Читать книгу Suster Leanie se groot hart - Naretha Franken - Страница 5
2
ОглавлениеSondagmiddag laai Henk vir Leanie voor die koshuisingang af en groet net kortaf voordat hy met skreeuende bande wegtrek. Hy is vies vir haar en gee klaarblyklik nie om wie dit agterkom nie. Die naweek het glad nie verloop soos sy verwag het nie.
Sy gooi die rugsak oor haar skouer en sleep die tas op wiele agter haar aan. Die donker siersteengebou met drie verdiepings doem voor haar op. Sy voel steeds soos ’n skooldogter elke keer wanneer sy na haar blyplek terugkeer, al is dit jare lank nie meer ’n koshuis nie. Dit help ook nie dat almal wat hier bly, die bejaardes op die grondverdieping inkluis, steeds daarna verwys as die “koshuis” nie. Dit is nou wel reg langs haar werkplek en boonop veilig en goedkoop, maar genade, sy is al ag-en-twintig – Maré is reg, dis tyd dat sy aanbeweeg. Dis net jammer dat Henk bly uitstel en verskonings soek.
Ná die heerlike vakansie op Hermanus het sy gedink dinge tussen hulle vorder weer goed. Maar alles het die naweek skeefgeloop. Sy het gehoop hulle sal tyd alleen saam hê, soos vroeër in hulle verhouding toe hy haar dikwels uitgeneem het of hulle sommer vir ’n naweek weggeglip het. Maar nee, die bederf en die tyd vir privaat gesels, het opgedroog vandat hulle verloof geraak het, en nou is ’n oor en weer gekuier en gedrink met die ander boere in die distrik al waaruit haar vry naweke bestaan. Henk wil blykbaar nie verstaan dat sy nie van rumoerige partytjies en ’n drinkery hou nie.
Sy is sowaar nou moeër as wat sy was voordat die naweek begin het. En dan raak hy boonop kwaad vir haar as sy ’n bietjie vroeër wil huis toe kom om te rus voor haar werksweek begin. Dit sou nie ’n probleem gewees het as hy haar toegelaat het om met haar eie motor plaas toe te ry nie, maar hy dring daarop aan om haar te kom oplaai. Aan die begin was dit galant, maar nou … Nou is hy vies dat hy sy kosbare kuiertjie moet opoffer om haar terug te bring.
“Kan jy nie net ’n slag ontspan nie, Leanie?” het hy geïrriteerd in sy viertrek op pad hierheen gevra.
“Ek ontspan gereeld, Henk. Lekker onder ’n koelteboom in die parkie, of met ’n koppie koffie voor die televisie. Om te drink en te raas is nie vir my ontspannend nie. Ek het in elk geval rus nodig voor die week se nagskof. Al dink jy nie so nie, is dit nogal uitputtend.”
“Ek weet nie hoekom jy jou so moet afsloof nie. Hospitaalwerk is nie vir ’n fyn vrou soos jy bedoel nie. Hoekom kan jy nie soos enige normale mens vir jou ’n werk kry waar jy van Maandag tot Vrydag en van ag tot vyf werk nie? Dalk sal jy dan nie alewig moeg wees nie en meer tyd met jou verloofde wil spandeer.”
“Ek wil tyd saam met jou deurbring, Henk. Baie graag,” het sy probeer verduidelik. “Maar nie saam met jou drinkebroers nie. En ek is lief vir my werk. Dit is ongelukkig wie ek is en wat ek wil doen. Om mense te help is in my bloed. Jy het dit van die begin van ons verhouding af geweet.”
“Daar is baie ander werke wat jy kan doen. Buitendien, wanneer ons trou, gaan ek nie toelaat dat jy verder werk nie. Ek kan vir ons albei sorg.”
“Jy is onredelik, Henk. Jy weet ek wil nie ophou werk nie. Ek sal my doodverveel as ek heeldag moet koekies bak en huis-huis speel.”
“Daar’s baie vroue wat hulle sterre sal dank as ’n man dit vir hulle sê.”
Nou hoekom gaan soek jy nie vir jou een van hulle nie, het sy hom amper toegesnou, maar haarself betyds gekeer.
Die minste wat hy kon doen, was om haar met haar bagasie te help, maar soos soveel ander kere was hy blykbaar te kwaad daarvoor.
Sy waai net vlugtig vir Tania by Ontvangs. Sy is tog nie lus om nou met haar aan die gesels te raak nie.
