Читать книгу Die Portier - Pat Stamatélos - Страница 5
Hoofstuk 2
Оглавление2
Suster Doortjie is vroegoggend weer heen en weer teater toe. Toe sy en Max die eerste pasiënt terugvat saal toe, kom dokter Pottas Piek op hulle afgestorm nog voor hulle die teaterdeure bereik. Hy gryp die lêer op die trolliebed se voetenent, maak oop en begin lees.
“Gee my jou pen, asseblief, suster,” vra hy.
Max bekyk hom onderlangs. Sy blonde hare kruip onder sy teaterkappie uit, sy gesig rooi van inspanning. Dié man is ’n regte Dr Jekyll en Mr Hyde, jy weet nooit watter kant die wind met hom waai nie. Gewoonweg lyk sy yl blonde krulle soos ’n pruik, sy bewegings neuroties, korrek.
Suster Doortjie gee die pen aan.
“My liewe suster, maak tog seker dat sy dié kry,” tik dokter Piek op die lêer. “Sy is geneig tot erge braking ná narkose.” Hy skryf, praat ingedagte met homself: “Een ampulle metoclopramide.”
“Ek maak so, dokter.”
Hy maak nog ’n paar notas, dan sy handtekening.
“O, hallo, Max.”
“Môre, dokter.”
Toe beweeg hulle weer.
Hy loop voor, trek aan die bed en suster Doortjie stoot. Dan staan die bed met die drie mense vir ’n oomblik stil in die breë gang. Hy trek die reuk van narkose ’n laaste maal diep in sy longe in en maak dan die teaterdeure behendig toe.
Hy kyk suster Doortjie vlugtig deur. Haar uniform is netjies, hier en daar ’n mooi plooi ingestryk. Die twee penne wat bo by haar sakkie uitsteek, ewe lank, en die dienende hande wat die traliebed vasklem, goed versorg.
“Hy’t seker vergeet om haar die inspuiting vir naarheid te gee, dié dat hy die ampulle inderhaas kom bylas,” brom sy.
“Jy moenie kla nie, suster, vandag is jy liéwe suster.”
“Ag toe nou, teen vanmiddag is ek weer die vark in Palestina.”
Hy draai sy rug op haar en met sy regterhand trek hy aan die bed. Hulle gaan om die eerste draai. Trek, stoot. Trek en stoot.
“Môre, suster Doortjie, môre, Max.”
“Môre, matrone,” koor hulle twee.
Matrone Te Water se glimlag is opreg, warm, maar die vinnige wegdraai van die bruin oë verklap alles en sy hart krimp. Mara te Water. Die hospitaal se Mama Afrika. Brown and beautiful.
Hy wens hy kan die insident met haar man, dokter Kees te Water met die kokaïen op sy pinkie, wegtower, maar hy kan nie. Hy weet sy weet, en sy weet hy weet. En so loop hulle daagliks verby mekaar asof hulle niks weet nie. Nogtans. Hy weet hulle moet die een of ander tyd daaroor praat. Wanneer sy gereed is om te praat, sal hy gereed wees.
Af met die lang gang.
Mense skuur verby, staan ’n oomblik stil om te vra of dit die regte pad na die patoloë toe is, staar die vrou op die bed onbeskaamd aan. Hospitaalpersoneel kom aangeloop; hulle groet oor en weer, verneem vinnig hoe dit gaan.
Af met die gang terwyl hy die bed kantlangs stuur. Die jong fisioterapeut, Dottie, met haar handdoekie oor haar skouer, loop ook verby. Sy knipoog vir hom, ’n breë glimlag op haar fyn gesiggie. Slierte hare hang lank en deurmekaar oor haar skouers, wip op en af met elke tree, haar lyfie skraal en wulps.
“Ag, los tog,” sê suster Doortjie in die verbygaan. “Tien ander het alreeds vanoggend vir hom ooggeknip.”
Dottie lag uitbundig. Hy draai sy kop vinnig om haar mooi eweredige tande te sien, maar sy het reeds haar rug gedraai en skynbaar van hom vergeet.
Ook maar goed so. Sy is te verslons om hom te interesseer, en haar diploma in sy vergulde raam hang skeef teen haar muur. Hy het dit op ’n keer gesien toe hy ’n pasiënt moes inbring vir fisio. In elk geval het hy gehoor dokter Chetty is een van haar aanhangers.
