Читать книгу Die Portier - Pat Stamatélos - Страница 7
Hoofstuk 4
Оглавление4
Max kyk vlugtig na die paar bladsye wat hy die vorige aand geskryf het. Hy wonder of matrone hom vandag gaan inroep.
As hy die storie van Kees te Water móét vertel, moet dit ’n akkurate weergawe wees van wat in die toilet gebeur het. Daarom het hy alles – die datum, tyd, presies wat gesê is – puntsgewys neergeskryf. Hy vou die twee velletjies papier op en druk dit in sy hemp se sak.
Gisteraand het hy probeer om nog ’n kinderstorie saam te flans. In die oggend lyk en klink dinge soms anders, maak woorde en begrippe meer sin. Hy skakel die rekenaar aan, roep die dokument op en lees die storie deur, verander plek-plek ’n woord, sit hier en daar ’n komma in.
Dis ’n storie van ’n seuntjie en sy kapokhaantjie, Adam, en Adam se kapokvroutjie, Eva. In sy gedagtes kan hy al Suzie se tekeninge sien: Adam se vere soos Josef se kleed, Eva met ’n spierwit mantel. Skrop-skrop, terwyl die twee gesels oor hul verdwynende eiers. Dis tyd dat hulle ’n gesin begin, maar al lê Eva elke dag ’n eier, week ná week, is daar elke oggend net een eier in die nes.
Toe skakel hy die rekenaar af.
’n Donderdag in enige hospitaal is altyd besig, en ná werk gaan hy net so besig wees. Hy moet die binnekant van sy kar stofsuig en ontsmet, en dan die geute uitspuit. Tannie Hartjie is oortuig die afvoerpype is verstop.
Toe hy by Strubenshof instap, kyk die jonger ontvangsdame, Sonya – krulle, kuiltjies en oulik – op. “Ons gaan vandag hop,” sê sy en glimlag vir hom.
Die uroloog het ’n ellelange teaterlys, sê sy, en saam kreun hulle by die gedagte daaraan. Ou tannies met afgesakte, lekkende blase, ou ooms met ereksieprobleme, urinesakkies. Langgetroude mans vir vasektomieë en jong seuns om besny te word.
Jy sien hulle in ’n bondeltjie sit, hande slap op die skoot, oorgelaat aan iemand anders se genade, en báng. Vir die optrek, heelmaak, uitsny en afsny. Soos marionette, almal van hulle. Met oë wat behoedsaam vra: Is dit nou mý beurt?
Sonya was reg.
Een dokter ná die ander opereer, een siek mens ná die ander kom binnegeloop.
Vingers afgesny onder ’n slagter se saag, ou mense met hartpyne en kinders met maagpyn stroom deur ongevalle.
Max en Pikkie hardloop met rolstoele, laai pasiënte, stoot trollies en dra tasse. In die kindersaal blaas hy ’n elastiese handskoen op en teken ’n gesiggie met ’n koki daarop vir ’n moeilike kind, gee ’n lappop aan wat oor ’n cot se kant afgeval het, buk af na uitgestrekte armpies. Hy loop stadig met gillende, brakende kinders wat dreig om van die trolliebed af te val op pad terug van die teater na die kindersaal. Ma’s paai en praat mooi, pa’s hou ’n bietjie terug.
Laatmiddag is daar nie meer dagpasiënte nie en die aanloop na die ontvangstoonbank begin afneem. In die hospitaal is dit tyd vir nabetragting, planne maak vir die aand, verslae skryf en vinnig uitglip om ’n dampie te maak. Fisioterapeute en spesialiste se deure maak een na die ander toe, die stywe spiere en geheimsinnige pyne vir eers vergete.
Max het heeldag nooit vir matrone gesien nie. Hy gaan huis toe, stort en eet. Toe ontsmet hy die badkamer, die kombuis en sy kar se handvatsel en stuurwiel.
Tot laataand sit hy deur kinderboeke en blaai, soos altyd op soek na inspirasie vir nóg ’n storie. Hy bekyk ook elke illustrasie met ’n fyn oog.
Adam en Eva Kapok sit nou op hulle stok en slaap, en die oplossing vir die raaisel van die verdwynende eiers moet eers wag. Daar is ’n ander storie wat vertel moet word. Hy skuif voor sy rekenaar in.