Leanie voel natgesweet en keelvol toe die hyser se deure oopskuif, sy instap en die knoppie druk om haar na haar verdieping te neem. Plaas dat sy drie jaar gelede al vir haar ’n ander blyplek gekry het – ’n plekkie van haar eie waar sy meer privaatheid kon hê. As sy tóé geweet het dat sy nou nog verloof sou wees, sonder enige konkrete trouplanne of planne om saam met Henk ’n huis te koop, het sy beslis. Dalk is dit ’n goeie ding dat hulle nog nie tot trou gekom het nie, want op dae soos vandag weet sy nie of sy nog met hom wil trou nie.
Sy skrik vir haar eie gedagtes.
Toe sy op haar verdieping kom, klop sy vlugtig aan Maré se deur, maar dis doodstil aan die binnekant. Sy brand om uit te vind hoe dit Vrydagaand met Maré se afspraak met die onderwyser gegaan het, maar sy sal haar nuuskierigheid nog ’n rukkie moet onderdruk. Laat sy eerder gaan rus soos sy vir Henk gesê het haar plan is.
In teenstelling met die vorige week se bedrywige nagte, is Sondagnag weer amper te rustig. Die wysers van die horlosie teen die dienskamer se muur beweeg traag en die nag is eindeloos lank.
Toe haar skof eindig, gaan maak sy eers ’n draai in die kindersaal waar Sammy aansterk na sy sleutelbeenoperasie. Sy arm is in ’n hangverband. “Hoe voel jy nou, grootman?”
“Beter, tannie,” sê hy saggies. Sy ogies lyk bietjie verlep, asof hy vaak is.
Sy kyk na sy hospitaalkaart en sien dat hy sterk pynmedikasie gekry het – die rede vir die leepogies.
“Wanneer kan ek my mamma sien, tannie?”
Leanie se hart krimp ineen.
“Nie nou nie, seuna. Jou mamma moet nog bietjie rus ná die ongeluk.” Sou hy weet dat sy pa …?
Hy knik stadig en laat sak sy groot bruin oë. “Ek was baie bang. Dit was seer en … toe kom die paddamediese oom my help. Hy was soos The Flash, so vinnig. En die ambulans was net so vinnig.”
Leanie vee gou ’n traan weg, en glimlag vir “paddamediese”. “Hou jy baie van The Flash? Lees jy die comics?”
Die seuntjie kyk vinnig op. “Ek’s mal oor hom! Ek het ’n DVD ook van hom.”
Sy lag. “Nou ja, dié tannie gaan vir jou comics koop, dan kan jy hulle lekker hier in die bed sit en lees. Ongelukkig sal DVD’s nie hier werk nie, maar ten minste sal jy lekker kan lees. Wat sê jy?”
Sy gesig helder bietjie op. “Dankie, tannie.”
Toe sy uitloop, vra sy vir ’n verpleegster of ander familie die kind al kom besoek het. “Sy ouma kom glo vandag,” sê die meisie. “Hy sal seker in haar sorg geplaas word as sy ma nie …”
Leanie wil nie verder luister nie. Sy wil nie eens daaraan dink nie. Sy groet vinnig en loop uit die saal uit.
Toe die voordeure van Worcester Med voor Leanie oopskuif, merk sy dadelik die donderweer in die lug. Dis bedompig en bewolk. Die afgelope snikhete dae gaan ooglopend op ’n storm uitloop. Lekker slaapweer. ’n Bed sal nou hemels wees, maar sy sal moet dorp toe om vir Sammy strokiesprente te gaan koop. Sy durf hom nie teleurstel nie.
Oudergewoonte kyk sy na haar arm om te sien hoe laat dit is en moedeloosheid sak weer op haar neer. Waar sal haar horlosietjie tog wees? Sy kan ’n nuwe een aanskaf, maar dit sal nooit dieselfde sentimentele waarde kan hê nie. Sy grawe haar selfoon uit haar sak en sien dis te vroeg; die winkels sal nog nie oop wees nie. Sy sal maar eers gaan ontbyt eet voordat sy dorp toe gaan.
Ná ontbyt glip sy gou by haar kamer in om gemakliker aan te trek, gryp haar handsak en draf in die gang af na die hyser toe. Sy druk die knoppie en wag. Dalk moet sy omdraai en haar motorsleutels gaan kry? Dis soveel moeite om die motor uit die koshuis se garage te gaan haal dat sy daarteen besluit. Sy sal liewer stap. Dis in elk geval goeie oefening. Sy hoop net nie die weer oorval haar nie.