Rukash Chetty is Strubenshof se enigste spesialis-internis. Volgens die vrouepersoneel is hy pragtig, sy oë smeulend, sy tande skitterend, sy geaardheid vriendelik en opgeruimd, sy bankbalans sewe syfers lank en is hy ’n good catch.
Max kan hom nogal indink dat dokter Chetty in Dottie sal belangstel. Sy is net so ’n opgewekte, gesellige ekstrovert soos hy, en min of meer dieselfde ouderdom. Party skindertonge sê Chetty en Dottie se verhouding is al ver gevorder, ander meen Dottie is net die ryk dokter se tydverdryf.
Wat Max vir seker weet, is dat dokter Rukash Chetty ’n groot aanwins vir die hospitaal is. Die meeste van sy pasiënte lê in ICU, teen R7 000 per dag, medikasie en die dokter se fooie uitgesluit.
Max en suster Doortjie stop voor die sjirurgiese saal.
Hy stoot die dubbeldeure oop en hulle trek die bed tot voor kamer sewe, draai die bed en stoot dit by die kamer in tot op sy plek in die hoek, 7C.
Suster Doortjie hang die drupsakkies aan hulle hake en gooi nog ’n kombers oor die bibberende pasiënt. Hy draai om, terug teater toe. Sy walkie-talkie roep skril na hom.
“Max! Bring gou ’n rolstoel ontvangs toe!”
“Ek kom,” sê hy dadelik en haas hom gangaf.
Daar is al weer nie ’n rolstoel by ontvangs nie en hulle gaan iemand daarvoor blameer. Maar toe hy vanoggend ingekom het werk toe, het hy seker gemaak daar is drie rolstoele.
Hy hardloop omtrent die gang af ongevalle toe, gryp ’n rolstoel en swaai dit om, loop hom amper in ’n verpleegster vas. Die ongevallesuster, Lorna de Leeuw, sien hom. Party dae Pretty Woman, party dae Take No Prisoners.
“Max! Jy moet my rolstoel terugbring, hoor jy!” Haar stemtoon sê Take No Prisoners.
“Ek sal, suster!” roep hy oor sy skouer.
Hy jaag die gang af, ingenome dat hy so vinnig weggekom het, hy weet hoe heilig sy oor haar rolstoele is. Gelukkig word sy net so gou weer goed, die sagtheid in haar oë getuig daarvan.
By ontvangs sien hy ’n man wat oor die toonbank leun, ’n vrou se arm besorg om sy skouers. Aan die man se bewende bene lyk dit of hy enige oomblik kan omval.
Max stoot die rolstoel agter die man se knakkende knieë in, lig sy hand op om aan die man te vat. Versteen ’n oomblik.
Jy moet soveel moontlik met mense omgaan, Max. Moenie bang wees om aan hulle te vat nie. As jy nie probeer nie, sal jy nooit jou vrese oorkom nie. Otto Sas se vermaning.
Dis maklik vir sy sielkundige om te praat. Otto het net te doen met mense wat ’n kopsiekte het, maar in ’n hospitaal is dit anders. Hier het mense etterende swere, braaksel wat oor alles spuit, stinkende liggame, urinesakkies wat ou ooms soos trofeë ronddra, kinders se snotneuse, hoesklonte wat oor jou spat.
Jy moet probéér, Max. Otto wat alewig aanmoedig.
Hy sluk hard, steek sy hand uit na die man. Vat hom saggies aan die arm en help hom om agtertoe te sit, buk af om sy voete op te lig. Sy blik vang die vuilheid aan die ou pantoffels, die gaatjie waardeur die groottoon se geel nael boor. Hy kyk vinnig weg.
Die man sug diep, skynbaar verlig.
“Meneer het nierstene, Max, jy kan sien hy is in baie pyn. Vat hom vinnig maar versigtig na die mediese saal, kamer vyf,” sê Martha Mofuloane.
Besorg soos gewoonlik, haar voorkop op ’n plooi getrek. Ontvangs se Black Beauty.
Hy glimlag mooi en vriendelik, want dis wat hy veronderstel is om te doen. Vriendelik en behulpsaam, simpatiek en ’n goeie luisteraar vir pasiënte se klagtes en vrese – dis hoe ’n hospitaalportier moet optree.
