Читать книгу Fees van die ongenooides - PG du Plessis - Страница 6
Twee
ОглавлениеOp die stoep het sy gaan sit. Drie stoele weg van die man af. Apart. Die son vang nou haar hare en dit ís wit.
Die majoor probeer uitmaak waar hy effens meer as veertig jaar gelede gestaan het. Dit wás hier. Presies. Die hek is nie verskuif toe dié een tussen sy nuwe mure gehang is nie. Dit wás hier waar hulle verraaier by hom aangekom het; dit wás hier waar hy daardie nag die Van Wyks se beskawing wat hy vroeër die aand oor die ongehoorde eettafel ontdek het, verder moes aanhoor – in die suiwer note uit die oujongnooi se klavier. Hy móét sy staanplek duidelik kry, want dis waar hy op daardie nag gestaan en verander het. Dis nogal ver van die huis af, sien hy. Hoe goed moes sy jong ore tog nie gewees het om so duidelik te kon hoor nie. Elke noot, of verbeel hy hom? Die nag moes andersins baie-baie stil rondom hom gewees het.
Oor daardie oujongnooi het Joey Drew bepaald ’n skewe storie vertel. Dit weet majoor Brooks, want hy onthou haar presiese spel en die woede in haar oë toe sy die byl deur die lanternlig in sy tent swaai. En dit terwyl hy met ’n geweerloop teen sy bors moes staan en toekyk.
Joey Drew het seker nooit agtergekom hoe skeef sy gestyfde beeld van die oujongnooi was nie:
Dit was ’n hele paar jaar voor Joey Drew se aankoms op die plaas dat Gertruida van Wyk al begin besef het dat sy nooit sou trou nie. Sy was baie stil in daardie dae, omdat sy afskeid geneem het van iets waarvan sy tog altyd gedroom het: ’n man en kinders. Maar die warm gloede van haar oorgangsjare het al meer geword, en haar maand het eers wisselvallig begin kom en toe verdwyn. Sy het geweet dat die tyd verbygegaan het.
In dié dae het sy baie getob oor die redes hoekom sy nooit getrou het nie, want sy was ’n Van Wyk en die Van Wyks is aantreklike mense, al is hulle effens trots en eenkant in baie se oë. En daar was nooit ’n tekort aan mans wat wou kom kuier nie – eers jongkêrels en later oujongkêrels en wewenaars. Hulle het haar probeer benader met deursigtige woordkeuses en aanrakings, maar al wat dit by haar ontlok het, was afsydigheid, en as hulle opdringerig raak, flitse van walging. Gertruida wou dit anders hê. Sy wou wees soos Dorothea was toe Danie haar huis toe gebring het: uitgelate van opwinding en verwagting. Of blosend soos Magrieta, wanneer Daantjie begin spelerig raak. Gertruida het geweet daardie ding sit êrens in haar, maar sy het dit nooit vir ’n man gevoel nie. Miskien was die regte mans skrikkerig vir haar geleerdheid wat sy in die Seminarie in die Kaap ontvang het. Die tyd het rondom haar afsydigheid verbygegaan en sy het middeljarig geword.
Sy het later gedink dat dit amper soos ’n voorbode was dat sy in dié tyd so baie deur die bladsye van haar herinnerings begin blaai en die klavier so dikwels in haar gedagtes opgekom het.
By die Seminarie, toe sy sewentien was, was sy voor die klavier loshande die beste van almal. Die musiekjuffrou, Miss Pearson, het gesê sy het ’n pragtige aanslag en die beste oor vir musiek van almal. Om Miss Pearson nie teleur te stel nie, het sy elke ledige oomblik wanneer een van die Seminarie se klaviere nie in gebruik was nie, geoefen en geoefen. Miss Pearson het haar, wanneer sy ’n nuwe stuk musiek bemeester het, altyd na die vleuelklavier in die saal geneem om daar daarna te luister. Gertruida se hart het van vreugde gebons wanneer sy, ná sy gespeel het, haar hande van die klawers af oplig en Miss Pearson sê: “Jy speel pragtig, Gertie, en jy ís pragtig.”
Die middag voor Gertruida vir die laaste keer die lang trein-tog huis toe sou aanpak, het Miss Pearson al die dogters wat klavier neem in die saal laat bymekaarkom om te hoor hoe Gertruida speel. Hulle moes kom luister na wat ware talent en harde werk kan bereik. Ná ’n halfuur was dit etenstyd, maar toe die ander loop, het Miss Pearson Gertruida gevra om agter te bly. Sy moes nog iets speel – net vir Miss Pearson, as ’n soort spesiale afskeid. Miss Pearson het opgestaan van haar gewone stoel en tussen die bladmusiek rondgesoek. Gertruida het gedink dat sy een van hulle gunstelinge sou moes voorspeel, soos ’n Bach-prelude of een van Chopin se nokturnes, maar Miss Pearson het die eenvoudige “Love’s Old Sweet Song” uit die pak getrek en voor Gertruida neergesit. Sy het die solo-stoel voor die klavier weggetrek, die duet-stoel nader gebring, langs Gertruida gaan sit en haar gevra om so naby aan haar te speel, want sy wil vir oulaas vir haar omblaai. Hulle heupe en dye en arms het aan mekaar geraak, en Gertruida het gewens die musiek raak nooit op nie.
Maar die note op die blad en onder haar vingers het opgeraak en haar hande het in die na-stilte oor die klawers gehang. Miss Pearson het Gertruida se hande opgetel en hulle gesoen, en toe sy opstaan, was haar lippe ’n oomblik lank vogtig op Gertruida s’n. Miss Pearson het haar uit die saal gehaas – struikelend, soos iemand wat nie deur trane kan sien nie. Gertruida het na die nattigheid op haar hande gekyk en die souterige strepe saggies afgesoen. ’n Golf van blydskap wat sy nie geken het nie, het deur haar heupe en bors gespoel.
Sy’t self ook gehuil toe sy die volgende dag afskeid neem. Almal het gedink sy huil maar oor die afskeid van haar vriendinne, en oor haar Seminarie-jare verby was. Maar dit was nie so nie. Sy’t gehuil oor Miss Pearson en oor daardie oomblik toe die verbysterende golf vreugde oor haar gespoel het. En oor wat die klavier gesê het.