Abubam woon in die verre land van vlieënde tapyte en blou muise sonder tande. Daar is geen skool in hierdie verre land nie, want kinders kan van geboorte af lees en skryf. As Abubam en sy maats op hulle tapyte met die mooi fraiings heen en weer oor die stad vlieg, sit hy sy blou muisie met die haasbek in sy broeksak sodat hy nie moet afval nie.
Eendag het Abubam ’n taai lekker in sy broeksak vergeet, en die taaigeit laat sy sak se kante aan mekaar vassit. Die blou muisie kan nie uit nie en Abubam se hand kan nie in nie.
Abubam hoor hoe sy muisie piep-piep van banggeit in sy stikdonker sak, angstig om uit te kom. Die muisie trap met sy pootjies en krap aan die taaigeit, en Abubam kan voel hoe klop die diertjie se hart van pure angs.
Max voel ’n benoudheid op die krop van sy maag saambondel. Hy voel die palpitasies in sy bors, die sweterigheid aan sy lyf. Dis genoeg, besluit hy en sit die rekenaar af.
Hy staan op om hande te gaan was, af met die trap, deur die sitkamer tot in die badkamer. Hy bekyk die keramiekteëls, vat ’n emmer, skropborsel, lap en ontsmettingsmiddel en sak op sy knieë af.
Toe die slaapkamerteëls. Ontsteld besef hy hy kan nie meer onthou hoeveel vloerteëls in die badkamer en kombuis is nie.
Terug kombuis toe. Hy tel sestig. Twee en twintig in die badkamer, dis twee en tagtig altesaam. Agt en twee is tien. ’n Gelyke getal.
Sy skouers hang van moegheid. Daar is nie meer slaaplus in sy lyf nie.
Onder die stortwater vir die derde keer vandag dink hy aan Otto shrink se ontvangsdame, Petra di Bow met tien letters, die blonde stafverpleegster in teater, Veronica Ashe met twaalf letters, dokter Attie Cloete se ontvangsdame, Stefna met ses letters. Almal gelyke getalle.
Toe eers kom hy tot bedaring.
Hy wonder of die mooi Veronica iets van sy krankheid weet. Wie sou haar gesê het? Petra werk vir sy sielkundige, dus móét sy weet.
Stefna weet definitief. Hy het dit teenoor haar erken nadat hy ’n man met ’n etterende been na dokter Attie Cloete se kamers geneem het.
Hy het sy hande oor die toonbank na Stefna uitgehou, vir haar gesê hy móét gaan hande was, waar’s die naaste wasbak? Hy onthou sy asem het gejaag en sweet het op sy lyf uitgeslaan, hy’t gewonder of sy die dringendheid van sy vraag verstaan.
Stefna het verstaan.
Sy het hom net een kyk gegee en hom inderhaas na die badkamer geneem. Hy het sy hande onder die lopende water gehou en sy het seep op sy hande uitgedruk. Op die rakkie bo die wasbak het ’n botteltjie Savlon gestaan wat sy oor sy hande omgekeer het. Sommer net so.
Hy het ingeseep en afgespoel tot vervelens toe, terwyl sy geduldig met ’n skoon handdoekie vir hom gestaan en wag het.
“Daar’s geen haas nie, Max,” het sy sag gesê. “Ek wil jou net nie alleen los nie. Jy lyk nie goed nie.”
Die medelye in haar stem het gegrens aan teerheid. En uiteindelik die vraag, skaars hoorbaar: “Max, het jy OCD? Of is jy net . . .”
“Ek het OCD,” het hy platweg gesê. Dit was kort ná sy tweede beradingsessie met Otto; sy toestand het toe al naam gekry.
“Ek neem aan jy spreek ’n sielkundige?” het sy besorg gesê-vra.
Hy het geknik, want stem het hy nie meer gehad nie.
Sy hét verstaan.
Dis lank ná twaalf toe hy nog steeds wakker lê. Eers het die muisstorie hom opnuut ontstel, toe die gedagte aan Happyboy Langa. Niks meer as ’n pratende kop nie.
In die donkerte van sy kamer sien hy die stil figuur van Happyboy in ICU. Heel waarskynlik verlam. Volgens suster Sam het hy vyf kinders, almal nog op skool. Dis om van te huil.
