Читать книгу Die Portier - Pat Stamatélos - Страница 6

Hoofstuk 3

Оглавление

3

Die eerste sonstrale van die Septembermôre weerkaats donkergoud teen die hoë panele van glas en beton, totdat die hele struktuur, pilare en al, uit die laaste bietjie skemer verrys.

“Môre, matrone,” groet ’n stem toe Mara te Water uit haar motor klim. Een van die personeel op pad huis toe ná ’n lang nag van waak en versorging.

“Goeiemôre, suster,” groet sy terug, “en lekker slaap.”

Mara glimlag vlugtig. Matrone en suster. In dié klein, moderne hospitaal met sy honderd beddens en vyf sale, een ICU, drie teaters en ’n ongevalle-afdeling, word benamings soos “matrone” en “suster” nie altyd gebruik nie. Selfs die titel “dokter” bly soms agterweë in ’n werksgesprek.

Party sal sê dis onprofessioneel, en tog spreek dit van hegte bande, wedersydse vriendskappe en liefde. So ’n samehorigheid het sy nog in geen ander hospitaal beleef nie. Selfs pasiënte wat gereeld inkom, word soos familie behandel.

Sy kyk die suster se verdwynende rug agterna. Dis nog net Woensdag, dink sy. Daardie suster het nog vyf nagte oor voordat sy die tuig vir sewe dae kan neerlê, om dit weer op te tel vir die volgende sewe nagte.

Syself het ook haar beurt gehad om nagdiens te doen, lank gelede. Op laerskool al het sy gesê sy wil eendag gaan verpleeg.

Haar ma het haar arm om haar skouers gesit. “Onthou, Lerato, jy gaan nie om ’n verpleegster te word nie, jy gaan om ’n matróne te word. Matrone Lerato Mara Sefodi,” het sy stralend gesê.

Dit was oor die veertig jaar gelede. En voor Kees te Water in die prentjie gekom het, én twee lieflike seuns, die een drie en twintig en die ander een en twintig, albei studente aan oorsese universiteite.

Sy sug innerlik en kyk op na die gebou voor haar. Strubenshof Privaat, ’n monument van deernis, genesing en toevlug. Vir die gepynigde en die vernielde.

Soveel jare, soveel mense, soveel veranderings. Van ’n klein mynhospitaal wat slegs die plaaslike gemeenskap gedien het tot hierdie ultramoderne pragstuk onder die beheer van direkteure, dokters en mediese fondse.

Sy het lankal agtergekom dat verandering en modernisering nie noodwendig ’n euwel is nie. Die dokters se skalpelvermoëns is verfyn, lewensreddende toerusting is opgegradeer en ou, vooropgestelde idees is ter ruste gelê. Alles vir die pasiënte se onthalwe en alles ten goede.

Sy stryk oor haar uniform, kyk vlugtig na haar weerkaatsing in die motorruit. Haar grimering en klein oorkrabbertjies spreek van eenvoud, soos sy weet dit ’n matrone betaam, al noem hulle haar Mama Afrika agter haar rug. As sy maar soos Miriam kon sing.

Sy sluit haar kar en begin loop met die lang, bekende paadjie al langs die struike, varings, aronskelke, palmboompies in keramiekpotte en jasmynheinings dragtig met wit bloeisels.

Hier het sy as assistentverpleegster begin werk; dit voel soos honderd jaar gelede. Beddens opgemaak, panne skoongemaak en gereed gestaan vir niks anders nie. In ’n wit hospitaal is verpleging destyds deur wittes gedoen. Dit was voor sy Amerika toe is.

Maar in al die jare wat sy oorsee gewoon het, het sy nooit in so ’n pragtige hospitaal gewerk nie. ’n Glaskasteel in die middel van ’n sprokiestuin. Groen grasperke so ver as wat die oog kan sien, bome by die dosyne, ’n dam, ganse, voëls, kleurvolle struike. Die hele plek lowergroen en ’n lus vir die oog.

Twaalf jaar lank loop sy al dié paadjie as matrone, en twaalf jaar lank word sy bekoor en betower deur die prag van Strubenshof. Maar nou, op nege en vyftig, besef sy dat iemand anders oor ’n paar jaar die leisels by haar sal oorneem, in haar stoel sal sit, bande met haar oudkollegas sal smee.

Haar wenkbroue trek saam in ’n frons, maar sy gee tog ’n tevrede suggie. Tot haar aftrede gaan sy nog elke dag by Strubenshof benut en geniet. Max is vandag eerste op haar agenda.