Miss Pearson het nie na die aandete in die groot eetsaal gekom op die aand voor Gertruida se vertrek nie, en sy was ook nie by ontbyt op die vertrekdag nie. Gertruida se oë het verniet gesoek. Maar toe sy op die Seminarie se spaaider klim wat haar stasie toe sou vat, het die huismoeder ’n pakkie van Miss Pearson aan haar oorhandig. Sy het dit eers die aand op die trein oopgemaak. Daar was ’n koevert met ’n nota onder die buitenste laag toedraaipapier:
Dearest Gertie – Forgive me. I do not have the heart to say goodbye to you. Go well, my little one, and may life be kinder to you than it had been to me. I weep for another talent swallowed up by the maleness of our world and the darkness of this continent, but, mostly, I cry for you. I’ll say your name in the night. – Anne Pearson.
Daar was vir haar nie ’n naam vir wat sy toe gevoel het nie, want die pyn en die blydskap was oorweldigend en ineengestrengel. Sy het die nota aanhou lees en gewonder hoekom Miss Pearson eintlik niks oor die klavier sê nie, maar toe sy die pakkie verder oopmaak, was daar twee rooi spiraalkerse in – klavier-kerse.
In die amper dertig jaar wat verbygegaan het, het Gertruida nooit weer van Miss Pearson gehoor nie, en haar opvoeding het haar verhoed om so voorbarig te wees om ’n korrespondensie aan die gang te probeer kry. Sy het die dankie-sê-briefie vir die kerse en die opleiding gepos en verniet op reaksie gewag.
Maar, soveel jare later, en ’n maand voor Joey Drew se aankoms op die plaas, het daar ’n brief van die Seminarie af gekom. Die skryfster van die brief het verskoning aangebied omdat sy noodgedwonge die brief aan Gertruida se nooiensvan moes adresseer, maar haar getroude van was ongelukkig nie aan die Seminarie bekend nie. Miss Pearson, so het die brief verder gelui, het afgetree en besluit om haar laaste jare in Engeland deur te bring. Sy wou die dae wat sy nog oor het, toewy aan die God wat sy so getrou dien. Sy het reeds vertrek, maar het gevra dat haar klavier geskenk word aan Gertruida van Wyk – die beste student wat sy ooit onderrig het. Sy het voor haar vertrek persoonlik toesig gehou oor die verpakking van die instrument. Sal die eertydse mejuffrou Van Wyk asseblief reëlings tref dat die klavier afgehaal of met die trein aangestuur kan word?
Gertruida het Danie vertel van die eer wat haar te beurt geval het, en vooraf vir Dorothea gevra of die klavier met sy rug teen die binnemuur van die eetkamer mag staan, anders raak klaviere maklik uit stem uit. Dorothea het nie beswaar gehad nie en Gertruida het gereël en gewag.
’n Maand later het die stasiemeester laat weet dat daar ’n swaar kas aangekom het vir Gertruida. Sy wou saam stasie toe toe Daantjie en Soldaat gestuur is om die klavier te gaan haal, maar Danie het voet neergesit: dis te onwaardig vir ’n Van Wyk-dame om met die muilwa af te sit stasie toe agter ’n klavier aan. Gertruida sou maar moes wag.
Sy en Magrieta het op die middag toe die muilwa terugverwag is, op die stoep gaan sit en wag. Joey Drew het dit opgemerk en probeer om die stilte wat tussen hom en die familie hang, effens te verbreek. Hy het na die twee toe gegaan en, ná vele verskonings oor sy voorbarigheid, aangebied om, aangesien die jongste dogtertjie, Sussie, kennelik sukkel met Engels, haar bietjie met die taal te help.
Vir Magrieta was dit altyd ’n merkwaardige gesig om haar tant Gertruida te sien verkil. Haar rug het dan – die laaste moontlike aks – nog meer regop getrek, en haar stem was ysig: “Dankie vir die aanbod, meneer Drew,” het Gertruida gesê, “maar ek dink nie ons moet die kind blootstel aan u aksent nie.”
Die glimlag in Magrieta se oë het Joey, soos altyd, laat verwurm, en hy is druipstert daar weg. Hoeveel verder moet jy die snotterigheid van stand dan nóg gaan soek? Hoe ver strék die ding dan oor die wêreld?
Magrieta het die muilwa amper tegemoet gehardloop en Gertruida was al ’n hele ent op pad na die plaashek voor sy besef haar haas pas nie haar waardigheid nie. En die manier waarop die uitgelate Magrieta op die wa spring en sommer voor die hele plaas aan Daantjie gaan hang, was nie vanpas nie. Heeltemal nie vanpas nie.
“Hy’s in een stuk, tante Gertruida!” het Daantjie in haar rigting geroep met die verbygaan. “Maar swaar is hy wragtag swaar!”
Dis wat Miss Pearson altyd gesê het. Hoe swaarder ’n klavier is, al is dit maar ’n regop-model en nie ’n vleuel nie, hoe dikker is die gietyster-rug agter die snare en hoe beter hou hy stem. Gertruida het daardie veraf woorde só goed onthou dat sy hulle amper weer kon hoor.
“Ons het hulp nodig met dié blok lood,” het Daantjie by die voorhekkie gesê en Sussie gestuur om die Minter-mans te gaan roep.
Die Minters het ’n goeie half-myl van die Van Wyk-opstal af in ’n platdakhuisie gewoon. Jakop Minter was ’n bywoner. Hy het amper tien jaar vroeër met sy gesin op die plaas opgedaag, genade gevind, en gebly.
Jakop was ’n groot man met ’n ruigheid in sy ooghare, snor en weerbarstige baard waarin die grys, soos in dié van sy landheer, reeds geskimmel het. Die jare van bywonerskap en die nederige onderdanigheid wat dit vereis, het ’n hebbelikheid in Jakop Minter se oë gesit: hy het niemand meer in die oë gekyk nie, nie eens sy eie vrou en kinders nie. Met wie hy ook al praat, sy blik het stip gerig gebly op die linkerbors en -oksel van sy gespreksgenoot. Jakop het nooit opgekyk na die gesig of oë nie. Mense met wie hy praat, het kort-kort gevoel of daar nie dalk iets verkeerds aan hulle klere is en of daar nie dalk ’n gogga oor hulle linkerbors loop nie. Vroue wat met Jakop praat, het soms gesteurd weggedraai van wat hulle dink voorbarige en vuige bewondering was. Jong dogters het gebloos.