En daarby nog die muis wat van noutevrees aan’t sterf is. Op die naat van sy rug skryf hy die storie in sy kop klaar.
Abubam laat vat na sy ouma toe, want sy ouma is een van die min mense in die verre land wat ’n skêr besit. Ná vele omswerwinge en verkeerde draaie in ander lande kom hy uiteindelik by sy ouma uit. Sy vat haar skêr, sny Abubam se broeksak oop en bevry die muisie uit die donkerte.
Abubam, ses letters. Hy moet nog ’n naam vir die ouma uitdink. Met ’n tevrede sug raak hy aan die slaap.
Dit kom van ontstellende stories uitdink en teëls tel. Vier ure slaap is te min vir hom, en boonop is dit Vrydag, nog ’n besige dag in die teater met die dokters wat die pasiënte inryg, al is dit net in die oggend.
Hy sit met leep-oë voor die rekenaar, wag vir sy e-pos om oop te maak, kyk vlugtig na die muurhorlosie. Dis ná ses en hy wens hy kan nog ’n uurtjie of wat slaap, maar oor minder as ’n uur moet hy by die werk wees.
Gisteraand net voor die slaap hom oorval het, het hy weer gewens dat sy ma nog lewe. Sy sou sy kinderstories so geniet het.
As kind het hy nie veel boeke gehad nie, maar die paar wat hy wel gehad het, het sy ma ’n honderd maal vir hom gelees. Soos die Cinderella-boekie. Op drie was dit Sindi-lelli. Op ses Cinder-ella. Aan die einde van sy eerste skooljaar het hy die boek gevat om self te lees. Maar daar was nie ’n Cinderella nie.
Hy het die woord uitgespel. As-poes-ter- . . . Dit kan nie wees nie. Hy het die mooi meisie se naam weer gespel: As-poes- . . . Dis ’n fout, het hy besluit, sy ma is reg. Dis Cinder-ella. Daardie aand lees hy die storie vir sy ma, en dis Cinder-ella van voor tot agter.
Sy het sy gesig tussen haar hande gevat, sy wangetjies gedruk dat sy bekkie tuit staan en hom ’n klapsoen gegee.
“Dit was absoluut foutloos!” het sy trots uitgeroep en hy het met sy vingertoppe tussen haar stomp hare rondgekrap terwyl sy hom styf teen haar vasdruk.
Cinder-ella. So mooi soos sy ma.
Sy pa was Jan in die Boontjierank se reus. Groot en kwaai.
Fee-Faai-Fou-Fam
Ek ruik die bloed van ’n Engelsman.
Die een keer toe hy in sy pa se ore geneul het vir ’n nuwe leesboek, het sy pa geïrriteerd gesê hy moet die Bybel lees.
“Dis nie soos ’n regte storieboek nie,” het hy beswaar gemaak.
“Gebruik jou verbeelding,” het sy pa gesê en weer sy neus in die koerant gedruk.
Sy ma het opgestaan, hom aan die hand gevat en hulle is kamer toe. Sy het al die mooi stories in sy Bybel vir hom gemerk met ’n pen, hom aangesê om aan hulle te dink as comic-book heroes en haar die volgende aand ’n storie te vertel.
Hy het sy arms om die ruim lyf in die voorskoot gevou en sy kop op haar breë bors gelê. Met sagte arms het sy hom toegevou en in sy kop het die prentjies van die comic-book heroes begin vorm aanneem.
“Kyk bietjie na jou comics vir idees vir jou storie, maar pas op dat jou pa hulle nie sien nie,” het sy gefluister en hom gesoen. Toe het sy die kombers agter sy rug ingedruk en die kamerdeur agter haar toegetrek.
So het Simson bionic bene en arms gekry waarmee hy die pilare laat tuimel het, want die magic was in sy hare. Onder sy heupkleed was die seintoestel waarmee God boodskappe na sy bionic brein gestuur het. Een piep het beteken loop, twee piepe vat die pilare, en drie het beteken Nou!
Daniël het ’n lang laser met gekleurde liggies in elke hand gehad en dit telkens teen die leeus se neuse gedruk om hulle van hom af weg te hou. Toe het hy vir hulle die storie van Beauty and the Beast vertel, wat hulle aan die slaap gesus het, en toe kon hy ook ’n bietjie slaap. Die volgende môre het die koning hom opgetrek uit die kuil uit, goue kettings om sy nek gehang en vir hom ’n sportskar gegee.
