Читать книгу Maal - Nicole Strauss - Страница 6

Die fees van Gent

Оглавление

Hilde leun met haar voorkop teen die venster van haar drieverdiepinghuis. Buite is die weer grys, ten spyte van die somer. Die water in die grag lê stil. Langs die kanaal onder in die straat aan die voet van die ry regop huise rumoer deurmekaar lywe in strome heen en weer, vir dae al: mense, kinders, studente. Sy wonder of die drie terme mekaar nie dalk wedersyds uitsluit nie.

Hulle dans, gesels, lag op die maat van die musiek wat uit die bek van ’n goudkleurige saksofoon blêr. Hy staan aan die rand van die straat, die saksofoonspeler, waar die grag begin; ’n driepootopslaanstoeltjie aan sy voete, maar sy twyfel of hy ooit daarop sit. Die instrument lyk lewendig; die musikant soos ’n gimnas. Of ’n slangmens, dink sy. Kronkelend, akrobaties. Ten minste is daar nie weer die man met die fiets wat verlede jaar ’n duisend keer op ’n dag sy vliegtoertjie verby die venster van haar boonste verdieping gedoen het nie, mense snakkend na hul kollektiewe asem. Of die biertent aan die ander kant van die kanaal met die gepaardgaande geraas – soos ’n paar feeste vantevore.

Hilde draai om na haar huis. Daar is geen klank binne nie. Al wat sy hoor, is die geraas van buite, gedemp deur haar dik mure, weelderige matte, swaar gordyne. En toe deure. Gedemp deur die afsluiting – die afsondering – van jare.

Sy draai terug na die venster. Die slangmens is nou onder haar, sy kan die kaal kol bo-op sy kop sien. Hy dra ’n hemp met afgesnyde moue; sy boarmspiere bult wanneer hy sy instrument die lug in tel. Sy jeans is vol gate. Wanneer hy nie blaas nie, lag of sing hy. Dan swaai die saks soos ’n verlenging van sy arm rond. Ander mense lag en sing saam. Iemand skree meer as wat hy sing. ’n Kind jil manies soos wat net kinders en versteurdes kan. Die spel ets teen die bruin geboue, die vaal lug en die stil huis. Sy kyk na die malende koppe, die beweging; dis asof die hele straat – die sypaadjies, die kanaal aan die ander kant, als – in beroering is. Sy hoor die getik van die minuut- en sekondewyser van haar staanklok teen die muur wat soos ’n metronoom vir haar ’n ritme stel.

Hilde vestig haar oë op ’n kind in ’n rooi rok. Vier, skat sy. Die kind se hare is ongekam, sy hou ’n druppende roomys in haar hand vas. Haar voete is kaal. Haar mond is sjokoladebruin. Sy trek met haar ander hand aan haar ma se arm. Die ma het ’n kleiner kind op haar heup. Die kleintjie huil. Hilde kan hom nie bo die gedruis van die skare en die musiek hoor nie, maar sy sien die oop mond, die toegeknypte oë. Die vierjarige met die sjokoladegesig begin ook huil, of skree. Hilde sien die kind se gesig vertrek in ’n uitdrukking van ontevrede dringendheid, of pyn. Die ma sal weet watter tipe huil dit is. Die vrou probeer die jonger kind paai en met haar een hand die druppende roomys red wat meer en meer skade aanrig – nie net aan die kind en haar klere nie maar ook aan omstanders. Moedeloos druk sy, die ma, die hele roomys – horinkie en al – in haar eie mond. Nou skree die kinders eers. Sy tel die besmeerde dogtertjie op haar ander heup, probeer die roomys klein genoeg kou sodat sy dit kan sluk. Haar kieste bol. Sy lyk of sy gaan naar word, of mal. ’n Man kom nader. Hy praat op ’n selfoon en trek aan ’n sigaret. Die ma raas nou met die man, oënskynlik die pa van die kinders. Sy haal haar onmag en frustrasie maar op hóm uit. Hy vee roomys van haar ken af. Hy lag, maar dit lyk nie of die vrou dink dis snaaks nie. Hilde wonder of hy haar hoegenaamd bo die saksofoon en die geneul van sy eie kinders kan hoor.

