Читать книгу 'n Vienna het twee punte, anders is hy net te lank - Nico Nel & Uys van der Hoven - Страница 5

Die begrafnis

Оглавление

Oom Johannes en tante Gertruida het alleen in hulle groot en luukse aftreehuis op die dorp ge­woon. Hulle vier groot plase het almal huise op gehad hoewel hulle eintlik al die jare in die reusagtige huis op hulle plaas Kliprug gewoon het. Die diere en implemente was nog op die plase en die oeste het ook mooi gelyk vir die jaar wat kom.

Johannes het die dorpshuis vir hulle gekoop toe hulle ’n hele aantal jare ná aftree-ouderdom sieklik en kranklik geword het en te swak was om al die pligte op die vier plase te behartig. Hulle het voormanne aangestel om op die plase te boer en verder het hulle stewige beleggings teen goeie rente gemaak. In die bank in ’n aparte kluis het ’n groot klomp Rembrandt-aandele gelê wat Johannes toentertyd al gekoop het toe hy reeds ’n welgestelde man was en ene Rupert aandelekapitaal nodig gehad het vir ’n sigaret-onderneminkie wat hy wou begin. Die sertifikate is nou sulke geel, met vulpen ingevulde dokumente, maar is elektronies al menige keer verveelvoudig. Hulle groot rietdakstrandhuis voor by die see op Hermanus, met al die antieke meubels in, het hulle jare laas besoek.

Hulle was sommer baie welgestelde mense, maar helaas kinderloos, ’n klein, onbenullige feitjie wat nie ongesiens by die twee oumense se broers en susters se kinders verbygegaan het nie. Hoe ouer oom Johannes en tante Gertruida geword het, hoe liewer het die volgende geslag familie vir hulle geword. Hoe sieker hulle geraak het, hoe meer het die kinders in hulle siektes belanggestel en gereeld vir die dokter gevra wat die prognose is. As die dokter sê dit lyk goed, het die een wat praat die mondstuk van die telefoon toegedruk, omgekyk na die angstige luisteraar, gewoonlik die eggenoot of ’n werklose volwasse seun, en die skouers opgetrek. Hulle wou net die beste vir die twee oumense hê.

Hulle liefde vir die twee pragtige bejaarde mense het nie perke geken nie en ’n filantropiese waansin jeens die twee gryse, uitgeleefde mensies het van hulle besit geneem, soms ten koste van hulle eie minder kapitaalkragtige ouers. Hulle kon net nie genoeg gedoen kry in die tyd tot hulle beskikking nie. Hulle het angstig saam met die dokter gewag op die bloedtoets-uitslae en by hulle eie dokters of kinders wat in die mediese beroep is gevra wat beteken die tellings. Hulle het nie geweet hoe hulle oor ’n telling van vyftien moet voel nie, of hulle bly of bekommerd moet wees nie.

Hulle het Johannes en Gertruida se prokureur van tyd tot tyd gebel en met ’n sagte, bekommerde stem gevra of al die administrasie darem in orde is en gesê dat as daar iets, ja, werklik enigiets is waarmee hulle kan help, die prokureur maar net moet skree, geen moeite sal te veel wees nie. Die boekhouer is ook daarop gewys dat hy te eniger tyd maar net op hulle nommer kan druk. Hulle het probeer hulpvaardig klink. Presies hoe dit klink het elkeen maar geïmproviseer, soos wanneer ’n werker sy baas bel om hom mee te deel hy kom nie werk nie, want hy is siek. Hulle probeer siek klink soos iemand wie se rug seer is. Griep of verkoue is makliker om in jou stemtoon in te bou, maar ’n maagaandoening is die moeilikste.

