Читать книгу Maal - Nicole Strauss - Страница 4

Die konsert

Оглавление

Ek het eers met my rug na hulle toe gesit, die man en die vrou in die koffiehuis. Ek kon hoor wat hulle sê, maar kon hulle nie sien nie, en my nuuskierigheid het die oorhand oor my sin vir ordentlikheid gekry. Ek het opgestaan, die kleedkamer besoek, en met die terugkom só by my tafel ingeskuif dat ek skuinsweg na die twee langs my kon kyk. Op die koop toe het die nuwe sitplek my ’n lieflike uitsig oor die agterste muur van die koffiehuis veroorloof, waar glase en koppies op rakke uitgestal is, blink en wit en duur, en ’n kristalkandelaar groots en magies uit die dak oor die gaste se koppe sy gelerige towerlig gestrooi het. Dis my gewoonte om altyd op ’n plek te sit wat my ’n blik deur die vensters van ’n kuierplek gee, sodat ek kan uitkyk buitentoe – die wêreld in – maar dié keer was ek alte gelukkig om die paartjie langs my, en die ryk interieur van die koffiehuis, stilweg dop te hou.

Wat my opgeval het, selfs toe ek nog met my rug na hulle gekeer was, was die stiltes tussen die twee. Nie die gemaklike stiltes wat tussen paartjies lê wat mekaar deur en deur ken nie, nie die gelaaide stiltes tussen mense wat met mekaar baklei nie, nie eers die verveelde stiltes wanneer twee mense werklik niks van mekaar wil (of kan) hoor wat hulle interesseer nie. Dit was ’n ander tipe, en ek kon nie my vinger daarop sit nie. As dit nie vir die stilte was nie, was dit dalk nie eers vir my nodig om my sitplek te verskuif nie. Gewoonlik is dit vir my genoeg om vreemde mense af te luister, en met net ’n vinnige blik my eie beelde wat ek van hulle in my kop optoor, met die werklikheid te vergelyk. Dikwels is die werklikheid vir my ’n teleurstelling.

Maar nie dié dag nie. Die liggaamstaal tussen die twee was meer interessant as dit wat hulle vir mekaar te sê gehad het. Dit was meestal sý wat die praatwerk gedoen het. Die man het amper niks gesê nie. Hy het teruggeleun in sy stoel, male sonder tal oor sy grys bokbaardjie gevryf, sy swartraambril afgehaal, dit teen die goue lig van die kandelaar gehou, en weer terug op sy krom neus geplak. Die oë agter die bril was staal.

Sy, aan die ander kant, was sag en mooi. Grysblonde, golwende hare was in ’n Franse rol agter haar kop vasgemaak; stringetjies daarvan het uit die rol gegly en om haar ore en teen haar slape gespeel. Haar oë, ook agter brilglase, was ’n sagter grys as syne, soos die see op ’n bewolkte dag, oortrokke eerder as stormagtig. Sy was sorgvuldig gegrimeer, keurig en klassiek; haar lipstiffie het sy êrens in die loop van die middag met ’n vars smeersel van haar salmpienk stafie opgeknap. Sy het ’n roomkleurige, lospassende broek aangehad, gemaklike plat skoene wat sy ’n paar keer onder die tafel uitgeskop en dan weer aangetrek het. Uitgeskop, aangetrek, asof die aktiwiteit onder die tafel kon vergoed vir die afwesigheid daarvan bokant die wit tafeldoek. Aanvanklik het ek gedink ek gaan hulle uitvang in ’n spel van voetjie-voetjie, maar sy paar gepoetste skoene het hy aan die punte van sy lang, uitgestrekte bene ver van die tafel af gehou.

Haar kaal voete, wat sy soms by die enkels oor mekaar gekruis het onder die tafel, het my herinner aan die meisie in die Stadtpark so ’n paar weke vantevore. Ek het haar onder Strauss se standbeeld aangetref. Sy het op haar oopgespreide jas gesit, haar voete uitgedop langs die leë skoene op die gras. Sy het ’n tydskrif deurgeblaai. Daar was groot plastiekringe aan haar vingers, maar ek was seker dat dit ter navolging was van die nuutste modegier en nie omdat sy nie duurder juweliersware kon bekostig nie. Haar sonbril het die grootste gedeelte van haar gesig bedek. Haar hare was kort en haar nek kaal. Die onderklere wat deur haar deursigtige toppie geloer het, was allermins goedkoop; ek kon die tekstuur van die kant onder my vingerpunte voel.

