Читать книгу Die Poort 2: Reisigers - Nelia Engelbrecht - Страница 4

1

Оглавление

Die volmaan hang roerloos in die lug en die nag ruik na koue, al is dit nou eers Maart.

Skaduwees krul en draai om die boomstamme, en takke probeer my met hulle maer arms bykom. My Bewaker-senses skop in en iewers voor my hoor ek die pootjies van ’n klein diertjie oor droë blare en takkies kirts. Wag, daar is nog iets. Asemhaling. Iemand links van my. My hart klop vinniger en adrenalien suis warm deur my lyf.

Is ek die prooi wat dopgehou word, of is ek die jagter? Daar is seker net een manier om uit te vind.

Ek sluip geluidloos nader. My nagvisie maak die donker figuur los van die boomstam agter hom. Hy staan met sy regterskouer na my toe. Ek loop in ’n halfmaan nader, totdat ek reg agter hom is.

Arm om die keel, met die punt van my elmboog vorentoe, en die ander hand wat die kop van agter af vorentoe druk. “Doen dit vir ’n paar sekondes en die ou is lights out,” onthou ek Leonardo se woorde.

Net toe ek my arms oplig, vlieg hy om. Shitters, hy het ’n mes in sy hand. Hy wieg op die bal van sy voet. Tree dan vorentoe.

Voor hy kan steek, beweeg ek supervinnig. Ek gryp sy pols met al twee hande vas en druk op die senuweepunte. Dit werk – sy hand gaan outomaties oop en hy laat die mes val. Dan dryf ek my regterknie in sy maag in. Hy snak na asem en sak op sy knieë neer. Die oomblik toe sy kop knak, tref die kant van my vuis hom agter op sy nek en hy val vooroor.

Hy bly roerloos lê. Ek tree versigtig nader. Die volgende oomblik pluk hy my voete onder my uit en ek beland op my rug, met hom bo-op my.

“Gotcha!” roep Leonardo uit. “Het jy rêrig gedink dis so maklik?”

Ek wriemel om los te kom, maar dit help nie. Ons gesigte is ’n paar sentimeter van mekaar af. Dit voel skielik baie weird. “Dis nie fair nie. Ek het jou amper van agter beetgekry. Dit was net ’n lucky shot dat jy omgekyk het.”

“Is nie. Die maan was skuins agter jou. Ek het jou skaduwee uit die hoek van my oog gesien.”

Sherbet. Ek het nie daaraan gedink nie.

Leonardo staan op en vryf sy nek. “Flippit, bietjie meer beheer sal help, jy weet. As ék jou so hard slaan, pass jy net daar uit.”

“Sorry.” Ek kom regop en trek die droë blare en gras uit my poniestert. “Maar jy kan nie stry nie – ek is nogal goed.”

“Nie te vrot nie.” Hy buk en tel die houtmes op. “Jy’t obviously ’n briljante leermeester.”

Voor ek iets slims kan terugsê, lui my selfoon. Ek vis dit uit my jeans se sakkie. Dis Tara. Laas wat sy so laat gebel het, was die nag toe haar ma verdwyn het. Ek ril. Die naglug ruik skielik soos suur melk.

“Tara?”

“I … I can’t take it any more, Kali. We have to go and get her. Now. Tonight.”

Shitters, dit klink of sy uitfreak. “Het jy weer jou ma geteken?” Die Ander het haar ma so twee maande gelede ontvoer en van toe af word sy in die nag wakker en begin prente van haar ma teken.

“Yes, and this time she’s sitting at a table in some kind of … dining hall. Haar oë … dit lyk so weird. Ek gaan nie langer wag nie. As jy en Leonardo nie wil saamgaan nie, vra ek vir Nomsa. En as sy ook nie wil nie, gaan ek alleen.”

“Nee, wag nou – Leonardo sê ons is nog nie reg om deur die Poort te gaan nie.”

Laat ek met haar praat, sein Leonardo vir my.

Ek gee die foon vir hom.