Jakop se enigste seun, Petrus Minter, was twintig, lank, lenig en gladgeskeer. Hy wou nie wees soos sy pa nie. Hy het geweet dat mense agteraf spot oor sy pa niemand in die oog kan kyk nie, en sy pa se manier van praat namaak en daaroor lag. Want Jakop Minter het met ’n donderende stem gepraat en omtrent nooit meer as een woord op ’n slag gebulder nie. Dit was asof ’n woord eers in hom opdam voordat dit kliphard uit sy mond breek. Petrus Minter het gesweer dat hy mense in die oog sal kyk en dat hy met ’n sagte, presiese stem in volsinne sal praat. Die mense, soos Daantjie van Wyk, wat gedink het dis ’n soort vermetelheid of voorbarigheid, moes maar so dink. Hy sou nie sy pa se onderdanigheid aanleer nie. Hy sou nie, al vrek hy.
Gertruida was lastig-besorgd met die aflaai van haar klavier. Want swaar was hy. Bo-op die muilwa het Daantjie, Soldaat, Greeff en Petrus Minter die krat tot by die randjie van die muilwa se agterste buikplanke geskuif. Onder het Jakop Minter gewag om te hou tot iemand kon afspring om te help. Maar toe die krat begin oorkantel, het die muile die skuifgeluid gehoor en vorentoe begin beweeg. Jakop Minter het voortgesteier met sy swaar hande onder die krat wat al meer begin oorhel het. Gertruida het gebewe van vrees en desperaat probeer om Jakop te help: “Moet hom nie laat val nie. ’Seblief, Here, moenie laat hy val nie!”
“Kom weg daar, Tante! Hy sal Tante doodval!” het Daantjie geskree en toe gesien dat Joey Drew net daar rondstaan.
“Stop die muile, magtag, Engelsman, is jou gat lam?” het hy vir Joey geskree.
Maar dit was Nellie wat die muile voorgevat en tot staan gebring het.
Soldaat het afgespring en onder begin help.
“Net stadig, asseblief. Net stadig, dis ’n instrument.”
“Ons weet dis ’n instrument, tant Gertruida! Staan tog net uit die pad uit dat ons die ding kan afkry.”
Die laaste drie duim het die krat gegly en Soldaat se toon die grond in geboor.
“Hy’s op my toon, baas Daantjie!”
“Kan jy nie jou donnerse toon uit die pad hou nie!” Daantjie se lont was nou al kort.
“Moenie so vloek nie, Daantjie!” het Gertruida gemaan.
Daantjie het weggestaan van die toon en die klavier af: “Loop staan dáár, Tante, of kom laai die ding self af!”
“My toon, baas Daantjie!”
“Dit sal jou leer om jou goeters onder goed uit te hou,” was al wat Daantjie vir Soldaat gesê het toe hulle die krat van die toon af lig. Die bloed van binne was klaar besig om die punt van Soldaat se velskoen te verdonker.
Hulle het die klavier afgelaai gekry en met rou-rieme onder hom deur na die stoep toe gedra. Daar het hulle die krat om hom weggebreek.
Miss Pearson se verpakking was oordadig en noukeurig. Net onder die planke was daar regte komberse, dan ’n dik katoen-opstopsel teen die stampe en stote, en teen die blink oppervlakte van die klavier self, groen vilt.
“Hierdie ding is so toegewoel van die wolle dat ons hom maar van die wa kon afgesmyt het,” het Daantjie gesê.
Gertruida het self tussen alles rondgesoek vir ’n brief of ’n nota van Miss Pearson af, maar daar was nie een nie, ook nie tussen die pakke bladmusiek wat apart verpak was nie.
Terwyl die vernedering voor die versoek uit sy bolip sweet, het Petrus Minter Gertruida gevra of hy dalk die planke en spykers kan kry om vir hom ’n bed te maak … en van die opstopsels vir ’n matras. Gertruida het dit vir hom gegee en sommer bygesê dat Jakop die komberse en groen vilt ook maar kan vat. Jakop het haar linkerbors aangespreek en “dankie!” gebulder.
Hulle moes eers die harmonium skuif en die stof en dons wat onder hom vergaar het, bymekaarvee, voor die klavier op sy plek teen die binnemuur van Dorothea se eetkamer vir Gertruida kon gaan staan en glim.
Dorothea was ontsteld. Nie oor die klavier nie, maar oor sy gesien het hoe haar dogter Nellie die lenige Petrus Minter agternakyk toe hy die eerste bondel planke op sy skouers afdra na die bywonershuisie toe om daar vir hom ’n behoorlike bed aan mekaar te slaan.
Gertruida kon haar hande nie afhou van die blinkbruin oppervlaktes van die klavier nie. Sy wou nie speel nie, al het klein Sussie hóé aangedring. Sy het net gehoor of die klavier in stem gebly het, maar daarvoor was ’n paar toonlere genoeg – toonlere wat sy toe al meer as ’n maand vooraf geoefen het op die harmonium. Sy het nie die blaasbalk se pedale gepomp nie, nie ’n stopper oopgetrek nie en in stilte geoefen wanneer niemand by was nie. Daar was niks verkeerd met die klavier se klank nie, en sy het gewonder hoeveel dae Miss Pearson – net vir haar, net vir haar! – moes bestee het om oor die pakkery toesig te hou. Gertruida wou haar klavier later, as sy heeltemal alleen is, ontmoet – met ’n eenvoudige liedjie waarvan die bladmusiek, so het sy met die oopmaak gesien, bo-op die ander bladmusiek verpak was. Sy het vir Sussie gesê sy wil eers bietjie op die harmonium oefen voor sy die klavier speel, maar sy’t geweet wat sy wou doen. Sy sou wag tot sy alleen is, en dan sal sy die twee spiraalkerse in die maagdelike brons van die klavierblakers druk en hulle aansteek, en die nota uit haar Bybel haal en weer lees, en dan sal sy “Love’s Old Sweet Song” speel en ’n bietjie huil, sodat daar trane op haar hande kan wees. Want daar sou trane wees … oor wat sy al hoe meer begin weet het – van hoe leeg haar jare was en waarom sy nooit getrou het nie. En wanneer sy op daardie aand sal gaan lê, sal sy die kers doodblaas en in die donker ’n rukkie net onthou – en dan sal sy, sonder skuld, daardie verbode naam wat nog net die klavier kon sê, die nag in fluister.