Toe die meisie uiteindelik van die gras af opstaan, die jas oor haar skouers gooi en die skoene aan haar voete glip, het die pienk lig van die aand al oor Wene geval. Dit was skemer, my gunstelingtyd van die dag. Ons het in die rigting van die Donau gewandel, ek en sy, haar sak oor haar skouer gedrapeer soos daardie outydse pelsdiertjies wat deesdae so verbode is, die koppies nog ongeskonde en heel, die ogies blink en beskuldigend. Sy het in die verbygaan die tydskrif in ’n drom gegooi.

Ek val myself in die rede; terug by die mooi vrou in die koffiehuis. Sy het ’n sagte, gebreide, koffiekleurige tweestuk by die broek gedra, ek dink dit was kasjmier. Om haar nek was ’n string melkwit pêrels, die perfekte sirkels van die juweel vier maal so groot soos die stringetjie wat my ma diep in haar onderklerelaai gebêre het, vir doop en troues en begrafnisse. En die dag toe ek graad gekry het. My ma se flenterpêreltjies kon nooit opmaak vir die ontsegging geskryf in die kringe onder haar oë, die kleur van donderwolke, of die motgifreuk van haar beste rok nie.

Mathilde oorkant my (ek het uit hul karige gesprek kon aflei dat dit haar naam is; toe sy ná die koffie en koek ’n bottel wyn bestel, het hy haar toegesnou: “Jy drink te veel, Mathilde.”) het haar sagte dog bewaakte blik – soms selfs verwytend, dink ek – dikwels op haar man gestip. Dan het sy monde vol koek fyntjies gekou, die krummels ligweg met ’n wit lapservet van haar lippe getik, en nou en dan die bordjie oor die tafel gestoot en só gedraai dat die silwer vurkie na hom toe wys. Hy het elke keer eenvoudig sy wang op haar gekeer, miskien sy kop geskud, iets kwaais onder sy asem gemompel. Mathilde het nogal vinnig die flambojante stuk apfelstrudel weggesit, elke laaste leksel room en blaartjie deeg het sy pad uit die porseleinbordjie na haar mond gevind. Toe die lekkerny op was, het sy lipstiffie aangesmeer.

“Jy gaan seker iets drink,” het sy gesê toe sy haar tweede Grösser Brauner bestel. Hy het vir die kelner, wat pikkewynagtig ’n swart skinkbordjie op sy gewebde vingers gebalanseer het, geblaf dat hy mineraalwater wil hê. “Funkelnd,” het hy bygevoeg.

Na die koffie met room en so halfpad deur die mineraalwater waaraan hy geproe het asof dit gif is, het Mathilde na haar horlosie gekyk.

“Nog ’n uur om te gaan,” het sy gesê en bykans onhoorbaar gesug. Hy het in sy stoel verskuif en sy een lang been oor die ander gekruis, sy arms voor sy bors gevou. “Ek moes maar ’n later vlug uit Zürich geneem het,” het sy bygevoeg, en die bottel wyn bestel.

“Jy drink te veel, Mathilde,” het hy gesnou en die waggelende kelner amper uit die pad gevee toe hy terugkom met die bottel Weisser Riesling en twee glase op die skinkbord, en heel onskuldig ’n wynglas voor Mathilde se man ook neersit.

Sy het vinnig ’n glas wyn gedrink en die kelner weer nader geroep.

“Die spyskaart, asseblief,” het sy beleefd gevra, uit pure verveling, vermoed ek. Die kelner het weggewip om die spyskaart te kry, en haar man het sy stoel hard en steurend agteruit gestoot, en bedonnerd weggebeur kleedkamer toe. Sy het skaam rondgekyk, en vir die eerste en enigste keer het ons oogkontak gemaak. Sy het verleë geglimlag, en vinnig van my oë af weggekyk. Sy het haar besig gehou met die spyskaart.

“ ’n Croissant met ham en kaas, asseblief,” het sy bestel toe die kelner versigtig nader kom, en hy het blitsig weer vertrek voor die eggenoot kon terugkeer.

In die tyd wat hy in die kleedkamer was (hy was lank weg) het sy nog ’n glas wyn gedrink. Ekself het my horlosie begin dophou, nou en dan oor my ken gevryf, soos wat ek doen wanneer ek senuweeagtig raak: dit was amper tyd vir die konsert. Hy het kort voor die croissant by die tafel aangekom, die nattigheid van die water wat hy oënskynlik oor sy gesig gaan spat het, nog blink en diamantagtig in sy baard. Hy het ’n tydjie lank met sy hande in sy sakke rondgestaan, na die kandelaar gekyk, vir iemand aan die oorkant van die vertrek geknik. Hy het gaan sit. Sy het behoedsaam die bord met die croissant (dit het heerlik gelyk) na hom toe uitgehou.