Dawid het vir Goliat in die voet geskiet met ’n pyltjie, en met die afbuk om sy seer voet te vryf, slaan Dawid hom met ’n tienpondhamer. Toe het die manne vir Dawid op hulle skouers gedra, hom koning gemaak en hulle het gebraai en tiekiegedraai.
En so is sy liefde vir die Bybel en stories vertel gebore, tot sy pa se afgryse en ontsteltenis, want hy het geglo sy seun is gedoem omdat hy die Woord so verdraai. Sy ma het nooit iets gesê oor haar aandeel aan die ontstaan van sy comic heroes nie.
Dit was net ná sy ma se dood, agt jaar gelede, toe depressie en waansin vir hom ’n gat wou grawe, dat Suzie hom met haar illustrasies begin betower het. En kort voor die emosionele melaatsheid hom wou opvreet, het sy hom oorreed om stories te begin skryf.
“Hulle lê in jou kop en broei, Max. Sit hulle nou op papier. Ma het haar kar aan jou bemaak, so kry jou ry! Daar is ’n wêreld daar buite! Gaan neem Franse lesse, neem vir jou biblioteekboeke uit, gaan fliek, kry vir jou ’n meisie, kry ’n lewe . . . En kom terug en skryf!” het sy hom telkens aangepor.
In sy kop het die wêreld van stories geen grense of perke nie. Soos seepborrels sweef sy stories, hoog bo die aarde, oor berge, deur oorloë, verby plakkershutte. Die groot oseane word binne sekondes oorgesteek, bome word van bo af bekyk, landskappe deurkruis en spore in stofpaaie agtergelaat om op die volgende reis verder te verken.
Suzie en Ouboet het daardie tyd vir hom ’n rekenaar gekoop, wat sy pa gedreig het om stukkend te slaan. Maar dit was sy reddingsgordel in ’n onstuimige see van wanorde. Die sleutel na die kas se slot, die hand wat die deksel oplig. Hy was – is – oneindig dankbaar daaroor.
Tot hy agtien was, was sy ma sy grootste geselsmaat. Sy enigste ontvlugting was sy klavier- en vioollesse by meneer Le Duc, daardie wonderlike en begaafde ou man wat hom alles van musiek geleer het.
En toe was sy ma nie meer daar nie.
Met sy geërfde kar kon hy Jean le Duc se uitnodigings vir Sondagete begin aanvaar, tot sy pa se groot ergernis.
“Die meeste musiekonderwysers is moffies,” het sy pa ronduit verklaar. “Om een keer per week na hom te gaan vir musieklesse is genoeg, dis nie nodig om nog daar te kuier ook nie! Wat máák julle die hele Sondag?”
Hy het nie eens probeer verduidelik nie. Pêrels voor die swyne. As sy pa nie so opgevreet was deur skuldgevoelens oor Sondag “God se dag” is nie, sou hy hom Sondae ook maak werk het, daarvan was hy seker.
Wanneer hy van die huis weggery het, kon hy in die truspieëltjie die ou man op die stoep sien staan. Alleen, arrogant en woedend. Hoe sy pa kwaai opkyk na die paar hadidas wat raas-raas verbyvlieg.
Meneer Le Duc het op ’n hoekerf op die dorp gebly, sy huis omring deur bome, struike, plante en blomme. Sy musiekkamer was op die eerste verdieping, met ’n pragtige uitsig op die tuin, ’n fonteintjie en die baie voëls wat in- en uitvlieg.
In dié rustigheid het hulle twee kopstukke gepraat, saam op die meneer se baie musiekinstrumente gespeel en boeke verslind. So het hy geleer daar is geen egte interpretasie van die ou meesters nie, net jou eie begrip en soeke na verposing. Ver weg van pretensie, huigelagtigheid en vooropgestelde idees.
Meneer Le Duc was nie net sy musiekonderwyser nie, maar ook sy mentor tydens sy vormingsjare, ’n onuitputlike bron van kennis en wysheid, en hy die ywerige en gewillige leerling. Die statige ou man het gesit en gestaan asof hy ’n stok ingesluk het. Regop. Sy bos grys hare het hy netjies agtertoe gekam, sy breë, vrygewige mond so ruim soos sy Franse aksent.
