Читать книгу Maal - Nicole Strauss - Страница 5

Katinka kook

Оглавление

Teen die hang van die berg staan ’n huis met luike voor die vensters en ’n akkerboom in die tuin. Langs die paadjie wat van die gegote ysterhek af na die voordeur loop, groei laventel en teen die mure rank klimop vir dekades al. Italiaanse kleipotte met bosse kruie en klein geknipte boompies staan in ’n netjiese ry. Reën kom in vlae uit ’n bedekte hemel, en die wind dwing die takke van die akkerboom na die grond. Ver bokant die huis teen die rotswand van die berg is watervalle sigbaar; bo-op die tafeltop maal die weer dik.

Gelukkig is die gaste laat, anders sou hulle die gasvrou kaalvoet in die kombuis betrap. Katinka Cronjé woon al drie-en-dertig jaar in hierdie huis. Dit dra haar stempel en haar parfuum en in die kraak van die vloerplanke en die steun van die dak lê haar versugting na die onbekende. Saans sit sy op haar stoep met ’n glas wyn in die hand en die ligte van Kaapstad soos ’n skitterende tapisserie aan haar voete. Sy teug aan die stad soos sy teug aan die wyn en die reuk van die soet, wit lemoenbloeisels wat dié tyd van die jaar blom. Oor die jare het dit deel van haar wese geword, nes die huis en die berg waarteen dit staan.

Soggens sit sy ook op die stoep en dan is die mis oor die see ’n verlange na die jare wat verby is – kinderjare, jeugjare; haar eie en haar kinders s’n. In die oggend is die skepe wat deur die Kaapse hawe voor haar vaar die skimme van die moontlikhede wat daar was, die kanse wat verby is, die keuses wat sy gemaak het, of nie.

As die tyd reg is en die wind uit die noordweste waai, hoor sy die sanggebede van die moskee onder in die stad.

Op hierdie windverwaaide, reënerige Sondag kom ses mense aan haar tafel eet. Haar seun (soos sy pa en haar skoonpa en al die ander eersgebore manlike Cronjé’s is hy Frederick gedoop, maar sy noem hom Fred) het vanoggend eers laat weet dat hy kom; hy bring sy kamermaat, Emile. Haar dogter Manon (soos Pagnol wou sy die kind na die karakter uit die opera noem) en ’n nuwe kêrel sal ook hier wees. Haar vriendin Charlotte en Frederick se ma, Elize, voltooi die tafel. En Frederick. Natuurlik.

Katinka staan gebuk oor ’n bak klein tamatietjies. Sy hoor die voordeur oopgaan. “Oppas, die blomme!” roep haar seun. “Net betyds,” sê Emile. Sy haas haar in die gang af met die skerp getande messie nog in haar tamatierooi hande. Emile staan met die pot blomme. Sy moet dit skuif; as die voordeur oopgaan, kantel die wind die blompot graag. Fred en Emile stap Katinka tegemoet. Sy vat die pot by Emile.

“Hallo, Ma,” groet haar seun, omhels haar. “Hoe gaan dit?” Sy moet haarself daarvan weerhou om hom nie met die vuil tamatiehand styf teen haar vas te druk en ’n afdruk daarvan op sy netjiese wit hemp te laat nie. Sy ruik hom; sy ruik sy mansreuk en sy Hugo Boss, maar agter dit die klein seuntjie wat vir jare lank elke nag by haar in die bed kom slaap het.

“Fred, Emile, dit is so goed om julle te sien! Ek is bly julle het vroeg gekom. Kom ons drink eers tee.” Katinka stap voor die twee mans uit kombuis toe. Sy sit die pot blomme – rose – op die kombuistafel neer. Sy spoel haar hande af en kook water. Sy pak ’n skinkbord met koppies, ’n melkbeker en suikerpot terwyl sy luister na Fred en Emile wat praat oor ’n partytjie van die vorige aand.

“By the way, Ma, ek het ’n aanbod gekry vir articles volgende jaar.” Fred ontwyk haar oë en skink ongeërg vir hulle tee. Hy gooi suiker in syne en roer dit totdat Emile die teelepel by hom neem en dit in sy piering sit. Emile loop uit die kombuis deur die eetkamer na die sitkamer toe. Katinka hoor die pote van die klavierstoeltjie oor die houtvloer skuif.