“Tara, sweetness, moet nou nie difficult wees nie, toe? Nog net so ’n week of twee en julle is reg om saam met my te gaan.”

Ons waag al die afgelope twee maande ons lewens deur elke nag onder ons Bewaker-ouers se neuse by die huis uit te glip om saam met Leonardo te oefen.

Fiksheid en selfverdediging, meestal. Party nagte – soos nou – oefen ek en Leonardo alleen, want Nomsa en Tara is nie Krygers soos ons nie.

“Shit, sy’t neergesit.” Leonardo ryg ’n string Italiaanse woorde uit. “Ek dink sy gaan dit probeer. Alleen.”

“Wel, daar’s nie ’n manier dat sy alleen kan gaan nie. Ons moet saamgaan. Vannag nog.” Shame, arme Banggat Kali val amper flou toe Dapper Kali dit sê.

Leonardo skud sy kop. “No ways. Julle … Kali!”

Terwyl hy my naam roep, staan ek al klaar in die Portaal. Wit mis maal en kolk om my. Dan begin dit plek maak vir donker voorwerpe. My bed. ’n Dik Corgi-hond wat langsaan in sy mandjie lê en snork.

“Ieeeu?” kla Kristoffel toe ek my kasdeure oopmaak. Ek buk by hom. “Sorry, liefie, slaap maar weer, toe?”

“U-ugh,” kreun hy van lekkerkry toe ek hom agter sy oor vryf. My arme seuntjie-hond. ’n Traan ontsnap oor my ooglid en rol oor my wang. Sê nou ons kan nie weer terugkom deur die Poort nie? Sê nou die Ander vang ons? My ma-hulle gaan sonder ’n kind wees en Kristoffeltjie sonder ’n ma.

En wat van Zak? Voor ons aan die begin van die jaar Bospoort toe getrek het, het ek hom net Desembermaande gesien as ons hier by Oupa kom kuier het. Dit is nou maar net twee maande dat ons officially ’n item is.

Ek vat aan die hangertjie om my nek. Die silwer kettinkie en hartjie was my Valentynsdag-present. Ek druk dit teen my lippe terwyl my wange al hoe natter word.

Omdat Zak nie ’n Bewaker is nie, mag ek nie vir hom vertel wat aangaan nie. In die briefie wat ek vir my ma-hulle los, gaan ek vra dat hulle vir hom moet sê ek is terug stad toe, dat ek my pelle van verlede jaar te veel mis en dat ek nie meer kontak met hom wil hê nie.

Nee. Ek kan dit nie aan hom doen nie. Dit gaan sy hart breek. Elke vesel in my lyf wil uit-chicken, maar dan hoor ek my ma se woorde in my kop.

“Ons voorgeslagte het nog altyd uitdagings met moed en vasberadenheid aanvaar en saamgestaan om die mense in die gemeenskappe om ons veilig te hou.” So het sy vir my gepreek kort ná ek ook ’n Bewaker geword het.

Sherbet. Ek vee die trane met die agterkant van my hand af. Sorry, my liewe Zak. Ek sal terugkom, ek belowe.

Ek bel vir Nomsa. “Oh. My. Gosh.” sê sy nog voor ek self ’n woord kan inkry. “The moment to fulfil our destiny is here, isn’t it? Leonardo het my gebel. Hy’t vreeslik in Italiaans gevloek voor hy gesê het ons moet mekaar by die rotspoel kry.”

“Weet jy of hy al met Tara gepraat het?”

“Dis die ding! Hy sê sy’s ’n regte hardegat-Ier en as ons nie gou maak nie, gaan ons haar mis. Sy is totally van plan om alleen deur die Poort te gaan.”

Ag, jissie tog. “Oukei, ek kom so gou as wat ek kan.”

Ek trek my duikpak aan en haal die rugsak wat onder in my kas gereed staan uit. Die duikbril en paddavoete is klaar daarin, saam met waterdigte sakkies met ekstra klere en kos vir ons almal. Leonardo sorg vir die survival kit – whatever dit ook al is – sodat Tara en Nomsa net met hulle lugbottels hoef te duik.