Sy maak haar oë toe. Katrijn trek aan haar rok en Albert sit in die hoek en huil. Sy het ’n pot op die stoof, ’n houtlepel in haar hand. Die uie brand. Albert moet ’n bottel kry en Katrijn wil hê sy moet speel. Katrijn eis dat sy speel. Albert skree vir sy bottel. Die kos brand. Die telefoon lui. Hallo, ek gaan laat wees. Die kat miaau vir kos. Die kat se gat. Albert ’n bottel. Katrijn speel. Brand. Uie.

Sy maak haar oë oop. Sy sien die gesin se rûe: die pa dra nou die dogtertjie en die ma het die kleintjie in ’n sak op haar rug. Sy kop hang eenkant toe; hy slaap seker. Hulle stap in die straat af, saam met die een stroom mense. Hulle hou mekaar se hande vas. Die saksofoon is weg, maar sy hoor nog die tergende klank wat uit sy maag kom.

Die fees is in volle swang. Dis elke jaar se storie. Elke jaar staan sy met haar voorkop teen die venster en bekyk die mense. Elke jaar voel sy verder daarvan verwyder. Daar was ’n tyd toe sy en Jans ook met die kinders die fees ingevaar het. Toe sy ook tussen wildvreemdes haar man en haar kinders verskree het.

Sy gaan sit in ’n leunstoel en lig haar voete op ’n voetstoeltjie van fluweel. Sy neem haar boek van die vensterbank langs die stoel en begin lees. Die storie gryp haar nie, haar oë dwaal oor die letters, sy lees sinne twee maal, verloor die draad nog voor sy hom heeltemal het. Sy rus haar kop teen die rugkant van die stoel, haar oë gaan toe.

Sy sit met ’n boek op haar skoot. Mamma help my. Net ’n oomblik, Katrijn. Sy probeer die bladsy klaar lees. Mamma ek nodig jou, die verf het geval. Wag net gou. Sy jaag haar oë oor die bladsy, maar sy weet sy sal dit vanaand weer moet lees. Sy druk ’n boekmerk in die boek (die bladsy is nie klaar nie) en staan op. Verf lê oor die kombuisvloer uitgerol, Albert se voetjies trap rooi en groen en geel deur die huis. Die kat s’n is blou. Albert neul dat sy voete taai is. Katrijn huil oor haar prentjie nie mooi is nie. Die kat miaau. Die telefoon lui. Sy laat val die boek in die verf. Sy mis die oproep. Sy vee op. Die bakkie verfwater val ook om. Die biblioteekboek vol water, die kinders vol verf. Die mat. Die boek.

Hilde staan op, gaan ’n verdieping laer na haar kombuis om die ketel op die stoof te sit. Sy gooi water in, draai die gasvlam aan, druk die tuit van die ketel in wat haar sal waarsku as die water kook. Sy maak die yskasdeur oop; die melk is op. Sy kyk op haar horlosie, om geen rede nie. Daar is altyd tyd om melk te koop. Sy draai die vlam weer af, kry haar handsak op die onderste verdieping op pad uit, trek die deur van haar huis agter haar toe. Buite staan twee mense – toeriste – en bewonder haar huis en die ander aan weerskante. Hulle probeer haar aandag trek, sy ignoreer dit, en hoor bloot in die verbygaan hoe hulle haar woning komplimenteer. Sy knik ’n stram erkenning.

Normaalweg is dit kalm hier, selfs stil, ten spyte van die toeriste wat die area graag besoek, ten spyte daarvan dat Gent ’n groot stad en besig is. Gewoonlik is hier ’n rustigheid, ’n mildheid. Afgesien van die tien dae in Julie wanneer dit feestyd is. Dan is dit rondom die Graslei waar sy woon soos ’n greep uit haar lewe toe die kinders klein en sy pal op die rand van raserny was.

Sy trotseer die groepe mense in die straat voor haar deur. Dat meer van hulle nie in die water beland nie, verbaas haar. Nou en dan hoor sy iemand met ’n groot gelag en geplons van water in die kanaal val. Daar is altyd meer as genoeg arms om hom (dit is selde ’n vrou) uit te help. Sy klem haar handsak onder haar arm vas, hou regs teen die straat af na die deli ’n blok verder. Sy sukkel om by die winkeltjie in te kom, die eienaar agter die kasregister waai vir haar, skud sy kop. Maandag as almal met leë beursies die pad vat, sal sy en hy weer lekker gesels oor die gekheid van die fees, die spandabelrigheid van die besoekers, die papiere wat soos letsels in die strate agterbly. Sy maak met moeite – die deli is tot oorlopens toe vol – die deur van die yskas oop, en haal ’n bottel melk uit.

