Читать книгу Fees van die ongenooides - PG du Plessis - Страница 7
Drie
ОглавлениеDie oorlog het in Oktober gekom.
In die verre Brittanje het die aankondiging van nog ’n geringe oorloggie nie veel gevoelens gaande gemaak in onbetrokke kringe nie. Dié wat wel geïnteresseerd was in die dinge van die Britse Ryk kon natuurlik goed genoeg sien hoe die pers die vyand swartsmeer en die gemoedere opsweep, en hoe die politici met welgekose halwe waarhede – met die een oog op ’n loopbaan en die ander een op rede-soek – die geregtigheid buig en knak tot dit hulle pas. Uit die geringste kan ’n magtige ideaal opgetower word, en omtowering was hulle nering. Terwyl hulle agter hulle parades en blink knope skuil, het die leër-owerstes wat die tekens geken het, met wis-sekerheid beplan en gewoel rondom die senior aanstellings. Die geldmag het die invloed van die oorlog op die mark en die beurs bedink en so hier en daar ’n handjie bygesit om dinge bietjie aan te help. Gelukkig was daar genoeg aanstigters in Suid-Afrika.
Alles was dus normaal, soos alles normaal was met die baie oorloggies teen die inboorlinge, die minderes, die kultuurloses, die onbeskaafdes, die barbare. Die Boere was nie meer as daardie stamme en volkies nie, kyk maar in die pers, en alles was deel van die groot opmars van die beskawing en die lig wat versprei moes word: van die leer van christelike liefde, goeie administrasie, Victoriaanse maniere en moraliteit, en die behoorlik-winsgewende selfverryking uit ander mense se grondstowwe. Ná 200 oorloggies raak ’n mens gewoond daaraan, alhoewel die lokaas hierdie keer die grootste goudveld in die wêreld was – dié dinge kos geld – en nie net nog ’n stuk rooi aarde wat moes help keer dat die son nêrens oor die Empire ondergaan nie.
Die vallende blare van die Britse laatherfs het wel getoon dat die jaar besig was om te sterf, maar dit was nie waarna die mense gekyk het nie – dit was die kalender met sy syfers wat aangekondig het dat ’n ou eeu maak plek vir ’n nuwe.
In die ooptes van die Vrystaat en Transvaal het die ploeë al reggestaan om die grond te skeur vir die eerste oes van die nuwe eeu. Die vroeë donderbuie van ’n vars seisoen het begin om hulle seëninge oor die veld en lande te giet. In die boorde om die huise was bloeiseltyd amper verby en het die vruggies aan die dra-takkies begin bult. Die winterlammers het al die smaak van nuwe groen leer ken, en die beeste het uit hulle skraal winter gesteier na die vettigheid van ’n nuwe somer.
Daardie lente was gemaak vir vrede en vir boer, nie vir afwesighede oorlog toe nie. Die Boere het geboer, die seisoene was hulle bestaan, hulle leeftog en hulle bemoeienis, hulle gewoonte en hulle bekommernis. Dit was ’n ongeleë tyd om te gaan oorlog maak.
Veldkornet Willemse het met die boodskap gekom dat dit oorlog is en dat elke weerbare man by sy kommando moet aansluit – gewapen en berede, met mondprovisie vir agt dae.
Danie het onmiddellik vir Joey aangesê om die volgende oggend, en nie ’n oomblik later nie, te gaan.
Voor aandete daardie aand het Gertruida hom na die eetkamer toe gevat en ’n kaart uit die groot buffet gehaal. Sy het aan hom verduidelik hoe hy by Bloemfontein of Kimberley kon uitkom. Joey was verbaas oor hoe ver wes en suid hy na Hans Bester se dood op sy swerftog gevorder het. Hans se graf moet honderde myle van daar af wees.
Vroegoggend was sy kar al ingespan en sy goed opgepak. In die kombuis het Dorothea hom ’n laaste ontbyt laat toekom, hom soutvleis en beskuit vir padkos saamgegee, hom stram gegroet en in die huis verdwyn.
Joey Drew het gegaan. ’n Klein figuurtjie het vir hom van die bywonershuisie af gewaai. ’n Entjie van die plaashek af het hy die perde ingehou, opgestaan op die kar, en met al twee arms teruggewuif. Die afskeid was vir hom swaar. Hy het gewens hy het ’n manier gehad om Fienatjie so te fotografeer – só, waar sy, oorgegee aan die afskeid, met albei arms en ’n jubelende lyfie net vir hom waai.
Hy’t die pad Kimberley toe gevat, want Bloemfontein het te veel na daardie skraperige taal geklink.
Later, soos Gertruida voorspel het, het hy die grootpad gekry en daarmee saam groepe Boere wat op pad was na die front in die suide. Elke groep het hom gestop, sy goed deurgesoek, hom ondervra deur tolke van wisselende vermoëns en hom dan laat gaan.
Dit het mettertyd vir Joey duidelik geword dat hy met ’n soort paspoort sit: die kamera en ’n baie besige professionele houding. Die meeste groepe wou, wanneer hulle verneem wat sy nering is, hulle historiese oomblik laat verewig op Joey se geheimsinnige swart plaatjies, en wanneer hulle nie gevra het nie, het hy aangebied om hulle te fotografeer. Die bestellings vir afdrukke is geneem, die geringe vooraf-geldjie is betaal en aflewering sou ná die oorlog geskied by die apteek in Kimberley. Joey het die groepe met groot sorg gerangskik, baie te sê gehad oor die beskikbare lig, en dan sy “hold it, hold it, hold it, h-o-o-o-old” met oortuiging laat hoor voor hy sy onderwerpe met ’n leë kamera fotografeer. As daar te veel versoeke vir foto’s was, het Joey begin weier – omdat die koste daaraan verbonde so hoog is, het hy verduidelik, en omdat daar met die koms van die oorlog onsekerheid is oor die verdere beskikbaarheid van fotografiese materiaal. Dit mag dalk die laaste reeks portrette wees wat hy neem. Die man van Somerset, Engeland, het ’n sin vir die realistiese gehad. Dit was terwyl hy die mense dié guns doen, dat hy begin skimp het oor honger en wanneer hy laas ’n drankie oor sy lippe gehad het. Met goeie gevolg.
