Читать книгу 'n Vienna het twee punte, anders is hy net te lank - Nico Nel & Uys van der Hoven - Страница 4

Die dokter se meesterstuk

Оглавление

Dokter Spamer is ’n Joodse dokter wat sy mediese graad aan die Universiteit van Kaapstad cum laude verwerf het. Hy is uiters begaafd, maar het ook ’n ernstige filantropiese klap van iewers gekry. Dit is juis hierdie gevoel om goed te doen vir ander mense wat hom gedryf het om nie te spesialiseer nie en om in die diep, verlate en eensame platteland te gaan werk, weg van die stede met die baie geld en rykdom. Hy wil iets vir sy medemens beteken.

Dokter Spamer is baie geliefd op die dorp. Toe ’n klompie van die meer kunssinnige vrouens van die dorp op ’n keer ’n uitstappie Kaap toe gereël het om Doctor Zhivago te gaan kyk, het van die ander meer praktiese tuisteskeppers op die dorp gewonder waarom dit nou nodig is, want die dorp het dan vir dokter Spamer wat sekerlik netso goed is.

Dokter Spamer is ’n uitgesproke hater van alle regsgeleerdes. Hy kan prokureurs, advokate en veral regters nie verdra nie; hy verafsku hulle. As iemand oor die regsberoep praat, kan jy die wrewel en die wrok wat hy jeens hulle koester sommer op sy gesig sien en as hy begin praat, hoor jy die vyandigheid.

Dit is ’n Saterdagaand so ongeveer halftwaalf die nag, bykans vyftig jaar gelede, en almal in die klein, geïsoleer­de, afgesloofde Karoodorpie slaap, insluitend dokter Spamer­ en sy gesin. Nagte op hierdie dorpie is altyd rustig, omdat baie min eintlik hier gebeur. ’n Handelsreisiger het eenkeer, ná aandete en heelwat wyn in die hotel se eet­kamer, die kroegman gevra of die kroegman asseblief kan reël dat hy wat die “traveller” is die dorpie se naglewe te siene kan kry. Die kroegman het baie ernstig gesê hy dink nie dit sal moontlik wees nie, want soos hy verneem het, is sy die naweek Kaap toe.

Dit is dus vir die polisiekonstabel aan diens die grootste skok van sy lewe toe hy daardie Saterdagnag uitgeroep word na ’n huis waar glo die hele dag en aand partytjie gehou en baie gedrink is. ’n Bekgeveg het uitgebreek oor ’n rede wat niemand later kon onthou nie, wat toe ontaard het in ’n vuisgeveg en later ontwikkel het in ’n mesgeveg. Een mens, genaamd Pieter Vercuyl, is doodgesteek en die moordenaar het ’n mes deur sy kopbeen tot binne-in sy brein opgedoen, maar om die een of ander wonderbaarlike rede leef hy. (Van die ander partytjiegangers het bespiegel dat die breinlobbe moes gekoes het.) Dis oor daardie mes in die kop dat dokter Spamer opgeklop word.

Soos dit op verlate plattelandse plekkies gaan, moet die algemene praktisyn baie keer kies om iets te doen ten einde die pasiënt se lewe te red terwyl hy voor sy siel weet dat dit wat hy doen heeltemal buite sy veld en bo sy vuurmaakplek is. Die pasiënt moet kies, as hy by sy positiewe is, tussen geen mediese sorg nie of ten minste basiese mediese behandeling deur ’n gekwalifiseerde mediese dokter. In baie gevalle is daar net nie tyd om die pasiënt oor ’n lang ent te vervoer vir spesialisbehandeling nie.

Gert Louw, die moordenaar, met die mes in die kop, is so ’n geval. Hy sal sterf op pad na die groot hospitaal en gespesialiseerde behandeling, met die gevolg dat dokter Spamer toe besluit, sonder om hom te raadpleeg, want hy kon nie met die mes in sy kop antwoord nie, om ’n opebreinoperasie te doen en die mes te verwyder en so ten minste te probeer om Gert Louw se lewe te red.

Dit is in die dae van die handslinger-telefoon met ’n sen­trale wat die oproepe deurskakel. Die sentrale gaan Sater­dagaande om agtuur van diens en moet opgeklop word om dokter Spamer se oproep deur te skakel na sy vriend in Kaapstad wat as breinspesialis praktiseer. Die plan is dat die spesialis in Kaapstad instruksies oor die telefoon aan dokter Spamer sal gee oor hoe die operasie uitgevoer moet word. Die sentrale sal die oproep monitor en begin sommer op eie inisiatief ’n klompie ander mense wakker bel, en reël dat hulle almal ook ingeskakel bly en kan inluister na die gesprek tussen dokter Spamer en sy spesialisvriend. Dit is die grootste, nuuswaardigste sosiale en gemeenskaplike gebeurtenis op die dorpie in dekades. Groot opgewondenheid heers.

Sommer gou-gou versprei die nuus deur die hele dorp en word stoele en komberse aangedra na die telefoon toe. Koffiewater word opgesit en hompe boerbeskuit uitgehaal. Sommige van die tannies maak sommer van die geleentheid gebruik om kos op die vuur te sit vir die volgende dag se Sondagete.

Almal moet tjoepstil bly en omdat dit voor die dae van luidsprekertelefone is, druk die een wat luister die praatbuis toe en fluister aan die res van die familie, wat om die foon in die gang koek, wat met die operasie gebeur. Wanneer die gesprek tussen die dokters te tegnies en ingewikkeld word, word die toehoorders meegedeel: “Hulle opereer nou dieper.”