“Dis fantasties, Fred. By wie?” Katinka wens hy wil oor die volgende twee jaar sy leerklerkskap in Kaapstad voltooi, sommer hier by hulle in die leë huis kom woon, eerder as dat sy hom aan ’n rugsak en Europa verloor – vir ’n maand of vir altyd, ’n mens weet nooit. Party lang oggende sit sy by die geelhouttafel in haar kombuis en fantaseer oor koekies bak en klei uitrol met ’n string kleinkinders. Van Sondagmiddagetes met klein voetjies wat in haar huis rondtrap. Maar ai, vir Manon het sy geen hoop nie – nie eers om tot trou te kom nie – en as Fred die vreemde in vaar . . . Sy wens sy kon die tyd terugwen.

Uit die sitkamer kom ’n paar tentatiewe akkoorde, ’n vinnige flirtasie in die deskant en ’n glissando tot niks. Fred haal sy skouers op. “Ag, groot firma, my eerste keuse. As ek hier wil bly, moet ek dit vat.” Hy bring die koppie na sy mond toe, blaas peinsend oor die tee. “Ek weet net nie of ek wil nie.”

Die toevalligheid waarmee Emile pas die klavier getoets het, verdwyn in die suiwer, seker note van ’n Chopin-nokturne. Hy ken al die klavier soos ’n goeie vriend; dit is asof die twee saam in staat is tot iets wat ander mense nie kan regkry nie. Fred wil verder praat en Katinka wil graag na hom luister, maar albei beweeg onwillekeurig na die melankoliese melodie en die toonskeppende herhaling van die linkerhand. Emile se lang, krullerige kuif hang laag oor sy voorkop en in sy lenige hande hou hy ’n wêreld waarvan Katinka gewoonlik net droom. Sy gaan sit op die puntjie van die klavierstoel langs Emile, Fred leun met sy voorarms op die vleuel, hou die klawers binne die klavier dop wat soos insekte heen en weer skarrel. Emile verdwyn in sy vingers en in die instrument.

Wanneer die laaste note van die naglied sterf en die wind weer teen die venster stamp, is almal se tee yskoud. Nou tokkel Emile sommer, ’n paar note hier, ’n melodie daar – hy is baie lief vir hierdie vleuel wat Katinka by haar ma geërf het. Sy gaan terug kombuis toe om die tamaties klaar te sny en ’n pot water op die stoof te sit vir pasta. Fred staan nog en leun met sy elmboë op die klavier.

Die voordeur gaan weer oop en aan die hakke op die houtvloer weet Katinka Manon is hier. Sy kom reguit kombuis toe, haar metgesel agterna.

“Hallo, liefste Moeder,” koer Manon en gooi haar arms om Katinka. Sy voel haar dogter se maer lyf teen haar eie. Haar kort, donker hare blink, haar bruin oë is swaar opgemaak. Sy dra lang swart stewels, pers sykouse daaronder; ’n kort miniromp. Sy groet vir Fred en Emile wat van die klavier se kant af ingestap kom.

“Dit is Dale, almal. Hy maak films. Dale, this is my family.” Manon draai haar rug op Dale. Hy groet styf. Sy hare is ook donker en blink, maar dit krul in sy nek. Hy spog met ’n vietse bokbaard, perfek gekap om sy vol teatermond. Hy kyk hulle nie juis in die oë nie, maar Katinka dink sy irisse is groen, miskien met gelerige spikkels hier en daar. ’n Mooi man, maar onsubstansieel, dink sy; skrik dan vir hoe blatant sy hom op sy voorkoms takseer. Manon praat eenstryk deur, omhels haar broer en Emile, ignoreer vir Dale. Dit is vir Katinka so helder soos Tafelberg op ’n koel herfsdag dat iets reeds skort tussen Manon en haar nuwe vriend; sy het (al weer) nie veel hoop vir hierdie verhouding nie.

“Tee, Manon? Dale?” vra Katinka beleefd.

“Nee dankie, Ma,” antwoord Manon en wend haar direk tot die bottel wyn in die yskas. Sy skink twee glase vol, gee een vir Dale sonder om te vra of hy wil hê of om na hom te kyk. “Waar is Pappa?” wil sy weet, en sluk ’n mondvol wyn.

“Hy’t gaan koffiebone koop,” antwoord Katinka, “en vir Ouma gaan haal.”

Emile sit ongemaklik op die hoë kombuisstoeltjie en gooi vir homself ook ’n glas wyn. “Hoe gaan dit met die show?” vra hy vir Manon.

“Fantastic,” sê Dale. Smalend, dink Katinka. Hy bly staan, klou aan sy wynglas soos ’n bidkraal, druk sy ander hand diep in sy sak.

Manon kyk hom vies aan, draai dan na Emile. “Dit gaan gréát, dankie, Emile. Al die shows is uitverkoop. Gisteraand het ons ’n standing ovation gehad. Al het ek in die middel van my monoloog oor ’n simpel prop geval.”