“’n Kamera is ’n geheime ding,” het Joey altyd gesê. “Hy’s soos onthou en lieg. Daardie goed kruip in jou kop weg en niemand sien iets van hulle as jy nie self uithaal en wys nie. Maar ’n kamera is nog beter. As jy onder daardie swart doek inbuk, weet niemand wat jy sien nie, en van wat daar gaan uitkom weet hulle nog minder. En met die oorlog was dit só dat niemand geweet het of hulle die goed ooit weer gaan raakloop nie.”
Maar die grootste bate van die kamera het in die menslike ydelheid gelê: as die mense se beelde eers êrens in die binnewerk van jou instrument sit, is hulle van jou goeie trou afhanklik, want jy’s al een wat kan sorg dat hulle hul begeerde beelde later in die hande kry. Sulke mense sal nooit jou kamera van jou af wegvat, of jou lot vir jou beswaar nie.
’n Kamera was ’n paspoort en, in die hande van die meester, ’n voorsiener van kos en drank.
Tog was dit nie juis die kamera wat Joey deur die beleëraars van Kimberley gekry het nie. Hy is die dorp in op die wieke van iets wat dalk ’n militêre glimlag genoem sou kon word. Ten spyte van die skoongewaste uiterlike waarna Joey sedert sy ontmoeting met Magrieta van Wyk so noulettend omsien, het ’n Boer by die blokkade Joey herken as die vuil Engelsmantjie wat op hulle plaas aangekom het en net in Engels kon brabbel. Hulle het hom destyds sommer maar weggejaag. Die veldkornet het Joey deurgekyk: Die mannetjie lyk nie of hy die draer kan wees van veel inligting nie. Arme Engelsman, met daardie ogies sal hy in elk geval nie gevaarlik kan skiet nie; hy lyk onskuldig genoeg; hy neem portrette vir ’n lewe; hy’s skytbang, want sy broek bewe elke keer as ’n kanon lostrek. Dis te veel moeite om met die mannetjie opgeskeep te sit, so, gee maar die mense van die dorp nog iemand om kos te gee. Laat hom maar deur.
Joey het van die besetters af weggery en die dorp genader. Hy kon al die De Beers-toring duidelik sien en die geboue en mynhope het al uit die plat verte begin oprys, toe die klank van die kanonladings wat in die dorp bars, Joey begin bekommer het. Agter hom bulder die grofgeskut en voor hom in die dorp dreun die ontploffings van hulle koeëls se ladings. Joey het hom verbeel hy kan al die plofstowwe ruik. Een keer kon hy sweer hy sien hoe ’n gebou se bakstene en balke die lug in geblaas word – met sinkplate wat soos stukkies karton rondvlie.
Daar was ’n dag by die myn toe Joey gesien het wat plofstof aan ’n mens en omgewing kan doen. Hy is daardie dag in die myn afgestuur om ’n klomp stukke mens te gaan optel ná ’n ontydige ontploffing. Daar was glo nog lewende dinamietkerse in die wand toe ’n span al tonnelstutte wou insit. Iemand het seker met die blaasgat gepeuter en die ontploffing moes amper in hulle gesigte afgegaan het. Joey moes help bymekaarsoek wat daar van drie man oorgebly het – die ander dooies was heel genoeg om in een stuk uitgehaal te word. Hulle moes soek na oorblyfsels – tussen klippe en rotse en versplinterde dakstutte – en hulle moes dit doen in ’n dik wolk stof, stof, stof, wat net nie wou gaan lê nie en met elke beweging weer van voor af opgestuif het. In die geel lig van hulle lampe het die tonnel soos die hel gelyk. Die herinnering het in Joey se keel kom sit – die stukke vleis, die lyntjies pees, die verpletterde skerwe been, ’n halwe kop, afgeskeurde ledemate … alles in die lig van ’n lamp en omwaas van stof, stof, stof. Die reuk het soos ’n naarheid weer by Joey teruggekom. Dit was die reuk van dinamiet, stof, ’n slaghuis en ’n kakhuis – alles inmekaargedraai en in jou neus opgeprop. Dit was die reuk van dinamietverpoeierde rots, van dood, en van al die safte organe en stowwe wat in die nog lewendes borrel en dein.
Joey het begin om sy vrees vir die oop ruimtes te heroorweeg. Dáár was dit ten minste stil en veilig. Hy het geweifel. Agter hom het die grofgeskut gebulder en voor hom het die ontploffings uit die dorp teruggedreun. Dit kon net beter wees buite die beleg.
Hy het omgedraai en teruggery na waar hy vandaan gekom het. Die Boere het sy dilemma van ver af dopgehou. Toe hy by hulle aankom, het hulle gevra waar dink hy gaan hy nóú heen? Weet hy dan nie daar’s oorlog en die dorp is onder beleg nie?
Soos ’n rot in ’n val, het Joey gedink.
Daaroor het Joey en die Boere saamgestem.
Hulle het op die eerste dag nadat hulle berig ontvang het op kommando gegaan.
Oupa Daniël het die afskeidsgebed gedoen waar hulle voor die tuinhekkie bymekaar was. Die vroue het trane afgevee, en die mans het met toe oë en met hulle hoede in hulle hande gestaan. Alhoewel hulle “sidderend voor die troon van die Almagtige God”, soos oupa Daniël dit genoem het, bymekaar was, was hulle nie een groep nie, maar drie, want elkeen het volgens sy stand gestaan. Hulle het vergader volgens die regte, voorregte, vooroordele en verbande wat op daardie voor-oorlogse oomblik nog gegeld het. Dit kon nie anders wees nie. Hulle het nie eens geweet dat hulle dit doen nie, en hulle het nie besef hoe hulle toekoms van daardie saamwees af sou uitwaaier in ondenkbare rigtings nie. Op daardie oomblik het die voorskrifte van vredestyd nog gegeld.
Hulle kon ook nie weet dat, soos op Joey Drew se familie-foto, hulle bymekaarwees só, ’n laaste is nie, want hulle het nog nie die versteurings van geweld geken nie. Miskien het Fienatjie so iets gedroom, maar wie sou nou wou luister na so ’n donker en ingewikkelde droom oor hoe ver en hoe naby mense op gedeelde oomblikke aan mekaar is. Sy’t dalk net gedroom hoe hulle onder daardie gebed sou staan: Die Van Wyks eenkant, Dorothea langs Danie, Gertruida naby die twee, Sussie aan haar pa se hand, Daantjie en Magrieta naby, maar op hulle eie, want Daantjie het ’n handholte, ’n onthou-hand, op Magrieta se stywe, ronde boud gehou; Nellie alleen, haar oë oop en op Petrus Minter gerig. Die Minters het hulle eie groep op respekafstand gevorm en, drie treë respek verder, was daar twee swart mans: Soldaat wat sou saamgaan en Greeff wat sou bly en maar net daar was om die perde vas te hou.