Sy móét met hom praat. Eintlik moes sy lankal met hom gepraat het. Kees is nie verhewe bo die reëls van die hospitaal nie, nog minder bo die wette van die land. Die feit dat hy haar man, die pa van haar seuns en haar beste vriend van amper ses en twintig jaar is, is geen verskoning nie.

Dit het alles met reg en regverdigheid te doen. Dis wat sy destyds ook vir haar ma gesê het voor sy op die vliegtuig geklim het om haar wit minnaar na Amerika te volg. Hy was skaars vier en twintig, sy ’n gesoute vier en dertig. Kort ná haar aankoms het hulle getrou, en ’n jaar later het Kees te Water ’n stywe lobola in haar ma se bankrekening in Suid-Afrika inbetaal.

Uiteindelik het apartheid verkrummel, hulle het teruggekom en sy het aansoek gedoen vir die pos van matrone by Strubenshof. Hoe helder onthou sy die harde, regop stoel voor die vier ernstige mans – twee dokters, ’n professor en een slegs ’n aandeelhouer – wat haar goed deurkyk.

Eers was dit die onderhoud met die Manager, toe ’n onderhoud met die Regional Manager, later die Nursing Services Specialist van hoofkantoor. En toe, uiteindelik, die Medical Advisory Committee.

Destyds was die sjirurg dokter Bloem nog ’n sterk aandeelhouer. ’n Vriendelike man met hulle eerste ontmoeting. Hy het haar namens almal gegroet, sy houding nou grimmig en sy gesig geslote.

Toe het die vrae begin. Alles in Engels, met ’n sterk Afrikaanse aksent.

Sy het hulle beleef in die rede geval. “Ek is in die Vrystaat gebore en getoë. Sal u omgee as die onderhoud in Afrikaans geskied?”

Jy kon ’n speld hoor val.

“Ons praat tog almal Afrikaans, nie waar nie?” het sy vriendelik gevra.

Die professor het geglimlag, ’n direkteur het sy kop geknik en dokter Bloem het dit bevestig.

’n Week later het sy haar aanstellingsbrief as matrone ontvang. Lerato Mara Sefodi, nou Te Water, die eerste swart matrone by ’n wit hospitaal.

Sy skud haar kop, wonder waar dié herinnering vanoggend vandaan kom. So baie water het sedertdien in die see geloop.

Sy rek haar treë. Behalwe vir Max, moet sy vandag ook iets doen omtrent dokter Van Zoor. Bestuur moet ingelig word oor sy foutiewe voorskrifte. Sy kan haar die opskrifte in die koerante voorstel as ’n pasiënt in haar hospitaal sterf as gevolg van ’n dokter se nalatigheid.

Sy wonder of hy aan uitermatig hoë werkverwante stres ly. Miskien moegheid as gevolg van slaaploosheid? Huislike probleme? Dalk fisieke probleme?

Sy skud haar kop ingedagte. Die lys oorsake vir skielike vergeetagtigheid is eindeloos.

Maar dit staan soos ’n paal bo water dat dit ’n baie sensitiewe saak is wat met die uiterste omsigtigheid gehanteer moet word. Sy móét egter uitvind wat die probleem is. Só kan dit nie aangaan nie.

Sy draf die skuinste op na die voordeur. Die glasdeure gly geluidloos oop en ’n koortjie sing saam: “Môre, matrone!”

Haar dag het begin.

Dis al twee dae sedert hy laas sy e-pos nagegaan het. Hy skuif voor sy rekenaar in, druk die Outlook Express-ikoon, bevestig hy wil aanlyn gaan, tik sy wagwoord in.

Een e-pos is van sy diensverskaffer wat sy maandelikse faktuur vir hom aanstuur. Nog een van sy makelaar om verslag te doen oor sy aandele. ’n Kort e-pos van Fred by die weerkantoor om hom in te lig oor temperature, windtoestande en moontlike reën. En een van sy broer.

Hy lees Ouboet se e-pos twee keer.

My liewe Max

Dis vyfuur in die oggend en lekker stil. Suzie lê en koerant lees, die kinders slaap nog. Ek het ’n vergadering in Johannesburg om nege-uur, nogal in ’n deftige hotellokaal. Hoop die middagete is net so uitspattig soos die omgewing.

Suzie sê jy moet kom kuier, dan celebrate julle die tweede druk van Teddie se Manewales. Volgens julle uitgewer het julle twee vir julle behoorlik ’n nis gekerf by die agtjariges.

Jy moet die illustrasies sien vir die nuwe boek, Suzie het haarself oortref. Sy loer nou oor my skouer en sê sonder jou stories beteken haar tekeninge niks. Nou ja, ek wil dit net vir die rekord stel: ek kan miskien nie skryf of teken nie, maar my kinders GENIET hulle pa se liegstories!