Dit was eers later, en dit kon dalk net ’n vermoede wees, dat Gertruida begin verstaan het waarom Miss Pearson nooit van haar laat hoor het nie. Tussen al die notatjies wat die musiekjuffrou met ’n potlood op die bladmusiek gemaak het, het daar agter op een, skeef en klein en kennelik net vir haarself, ’n verkapte sin in haar handskrif geskryf gestaan: … can something as beautiful – be so sinful? …
Gertruida het gedink dat sy begin begryp – en geweet dat niks ooit vir haar meer kosbaar kan wees as die klavier wat die onnoembare moes sê nie.
Daardie aand in die kombuis het Dorothea haar sestienjarige Nellie aangesê om by die tafel te gaan sit. Sy het vir haarself ’n stoel nader getrek en gewigtig teenoor haar dogter plaasgeneem. Dit was tyd dat sy Nellie betig: “Daardie Petrus-seun is ’n Minter. Hy is nie ons soort nie. Ek sien hoe kyk jy vir hom. Moenie maak dat ek Pa van jou kykery sê nie.”
“Maar, Ma …”
“Ek het klaar gepraat, Nellie! En jou gedurige gepratery met hom hou nou dadelik op.”
Nellie het kamer toe gestorm.
Op daardie middag van die klavier het Joey Drew sy jongste flater agter die hoenderhokke gaan bedink. Hoekom moes die verdomde muile dit nou juis in hulle dik koppe kry om te begin loop waar hy by was? Dankie tog, Magrieta was nie daar toe Daantjie so op hom geskree het nie. Wanneer sal hy wat Joey Drew is, in elk geval iets reg doen op hierdie plek? Joey het op ’n bloekom-stomp gaan sit met sy kop tussen sy hande.
’n Skraal dogtertjie wat sy omwandelinge al dae lank van ’n afstand af dophou, het voor hom kom staan en wag tot hy opkyk. Joey het gesien dat sy besoekertjie omtrent sewe of agt jaar oud moet wees. Haar lang swart hare was ongekam, haar kaal voete het die swart van ongewaste winterskurfte aan die skene en tussen die tone gehad en die barste van kaalvoetloop in die ryp was aan haar hakskene. Haar hande, bene en gesig was vuil. Sy het ’n soort jurk gedra met die kleur van die kaal wintersgrond rondom hulle. Net so hier en daar kon hy sien dat die rokkie oorspronklik blou was. Maar die blou het lankal wegverbleik en net in die nate agtergebly. Die rok het tot by haar maer kuite gereik en was op plekke amper deurgeskif. Verwaarlosing het, soos die stof aan haar rok, aan haar gekleef. Joey het al gesien dat daar kinders by die platdakhuisie rondspeel. Die ma het seker maar voor die knaende armoede opgegee, want die kind was onversorg.
Maar haar oë! Haar oë!
Joey Drew was nie ’n man wat maklik hoë gedagtes probeer dink nie, maar met hierdie kind se oë was dit vir hom of God hulle spesiaal en vir Homself gemaak het. Hy moes hulle met buitengewone sorg gepoleer en saggies bevogtig het voor Hy hulle – dalk met ontroering, selfs verbasing, oor soveel skoonheid uit Sy hand – versigtig in hulle holtes gedruk het. Eers ná Hy met die res van haar klaar was.
Haar oë was blouselblou en blinkskoon in haar vuil gesiggie. En hulle was groot en wyd soos oë wat pas wonderlike dinge gesien het.
Sy het met hom gepraat en aanhou praat in daardie skraperige taal al het hy nie ’n woord verstaan wat sy sê nie. Hy het aan sy ore gevat en sy kop geskud om te laat blyk dat hy nie verstaan nie. Maar sy’t aangehou en later begin beduie en uiteindelik het sy met haar duim na haar bors gewys en hom haar naam geleer. Hy het die naam begin nasê: Dit was Fienatjie. Fienatjie Minter.
So het dit dan gekom dat die eerste woord wat Joey Drew op die wyse van die skraperige taal kon sê, die vir hom byna onuitspreekbare naam van Fienatjie was. Van Fienatjie Minter. Toe dit sy beurt was, het hy haar die naam Joey geleer, nie Mr Drew nie. En Fienatjie kon dit gou reg sê: Joey, Joey, Joey. Sy het die woord kort-kort herhaal, want sy wou aanhou sien hoe die treurige plooie om sy mond by die aanhoor van sy naam ’n glimlag word onder sy yl baard – ’n glimlag wat tot in sy ooghoeke getrek en sy skeel ogies amper toegemaak het van plesier.
Toe hulle van die agterdeur af roep dat hy moes kom eet, het Joey met spyt van sy klein gespreksgenoot afskeid geneem. Hy was byna aangedaan toe hy sien hoe Fienatjie na die bywonershuisie van die Minters huppel – en hoor hoe sy Joey-Joey-Joey soos ’n rympie opsê. Sy het die naam presies gesê soos hy haar dit geleer het – en dus in ’n aksent wat Gertruida sou bevries.
By die platdakhuisie het Fienatjie vir haar sussies gesê sy kan nou Engels praat.
Danie se broer, Wynand, en dié se vrou, Martie, het die Saterdag aangekom. By hulle was hulle enigste kind, Driena, ’n dogtertjie van omtrent dieselfde ouderdom as Sussie.
Die vroue van Danie se huis was altyd verbaas oor die manier waarop Martie Driena grootgemaak het. So het Dorothea dan ook weer die dag vir Gertruida in die kombuis gesê: “Die liefde van ’n moeder is darem maar ’n wonder. Kyk net vir Martie met Driena. Met Martie sou ek kon sweer sy sal van die kind ’n baksteen na haar eie vorm probeer bak, maar sy bederf Driena in die afgrond in. Ek sou nooit kon dink Martie kan so sag met ’n ander mens werk nie. En die kind lyk tog nie oorbederf nie.”
“Sy’s meer Wynand se kind as Martie s’n. Sy aard baie meer na haar pa. Wynand het ook maar die sagte kant van die Van Wyks.” Dis wat Gertruida gesê het – denkende daaraan hoe die klavier haar eie sagte kant al meer begin oopkrap. Want teen daardie tyd het sy al die klavier ontmoet op die middag toe sy haar kopseer gehou en al die ander sonder haar na Fanie van den Berg se begrafnis toe is. Sy het gedoen soos sy wou, en gehuil en die bevryding was so groot dat sy, toe sy opstaan om die kerse weer te gaan bêre voor die mense van die begrafnis af terugkom, besluit het om die klawerflap nie meer te sluit nie. Daardie aand het sy vir byna ’n uur vir Sussie gespeel.