“Dag, Hilde,” sê die eienaar wanneer sy uiteindelik haar weg deur die koffiedrinkende geselsers na die kasregister baan, “ek dink daar is nog meer as verlede jaar.”

“Ek dink jy is reg, Michiel. Meer as die miljoene wat tóé reeds hier was.”

Michiel grinnik. “En baie van hulle kom terug; hulle onthou my koffie, kom hier ingewals en sê hulle wil hê wat hulle laas jaar gehad het!”

Sy glimlag. “Hulle ken jou maar sleg as hulle dink jy sal enigiets anders as goeie koffie voorsit.” Hilde sien hoe Michiel onder die kompliment blom. “Wat sê hulle van jou wafels? Beste in Vlaandere, die hele België?” Hilde kan nie glo dat so ’n ou, gesoute man nog kan bloos nie.

“So iets, ja,” antwoord hy skaam.

“Nou toe. Ek kom nie môre vir my week se bestelling nie, Michiel. Hierdie skares is te veel vir my. Kan ek dit Maandag kom haal, as Gent weer ons s’n is?”

“Natuurlik, Hilde. Vir jou, enigiets!” Hy lui die melk op.

“Kan ek ’n baguette ook kry, asseblief.” Michiel neem een uit die mandjie agter sy rug, draai dit in bruin papier toe.

“Dankie, Michiel. Tot siens, tot Maandag. Sterkte met hierdie klomp.”

Hy salueer haar met die punte van sy vingers teen sy beret terwyl hy reeds die volgende klant se inkopies in ’n papiersak pak. Die rooi kleur op sy wange bly. Sy maak die deur agter haar toe en stap terug na haar huis. Dié keer stap sy saam met die stroom. Sy luister na die gesprekke, bekyk die voete op die keistene om haar plat hofskoene – sandale, tekkies, stewels. Iemand is selfs kaalvoet! Snaaks hoe gemaklik mense raak in die geborgenheid wat ’n saamtrek soos ’n fees meebring.

Sy is bly wanneer sy by haar voordeur kom. Etlike elmboë het teen dié tyd teen haar middel geskuur en die reuk van laas nag (of vanoggend) se alkohol op die mense se asems laat haar siek voel. Die vullis in haar straat ook. Sy stap die stel trappe op na die kombuis, draai weer die ketel aan, maak die tee. Sy voeg melk by, geen suiker nie. Sy neem die koppie tee na die boonste vlak. Sy sit ’n CD in die speler – Callas – en probeer weer die boek. Callas se omvattende stem dryf die geraas buite en in haar kop uit. Sy lees drie hoofstukke terwyl Callas sing. Wanneer die musiek sterf, is die feesgeluide terug. En die horlosie wat so tik.

Teen laatmiddag raak die groot huis te klein vir haar. Sy neem ’n ligte baadjie van ’n kapstok in die portaal, en haar wandelstok wat op sy plek teen die muur langs die voordeur staan. Sy maak die deur oop. Die skare buite is kleiner, stiller; sy weet hulle rus vir die aand. Sy het voorheen al die fout gemaak om te dink dat daar ’n stil aand voorlê wanneer daar teen laatmiddag of vroegaand ’n verposing in die rumoerige teenwoordigheid van die feesgangers is. Sy het al geleer dat hulle net asemskep vir wat dit ook al is wat hulle tot laatnag en vroegdag aan die gang sal hou.

Sy stap in die straat uit, draai af in die rigting van die universiteit. Sy hou haar kop onderstebo, is nie lus vir oogkontak nie; feesgangers eien dit dikwels as ’n uitnodiging tot gesprek. Hulle is gretig om hul ondervindings met iemand te bespreek. As dit iemand is met ’n gedeelde ervaring, soos dat hulle dieselfde teaterstuk gesien het, soveel te beter.