Toe sy die parkie oorkant die pad van Worcester Med nader, neem haar voete haar vanself na die opening in die heining. Eintlik is die pad heelwat korter as jy met die sypaadjie langs stap, maar die parkie trek haar altyd soos ’n magneet aan. Verder kon sy die boemelaar se blou oë nie uit haar gedagtes kry nie. Sy wonder of hy nog daar is en of hy weer koers gekry het. Shame. Hy is altyd so eenkant en alleen. Hoe eensaam moet sy lewe nie wees nie?
Haar oë gaan vlugtig deur die park, maar dit is stil en verlate. Net voordat sy die ander kant van die park bereik, kom Isak aangestap met Dora kort op sy hakke, al skellend.
Toe hulle haar gewaar, verdamp Dora se geskel en kom hulle haar met breë glimlagte tegemoet.
“Môre, môre. Wat is jy weer vanoggend so moeilik, Dora?” groet sy die twee.
“Dis hy wat my so de vieste in maak.” Sy wys met haar duim na Isak. “Die skollie kom vat sommer die kos so uit onse hand uit en hy staan net so. Sê niks en doen niks.”
Dis ’n harde lewe, dink Leanie, maar sy hou die gesprek lig: “Ai, Isak. Jy kry ook maar altyd die wind van voor, nè?”
“Is so, suster. Ma’ ek kan dit vat. Gooi net ’n dowe oor. Sy moet maar skel.”
Leanie lag. “Nou toe, ek hoop die res van julle dag lyk beter.”
“Wag eers, sustertjie. Jy kom of jy gestuur is. Ons het vir jou ’n surprise.” Isak lag oopmond terwyl die gerimpelde hand in sy broeksak grawe.
Sy merk dat Dora net so opgewonde is. Dié lag hees en peuter aanmekaar met haar trui se knope.
Isak hou sy hand na haar toe.
“My horlosie!” roep Leanie uit. Sy kan haar oë nie glo nie. “Ag, dankie, dankie, dankie tog.” Haar oë is nat van dankbaarheid toe sy dit uit Isak se hand neem en teen haar bors vasdruk. “Baie dankie, julle twee. As julle maar net weet hoe kosbaar hierdie horlosietjie vir my is. Ek het oral gesoek, maar kon dit nie kry nie.”
“Dis eintlik Lu. Dis hy wat dit opgetel het. Hy het gevra dat ons dit moet bewaar en vir suster gee.”
Dan het die horlosie se hakie seker losgegaan toe sy teen hom gestamp het. Sy het dit nie eens agtergekom nie.
Leanie kyk deur die leë park. “Is hy weer weg? Weet julle waar hy is? Ek sal hom graag self wil bedank.” Sy voel nog skuldig omdat sy so kortaf was die dag wat hulle in mekaar vasgeloop het. Sy skuld hom beslis meer as net ’n dankie.
“Hy is maar hier rond. Kom en gaan mos soos hy wil.”
“Miskien moet ek vir hom ietsie koop om dankie te sê. Weet julle of hy iets nodig het? Miskien klere, of seep … Wat dink julle?”
Isak dink ’n oomblik diep en skud dan sy kop stadig heen en weer. “Nee, sustertjie, daai ding sal ek nou nie weet ’ie.”
“Pille!” roep Dora skielik so hard uit dat Leanie skoon skrik. Sy lyk verleë en sê sagter: “Pille. Jinne, suster, die man het baie pyn. Hy probeer dat ons dit nie sien nie, maar ek sien daai pyn in sy oë.”
“Jy’s nogal reg,” sê Isak. “Ek dink dis wat suster vir hom kan kry. Suster werk mos hoeka daar by die hospitaal. Dis reg. Pille.”
Leanie voel hoe haar hart kramp. Watse pyn sou die man hê? Sy is op pad winkels toe, miskien moet sy sommer by die apteker hoor of daar ’n redelike sterk pynpil is wat sy sonder voorskrif kan koop. “Nou ja, pille sal dit dan wees. En julle, waarvoor het julle vandag lus?”
Dora se kekkellaggie vul die stilte. “Suster weet mos al, enigiets is welkom.”
“Oukei, wag vir my hier. Ek sal kyk wat ek kan kry.”
Leanie haas haar terug na die hospitaal om vir Sammy die comics te vat nadat sy die ander inkopies, insluitend Lu se pille, vir Dora en Isak gegee het. Sy gaan staan verbaas toe sy deur die parkeerarea beweeg.