“Mevrou, gee vir my u mediesefondskaartjie en meneer se ID-boekie, asseblief. U kan saamgaan en sodra hy rustig is, kan u terugkom om die toelatingsvorm in te vul en te bel vir ’n magtigingsnommer.”
Martha sing dié rympie honderd maal per dag. Hy ken, sy ken, almal by ontvangs ken.
Mevrou belowe, krap naarstig in haar handsak op soek na die kaartjie en ID. Max wag geduldig, hy ken dié roetine ook: krap en soek.
Sonder die gesogte kaartjie en boekie gaan die pasiënt nêrens heen nie. Dit is ’n privaat hospitaal dié – geen staatsubsidies, geen beloftes van geld. Dis jou mediesefondskaart of jou harde kontant. Of ’n trippie na die naaste staatshospitaal. Die keuse is joune.
Martha maak eers weer simpatieke geluidjies in die pasiënt se rigting, maak dan haastig fotostate van alles.
“Die dokter het gesê hulle reël alles. Het hulle nie vir julle die magtigingsnommer gegee nie?” protesteer Mevrou effe.
Nóg ’n ou storie, sug hy in sy binneste. Mense wil nie hul mediese fonds bel vir magtiging nie, netnou word hulle iets gevra wat hulle nie weet nie. Asof daar nie ontvangsdames is om hulle te help nie.
Die mans is die ergste. Hulle wil nie eens die vorm invul nie, dis altyd: My vrou kom nou, dan sal sy . . . Martha knip hulle kort: Ja-ja, begin solank, meneer. Jy ken mos jou naam en adres?
Mevrou belowe om dadelik terug te kom, sy gaan net gou saam saal toe. Nou kan die pasiënt ingestoot word.
“Sterkte, meneer. Siestog, ek hoop jy voel gou beter.” Martha buk af, haal iets onder die toonbank uit. “Hier is ’n geskenkie vir meneer.” Sy sit ’n pakkie in sy vrou se hand.
Dankie tog, sy het nie die waslappie vergeet nie, dink Max, anders is die susters weer op haar case. Asof Martha sy gedagtes kan lees, knik sy haar kop in sy rigting.
Sonya, die ander ontvangsdame, staan vinnig op om die hospitaal se tydskrif in die pasiënt se hande te druk. Weer die knikkie in Max se rigting.
Die man is groot en swaar; Max moet vasskop en uithaal om hom saal toe te stoot. Mevrou volg op sy hakke.
’n Ou sweetwalm hang om die pasiënt en Max voel hoe sy maag draai. Hy kyk af na die man se yl hare, vuil en onversorg, sy klere gekreukel. Boem-boemelaar. Die man begin bulk van die pyn en hy stoot die rolstoel al vinniger, terwyl Mevrou langs hom trippel-trippel om by te hou.
Die walkie-talkie roep: “Max! Gaan gou ongevalle toe!”
Boem-boemelaar word in sy kamer afgelaai en hy is weer op pad. Hy moet net eers sy hande gaan was.
Hy steek vas toe iets buite sy oog vang. Hy loop stadiger, nog stadiger, gaan staan en kyk deur die gang se een venster.
Beulah Gelderblom staan in die parkeerarea langs haar kar. Sommer Blommie-Bek agter haar rug, omdat sy altyd iets te sê het oor almal – en gewoonlik niks goeds nie.
Die gesette vrou tel haar handsak van die agtersitplek op, maak die kardeur met ’n windmakerige swaai van haar arm toe. Sy kan nie op ’n kantoorstoel inpas nie en maintenance moes ’n groter een loop soek, die armleunings afhaal, en steeds hang die vet alkante toe. Pakke slaptjips en blokke sjokolade, maar Blommie is altyd op soek na die régte dieet.
Sy staan langs meneer Siegfried, die hospitaalbestuurder. Hulle bekyk die nuwe kar wat sy so liefies streel. Haar lag is spontaan, kop agteroorgegooi, dubbele kenne soos golfies wat ingerol kom, hare wat woes skud en goue armbande wat blink in die son. Haar heldergeel-en-groen kaftan hang wyd oor die graansilolyf tot op haar tone, die oorbelle raak aan haar skouers.
Oorgewig maar altyd netjies, dink Max.
Vir ’n oomblik staan hy die twee en bekyk: die bestuurder en sy witbroodjie. Sy boekhouer wat ’n gordyn pleks van ’n rok dra. Die een wat sorg dat hulle boeke klop, rekeninge betyds betaal word, kontrakte nagesien word, bestellings gedoen en dagloners betaal word. Inderdaad ’n groot verantwoordelikheid vir enige mens, en sy is nog nie eens veertig nie.