Hilde stap langs die kanaal af. ’n Klein dogtertjie met pienk hoëhakskoentjies op ’n fiets kom voor haar ingejaag – die fiets het nog die ekstra stel agterwiele wat kinders help om hul balans te vind. Die dogtertjie het geen beheer oor die fiets óf oor haarself nie. Hilde struikel. Sy bestendig haarself met haar wandelstok. Die kind se pa kom agterna gehardloop, rooi in die gesig en verskonend, amper jammerlik.

“Verskoon tog, mevrou,” sê die pa as hy by Hilde kom, “ek is jammer. Sy kan nog nie ry nie, maar sy weier dat ek haar help. Sy weier om ander skoene aan te trek. Sy weier om op die sypaadjie te bly. Sy weier om na my te luister, ek praat met die wind.” Die pa staan met sy hande in sy hare, sy oë onseker op Hilde. Sy weet hoe hy voel: hy weet nie of die vreemde ou vrou met die wandelstok in haar hand en die serp om haar hare sy dilemma gaan verstaan en of sy gaan kwaad wees oor sý gebrek aan beheer nie.

Hilde glimlag toemond. Sy haal haar skouers op. Sy is bly vir die sonbril oor haar oë. Sy dink aan al die raad wat sy die man kan gee, maar groet net, loop verder. Sy hoor hoe die pa met die kind pleit. Dan sien sy haar vervaard dwarsoor die pad jaag, haar pa agterna. Iemand anders spring vies voor die fiets uit, skud sy kop in ongeloof.

Die kinders is op fietse. Op die Vrijdagmarkt. Graag ry hulle daar, al is daar heelwat ander mense, al moet die mense vir haar kinders koes. Katrijn wankelend verbete op ’n fiets, Albert nog op die een met wieletjies. Om en om die standbeeld van de wijze man van Gent ry hulle. Sy sit op ’n bankie en kyk op na hom, Jacob van Artevelde; sy smeek vir ’n aks, ’n leksel, van sy opgetekende wysheid. Hy bly altyd so onverbonde voor hom uitkyk, die toekoms in. Of is dit die verlede wat hy sien? Wanneer die kinders begin baklei, luidkeels op mekaar skree, wanneer Katrijn Albert se fiets onder hom uitgryp omdat sy moeg is vir balanseer en op die maklike fiets wil ry, en Albert skreeuend oor die plein na haar toe snel, vloek sy hom soms, ou Jacob, herinner sy hom dat hy verniet so meewarig en soewerein daar staan, dat al die wysheid in die wêreld hom nie veel gehelp het toe die moordenaar met die byl gekom het nie. Al was hy sy lewe lank so slim en goed. En wanneer Katrijn haar ma se versoeke, gesoebat, mooipraat en gille om Albert se fiets terug te gee, ignoreer, aflag, wegvee soos wasem teen ’n ruit, verbeel sy haar dat Jacob háár aankyk – onverpoosd, onverbind – en die glimlag van iemand wat beter weet om sy mondhoeke speel.

Hilde stap verder. ’n Koel somerbries waai van die water af teen haar aan en sy stop om haar baadjie aan te trek. Die strate raak weer voller, dit is amper tyd om terug huis toe te gaan. Sy stel die omdraai uit. Sy sien nie kans vir die mense nie, maar ook nie vir die mure, die leegheid, die klok in haar huis nie.

Miskien moet sy vir Katrijn bel en vra of sy die klok wil hê.

Sy gaan sit in ’n koffiehuis, bestel koffie. Die winkel is vol, maar net vol genoeg dat die stemming gaaf en warm is; daar is nie te veel mense nie. Die koffie ruik lekker. Die koeke staan aanloklik onder hul glaskoepels, maar sy maak of sy hulle nie sien nie. Sy neem ’n koerant op die tafel by die ingang, een wat sy nog nie vandag gelees het nie. Haar oë gly vlugtig oor die opskrifte van die artikels, hier en daar lees sy ’n paragraaf of twee. Sy stop by die kunsblad, lees ’n resensie van ’n konsert wat sy self ’n week vantevore bygewoon het, kort voor die fees begin het. Sy verskil van die opinie van die resensent, iemand met wie se mening sy gewoonlik saamstem. Sy kyk die res van die artikels deur, lees een oor ’n spesiale uitstalling by die Museum voor Schone Kunsten. Dit lyk interessant: ’n tentoonstelling van Emile Claus se arbeiderskuns. Sy sal gaan; sy maak ’n nota in haar dagboek daarvan.