Hulle het, tot hulle ontsteltenis, nie geweet wat Johannes en Gertruida se testament bepaal nie. Hierdie onsekere, twyfelagtige ding het aan hulle almal, en daar was sewe van hulle, begin vreet tot op die grens van ’n obsessie. Toe Johannes eendag sy liefde vir diere verklaar en in dieselfde asem ’n organisasie noem wat omsien na mishandelde diere, het hy uit verskeie oorde gehoor watter skelm spul hulle is en hoe roekeloos hulle geld mors, om nie eers van die korrupsie te praat nie!

Hulle het mekaar met ’n mate van agterdog begin be­jeën en ’n ongesonde onderlinge wedywering het posgevat. Hulle was bang die effe seniele oumense doen iets onverantwoordeliks. Hulle het skaamteloos begin veg om die twee se guns. ’n Ongekende deernis en liefde vir die twee brose oumensies het by die een klomp opgewel saam met hulle suspisie en mistrouigheid teenoor die ander broers- en susterskinders.

Die een susterskind het hulle Saterdae gehelp om inkopies in die dorp te gaan doen. Eers het sy ’n bussie en twee rolstoele gehuur en saam met hulle by die winkel ingegaan. Sy het die een se rolstoel gestoot en haar opgeskote seuntjie die ander een. Sy het die seuntjie aangemoedig en bykans verplig om hulle Oumie en Oupie te noem – troetelnaampies vir twee lieflike oumense “vir wie ons baie lief is en hulle vir ons”.

Die ander een het Sondae padkossies gepak en kniekombersies oor die twee oumensies se knieë gegooi in ’n ander gehuurde bussie waarmee hulle die twee liewe bejaardes op ritte geneem het die kontrei in en na hulle plase toe. Dit het Johannes goed gedoen om sy diere en oeste te sien, maar dit was soms onafwendbaar dat hulle heel toevallig ook dooie diere gesien het, afgebrande weiding, ’n stukkende dam of ’n trekker wat in ’n dam ingeloop het en daar laat staan is. Dit het die oumense hewig ontstel, ’n ontsteltenis wat die bestuurder wat per ongeluk op daardie droewigheid afgekom het, fyn in die truspieëltjie dopgehou het vir tekens van ontsteltenis wat kan uitloop op verdere verval. ’n Ander een het die uitgeleefde paartjie se albums geneem en al die ou foto’s uitgehaal en dit deeglik chronologies in pragtige nuwe albums gerangskik. Sommige ou vergeelde foto’s is oorgedoen en vergroot deur ’n slim kind op die dorp wat baie weet van rekenaars, digitale kameras en moderne drukkers. Voor in elke nuwe album het hy in groot letters laat skryf sodat swaksiende mense dit maklik kan lees: Aan liefste oom Johannie en tannie Truitjie, hiermee die mooi herinneringe van julle pragtige lewens soos saamgestel deur Kobus en Marietjie wat soos julle kinders is. Hulle het ook die vrymoedigheid geneem om so ’n klompie van hulle eie foto’s van hulle as ’n hegte gesin tussen die ou foto’s in te glip, veral waar hulle saam met die ouer paartjie afgeneem was, waarvan daar min was, maar wat reggestel is deur die aankoop van ’n nuwe digitale kameratjie en beplande kuiertjies waar lekker baie foto’s vir die nuwe album geneem is. Veral een foto waar Kobus as jong seun hand om die skouer met oom Johannes staan, is vergroot en neem een volle bladsy in beslag. Die onderskrif wat Marietjie in sierskrif aangebring het, lui: Soos pa en seun. Van die foto’s van die ander broers en susterskinders se kwaliteit was te swak om in die albums opgeneem te word en is weggelaat, veral daardie waar hulle met een van die twee oumense verskyn.

Tannie Gertruida was die eerste om te sterf. Dit het ’n fanatiese geskarrel in die familie afgegee. Hulle het soos brommers om oom Johannes gekoek en seker gemaak daar word notisie geneem van hulle verdriet. Hulle het met vurige entoesiasme die reëlings vir die begrafnis getref, blomme gekoop en laat rangskik, die begrafnisondernemer gespreek en hom probeer oorreed om ’n sitplek-ordelys vir die kerk op te stel, met hulle langsaan oom Johannes – dit is geweier.