Liefde van ons almal

Ouboet

Hy leun terug in sy stoel. Ouboet se e-pos is soms die hoogtepunt van sy dag; dit gee hom ’n gevoel van tevredenheid en vergenoegdheid met die lewe. Maar vanaand is sy stemming somber, en dit het niks met Ouboet se e-pos te doen nie, maar alles met Kees te Water.

Hy en matrone Te Water het mekaar vanoggend in die gang raakgeloop. Sy het liggies aan sy arm geraak, hom vol in die gesig gekyk en gevra dat hy oor ’n uur na haar kantoor moet kom. As ’n nagedagte het sy bygevoeg: “Dis tyd dat ons ’n sekere insident bespreek.”

Hy het geweet wat voorlê, nie seker hoe hy die aangeleentheid moet hanteer nie. Dokter Te Water het natuurlik vir haar gesê hy is betrap, miskien bang die insident word oorvertel. Wil matrone hê hy moet dit bevestig?

Toe hy soos afgespreek aan haar kantoordeur klop, het suster Makwanazi oopgemaak. Matrone het hom nader gewink. Suster Ericka en suster Lorna het voor die lessenaar gesit, en op die tafel was ’n voorskrif met stukkies Sellotape vasgeplak. Dokter Van Zoor se onmiskenbare handskrif.

“Ek is jammer, Max,” het matrone om verskoning gevra. “Ons is besig met ’n dringende vergadering. Ek sal jou laat weet wanneer jy kan kom.”

Suster Makwanazi het ’n sagte bye-bye-bye gesê, suster Ericka het mooi geglimlag en suster Lorna se uitdrukking het gesê: Take No Prisoners. Hy het die deur vinnig agter hom toegemaak.

Matrone het hom nie weer ingeroep nie, en hy weet nie of hy verlig of teleurgesteld moet voel nie.

Hy het in die loop sy vingers een vir een teen sy been gedruk en getel. Een, twee, drie, vier, vyf, en weer: Een, twee, drie, vier, vyf. En weer. Een, twee, drie, vier, vyf. En weer.

Toe hy homself kon dwing om op te hou tel, het sy brein ruimte gemaak vir ’n donker kas. Hy ken dit uit sy kop uit.

“Quick!” said Peter. “There’s nowhere else,” and flung open the wardrobe. All four of them bundled inside it and sat there, panting, in the dark. Peter held the door closed but did not shut it, for, of course, he remembered, as every sensible person does, that you should never, never shut yourself up in a wardrobe.

Dis pure stres, het hy heeldag vir homself gesê, dis pure stres. Sodra hy die insident met matrone bespreek het, sal hy beter voel. Maar hy weet klaar hy sal vannag sleg slaap.

Die klank van Max se verdwynende voetstappe in die gang word al sagter.

Mara kyk na die vraende gesigte voor haar. “Ekskuus vir die onderbreking. Ek het Max gevra om my te kom sien voordat ek geweet het ons vergadering gaan vervroeg word.”

Sy trek ’n pen en papier nader, begin skryf: Woensdag, 4 September 2008. Teenwoordig: Matrone Te Water, Suster Lorna de Leeuw, Suster Ericka Pieterse, Suster Glory Makwanazi.

Die drie susters voor haar sit in stille afwagting.

“Hierdie is nie ’n verhoor nie, nog minder is dit die plek vir persoonlike opinies. Julle is hier om ’n insident te rapporteer.” Sy wys met haar pen na susters Ericka en Glory.

“Suster Lorna dien as getuie. Afhangende van die ernstigheid van die saak, sal ek en suster Lorna besluit of dit verder gevoer moet word of nie.”

Daar is ’n oomblik se stilte, dan vra sy: “Wie wil begin?”

“Sister Ericka, you were more involved than I was, maybe you would like to tell of the incident?” vra suster Makwanazi.

“Yes, I will start. Gee jy om as ek dit in Afrikaans rapporteer? Jy verstaan mos die taal?”

“Ek verstaan baie goed,” antwoord suster Makwanazi.

Die ander glimlag instemmend.

“Matrone, mevrou Beck het Maandagaand om agtuur in ongevalle aangekom. Sy was vergesel van haar seun, wat ook die kar bestuur het. Sy was hygend en het al die simptome van ’n asma-aanval gehad, wat sy ook bevestig het. Voor sy van die huis af weg is, het sy haar pompie gebruik, maar omdat sy nie dadelik beter gevoel het nie, het sy ’n bietjie paniekerig geword en haar seun gevra om haar ongevalle toe te bring. Haar seun het gevra dat dokter Van Zoor onmiddellik gekontak word, want sy ma wil nie hê ’n ongevalledokter moet haar behandel nie.”