Voor die operasie het dokter Spamer opgeskrop en sommer sy sekretaresse ook laat opskrop, want sy moet die telefoon by sy oor hou. Almal in die spreekkamer, want dit was waar die operasie gedoen is, moet kiemvry wees, want oop breine is nogal vatbaar vir opportunistiese kieme. Dokter Spamer se assistent, wat ook moes opskrop, en wat die gereedskap moet aangee, is die plaaslike werktuigkundige aangesien gereedskap aanvat by sy vakleerlinge sy nering was. Hy weet dus hoe hy die spanner wil ontvang en weet ook presies hoe dit aangegee moet word. Hulle kon nie sy naels skoon kry nie en dokter Spamer het hom twee stelle handskoene laat aantrek. Hoewel dit algemene kennis is dat olie wat langer as vyf jaar onder jou naels sit outomaties steriel is, wou dokter Spamer nie kanse vat nie.

Dokter Spamer dien self die narkose toe met ’n chloroformmasker oor Gert Louw se gesig, nie dat dit nodig is nie, want Gert Louw is reeds bewusteloos. Ná die toediening van die narkose slaap Gert Louw, is hy bewusteloos en waarskynlik nog dronk. (Hierdie wyse om ’n pasiënt vir ’n opebreinoperasie te verdoof staan nou as die Spamer-Louw-narkose bekend. Pasiënte is veral gaande oor die voorafgaande drinksessie.)

Alle voorbereidings is getref: die pasiënt slaap, die operasiespan is slaggereed en die spreekkamer en instrumente ste­riel. (Dokter Spamer het sy Switserse weermagmes ook laat steriliseer aangesien dit ’n lekker saag het.) Die kommunikasielyne met die Kaap is oop en dokter Spamer se mediese woordeboek is oop langs hom ingeval sy spesialisvriend iets noem wat hy nie verstaan nie en hy nie wil vra wat dit beteken nie. Hy het ten minste ge-cum laude.

Die hele dorp sit in gespanne afwagting en luister. Daar het ’n soort dorpstrots onder die gehoor posgevat en soos die operasie vorder, neem die entoesiasme toe. ’n Kameraderie ontwikkel. Dokter Spamer is nou hulle held en het die hele dorp se aanmoediging nodig. Hulle is amper soos een groot rugbyspan met dokter Spamer as hulle kaptein. Met elke deurbraak soos ’n “So ja, die skedel is nou af” van dokter Spamer juig die dorp, sug en glimlag tevrede. Toe hy sê “Goed, die bloeding het gestop”, is die skare op hulle voete, maar toe hy ure later sê “Goed, die mes is uit”, is die gejuig oorverdowend en klink dawerende klanke uit die huise op sodat die dorp se honde begin blaf, die babas wakker word en begin huil. Die mammas paai en borsvoed hulle sommer daar in die gang by die telefoon. Mense hardloop uit hulle huise en klop mekaar in die straat op die skouer.

Die operasie duur tot sesuur die Sondagoggend en toe dokter Spamer sug, “Dankie, span, ons is klaar en dit lyk na ’n sukses”, klap ’n baie moeë dorp tam hande en dink dit is alles verby totdat die spesialis uit die Kaap laat weet dat mens nooit ná ’n opebreinoperasie kan weet of dit ’n sukses was voordat die pasiënt wakker geword het en koherent gepraat het nie. Die dorp het nie geweet dat ’n mens ná ’n breinoperasie ’n ander taal kan praat nie en wag in spanning dat Gert Louw in Koherent sê hy is oukei. Hulle vermoed dis die een of ander Bybelse taal wat mense destyds in Korinte gepraat het.

Toe Gert Louw wakker word en sy eerste woorde is “Pieter Vercuyl, jou moer”, is die dorp geskok en stil geskrik, maar toe dokter Spamer aankondig dat dit Koherent is, juig hulle weer hard en uitbundig en is verbaas oor die duidelike ooreenkoms tussen Afrikaans en Koherent.

Blykbaar is dit ’n wêreldrekord vir die meeste mense wat tegelyk moeg was ná een operasie. Die predikant lewer daardie Sondag ’n baie kort prekie vir die uitgeputte gemeente en raak byna self onder sy eie gebed aan die slaap.

Gert Louw, dokter Spamer se meesterstuk, het aangesterk in die polisieselle en het onverklaarbaar en wonderbaarlik heeltemal gesond geword. Alles het perfek gewerk en Gert was sy ou self. Hy is later oorgeplaas Kimberley toe.

Dokter Spamer is wyd aangeprys onder kollegas en die koerante was vol van sy meesterlike hantering van die situasie. Die dorp was geweldig trots op hom en sy spreekkamer het ’n soort toeristeattraksie geword. Mediese tydskrifte het hom opgehemel en die plaaslike bevolking het hulle voorgeneem, dat, sou hulle eendag ’n mes deur die skedel tot in die brein opdoen, hulle beslis by dokter Spamer sal aanklop vir hulp en het veral uitgesien na die Spamer-Louw-narkose. Dokter Spamer was hulle Chris Barnard.

Regsgeleerdes was daarvoor verantwoordelik dat meesterstuk Gert Louw, dokter Spamer se lewende bewysstuk en trots, vier maande later opgehang is vir die moord op Pieter Vercuyl.

'n Vienna het twee punte, anders is hy net te lank

Подняться наверх