En so het hulle gegroet en weggery. Met hulle perde en pakperde. Net Petrus Minter was bloots op ’n muil, want Soldaat het sy eie perd gehad en die ander perde was nodig vir plaaswerk.
Tot hulle klere het iets van die wydtes tussen hulle vertel. Daantjie het die vorige aand sy nuwe breërandhoed van die hangkas af gehaal en Magrieta het die een rand vir hom opgespeld met ’n patriotiese borsspeld wat hy haar nog gegee het. Om sy nek was ’n rooi nekdoek, sy hemp, baadjie en wye rybroek het by mekaar gepas, sy kamas-laarse was blink, gebosseleer en het tot by sy knieë gekom. Sy spore was blink en geketting, sy perd geroskam en afgevryf, sy saal en toom ingesmeer en gepoets. Daantjie van Wyk wou lyk soos ’n vermoënde man wat oorlog toe gaan, en hy het. Nadat die prosessie deur die onderste plaashek is, het Daantjie sy perd op ’n galop getrek, tot bo-op die koppietjie gery en daar dwars gedraai, in die stiebeuels opgestaan en, hoed in die hand, met een wye, dramatiese wuif afskeid geneem van die groepie wat hulle nog van die voorstoep af agternagekyk het.
Agter op sy muil het Petrus Minter die papiertjie wat Nellie hom met die groet in die hand gedruk het, oopgevou en gelees. Sy wou nie voorbarig wees nie, het sy geskryf, maar haar liefde gaan saam met hom. Hy kon nie die gehamer in sy bors stilkry nie. Hy het homself toegelaat om anders aan Nellie te dink: aan haar oë, haar jong mond, haar stem, haar lyf.
Soldaat het die toon wat hom so pynig sedert die klavier daarop geval het, probeer vergeet, maar die kloppende verswering het dit nie toegelaat nie.
Danie het gewonder wat hy vergeet het om vir die agtergeblewenes te sê oor hoe die boerdery tydens die mans se afwesigheid behartig moes word.
Jakop Minter, gewoond om wat ook al voorval die hoof te bied soos dit verbykom, en niks meer nie, het maar sy oë op die perd se ore en nek gehou en voortgery.
Hulle het later wat met Daantjie gebeur het by die slag van Tweeriviere “daardie ding” genoem. Selfs onder mekaar het hulle dit nie ’n naam wou gee nie. Toe hulle daardie aand ná die slag by die kamp aankom, het Danie vir Petrus, Jakop en Daantjie bymekaargeroep en vir hulle gesê hy wil nie hê “daardie ding” wat met Daantjie gebeur het, moet rugbaar raak nie.
Die drie wat om hom gestaan het – die Minters verleë, Daantjie kop-onderstebo – het Danie in stilte aangehoor en nie weer daarvan gepraat nie, behalwe wanneer dit nodig was. En net onder mekaar.
“Daardie ding” het met Daantjie gebeur net onder die samevloeiing van die Riet- en Modderrivier. Dit is jong riviere. Die magtige erosie van miljoene jare het die leegtes van die Karoo opgevul. Wat hoër op losgespoel en weggevat is deur ondenkbare waters en soms die winde, het afgedreun en afgesyfer en afgespoel en neergesif in die laer dele en vloedvlaktes gemaak, toe groter vloedvlaktes, totdat die gelykte van die Karoo en die Suid-Vrystaat aanmekaar gelê het. En toe die seisoene stadig verander soos die kontinente skuif, het die reëns begin minder word, die stowwe meer, die plante minder, totdat daar omtrent net bossies en steekgras oorgebly het tussen die yl-verspreide bosse en bome. Van hulle het net die gehardstes oorleef – die diepgeworteldes, die smalblariges, die doringdraers. Behalwe langs die riviere.
Teen die gesigseinders van dié landskap, soos die geskubde rûe van prehistoriese monsters, lê die rantjies in snoere. Blou, mooigemaak deur afstand, omkring hulle elke vlakte. Van naby af is die rantjies rof, en net die vaagste herinnering van eilandwees kleef nog aan hulle, maar hul weerstand teen erosie staan in hardkoppige klip geskryf: in die barre, skoongespoelde, swartgebakte rotse van hulle rûe.
Dít was die riwwe rant wat tussen die Britse magte en Kimberley gelê het.
En die riviere. Hulle was laatkommers, dié riviere, want hulle moes van voor af aan hulle weg deur die vlaktes vreet soos hulle eers die panne en mere help gelykslik het en hulle toe aanmekaargeryg het van uitloop tot inloop tot uitloop. Totdat hulle strome geword en hulle pad tot in die Oranje skoongemaak het. En dit is ook al ’n rukkie dat hulle hul kronkelpaaie deur die gelyktes aan ’t uitvreet is. Maar daarmee sal hulle nooit klaarky nie, want hulle waters is nog steeds bruin van dié inspanning.
Die spoorlyn van die Kaap af na die skatte van die binneland het sy brug gekry net onder die samevloeiing van die twee riviere. Die Britte se logistiek het die treinspoor nodig gehad – vir manskappe, waens, proviand, trek- en rydiere, kanonne, ammunisie en alles wat ’n leër wat beweeg nodig het. Die seshonderd myl Kaap toe was ’n lang ent. Hulle is oor die heel brug oor die Oranje, al het hulle hulle eerste teenstand gekry by Belmont en Graspan. Die volgende voorlêplek vir die Boeremagte was die Modderrivier.
Die Van Wyks en Minters se kommando het eers die dag voor daardie slag by die Boeremagte aangesluit, want hulle moes ’n rukkie na die ooste toe oorlê en wag vir ’n aanval wat nooit gekom het nie. In die kamp agter die linies het hulle die middag by dié wat die eerste twee veldslae meegemaak het, gehoor van die dooies en die gewondes, van dié wat te vroeg gehardloop het, van hoe die lood van die lee-enfields en leemetfords smaak – en van die meksims en skeepskanonne. Die lewe was hel op die klipperige rantjies, het die burgers wat daar was, vertel, want dit was waarop die Engelse hulle grofgeskut gerig het. Die liddiet-ontploffings het die oorlewendes half doof gelaat, die skerwe van klip en bom het gevaarlik tussen al daardie hardheid rondgespat en die poeier van die liddiet het geel aan die rotse gesit. Ná die slag van ’n ontploffing het dit skerwe gereën en die geel poeier het teruggesif oor die kraters. Amper iets soos ’n buitjie meelgemaalde bobbejaanstront, het een verduidelik. En die ding het jou ’n kopseer gegee soos jy nie gedink het jy kan hê nie.