“Manon! Wat op aarde het gebeur?” vra Katinka.

“Ag, niks eintlik nie, Ma, ek het getrip en geval. Maar die gehoor was baie beïndruk deur my recovery en die director ook. Ek dink die show was selfs beter as gewoonlik!”

Katinka verwonder haar aan die gemak waarmee haar dogter deur die lewe gaan. Sy was nog altyd so. Niks kry haar onder nie.

“Wie kom almal?” vra Manon. Haar glas staan op die tafel langs die brood wat sy van die deli af saamgebring het. Fyn druppels vorm aan die buitekant van die glas; wanneer sy dit neersit na nog ’n gulsige sluk, bly die merke van haar vingers daarop agter. Sy trek stukke brood uit die wit papiersak en druk dit in haar mond. “Nog nie geëet vandag nie,” mompel sy tussen die happe deur.

“Ons is maar min,” antwoord Katinka. “Net julle vier en Ouma. En Charlotte.” Sy vee haar hande aan haar voorskoot af. “Kom help my gou dek, toe. Fred, sal jy vuur maak, asseblief?”

Hulle stap deur sitkamer toe. Sy hoor die garagedeur en Frederick se dreunende motor. Die kar kom tot stilstand en deur die venster sien sy sy netjiese figuur in die binnedeur van die motorhuis verskyn. Sy serp flap in die wind. Hy hou die deur vir sy ma oop. Hy help haar by die paar trappies af tot in die tuin. Haar grys haartjies staan regop in die wind. Die bene wat onder haar rok uitsteek, lyk broos, asof die wind hulle soos blomstele sal kan knak. Sy sukkel struikelend en koes vir die druppels wat koud op haar gekrimpte koppie val. Frederick hou sy ma aan haar elmboog vas. Met sy ander hand probeer hy ’n groot geel sambreel oor haar oopvou. Sy silwer kuif wat gewoonlik sorgvuldig teruggekam is, is plat oor sy voorkop gevee deur die reën. Sy swart leerbaadjie glim nat. Hy trap per ongeluk die tuinpaadjie mis en sy nuwe skoen beland in die modder. Katinka kan hom nie hoor nie, maar sy weet dat hy ergerlik en onderlangs vloek. Sy ma hou haar dun armpies uit na die reën, vang die druppels soos ’n kind en lek dit uit haar hand. ’n Vlaag wind skep die sambreel en vou dit toe, soos ’n tulp. Frederick gooi dit vererg eenkant en gebruik al twee arms om sy ma stoep toe te stuur. Sy skud giggelend die water uit haar hare. Katinka maak die voordeur oop en lei haar skoonma na binne. Die ouer vrou trek haar skoene uit en stop dit in Katinka se hande sonder om te groet.

“Ag, kind, maak tog die skoene droog voor die vuur? Ek kan nie sien waar dit is nie, maar ek ruik ’n gestokery.”

Die reuk van vuurrook kom weliswaar uit die sit- en eetkamers waar Fred en Emile aan die vuurmaak is. Frederick skud sy kop vir Katinka; soos altyd wanneer hy sy ma sien, ontstel haar agteruitgang hom.

“Hallo, Ouma,” kom groet Fred haar in die voorportaal.

“Hallo, kind,” sê sy vaag. Fred lei haar sitkamer toe; sy pas onder sy arm in. Sy staan klein, op haar kouse, haar hande voor die skrale vuurtjie teen mekaar en vryf. Hy skuif vir haar ’n stoel nader.

Die telefoon lui. Katinka los Elize se skoene voor die rokende vuur. Sy antwoord uitasem wanneer sy die toestel tussen die Sondagkoerante vind.

“O, hallo Charlotte,” sê sy in die gehoorbuis. “Natuurlik nie.” Sy kyk na Fred terwyl sy praat. “Sien julle nou-nou. Baai.” Sy plaas die telefoon op sy mikkie terug, en help Elize om die glas wyn wat Frederick vir haar gebring het op die tafeltjie langs haar stoel neer te sit.

“Dit was Charlotte,” sê sy, onnodig. “Melissa is by die huis vir die naweek en sy wou weet of sy haar maar kan saambring hiernatoe.” Sy maak die stapel koerante op die koffietafel netjies. “Wat kon ek sê?” Sy rig die vraag aan Fred, wat hande in die sakke voor die kaggel staan. Die vuur brand nou goed, vlamme speel teen die agterkant van die antieke kaggel (daar is vier in die huis) en hou die oë van die omstanders asof hulle hulself daarin kan sien. Weerkaatsings van die vlamme dans in die donkerrooi teëltjies wat die kaggel omring.

