Читать книгу Die Poort 2: Reisigers - Nelia Engelbrecht - Страница 6

3

Оглавление

Ek skrik so groot toe ek dit hoor, ek zoom sommer totally uit. Tot in Parys, die stad van die liefde, waarheen ek en Zak nog eendag wil gaan.

Kali, fokus!

Ek wou nog bietjie saam met Zak langs die Seine loop, toe Leonardo se kwaai stem my terugbring tot agter die bank op planeet Pers Maan.

Dis hier waar hulle die vroue aanhou wat hulle ontvoer het, sein Tara.

Hoop blink in haar oë. My ma is ook hier, ek kan dit sense.

As hulle die vroue aanhou, hoekom klink hulle dan almal so happy? vra Nomsa.

Sy’s reg. Die volgende groepie wat inkom, gesels net so vrolik met mekaar. Dit lyk beslis nie of hulle teen hulle sin hier gehou word nie.

Wat sê die Italiaanse vrou? Of for that matter die Franse een? sein ek vir Leonardo.

Ek het nie eens geweet hy kan Frans praat nie, maar nou ja, as mens loshande die slimste van almal in Bospoort Hoër is, is dit seker nie snaaks nie.

My Frans is nie so hot nie, maar dit klink of hulle praat oor wat hulle alles vandag gaan doen.

Dit klink amper soos ’n vakansie, sein Nomsa. Maybe vat hulle die vroue op trips …

Kyk daar! onderbreek Tara haar.

’n Baie mooi donkerkopvrou in ’n outfit met die kleur van flou koffie staan voor in die vertrek. Waar sy met ’n pointer na die muur wys, verskyn ’n skerm met vreemde letters en woorde. Sy begin praat. Die vroue se vertaalgoeters werk obviously, want dit lyk of hulle haar verstaan.

Nomsa luister ’n oomblik voor sy begin sein. Lyk my dié klomp is groep drie, want dit is wat heel bo-aan op die screen teen die muur staan. Anyway, hulle begin met kunsklasse en ’n gym-sessie en dan gaan hulle spa toe. Mind you, ek kan doen met ’n manicure. Maybe kan ek vir my sulke geel klere iewers kry en in-slip as hulle …

Nomsa, concentrate! raas Tara.

Ja, ja, oukei … Ná ete is daar iets met stories te doen – ek weet nie of dit beteken hulle gaan boeke lees of fliek nie. Dan gaan hulle in die tuin loop – maybe kan ons vir tannie Mercia snatch as hulle buitentoe gaan.

Nee, ons kan nie, sein ek. Tara se ma is nie deel van hierdie groep nie en buitendien, ons kan nie tot dan wag nie. Die Ander kan enige oomblik ondertoe kom.

Mens kan nie die hysbak van hier af sien nie, maar as een van die vroue om die hoek loer, sal hulle sien my rugsak keer dat die hysbak se deur toegaan.

Net toe tel my Bewaker-senses ’n fyn piepgeluid op. Die vrou wat in charge is, kyk na iets wat om haar pols vas is en soos ’n klein rekenaartjie lyk. Sy raak daaraan. ’n Manstem praat in hulle taal.

Die man sê iets van intruders en die hysbak, sein Nomsa. Ek dink ons het moeilikheid.

Die vroue begin met mekaar praat en rondkyk. Dan loop die vrou met die bruin klere hysbak se kant toe. Ons beter wegkom voor sy die rugsak wegvat en die Ander ondertoe kom, sein ek.

Wegkom waarnatoe? Ons is vas, sein Nomsa paniekerig.

In daardie gang af, sein Leonardo en wys regs van die ontvangstoonbank. As ons ons Kragte gebruik en vrék vinnig hardloop, sal die vroue nie veel meer as ’n blur sien nie.

Oukei, sein Tara, maar wat van Nomsa? Sy’s stadiger as ons.

Moenie worry nie, ek sal haar ’n lift gee.

Leonardo Contarini, as jy my oor jou skouer probeer gooi, gaan ek …

Nou!

Stoele, tafeltjies en lampe vlieg saam met ’n hele klomp geel outfits by my verby. ’n Splitsekonde later staan ek by die ander om die eerste draai in die gang.

Nomsa begin dadelik skel toe Leonardo haar grond toe laat sak. Dink jy ek is ’n bloody sak papmeel wat jy net oor jou skouer kan gooi as jy lus het?

Freakit, maar jy’s ondankbaar, sein hy terug.

Volgende keer …

My ma is hier naby, val Tara hulle in die rede en begin drafstap.

Wait for me, kla Nomsa.

Roer jou gat, jy wil mos self loop, sein Leonardo vies.

Die merk teen my nek begin brand en iewers in die gang agter ons kom voetstappe en stemme nader. Gou, hier in! sein ek en stoot die naaste deur oop. Ek maak die deur saggies toe nadat ons almal in is.

Dit lyk soos ’n walk-in closet, sein Nomsa terwyl sy rondkyk.