“Kan jy jou voorstel,” het Dorothea in die kombuis voortgegaan, “as Driena haar ma se humeur moes hê en sy kom in haar arige jare? Die weë van die Here is darem maar wonderlik. Maar sy verafgood die kind en dis ’n sonde.”
“As mens net een van ’n ding het, is hy vir jou baie kosbaar,” het Gertruida effens nadenkend bygevoeg, want sy’t gedink aan die enkelheid van haar een groot vreugde en aan die onvervangbare klavier. Dorothea het maar half verstaan en haar eie gedagte gehad: “Ek dink dis seker maar omdat sy al daardie miskrame gehad het voor Driena se geboorte.”
Daar was vyf miskrame. Terwyl sy Driena verwag het, het Martie byna vergaan van vrees. Sy het die Here alles belowe as die kind net behoue in die wêreld kom: sy sou Hom getrou en noulettend dien, sy sou haar humeur en haar tong in bedwang hou, sy sou die sonde beveg waar sy hom ook al raakloop, of dit nou in haarself of in iemand anders is. Maar laat die baba tog net nie weer te vroeg kom nie, Here! Asseblief tog nie weer nie, Here!
Driena het haar nege maande presies uitgedien en ’n welgeskape bondeltjie mens het opgedaag. En op daardie seer en wonderlike oomblik het Martie met baie trane belowe dat sy die kind vir die Here sal grootmaak en haar elke stukkie liefde sal laat toekom waartoe ’n moederhart in staat is. Martie se ysere wil en haar presiese opvattings oor wat reg en van Bo, of verkeerd, en dus van die Duiwel was, het haar sonder twyfel of afwyking by die letter van haar morele alfabet laat hou.
Wynand en Martie het, klaar aangetrek, op die oggend van die Saterdag opgedaag, maar Joey Drew het gesê hulle moet wag dat dit middag word, want dan is die lig voor die huis op sy beste. Twaalfuur se kant het hy hulle reggeskuif na lengte, breedte en geslag, maar die familie wou hulle verbande anders lê en het elkeen na sy of haar geskikte familieplek geplaas. Toe het Joey onder die swart doek ingebuk, reggeskuif wie reggeskuif moes word, hulle tot bewegingloosheid gemaan, die knip van oë verbied, en gesê: “… hold it, hold it, ho-o-o-ld …” terwyl hulle met streng, droë oë strak na die kamera kyk.
Dit was die laaste foto waarop hulle almal saam was – die enigste een waarin al die Van Wyks, die lewendes en die dodes, swaar geraam en met ’n sterk koperdraad aan die prentelys gehang, na verbygangers sou staar soos hulle na die skeel Engelsmannetjie se kamera gestaar het.
Met die foto geneem, het die familie teen die stoeptrappies begin opbeweeg na die voordeur toe om in te gaan vir die middagmaal. Dorothea het hulle eerste gesien: “Ag nee, nie nog dit ook nie!”
Want met die paadjie na die huis toe het die hele Minter-familie, oorwegend groen soos ’n Ierse fees, aangestap gekom. Die Van Wyk-familie het omgekyk en dit was Martie wat eerste gegiggel het. Die Minters het byna in enkel gelid aangestap gekom. Voor het Jakop geloop, dan sy vrou, Sannie, en daarna die dogtertjies. Net Fienatjie het agter langs Petrus geloop. Die familie, uitgedos in wat ter hand was, het selfs van ’n afstand af skoner gelyk as gewoonlik, maar dit was die groen vilt waarin die klavier toegedraai was wat die aandag getrek het. Sannie Minter het die materiaal wat haar toegeval het, ten beste gebruik, en sy en haar dogters het nie net elkeen ’n soort groen manteltjie aangehad nie, maar ook groen kappies gedra.
“Ek het hulle nou al hoeveel keer gesê hulle moet ons uitlos as ons mense het, maar hulle het elke keer ’n verskoning. Gaan in, hulle weet hulle moet agterdeur toe.”
“Hulle wil seker ’n foto laat neem, kyk hoe uitgevat is hulle,” het Daantjie gejil.
“En jou pa sal weer daarvoor moet betaal …”
Danie het geglimlag oor sy vrou se ontsteltenis: “Sy sal darem seker eers weer haar vyf hoenders aanbied.”
Maar terwyl die ander oupa Daniël deur die voordeur help, het Dorothea vir Danie eenkant getrek: “Jy wil my nie glo nie, my man, kyk self!”
Almal se aandag was by die ou man, behalwe Nellie s’n. Sy het in die rigting van die Minters bly kyk en daar kon geen vergissing wees dat dit na Petrus was na wie sy gestaar het nie, want haar jong tepels het styf teen haar rok gedruk.
“Vandag! Jy stop dit vandag, anders gaan ons nog lang trane huil.”
Danie het geweet dat hy sal moet intree, al het hy gehou van die seun wat so duidelik anders as sy pa wou wees. Danie het Daantjie op die skouer getik: “Sê vir Petrus ek wil agter by die stal met hom praat.”
Voor die twee ingaan, het Martie vir Gertruida gefluister: “Het Fienatjie al iets oor die oorlog gedroom?”
“Nie wat ek gehoor het nie.”
Dorothea het die bo-deur van die kombuis oopgemaak voor die Minters kon klop.
Jakop het sy enkele woord aan sy familie gebulder: “Maniere!”
Die familie het eendragtig gegroet en Dorothea het met verligting opgemerk dat Petrus nie meer by hulle is nie, want sy was bewus daarvan dat Nellie by haar probeer verbyloer.
“Ja?” Haar vraag was meer bevel as versoek.
Jakop het nader gestaan en vir haar linkerbors gesê: “Portret.”
Dorothea het Sannie se aanbod van die hoenders van die hand gewys en vir Jakop gesê Danie sal vir die foto betaal, maar hulle moet dit by hulle eie huis laat neem, sy sal die fotograaf stuur.
’n Enkele woord van Jakop het hulle laat omdraai en huis toe gaan. Dorothea het Joey Drew agterna gestuur.
Op daardie foto sou Petrus Minter nie wees nie. Hy het eers baie laat daardie nag huis toe gekom.