Hy het Max ’n liefde vir Bizet en Berlioz se musiek laat ontwikkel. Saam het hulle in vervoering gesit en luister na Carmen. En saam Maurice Ravel se pragstukke gespeel, Jean le Duc op die vleuelklavier en hy op die viool.
Sophokles se Oedipus, Antigone en Elektra het hulle paragraaf vir paragraaf ontleed en bespreek. Die Griekse filosowe het hom geleer daar is geen skuldige daad sonder ’n skuldige gewete nie. Dat kennis en pyn beter is as onkunde en genot.
En dat ouers soos Antigone se aanstaande skoonpa, Kreon, dade van geweld in hulle seuns ontketen – teen hulle eie pa’s. Dié besef het hom laat opstaan en gaan hande was. Die logika van “I make you, I break you” vir hom onverstaanbaar en onaanvaarbaar.
Elke Maandagoggend was dit terug na die koeistal, die trok wat geskrop moet word, groente laai, grond omspit, vrugtebome natlei en sy onverbiddelike pa.
Die dag ná sy een en twintigste verjaarsdag het Jean le Duc hom meegedeel dat hy gaan terugkeer na sy geliefde Frankryk. Vir goed.
“Mon garçon,” het die ou man gesê. My seun. En bewoë stilgebly.
“Tu es vraiment très bon.” Jy is ’n baie goeie seun. “Maar jy sal ’n keuse móét maak tussen jou pa en jou musiek, die lewe op die plot en jou eie lewe. Só kan jy nie aangaan nie.”
Hy het Max se hande in syne geneem, hulle omgedraai. “Jou vingers en hande is besig om hard en gevoelloos te word. Eendag sal jy nie meer die klank deur jou vel kan voel nie.”
Maar hy kon nie sy pa op sy eie los nie; daar was die belofte wat hy gemaak het toe hy vyftien was. Sy pa was dié dag soek, en teen die aand was hy en sy ma rasend van bekommernis. Hy het God belowe om altyd na sy pa te kyk, as sy pa net sal terugkom. ’n Paar minute later het sy pa ingeloop, ongedeerd.
Met meneer Le Duc landuit, was sy klavier-, viool- en lewenslesse iets van die verlede. Beklem deur eensaamheid het hy vir hom ’n meisie begin soek om die leemte in sy lewe te vul.
Hy het haar gevind in Ons Kafee, op die hoek omtrent ’n kilometer van hulle plot af, ’n ent buitekant Florida. Al die ploteienaars, maplotters, werkers en aanlopers het daar gekoop. Hy moes meermale sy pa se sigarette daar gaan kry, mielies vir die hoenders, koffie wat onverwags opgeraak het.
Terwyl hy teen die toonbank aangedruk staan, kyk hy hoe Juliana Loubser die pakkies sigarette en ander rookgoed soos klein konstellasies op die rakke pak. Netjies, in reguit lyne, bo-op mekaar. Dié meisie weet van orde, van afstof en skoonmaak, van wegpak en uitvee. Sy is altyd by die rakke doenig as hy ’n draai in die kafee maak.
Sy lyk nog pure kind, haar wange rond en rooi, oë groot en onskuldig, haar glimlag skaam. Mollig soos sy ma, en mooi. Haar lang hare dra sy styf in haar nek vasgemaak, haar rokke hang los om haar lyf.
Sy Sondagmiddagkuierplek by Jean le Duc het verander na Ons Kafee se toonbank laat op ’n Sondagoggend. Met Juliana sy geselskap, haar pa immer op die agtergrond.
“Middag, oom Lappies,” sou hy hom eerste groet, maak asof hy Juliana langs die oom nie eens raaksien nie.
“Sigarette vir jou pa?”
Oom Lappies het die pakkie Lucky Strike van die rak afgehaal, Max het geld uitgehaal. Dan eers sou hy Juliana vol in die gesig kyk, en sy vir hom. Hulle het mekaar onderlangs gegroet, asof onbelangstellend.