Daantjie van Wyk het geweet dat hy nou aangeland het by die plek waar hy moes wees. By die front; by die aksie. Die aangename gevoel van ’n held te wees, het soos in sy lugkastele deur hom gespoel. Dáár het hy groot dade verrig, groot erkennings ontvang en kon hy baai in die bewondering van sy pragtige Magrieta.
In die kamp was hy dadelik vol vrye menings. Hoekom, het hy gevra, vat ons nie ’n kommando en sny die spoorlyn agter die Engelse af nie? En die weghardlopery en terugvallery moes dadelik stop, want dis die papbroekigheid van mense wat nie bereid is om hulle offers te bring nie. Niks anders nie.
Die moeë groep voor wie hy gesit en opgee het, het hom in stilte aangehoor, tot een van hulle gedink het dis genoeg: “Dit lyk my ons het ’n nuwe generaal hier, manne! Loop vreet jy eers lood en spoeg dit uit voor jy hier kom voorsê, Van Wyk. Jy met jou blink gewaad lyk hoeka nie gemaak vir oorlog nie.”
“Wat bedoel jy? Dat ek saam met julle sal weghardloop?”
Danie het sy seun uit die geselskap uit weggeneem.
“Jy’t heeltemal gelyk,” het hy vir die man gesê, “ons was nog nie daar nie.”
Later daardie aand, ná ’n goeie maaltyd en die aandgodsdiens, het Danie vir Daantjie aangespreek: “Jy moenie so met mense praat nie, ou seun. Laat jou dade eers vir jou praat. Jy is ’n leier, maar dit help nie om jou ongewild te maak voor die verkiesing van die volgende veldkornet nie. Wees maar jouself, maar sorg dat jy die respek van mense verdien. Respek kom nie van harde woorde nie.”
Danie van Wyk het baie van sy seun verwag en hy was trots op hom. Hy het geglo dat Daantjie ’n sterk persoonlikheid het, dat hy baie goed in die openbaar praat, en dat hy daarby ’n aantreklike man is. Aan sy effens blosende gelaat, sy netjiese uiterlike en sy trots houding, kon die vadersoog sommer sien dat sy seun uitgeknip is vir groter dinge. Danie het die Here baie gedank dat Hy vir die Van Wyks ’n draer van die stamnaam gestuur het wat soveel mooi moontlikhede in hom het. Die enigste bekommernis wat Daantjie ooit vir Danie gebring het, was toe sy seun in sy jongkêreldae te veel by die nooiens rondgekuier het. Al praat vaders en seuns nie eintlik oor dié soort ding nie, het hy tog vir Daantjie gewaarsku dat hy moet sorg dat dit nie met hom gebeur wat met Dirk de Jager gebeur het nie.
“As jy te ver gaan met ’n meisie word jy klei in haar hande, my seun. As ’n ongetroude vrou by een man slaap, slaap sy dalk by meer as een, en as daar iets gebeur kan sy die vinger na enigeen wys. En sy sal haar vinger wys na die hubaarste. Kyk wat het met Dirk gebeur. Hy sit vandag met die dogter van ’n bywoner en hy’s te skaam om haar voor mense te bring, want in hom sit die verleentheid van ’n leuen. Daardie kleintjie het rooi hare. In die hele distrik is jy die hubaarste man, Daantjie. Moenie jou laat vang nie, trou jou stand.”
Dis wat Danie gesê het, alhoewel hy sy seun se rondkuiery nie heeltemal afgekeur het nie. ’n Seun is ’n man, en ’n os vir ’n seun wil ’n pa tog ook nie hê nie. Maar Daantjie was ’n Van Wyk en die Van Wyks was tot dusver sonder daardie skande. Daantjie moes hom net nie deur die minderes en die maklikes laat vang nie. Vir die koms van die pragtige Magrieta was Danie baie dankbaar, want hy’t geweet dat met so ’n vrou geen man weer na iemand anders sal kyk nie.
Hulle is in die voornag afgeneem rivier toe. Hulle perde kon hulle buite gevaar hou agter die steil walle en van die afsaalplek af kon hulle gou na hulle aangewese plek loop. Hulle kon die kissies ammunisie en die grawe maklik aandra na die plek waar hulle sou lê – aan die suideroewer van die rivier.
Die grawe van die loopgrafie was maklik, want die sandgrond was nog klam van die vorige week se reën. Hulle was gou klaar en het maar gelê en wag vir die oggend en die vyand.
Hulle was ses by die stukkie loopgraaf wat met ’n kinkel by die burgers aan hulle regterkant se sloot aangesluit het. Na links was daar ’n ooptetjie voor die loopgraaf van die res van hulle kommando weer begin het. Hulle was ses: die Van Wyks, die Minters en ’n buurman, Gerhardus van As. Agter, onder die wal en tussen die riete, het Soldaat gesit. Hy het met moeite saamgekom, die grootste deel van die sloot saam met Petrus Minter gegrawe en die ammunisie aangedra. Soldaat het gesukkel, want sy toon wat nie wou regkom nie, was seer. Daantjie was al ongeduldig met sy gehink en het gesê die ding moet nou afvrot en klaarkry. Maar onder die wal kon hy rus en sy pyn verduur, al was hy onrustig, omdat hy al meer begin agterkom dat die gesweer in sy toon in sy kop begin werk. Sy gedagtes was deurmekaar, hy het gesweet en koud en warm gekry, en by tye was dit of hy nie mooi weet wat om hom aangaan nie. Maar hulle het hom gelukkig weggewys van die loopgraaf af, want, het Daantjie gesê, dit is ’n witmansoorlog hierdie en Soldaat het niks daarbo tussen die lood verloor nie.
Danie sou daardie nag altyd presies onthou, omdat dit die laaste keer was wat hy rus in sy gemoed gehad het. Amper elke oomblik kon hy onthou:
Agter hulle het die rivier in sy donker bedding tussen die steil walle sy geruislose gang gegaan. Aan hulle linkerkant, meer as ’n halfmyl ver, het ’n lig deur die donker geflikker. Dit was die lig van Modderrivierstasie naby die opgeblaasde brug oor die rivier en ’n baken vir vriend en vyand.
