Читать книгу 'n Vienna het twee punte, anders is hy net te lank - Nico Nel & Uys van der Hoven - Страница 3

Voorwoord

Оглавление

Ons het nooit kon dink dat ons ooit ’n boek sou skryf nie; inteendeel, ons het so nooit aste nim­mer kon dink dat iemand ooit iets sou lees wat ons geskryf het nie. (Onderwysers moes betaal word om dit te doen en hulle het dit gehaat.)

Die laaste mense wat iets gelees het, voor ons vorige boek Die kinders eet viennas, maar ’n man kan nie relax nie, was juis onderwysers, lektore en professore wat daarna lafenis moes vind weens woede, magteloosheid, ongeloof, verbasing en algemene ineenstorting, hetsy by hulle kollegas, vrouens of die bottel. Hulle het na ons antwoordstelle gekyk soos ’n polisieman maak op ’n grusame ongelukstoneel – wegkyk-wegkyk, nie omdat hy na die ding wil kyk nie, maar omdat hy moet. Hulle onsmaaklike en goor gesigsuitdrukkings was die volgende dag in hulle gelaatstrekke ingeëts wat eers ná aftrede begin het om stadig te verdwyn. Tydens monde­linge eksamens het daardie einste beswaarde gesigte ons aangegluur, soveel so dat ons in so ’n mondelinge eksamen afgekyk het na hulle hande toe. Ons het dan raakgesien dat hulle sproete op hulle hande het of dat hulle kneukels uitermate dik is, of dat hulle ’n ring aan die verkeerde vinger dra, of die plooie op die hande is dieper as kontoere, of die are bult blou asof dit wil bars, of die haartjies op die bokant is blond. Daar moet ’n reël wees dat iemand wat ’n mondelinge eksamen afneem sy hande moet wegsteek, sodat dit nie die student se aandag aftrek nie. As ons professore mooier hande gehad het, sou ons baie beter in ons mondelinge eksamens gevaar het. Ons ouers wou dit eenvoudig nie verstaan nie.

Ons vorige boek, hierbo na verwys, is reeds in die derde druk en as julle dit nog nie gelees het nie, moet julle asseblief nou iets daaraan doen, ons verbandpaaiemente is agter en ons kinders smag na witbrood en koeldrank met gas in. Dankie vir sommige van julle se ondersteuning om dit te gekoop het, dit is werklik rieme onder ons bankbestuurders se beklemde hartjies. Namens hulle, ons twee bankbestuurders, met die haartjies op die tande, baie dankie nogmaals.

Iemand het in die jare sestig, toe ons op skool was, iets teen lag gehad. Blykbaar was lag nie deel van die kurrikulum of die samelewing in daardie jare nie, ook nie in die skole of die lewens van kinders in Soweto en Gugulethu nie, om maar net ’n paar te noem. Ons wonder en weet eintlik dat daar miljoene mense in Suid-Afrika was wat toe nie wou lag nie. Ons kan nou opmaak daarvoor.

Ons het ons eerste boek “geskryf” en gedink dis mos maklik om te skryf, dit is “like clubbing baby seals”. Etien­ne van Heerden het op die aand van NB-Uitgewers se afskeid van meneer Koos Human met ons op die stoep van Leinster Hall staan en gesels, so asof ons gereken is as skrywers, maar dit was maar net omdat hy een van ons vaagweg onthou van ons studentedae af. Dit was die naaste wat ons in ons lewens aan ware skryftalent gekom het, hy was so een meter van ons af. Nadat ons sy boeke gelees het, het ons besef dat die werklike vernuf en die gawe om literatuur van formaat te skep elders gesoek moet word as by ons. Ons wil julle net vermaak.

Ná ons vorige boek het mense ons op die skouers geklop en gesê: “Ons het nie geweet julle het letterkunde in julle nie”, wat ons self verbaas het, want nie een van ons het sierskrif as vak op skool of daarna op tersiêre vlak geneem nie – synde die kundigheid om ’n letter mooi te skryf of te maak. Iemand het ons reggehelp en verduidelik dat letterkunde iets anders beteken.

Ons gee dus nie voor dat hierdie werk letterkundige waarde het nie, of dat dit meeding met ander meesterstukke in ons pragtige taal nie; al wat ons wil regkry, is om mense te laat lees en dit te geniet. Gesinne moet saam om ’n boek kan kuier en lag. Hoe meer gesinne saamlag, hoe gesonder is die bande van daardie gesin. Die gesin is die hoeksteen van ons samelewing en daarom is hierdie boek weer eens geskik vir die hele gesin. (Hier en daar word ’n kras woord gebruik, maar ná vele, glo ons, vele oorweging en onderlinge debatvoering het ons besluit om dit in te hou weens die funksionaliteit en relevansie daarvan.) Ons sukkel ook nog steeds om die humor te sien in die spesiale ouditiewe en soms visuele effekte van die menslike peristalsis, of bejaarde mense wat val.

Aan ons twee pragtige en wonderlike vrouens, Marianne en Phoebe, dankie vir julle verdraagsaamheid, onderskraging en begrip. Sonder julle sou hierdie boek nie tot stand gekom het nie. (Ons weet hierdie cliché klink eentonig en afgesaag, maar dit is bedoel vir die ander mense daar buite; ons sal ons ware gedagtes verwoord en weer in julle ore fluister op Vleesbaai se strand, Sutherland se vlaktes, die Sederberge se skadu’s, Skroef se warmbron, Prins Alfred Hamlet se boorde en sommer ook in die middel van ’n raserige en besige stad. As julle wil, sal ons net stilbly en julle toepak met ons self voorbereide geregte, en wyn as blyk van ons waardering.)

Hierdie boek dra ons op aan ons kinders. Nico se Phoebe (jnr.), Nicola, Wilmien en André. Uys se Helene met haar man, Matt, en hulle twee kinders Liam en Jana. Ons lewe vir julle en julle IS ons lewens. Dankie dat julle sulke wonderlike kinders is waarop ons baie trots is.

Nico, nie geïnspireer deur enige by- of wanmotiewe nie, in sommer net ’n oomblik van gewone, normale liefde vir Phoe­be (sê hy), het een aand in Sutherland se straat gestap en, seker omdat hy naby N.P. van Wyk Louw se huis verby gestap het, ’n baie heerlike inspirasie gekry, en aan Phoebe gesê:

’n Bietjie van jy

Is so lekker vir my

Want jy was nog altyd net jy

En ek, ek het dit so lief gekry.

Dit is ons boodskap. Die gesin is die belangrikste, pret is die beste, humor is alles.

Lag in die huis, die gang, die slaapkamer. Lag weer in die kantoor, die raadsaal en omring julle met mense wat die snaaks in die lewe kan raaksien.

Ons hoor heelwat stories en soms hoor ons slegs stukkies van stories, maar dit is presies waarmee ons werk. Ons gebruik dit as inspirasie om ’n nuwe storie daaromheen te bou en stukkies van ander stories daarby in te werk. Die res wat ons bylas, dink ons sommer uit. Soms is die nuanses van die stories ietwat dieper as wat julle sal verwag en as julle dit raaksien, klop julleself op die skouer, julle is begaafder as wat julle dink.

As julle lus het om ons met ’n storie of ’n stukkie storie te kick-start, kan julle dit asseblief aan ons per pos stuur na: Val de Vie 332, Kliprug Minor Road, Paarl, 7646, of na uys@vdspuy.co.za. Stuur asseblief julle name en kontakbesonderhede daarmee saam vir ons.

Geniet die boek.

UYS en NICO

'n Vienna het twee punte, anders is hy net te lank

Подняться наверх