Ek soen vir Kristoffeltjie sag tussen sy ore voor ek gang toe loop. By my ma-hulle se toe kamerdeur gaan staan ek. Die hout is koel teen my voorkop. Ek hoor hulle asemhaal. Ek trek ’n hartjie met my vinger teen die deur. Die bed kraak toe een van hulle omdraai.

Oukei, ek moet seker nie die noodlot tart nie. As my ma wakker is, kan sy sense waar ek is. Ek loop vinnig kombuis toe, pak vir ons elkeen ’n bottel water in my rugsak en sit toe die briefie op die kombuistafel neer.

Baai, Pa. Baai, Ma. Ek gaan julle mis.

Ek Reis deur die Portaal se slierte wit mis tot by die rotspoel buite die dorp.

“… sê nog dis ’n freaking fout,” sê Leonardo. Hy staan voor Tara en lyk erg bemoerd.

Tara ignore hom totally terwyl sy haar lugbottel aan haar harnas vasmaak. Ek kyk rond. Die water in die rotspoel skitter onder die volmaan. Ek ril. Nadat die Ander Tara se ma ontvoer het, het ek en Leonardo haar probeer red en een van die Ander het my amper verdrink. Dit was toe dat ek vir die eerste keer onder die water asemgehaal het.

Whap! val iets agter my op die rotse. Ek vlieg om.

“Ouch!” Nomsa Chipunza staan op en vryf haar boud. “Ek haat hierdie bloody Travel business. Dit laat mens baie unladylike land.”

“Sien julle,” skel Leonardo, “Nomsa kan nie eens behoorlik Reis nie, maar nee, julle wil deur die Poort neuk.” Hy draai terug na Tara. “Kom ons wag nog net twee weke, toe?”

Tara moet opkyk om vir Leonardo in die oë te kan kyk. Sy gooi haar dik vlegsel agtertoe en lig haar ken. “Leonardo, read my lips. Ek gaan my ma haal. As jy wil saamkom, is dit fine. As jy nie wil nie, is dit ook fine. Suit yourself.”

Leonardo kyk na my. Kan jy nie sense in haar kop in praat nie? sein hy.

Gaan nie help nie. Sy’t klaar haar mind opgemaak, sein ek terug.

“Het jy die Jelly Babies onthou?” vra Nomsa.

“Já, Nomsa.” Jisterday, sy’t iewers op die internet gelees Jelly Babies is die be-all van survival.

“En die sunscreen vir julle melanin deprived velle? Mens weet nooit nie – netnou bly die Ander al die tyd in die Sa-bloody-hara teen ’n sandduin.”

“Nomsa, hou op stront praat en gee hier, laat ek jou help.” Leonardo vat haar harnas by haar en begin haar lugbottel vasmaak.

Ek kyk verby hom na Tara, maar voor ek verder dink, maak ek my gedagtes soos borrels bymekaar en bêre hulle veilig in ’n glaskis in my kop sodat Leonardo dit nie kan lees nie. Jis, maar hy is clueless. Die arme Tara het ’n hengse crush op hom en hy kom dit nie agter nie.

Tara staar vir ’n oomblik na hom en begin toe die harnas oor haar skouers trek.

“Kom as jy klaar is, dat ons die safety check kan doen,” roep Leonardo oor sy skouer vir haar.

Terwyl hulle daarmee besig is, loop ek nader aan die poel en gaan sit op ’n rots om my paddavoete aan te trek. Daar’s dit weer. Die water ruik soos iets wat tegelykertyd nuut én bekend is. Amper soos parfuum met nuwe én ou geure in.

Water ruik soos bekende onbekende parfuum. Régtig, Kali?

Voor my verf die maan silwer strepe oor die water. Tussen die blink strepe lyk die water ekstra donker en onheilspellend. ’n Staalhand gryp my derms vas.

Wat de hel is ons besig om aan te vang? My asemhaling raak al hoe vinniger en vlakker. Ek is naar. Shitters, ek gaan bo-op my paddavoete opgooi.