Daar word ’n bietjie teen ’n band geskop, op die bakwerk geklop en oor die logo gevryf. Laas maand was dit ’n elektriese kitaar vir haar seun, die maand tevore ’n uitstappie Kaapstad toe vir haar dogter, en dié maand is dit die nuwe BMW. Dit alles op die salaris van ’n boekhouer by ’n klein privaat hospitaal, en Beulah getroud met ’n treindrywer.
Max kyk ’n oomblik af na sy hande. Hy móét gaan hande was.
Was dit vier, vyf weke gelede? Die aand toe dokter Jordan tot laat geopereer het en almal al huis toe was. Dit was goed donker toe hy parkeerarea toe stap, sommer agterom, sodat hy nie deur die hospitaal hoef te stap en die gevaar loop om weer geroep te word nie.
Beulah Gelderblom het gebukkend by haar kar se kattebak gestaan, agterstewe in die lug, asof sy iets binne regskuif. Toe het sy met ’n gesteun afgebuk grond toe, iets opgetel en dit met ’n groot gekreun ingelaai.
Hy was verbaas om haar te sien. Nie omdat sy laat gewerk het nie, maar die agterkant van die hospitaal is donker. Dis gevaarliker daar as voor by die spreiligte.
Hy het vinnig nader geloop om haar te help. Nog nooit het hy iemand so groot sien skrik nie, of ’n mens so aan die bewe sien gaan nie.
“Max! Jy het my omtrént laat skrik! Ek is juis so bang vir die donker. Wat maak jy hier?” het sy senuagtig gevra, haar asem gejaag.
Hy het verskoning gemaak dat hy haar so laat skrik het, dit was nie sy bedoeling nie.
Sy is besig om haar rekenaar in te laai, het sy haastig verduidelik, iemand by die hospitaal het herstelwerk daaraan gedoen. Toe slaan sy die kattebak hard toe, sluit en groet.
’n Week later was almal op soek na ’n gesteelde rekenaar, splinternuut, veronderstel om nog in die boks te wees. Beulah het moord gesweer as sy die een kry wat dit vasgelê het. Almal het gesoek, almal is ondervra, en die boekhouer was die kwaadste van almal, want die rekenaar was bedoel vir haar afdeling.
Twee weke later het sy Max gevra om ’n klomp ou state, printouts, fakse en oortollige papierwerk te shred. Terwyl die masjien kreun en snippertjies papier uitspoeg, het hy afgetrokke na die state in sy hand gekyk wat hy moes deurvoer, dit toe van nader bestudeer. Iets klop nie, maar hy het nie tyd gehad om verder daaroor te dink nie, het net ’n paar state in sy binnesak gestop.
Sy walkie-talkie roep weer.
Beulah en meneer Siegfried gaan by ’n sydeur in; Max loop reguit ongevalle toe. Sy gemoed is soos lood. Wie sal hom glo?
Suster Ericka beduie na die rolstoel se wiel. ’n Speek is gebreek en die raam het ’n duik in.
“Max, jy moet dit maar na Danny by maintenance vat. Kyk of hy iets aan die gebuigde ding kan doen. Ons kan nie sonder die rolstoel klaarkom nie.”
Danny is oor die vyftig, behulpsaam en ’n staatmaker in tye van nood, sy naam op almal se lippe: Danny, die krag is af, die boiler werk nie, die stoel het ’n skroef nodig, die kassie ’n slot. Hy is nie verniet maintenance manager nie, hy ken van breek en bou, opslaan en afhaal. ’n Stompie soos Pikkie, maar twee keer die kop.
“Hallo? Max? Hoor jy my?” vra suster Ericka.
“Ja . . . Wat het gebeur?” Ericka, ses letters. Gelyke getal.
“Dokter Van Zoor het gebeur. Ek hoop net sy million dollar-kar het ’n krapmerk as bewys. Ek gaan nou slaap, gisternag was dol en ek is doodmoeg.”
“Ek het hom nou die aand op die parkeerterrein raakgeloop. Die dokter kon weer eens nie my naam onthou nie, nog minder watter dag van die week dit is.”
“Hoe bedoel jy?” vra Ericka-gelyk-aan-ses.