Hulle het meestal stil gesit-lê in die loopgraaf en soms geluister vir geluide uit die suide waarvandaan die vyand sou kom. Daar was nie ’n oggendbries om die riete agter hulle te laat roer en ritsel nie. Dit het vir Danie gevoel asof die riete en die oop veld rondom hulle daardie nanag saam met hom asem ophou voor die onbekende wat kom. Dit was die 28ste November en somer. Die dag wat kom, sou sy lig gooi oor die vars jong spriete en stengels van die somergras wat al deur die geel winterstoppels gegroei het. Daar was nuwe blare en bloeisels aan die bossies en bosse. Die doringbome het al vars volblaartjies aan blink, nuwe twyge. Die landskap sou al somer-sag wees, en agter hulle in die riete het die skerp nuwe groei al deur die droë stele van die vorige jaar begin breek asof hulle haastig was, want hulle moes al hulle groei in een seisoen klaarkry. Van die vinke wat hulle vroegaand so versteur het, het tog in die riete geslaap en hulle sou wel aan die stele hang, so naby moontlik aan hul half-voltooide meesterstukke. Op die vlakte voor hulle sou daar ander voëls slaap: die luidrugtige dikkopkorhane, die kwartels en koestertjies in hulle knus holtes. In die doringbome en taaibosse sal daar tortelduiwe wees en naby hulle sal ’n laksman slaap. Daar sal ’n jakkals êrens draf en ’n rooikat, ’n muishond en ’n vlakhaas. Pofadders en kapelle en akkedisse, geitjies en koggelmanders sal stram wag vir die son om hulle reptielbloed weer op te warm vir beweging, en daar sal bokkies wees op dun stelte – duikers, steenbokkies, springbokke. Diere wéét goed, wag hulle ook?
Nooit sou Danie weer so naby aan die land voel as in die stilte van daardie wag nie.
’n Land, was wat hy gedink het.
Hy het later onthou hoe ’n angstigheid, amper so redeloos en raak soos ’n dier s’n, daardie nag in hom kom sit het. In dié terugdink van later af het hy altyd gewonder of hy daardie nag ’n soort voorgevoel, ’n gesig, kon gehad het van die verlies, die verliese, wat na hom toe sou kom – al kon hy geen benul hê uit watter rigting syne orals sou kom nie.
Die swaar dreun van ’n trein het deur die grond onder hulle begin bewe. En veraf het die ritme van stoom deur die oggend gepols. In die ooste was die skynsel van die oggend in die vlieswolkies te lese.
“Dit gaan ’n warm dag wees,” het Danie voorspel.
“Nie so warm soos vir die Engelse nie, Pa.”
“Onthou dat ons die visiere stel vir die opgeefsel, Jakop,” het Danie almal herinner.
Daar was niks anders om te doen as om te wag nie. Die vyand sou dan daardie dag kom. Daar sal ’n gepantserde trein met grofgeskut op wees; die infanterie sal in ’n lang dwarsstreep kom; die ligter artillerie sal net buite kleingeweer-afstand staangemaak word; daar sal ’n masjiengeweer wees wat dinge kan warm maak. So is hulle vertel. En onthou, julle het almal al op die vlaktes gejag, julle weet wat maak die hitte en die opgeefsel met julle visiere en die manier waarop julle koeëls trek. Dis soos om ’n vis deur water te skiet. En onthou verder julle sal net ’n stukkie van die geveg sien, die generaal sal weet wat aangaan oor die hele linie. Luister tog na bevele en moenie probeer slim en braaf raak op julle eie nie. Gehoorsaam bevele.
Op die plat horison, nog platter as jy lê, het ’n strepie in die vroegste lig verskyn. En was dit rook of stoom daar regs? Sien jy die taaibos daar, net links van hom. Moet die trein wees. Hulle kom soos ons gesê is – net soos op Graspan en Belmont.
Die streep op die horison het uitmekaargerafel en kolletjies gemaak, die kolletjies het uitroeptekens geword, en die uitroeptekens soldate. Hulle mog nie skiet voor die sein nie. Met die vyand op duisend treë het daar ’n skoot geklap. Bietjie gou, dalk het iemand se uithou padgegee, maar die skietery het begin. Hulle het oor die gelyk grond geskiet en elke staande man was ’n goeie teiken. Baie beter as om van die hoogtes af te skiet, want van daar af was dié wat lê amper beter teikens. Hoeveel ammunisie het hulle daar op dooies gemors?
Die mausers het sonder ophou langs die linie af geknetter, die pom-pom se dowwe hik het by hulle aangesluit en die antwoord het gekom. Aan die begin, toe die lig nog donker-vals was, kon jy ’n strepie flikkertjies uitmaak – vonkies uit die bekke van leemetfords. Die meksims het begin afstand soek, en die skeepskanon. Die diepdreun-golwe van ontploffings het deur die grond begin bewe. Die hel was los en al wat jy kon doen, was om so goed moontlik te korrel en die skoot af te knyp. Hou die rumoer uit jou ore uit, vergeet die koeëls wat deur die riete zirts, die gesing van die opslagkoeëls, die stof wat opgeskop word deur ’n stukkie warm lood wat hierdie keer goddank nie deur jou gegaan het nie.
Hulle het later so min te vertelle gehad oor daardie ure. Hulle kon net dinge vertel wat dié wat nie daar was nie sou begryp. Soos die hitte van daardie dag, dít kan ander tog verstaan. Van hoe die son op hulle rûe en die agterkant van hulle bene neergebrand het vir elke uur wat hy op daardie 28ste November geskyn het. Maar die taal van ’n veldslag soos die gewere en grofgeskut hom praat, laat hom nie vir vreemde ore vertaal nie. Net soos die nabyheid van die dood nie vertel kan word nie, of die spanning wat in jou sit totdat die afgematheid oorneem en jou nie meer laat omgee nie. Hou dit vir jouself, want tot die goed wat op daardie dag uitgestaan het bo ander, klink klein en onbelangrik. Wie stel belang in hoe warm ’n geweer kan word? Of hoe groot die doppiehoop langs jou kan groei? Of ’n dors tien tree van ’n rivier af? ’n Mens kan dalk nie eers tien ure son vertel nie, want dis net die storie van die oggendstilte wat verpletter is, van ’n hele dag son waarin die blou waters van die opgeefsels in jou visier bewe totdat die genadige laatmiddag kom. Die hitteverwronge gedaantes wat voor jou visier soos gode op die waters van die lugspieëling geloop, en soms geval het … wéét jy sélf nog van hulle? En selfs die stilte, die goddelike, moeë stilte ná die tyd, is te groot om te vertel, selfs vir jouself, want jy kan dit nooit weer regtig hoor nie – nie as jy nie eers ’n dag in die dreun van mensgemaakte dood gelê het nie.