Want by die stal het Danie vir Petrus aangesê om weg te bly van sy dogter af of die plaas te verlaat. Petrus het toe al lankal opgemerk dat Nellie hom dikwels opsoek waar hy werk en dan bietjie gesels, maar hy het die gevoelens onderdruk wat by hom wou-wou opkom. Hy’t geweet hy’s ’n Minter en Nellie is ’n Van Wyk.
Hy’t ontken dat daar ’n verhouding is en Danie het dit aanvaar, maar Daantjie het gedink sy pa is te sag met die bywoner.
“Dink jy ons is blind, Minter?” het hy begin beskuldig. “Dink jy ons kan nie sien hoe jy altyd probeer om na-aan haar te kom nie? Wat van gister? … toe jy ure met haar by die krip gestaan en praat het? Wat dáárvan?”
Petrus het hom rustig in sy oë gekyk en sag en kalm gepraat: “Ek kan haar nie wegjaag nie en dit was nie ure nie, sy’t my kom vra om haar te help met die waenhuis se deur. Dis al.”
“En jy’s saam met haar die waenhuis in, nè!”
“Jy’s mal, Daantjie van Wyk,” het Petrus in sy sagte stemtoon gesê, omgedraai en weggeloop.
“Wie’s mal, Minter? Kom hier!”
Maar Petrus het aangeloop. Danie het gesien dinge begin handuit ruk.
“Moenie dinge te ver laat gaan nie, Daantjie, ou seun. Laat my maar met hom praat.” En vir Petrus het hy hard, sodat die jong man hom kan hoor, agterna gepraat: “Oom Wynand het die goewermentsmausers saamgebring, Petrus! Jy moet jou en jou pa se gewere kom haal.”
Petrus het aanhou loop.
“My pa praat met jou, Minter!” het Daantjie agter hom aan geskree.
Petrus Minter het omgedraai en teruggestap. Eers toe hy binne die hoorafstand van ’n sagte stem was, het hy gepraat: “Ek sal die gewere kom haal as oom Danie sê ek moet.” Hy het weer in sy spore omgedraai en begin om weg te loop. Daantjie se irritasie met die bywoner se beheersdheid het uit hom gebars: “Maar jy los my suster uit, gehoor? Jy’s ’n bywoner en ’n Minter! Op hierdie plaas onthou jy dit!”
Danie kon nie sy jammerte vir die jong man uit sy stem hou toe hy weer sy aandag probeer trek nie.
“Petrus … ?” het hy gesê, want hy het geweet dat dit nie maklik moet wees om te hoor jy is nie goed genoeg nie.
“Is jy doof, Minter?” het Daantjie geskel. “Kan jy nie hoor my pa praat met jou nie? Is jy doof?”
Petrus het vir die laaste keer omgedraai en teruggestap tot waar sy sagte stem sou hoorbaar wees. Hy het tot stilstand gekom en Daantjie en Danie om die beurt vol in die oog gekyk voordat hy, gelykweg en oënskynlik sonder enige bitterheid, amper soos in ’n terloopse mededeling, vir hulle sê: “Ek kan hoor dat ek goed genoeg is om te skiet. Dis al wat ek hoor.”
Hy het die veld in geloop, nie in die rigting van die huise of die buitegeboue nie. Daantjie sou nie sy woede, sy vernedering, of die trane wat in sy oë brand, sien nie. As die oorlog waarvan Fienatjie begin droom en waarvan sy net vir hom vertel het, net wil kom, as hy net vir Daantjie van Wyk ’n slag alleen kan kry, as hy net die kans kan kry om iets te dóén wat nie sy pa-hulle dieper die ontreddering sou insleep nie.
Danie het Daantjie stilgemaak en hulle het saam huis toe geloop. Hy het nie gehou van wat hy pas moes doen nie, maar oor die noodsaak van die saak het hy nie getwyfel nie.
Oorlog was ’n gerug – ’n opgeefsel vol verwronge en waterige beelde êrens voor in die pad. ’n Moontlikheid in die toekoms. Maar in die Van Wyks en Minters se daaglikse bedrywighede was almal se gedagtes nog gedrenk in meer realistiese waters – in die klein bemoeienisse van vrede. Al is daar in die Van Wyks se huise dikwels oor oorlog gepraat, en by die Minters soms daarvan gedroom deur Fienatjie. Fienatjie Minter.
Die middag aan die etenstafel het Wynand vir oupa Daniël gevra: “Dink Pa daar gaan oorlog kom?”
“As die Engelse hom wil hê, gaan hy kom, my kind. Hulle sal net naderhand so onredelik raak dat ons nie meer sal anders kan nie. Vertrou kan ons hulle nie, en net die Here kan ons help. Ons moet op Hom vertrou.”
“Sal die Here ons help as die oorlog kom, Pa?”
“Nie as jy daardie vraag vra nie, Wynand. God is getrou, maar jy moet sekerheid in jou hart hê. Dan sal die mosterdsaad vir jou leer: Moenie bevrees wees nie, want jy kan berge versit met jou geloof en die hulp van jou God.”
“Ek dink nie ons mense het ’n gedagte van hoe groot die berge is wat versit sal moet word nie, Pa,” het Gertruida tussenin gesê.
“Ons moet volhard in die gebed, Gertruida. God is ’n God van geregtigheid, Hy sal ons nie in ons regverdige saak alleen laat nie.”
“Die Engelse gaan net so hard bid soos ons, Pa. ’n Oorlog is nie ’n stryd oor wie die hardste kan bid nie.”
Martie se stem was skerp: “Dis godslastering! Wat jy daar sê, is laster, Gertruida!”
“Al wat ek sê, is dat die Engelse net so oortuig is van die regverdigheid van hulle saak as ons. Jy moes nou die aand daardie skeel Engelsmantjie gehoor het! En die Empire maak al meer as die helfte van die aarde toe. Daar’s niks wat ons teen daardie oormag kan doen nie.”
“Dis dié dat ek sê ons moet alles doen om die oorlog te vermy.” Dit was Wynand, en hy’t dit sag gesê.
Daantjie het met mening by die gesprek ingeval: “En alles sommer so vir hulle op ’n skinkbord aandra? Daar’s te veel mense tussen ons wat met daardie evangelie volgens Judas tussen ons boer. Hierdie klomp vredepraters is niks meer as papbroeke nie. Ons moet die Engelse die see in boender en klaarkry.”
