardie blootstelling aan my pa se loopbaan wat iets diep binne-in my laat roer het om ook eendag deel van die vermaaklikheidswêreld te wees.

As sesjarige het ek gereeld in my pa se aantrekkamer by die teater gespeel of selfs geslaap omdat operas vir my vervelig was. Kort voor lank was ek egter voor, agter en op die verhoog meer tuis as by die huis. Ek onthou so goed die verwondering wat ek ervaar het wanneer die karakters met stylvolle danspassies oor die verhoog gesweef het, die musiek en sang, die grimering en kostuums. Die grootsheid van dit alles het my klein laat voel.

Elke produksie – van die operas Rigoletto, Carmen en Turandot tot die musiekblyspele en pantomimes soos Sneeuwitjie waar akteurs in die rolle van die sewe dwergies op hul knieë geloop het – het my na ’n wonderwêreld weggevoer. Ek kon ure lank swymel oor die pragtige soprane in hul balrokke en die blink afwerkings op hul kostuums. Buddy Holly het weer my hart met sy kitaar gesteel.

Saam met my pa kon ek agter die skerms die magiese verhoog en dekor aanskou. Toe my pa die hoëpriester in Aïda vertolk het, het hulle regte diere – selfs ’n olifant – op die verhoog gehad. Ná die opera kon ek aan die einste olifant vat. Die grimering vir die hoëpriester was so goed dat ek nie my pa kon herken met die lyne op sy gesig en die kappie wat sy hare versteek het nie. Dit het hom nes ’n bejaarde priester laat lyk. Een keer het hy gaas oor sy oë gedra toe hy ’n blinde karakter moes vertolk. Met so ’n kis vol grimering en rekwisiete was dit nie vir my pa moeilik om my vir ’n temapartytjie ook met ’n lang lelike neus en moesie te vermom nie.

Ongelukkig was my pa nie altyd net op die Pretoriase Staatsteater se verhoog nie en moes hy soms oor die land heen in Durban, Bloemfontein, Kaapstad of selfs oorsee gaan sing. Hoewel ons soms vir ’n rukkie op ’n slag vir hom kon gaan kuier, was dit nie dieselfde as om hom naby te hê nie. Ons het hom gemis. Daar is nie vandag enige verwyte nie, maar my pa se afwesigheid later jare was natuurlik vir my by tye swaar. Soveel soos wat my kop dit verstaan het en ek geweet dat hy dit vir ons doen, het ek baie keer gewens dit was anders. Ek het nooit gevoel hy gee nie om nie. Inteendeel, ek dink hy sou dit ook anders wou gehad het, maar die situasie in ons land het dit later nie meer toegelaat nie.

Hy moes doodeenvoudig die geleenthede wat oor sy pad gekom het, aangryp en die beste daarvan maak. Die gevolg was dat ons sondermeer moes aangaan en die beste van die situasie maak – en ons het. Dit was moeilik vir my en my pa om dit te erken, maar hy weet ek sou wou gehad het dat hy meer in my lewe betrokke moes gewees het. Ek weet wel dit was nie altyd vir hom moontlik nie.

Al het hy my oor die jare baie ondersteun en als bygewoon wat hy kon, het hy byvoorbeeld baie van my dans- en trompoppie-vertonings gemis.

Trompoppies was ’n groot deel van my skoolloopaan aan die Hoërskool Zwartkop in Centurion. Ek het begin as ’n vlagdraer en gevorder tot by onderleidster en later hoofleidster van my span. Uiteindelik het ek provinsiale kleure verwerf. Gelukkig het my pa my darem ’n paar keer op die veld as leidster van my trompoppiespan sien loop en ek glo hy was trots op my prestasie in hierdie sport.

Ongelukkig kon hy nie my matriekafskeid bywoon of by een van my twee gradeplegtighede wees nie. Hy was wel teenwoordig toe ek belydenis van geloof in die NG Kerk Sesmylspruit in Centurion afgelê het. Die gemis was nie noodwendig iemand se skuld nie, maar dit was nie altyd maklik nie. Dit was nou maar die verloop van ons lewenspad as gesin. Miskien het dit my sterk genoeg gemaak om onafhanklik te kon funksioneer, selfs al was dit toe nie vir my altyd lekker nie. Dit is beslis nie ’n pad wat ek graag eendag vir my man of my kinders sal wil hê of kies nie.