Fred kyk nie van die vuur af weg nie. “Whatever,” sê hy.

Katinka stap kombuis toe. By die tafel in die kombuis sit Manon en Frederick. Sy oë blink, soos altyd wanneer sy dogter haar volle aandag op hom toespits; sy doen dit graag. Katinka wonder wanneer laas sý en Frederick so intens met mekaar gepraat het. Manon hou haar pa se hand vas terwyl sy besield, asof op die verhoog, die vorige aand se val in die fynste besonderhede met hom deel.

Frederick lag goedig wanneer die vertelling verby is. “Ek het mos gesê jy moet van die verhoog af wegbly. En nie net omdat daar gevaarlike props rondlê nie.”

“Waar is Dale?” vra Katinka.

“Rook buite,” sê Manon en hop van die stoeltjie af om haar ouma te gaan groet.

“Dit ruik heerlik,” sê Frederick wanneer hy en Katinka alleen in die kombuis agterbly.

“Hmm,” sê sy, en maak die oond oop waar die skaapboud al van die vorige aand af bak. Die reuk van knoffel en roosmaryn vul die kombuis. Sy haal die skottel uit die oond en sit dit op die tafel neer.

“Lieflik,” sê Frederick.

Vir Katinka is hierdie die maklikste ete vir ’n spul mense: goeie vleis, oornag gaargemaak, met heel stukke knoffel en kruie, sodat dit murgsag bak en ’n mens dit met ’n vurk uitmekaar kan trek. Sy bedien dit met ryspasta en geroosterde rosa-tamaties en parmesaankaas. Die slaai sal sy klaarmaak wanneer al die gaste hier is; dit gee haar die kans om na die kombuis te ontsnap terwyl die ander mense met wynglase soos skilde voor hulle in die huis rondstaan en geselsies maak.

Die interkom lui weer en Frederick staan op om die bedremmelde gaste by die voordeur in te laat. Katinka haal diep asem voordat sy die kombuis verlaat en haarself by almal in die sitkamer voeg.

Die mense is daar, die slaai is klaar, die kos gereed. Katinka begin die langsame proses om almal om die tafel gesete te kry. Sy verpes die getalm van gaste om ’n plek te vind, hul traagheid om eerste te skep, die ordentlikheid waarmee hulle hul messe en vurke opneem, die gerei onseker in die lug laat hang voordat hulle die eerste hap alte versigtig vat – so asof dit ’n belediging is om te wys dat jy eintlik hier is om te eet. Katinka staan soos ’n boetebessie voor die vuur wat ook in die eetkamer brand, en wys plekke aan.

“Frederick, sit jy daar op jou plek by die seevenster,” beveel sy. Hy gaan sit aan die hoof van die tafel. Langs hom sit sy ma, en langs haar Charlotte. Dan Emile, en aan die ander kop, Manon. Aan die ander kant van die tafel sit Dale, Melissa, Fred en sy.

Katinka kyk hoe haar gaste skep. “Dit lyk wonderlik, Ma!” roep Manon en almal beaam dit. Almal behalwe Dale, wat ’n vegetariër blyk te wees. Hy skep vir hom die helfte van die slaai, en stuur dan die bak om die tafel. Katinka merk Fred se irritasie wanneer Melissa die bak liefies vir hom hou en vra dat hy vir haar ekstra aspersies skep.

Messe en vurke kliek, maar verder is dit stil om die tafel, soos altyd wanneer mense Katinka se keurige en smaaklike kos eet. Wanneer almal alles geproe en die ergste honger weggeëet het, begin die gesprekke weer loop.

“Hoe gaan dit by die aftree-oord, Ma?” vra Frederick. Hy help sy moeder om haar kos met die vurk raak te steek.

“Ag goed, dankie, Boetie, dis net daai oom Flippie wat so ’n oorlas van homself maak; elke dag wil hy by my sit as ons eet.” Frederick glimlag, Katinka ook, en hy laai nog ’n skeppie vleis op sy ma se vurk.

Aan die ander kant van die tafel praat Manon en Emile oor ’n toneelstuk waarvoor hy die musiek behartig het. “Gee my veel eerder klassieke werk en ’n orkes,” sê Emile beslis. “Ek háát die dramas en tantrums van toneelspelers.”

Manon lag. “Komaan!” roep sy uit. “Asof musici nie self drama queens is nie!”