Toe die een broerskind met oom Johannes in sy motor by die kerk aankom en omstap om die deur vir die oom oop te maak, is daar reeds vyf ander om hom voor te spring om oom Johannes se hand te vat en saam hand aan hand met hom die kerk in te stap. Twaalf ywerige, oopgesperde hande word by die oop motordeur ingedruk en tas binne-in die kar rond op soek na ’n ledemaat van oom Johannes, veral een van sy hande, want dit sal beteken dat hy nie weer daardie hand sal los voordat hulle in die voorste ry reg voor die kansel gaan sit vir die gedenkdiens nie. Toe oom Johannes hulle wegwaai om op eie stoom uit te klim, val hulle so effe en onwillig terug soos ’n rugbyskrum as die skeidsregter beduie hulle moet ’n groter gaping tussen die voorrye los, maar toe hy uit is, sak hulle op hom toe en raak plein kommin en stamp mekaar skaamteloos weg om besit van die eerste prys. Dat hulle pakke of stywe rompies aanhet, skrik hulle nie af nie en hulle gryp en klou soos ’n trop hiënas aan Johannes asof die oom ’n stuk vleis is wat geëet moet word vir oorlewing. Groot wit sakdoeke word dramaties tydens die diens uitgewapper en trompetterende snuite beklemtoon hulle verdriet wanneer Johannes hulle kant toe kyk. Vingers wat voor die diens in ’n bietjie Tabasco gedoop is en waarmee ongemerk aan die oë gevat word, sorg vir ’n mooi stroom trane.

Toe Johannes alleen in die dorpshuis moet sien kom klaar ná Gertruida se dood het die wederhelftes van die hoopvolle potensiële erfgename self geen steen onaangeroer gelaat om sy lewe vir hom op te kikker nie. Hulle kon nie genoeg koeksisters aandra nie – dit was ’n ope geheim dat Johannes baie lief is vir koeksisters. Die stroom kaartjies wat Johannes deur die pos ontvang het, was dik en gereeld op die herdenking van enigiets waaraan die potensiële erfgename kon dink: op Johannes se verjaarsdag, op wyle Gertruida se verjaarsdag, die herdenking van hulle troudag, Gertruida se sterfdatum, die aankoop van Johannes se eerste plaas, die datum waarop Johannes se stoetram die eerste keer Suid-Afrikaanse kampioen geword het en die instuur van die eerste kanola-oes. Die wed­ywering is om aan Johannes te toon hoe belangrik die datums vir die stuurder van die kaartjie is, soveel so dat dit onthou is. Die datum is onthou juis omdat Johannes so naby aan sy of haar hart is.

Toe die jongste van die generasie opponente op vyf en veertig swanger raak met, volgens hulle, ’n totaal onbeplande laatlammetjie, en dramaties aankondig dat as dit ’n seuntjie is, sy naam Johannes en as dit ’n dogtertjie is, haar naam Johanna sal wees, het die ander gesteier onder die aanstootlike nuus. Dit het soos ’n uitklophou gevoel en van die ander manlike mededingers het die afbind-operasies van hulle saadbuise laat omkeer. Die ander vroulike wedyweraars wat nog ouer was, het navorsing begin doen oor surrogaatmoederskap. Hulle het glad nie geweet hoe om hierdie berekende en verraderlike aanslag te hanteer nie.