Tydsaam het hy die kleingeld in sy beursie gebêre, tydsaam die sigarette opgetel. Dan, asof ordentlikheid dit van hom vereis, vir Juliana gevra hoe dit met haar gaan. Maar hy het nooit tyd gekry vir nesskop nie, want haar pa wou altyd weet: “Is dit al, of is daar nog iets wat jy nodig het?”
Nog ’n paar woordjies met oom Lappies, nog ’n paar woordjies met Juliana, en dan is dit omdraai en huis toe gaan.
Later sou Juliana vorentoe tree nadat hy sy inkopies gedoen het en hom saggies begin vertel van hulle mooi, groot appels, of die ander soort hondekos wat hulle ook nou verkoop, miskien ’n nuwe skoonmaakmiddel op die mark. Het hy die artikel in die Huisgenoot gesien?
Sy sou agter die toonbank uitkom, en hulle sou sy aan sy deur die kafee loop, hier kyk, daar kyk, gesels-gesels. As mense inkom, het haar pa hulle bedien.
Max het geluister na die tjieng van die till. Hulle is drie tjiengs toegelaat. Ná die derde tjieng het haar pa gewoonlik geroep: “Juliana! Max kan selwers die goed deurkyk! Kom help die mense!”
Die volgende Sondag was hy weer daar. Dan koop hy lekkers vir homself, of die volgende Sondag suiker wat skielik opgeraak het. En so het dit aangegaan, totdat haar pa hom gewoond geraak en Juliana meer spontaan gepraat en gelag het.
Max het haar gekomplimenteer oor haar netjiese rakke, skoon vloere, flink diens, mooi naels, haar absolute toegewydheid aan haar werk, haar fluksheid met die lang ure wat sy moes werk.
Toe sy komplimente lateraan holrug gery was, het hy brokkies nuus uit die koerant met haar bespreek. Hy het geweet sy lees die koerant van voor tot agter, selfs die sakeblad en die sport op die agterste bladsy. Maar alles skelm, sodat haar pa nie moet dink sy skeep haar werk af nie.
Hulle het nie leesboeke by die huis nie, die biblioteek is op die dorp en sy te besig om daar uit te kom, het sy verskoning gemaak. Toe het hy vir haar ’n boek ingesmokkel.
Eers sy ma se Sy kom met die sekelmaan, daarna sy eie Na die geliefde land. Aan die begin het sy verleë gelyk om vrae oor die boeke te vra, deel te neem aan ’n gesprek oor dinge wat sy nie mooi verstaan nie.
Lateraan, soos sy gewoond geraak het aan hom, was hulle bespreking van boeke wat hulle gelees het die hoogtepunt van sy kuiertjies in die kafee. Haar pa altyd op die agtergrond, soos iemand wat ’n toneelstuk fyn sit en dophou, sy oor ingestel om elke klankie op te vang, bang hy mis iets.
’n Maand of wat later het hy vir haar ’n CD gekoop, Music of the Sea, met die mooiste vioolstemme, branders wat op die agtergrond bruis, meeue wat skree en ’n orkes wat die klanke bymekaarbring dat jou asem wegslaan.
“Ek speel dit elke aand net voor ek gaan slaap,” het Juliana skaam erken. “Dis die mooiste musiek wat ek nog gehoor het.”
Met die oorhandiging van die sigarette, lekkers en boeke het hulle vingers eers skrams aan mekaar geraak, toe hulle hande. En steeds het haar pa hulle fyn dopgehou.
Ná maande se geselsies oor die toonbank het sy uiteindelik die vrymoedigheid gehad om saam met hom tot by sy kar te loop. Daar kon hulle ’n paar woorde in privaatheid wissel.
Max wou haar huis toe nooi, vir haar viool speel, maar hy was te bang vir sy pa se reaksie. Sy pa het egter nie onder ’n klip uitgekruip nie; hy het geweet die “gaan gou kafee toe” vat baie langer as wat dit behoort te vat.
Hy en oom Lappies het mekaar geken, soos ’n kafee-eienaar en ’n ploteienaar mekaar ken van sien en koop en betaal, een keer per week, miskien een keer per maand. Juliana se vriendelikheid en rooi wange het ook nie ongesiens verbygegaan nie.
Toe Max weer een Sondag op pad is voordeur toe om net “gou” kafee toe te gaan, het sy pa skielik agter hom kom staan.