Rye en rye relings met geel outfits staan in die middel van die vertrek en op die rakke teen die mure is skoene en ander opgevoude klere.

It’s more like a storeroom, sein Tara en wys na die rakke waarop houers met vertaalgoeters staan.

Wat dit ook al is, ek dink ons moet bietjie shopping doen, sein ek en hou die naaste geel outfit voor my. Kies dit só dat dit oor ons klere kan pas, want as ons weer bo kom, moet ons dit uittrek om weer soos die skoolkinders te lyk.

Nomsa kyk vir Leonardo op en af. Jy beter hoop hulle cater vir groot aunties ook, anders gaan jy nie mooi inblend nie. Jy moet anyway maar ’n low profile hou – dan dink hulle maybe net jy is ’n groot plaas-auntie met muscles en plat boobs.

’n Plaastannie nogal … Ouch, my arme ego, sein Leonardo terwyl hy begin rondsoek.

Gelukkig kry ons gou elkeen ’n geel outfit wat pas. Selfs Leonardo kry een wat net-net vir hom pas. Hoe lyk ek? vra hy toe hy dit aanhet.

Soos ’n outsize skoenlapper, sein ek terwyl ek deur toe loop. Ek hoor niks in die gang nie. Die merk teen my nek brand ook nie meer nie. Ek dink dis veilig, sein ek.

Let’s go. I will lead the way – my mom is close by, sein Tara.

Hoe verder ons loop, hoe meer ruik ek dit. Suurlemoen en roosblare. Komkommer en gemmer. Spa-geure. Onthou breek ’n stukkie van my hart af. Net nadat ek ’n Bewaker geword het, het my ma my vir ’n facial in Bospoort se mall gevat omdat ek uitgefreak het oor al die nuwe Bewaker-dinge.

Nou kyk, ek en my ma baklei die meeste van die tyd, maar op hierdie oomblik sal ek wat wou gee om langs haar met ’n groen komkommermasker aan in die mall te sit.

Tara gaan staan voor twee groot deure. Anderkant die deure is sagte musiek. Die geur van wierook. Tannie Mercia is toe al die tyd by die spa.

Tara maak die een deur versigtig oop. Gelukkig is daar niemand agter die toonbank in die ingangsportaal nie. Laventel … my ma is baie lief daarvoor, sein Tara. Haar lippe bewe en haar oë is vol trane.

Ek lig my kop en trek my asem diep in. Dan is dit dié kant toe. Ek volg die mengsel van laventel en roosmaryn in ’n gang af tot voor nog ’n toe deur. Tara stoot die deur stadig oop.

Behalwe vir die gloeiende plante teen die mure, is dit skemer in die vertrek. ’n Vrou lê op die bed. Eers sien ons net haar bene en voete. Sy’t ’n geel langbroek aan en daar is sponsies tussen haar tone. Hulle het seker nou net haar toonnaels geverf.

Ons stap binne. Dan trek Tara haar asem skerp in. “Mom!”

Tannie Mercia se oë bly toe. Tara skud aan haar arm. “Mom, wake up!”

Tara, wag, sein Leonardo. Kyk daar.

My maag maak ’n nare draai. Fyn draadjies kom oral tussen tannie Mercia se hare uit. Dit is almal gekoppel aan ’n masjien waarop daar baie liggies flikker.

“What’s that? What are they doing to her?” vra Tara. Met elke woord styg haar stem ’n bietjie.

Sein liewer, anders hoor hulle ons, sein Leonardo terwyl hy tannie Mercia se hare wegstoot. Dit lyk soos elektrodes. Dit lyk of hulle op verskillende plekke met haar brein geconnect is.

Oh. My. Word. Hulle brainwash al die tyd vir die arme auntie Mercia, sein Nomsa. Daai rooi toonnaels is net sodat sy agterna kan dink sy het spa treatments gekry.

Help my, sein Leonardo vir my. Ons moet die elektrodes losmaak.

Holy cow, sê nou die goed steek met lang naalde tot binne-in haar breinlobbe? sein Nomsa. Sê nou sy kry breinskade as julle dit net so uitruk?

Tara begin huil. Please, don’t hurt her.

Ek gee Nomsa ’n vuil kyk. Kyk nou net wat het jy bleddiewil gedoen.

Die elektrodes kom darem maklik los. Toe daar nog net ’n paar oor is, begin die merk agter my nek soos vuur brand.

Wat is dit? sein Leonardo.

Die Ander is naby. Báie naby. Ons moet padgee.

Reis terug tot by die waterpoel. Vat vir Tara en Nomsa saam met jou. Ek sal vir tannie Mercia bring.

Dis nou een ding van Reis – behalwe vir ’n mens se heel eerste baie deurmekaar trippie as Nuweling-Bewaker, kan jy nie na plekke toe Reis waar jy nog nooit was nie. Maar as jy klaar iewers was, kan jy weer terug soontoe Reis. Ek gaan staan tussen Tara en Nomsa en vat hulle hande. Hou vas!