Sy vertel verder hoe hulle mevrou Beck suurstof gegee het, en binne minute was sy rustiger.

“Ek het dokter Van Zoor geskakel en vir hom die pasiënt se observasies gegee. Hy het gesê ons moet aanhou met die suurstof, hy kom dadelik.”

Dit was ’n volle twintig minute voordat die dokter opgedaag het. Teen dié tyd was mevrou Beck heeltemal kalm en sy het gesê sy’t nie meer ’n dokter nodig nie.

“Doctor Van Zoor was upset because he had to come out unnecessarily and he –” begin suster Makwanazi.

Mara val haar vriendelik maar ferm in die rede: “Sister, I just want to know exactly what happened.”

“Mevrou Beck het die dokter om verskoning gevra dat hy onnodig moes uitkom,” hervat suster Ericka. “Toe sy van die bed wou afklim, het sy haar rug vasgehou en gesê sy het rugpyn as gevolg van huis skoonmaak. Dokter Van Zoor het gesê sy moet bly lê sodat hy na haar rug kan kyk. Sy diagnose was spierspasma. Sister Makwanazi, you handed him the file . . .”

“Yes, I did. Doctor Van Zoor wrote his findings and the necessary medication. He said the patient must have the shot immediately and signed the report. He then handed the file back to me.”

“Did he write out a prescription for the patient as well?” vra matrone.

“Yes, matron. He took out his own prescription pad from his bag and prescribed Norflex Co tablets for the lady. He explained that it’s a muscle relaxant. She promised to buy them from her pharmacy the next day. Shortly after that he left.”

Mara hou haar kop geboë, maar haar ore gespits. Haar pen krap aanhoudend en vinnig om alles neer te skryf. Toe sy klaar geskryf het, kyk sy op.

“Wat het dokter Van Zoor in mevrou Beck se lêer geskryf?”

“Hy het geskryf Voltaren 75 milligram stat, en Pethidine 100 milligram stat.” Suster Ericka stoot die aanmekaargeplakte papiertjie nader.

Mara tel dit op om dit goed te bekyk.

“Dis definitief 75 milligram Voltaren,” sê sy saaklik en maak weer ’n aantekening op haar skryfblok.

In haar veertig jaar in verpleging het sy meer as een asmadood aanskou. Die vrou kon gesterf het as gevolg van die verkeerde medikasie, dan was die dokter van die rol geskrap en die hospitaal se goeie naam daarmee heen.

Sy sug innerlik. Noudat hulle nie meer ’n voorkeurhospitaal vir die mediesefondsreus Medisafe is nie, het hulle elke pasiënt nodig wat hulle kan kry. Die laaste ding wat hulle nou nodig het, is negatiewe publisiteit.

Suster Ericka vertel verder hoe sy en suster Makwanazi die MIMS geraadpleeg het. Daar word die waarskuwing swart op wit uitgespel: asmalyers mag nie enige anti-inflammatoriese medikasie gebruik nie, dit kan die sneller wees tot nog ’n asma-aanval.

Suster Ericka het dokter Van Zoor weer gebel. Sy het die Voltaren bevraagteken en gevra of hulle dit met iets anders mag vervang. Hy het haar aangesê om by ongevalle se ingang vir hom te wag, met die voorskrif byderhand.

’n Paar minute later het hy aangejaag gekom, die rolstoel net buite die ingang skrams gevang en langs suster Ericka stilgehou. Vanuit sy kar het hy die voorskrif uit haar hand gegryp, dit gelees, in stukkies geskeur en op die parkeerterrein neergegooi.

Mara knik effens. Twee weke gelede het hy Premarin in plaas van Placix voorgeskryf vir ’n manspasiënt wat ’n hartomleiding gehad het. Mirrie Maerbeentjies wou by die pasiënt weet of dit vir sy vrou is, want dis ’n hormoonvervanger, maar hy het volgehou dis vir hom, vir sy hart. ’n Oproep na dokter Van Zoor het bevestig dit moet inderdaad Placix wees.

Almal het lekker gelag oor die fout – waarvan sy net terloops gehoor het – maar ’n week later het dokter Van Zoor ’n tweede fout begaan, en toe was dit nie meer ’n grap nie. Hy het penisillien vir ’n pasiënt voorgeskryf, wat haar in ICU laat beland het. Volgens die pasiënt het hy geweet sy is allergies vir penisillien.

En nou die anti-inflammatoriese middel vir ’n asmalyer.

Die Portier

Подняться наверх