Toe een afgunstige neef, in onnadenkende, paniekerige oomblikke, teenoor Johannes iets opmerk van “onoordeelkundige teel soos konyne” en dat daar “geen behoorlike beplanning” was en nie eers “genoeg geld is om vir die kind ’n behoorlike opvoeding te gee nie”, is sy maermerrie met ’n skerppunt-hoëhakskoen flenters geskop asof dit ’n spinnekop in ’n hoek is, waarop hy sy krom, verwarde redenasie en aanslag besef het. Hy kon dit nie uitvee nie en terwyl Johannes diep oor die opmerking nadink, wil hy iets doen om die ou man te laat ophou dink, maar selfs ’n “Nog ’n koeksister, oom?” het nie gehelp nie. Daardie nag, alleen in sy bed met sy vrou in die gastekamer, kon hy geen oog toemaak nie. Hy kon nie oor sy eie onnoselheid kom nie; hoe kon hy die fetus se armlastigheid beklemtoon? Sy vrou, in die ander kamer, het daardie nag gedroom van ’n klein baba Johannessie met huishoudsters, boekhouers, bediendes, voormanne vir die plase en ’n motorbestuurder. Toe sy nat gesweet uit die nagmerrie wakker skrik, het sy vol planne teruggesluip na haar man toe, sonder haar pajamas. Hy was egter steeds te futloos geskrik oor sy eie onoordeelkundigheid.

Toe sterf Johannes een nag stil-stil in sy slaap.

Skielik vat ’n heeltemal ander benadering en houding teenoor mekaar onder die konkurrente pos. Die eertydse wedyweraars om Johannes se guns is nou aan mekaar gebind weens die finaliteit van die situasie en die onomkeerbaarheid van die gegewe. Hulle kan nou niks meer doen as om te wag en te sien wat bepaal Johannes se testament oor wat met sy rykdom moet gebeur nie.

In die drie dae wat Johannes se begrafnis voorafgaan, ontvang elkeen van hulle formeel kennis van Johannes se prokureur om direk ná afloop van die begrafnisverrigtinge na die prokureurskantoor te kom vir die lees van die testament. Elkeen het gehoop om alleen so kennis te ontvang.

Ná Johannes se begrafnis die Dinsdagoggend is daar die gebruiklike koffie, tee en toebroodjies met kort viennas, elkeen met twee punte, anders is dit net te lank, op stokkies, by die kerksaal. Om twaalfuur die middag is alles klaar en vertrek elk van die sewe voornemende erfgename met hulle gades na die prokureurskantoor en elkeen sien met die aankoms die ander ses is ook daar. Die prokureur het sewe bundels voorberei gehad en elkeen ontvang een. In die bundel is die testament en ’n inventaris. Die testament bepaal dat die boedel van ’n geskatte waarde van ongeveer honderd en veertig miljoen rand in sewe gelyke dele verdeel word tussen die sewe erfgename. Die inventaris bepaal tot die laaste teelepeltjie hoe die roerende bates ook tussen die sewe verdeel moet word. Daar is baie spontane, Tabascolose trane toe die prokureur die lêer toeklap nadat hy in detail verduidelik het hoe die beredderingsproses sal verloop.

Instinktief vertrek die sewe en hulle aanhangsels na Johannes se verlate dorpshuis en sak verlig en uitgeput van die spanning in die groot sitkamer se sagte leerstoele neer, omhels mekaar en huil verder. Die predikant is ook daar en daar heers ’n gedempte, ootmoedige stilte. Daar is ’n atmosfeer van respek en nederigheid in die koel, donker huis, maar diep, diep, diep onder in elkeen is ’n uitbundige, maar onderdrukte ding, iets soos ’n opgewondenheid oor die nuutverkreë, onverdiende kapitaal wat elkeen se lewe vir altyd sal verander.

Een van die niggies maak toevallig en amper onnadenkend een van die twee groot boksvrieskaste oop en kom af op minstens drie lammers wat alles in braaitjops opgesaag is, en wiele tuisgemaakte boerewors. ’n Vinnige kyk in die inventaris bevestig dat Johannes nie die gevriesde vleis en die ander goed in die yskaste en spens soos die ingemaakte sousboontjies, meel, koeldranke, olywe, konfyte en ander lekkernye in sy testament bemaak het nie.