Die een ding wat die Van Wyks en Minters sou kon vertel, het hulle gesweer hulle sou nie. Want dit was “daardie ding” wat met Daantjie gebeur het.
Daantjie en Gerhard van As was langs mekaar in die sloot. Die hele oggend het hulle skoot vir skoot saamgeskiet. Dit het met Daantjie gebeur toe die windjie gaan lê en die ergste hitte oor hulle begin toesak. Die lyne van die landskap was toe al onseker en het in golwe begin bewe. Die vlakte het ’n stoofplaat geword. Voorwerpe op ’n afstand het begin verwater. Op agthonderd treë het die opgeefsel sy eerste blou strepies getrek. ’n Paar van die vyand het tot in ’n duikie op drie-, vierhonderd treë gevorder. Daantjie en Gerhard het geweet hulle was daar, maar kon hulle nie van so laag af sien nie en het nie geweet hoeveel nader hulle buite sig deur die leegtetjie sou kon kruip nie.
Gerhard van As het half orent gekom om te sien of hy hulle nie kan gewaar nie.
“Sien jy hulle?” was Daantjie besig om te vra.
Die leemetford-koeël het Van As in die linkerkakebeen getref, sy wang oopgekloof en sy tande verbrysel. Sy neksening was af en sy slagaar geskeur.
Daantjie het na Van As gekyk toe die koeël tref. Die klank, selfs in daardie lawaai, het Daantjie van ’n afstand af geken – wanneer ’n koeël op die blad van ’n bok klap, of wanneer ’n slag-os se bene onder hom invou en hy neerslaan. Maar Gerhard van As se kop het oorgeruk na die kant van die nog gespanne en onbeskadigde regter-neksening en die beweging het die wond in sy vergruisde linkerkaak oopgesper. Daar was skielik nog ’n mond met stukkies tand en kakebeen en ’n tong. En toe het die bloed na albei monde gekom en die slagaar het ’n straaltjie rooi gespuit op die maat van ’n hartslag. Van As se oë was verwilderd en het hulle wit gewys soos dié van iemand wat verwurg word. Miskien wou hy skreeu, maar hy het te veel mondopeninge gehad vir sy tong om te beheer en sy keel het net ’n rooi sproei uitgeblaas. Hy kon nie meer skreeu met die laaste lug uit sy longe nie – sy bloedverdronke stembande kon net ’n gorrelgeluid uitkry. Hy het vir amper twee sekondes probeer regop kom, asof hy wou opstaan, en toe het hy geval, gesneuwel.
In daardie twee sekondes is ’n stempel van wat die dood is, êrens in Daantjie van Wyk se binneste harsings afgedruk. Soos ’n bok wat die spartel opgee en verslap onder die tande en kloue van ’n onafwendbare dood, het Daantjie in die koel, pynloos-neutrale kuil van bewusteloosheid weggesink. Die sagte waters het oor hom toegemaak en sy sinne oorspoel. Hy’t nie meer die dreun van die veldslag gehoor nie, hy’t nie meer die hitte gevoel nie, hy’t nie meer die vrees met bravade probeer besweer nie, hy’t nie meer met beklemming gewonder hoe dit moes voel nie.
Danie het eers agtergekom dat daar iets met Daantjie skeel toe Petrus Minter agter hom verbykruip na die gevalle Van As toe. Petrus het die bloeding met sy hand probeer keer, maar dit het uit te veel plekke geborrel en gespuit. Dit was maar ’n paar oomblikke voor die polsinge begin hort, verflou en heeltemal opgehou het.
Maar Danie was meer bekommerd oor sy seun wat tussen die doppies en bloed op die bodem van die sloot lê. Hy’t na Daantjie toe gekruip en aanhoudend vir Petrus gevra: “Waar’s hy geskiet? Waar is Daantjie geskiet?”
Hy het Daantjie op sy rug gedraai en gesoek na ’n wond, na bloed. Daar was nie ’n wond nie en die bloed was Van As s’n. Maar Daantjie se spiere was slap – sy lyf en ledemate willoos. Danie het sy oor teen sy seun se bors gedruk en hy kon dofweg ’n hartklop onderskei – meer op gevoel as wat hy dit in die gedonder kon hoor. Hy’t sy hand natgelek en voor Daantjie se mond gehou en die koel van asemhaling gevoel. Daantjie se ribbes het beweeg.
En toe het Danie dit gesien. Tussen Daantjie se bene het daar ’n nat kol gekom wat teen die een been van sy rybroek af beweeg en begin uitsprei het. Danie het na die steeds groter wordende donker kol gestaar met oë wat nie wou glo nie.
“Hy pis hom nat,” het Danie gesê. “Hy’s besig om hom nat te pis!” het hy herhaal toe die waarheid tot hom deurdring.
Danie van Wyk het op sy voete gekom, hy het oop en bloot in die vlak loopgraaf gestaan en hom nie gesteur aan die koeëls wat soos bye om die maklike teiken toesak nie.
“My seun pis hom nat!” het hy geskree. Nie vir iemand nie, sommer om sy teleurstelling vir God te sê. En toe het hy vir die eerste keer in sy lewe sy seun geskop. Hy het afgekyk op die willose liggaam deur oë wat half blind was van trane. Hy het die lyf wat daar lê, geskop, en geskreeu: “Word wakker en veg, bliksem. Jy’s ’n Van Wyk, veg!” Dit was of hy Daantjie wou terugskop tot die man wat hy wou gehad het hy moet wees, tot die seun wat hy gedink het hy het, tot die man wat hy begeer het hy moes word. Hy het regop gebly en aanhou skop, asof hy wens die stroom lood om hom wil hom saamsleur, déúr hom gaan en sy teleurstelling en die verlies van sy seun uitwis. Maar geen koeël was so genadig nie. Die bebloede hande van Petrus Minter het opgereik en Danie in die loopgraaf teruggerem.
“Buk af, oom Danie, hulle gaan Oom raakskiet. Hulle is besig om hier links te wil deurbreek waar die bom die sloot getref het. Ons moet hulle nóú keer.”