“Hy weet goed Dinsdae werk die spesialiste tot laat, en die portiers ook, ons het mekaar al ’n paar maal op ’n Dinsdagaand raakgeloop. Maar laas Dinsdag wou hy weet wat maak ek so laat by die hospitaal, en my gevra wat my naam is.”
“Daar is ander dinge wat hy blykbaar ook nie kan onthou nie.” Sy raap haar mandjie en trui op.
Suster Ericka met die donker hare, die blos op die wange, die wip in haar stap. En ’n sagte, koel hand vir als wat asemhaal. Maar nou lyk haar gemoedelike gesig afgerem en moeg. Hy is opnuut dankbaar hy hoef nie nagskof te werk nie.
Suster Lorna kom aangeloop, arms vol lêers, plak hulle hard in die rolstoel neer. “Max, hier is die files vir die apteek.”
Sy kyk Ericka met deernis aan. “Suster, gaan nou huis toe, jy lyk asof jy gaan omval. Ek sal gisteraand se insident aan matrone rapporteer en jou ná drie skakel. Lekker slaap.”
“Dankie, suster, julle moet lekker werk. Jy ook, Max. Kom, ek loop nou!” roep Ericka oor haar skouer na suster Makwanazi, wat met ’n spoed aangehardloop kom. Met ’n “Bye, bye, bye!” is sy ook by die deur uit.
Max maak ’n draai by die toilet om ’n paar stukkies papierhanddoek af te skeur. Hy maak dit nat met ’n bietjie ontsmettingsmiddel en begin vryf die rolstoel se handvatsels. Om en om gaan die bondel papier.
Suster Lorna hou hom deur die glasafskorting van haar kantoor dop, skud haar kop. “Hmm, hy’s al vroeg op sy stukke,” hoor Max hoe sy laggend vir die verpleegster langs haar sê.
“Ons moet ’n tenk Dettol op sy rug vasmaak en ’n rol papier om sy nek hang, dan sal hy gelukkiger wees,” sê die verpleegster.
“Oppas, as julle sagter praat, gaan ek julle nie hoor nie,” sê Max hard sonder om op te kyk. Die deur staan oop en hy kan hulle gefluister hoor, dan die gedempte lag.
Jennifer, wat ’n vinnige koppie koffie in ongevalle kom drink het, loer ook deur die eenrigtingglas.
“Leave him alone, he’s gorgeous just the way he is. If more people were like him, we’ll have a cleaner and healthier society,” sê sy hard genoeg vir hom om te hoor. Sy kap teen die glas om sy aandag te kry, waai vir hom.
“Maybe we should clone him,” sê dokter Bull Sizane. Hy bars uit van die lag toe die clone terug teen die glas tik-tik.
“The world is not big enough for two of us!” Max swaai die rolstoel om en loop by casualty uit.
Eers laai hy die lêers by die apteek af. Mirrie Maerbeentjies, die hoofapteker, skerts met hom. Haar regte van het lank gelede al weggeraak, en dis reeds vergete wie haar die bynaam Maerbeentjies gegee het. Maar die naam is gepas.
“Almal is al platgetrek met maaggriep, Max. Hoe voel jý?” vra die sakkie bene terwyl sy vir hom oor haar oumabrilletjie loer.
“Ek is gesond, want ek was my hande,” sê hy effens kortaf, maar nie onvriendelik nie.
Hy moet hulle aanvaar soos hulle is, het Otto gesê: vuil hande, gekreukelde klere, deurmekaar hare, hoes, proes en nies. Hy wens hulle wil hom uitlos, maar hy neem nie aanstoot nie. ’n Bietjie geterg hou die skale van selfbeheersing en woede in balans.
Vinnig verby ontvangs, maar net toe hy by die voordeur wil uit op pad maintenance toe, roep Ana Williams hom terug.
Hy kyk om. Sy maak haar wysvinger vir hom krom en roep hom nader. Ana is op die skakelbord en hy weet: As jy met haar wil praat, moet jy vinnig praat, voor die volgende oproep.
Hy draai die rolstoel om. Hy weet ook Ana roep altyd na hom met goeie rede, sy praat nie small talk nie. Dié mooi, fyn meisie dra elke siek ou mens, elke mishandelde kind op die hart.