Dit is dan Henk se viertrek wat daar geparkeer staan. Sou hy haar kom soek het? Hy weet mos sy werk nagskof. Dalk was hy reeds by die koshuis en vat hy nou ’n kans om haar by die hospitaal te kry. Leanie kyk vlugtig op die horlosie wat weer veilig om haar pols is. Dis amper elfuur, sy het haar tyd omtrent weer in die dorp verspeel. Toe sy by die hospitaal se deure instap, is Henk net mooi op pad uit. Hy loop met sy hande in sy jeans se sakke. Die ligte sportbaadjie pas perfek om sy skraal bolyf. Enige vrou se droom. Altyd hipermodieus aangetrek; glad nie die stereotipiese boer in ’n kakiehemp nie.
“Henk?”
Hy kyk op en dit tref haar weereens hoe verdomp aantreklik hy is. “Hi, mooiding, moet tog nie vir my sê jy werk al klaar weer nie. Het jy nie ’n nagskof agter die rug nie?”
Hy bedoel dit seker goed, maar sy kners op haar tande. Sy hou die winkelsak op. “Ek het net gou iets kom afgee.” Eerder nie nou vir hom van Sammy vertel nie. Hy gaan haar net waarsku om nie altyd meer te doen as wat van haar verwag word nie.
“Wel, ek het ’n verrassing vir jou,” hy soen haar en vou sy arms om haar vir ’n stywe druk, “kom gou saam.”
Sy laat toe dat hy haar na die viertrek lei. Daar tel hy ’n groot bos blomme van die passasiersitplek af op en gee dit vir haar met ’n breë glimlag.
“Dankie.” Sy kan nie anders as om te dink aan al die ander bosse wat sy die afgelope paar maande van hom ontvang het nie. Nog voor die blomme verlep het, het hulle gewoonlik hul volgende rusie.
“Ek’s jammer oor Sondag,” sê hy en sy voel skuldig oor haar gedagtes. “Miskien is dit tog beter dat jy met jou eie motor kom. Dit is in elk geval onverantwoordelik van my om te bestuur wanneer ek gedrink het.”
Sy knik. In die hospitaal lê daar juis ’n seuntjie wie se pa so onverantwoordelik was. “Kom ons vergeet daarvan. Het jy my by die koshuis gesoek?”
“E … nee.” Hy lyk effe verleë. “Ek het eerste hierheen gekom. Ek moes ’n paar van die werkers inbring vir hul mediese toetse – my pa wil vir hulle polisse uitneem. Maar ek wou jou kom soek om te vra of jy lus is vir middagete?”
“Ek’s nie eintlik honger nie, maar as jy wil, kan ek saam met jou gaan. Ek wil net eers hierdie pakkie afgee. Ek kan ook ongelukkig nie te lank kuier nie. Ek moet in die bed kom en rus kry voor ek weer aan diens gaan.”
“Gaan slaap liewer. Ek kan sien jy’s uitgeput. Ek kry sommer vir my ’n wegneemete êrens. Ek wou maar net vir jou die blomme gegee het. Wanneer is jy weer af?”
“Volgende Maandag en Dinsdag eers. Daar lê nog ’n lang week voor. Die nagdiens begin my nou onderkry.”
“Vir my ook. Maar jy weet hoe ek oor jou hospitaalwerk voel. Kom jy plaas toe wanneer jy weer vry is?”
“Weet nog nie. Ek is eintlik steeds op roep. Ek het tonne goed wat ek wil doen, en jy gaan tog ook nou besig raak met parstyd. As jy lus het, kan jy inkom dorp toe, dan skiet ek jou vir ’n movie en popcorn.”
“Ons kyk maar hoe dinge loop.”
“Het jy lus vir koffie? Jy kan gou saam met my by die koshuis kom drink. Ek gee net eers die pakkie af.”
Hy skud sy kop en soen haar op die voorkop. “Nee wat, dankie. Jy moet lekker slaap. Ek sien jou dan dalk volgende Maandag of Dinsdag. Dis nou natuurlik as jy nie te vaak is nie.”
Sy knik en groet net. Toe sy terugloop na die ingang voel sy hoe hy haar agterna kyk. Hy kry dit altyd reg om haar te laat skuldig voel oor die lang ure wat sy moet werk. Asof dit haar skuld is. Wel, hy moet maar dink en voel soos hy wil, sy is nie van plan om haar loopbaan te laat vaar nie. Plaas dat hy haar liewer ondersteun, maar nee, nou maak hy dinge net moeiliker.