Die bywonerseun het Danie sonder seremonie teruggedruk na sy plek toe en hom sy geweer in die hand gedruk. “Ons het elke geweer nodig, Oom. Kan Soldaat skiet?”
Danie het nie geweet of Soldaat kon skiet nie, hy het net ’n vol magasyn met bewende vingers ingesit, die slot oor die boonste patroon toegedruk en die loop oor die dooierus-walletjie gestoot. Sy oë was nou droog genoeg vir korrel.
Petrus Minter het Van As se hoed oor die lyk se verwonde gesig gesit, want hy was aaklig om na te kyk en die eerste veldvlieë was van god-weet-waar-af al daar. Hy het Soldaat byna opgesleep teen die wal uit, hom in Daantjie se plek laat kniel en eers die afstand van die visier ingestel. Hy het opgemerk dat Daantjie die laaste tweehonderd treë wat die vyand nader gekom het, nie die visier aangepas het nie. Daantjie was ’n lafaard. Die ontdekking het ’n oomblik by hom gebly. Daar was ’n soort genoegdoening aan die gedagte: Blink-Daantjie van Wyk, Grootbek-Daantjie, Baasspeel-Daantjie, Spog-Daantjie van Wyk wat hom soveel geskel en verbie en ge-Minter het, was ’n papgat.
Soldaat het in die sloot gekniel en sy voet só gehou dat sy toon minder pyn. Daarna het hy by die witmansoorlog aangesluit. Dit was Daantjie wat hom skelm leer skiet het en dit was vir Soldaat gepas dat hy Daantjie se werk vir hom moes doen.
Hy’t geweet wat met Daantjie gebeur het, want hy kon sien Daantjie is nie dood nie en sy broek is nat. Soldaat het geweet Daantjie van Wyk het homself daardie dag ontmoet, en dat hy die vreemdeling wat hy raakgeloop het, sal haat met alles wat hy gedink het hy is.
Laat daardie middag het die slag sommer begin uitloop. Die vyand is die grootste deel van die dag in die hitte vasgepen en hoeveel ammunisie kan ’n voetsoldaat dra? Die Boere het nie geweet dat dit nie ammunisie is waaraan die Kakies dink nie, maar aan die waterkarre wat dit nie te naby wou waag nie. Hulle het stadig begin terugval van die punte waar hulle die verste gevorder het. Die geweer- en kanonvuur het hortend begin kom, minder geword, en uiteindelik opgehou. Die slag het verbygegaan. Die klanke van ’n beuel moet iets vir hulle beteken. Die son was al laag, en die hitte het met die wegsak van die bron versag. Daardie vreemde gesamentlike besef dat die slag verby is, het in vriend en vyand opgekom. Die Boere-linie het gehou, behalwe op een plek, en daar was die deurbraak kortstondig. Die aanvallers het teruggekeer na waar hulle vandaan gekom het, die bedreiging was verby. Hulle sou nie daardie dag weer probeer nie. Die gepantserde trein het begin stoom opbou.
Hulle moes die loopgrawe verlaat en terugkeer kamp toe, het die bevel langs die linie af gekom, en hulle moes alles van nut saam terugbring. Daar sal gereël word oor die lyke. Almal moes met die gewondes help.
Daantjie was nie meer flou nie, maar hy’t opgekrul gelê soos ’n krimpvarkie. Hy’t gebewe. Hoekom so bewe in dié hitte? Petrus Minter het maar geraai toe hy en Soldaat oor Daantjie buk. Miskien was dit omdat hy bang was vir sy pa. Dalk het hy geweet hoe sy pa hom geskop het. Maar dit was nie daardie vrees nie. Net Soldaat het aangevoel dat dié verlam-angs niks met jou kop of hart se wil te doen het nie, maar dat hy sommer in ’n mens kan kom sit sonder dat jy hom geroep het – in mens en dier. Want Soldaat het al gesien hoe gevange steenbokkies onbeskadigd oorgee en vrek, en hoe ’n swartslang hom uit sy vasgekeerdheid probeer lieg met doodspeel: met sy bek skeef van sy kamaliel-dood en sy weerlose pens boontoe, óóp voor sy bedreiger – sy ontwapening ’n verdere bewys van sy vrekte. Dalk is ’n rinkhals régtig flou, het Soldaat se koorsbenewelde kop gewonder.
“Ek sal hom terughelp,” het hy aangebied, want Danie het óór die liggame van sy seun en Van As getrap en aangegaan asof hulle nie bestaan nie. Jakop Minter wou weet wat aangaan, maar Danie het hom kortaf saamgeroep.
“Staan op, dis verby,” het Petrus vir Daantjie gesê. Daar was geen reaksie nie. Petrus het Daantjie opgetel, die drie treë rivierwal toe gedra en hom teen die steil helling afgegooi. Daantjie het afgerol tot in die vlak water tussen die naaste riete.
“Dalk lawe dít hom!”
Daantjie het nat en skaam uit die modderwater opgestaan en sommer met die riete langs begin aansukkel na die afsaalplek toe. Hy’t niks probeer saamvat nie. Soldaat het sy geweer en die hoed met die opslaanrand waarop Magrieta se patriotiese borsspeld blink, opgetel, en saam met die grawe, kos- en drinkgoed agternagedra. Petrus was besig om die ongebruikte patrone bymekaar te maak.
By die perde het hulle gesien dat Danie en Jakop al opgesaal en gery het.
“Gaan jy saam met hom, Soldaat, ek wil kyk waar ek met die gewondes kan help.”
Soldaat het klaar die ander stem in Petrus Minter begin hoor. Hy het hulle perde opgesaal en Daantjie het opgeklim. Hulle het nie gepraat met die terugry nie. Soldaat se koorsigheid het begin om sy sinne heeltemal te benewel. Hy het met moeite op die perd gebly. Die toon was amper nie meer seer nie, behalwe wanneer die stiebeuel of die perd se sy aan hom raak en die hel deur die toon, sy been en sy heup skiet. Maar tog was hy nog helder genoeg om agter te kom dat Daantjie saggies aan die huil was. Soos ’n man wat ’n gehate vreemdeling in homself raakgeloop het, sou Soldaat gedink het as hy nog kon.