Ana se slaapplek is miskien Ralerata, deur baie gereken as die agterkant van die dorp, maar daar is niks agterkants aan haar nie, al is haar tongval soms ’n bietjie vreemd. En jy kan haar altyd deur ’n ring trek, dink hy tevrede.
Dis net haar hare.
Lank, pragtig en blink, maar ’n vangnet vir stof en kieme. Hy wonder of mense met lang hare die moeite doen om dit elke dag te was. Om van die hare wat in jou kos hang nie eens te praat nie.
Hy weet Pikkie het haar ook al goed deurgekyk; hy het al gesien hoe dié by haar vlerksleep. Hulle is mekaar se portuur, en het dieselfde velkleur, dieselfde kultuur, dieselfde woonplek. Hy het al gewonder oor hulle twee.
Toe Pikkie by die hospitaal begin werk het, het matrone Te Water hom na haar kantoor geroep.
“Max, jy weet môre begin hier ’n nuwe portier. Sy naam is Pikkie Peetman en alhoewel hy,” sy het ’n oomblik gehuiwer, “skraal in die skrif is, het hy ’n breë rug en sterk arms. En ’n gewilligheid om hard te werk.”
Dis Pikkie in ’n neutedop: dik, dom en sterk. ’n Kort mannetjie met ’n borselkop, ’n swart snorretjie, oë wat effens uitpeul en eendepote.
“Max, môre,” groet Ana. “Is jy op pad om iemand te gaan haal?”
“Môre, Ana. Nee, ek vat die rolstoel na Danny-hulle toe. Miskien kan sy maintenance-ouens iets aan die wiel doen.”
Sy loer oor die toonbank en hy kry die lieflike soet geur van katjiepiering, die boom wat sy ma destyds so vertroetel het.
“Wat is verkeerd met die ding?” wil sy weet.
“Nie veel nie, hy’s net ’n bietjie wankelrig. Dokter Van Zoor het hom ’n hou met sy Merc gegee.”
Hulle lag albei. Geen verduideliking is nodig nie.
“Is hy goed genoeg om ’n pasiënt op te laai? Dokter Chetty wil ’n man ICU toe stuur.”
“Hy’s nog goed genoeg, as die man nie te swaar is nie.”
“Thanks, man. Ek het die ou oom gesien, hy’s ’n lightweight, bene van plêstiek. Weet jy, die arme man kners vreeslik op sy valsies. Hy lyk vir my nie meer by die kop nie. Sy naam is Johannes de Beer. Ek bel gou die dokter om te sê . . .” Toe lui haar skakelbord.
“Strubenshof Privaat Hospitaal, goeiemôre!”
Hy stap aan, hy weet sy’s klaar gepraat.
Dokter Attie Cloete, die ortopediese sjirurg, se kamers is aan sy regterkant, en met die verbyloop loer hy in. Stefna, die ontvangsdame, waai vir hom. Hy waai terug, dink vir die soveelste keer hoe pragtig sy is. Stefna. Ses letters.
Sy is een van die mense wat nie vinnig loop van punt A na punt B nie, maar stadig hardloop. Heen en weer, sale toe en terug, ontvangs toe en terug. Haar koffiebruin oë lag altyd, sonder uitsondering. Haar teenwoordigheid genoeg om enige swaar gemoed op te kikker.
Sy het hom eenkeer vertel sy is ’n ywerige leser van biografieë en reisboeke. Sy het die land al ’n paar maal deurkruis, woon op haar eie. Op dertig is sy vier jaar ouer as hy, maar sy lyk vier jaar jonger.
Sy knoop altyd so in die verbygaan ’n kort geselsie met hom aan. Hy weet sy is met almal ewe vriendelik, maar nogtans, as sy net eendag lank genoeg sal stilstaan, sal hy haar graag beter wil leer ken. In dokter Attie se kamers is sy eenvoudig te besig om alleen mee te gesels.
Volgende keer as sy deurgestorm kom, sal hy sommer saamloop, besluit hy, haar ’n bietjie uitvra oor die boeke wat sy lees. Hy wonder of sy ’n musiekinstrument kan speel, miskien die klavier, en van watter soort musiek sy hou.
Voor hy nog sy waaiende hand vir haar laat sak het, het sy reeds weggekyk. Haar donker kop is afgebuig terwyl sy die telefoon antwoord.
Hy draai in by dokter Chetty se kamers.