“Sjoe, jy word darem bederf,” sê Hennie van agter die hospitaal se ontvangstoonbank. Hy blaai deur ’n koerant en skuif sy brilletjie reg. Sy glimlag net en loop verby.
Sy maak eers ’n draai by die vrouesaal om die blomme aan pasiënte uit te deel. Hulle dankbare glimlagte maak haar hart weer lig. Dit is egter niks in vergelyking met die opgewondenheid op klein Sammy se gesig toe hy die strokiesprente sien nie. Dis genoeg om haar tydelik van alles anders te laat vergeet.
Dis eers toe Leanie in haar kamer gaan lê om te slaap dat al die gedagtes weereens maal. Buite het die reën begin uitsak. Sy sukkel om aan die slaap te raak. Dit vreet aan haar dat sy en Henk hopeloos te veel vassit, sy bekommer haar oor waar Dora en Isak in die reën is en wonder wat van die boemelaar-oom met die blou oë geword het en of die pynpille darem verligting sal bring. En Sammy; sy hoop regtig dat sy ma oukei gaan wees …
Dit voel of sy skaars ingesluimer het toe haar alarm afgaan. Sy druk die geraas dood. Sy wil net nog so ’n rukkie insluimer …
Toe sy wakker skrik, besef sy dit was ’n groot fout om nog te slaap. Sy’s laat. Soos blits trek sy haar uniform aan en maak haar hare vas.
Sy is amper sopnat gereën toe sy die hospitaal se ingangsportaal bereik. Tyd om haar reënjas te soek wat sedert die winter weggepak is, was daar wragtig nie. Sy is net betyds om matrone Elizna Truter, Gousblom, soos Maré haar noem, uit die hyser te sien stap.
“A, dan het jy darem besluit om op te daag.” Gousblom se rooi lippies trek skeef. Haar groen oë – Leanie kan sweer dat dit groen kontaklense moet wees; geen mens se oë kan so groen wees nie – beweeg afkeurend op en af oor Leanie se sopnat postuur. “Jy’s suster Lourens, nie waar nie? Hulle soek jou in teater.”
Dan weet die matrone reeds wie sy is. Leanie kry die gevoel dat haar kritiese kyk oor meer as net nat klere gaan – die vrou som haar behoorlik op. Leanie knik. “Ek’s regtig jammer, matrone. Dit het nog nooit en sal ook nooit weer gebeur nie.”
“Dit beter ook nie. Dis jou eerste en laaste waarskuwing. Kry jouself droog en maak dat jy in teater kom.”
“Goed, matrone. Ek’s regtig jammer.”
Verpleegster Santie Adams wag haar met groot oë in toe sy gaan skrop. “Dankie tog, jy is hier. Matrone Truter het spesifiek kom vra om jou te sien en toe wou sy omtrent ’n koronêr skiet toe sy besef dat jy nie betyds is nie.”
Leanie frons. Hoekom sou Gousblom spesifiek na háár kom soek het? “Ek het haar in die voorportaal gekry. Bring gou vir my ’n handdoekie, asseblief, man. Ek moet my seker droog kry voordat ek die teater kan binnegaan.”
Santie is gou terug en help Leanie om haar respektabel te kry. “Dokter Cronjé het suster darem verdedig. Hy het vir matrone gesê dat suster nooit laat is nie. Ek sweer hy het ’n ogie op suster.”
Leanie lag. “Moenie laf wees nie. Ek dink jy het die kat aan die stert beet – is dit nie dalk op jóú wat hy ’n ogie het nie?” Sy het lankal só ’n vermoede en sy hoop sy is reg. Die lieftallige Santie en die aantreklike jong donkerkop-dokter sal ’n mooi paartjie maak.
Santie bloos. “Wie sal nou ooit na my kyk as hy vir suster kan kry? Ek is net bekommerd dat daai matrone nou ekstra naar met suster gaan wees. Ek scheme sy is lekker jaloers dat dokter suster se kant gevat het.”
“Nee wat. Hoekom sal sy jaloers wees? Sy ken my skaars.” Leanie kry seep en ’n naelborsel, stoot die kraan oop en begin skrop. Toe sy tevrede is, spoel sy die seep af en maak die kraan toe. Sy hou haar hande in die lug om hulle steriel te hou en wink met haar kop. “Kom, laat ons liewer in die teater kom voor ek regtig in die moeilikheid is.”
