Читать книгу Suster Leanie se groot hart - Naretha Franken - Страница 4
1
ОглавлениеLeanie loer met skrefiesoë na die gewerskaf in die hoek van die parkie en glimlag lomerig. Die koelteboom wat oor die bankie uittroon, help om die Januarie-hitte van die Boland draagliker te maak. Kersfees en Nuwejaar saam met Henk se familie op Hermanus het haar goed gedoen, maar hierdie afgelope twee weke terug by Worcester Med Hospitaal was nogal besig. Die stilte hier in die parkie is heerlik – net wat sy nodig het voordat sy weer vannag aan diens is.
Toe haar kop eenkant toe kantel, ruk sy orent en neem ’n sluk van die koeldrank wat al amper vergete langs haar op die bankie staan.
Die twee in die hoek van die park trek weer haar aandag. Isak en Dora het net vlugtig opgekyk en breed geglimlag toe sy vroeër by die parkie aangekom en vir hulle gewaai het. Hulle is druk besig met een of ander pakkery. Dora haal klere uit ’n sak, vou dit netjies op, sit dit terug en begin die hele proses dan van voor af. Wel, tyd het hulle seker baie. Vir hulle onthalwe is sy bly dat die koue maande verby is. Hoeveel aande gedurende verlede jaar se winter het sy nie lê en rondrol wanneer die reën teen haar ruit geraas het en gewonder waar die hawelose paartjie hulle bevind nie. Nou steek die son hulle seker bedags, maar minstens is daar genoeg koeltebome op Worcester.
Sy wonder of hulle nog die komberse het wat sy vir hulle gegee het? Die polisie kan soms onnodig wreed wees, vat sommer die boemelaars se karige besittings af om wie weet wat mee te gaan maak. Hulle doen niemand mos skade nie. Meestal is hulle maar daar in hul hoekie besig, en dit lyk asof die mense van die omgewing hulle op ’n manier al aanvaar het. Waar hulle slaap, weet sy nie. Eintlik wil sy ook liewer nie weet nie. Wat sy nie weet nie, kan haar ten minste nie laat wakker lê nie.
Hulle was so bly oor die komberse, sy kry sommer weer ’n knop in haar keel as sy daaraan dink. Nadat sy daardie nag amper nie kon slaap nie omdat haar voete te koud was, het sy die volgende oggend opgestaan en vir hulle elkeen ’n kombers gaan koop.
’n Derde kombers het sy by Isak en Dora gelos, seker dat hulle dit, soos sy gevra het, vir hulle ander hawelose vriend sou gee. Die lang, skraal oom met die woeste baard het sy nog nie weer gesien sedert sy van haar vakansie af teruggekom het nie. Afgesien daarvan dat hy so nou en dan met Isak en Dora gesels, hou hy hom baie eenkant. Wat noem hulle hom nou weer?
Lu … as sy reg onthou.
Sy hoop als is nog oukei met hom. Arme mens. Om so oud en alleen deur die lewe te gaan, moet vreeslik wees. Henk en die klomp by die werk sal nou weer sê sy is behep met die bosslapers, maar sy kry hulle so jammer. En wat traak dit enigeen van die bevoorregtes in elk geval as sy met Isak en Dora gesels? Of as sy vir hulle iets by die winkel koop? Sy vervies haar sommer opnuut vir hulle. Dis háár tyd en geld en as sy iemand daarmee kan help, hoekom nie?
Sy gly weer bietjie af teen die bankie se rugleuning en skop haar bene lank voor haar uit. Hulle het lekker bruin op Hermanus gebrand. Die vakansie het haar weer hoop vir haar en Henk gegee. Te lank al voel dit asof hulle verhouding net ’n gewoonte geword het. Hulle was vir eens weer spontaan liefdevol saam. Dalk kan hulle nou uiteindelik ’n troudatum vasstel. Sy familie voel buitendien al soos haar eie.