Die ou oom is inderdaad so lig soos ’n plastiekemmer. En hy lyk nogal onkapabel, maar darem silwerskoon. Langs hom staan ’n ou tante, rond soos ’n vaatjie, gesweet soos ’n perd, al hygend.
“Jy moet tog versigtig wees, ou seun,” vermaan die tante. “Die oom is al amper negentig.”
Hy tel oom De Beer soos ’n baba van die stoel af op, maak hom gemaklik in die rolstoel. Eers met die voete se neersit op die pedale besef hy dat hy alles uitgevoer het sonder om te huiwer. Is hy tog stadigaan besig om daaraan gewoond te raak? Miskien was dit die oom se onmiskenbaar nuwe sokkies en pantoffels, inderhaas gekoop vir hospitaal toe kom.
Hy kyk op, vas in twee dowwe oë wat vra om verlos te word. Die flou glimlag, knersende tande en houding van iemand op ’n ander planeet.
Onwillekeurig dink hy aan ’n fliek wat hy jare tevore gesien het. Die wêreld was oorbevolk met biljoene, sodat mooi landskappe en diere lank nie meer bestaan het nie. Mense het gelewe van die Staat se groen beskuitjies en gebly in gate, hole en holtes.
Hulle kon kies om te sterf, en hoe gouer, hoe beter, want die toestand op aarde was haglik. Maar voor jy die laaste asem uitblaas, kon jy by ’n teater inloop om te sien hoe die wêreld ’n honderd jaar gelede gelyk het.
Uitgevat in jou vrees en verwagtinge, loop jy in by die fliek, betaal jou koebaaikaartjie en gaan sit. Verkyk jou aan bome wat swaai in die wind, blomme, waterstrome, diere, vlaktes van gras, voëls met reënboogkleure, winkende graanlande, ongelooflike ruimtes en tafels gelaai met vet spyse.
Dan, terwyl die trane oor jou wange loop en jou hart in jou borskas ruk, druk iemand die knoppie. Jy sterf net daar en jou liggaam gaan op die vervoerband na die fabriek. Kom anderkant uit in die vorm van ’n groen beskuitjie. Voedsel vir die massas.
Moes hierdie ou oom nie al lankal die knoppie gedruk het nie? wonder hy. Sy vrou kon haar groen beskuitjie op die sideboard of in haar showcase gesit het en elke dag aan hom gedink het.
Hy sug saggies. Wat is die punt van jou jonkheid en krag as die lewe gedurig die wortel van krankheid en dood voor jou neus swaai?
In die paar minute tot sy beskikking kyk hy die oom goed deur. Die ou man se gelaat het dieselfde vaal kleur as sy hemp wat aan sy geraamtemaer skouers hang. Sy dik bos grys hare staan woes, val alkante toe, sy mond en kennetjie versteek agter ’n snor amper so groot soos sy gesig.
Welkom, Albert Einstein.
Plooivelle is gedrapeer om ’n hoendernekkie. Die reuk van seep en ’n sweempie naskeerroom hang in die lug. Of is dit handeroom? Miskien die tante s’n.
Hy draai die rolstoel om en begin stoot, kyk af op die oom se kraag, sy dun nekkie al dobberend op die twee maer skouerknoppe. Die wêreld van die kranke is sonder vreugde, maar vreemd genoeg ook sonder verskrikking, die aanvaarding daarvan ’n soort troos.
Die vaatjie loop langs die rolstoel, een hand op die oom se skouer, want hy neuk al vorentoe. Sy druk hom behendig terug met ’n “Toe nou, Beertjie, sit stil, jy gaan afval.” Sy klink soos ’n blaasbalk wat probeer om vuur van vonke te maak.
Max druk die oom se leertassie stywer tussen arm en lyf vas en verslap sy pas. Hy besef hy moet stadiger loop. Die tante kan nie byhou nie en oupa De Beer wil nie agtertoe nie.
“Ek kyk al . . . so lank na die oom . . .” hyg die tante langs hom. Sy sluk ’n bietjie lug, kom dan weer op dreef: “Maar ek is al amper sewentig . . . ook nie meer vandag se kind nie . . . ek kan nie meer alles bybring nie.”
Hy loer na haar kant toe. Met die netjiese blonde kapsel, goue oorbelle en ingekleurde lippe het hy haar ’n bietjie jonger geskat. Nou ja, dit kom van ’n ou man vat, nou sit sy met die gemors.