Dale sê nie veel nie, bejeën Emile met agterdog en hou besitlik sy hand op Manon se bobeen. Hy kan skaars eet so buig hy om die tafel om sy kleim af te steek. Goeiste! dink Katinka, reken hy werklik Emile is kompetisie?

Dale sit sy laaste slaaiblaar in sy mond en vee met ’n stuk brood die slaaisous in sy bord op. Die bokbaard beweeg soos hy eet en tussen die stoppels op sy ken sit ’n bietjie sous. Die frons tussen sy oë word dieper hoe later dit word; Katinka het gehoop die wyn sal hom laat ontspan.

“Excuse me, please,” sê hy nog voordat hy klaar gekou het. Hy stoot sy stoel hard agteruit. Hy voel-voel in sy sak na sy sigarette en loop uit op die stoep. Ten minste verskoon hy homself, dink Katinka.

Die wyn vloei en die geselskap ook. Sy skuif nog nader aan die vuur. Sy voel die gloed van die vlamme oor haar laerug vryf, sluk aan die rooiwyn in haar glas. Sy hou Melissa dop wat nou koketterig met Fred gesels. Melissa is klaar geëet. Sy staan op en neem Fred se leë bord. “Sal ek vir ons seconds kry?” bied sy aan.

Katinka glimlag. Melissa speel die moeder, dink sy, en sy ken Fred maar swak as sy dink dié taktiek gaan werk. Ook nie eers skaam om dit hier te doen waar die werklike moeder alles sien en hoor nie. Fred praat met Emile oorkant die tafel; wanneer Melissa weer met die vol bord kos langs hom inskuif, kan Katinka aan Fred se stywe skouers sien dat die aandag hom nie welgeval nie. Hy kyk vas in sy bord en sien nie eers die fladdering van Melissa se ooglede en die pruil van haar mond nie. Hy eet darem die kos wat sy vir hom bring, maar ook net so halfpad, toe stoot hy sy mes en vurk te vinnig bymekaar.

“Ek sien jou glas is amper leeg, Ma,” sê hy vir Katinka. “Ek kry gou nog ’n bottel.” Katinka knik en kyk ongemaklik na haar glas wat nog kwartpad vol wyn is. Melissa sien dit ook.

“Hoe gaan dit op Stellenbosch?” vra Katinka maar.

“Goed dankie, tannie,” antwoord Melissa. Sy glimlag styf en haar stem is stram. Sy staan op, sluk haar glas vinnig leeg en neem dit saam na Fred toe waar hy by die drankkabinet met ’n nuwe bottel wyn staan.

Katinka stap na die opskeptafel. Dale is terug. Sy hoor hoe hy toenadering tot haar dogter soek en Manon geïrriteerd vir sy grappie lag. Sy trek haar hand deur haar kort hare en skuif kriewelrig op haar stoel rond. Dan kom haar kat, na sewentien jaar net so deel van hierdie huishouding soos die kinders en hul ouers self, verby die tafel geloop. Manon spring op om die kat nader te trek en op haar skoot tuis te maak. Sy snorbaarde wip soos hy spin; met sy geel skrefiesoë bekyk hy vir Dale.

Waar die kat is, sal die hond wees, en dit is ook nie lank nie of die veel jonger en lewendiger labrador maak stertswaaiend sy verskyning en druk sy groot, slobberige snoet tussen Dale se bene in. Hy stamp die hond weg en vee vererg sy vingers aan die tafeldoek af. Die kat lê soos ’n pelskombersie oor Manon se skoot uitgestrek en lek sy pote.

“Oscar!” roep Katinka die hond, wat die proporsies van ’n beer het, en gaan gooi die boudbeen vir hom in die vierkant buite die kombuis. Vir ’n oomblik staan sy teen die kombuisdeur vir die hond en kyk. Dit het ophou reën en dit is vars en skoon buite; die koue lug is ’n lafenis na die vuur en die lywe en die asems binne die huis. Sy wens sy was die hond, wat pens en pootjies op die bakstene lê, been in die bek en as hy daarin sou belangstel, ’n blik op Tafelberg en die mis wat teen die hange af loop en in die skeure verdwyn.

Katinka trek die kombuisdeur agter haar toe en ignoreer die dier se hartseer bruin oë wat, been ten spyt, nie verstaan hoekom hy nie in die feestelikheid binne die huis mag deel nie. Sy staan op haar tone om die bordjies vir die nagereg bo haar kop by te kom. ’n Langer arm strek bo hare uit en neem die breekgoed van die rak af. Dit is Melissa.

“Kan ek help, tannie?” vra sy soet.

