Читать книгу Die Poort 3: Helers - Nelia Engelbrecht - Страница 10
7
Оглавление“I’m worried about Leonardo,” sê Tara ’n ruk later. “Hy het lanklaas vir ons iets gesein.”
“Ek wonder hoe laat is dit,” sê Nomsa. “Dit help nie ons sit hier onder en weet nie eens as die Poort oopgaan nie.”
Ek staan op. “Julle is reg. Dit kan nie meer te ver van middernag af wees nie.”
Leonardo? sein ek boontoe. Stilte. My asem steek in my keel vas. Het hy iets oorgekom?
Wat is dit? sein hy dan terug. Is julle oukei?
Ons is, maar wat van jou? Hoe lyk dit daar bo?
Sleg. Die een mas het gebreek en op twee van die matrose geval.
Lewe hulle nog?
Lyk darem so.
Ons kom boontoe. Dalk kan ons hulle Heel. Julle het nou al die matrose nodig om die skip te help regop hou.
No ways. Vergeet dit. Ek kan nie julle ook nog babysit nie.
Jy hoef nie, ons kan na onsself kyk. Ons moet anyway bo wees as die Poort oopgaan.
Stilte. Leonardo?
Oukei dan. Ek sal julle kom haal. Maar julle maak presies soos ek sê. Capisce?
Jeez, ek háát dit as hy dink hy’s die baas. Maar ek het al geleer hoe om hom te handle – ek sê nou ja, en maak later anyway wat ek wil.
Ja, oukei, maak net gou.
Oomblikke later maak Leonardo die valdeur oop en water stroom ondertoe. Dit klink of die see en die wind ’n hengse rave party op die dek hou. Halfpad teen die leer uit, kyk ek om na Tara en Nomsa agter my. “As julle eerder hier onder wil bly, is dit oukei. Dit klink genuine hectic daar bo.”
“In my droom het ons bymekaar gebly – ek dink ons moet nou ook so maak,” sê Tara ten spyte van die vrees in haar oë.
“Ja, ek sê mos dis soos daai sword-fighting guys – all for one and one for all,” sê Nomsa, die dapper Afrika-Musketier, al lyk sy ook erg benoud.
Ek dink nie dit gaan gewone hand-to-hand combat wees nie, sein Leonardo. Ek dink dit gaan iets heel anders wees.
Soos in lasers? Laas toe ek op Mitigon was, het Chanda-Mundia my amper vol gate geskiet met sy laserpistool.
Nee, ek dink Leonardo meen dit gaan ons Powers teen hulle Powers wees, sein Tara.
Oe-ee, sein Nomsa. It sounds awful … Sê nou hulle verander ons in lelike sea creatures? Ek wil tog net nie ’n seekat wees nie – al daai slymerige bene …
Sy hou op sein toe ons op die dek kom. Helder blitse verlig die deinings wat soos berge langs die skip oprys. Ek ruik die swael van die weerlig en die bitter onrus van seediere wat na die stil dieptes vlug.
Dan verander die nag skielik in dag. Genuine. Dis asof iemand ’n wit-en-swart foto in Photoshop gereverse het. Die wit skuimtoppe van die branders is swart terwyl die res van die water spierwit is. Daarbo is die lug ook wit, behalwe vir weerlig wat pikswart teen die lug rank totdat alles bokant die kolkende wit see vol swart ivy-rankers is.
Dan verander alles weer terug – met een groot, terrible verskil. Daar is ’n skeur in die wolke waardeur perserige lig skyn. Die skeur word al hoe groter en iets soos ons maan – maar net op heavy steroids – verskyn.
Was die maan in die ou tyd so naby aan die aarde? sein Nomsa.
Nee, sein ek terug. Dis nie ons maan nie.
Om ons staar die matrose na die pers lig wat al hoe helderder word, hulle gesigte vertrek van vrees.
Eers steek daar net stukkies uit, maar hoe groter die skeur in die wolke word, hoe meer van hulle kan mens sien. Twee kleinerige, beautiful pers mane. En langs hulle, heelwat groter en met ’n geelwit glans, is die planeet Mitigon.
Die Ander is hier.