“Kan ek vir jou ’n stukkie afsny?” het sy gevra. “Dis nog lank voor aandete.”

“Nee,” het hy grof geantwoord, besin, vinnig haar oog gevang, en “dankie” bygevoeg.

Die koppie voor my was lankal koud en die koerant wat ek van een van die stokke teen die muur gaan afhaal en kamtig gelees het, klaar opgevou. Ekself was nou honger van kyk hoe die vrou die een ding na die ander verslind (dit het my opgeval dat sy tog nie oorgewig was nie) en baie lus vir ’n halwe glas of so van haar Weisser Riesling. Haar bottel was nou amper leeg. Sy het haarself verskoon, kleedkamer toe gegaan, en met ’n nuut geskikte kapsel en donkerder lipstiffie ’n tydjie later weer by die tafel verskyn. Daar was nou ’n syserpie om haar nek. Ek was verheug om dit te sien; dit het mooi gelyk, so om haar nek saam met die pêrels. Dit het my weer laat dink aan die vrou wat enkele dae vantevore op die Riesenrad van Prater Park in die hokkie voor my gery het. Sy het so ’n syserpie in haar hare gedra. Wanneer die reusewiel van die mallemeule oor die kruin van sy hoogste punt getuimel het, het die serpie agter haar aangewaai. ’n Ligte bries het dit in ’n stadium uit haar hare gepluk. Teen die tyd dat ek onder gekom het, het sy reeds in die skare verdwyn, maar die serp het onder aan die voet van die mallemeule bly lê.

Ek het dit nog, die serpie. Ek bêre dit by die ander, in die laaitjie langs my bed. Die tydskrif is ook daar.

Hy het intussen die rekening gevra. Die kelner het met die plastieklêertjie in sy hand geaarsel, dit oudergewoonte voor die man neergeplaas. Hy het dit oor die tafel geskuif na Mathilde, wat ’n goue kaart uit haar beursie gehaal en dit in die houer gesit het. Die kelner het met sy kredietkaartmasjien nader gestap, die kaart deur die gleuf geglip. Die man het toe reeds opgestaan, sy donkerblou baadjie oor sy oopnekhemp aangetrek en buite op die sypaadjie gaan wag. Mathilde het die velletjie papier geteken wat deur die masjien uitgespoeg is.

“Vielen dank, professor Weiss,” het die kelner gesê en met sy pikkewynlyfie ’n buiginkie in haar rigting gemaak.

“Danke schön,” het sy vir hom gesê. Sy het ’n ligte baadjie van die stoel se rugleuning geneem en dit oor haar skouers gegooi. Buite in die straat het haar man reeds begin stap in die rigting van Sint Stephanusplein.

Ek het my rekening gevra. Die kelner het verlig gelyk om van die twee ontslae te wees. Hy het geselserig gestaan en wag dat ek die munte uit my beursie krap, en was nie té ooglopend bekaf oor die klein fooitjie wat ek vir hom op die tafel gelos het nie. Op pad uit het ek die kleedkamer besoek, in die manjifieke spieël my geel das reggetrek, my kam in water gedoop en my kuif platgekam. Ek het ’n stukkie toiletpapier natgemaak en die bruin punte van my skoene daarmee blink gevee. Ek het ’n bietjie van die parfuum op die marmerblad langs die maanagtige wasbak in my nek gespuit, die fooitjiebakkie daarnaas geïgnoreer, en soos ’n miljoenêr gevoel toe ek netjies en welriekend die kleedkamer verlaat en by die koffiehuis uitloop, Konzerthaus toe. Die konsert sou oor vyftien minute begin.

Ek het Sint Stephanusplein oorgesteek en flink teater toe gestap. By die Konzerthaus aangekom, het Mathilde en haar man in die straat voor die teater gewag. Hy het geïrriteerd op sy horlosie gekyk. ’n Taxi het nadergetrek, voor hulle gestop, en Mathilde het ’n ouerige vrou by die motor uitgehelp. Die ouer vrou het ’n netjiese geblomde pakkie aangehad, en skoene met hakke so hoog as wat haar dun en wankelrige bene kon toelaat. Ek was ’n entjie van hulle af weg, maar is seker daar was groot, bonkige ringe met edelgesteentes aan haar vingers. Ek kon ’n robynrooi borsspeld op haar lapel uitmaak.