In die kamp het Danie sy skoene uitgetrek en sy pyp opgesteek. “Daardie ding” het hom seerder gemaak as enigiets wat hy al ervaar het. Hy’t sy seun verloor. Die brawe dood van ’n gesneuwelde sou vir hom verkieslik gewees het bo “daardie ding”. En hy, Danie van Wyk, is reggehelp deur ’n bywoner se seun wat nie eens ’n oorlogsperd het nie. ’n Swart man, sy gedienstige kneg oor soveel jare, het sy-aan-sy met hom geveg in die plek waar sy seun moes wees. Danie het geweet dat iets tydens die geveg begin meegee het. Die verhoudings was klaar anders en sou nooit weer dieselfde wees nie.
Later, dit was al aand, het Danie Petrus Minter sonder sy hemp oor ’n skottel water sien staan. Hy was besig om die droë bloed van Van As en die varser rooi van die gewondes waarmee hy gehelp het, van sy hande, arms en bors af te was. En uit sy hemp.
“Petrus …” Danie het gehuiwer en Petrus het gesien die oom weet nie mooi wat om te sê nie, en albei het geweet hoekom. Dit was “daardie ding”.
Petrus het, soos altyd, presies en met ’n sagte stem gepraat. Hy het nie begin voor hy Danie nie in die oë kon kyk nie: “Oom Danie, ek het Soldaat vroegaand half deurmekaar in sy kombers gekry. Toe vra ek sommer die hospitaalmense wat ek met die gewondes gehelp het, om na Soldaat se toon te kyk – na die een waarop tante Gertruida se klavier daardie tyd geval het …”
“Is dit só erg?”
“Hulle sê hy’t nou die kouevuur in die toon en as die toon nie dadelik afgesit word nie, gaan die vuur al hoër klim en hom doodmaak. Of hy gaan sy voet verloor. Maar hulle kan hom nie help nie, want daar’s te veel gewondes om na om te sien.”
“Is jy seker?”
“Oom Danie kan maar na die toon gaan kyk. Soldaat lê daar anderkant. Die toon is pikswart en besig om te vrot. Mens ruik dit. Ek dink ek het wit been by die swelsel sien uitsteek. Die hospitaalmense het gesê ons moet maar bokant die agterste lid sny en kyk of dit help … en ons moet, as daar nog gesonde vel is wat rooi bloei, bietjie daarvan losmaak, sodat ons dit oor die stompie kan rek en vaswerk.”
Danie het na die tent gegaan wat hy met Daantjie deel en teruggekom met ’n bottel brandewyn.
“Maak hom so dronk as jy kan, Petrus, maar los ’n bietjie brandewyn om die stompie mee af te was. Ek sal die sout en die salf kry … en nog ’n lantern.” Danie het met die wegloop ’n paar woorde bygesê – en Petrus het geweet dié woorde praat nie net van Soldaat nie, maar ook oor Daantjie, selfs dalk ook oor hom: “Daardie man het vandag saam met ons geveg.”
Petrus het Soldaat die brandewyn eers vrywillig laat drink en later amper met geweld ingegee sonder om hom te vertel hulle gaan sy toon afsny. Die reeds half-bewustelose man het gedrink tot hy nie meer kon nie.
“Drink, Soldaat, dit sal help vir die pyn. Drink!”
Soldaat, al deurmekaarder van die koorsigheid en die brandewyn, het gedrink totdat die hik van naarheid in hom begin stik en Petrus skrikkerig geword het dat hy dalk van die kosbare vog sou begin uitbraak.
Danie het Daantjie saam met hom gebring. Hy het langs Soldaat gekniel, die kombers oopgevou en sy knipmes oopgemaak. Hy het die mes na Daantjie toe uitgehou: “Ek het hom behoorlik geslyp. Sny daardie toon af.”
Daantjie het die mes gevat. Gedienstig, maar amper soos iemand wat daar was, maar eintlik afwesig is. Danie het meer vir Daantjie as vir die toon gekyk: “By die boonste lid!”
Daantjie het weer begin bewe. Hy het die mes laat afsak na die toon toe, maar nie gesny nie.
“Sny!” het sy pa beveel. “Dis die begin van gangreen. Nat gangreen. As jy nie sny nie, sal hy sy toon en later sy voet en dan sy been verloor, en as dit in die lies op is, is hy dood! Sny!”
Daantjie het die lem op die toon gedruk en weggekyk.
“Kyk waar jy sny!” het Danie met sy oë strak op sy seun gerig, aangedring.
Daantjie het ’n laaste poging aangewend om uit die ding te kom: “Dis sommer ’n swarte, Pa!”
Woede het Danie oorweldig en hy het sy seun met die vuis op die mond geslaan – met al sy teleurstelling en gramskap agter die hou. Daantjie se kop het teruggeruk. Hy’t van sy hurke af agteroorgeval en bly lê. Danie het sy toorn uitgetier: “Dis ’n mán hierdie, hoor jy! Hy’t geveg toe jy jou natgepis en vol-gekak het. Hy’s ’n mán en jy sal hom verdomp respekteer!”
Danie het die mes opgetel en Petrus aangesê om Soldaat se bolyf plat te hou. Hy’t op Soldaat se bene gaan sit, sodat hulle vas lê onder sy gewig, en die lanterns nader getrek. Hy het die toon by die boonste lid afgesit, die oop wond met brandewyn gewas, dit gesout en gesalf, en toe’t hy van die vel wat gesond genoeg lyk en nog behoorlik rooi bloei, oor die stomp plek getrek en met naald en gare oorhands toegewerk. Soldaat het net een keer geskreeu, maar daarna was hy stil.
Toe hy klaar was, het Danie opgestaan en sonder seremonie ’n reep van Daantjie se hemp afgeskeur.
“Dis al wat my seun in ’n oorlog werd is – ’n wandelende verbande-paal!”
Daar was volslae veragting in sy stemtoon. En die bitterheid van teleurstelling.
Met die strook hemp het hy Soldaat se voet verbind.
Daantjie het opgestaan en weggestrompel. Op die grond waar hy gelê het, het die voortand wat sy pa uitgeslaan het, agtergebly. Van daardie oomblik af het die gaping in sy voortande elke dag vir sy spieël, sy tong, sy hap en sy kou vertel van sy vernedering en verwerping.
Danie het hulle, nadat Petrus die toon gaan begrawe en hulle die reuk van hulle hande probeer afwas het, bymekaargeroep: vir Petrus en Jakop Minter, én vir Daantjie, en vir hulle gesê dat “daardie ding” wat dié dag met Daantjie gebeur het, nie rugbaar gemaak moet word nie.
Daarna het hy Petrus Minter gevra om te kyk of hy die kneukel aan sy regterhand kan regdruk, sodat hy die ding met sy linkerhand kan verbind.