“Jy moet wegbly van Lappies-hulle. Sy vrou is baie sieklik en hy is beduiweld. Sy meisiekind gaan jou vang en voor jy jou kom kry, moet jy kind grootmaak en na skoonouers kyk.”
Dié paar sinne wat sy pa hom toegesnou het, het hom heeltemal ontsenu. Sy ore het rooi geword en hy het die voordeur vinnig oop- en toegemaak, gewonder of sy pa gedagtes kan lees.
Hy en Juliana het ’n jaar lank in die kop gevry voordat haar pa haar toegelaat het om in sy kar te klim en saam met hom te ry. Maar eers ná een as dit stil raak in die kafee, was oom Lappies se voorwaarde, en eers net elke tweede Sondag.
Waarheen gaan mens met ’n meisie op ’n Sondagmiddag? het Max gewonder.
Eers was dit ’n melkskommel by die padkafee buite die dorp, later ’n melkskommel by die Mall, en nog later piekniek op ’n geruite kombers onder ’n groot wilgerboom by Florida-meer. Op haar aandrang het hy sy viool saamgeneem.
Wat moet hy speel? het hy gevra. Iets van Gilbert en Sullivan, het sy geantwoord. Net so. Vir ’n oomblik was hy stomgeslaan, tot sy verduidelik het haar ma het ’n Gilbert en Sullivan-CD.
Moet nooit iemand onderskat nie, het hy gedink en sy viool en stok opgeneem. Hy het besluit op “Three Little Maids” uit The Mikado:
Three little maids from school are we
Pert as a schoolgirl well can be
Filled to the brim with girlish glee
Three little maids from school
Juliana het die skril stemmetjies van die maids probeer namaak en hy het dit oor en oor gespeel tot hulle gelê het van die lag.
Later het sy haar lang bruin hare losgemaak en oor haar skouers laat hang, en ’n knopie of twee van haar bloes losgemaak, want sy kry warm. Toe het sy behaaglik teen die boomstam teruggeleun en haar romp tot bo haar knieë opgetrek.
Juliana het sy kop afgetrek tot op haar skoot. Met die punt van haar wysvinger het sy die diepte en die lengte van die kuiltjie in sy ken gemeet. Met haar ander hand die dikte en omtrek van sy wenkbroue omseil. Toe haar lippe die sagtheid van sy breë, vol lippe ontdek, het sy gefluister: “Jy is so mooi.”
Tot sy verbasing het oom Lappies se mooi jong Juliana meer van seks af geweet as hy.
Hoewel sy belangstellings ná meneer Le Duc van die kulturele na die seksuele geskuif het, het hy aanhou skryf, aangemoedig deur Ouboet en Suzie. Uiteindelik het hy en Suzie hulle eerste kinderboek gepubliseer, en mettertyd nog ’n hele paar.
Suzie met die donker, spiky hare, sielvolle oë en yslike mond wat altyd lag. Sy Liza Minelli. Sy verseker hom gereeld hý was haar eerste keuse, maar aangesien hy nog op laerskool was toe Ouboet by haar begin kuier het, moes sy maar die een met ’n inkomste kies. Liewe Suzie.
Net een e-pos in sy inbox vanoggend:
My liewe Max
Ek hoor jy en Suzie (en die kinders) het gisteraand lank oor die foon gesels. Ek moes ’n bietjie oortyd werk. Suzie sê jy het vir haar af geklink, en die storie wat jy vertel het, van Adam en Eva Kapokhoender, het treurig geklink. (Ek is net die boodskapper, don’t shoot.)
Max, my kleinboet, ek dink dis tyd dat jy weer see toe gaan, tyd om al die ou bekommernisse met ’n bietjie soutwater af te spoel. Wat sê jy?
Liefde
Ouboet
Hy stoot sy stoel terug, strek sy bene ver voor hom uit, sy vingers agter sy kop verstrengel. Moet ’n mens altyd net gelukkige stories met gelukkige eindes skryf? wonder hy. Hy probeer aan ’n kinderstorie dink wat nie ’n gelukkige einde het nie.
Die naaste wat hy daaraan kan kom, is Siembamba, en kyk wat het van hóm geword:
Draai sy nek om, gooi hom in die sloot
Trap op sy kop dan is hy dood