Mathilde het haar arm geneem en haar by die konsertgebou ingelei. Die man het gevolg; nadat hy die aankomeling op beide wange gesoen het (nie baie spontaan nie), het hy op ’n afstand met sy hande in sy sakke agter hulle aangedrentel.

Ek het nie bedoel om hulle te agtervolg nie – die deur waar hulle ingegaan het, was ook die naaste een aan die sitplek wat op my kaartjie aangedui was. Tog was ek versigtig dat hulle – veral hy – my sou sien en dink dat ek hulle doelbewus van die koffiehuis af hierheen gevolg het. Mathilde het een keer in my rigting gekyk, maar daar was geen sweem van herkenning in haar oë nie.

Ek het ’n program gekoop by die toonbank waar die plakkaat van die pianiste helder en groot staangemaak is. ’n Mooi kind. Donker, lang hare, irisblou oë. Wye, ongekunstelde glimlag. Klaudia Kunz. Gewoonlik koop ek nie programme nie – die goed is te duur en oordadig, ek sou persoonlik tevrede gewees het met ’n velletjie papier met die program en ’n paar besonderhede oor die kunstenaar, nie hierdie glansblaaie wat ’n fortuin kos nie – maar die foto van die pianis het my nuuskierigheid geprikkel. Ek wou meer van haar weet.

Mathilde en haar man het intussen verdwyn. Ek het half angstig gevoel, gewonder of ek my verbeel het, of hulle hoegenaamd daar was. Maar toe sien ek die ou vrou wat hulle uit die taxi begelei het. Sy het op ’n fluweelstoel in die foyer gesit, adellik, soos ’n gravin of barones en asof die teater haar kasteel is en die res van ons haar onderdane oor wie sy die lewe of die dood self kan uitspreek, as sy sou wou. In haar hand was ’n glas vonkelende sjampanje. Frans, het ek gedink. Haar benerige vingers en geverfde rooi naels het soos ’n klou om die fluit gevou.

Die klok het die eerste van sy drie slae geslaan. Mathilde het opgedaag en die ou vrou se glas by haar geneem. Haar man was ook weer by, sy rug styf en sy kake geklem, soos ek hom teen dié tyd al geken het. Hulle het in die rigting van die ouditorium gestap. Mathilde en haar man het die ou vrou weer aan albei arms ondersteun, meer vanweë haar sin vir drama as om enige fisieke rede, dink ek. Of dalk omdat die skoene se hakke te hoog was vir iemand van haar gevorderde jare. Hulle het deur die dubbeldeure verdwyn, die plekaanwyser het beduie waar hulle moet sit, maar ek het die idee gekry dat hulle goed vertroud was met die uitleg van die saal.

Ek wag altyd tot heel laaste voor ek die ouditorium betree. As ek nie so lief was vir musiek nie, sou ek dit nooit in ’n teater waag nie. Ek kan die mense so digby my bykans nie verdra nie. Soms koop ek drie kaartjies al gaan ek alleen, net om spasie om my te hê. Maar die Wiener Konzerthaus is te duur dáárvoor.

Toe die laaste klok lui en die gesofistikeerde Weense konsertgangers hul plekke inneem, het ek agter in die stadig bewegende, geselsende tou mense geval. Ek het my sitplek gevind en kon my geluk skaars glo toe ek in die stoel agter hulle inskuif. Die gryskopvrou tussen Mathilde en haar man het teatraal hul albei se hande vasgehou. Hy het anderpad gekyk, die krom neus in sy geëtste profiel die presiese replika van die ou vrou langs hom s’n. Aan haar ander kant het Mathilde die hand met die dun vel en bruin vlekke sagkens gestreel. Oor die brug van haar neus en in haar oë het die bloudruk van die ouer vrou se gelaatstrekke gelê.

“Mutti,” het Mathilde gesê, “ek is so bly jy gaan uiteindelik vir Klaudia hoor speel. Sy is een van die mees geniale pianiste met wie ek nog ooit gewerk het.”

“Ek kan nie wag nie, Tilde.” Sy het haar na die man gedraai. “Jy ken haar pa, nie waar nie, Markus?”

“Ja, Mutter,” het hy stug geantwoord. Markus en Mathilde, het ek gedink, albei spreek haar as moeder aan.