Sy sit terug in die stoel, wag vir haar koffie, maak haar oë vlugtig toe. Christus met die kruis oor sy skouer kom voor haar verby. Die kranksinnige oë en verwronge figure in Hieronymus Bosch se skildery stap haar gesigsveld vol, sy dwing haar oë onmiddellik oop. Sy onthou dit, die gevoel van besetenheid. Sy onthou hoe dit voel wanneer daar niks oor is behalwe die leemte waar waansin so maklik kom sit nie. Hoe sy soms haar eie hare uit haar kop gepluk het, om nie die kinders s’n in haar woede by te kom nie. Hoe haar voet teen die houtvloer geklink het wanneer sy dit rasend stamp; hoe sy soms goed teen die muur stukkend wou gooi. Dan iets anders gegryp en gegooi het wat sag was en nie sou breek nie. Hoe skaamte, ontsteltenis – kort na die uitbarsting – die plek van die woede gevul het. Hoe kwaad sy dan vir haarself was, dat sy so beheer kon verloor. Die slytende bekommernis oor wat sy aan haar kinders doen, hoe hulle haar oomblikke van raserny in hul bewussyn opsluit.

Soms het sy saam met die kinders – altyd met die kinders – na die kunsmuseum gegaan, voor die skildery gaan staan, haarself gemaan dat dít is hoe sy lyk wanneer sy haar greep verloor: dít is wat hulle sien, dít is hoe haar gesig hul drome tot nagmerries verwring.

’n Kelner sit die koffie voor haar neer. Sy drink dit, so vinnig as wat die warm vloeistof haar toelaat. Die papiertjie onder die koppie is nat waar die koffie gestort het. Die koffie kleur die papier bruin, soos sjokolade. Sy staan op, betaal, stap deur die strate wat nou weer vol is terug huis toe. Sy kyk nie om haar rond nie, voel nie die polsing van die stad nie, ignoreer die opwinding wat dik om haar lê. Sy trek haar deur op knip, sluit die slot en bêre die sleutel op sy plek in die laai, soos elke ander aand.

Sy haal die bestanddele vir haar aandete uit die yskas: ’n pakkie witloof, ’n wiggie parmesaan, twee knoffelhuisies, ’n bottel olywe. Olyfolie haal sy uit die kas, sout en peper ook. Sy maak die witloof skoon, sny die stingel verder terug, trek die buitenste, effens verlepte blare waarvan die punte al bruin is af, en gooi dit in die drom. Sy haal haar sjefsmes uit die laai, sny die groente in helftes sodat die halwe kelke op die houtbord voor haar lê. Sy sny haar vinger raak. Sy is nie eers verbaas nie. ’n Smeersel rooi bloed kleef aan een van die wit punte van die loof.

Mamma, eina, jy bloei! Albert skree, maar sy weet nie of dit is omdat Katrijn hom geklap het of omdat sy haar vinger amper middeldeur gesny het en haar bloed op die kombuisvloer drup nie. Hy skree so dat die hoë, deurdringende klank van sy stem in haar ore vassteek en sy net Katrijn se lippe sien beweeg, haar oë met trane sien vul, haar mond in werklike verdriet sien vertrek. Sy gryp ’n vuil, onwelriekende kombuislap uit die opwasbak, draai dit om haar wond. Sy gaan sit met haar rug teen die stoof, neem ’n kind in albei arms. Al drie van hulle huil, sy weet nie wie die hardste nie. Hulle sit so tot sy beter voel en die bloed deur die lappie sypel, ’n donkerrooi kol op die geruite materiaal. Kom, kom ons gaan plak ’n pleister op. Hulle staan op, stap al drie badkamer toe. Jammer, Mamma. Wat sê jy, Katrijn? Jammer dat ek en Albert so baklei het dat jy jou gesny het en seergekry het en nou is jou vinger middeldeur. Katrijn begin weer huil. Sy gaan sit op haar hurke voor die kind. Dit was ’n ongeluk, Katrijntjie. Dit was nie aspris nie, ongelukke gebeur. Ja, maar jy het gesê as ons so baklei kan jy nie dink nie en toe baklei ons weer en toe kan jy nie dink nie en toe sny jy jou vinger af. Albert snik ook mompelend ’n verskoning. Sy wil self weer huil, maar sy ruk haar reg. Plak die pleister op die wond, stap terug kombuis toe. Paai die kinders terwyl haar vinger kloppend en warm binne die pleister bloei.