“Dankie, Melissa.” Katinka haal ’n houer room uit die yskas om te klop. Weer neem die gretige hand die klitser by haar. Melissa klits flink. Nuwe modus operandi, dink Katinka – nou wil sy mý beïndruk. Asof sy nie vir Melissa al ken vandat sy ’n dogtertjie in doeke was nie.

Katinka sit die foeliebakkies vol malvapoeding in die oond.

“Het tannie dit self gebak?” Botter kan nie in Melissa se mond smelt nie.

Katinka is lus om terug katterig te wees, maar sy hou haar in. “Nee, Melissa, danksy Woolies hoef ek nie meer nagereg te maak nie,” antwoord sy meer saaklik as wat sy wou.

Dan is Charlotte ook by. Melissa maak haar uit die voete. Wanneer sy veilig buite hoorafstand is, kloek Charlotte: “Jy weet, Katinka, ek probeer dag en nag om die kind van Fred te laat afsien.” Sy skep asem. “Afsien! Wat praat ek! Daarvoor is daar geen kans nie, Melissa is vir soveel jare al verlief op Fred dat sy waarskynlik nooit van hom sal afsien nie.” Charlotte is rooi in die gesig. “Maar ek probeer so hard om net te keer dat sy haarself so voor sy voete gooi! Hoe meer ek daaroor praat, hoe erger raak dit.”

“Ek sê lankal nie meer vir my kinders wat ek dink hulle moet doen nie, Charlotte. Want dan doen hulle presies die teenoorgestelde.” Charlotte hang oor Katinka se skouer waar sy koffiekoppies op ’n skinkbord pak, so naby aan haar dat sy Charlotte se asem warm in haar nek kan voel.

Charlotte ruik na duur parfuum en motgif. Sy voer haar monoloog verder asof sy Katinka glad nie gehoor het nie. “Ag, en ons almal wéét tog daar sal nooit iets van kom nie.”

“Kan ek help, Ma?” vra Fred agter haar. Sy en Charlotte kyk gelyk om na die mooi jong man wat by die deur staan. Charlotte babbel iets oor sy wonderlike maniere en Katinka wil uitroep: Ja, jy kán! Verlos my van hierdie intrige wat joune is, nie myne nie!

“Jy kan koffie maak, asseblief, Fred.”

Charlotte stap terug eetkamer toe. Fred kom staan langs sy ma, leun oor die toonbank en hou sy regtervuis met sy linkerhand vas, soos altyd wanneer hy senuweeagtig is. Van jongs af al.

“Daar is iets waaroor ek met jou wil praat,” sê hy. Die hand druk die vuis stywer vas. Sy vingers knak en hy frons. Hy kyk Katinka reg in haar oë. Sy pa se oë, dink sy.

“Ai, Fred, ek is jammer ek het ingestem dat Melissa vandag kom, ek kan sien dit is vir jou niks lekker nie.” Sy praat sagter en sagter, bang dat iemand die kombuis inkom en hoor wat sy sê.

Hy skud sy kop. “Dis nie dit nie, Ma.” Hy neem haar hand in syne en maak sy mond oop om te praat, maar op daardie oomblik kom Manon die kombuis ingefladder met Dale agterna, en die hond wat uit die vierkant ontsnap het, kort op sy hakke. Manon gee haar en Fred een kyk.

“Jammer, Fred, bad timing,” sê sy en maak haar uit die voete, Dale weer op sleeptou.

Katinka gryp die hond aan sy halsband en boender hom by die agterdeur uit. “Nou bly jy buite!” sis sy deur geknersde tande. Sy draai terug na Fred toe, sug hoorbaar. “Fred, jy wou sê . . .?” begin sy, maar hy ontwyk haar oë.

Hy tel die skinkbord van die tafel af op. “Moenie worry nie, Ma, ons praat later.” Hy dra die koppies eetkamer toe.

Katinka staan nog met ’n oop mond in die middel van ’n sin in die kombuis. Sy haal haar skouers op vir die hond wat met sy swaaistert en uithangtong bedelend voor die buitedeur staan, en haal dan die warm poeding uit die oond. Soos so dikwels gebeur, brand sy die bokant van haar hand teen die oond se element. “Shit,” sê sy. Sy draai om met die stomende bakkies in haar hande. Frederick se ma is skielik voor haar. Die ouer vrou grinnik. Katinka weet nie of Elize vir haar lag omdat sy seergekry het en of dit die vloekwoord is wat sy so snaaks vind nie.

“Ma laat my skrik.” Sy lag maar saam.

“Jy weet, Katinka, ek het nog altyd so lelik gepraat as daar niemand naby was om my te hoor nie.”