“Sê jy ek is ’n lafaard, Daantjie?” Wynand was op sy voete.
“Ek sê nie oom Wyand is nie …”
“Nou sê ek vandag vir jou, Daantjie van Wyk, ek sal veg as ek moet, maar ek gaan nie my eie en my mense se bloed laat verspil vir ’n hopelose saak nie.”
“Ek sal myne gee, oom Wynand! Ek sal veg tot ek nie meer ’n druppel bloed in my are het nie!”
Daantjie het maklik gepraat en makliker gespog. Sy besittings, sy perd, die mooiste vrou – alles was die beste en moes sigbaar die beste wees. Agter sy rug het hulle hom Blink-Daantjie genoem. En oor die familietafel daardie middag kon hy sy blink patriotisme uitstal. Hy het, soos ’n volksredenaar, met die diepste moontlike stem gepraat en die gesegdes van die politieke sprekers nageboots. Sy tirade was vol van “vryheid kosbaarder as die lewe self” en “dié land so duur gekoop met … . ja, geheilig, deur die bloed van ons vaders en benat met die smartlike trane van ons moeders”. Met al dié geykte woorde het Daantjie tog gesê waarin hy geglo het, want die woorde het in hom ingegroei totdat daar rondom hom uiteindelik ’n geheiligde volk in ’n heilige vaderland was – met hom in die middelpunt. Teen die einde van sy belydenis het hy met ’n sagter, gepynigde stem die swakheid van sommige volksgenote betreur – dié wat so máklik, só maklik, dit wat heilig is kan weggee, sonder om bereid te wees om die offer te bring. Die óffer te bring.
“Ek is nie een van hulle nie, jy kan maar ophou,” het Wynand, wit om die mond, tussenin gesê.
Martie van Wynand was nie ’n imposante vrou nie. Sy was kort en geset, maar wat sy nie besit het aan gestalte nie, het sy voor opgemaak in opvlieëndheid. Sy’t alles wat Daantjie aan die sê was van harte geglo, en sy en Wynand het al dikwels woorde gehad oor sy vredeliewendheid, maar wat Daantjie in die rigting van haar man geskimp het, was te erg. In haar oë was weifeling al klaar ontrouheid, en ontrouheid die eie-broer van die grootste doodsonde denkbaar: verraad. Sy moes iets sê: “Dorothea, sê vir hierdie seuntjie van jou hy moet sy groot bek van Wynand af hou.”
“Daantjie wys nie vinger nie, Martie …”
“Ek het dit nie só bedoel nie, oom Wynand …” het Daantjie begin terugkrabbel, want sy pa se blik was swaar op hom.
’n Stilte het oor die familietafel kom broei. Oupa Daniël het ’n enkele keer in die rigting van vergewensgesindheid en broederlike liefde geskimp. Dit het nie gehelp nie. Net die messegoed het op borde geklik.
Dit was in dié stilte dat die klavier sy enkele noot laat val het. ’n Vuurhoutjie van ’n noot.
Die twee dogtertjies, Sussie en Driena, het gevra of hulle, terwyl die grootmense in die eetkamer eet, buite op die stoep hulle eie speelmaaltyd kon hê. Maar die kos was gou op en hulle het moeg geraak vir die speletjie. Sussie wou vir Driena tante Gertruida se klavier gaan wys en hulle het stil by die eettafel verbygeskuif tot voor die klavier. Sussie het die flap saggies oopgemaak, die vilt-bedekking oor die klawers weggetrek, en al wat sy wou maak, was om een noot stadig en dus sonder ’n geluid af te druk. Maar daar was ’n geluid en die noot het die gelade stilte ingevaar.
Gertruida het hulle sag vermaan: “Kom weg van die klavier af, kinders.”
“Driena, kom weg van daardie ding af!” het Martie skerper as wat sy gewoonlik met haar dogter praat, gesê.
Sussie het agtergekom dat daar iets groots verkeerd was tussen die grootmense en sy het flap saggies probeer toemaak. Maar haar hand het die klawers geraak en ’n vals akkoord het deur die vertrek geklink.
Martie het haar na haar skoonvader gedraai en hard, sodat die hardhorende ou man kan hoor, vir hom gesê: “My arme oorlede skoonmoeder draai vandag in haar graf om, Pa. Hoor Pa my? Ek sê, my arme oorlede skoonmoeder draai vandag in haar graf om, Pa.”
“Nou hoekom sal sy nou só ’n ding doen?”
“Nooit-nooit-ooit sou sy dit toegelaat het nie. Nóóit!”
Oupa Daniël was uit die veld geslaan: “Die-wat-nou sou sy nie wou toelaat nie?”
Wynand het Martie geken en probeer keer wat daar te kere was: “Martie, los die mense uit …”
“Nee, Wynand, ek het my sê en ek gaan hom sê.” Daar was ’n verbetenheid in haar stem en sy wou voortgaan, maar Gertruida het haar voorgespring: “Nou sê dan jou sê, maar ek kan nou al vir jou sê wat jy gaan sê: die klavier is Satan se instrument, dis wat jy wil sê. En hy’s hier omdat ek in die Kaap loop skoolgaan het tussen die Engelse, is dit nie? En dis hoekom ek nooit ’n man gekry het nie – soos jy agter my rug vir die Bothas gaan loop en vertel het, en oor my aanstellerigheid oor ek dink niemand hier is goed genoeg vir my nie! Dis wat jy wil sê!”
“Al wat ek vandag vir jou kan sê, Gertruida van Wyk, is dat my oorlede skoonmoeder nooit daardie wêreldlike ding in hierdie huis sou toegelaat het nie!”
“Gertruida speel net stigtelike musiek op die klavier, Martie,” het oupa Daniël sake probeer kalmeer.
“Moenie dit vir my probeer vertel nie … Vader. En om te dink sy’t die kosbare liefdesgeld wat haar moeder vir haar nagelaat het op hierdie duiwelsding verspil! Net sonde en versoeking kan uit daardie ding uit kom! Ek gaan hoed opsit.”
Daarmee is Martie die kamer uit. Wynand het sy kop geskud: “Sy word deesdae so. Dis seker maar oor die oorlog in almal se binnewerke rondkarring. Ek het die Here al so baie keer gevra dat Hy Martie moet verlos van dié godsdienstige ding … Wat lag jy, Gertruida?”