Ag, get a grip, toe? praat Kwaai Kali in my kop. Oukei. Ek moet rustig asemhaal. In. Uit. Sherbet. In. Uit.

Ons weet darem naastenby waar die Poort is. Ek het dit soort van per ongeluk ontdek toe ons een middag hier geduik het. En ons is tog almal van die nuwe geslag Bewakers wat ekstrasterk Kragte en Magte het.

Dit tel darem seker vir iets?

Niemand antwoord nie. Kwaai Kali is tjoepstil en van Dapper Kali wat haar die afgelope maande verbeel het sy is Superwoman is daar ook geen teken nie. Dis net Banggat Kali wat alleen op ’n rots sit en wonder of sy ooit, ooit weer gaan terugkom Bospoort toe.

“Kali?” Ek kyk om. Dis Tara. “As jy wil bly, sal ek verstaan. Dis MY battle dié.”

Sy moes my gedagtes gelees het. Ek staan op. “As dit een se battle is, is dit almal se battle.”

“I totally agree,” sê Nomsa. Sy kom nader en sit haar arm om Tara se skouers. “All for one and one for all …”

Jeez, régtig? Lyk ons vir haar soos die flippen Three Scuba-diving Musketeers?

“ … because it’s our destiny,” speech Nomsa verder. “Ons ancestors het dit in die sterre geskrywe. Anyway, ons is mos kickass Bewakers. As die Ander weet wat goed is vir hulle, stuur hulle jou ma sommer nou terug deur die Poort.”

Leonardo kom join ons kringetjie. “Oukei, girls, tyd vir laaste instruksies. Of eintlik net een: Maak. Soos. Ek. Sê. Capisce?”

Jis, maar hy kan irriterend wees.

“Capisce, Kali?”

“Ja, o grote koning Neptunus. Kry nou net jou gat in rat en kom, toe?”

Ons swem tot in die middel van die poel voor ons duik. Soos altyd is dit baie weird om my reptielbrein te override en onder die water te begin asemhaal. En dis nog weirder om te voel hoe die nat suurstof deur my are begin vloei.

Ten spyte van die volmaan en my Bewaker-nagvisie, is dit steeds ’n skemer wêreld hier onder waar visse soos donker gedagtes tussen die waterplante deur gly.

Dan is ons by die spleet tussen die rotse. Of liewer: die gat wat eers ’n spleet was waarin my hand vasgesit het. Toe ek my hand uitgetrek het, het ek my Kragte bietjie onderskat en ’n onderwater rotsstorting veroorsaak wat die spleet in ’n properse gat verander het.

Van toe af was ons al ’n paar keer hier, maar op bevel van koning Neptunus mag ons nog nooit eens ’n vinger deur die gat gedruk het nie. En snaaks, noudat ons dit mag doen, voel ek skielik vreeslik jammer vir my vingers.

As mens deur die spleet loer, lyk dit soos ’n tonnel aan die ander kant. Een wat waarskynlik na die Poort toe lei. Die vraag is net: sal ons deur die Poort kan gaan, en indien wel, wat wag vir ons aan die ander kant? Shitters, cave diving was nou nie juis op my bucket list nie.

Leonardo vorm ’n sirkel met sy wysvinger en duim – die oukei-teken.

Jy kan maar net gedagtes sein, jy weet?

As jy wil duik, moet jy handseine ken. Buitendien, Tara en Nomsa is nie altyd so op die ball met gedagtes opvang nie, veral nie onder water nie.

Ook weer waar. Tara se specialty is haar intuïsie waarmee sy goed kan sense wat ons ander nie kan nie – veral in haar drome. Nomsa s’n is dat sy die Ander se taal kan verstaan. Dit het ons uitgevind toe een van die Ander ons so twee maande terug by die skool kom dreig het.

Leonardo beduie nou met sy wysvinger na homself en daarna met sy hand plat en vingers teen mekaar na die gat. Ja, koning Neptunus, jy’t ons al honderd keer gesê – jy gaan eerste deur die gat, dan Nomsa en Tara en dan ek, terwyl ons almal met ’n buddy line aan mekaar vas is.