Katinka kyk verbaas na haar skoonma, en geamuseerd. Op pad eetkamer toe wonder sy of Alzheimer’s Elize se brein al so aangetas het dat sy nie meer weet wat sy sê nie, en of die verskoning van die siekte haar die vryheid gee om te sê wat sy nog altyd wou.

Katinka sit die nagereg op die tafel neer.

“Melissa, sal jy inskep, asseblief?” Sy sien Charlotte se wenkbroue lig oor die winkelbakkies op die etenstafel, maar dit skeel haar min. Melissa dweep opgewonde oor hoe wonderlik dit is dat ’n mens deesdae gebak by winkels kan koop wat selfs lekkerder is as dié wat jy self maak.

“Jy moes dit net in ander opskepbakke gesit het, Katinka, dan het ons almal gedink jy het dit self gebak!” sê Charlotte.

“Wie sou ek tog flous, Charlotte? Julle almal weet ek bak nie,” antwoord Katinka moeg.

Frederick is besonder stil vandag. Katinka wonder of hy olik voel. Sy sien hom langs Fred sit, in gesprek met Emile; sy wonder waaroor hulle so ernstig praat. Frederick het oud geword. Mooi oud, soos ’n boom, of ’n kosbare stoel. Sy weet dat die stiltes wat deesdae met reëlmaat tussen hulle kom lê meer aan haar te wyte is as aan hom. Dat die leemtes wat gelaat is met die kinders se vertrek uit die huis die gebreke in hul eie verhouding so duidelik uitwys. Gebreke wat nie onherstelbaar is nie, maar wat energie sal verg om reg te maak. Net soos ’n ou huis wat voortdurend onderhoud eis.

Frederick. Haar goeie man.

Hy kyk na haar terwyl hy sy nagereg by Melissa neem. Hy glimlag. “Jy het die room perfek geklop, Katinka.”

Té goed vir my, dink sy.

“Dit was Melissa,” sê sy dan.

Fred bring die koffie en die ete is verby. Dis Katinka se hoogtepunt van die dag: om te sien wie dit is wat eerste genoeg moed bymekaarskraap om hul handsakke op te neem (die vroue) of op te staan en hul rûe te strek (die mans) en aan te kondig dat hulle, ongelukkig, die pad moet vat. Dan kom die komplimente soos waterstrome: die wonderlike kos, watter gesellige huis, onverbeterlike geselskap, goeie wyn, en begin die kommentaar oor die weer van voor af. Katinka is dankbaar vir die reën, sodat sy nie al die pad tot by haar gaste se motors, buite in die straat, hoef saam te stap nie. Sy vind dit nogal komies, die positiewe korrelaat tussen die spoed waarmee mense huis toe wil gaan, en die tyd wat dit hulle neem om dit te doen. Asof die gasheer en -vrou mislei sal wees deur die gedoente wat die vertrek noodwendig dan word.

Sy staan by die voordeur en kyk hoe Frederick saam met Charlotte en Melissa die paadjie na die straat toe gebukkend trotseer. Wanneer hulle vertrek, kom hy glyend terug die huis in, en trek die deur agter hom toe. “Verskriklike weer,” sê hy. “Kom ons stook die vuur.”

Maar die kinders wil ry. Die reën klaar momenteel op; Katinka en Frederick stap saam met hulle straat toe. Elize stap aan Manon se arm. Sy en Dale sal haar op pad huis toe by die versorgingsoord gaan aflaai.

Dale groet skugter en vinnig en verdwyn in die motor. Manon omhels haar ma, haar pa, haar broer en Emile met oorgawe.

“Red my van die monster wat my metgesel is,” fluister sy dramaties en rol haar oë na die hemel.

“Manon,” sê Katinka met haar ma-stem, al is sy bly dis die laaste sien van Dale. Manon klim langs Dale in die motor. Frederick help sy ma; sy sit moeg, verwese en klein tussen die papiere op die agterste sitplek. “Tata, Freddie,” sê sy sag.

Die motor vertrek teen die bult af. “Wat het Manon besiel om ooit in ’n verhouding met dié ou betrokke te raak?” vra Katinka. Sy kyk hulle peinsend agterna, Elize se grys koppie skaars sigbaar in die agterruit.

“Dit was vir ’n rol in ’n fliek,” sê Fred. “Maar toe blyk dit sy’s nie die tragiese heldin nie en nou is hy ook nie meer die held nie. Al is hy nogal tragies.”

“Good riddance,” mompel Emile.

“So moet ek nou nagte lank wakker lê omdat sy nie die rol gekry het nie?” vra Katinka, self teatraal.