Haar kop kantel weer en sy skuif regop teen die rugleuning van die bank. Haar skaduwee strek lank oor die gras langs die bankie uit. Die enigste geluid is die voëls se getjirp in die boomtakke bo haar. Die middag is amper so stil soos wat dit altyd op hulle Karooplaas is. Hoe verlang sy nie nou daarna nie? Veral na Jurgens. “Sus, ons het baie reën gehad, en die veld is nou pragtig groen,” het hy gesê toe sy hom op Kersdag gebel het. Maar sy sal nie binnekort vir Jurgens, Danelle en die twee buksies kan gaan kuier nie. Sy het al haar verlof gebruik vir die paar dae saam met Henk en sy familie op Hermanus.
Twee kleuters hardloop die park binne en versteur die stilte met hulle skril stemmetjies. Leanie loer deur skrefiesoë hoe hulle baklei oor dieselfde swaai totdat hul oppasser hulle uitmekaar maak en albei belet om op daardie spesifieke swaai te ry. Hulle stap skoorvoetend verder na die volgende ry swaaie om dan net weer in ’n argument betrokke te raak. Leanie glimlag lomerig.
Die selfoon in haar sak vibreer onverwags teen haar been en onmiddellik volg die gekraai van ’n hoenderhaan. Met die gesukkel om die selfoon uit haar sak te kry, stamp sy die halfgedrinkte blikkie koeldrank om en kyk vies hoe die inhoud oor haar voete en van haar pakkies loop.
Die gekraai hou op net voordat sy kan antwoord. Die groen letters op die skerm vertel haar dat dit Henk was wat haar gesoek het. Moet sy hom terugskakel of wag dat hy weer bel? Dan vang haar oog die tyd in die boonste hoek van die selfoonskerm.
Genade, is dit hoe laat dit is?
Oor minder as ’n uur moet sy al in teater wees en om als te kroon, begin die nuwe matrone, Elizna Truter, vandag werk. As Leanie laat is, gaan dit beslis nie ’n goeie eerste indruk skep nie.
Met die geskarrel om al haar pakkies eers droog te kry en toe bymekaar te vat, verloor sy ’n skoen en toe dié eers stewig aan haar voet sit, val daar weer ’n pakkie. Sy is uitasem gesukkel toe sy uiteindelik haar weg na die opening in die heining vind. Sy storm by die opening uit, vies vir haarself. Sy kan nie glo dat sy haar tyd so sit en verdraai het nie.
Die volgende oomblik voel dit asof sy tromp-op teen ’n muur vasloop. In stadige aksie sien sy hoe haar pakkies deur die lug trek, voel sy hoe sy sweef en dan, met ’n plofgeluid in haar ore, die grond tref. Dit duur ’n paar oomblikke om tot verhaal te kom. Sy maak haar oë stadig oop, sukkel om die gebukkende figuur bokant haar in fokus te kry, maar slaag eers daarin om te reageer toe die diep stem van iewers af vra of sy oukei is. Dan eers sien sy die hand wat na haar toe uitgehou word. Sy ignoreer dit, spring op en begin haar pakkies bymekaarmaak.
“Ek’s regtig jammer,” sê die diep stem weer hier langs haar.
Sy merk dat hy besig is om van haar goed wat uit die sakke geval het – sjampoe, opknapper, tandepasta en ander taamlik persoonlike inkopies van Clicks – bymekaar te maak en terug te prop in hul onderskeie sakke. Sy wil nog keer, maar toe sy weer sien, is als opgeraap.
Eers toe hy orent kom en die stowwerige pakkies na haar uithou, sien sy dat dit hy is: die boemelaar-oom oor wie sy oomblikke gelede gewonder het. Dis die eerste keer dat sy so naby hom is, en sy staan verskrik terug. Hy is baie langer as wat sy gedink het. Die blou oë bokant die woeste baard hou hare vir ’n oomblik gevange.
Toe gryp sy die pakkies en met ’n kortaf “dankie” drafstap sy weg.