Nog ’n ontdekking is dat daar vir die inhoud van die stowwerige, amper vergete wynkelder onder die huis, net soos vir die inhoud van die spens en vrieskaste, nie voorsiening gemaak is in die testament nie. Die sewe sou maar daaroor moet beskik volgens dieselfde beginsels soos neergelê in die testament, naamlik, verdeel alles gelykop.

Johannes was nie ’n drinker nie en het alle drank wat hy deur sy lewe present gekry het, eenvoudig en onordelik in die kelder gebêre. Dit was nie ’n kelder in die streng sin van die woord nie, maar eerder ’n deurmekaar pakkamer vir drank. Die kelder was tot barstens toe gevul met ou rooiwyne, verskillende soorte brandewyne, likeurs en ander drank, selfs horingoue, nuttelose biere en vreemde goed wat sy vriende van oorsese kuiers vir hom gebring het vir medisinale gebruik. Die verdeling van die vleis en drank sou tyd neem, maar dit kan ook nie uitgestel word nie.

Die manlike erfgename en aangetroudes gaan na die kelder om op ’n manier sin uit die wanorde te probeer maak. ’n Driekwart bottel brandewyn staan op ’n klein tafeltjie, wat ’n klomp spekulasie ontlok. Het Johannes dalk tog skelmpies gedrink? Waarom steeds skelm ná Gertruida se dood? Waar is die glasies; het hy uit die bottel gedrink; was dit brandewyn in die bottel?

Onskuldig stel een voor:“Kom ons proe of dit brandewyn is.” Die ander is gediend met die voorstel, want dit is nodig om die ware feite te weet.

Ná die eerste slukkie deur die mannekring uit die bottel en bevestigende kopknikke met mondhoeke na onder, word die bottel weer aangegee ter bekragtiging van die beslissing dat dit wel brandewyn is. Die derde rondte is om alle twyfel uit die weg te ruim en om die bottel leeg te maak. Hulle trek wynbokse as sitplekke nader en wonder of dit werklik Franse konjak in die bottel is wat daar eenkant agter die tafelpoot wegkruip. Dit is inderdaad.

Toe een van die nou heelwat ryker niggies bo by die kelder se trap inloer en vir die manne onder op die wynbokse rondom die konjak inlig dat die kinders honger is en dat hulle ’n klein vuurtjie buite by Johannes se gerieflike braaiplek aangesteek het om vir die kinders ’n worsie te braai, dat hulle meel en konfyt uitgehaal het vir roosterkoeke, en sousboontjies en ingemaakte ertjies vir slaai, het die nou heelwat vindingryker manne voorgestel dat die grootmense seker ook ietsie sal moet eet en dat hulle sommer nog ’n klompie tjops en wors uithaal en gewonder of die vrouens ook ’n ietsie wil drink – Johannes sou dit sekerlik so wou gehad het, dat hulle almal ’n bietjie saam met mekaar moet kuier voordat hulle uitmekaarspat. Dit is net van pas dat hulle nog so ’n bietjie eer betoon aan sy nagedagtenis. Selfs niggies en nefies wat nooit iets gebruik nie gee hulle in die swakheid van onverdiende rykdom en emosionele uitputting oor aan iets sterkers. Hulle voel ook dit sal gepas wees om hulle respek vir Johannes te betoon deur van sy drank te drink; die totale onlogika van die redenasie kom nie eers by hulle op nie.

Die samekoms ontwikkel ’n effe ander gedaante. Dit vorder na ’n ietwat meer ontspanne familiesaamtrek, dog stemmig en beskaaf.