Hierdie keer is dit darem nie so erg nie. Sy kry ’n pleister in die laai, plak die sny toe en werk verder. Die feesklanke swymel deur die mure. Sy het die gordyne toegetrek, maar dit kom steeds in vlae, soos wanneer die wind sterk waai. Sy sit Piaf in die CD-speler, skink ’n glas chardonnay. Sy drink die eerste, vars sluk van die wyn terwyl die rasperstem en fliekmusiek haar gemoed paai, die binnekant van haar huis spatsels warmte gee. Dan drink sy die tweede, lekkerste sluk. Sy rangskik die halwe gedeeltes van die witloof – soos oopgesnyde tulpe – in ’n keramiekbak, sprinkel sout en swartpeper, knoffel, gekapte olywe en parmesaan in die holtes tussen die blare. Sy vryf met haar vingers en die palms van haar hande olyfolie om die kante van die witloof, sprinkel nog van die olie oor die bokant waar die ander bestanddele tussen die blare lê. Sy druk die bak in die warm oond.

Sy draai die klank van die musiekspeler op, teug aan haar wyn. Sy dek die beukehouttafel met wit linne en ’n wit bord, nog ’n glas vir as sy later lus raak vir rooi, ’n silwer vurk en mes. Sy onderdruk die impuls om rooi lipstiffie aan haar lippe te smeer. Die aroma van die knoffel en die kaas vul die huis, of in elk geval die verdieping waar sy kook. Sy breek Michiel se brood in stukke, sit dit op die tafel langs haar bord.

Die kos is reg. Sy haal dit uit die oond, dien vir haarself op. Sy gaan sit aan die kop van die tafel, strek haar arms reguit na weerskante, vat die tafelblad in albei hande vas. Sy sluit haar oë.

Gee dis myne. Issie dis myne. Myne. Myne. Dis myne. Katrijn, gee die ding vir Albert dat ons kan eet. Nee! Dis myne. Albert stamp sy waterglas om. Hy gryp na Katrijn se pop. Nee! Los! Myne! Sy spring op en kry ’n lap in die kombuis, vee verbete na die water wat oor die nuwe tafelblad loop. Hoe kon sy gedink het hulle kan hier by die tafel eet? Nie in die kombuis nie, maar beskaafd by die nuwe tafel sit en gesels en eet. Sy lig die glas wyn na haar mond, sluk twee slukke vinnig weg. Gee! Eet julle kos. Gee. Myne! Los my uit! Albert, Katrijn (nog ’n sluk wyn) eet julle kos, asseblief. Nee! Ek hou nie van vis nie. Ek hou nie van witloof nie. Ek haat ertjies. Sy sluk. EET JULLE KOS. Waar’s pappa? Jy skree net altyd op ons. PAPPA IS AL WEER NIE HIER NIE. EET. Katrijn keer haar bord kos op die blinkgevryfde tafel om, gryp haar pop by Albert, storm kamer toe. Ek hou nie meer van jou nie! roep sy uit haar kamer. Albert skree oor die pop. Sy sit, kyk met wye oë na die kos in haar bord. Sy drink.

Hilde bring stadig die kristalglas na haar mond toe, proe die wyn koud op haar tong, onthou die dae toe sy wyn wanhopig in haar keel afgegooi het eerder as om dit te proe. Sy neem haar mes en vurk, buig oor die bord voor haar. Die witloof ruik heerlik. Sy asem dit in voor sy begin eet. Sy neem ’n hap, doop ’n stukkie baguette in die sous, kou stadig. Sy drink nog ’n sluk wyn. Sy sit terug in haar stoel, die kristalglas in haar hand.

Piaf het ophou sing. Die malle fees speel agter haar mure. Die staanklok tik op ’n ander vloer. Die telefoon lui nie. Die kat is lankal dood. Hier binne is dit stil.

Soos die graf.

Maal

Подняться наверх