My ma was altyd daar en het haar plek as ouer vol gestaan. Sy het vir ons lesse geleer en altyd male sonder tal vir my en De Villiers gesê jou omstandighede hoef nie jou menswees te bepaal nie. Sy het ons geleer dit maak nie saak in watter situasie jy jouself bevind – jy moet dit soos ’n dame of heer hanteer, sorg dat jy ordentlik en ingelig is en maak die beste van dit wat die lewe jou bied. Jy hou jou kop omhoog en gaan aan. As ’n mens hierdie soort aanslag het, dan sal almal dit weet ongeag jou geld, status of gene. Jy moet selfrespek hê en dan sal ander jou ook respekteer. Hierdie waarheid is diep in my en my broer se denke ingeprent en ek is dankbaar dat my ma ons nie juis toegelaat het om onsself jammer te kry nie.

Ek en my broer het geleer om hard te werk vir dit wat ons wil hê en te baklei vir waarin ons glo. Ek onthou nie ’n tyd voor my broer nie daar was nie. De Villiers, wat vandag as bestuurder op ’n kommersiële varkplaas in Middelburg, Mpumalanga werk, is drie en ’n half jaar jonger as ek. Van sy begin af was ek daar, maar dit voel vir my of hy ook vir altyd nog saam met my was. Ek onthou ons kleintyd meestal aan foto-herinneringe – kosbare oomblikke vervaag mos maar mettertyd.


Niks wat die moeite werd is, is maklik nie. Ek weet vir seker dat volharding die lewe met sukses inkleur. Alle dinge is wat jy aan die einde daarvan maak, maar dit vat bloedsweet en volharding. Om net te bestaan vra min lewe, maar om te leef, om te volhard in wat jy doen en glo, vra lewe. Ek weet vir seker dat God saam met dié is wat aanhou.

Hoe jy grootword vestig die grondslag van jou lewe. Tog bepaal jou verlede nie jou toekoms nie. Die keuses wat jy maak, dra soveel meer gewig en strek soveel dieper. Ek glo ’n mens se kompas vir jou lewe, jou ware noord is gegrond in jou karakter, jou morele waardes én in jou geloof. Dit is die kompas wat jou rigting en keuses behoort te bepaal.

Die roete wat jy volg om daarby uit te kom, is natuurlik ’n heeltemal ander storie. Jy kan die lang pad vat, jy kan vlieg, jy kan ’n panoramiese roete ry, maar uiteindelik, het jy steeds ’n bestemming in gedagte.

Kom ons veronderstel dat ek en jy is op pad Kaap toe vanaf Johannesburg. Ons kan op pad by Matjiesfontein stop en so baie daarvan hou dat ons nie eens meer die behoefte het om Kaap toe te gaan nie …

Soms bevind jy jou op die snelweg. Almal het vir jou gesê dis die beste pad, die GPS wys vir jou dis die kortste en vinnigste pad, maar toe is daar erge verkeer …

Soms is jy op ’n stofpad en alles om jou lyk vir jou dieselfde. Dit is dan wanneer jy eintlik moet stop, uitklim en na die klein dingetjies om jou kyk om te besef die pad het ook sy eie bekoring en dit is waar jy nou moet wees.

Daar is vrae wanneer jy aan jou lewensreis terugdink. Waar het alles begin? Wat het jy alles in jou tassie gepak? Wat is die bagasie wat jy ingelaai het en wie was die mense wat ook deel van die reis was?

Die lewe was inderdaad by tye vir my moeilik. Ek het egter goeie lewenswaardes van my ouers gekry. Lewenswaardes soos eerlikheid, empatie, naasteliefde, bedagsaamheid, integriteit, regverdigheid en vergifnis is te danke aan hulle wat dit diep in my hart graveer het.

Ek was drie jaar oud toe ek vir die eerste keer alleen van Johannesburg na Durban gevlieg het om by my grootouers aan my ma se kant, ouma Jane en oupa Rip, te gaan vakansie hou. Baie van my uithouvermoë het ek by my ouma geërf. Sarah-Jane Greyling is ’n naam wat in vele mense se boeke sou staan as hulle hul stories soos ek moes neerpen. Haar pad tot dusver was opwindend, propvol avontuur, liefde en onverwagse kronkels en draaie.

Ná ’n ernstige hartaanval het my ouma Jane, wat in ’n aftreeoord in Parys in die Vrystaat woon, se eens fietse en fikse lyf heelwat agteruit gegaan. Nog ’n inwendige spalking (“stent”) of twee én ’n pasaangeëer later en haar liggaam is skaars ’n skaduwee van die vrou wat sy was. Haar kop en haar siel staan egter nog altyd sterk.

Met die skryf van dié boek weet ek nie hoe lank Ouma nog met ons gaan wees nie. My ma het my laat weet dit gaan nie goed met haar nie. Toe ek haar bel moes ek al my moed bymekaar skraap om nie tranerig te raak nie. Ek het opgeruimd met haar gesels, terwyl ek skaars kan sin maak uit die geluide wat nog uit haar mond kom. Ek weet sy wil nog praat en lag; ek voel die frustrasie in haar stem aan. Ek wens ek kon in hierdie oomblik al haar eie stories en wyshede vir haar terugvertel, haar inspireer en herinner aan haar kleurvolle lewensavontuur, maar ons gesprek hou slegs ’n paar minute en ek weet nie of ek ooit weer met haar sal kan praat nie.