Gertruida wou nie verduidelik oor die Liewenheer se penarie met so ’n teenstrydige gebed nie, en het ná ’n “ag, sommer” stilgebly.
Wynand-hulle het dus nie oorgeslaap soos die plan was nie, maar dadelik begin aanstaltes maak. Hulle wou nie te diep-donker by die huis kom nie, was Wynand se verskoning.
Buite, waar Greeff besig was om Wynand se perde in te span, het Danie op sy beurt verskonend na die middag se woorde verwys: “As ’n vader is ek trots op Daantjie se warm gevoelens vir ons volk, Wynand. Hy is nog jonk en voortvarend …”
“Grootbekkigheid gaan ons nêrens bring nie.” Met dié woorde het Wynand heel onnodig om die kar na die ander kant van die perde gestap en daar aan ’n gespe gaan trek. Danie het geweet hoeveel dinge sy broer gelyk sê en toe maar eenkant bly staan tot die kar gereed was.
Voor hulle ry, wou Martie gou gaan verneem wat Fienatjie Minter oor die oorlog gedroom het. Sy het die kind agter die hoenderhok gekry waar sy en die skeel fotograaf besig was met ’n soort speletjie.
Maar die kind kon haar niks vertel nie, want toe sy Fienatjie vra wat sy deesdae droom, het die kind gesê sy droom van miere, baie-baie miere, en sy droom dat die miere die kinders laat sing. Sy huil altyd as sy van die miere droom, het Fienatjie bygesê, want sy droom sy sing saam met die ander kinders.
Aan sulke onsinnighede kon ’n grootmens haar tog nie steur nie. Dit het gelyk of die kind die talent wat sy met haar helm-geboorte gekry het, aan die verloor was. Martie het Fienatjie agter die hoenderhok by die vyand se verteenwoordiger gelos en op die kar gaan klim om te wag dat Wynand klaar groet sodat hulle kon ry.
Joey Drew het goed genoeg geweet dat die speletjies waarmee hy en Fienatjie agter die hoenderhok besig was vir ander mense vreemd sou lyk.
Partykeer het hy en Fienatjie ooreengekom dat hulle sal maak of hulle mekaar verstaan. Nie dat dit juis ’n ooreenkoms genoem kan word nie, want hulle het nog nie genoeg woorde tussen hulle gehad om iets so abstrak soos ’n ooreenkoms bymekaar te praat nie. Dit was sommer ’n saamstem dat hulle sal speel hulle verstaan mekaar.
In daardie tye kon Joey Drew haar vertel van al sy wedervaringe, waar hy al orals was, die plekke waar hy grootgeword het, die mense wat hy geken het, die myn, en hoe hy met Hans Bester saam die Vrystaat in is. En Fienatjie kon hom vertel hoe sy nog altyd elke keer die waarheid gedroom het, en wat sy deesdae droom en hoekom sy wakker word met ’n skreeu, en hoekom sy huil oor die kinders so sing. Op ’n keer het sy vir hom die lied van die kinders probeer voorsing, maar sy het net halfpad gekom. Toe sy so sing, het daar trane in haar oë gekom en Joey Drew kon nie trane in die wonder van haar oë verduur nie. Hy het haar gestop en getroos en vir die eerste keer in jare ’n mens vasgehou. Al was dit maar ’n klein bietjie mens.
Soms het hulle gesit en gesels soos twee ou mense – al te doof om mekaar te verstaan – wat maar elkeen op sy eie met die gesprek voortgaan en sommer praat vir die pret daarvan. Kamaliel, met gebare, lag en vrae.
Ander kere het hulle vir mekaar woorde geleer. Hulle was aangewese op die voorwerpe in hulle onmiddellike omgewing en het tweetalig geraak oor dinge soos klip, stok, muur, boom en hoendermis. Dit was al, tot Fienatjie agtergekom het jy kan die werkwoorde voorspeel. Dit was lekker.
Joey het vir haar ’n staalkam vir haar hare gebring, maar toe hy sien dat al die Minters skielik netjieser lyk, het hy, effens jaloers, ’n bliktrommeltjie uit Hans Bester se nalatenskap vir haar gegee. Hulle het die trommeltjie onder ’n klip teen die rantjie weggesteek. Al die skatte wat hy vir haar gebring het, is daarin bewaar: knope, ’n naald, ’n sakdoek, ’n kopergespe, twee muntstukke en ander waardevolle dinge. Dit was Fienatjie se rykste tyd, en Joey Drew se gelukkigste.
Net een keer het sy nie alleen hoenderhok toe gekom nie. Sy het ’n tolk nodig gehad en by Gertruida gaan soebat dat sy asseblief vir die Engelsman moet kom sê wat sy besig is om oor hom te droom. Gertruida het maar uit nuuskierigheid saamgestap en tolk gespeel.
Fienatjie, moes Joey hoor, het gedroom dat hy tannie Magrieta baie keer gaan afneem en vir haar, Fienatjie, twee keer, en nog een keer ampertjies.
Joey het vir Magrieta weer en weer afgeneem oor sy so mooi was, en vir Fienatjie wou hy afneem oor sy die wonder in haar oë gehad het. Joey het die volgende dag al vir Magrieta gevra of hy haar asseblief mag afneem – gratis, oor haar skoonheid. Sy het met Daantjie oor die voorstel gepraat en hy het dadelik gemaak of die afnemery eintlik sy idee was en aangedring om daarvoor te betaal. Joey het Magrieta na die beste moontlike lig geneem en vy oto’s geneem.
Maar vir Fienatjie kon hy net een keer afneem, omdat hy nog net een plaat oorgehad het. Dit was toe hy daardie foto’s neem dat Joey Drew begin verander het en ’n fotograaf van die ongewone geword het. Dit moes die noodlot gewees het, het hy altyd gesê, want hy het met nuwe oë leer kyk en gesien dat net die ongewone en nie-alledaagse eintlik die moeite werd is om te fotografeer – dit was veel beter as om die een familie na die ander in starende groepe te laat versteen.
Gertruida van Wyk het gehoor dat Joey Fienatjie net een keer afgeneem het, en sy was daarom seker dat hulle Joey weer sou sien, want Fienatjie het gedroom dat hy haar twee keer sal afneem en daarna nog een keer ampertjies. Hulle sou hom dus bepaald weer sien.
Want Fienatjie Minter het nooit verkeerd gedroom nie. Nooit.