Toe Leanie vroeg die volgende oggend haar deur by die koshuis wil oopsluit, gaan Maré s’n skuins oorkant hare oop. “Jy lyk pootuit,” sê haar vriendin simpatiek. “Moeilike nag gehad?”
Leanie kyk na Maré en blaas haar asem stadig uit. “Ja, ’n seuntjie is met ’n slegte klavikulêre breuk opgeneem, en ek moes bystaan met die operasie om dit met ’n plaatjie weer in posisie te kry.”
Maré trek ’n gesig. “Ouch, dis nooit lekker nie. Dit moes ’n baie slegte breuk gewees het as die sleutelbeen nie sommer self weer kan aangroei nie.”
Leanie skud haar kop. Donker slierte hare ontsnap uit die bolla wat sy werk toe dra en val voor haar oë. Sy stoot hulle ongeduldig weg. “Dis nie wat my die meeste ontstel het nie. Die outjie het sy sleutelbeen gebreek omdat sy pa dronk bestuur en hul motor op ’n reguit stuk pad omgegooi het. Die pa is op slag dood en sy ma lê met erge kopbeserings in ’n koma. Ek kan nie glo dat mense so roekeloos kan wees nie. Die arme klein Sammy gaan dalk wees deur die lewe moet gaan. Dis so onregverdig.”
“Agge nee, shame, man!” Maré sit haar hand op Leanie se skouer. “Troos jou daaraan, julle het gedoen wat julle kon om die seuntjie se fisieke pyn te verlig. Die personeel by intensiewe sorg sal na die mamma omsien. Verder kan ons net aan hulle dink en vir hulle bid.”
Leanie sug. “Jy is seker reg.”
Maré se geelbruin oë kyk haar skepties aan. “Is daar nog iets wat pla?”
Leanie waai ’n hand. “Ag, dis niks … Dit klink so onbenullig teen ander mense se probleme.”
“Komaan, wat’s fout? Of nee, laat ek raai. Jy het met ons nuwe matrone te doen gekry. Oe, daai Gousblom lyk na ’n feeks in die oortreffende trap. Sy gaan die lewe vir ons hel maak. Mark my words.”
Gousblom! Leanie glimlag effens. Van wat sy kon sien toe hulle ingeroep is om deur die nuwe matrone toegespreek te word, pas die bynaam nogal goed. Elizna Truter se hare is oranjegeel en sy dra donker maskara. Maar selfs Maré sal nie kan ontken dat die matrone ’n baie mooi vrou is nie. Veral met daardie helder groen oë en ligte vel wat vir ’n aantal jare glo net Londen se flou sonnetjie gesien het.
Sy skud haar kop. “Nee, ek het nog nie juis met haar te doen gekry nie. Ook seker maar goed, vandag was nie juis my dag nie. Of liewer, vannag was nie my nag nie.”
Maré frons. “Dit klink erg. Jy stres my nou op.” Sy vat Leanie aan die arm. “Wat’s fout? Dit kan nie onbenullig wees as jy só lyk nie.”
’n Knop kom sit onverwags in Leanie se keel. “My goue horlosietjie is weg.”
“Die een wat jou pa nog vir jou gegee het voor hy …”
Leanie knik. “Dit was om dankie te sê dat ek hom vir veertien maande na my ma se dood versorg het. Hy het dit spesiaal vir my laat graveer.”
“Ja, dit voel soos gister, dit was net nadat ons klaar geswot het. Ek het jou nogal gemis daardie eerste jaar wat ek al begin werk het en jy terug is plaas toe om na hom te gaan kyk.”
Leanie knip haar ooglede om die trane terug te hou. “Toe ek gisteraand geskrop het voor ons eerste operasie, het ek al gesien dis weg.”