Glasies word uitgehaal, tafels gedek, nog hout op die vuur gesit en nog ’n kissie KWV Roodeberg opgedra braaiplek toe. Ná drie glasies brandewyn en twee soetwyntjies is die predikant vort. Hulle het hom verseker dat alles reg is, hoewel hulle nog droewig oor Johannes se dood is. Sy vertrek laat nog ’n skilletjie van beheerstheid en ingetoënheid van die agtergeblewenes afval. Daardie ding diep onder in hulle is besig om kop te lig, maar hulle weet nie daarvan nie.

Die grootmense wil nie so vroeg saam met die kinders eet nie en nog hout word op die vuur gesit, nog koeldrank as mengertjies uitgehaal, nog proppies klap. ’n Totale ontspannenheid vloei oor die geselskap soos ’n sterk suidoostewind wat gaan lê en ’n soel, kalm, lou hitte agterlaat. Kortbroeke verskyn van nêrens; kinders swem sommer in onderklere in Johannes se groot swembad. Die kinders eet aandete weer alleen; die nou stinkryk neefs en niggies het gesê hulle is nog vol van die toebroodjies en al die kort viennas ná die begrafnis.

Toe die kinders op lanklaas gebruikte beddens in die baie kamers ingelê is en rustig aan die slaap geraak het, word die nare gevoel van verlies en treurigheid verder vervang met die sterker smaak van wins en opgeruimdheid. Die onderste gedoente is so amper bo.

Die aand is koel en rustig en die sewe erfgename met hulle wederhelftes, elke paartjie met ongeveer twintig miljoen op die horison, maak nou grappe en word uitspattig. Hulle eet, skink, kou, vee monde af, gee vatvywe, omhels mekaar en lag met selfvertroue soos net mense wat geen skuld het nie dit kan doen. In hulle verbeeldings ry hulle in hul nuwe motors, die kombuise is klaar van ’n kant af opgeknap en die nuwe gordyne hang al. Die diep ding is nou bo! Nou is alle brieke af en jolyt vier hoogty!

Iemand gaan haal musiek in sy kar en dit word kliphard op Johannes se CD-speler gespeel. Die gedoef-doef van die musiek weergalm deur die buurt, gekomplementeer deur die gille van die vrouens en manne wat klere en al in die swembad spring. Dit word die wanordelikste en luidrugtigste partytjie wat die dorp nog ooit ervaar het.

Vrouens dans op die stoeptafel, mans met groot pense swem nou in onderbroeke, glase breek, tjops word met die hande geëet, een vroutjie tel haar toppie op vir die ander juigende, gillende mans.

Toe die polisie en die predikant later op aandrang van die bure skielik opdaag en hulle trompop vasloop in vier harige Tarzans in bont onderbroeke vir ’n gehoor van middeljarige Janes in bloemers en push-up bras, sak ’n skielike verdwaasde, verwarde stilte oor die geselskap toe asof hulle in ’n koma is. Hulle lyk soos mense wat terugkeer na die werklikheid nadat hulle onder hipnose was, of soos pa­siënte wat wakker skrik ná narkose. Hulle staan verbyster daar soos mense wat geheueloos terugkeer aarde toe nadat wesens uit die buitenste ruimte hulle weggeraap het.

Die musiek word afgeskakel en net die gekrap en lomp gevroetel van iemand, heeltemal onbewus van die teenwoordigheid van die predikant en polisie, is hoorbaar onder in die kelder. Skaam, beteuterd en oorbluf word hier bo klere nader gehark en hande probeer bedek. Skuldig staan hulle stil en staar na die predikant, nog geklee in sy pak klere, wat met sy rug na die keldertrap staan.

Dis juis nou dat die raserige een wat onder in die kelder was, wankelrig en lomp die trap opkom met nog ’n boks rooiwyn in die arms en twee bottels brandewyn in elke hand se beskikbare vingers. Hy herken nie die predikant van agter nie, maar neem dadelik die stilte en gedempte atmosfeer waar en sê:

“Nou wie is hierdie wat ons so kom steur in ons verdriet.”

'n Vienna het twee punte, anders is hy net te lank

Подняться наверх