My hart hoop in hierdie oomblik dat ek haar weer sal kan sien en met haar gesels, maar my kop weet daar is ’n baie groot kans dat dit nie sal gebeur nie. Haar liggaam wil nie meer bybly nie, al bly haar siel so sterk.

Dit is daar waar haar ewigheidswaarde lê. Haar liggaam is bloot ’n vervoermiddel vir haar menswees wat talle ander aangeraak het. Sy is verewig in die generasies wat kom en tog wens ek ons kon haar liggaam inruil vir ’n nuwe model of net gou instuur vir ’n diens, want ek weet die wêreld sal beslis baat by ’n langer lewe vir my ouma.

Sy sou seker nooit kon raai dat sy kort voor haar troue haar verlowing aan ’n ryk boer sou verbreek om met my oupa te trou nie, of dat hulle twee dogters sou hê en een van hulle met ’n kunstenaar sou trou nie. Wat nog daarvan dat daar kleinkinders sou kom en dat een van daardie kleinkinders eendag die geleentheid sou kry om ’n boek te skryf nie. ’n Boek wat jy nou in jou hande vashou, ’n boek wat vertel van die paaie wat die lewe al met my gestap het.

Ek weet nie of my ouma ooit die kans gaan kry om die blaaie van hierdie boek onder oë te kry nie, maar ek is trots en dankbaar om my stories met jou te mag deel en hoop dat iets van my lewenspad tot dusver jou sal bemoedig, inspireer en aan jou eie pad herinner.

Ek wens ek kon nou langs my ouma se bed gaan sit en haar voete vryf. Bykans 90 jaar se treë moet veeleisend wees op ’n paar voete. Tog vermoed ek elke tree was vir haar die moeite werd en as sy kon sou sy nog 90 jaar se treë wou stap.

Ons kry almal net een paar voete en daar is soveel paaie wat ons kan loop. Party paaie is beter as ander, tog die meeste daarvan is paaie van hoop. My ouma is ’n vrou van God, ’n steunpilaar, ’n matriarg, ’n mens, ’n avonturier, ’n bok vir sports, ’n inspirasie – and always a lady.

My ouma het my destyds vertel dat sy en my oupa albei reeds aan ander mense verloof was toe hulle mekaar ontmoet het. Hulle het egter geweet hulle is vir mekaar bedoel. Hulle het dus heeltemal van rigting verander toe hulle die besluit geneem het om saam ’n nuwe pad te betree. Hulle was reeds 50 jaar getroud toe my oupa nie lank daarna nie in 1999 onverwags oorlede is. Hulle was sowaar ’n match made in heaven.

Soos my grootouers kan jy die roete van jou lewenspad verander. As jy sien iets werk nie en jy besef jy het die verkeerde besluite gemaak, kan jy omdraai of van koers verander. Dit is natuurlik ook waar trots of hardkoppigheid inkom. Party mense is te trots om te erken dat hulle ’n fout gemaak het.

Dit laat my dink aan die aanhaling van Joseph Chilton Pearce: “To live a creative life you need to lose the fear of being wrong.” Dit is ’n aanhaling wat my vriendin Tina Kruger vir my gegee het toe ek eens in my lewe ’n groot besluit oor die pad vorentoe moes maak. Dis okay om verkeerd te wees. Waar ek altyd ’n swart-en-wit-mens was, is ek nou meer grys, meer aanpasbaar, hoewel ek steeds nie baie van verandering hou nie.

Elkeen se kombinasie van menswees is uniek. Jy moet dit net eers ontdek en dan respekteer. Ek het dit met die lees van die boek The Purpose Driven Life van Rick Warren besef.

Elkeen van ons het ’n baie spesifieke rol om te vervul en dit vervul weer op sy beurt jou as mens. Jy is nie ’n onderwyser omdat jou ma en ouma ’n onderwyser was nie. Jy is ’n onderwyser omdat dit jou passie is. Dit is ’n vaardigheid wat jy het om ander te leer. Confucius het nie verniet gesê nie: “If you do what you love you never will have to work a day in your life.”

Ek weet my ouma het nog altyd my droom om in die vermaaklikheidsbedryf te werk ondersteun. Om op die verhoog te wees, was nog nooit vir my iets waaroor ek gewonder het nie. Dit is iets wat ek nog altyd wou doen.