“Ai, Laan.” Maré gee haar ’n drukkie. “Ek weet hoeveel dit vir jou beteken. Hopelik duik dit nog iewers op. Jy het dalk net vergeet waar jy dit gesit het. En as iemand dit in die hospitaal optel, sal hulle dadelik weet dis joune. Jou naam is mos daarop gegraveer.”
“Jy’s moontlik reg,” gee sy toe. “Dit het seker iewers ingeval. Ek moet maar net nog bietjie gaan soek.”
Maré glimlag. “Kom ons gaan kry iets om te eet in die kafeteria. Ek is so honger soos ’n beer.”
Leanie glimlag floutjies terug. “Kan jy wag dat ek gou my gesig was en in ’n sweetpak spring? Ek’s self nogal honger. Daar was nie gisteraand voor my skof tyd om te gaan eet nie en toe word dit ook nogal ’n besige nag.”
Leanie sluit oop en Maré gaan sit op die bed terwyl Leanie by die badkamer ingaan. Dankie tog dat die opgradering van die gebou van skoolkoshuis na algemene verblyf die installering van ’n klein badkamer by elk van die kamers ingesluit het. Sy het nou wel net ’n stort en geen bad nie, maar dit is beter as om in die gang te moet afsuiker na ’n gemeenskaplike stortplek.
Sy tap water in die wasbak en kyk in die spieël. Haar donkerbruin oë kyk moeg terug. Sy steek van die los haarslierte weer met ’n knippie vas.
“Waar was jy dan dat jy nie tyd gehad het vir eet nie? Het daardie sexy boyfriend van jou weer te lank gekuier?” hoor sy Maré vra.
Leanie spoel eers haar gesig af en klad dit met ’n handdoek voordat sy om die deur loer. “Ek gaan jou liewer nie sê nie, want dan kry ek weer ’n preek en ek weet nie of ek regtig daarvoor lus het nie.”
Maré sug en skud haar kop. “Die parkie. Jy het weer in die parkie gesit en droom. Eendag gaan hulle jou nog in daardie verdomde parkie aanval en dan –”
“Maré, asseblief. Ek weet wat jy dink, maar ek het regtig –”
“Dis gevaarlik, Leanie, en jy weet dit. Jy is nie meer in die Karoo nie, en ons leef nie in die land van maanskyn en rose nie.”
“Ja, Ma. Ek weet, Ma.”
Maré trek ’n hand gefrustreerd deur haar kort blonde hare en kyk haar streng aan. “Hou op met spot en … Ek weet Henk stem met my saam, of jy dit nou wil weet of nie. Die parke is nie veilig nie.”
Leanie hang haar uniform oor die stoel en glip ’n T-hemp oor haar kop. Sy dink weer aan die hawelose oom teen wie sy gebots het. Sy kyk Maré ernstig aan. “Hoekom word mense boemelaars, hmm? Waar is hulle naasbestaandes en hoe kan hulle toelaat dat hul familie so lewe?”
Maré rol haar oë na bo en val terug op die bed. “Hier gaan ons al weer. Jy en jou boemelaars. Hoekom los jy nie die verdomde mense uit nie. Hulle wil so lewe.”
“Ek glo dit nie vir een oomblik nie. Geen mens sal so wil lewe nie.”
“Wel, ek het nuus vir jou. My ma se een broer oom Albé het ’n boemelaar geword. Hy het jare op die strate geswerf, terwyl my tannie en sy kinders hulle oor hom doodbekommer het. Hy, daarenteen, was dolgelukkig. Hoekom? Want hy wou nie werk en vir sy gesin sorg nie. Hulle het hoeveel Sondae agter hom aangery en vir hom kos geneem.”
Leanie kyk haar vriendin verbaas aan. Dié storie het sy nog nooit vantevore gehoor nie en sy ken Maré tog al sedert hulle studenteverpleegsters was.
“Ek het nie geweet nie … Lewe hy nog? Is hy nog –”
“Nee, hy is ’n paar jaar gelede dood aangetref met ’n mes in sy bors.”
Leanie trek haar asem skerp in. “Shame.”