“Nee, Ma, sy’t lankal aanbeweeg.” Fred klingel die karsleutels in sy hand. Emile knik en die vier stap ’n entjie verder in die pad af na waar Fred se motor geparkeer staan. Frederick neem Katinka se hand en sy kyk hom gemaak-verbaas skeef aan.

“Baai, Ma.” Fred soen sy ma op haar wange en druk haar sag. Sy pa kry ook ’n druk en Fred self ’n paar kloppe op die skouer.

“Tot siens, Katinka,” sê Emile. “Dankie vir nog ’n heerlike ete.” Die kinders lyk haastig om weg te kom. Emile skud Frederick se hand en sê tot siens.

Die twee jong manne klim in en ry weg. Soos wat die motor kleiner word en haar gesigsveld verlaat, volg Katinka se oë die kontoere van die berg tot bo waar daar vandag geen kabelkarretjie sigbaar is nie. Uit die weste verlig sonstrale ’n paar kolle en die wolke glinster wit, te helder – te skoon – vir hierdie dag. Dit gaan weer reën, die son se dapper poging ten spyt. Die wind ruk hom weer reg vir nog ’n tierende nag.

“Ek het so gewens Fred bring sy nuwe vriendin saam,” sê Katinka, vir die berg en die wind en vir niemand in besonder nie.

“Nuwe vriendin?” vra Frederick waar hy langs haar staan, sy oë ook opgeslaan na die berg, asof hy daaruit krag wil put. Hy los haar hand wat nog koud in syne lê, en sit sy arm om haar skouers. Sy ander hand druk hy in sy sak.

“Ag, ek weet tog nie met Fred nie. Met Manon is alles so voor die hand liggend en dúidelik. Fred is anders. Ek het gedink daar is iemand wat hy aan ons wil voorstel. Hy het so iets genoem oor die telefoon. Maar toe hy laat weet hulle kom eet vandag, was dit (soos gewoonlik!) met Emile aan sy sy.”

Frederick aarsel eers, draai na haar toe en sit sy twee hande op haar skouers. Sy gesig lyk sag, gaaf, maar daar is iets, iets wat haar pla. ’n Skans? ’n Terughouding?

“Tinka, jy weet tog seker,” sê hy. Sy frons, skud haar kop. Hy huiwer weer. “Ek glo nie Fred sal ooit ’n vriendin huis toe bring nie.”

Haar man het haar in jare nie Tinka genoem nie. Hy haal sy hande van haar skouers af en hulle draai gelyk van mekaar af weg, na die hek toe. Hy probeer weer haar hand neem, maar sy skud hom af. Soos ’n vlieg.

Frederick stuur haar by die ysterhek in, teen die trappies af, verby die klimop en die Italiaanse potte vol boompies en welriekende kruie. Vandag ruik ’n mens net reën. Die tuinligte is nie aan nie; skemer vloei onder hulle voete deur en vul die erf soos water. Hulle loop verby die akkerboom se swaar, deurdrenkte takke, en toe hulle by die voordeur kom, klap een van die luike in die wind. Die son teen die berg is weg; Frederick trek die deur toe teen die reën wat begin drup in die poele wat reeds die tuin vol staan.

Katinka vlug na die sitkamer. Frederick volg haar. Sy kyk nie na hom nie, maar in die spieël bo die kaggel sien sy sy figuur onseker in die ingang staan. In die herd smeul die laaste van die kole; die vuur is dood. Die huis is koud, soos altyd, en sy slaan haar arms om haar lyf.

“Katinka, ons het nog nooit hieroor gepraat nie.” Hy kom uit die spieël na haar toe aan. Sy kyk nie na hom nie, net na sy weerkaatsing in die glas. “Maar ek het aanvaar jy vermoed ook, soos ek,” sê hy.

“Hoe . . .? Het hy vir jou . . .?” Sy kom nie verder nie.

“Nee.” Hy neem haar hand in syne; raak haar vingers met sy lippe. “Maar dit is lankal vir my so duidelik soos dat Manon op die verhoog moet wees.” Hy sug, maak sy keel skoon. “Dit is maar net hoe dit is.”

Sy trek die hand vinnig terug en stap op die voorstoep uit. Frederick bly in die spieël agter. Uit die baai vaar ’n skip die dieptes in, oor die water kom die mis en die mishoring blaas ver. Sy ruik die sout van die see, en oor die dakke van die huise en die toppe van die bome hoor sy die geroep van die Moslem-imam – die eensaamste geluid wat sy ken.

Maal

Подняться наверх