Vanaf die eerste keer wat ek agter die verhoog saam met my pa gewag het vir die gordyn om op ’n produksie te sak of te lig, tot my eerste keer voor die televisiekameras, het die betowering van hierdie wêreld my ingesluk en het ek in die warm ligte voor die kameras tuis gevoel, gereed vir aksie.

Aan die begin was ek bloot net dankbaar vir ’n kans om deel te wees van daardie wêreld. Die vet weet ek sou die spreekwoordelike boom in die agtergrond gewees het as ek maar net op die verhoog kon wees! Ek sou selfs agter die skerms werk net om deel van daardie wêreld te kon wees.

My ouers het hierdie neiging van kleins af raakgesien en ek het die geleentheid gehad om as jong danser heelwat tyd op die verhoog deur te bring, veral in klopdansskoene. Ek het in graad sewe vir die eerste keer alleen op die verhoog gesing, bloot omdat een van die ander soliste siek geword het. Dit was tydens ’n skoolsangspeletjie met die titel Ashoop, waarin ek eintlik ’n lappop in die agtergrond was.

Toe die onderwyseres iemand soek om op kort kennisgewing in te staan, het my entoesiasme my beslis nie in die steek gelaat nie. Met daardie optrede het ek baie vals gesing, hoe dan anders sonder enige opleiding of ervaring? Dit het my egter nie gekeer om te dink ek kan dit tog doen nie.

Op skool het ek saam met vriende en in kore aan die skool se kunswedstryde deelgeneem en nooit regtig uitgestaan nie.

Inteendeel, ek was eintlik my hele laerskoolloopbaan effens op die kantlyn: reserwe vir die D-span by netbal, heelagter in sagtebal en geensins deel van die atletiekspan nie. Ek was darem ’n prefek en dirigent in die laer- en hoërskool.

Sport het my nooit werklik aangestaan nie. Tot vandag toe is ek nie sportief nie, maar ek is goed in ander goed. Toe ek jonger was, het ek nie juis geweet waarin ek goed sou wees nie, maar ek het geweet waarin ek goed wou wees. Ek wou goed wees daarin om in die vermaaklikheidsbedryf te skitter en bekend genoeg te word dat ek ’n daadwerklike impak op mense se lewe sou kon maak. Die akademie het op hoërskool ’n groot rol begin speel en miskien sou ek daarvan gehou het om ’n slim dokter of suksesvolle prokureur te word, maar ek het meer daarvan gehou om te perform.

Daar was een geleentheid op hoërskool waar juffrou Sanet Bulwan my oortuig het om deel te word van hul tienertoneelgeselskap. Dit was die einste juffrou Bulwan wat my laat glo het dat ek ’n onderskeiding vir Afrikaans in matriek kon kry. Wat ek toe ook reggekry het. Sy het my passies raakgesien, en dit in die klas en op die verhoog ontgin. Ons het ’n produksie Jack Spook opgevoer waarin ek ’n spook met ’n gesplete persoonlikheid gespeel het. Ek het verskeie toekennings vir die rol ontvang.

Dit was natuurlik tussendeur al die drama van hoërskool self, want kom ons wees nou eerlik: om ’n hormonale tiener te wees, is nie eenvoudig nie. Jaco, ’n talentvolle, goedgemanierde jongman, was in die einste produksie. Onnodig om te sê dat ek mal oor hom was en my aandag verdeeld was.

Talle male op hoërskool het ek gedink ek het my sielsgenoot en lewensmaat gevind. Elke keer was ek halsoorkop, onskuldig verlief … Het ek toe geweet wat ek nou weet, sou ek harder geleer het om ’n beurs te kry en nie met ’n studielening later in my lewe te sit nie, maar ek is die ewige romantikus en elke onskuldige verhouding het my laat voel soos die hoofkarakter in ’n romantiese novelle.

Daar was nie veel van hierdie vlietende verhoudings nie, maar dié wat wel daar was, was vir my baie ernstig. Ek is nog altyd bietjie konserwatief as dit kom by verhoudings en dinge van die hart.

My eerste soen was byvoorbeeld eers in graad nege. Teen daardie tyd was ek een van die min meisies wat nog nooit ’n outjie gesoen het nie en as ek reg onthou, is dit amper dieselfde gevoel as om op 30 nog nie getroud te wees nie. Dit is nie ’n lekker gevoel nie. Nietemin, die soen was perfek en hier waar ek vandag in my lewe is, kan ek met oortuiging (en uit ervaring) sê dat dit die moeite werd is om te wag vir dit wat jy in jou hart koester en nie met enige iets minder tevrede te wees nie. “All good things come to those who wait,” en ek voeg graag by: “Great things come to those who wait patiently.” Ek sou dit gou genoeg besef toe ek universiteit toe gaan en begin om my drome na te jaag.

Nadia

Подняться наверх