“Nee, nie shame vir hom nie. Shame vir my tannie en die kinders, ja. Vir wat het hy nie by sy mense gebly nie?”
Leanie vou haar arms. “Ek dink steeds nie almal wat daar buite is, wil daar wees nie. Die meeste van diegene wat so rondswerf, doen dit om weg te kom van iets af. Hulle is nie almal sleg nie.”
Maré se arms vou ook oor haar bors. “Wat het gister tussen jou en die bosslapers gebeur, hmm? En hoekom was jy amper laat vir werk? Want ek het ’n vuil spesmaas dat so iets ons weereens by hierdie onderwerp uitgebring het.”
Leanie lag en laat haar arms langs haar sye sak. “Jy ken my glad te goed, maar kom ons gaan eet. Ek sal jou nie verder verveel met my boemelaarstorie nie.”
“En my nuuskierig los? O, nee! Kom sit en vertel.” Sy loer vlugtig na die horlosie op haar arm. “Daar is nog genoeg tyd om te gaan eet.”
“Daar het nie regtig iets gebeur nie. Maar, onthou jy die boemelaar wat ek aan die einde van verlede jaar aan jou uitgewys het? Die een wat sy kos met Dora en Isak deel?”
“Die een wat mank loop en wie se baard so ’n boskasie is dat ’n mens skaars sy gesig kan sien? Ja, wat van hom?”
Leanie knik. “Ek het hom nog nie weer gesien sedert ek van vakansie af teruggekom het nie. Toe ek gistermiddag besef hoe laat ek gaan wees, het ek daar weggestorm en my amper kaduks teen hom vasgehardloop.”
“So, hy is terug. Nog ’n bosslaper waarvoor jy moet lig loop. Die meeste van hulle is op die een of ander dwelm, spirits, wat ook al. Hulle lyk so onskuldig, maar hulle is –”
“Hy het die mooiste blou oë en ’n diep stem. Potblou oë, maar dof asof hulle nie behoorlik kan sien nie.”
“Ag nee, régtig, Leanie. Nou staar jy al diep in ’n bosslaper se oë. Dis natuurlik dof omdat hy bedwelm is. Dis tyd dat Henk jou kom vat en trou, ’n mevrou Barnard van jou maak sodat jy hier kan wegkom.”
“Nee, man, dis glad nie só nie. Die oë was net vir my ’n verrassing so in die gesig met die woeste baard, dis al. Dalk was hy eens op ’n tyd ’n mooi man, maar hy’s oud en lyk gehawend.”
“Gmf,” Maré spring op. “Ek dog amper jy wil weghardloop en mevrou Boemelaar gaan speel.”
Leanie bars uit van die lag. “Jy’s verspot. Kom, laat ons liewer gaan eet.” Hulle glip by die kamerdeur uit. Leanie sluit dit agter hulle en trek Maré tot by die hyser.
“Ek het gespot oor die res, maar ek wens regtig jy en Henk trou binnekort,” sê Maré. “Één van ons moet minstens geluk vind en uit hierdie koshuis trek. Julle is al amper hoe lank verloof … twee, drie jaar? Dink julle nie dis tyd om aan te beweeg nie?”
“Henk wil nog eers dinge met sy pa uitpluis. Ek gaan definitief nie saam met my skoonouers in dieselfde huis bly nie.” Die hyser skuif oop en hulle stap in. “Buitendien, het jy nie hierdie naweek ’n afspraak met daardie onderwyser wat jy by die Saterdagmark ontmoet het nie?” Sy gee haar vriendin ’n stampie met haar elmboog. “Hopelik sal albei van ons binnekort kan aanbeweeg.”
Maré lag en bloos. “Ek sal my deel die naweek doen as jy joune doen. Jy gaan mos by Henk op die plaas kuier, of hoe? Dalk is dit tyd dat Henk-lief ’n bietjie aangepor word – dit kan nie skade doen nie.”