Nou toe nou, wat ’n verrassing – die ou suurknol was toe al die tyd nie haar man nie! Ek het deur die program geblaai; groot was my vreugde toe nie net foto’s van die pragtige jong musikant die blaaie versier nie, maar ook ’n foto van die mooie Mathilde. In die suiwer geformuleerde blokkie inligting onder die foto het ek gelees dat Mathilde voorheen die pianis se professor in Zürich was. (Deesdae studeer sy – die pianis – in Parys.)

Die konsert het begin. Ek moes myself dwing om nie heeltyd Mathilde se nek en skouers (waarin ek kon sien hoe sy saam met die musiek en die pianis léwe) dop te hou nie en tog ook na die kind op die verhoog te kyk. Sy was briljant, dié Klaudia, ek kon verstaan waarom Mathilde en natuurlik ook ander musici gaande oor haar was. Ek kies altyd my sitplek in musieksale só dat ek die pianiste se hande kan sien, die beweging daarin, die kontak met die klawers wat ’n bietjie is soos toor. ’n Vinger raak ’n objek aan en iets nuuts word vanuit die aanraking voortgebring. As ek maar so ’n Midashand gehad het.

Behalwe as dit ’n man is wat speel. Om na die fyn hande van ’n manlike pianis te kyk, is vir my gewoon grillerig.

Tydens die pouse het die drie die ouditorium verlaat, maar ek het bly sit. Gelukkig het die mense weerskante van my ook uitgegaan. Dit was vir my genoeg om naby die stoel te wees waarop sy oomblikke vantevore nog gesit het, en ek het met welbehae haar terugkoms afgewag. Hy was natuurlik eerste terug in sy sitplek, nors soos gewoonlik. Dit was vir my makliker om hom te verduur as voorheen, noudat ek geweet het hy is haar broer. Kort na die eerste klok het Mathilde en haar ma ook hul sitplekke ingeneem; die konsert het voortgegaan.

Daar was lang applous aan die einde, ’n staande ovasie, encores. Die opgewondenheid het rooi oor Mathilde se gelaat uitgeslaan. Sy moes haar hande warm geklap het, haar ma ook, en selfs oor die broer se gesig het ’n effense glimlag gesprei.

Almal is pratende die ouditorium uit en die koel laatmiddag was ’n lafenis na al die passie. Hulle het gegroet; hy het ’n taxi nader geroep vir sy ma, die deur vir haar oopgehou. Die ou dame het in die donker binnekant van die motor verdwyn, en soos ’n koningin deur die venster gewuif. Mathilde het hom ook op albei wange gesoen, en hy is daar weg, in die rigting waaruit ons almal gekom het. Sy, aan die ander kant, het in die teenoorgestelde rigting geloop.

Ek het in die dikker wordende skemer agter haar aangeglip, die reuk van koffie aanloklik in die lug toe eers sy en daarna ek verby die oop deur van ’n koffiehuis stap. Sy het voor die deur gehuiwer en ek het gewonder of sy dit oorweeg om in te gaan. Ek het net angstig begin word oor wat ek sou doen as sy te lank voor die deur draal en ek die paar meter tussen ons opvang, toe sy omdraai, my in die oë kyk en vanuit ’n plek binne haar wat ek nooit sou vermoed het nie, op die sypaadjie spuug dat ek dit meters ver kon hoor. Ek het die blerts op die keisteen sien spat. Sy het omgedraai en die aand in gestap, haar handsak onder haar arm geklem.

Ek het nader gegaan en wydsbeen oor die speeksel gaan staan – om seker te maak niemand trap dit plat nie. Die geriffelde patroon van die slym op die sypaadjie was vir my mooi. Ek het opgekyk en haar om ’n hoek sien verdwyn. Sy het nie weer teruggedraai nie. Ek het afgebuk, my netjies gestrykte sakdoek uit my sak gehaal, hurkend langs die hopie gaan sit.

Ek het Mathilde se spoeg stadig en sekuur met my wit sakdoek opgevee, dat daar niks oorbly en aan iemand anders se skoen gaan plak nie. Mense het oor hulle skouers gekyk om te sien wat ek doen; ek het bloot met my taak voortgegaan, die laaste stuk slym van die sypaadjie verwyder. Teen die tyd dat ek klaar was, was daar net ’n klam kol op die keisteen oor.

Ek hou die sakdoek in die laaitjie langs my bed, saam met die tydskrif en die serp, die program met Mathilde se foto, en my ma se string geel pêreltjies.

Maal

Подняться наверх