Sy stoot die swaaideur met haar heup oop. Santie gee vir haar ’n steriele handdoek aan, en help haar om steriele handskoene en ’n oorjurk aan te trek. Gelukkig het die ander verpleegster die pasiënt reeds met steriele groen lakens bedek. Die X-strale teen die bord wys die pasiënt se heupbeen. Dokter Marius Cronjé en die narkotiseur is reeds daar.
“Jammer dat ek laat is, dokter,” sê sy. “Dit sal nie weer gebeur nie.”
“Als reg, Leanie,” sê hy met ’n knipoog. “Dis geskeduleerde artroplastiek van die heup en ons is nog heeltemal op skedule.”
Leanie glimlag dankbaar. Sy stoot matrone Gousblom uit haar gedagtes en fokus op die heupvervanging.
Aan die einde van haar skof gaan maak sy weer by Sammy ’n draai. Hy is reeds wakker en blaai met die hand wat nie in ’n hangverband is nie deur die strokiesprenteboek wat sy vir hom gebring het.
“Dit is die beste stories, dankie, tannie.” Haar hart raak week om die glimlag op sy gesiggie te sien.
“Dis ’n groot plesier, Sammy.”
“Suster Lourens.”
Die skerp stem wat haar roep, laat Leanie byna wip van die skrik.
Matrone Truter staan in die saaldeur. “Kom spreek my in die gang, asseblief.”
Wat sou sy nou wil hê? Leanie kyk eers weer na Sammy wie se oë bang na haar terugstaar asof hy iets verkeerd gedoen het. Sy glimlag en vryf liefdevol oor sy deurmekaar hare. “Lekker lees, seuna.”
Hy glimlag dankbaar terug.
Sy stap by die saal uit en merk dat ’n paar verpleegsters hul nekke rek om te sien wat aangaan. Gousblom wag met haar hande op haar heupe. “Suster Lourens, jy werk mos nie in die kindersaal nie.”
“Nee, matrone, ek het net gou kom kyk –”
“Jy hoort nie hier nie.”
Leanie kyk verbaas na die blitsende groen oë. “Maar die kind het –”
“Suster Lourens, moenie hier kom inmeng nie. Hou jou by jou werk in die teater. Ek gaan nie chaos in my hospitaal toelaat nie. Dis nou al jou tweede misstap vandag. Dink jy jy is verhewe bo die ander personeellede en dat jy kan maak nes jy wil?”
Leanie voel hoe haar wange brand. Matrone Truter is nou regtig onredelik, maar as sy iets terugsê, gaan sy dit net erger maak. Om die hoeke van deure loer nuuskierige gesigte. Almal sien hoe sy uitgetrap word.
Met een laaste blitsende blik, stap matrone Truter sonder ’n verdere woord verby haar in die gang af.
Leanie voel hoe die trane in haar oë opwel toe sy blindelings by die hospitaal uitloop en koers kies na die parkie. Was dit nou regtig nodig om haar so voor almal te verneder?
Hoe kan Elizna Truter, wat haarself ’n matrone noem, so gemeen wees? Sy wou die arme kind se dag net bietjie ophelder. ’n Klein, bang seuntjie wat sy pa verloor het en dalk sy ma ook nog aan die dood gaan afstaan. ’n Kind wat self nog ’n lang pad na herstel voor hom het. Daardie Gousblom kan doen wat sy wil aan haar wat Leanie is, maar om ’n kind so te benadeel is onaanvaarbaar.
Sy is so ingedagte dat sy eers die bossie veldblomme op die bankie sien toe sy daar kom. Dit is met ’n toutjie vasgebind. Langsaan lê ’n stuk boombas met die woord dankie aan die gladde kant uitgekrap. Sy kyk verbaas om haar rond. In die hoek van die parkie gewaar sy Lu se groot gestalte. Die helder blou oë kyk ’n rukkie direk in hare, dan draai hy sy kop weg asof hy skaam kry.
Hy moes die blomme hier neergesit het. Dalk om dankie te sê vir die pille? Maar dit is mos heeltemal onnodig. Die warm gevoel wat sy in haar hart kry, verdryf die ontsteltenis van oomblikke tevore. Sy tel die bossie blomme op, ruik daaraan en druk dit teen haar bors vas. Sy loop na die lang man met die woeste baard.
“Is dit vir my?” vra sy met ’n glimlag.
Hy kyk af en vryf sy hande oormekaar. Knik.
“Dankie,” sê sy en hy kyk vinnig op. “Jy weet nie hoeveel dit vir my beteken nie. Veral vandag.”