Voor ICU se deure gaan staan hy stil. Hy wys na die bottel Dismed wat teen die muur gemonteer is.
“Hou mevrou se hande, dan spuit ek ’n bietjie ontsmetmiddel op hulle.”
Sy hou en hy spuit, ook op sy eie hande. Sy kyk ’n oomblik benoud na haar goue ringe asof die vloeistof hulle sal laat smelt, dan volg sy sy voorbeeld en vryf die ontsmetmiddel goed in.
“Mevrou, die eenheidsbestuurder van ICU is suster Sam.”
Sy kyk hom grootoog aan.
Hy probeer weer: “Mevrou, die suster in bevél van ICU is suster Sam. Eintlik Samantha, maar almal noem haar suster Sam. Deesdae praat ons van eenheidsbestuurders.”
“Ooo . . .” Sy knik soos een wat begryp sonder dat sy weet wat sy begryp.
Max ruik aan sy hande, snuif die kliniese geur behaaglik in. Hy maak die ICU-deure oop en stoot die oom stadig binne.
Nou is die tante aan die voorpunt van die trek. Sy is nie in staat om haar eie liggaam se vervalle toestand te keer of te beheer nie, maar hiér wil sy skielik in beheer wees. Wat is die mens tog? wonder hy en laat haar begaan.
“Goeiemôre, suster. Dis my man, Johannes de Beer,” begin sy dadelik.
Suster Sam, five foot two in her pantihose and a force to be reckoned with, is dadelik by. Sy vryf oor Johannes de Beer se plastiekarm, verseker sy vrou hulle weet van hom. Sy bed is gereed.
Die tante kyk effens verward na Max se kant toe, asof sy wil vra: Wat nou? Die leisels is as ’t ware uit haar hande geneem en nou weet sy nie verder nie, besef hy geamuseer.
Suster Sam beduie waar die oom gaan lê. Die ligte bokant die bed word aangeskakel, net ingeval die ruiter op die vaal perd verbygegalop kom. Max sit die oom se tassie op die stoel langs die bed neer.
Die reuk van Oralox hang in die lug. Dis nie ongewoon om te sien hoe ’n sterwende se mond met dié antibakteriële spoelmiddel gespuit word terwyl die pasiënt van geen sout of water weet nie.
In ICU is geen piepielakens te ruik nie, geen gekla of gespartel nie. Net aanvaarding, met mense wat fluister en masjiene wat biep-biep maak, en alles silwerskoon. Hierdie is die plek waar die dood leef, en net per toeval afwesig is.
Hier lê die Mammon-aanbidders en die houthakkers en waterdraers langs mekaar. Die eerste het omgeval van ’n hartaanval, netjies geklee in ’n syhemp en snyerspak, Italiaanse skoene, goue horlosie en goue ringe. Sy koste gedek deur sy mediese fonds of die handtekening op ’n tjekkie.
Die tweede het afgeval van ’n lorrie, op pad om ’n gat te gaan grawe. Happyboy Langa word ingedra met overalls aan en stukkende tekkies sonder sokkies. Sy eis gaan na die Workmen’s Compensation toe.
In hierdie saal word hulle saamgesnoer deur dieselfde engelehande wat kateters skoonmaak, suurstofmaskers verstel, skaamtes skoonwas met ’n seeplappie en medikasie en empatie uitdeel. Hier is die polariteite reg teenoor mekaar, soos dit hoort. Reg of verkeerd, skoon of besmet, geen grys areas nie. Dis hoekom Max van ICU hou.
Suster Sam regeer haar saal en personeel met ’n ysterhand, haar pasiënte met deernis. Hier is niks se gepoer-poer nie. Suster Sam is ’n ICU-suster in hart en niere.
Sy help Max om oupa De Beer uit die rolstoel te lig, maak hom sit op die bed. Nog ’n suster is dadelik by om sy pantoffels uit te trek. Die gordyn om die oom se bed word toegetrek.
Vir party is ICU hulle tweede kans in die lewe, vir ander was dit hul laaste kans. Max het al gesien hoe word hulle, voete eerste, hier uitgestoot, die swart kar binne. Nog een onvolmaakte minder, die druk van die knoppie ’n onwillekeurige keuse. Nog ’n groen beskuitjie vir die mantelpiece.
Suster Sam bedank hom, wys hom die totsiensvinger, en hy is haastig uit. Nou moet hy hierdie rolstoel by maintenance kry.