No, my mom … Tara probeer haar hand uit myne trek, maar ek klou vas. Die volgende oomblik kolk vlae mis om ons.

“Kali, what did you do? roep Tara uit. “I can’t leave without her, I must to go back.”

“Leonardo sal haar bring,” sê ek vinnig. “Ek belowe ons sal nie sonder haar huis toe gaan nie.”

Belowe? Régtig? Hoe kan ek enigiets belowe as ek nie eens weet wat die volgende sekonde gaan gebeur nie? Donkerte begin die mis insluk. Twee pers mane verskyn bokant ons. Ek ruik die waterpoel nog voor ek dit sien.

“Waar’s hulle?” vra Tara.

Ek kyk om ons rond. Daar is niemand behalwe ons op die rotse langs die waterpoel nie.

“Kali, where’s my mom? Jy’t belowe ons gaan nie terug sonder haar nie!”

Jisterday, dis nie nou die tyd om te panic nie. Ek vat Tara se skouers vas. “Kyk vir my. Leonardo sal enige oomblik hier wees. Mét jou ma. Ons moet ons duikpakke aantrek sodat ons reg kan wees om te duik wanneer hulle hier aankom. Verstaan jy?”

“Ek like hierdie Travel business niks nie, maar sal dit nie beter wees om te Reis, eerder as om met tannie Mercia te probeer duik nie?” vra Nomsa.

“Al kan ons terug deur die Poort Reis, is dit veiliger om duikpakke aan te hê, vir ingeval ons rigting bietjie uit is en ons iewers onder die water opeindig,” antwoord ek.

Tara byt op haar onderlip. “En sê nou die suurstofmasker wat Leonardo in sy sak het, werk nie vir my ma nie?”

Ek beur met my skouer teen die eerste van die rotse waaragter ons duikgoed weggesteek is. “Moenie worry nie, dit sal werk, Leonardo het dit uitgetoets.” Ek tackle die laaste rots. Ek moet sê, dit was beslis makliker toe ek en Leonardo dit saam gedoen het.

Ons trek vinnig ons duikpakke aan. Ons is net klaar toe die merk teen my nek begin brand. Tara kyk ook op, haar oë vol skrik.

Nomsa frons. “En nou?”

Sjuut, sein ek. Daar is van die Ander naby.

Miskien kom hulle agter Leonardo en my ma aan, sein Tara.

Ek loer langs die rots verby. Sherbet. Dit is dieselfde ou en meisie wat vroeër hier was.

Dis seker pouse by die skool, nou kom hang hulle weer hier uit, sein Nomsa.

As Leonardo en my ma nou hier aankom, gaan dié twee hulle raaksien en dan Reis hulle terug en gaan haal die Ander en dan …

Nog voor Tara klaar uitgefreak het, gebeur daar ’n paar goed gelyk. Leonardo, met tannie Mercia in sy arms, verskyn skielik naby ons op die rotse. Die Ander twee spring op en die ou stoot die meisie agter hom in terwyl hy iets in hulle taal uitroep.

Tara vlieg agter die rots uit en hardloop na Leonardo en haar ma. Van die ander kant af storm die ou ook op Leonardo af. Toe ek weer sien, staan ek tussen hom en Leonardo. Hy is feitlik op my, sy arms gelig om na my te gryp. Ek tree vorentoe, kry sy arm beet en gebruik sy momentum om hom oor my heup te gooi. Die meisie gil en hardloop na waar hy op die rotse bly lê. Jis, ek hoop nie ek het hom …

Dan gryp ek my nek vas. Onsigbare bye steek my met vuurwarm angels. Ek kyk rond. Swart figure tree tussen die bome uit tot in die oopte. Die perserige maanlig blink op iets in hulle hande. Stun guns? Pistole? Nader en nader kom hulle. ’n Onkeerbare golf.

’n Oerkrag lig sy kop in my. My lyf tintel totdat die bloed vuurwarm in my are kook. My bene beweeg. Elke tree vat my nader aan die swart figure. Die nag ruik na yster en vlamme.

“Kali!” roep Leonardo uit. “Wat de hel doen jy? Kom terug! Tara, kom vat jou ma – julle sal moet Reis, daar is nie tyd vir duik nie!”

Iemand gryp van agter na my. Ek kyk om. Dis die ou. Sy hande vou om my arm, maar dit keer my nie. Ek gebruik my Kragte om aan te hou loop. Nog ’n stem kom by, iewers naby my. Die meisie.

Dan tref iets my van die kant af. Dit lig my van my voete af en slinger my in die lug in totdat ek in wolkwit stilte hang.

“Kali, wat de donner het jy aangevang?”

Leonardo se oë is pikswart in sy wit gesig, maar hy kyk nie na my nie. Hy kyk na die meisie wat vreesbevange aan haar ou vasklou. Dis die Ander twee. Hulle is saam met ons in die Portaal. Op pad Bospoort toe.

Die Poort 2: Reisigers

Подняться наверх