Ons buddy line is ook aan ’n gidstou vas wat Leonardo al ’n week terug aan ’n rots in die poel kom vaskap het. Dit is soos Hansie en Grietjie se broodkrummels – as ons verdwaal, kan ons darem die gidstou terug volg.

Ons sit ons kopligte aan. Ons het elkeen twee ligte. Sodra die eerste een se battery pap is, moet ons omdraai en met die tweede een se lig terugswem.

Nog iets wat koning Neptunus in ons ingedril het, is die rule of thirds. As een derde van Nomsa en Tara se suurstof op is, moet ons omdraai, want die tweede derde is vir terugswem en die laaste derde vir noodgevalle.

Shitters, ek hoop net ons kom darem by die Poort uit voor ons moet omdraai.

Die tonnel is toe darem nie baie lank nie. Dit maak oop in iets wat soos ’n ondergrondse kamer lyk. Ek kyk op. Ver bokant ons koppe vleg pers, silwer, goue en wit ligte tussen mekaar deur.

’n Onderwater-disco. Régtig?

Dan onthou ek. Die aand toe ek vir die eerste keer voor die Raad verskyn het, was daar ’n regop kolom water met presies sulke ligte daarin.

Die water en ligte weerspieël die Magte waarmee ons die Poort bewaak, hoor ek Leonardo se pa se woorde in my kop.

Hierdie ligte het beslis iets met die Poort te doen.

Kyk die ligte daar bo, sein ek vir Leonardo.

Hy kyk op. Watter ligte?

Jis, maak oop jou oë.

Hy kyk weer op. Ek sien niks nie, ek sweer.

Wel, ek sien hulle en dit lyk soos die ligte wat ek daardie eerste aand in die Raadsaal gesien het.

Oukei. Hoe ver lyk hulle vir jou van hier af?

Ek kyk op. Dis moeilik om te sê. Hulle beweeg op en af.

Leonardo wys met sy duim boontoe en maak dan met sy hand op-en-af-bewegings.

Stadig boontoe. Oukei, o grote Neptunus.

Hoe nader ons aan die ligte kom, hoe meer voel dit asof daar borrels in my are is. Nie stikstofborrels soos wanneer mens borrel-siekte kry as jy te vinnig boontoe gaan nie. Eerder iets soos sjampanjeborrels. ’n Weird opgewondenheid, soos wanneer mens klein is en nie kan wag om die see eerste te sien as julle met vakansie gaan nie.

Net toe ek amper aan die ligte kan raak, gebeur dit. Ons begin eers stadig in die rondte draai, maar binne sekondes raak dit absoluut hectic.

Moenie panic nie, dit vat ons boontoe! sein Leonardo.

Nie panic nie? Régtig? Imagine vier muise wat in die droogmaaksiklus van ’n freaking wasmasjien beland het! Dan bars my kop bo die water uit. Die eerste een wat ek sien, is Tara.

Sy pluk haar mondstuk uit en haal haar duikbril af. “Kali! Is jy orraait?”

“Ek … dink so. Waar’s Nomsa en Leonardo?”

“Hells bells!” Ek kyk om toe ek Nomsa se stem hoor. Sy en Leonardo is skuins agter my. Nomsa het ook van haar mondstuk en duikbril ontslae geraak. “Wat was dit? ’n Freaking water-

tornado?”

“Who knows. Is almal oukei?” vra Leonardo.

“Yes, luckily,” sê Tara.

Ek kyk om my. Ons is in ’n waterpoel. Op die oorkantste wal is nagdonker rotse en bome. “Sherbet, dit lyk of ons terug is waar ons vandaan gekom het.”

“No, we aren’t. Look.” Tara wys boontoe, haar oë groot.

Ek kyk op. Bokant die donker bome, teen die naghemel, hang hulle. Twee beautiful lilapers mane.

Die Poort 2: Reisigers

Подняться наверх