Читать книгу Fees van die ongenooides - PG du Plessis - Страница 8

Vier

Оглавление

Joey Drew het die beleg van Kimberley oorleef. En al was dit nie juis ’n plesier nie, kon hy tog terugkyk op ’n tydperk van groot professionele vordering. Daar was wel bekommernisse, en die grootste vrees wat Joey aanvanklik gekoester het, was dat die hongeres van die beleg die perde wat hy so eerlik by oorlede Hans Bester geërf het, sou slag en opeet.

Niks verbreed die smaak soos ’n beleg nie, het Joey bevind. Die vermoë om die eetbaarheid van die roerende en onroerende te bepaal verskerp, en fiemies is gou by die agterdeur uit. Honger bring ’n verdraagsaamheid oor wat jy deur jou mond sit en eetgoed wat uiteindelik heel gaaf met jou ingewande akkordeer, sou jy in tye van oorvloed nie aankyk nie. Joey het self gesien hoe gou die dorpsbewoners begin saamstem dat die perd en donkie, trek- en rydiere wat hulle eintlik is, tog onderverdeel kan word in eetbare stukke kookvleis. Hy het gesien hoe roofvoël-stip, en met nuwe oë, mense byvoorbeeld na rotte begin kyk, en hy was seker dat dié wat orals wippe en strikke stel vir Kimberley se mak- en bosduiwe, binne ’n maand al begin het om hulle vanggoed aan te pas om ook die gediertetjies van die nag vas te trek. ’n Koggelmander was sy lewe nie meer seker nie; Kimberley was vir jare ná die beleg sonder slange; troeteldiergetalle het skerp gedaal. Niks is aangekyk sonder om sy eetbaarheid te oorweeg nie.

Joey was vasberade om nie sy perde af te staan aan die rammelende ingewandes van vreemdelinge nie. Die ware geluid van ’n beleg was, ná Kimberley, vir Joey nie die gedonder en geskel van kanonne en kartetse nie, maar die gegor van duisende mae. Hy het later, wanneer hy oor die vier maande van die beleg vertel, altyd gesê dat hongerly nie net die vet van jou liggaam verteer nie. Honger verteer ook jou besware teen goeters wat in jou mond mog in en jou gewete oor ander mense se eetbare besittings. Soos sy perde. Joey het hulle met groot sorg bewaak.

Daar was ’n tweede bedreiging vir sy perde, en Joey het homself altyd stilweg geprys oor die wyse waarop hy dié gevaar hanteer het.

Deur die toeval, indien nie die noodlot nie, het ’n Bester-weduwee twee huise van hom af gebly. Gelukkig was sy nie verwant aan oorlede Hans nie. Sy kon nie familie wees van daardie Hans Bester wat so goedgunstig – alhoewel slegs in woorde, maar tog as ’n sterfbedbegeerte – sy aardse besittings aan sy vriend en kollega, Joey Drew, nagelaat het nie. Want Joey kon teen dié tyd baie mooi vertel hoe daardie oorlede kollega en vennoot – geroer deur die feit dat sy vriend, Joey, onderneem het om sy graf persoonlik en gratis te grawe en die begrafnisdiens sonder enige vergoeding waar te neem – as afskeidsgebaar, en terwyl hy in stille vrede sy laaste asem saggies uitblaas, sy besittings aan genoemde Joey toevertrou het. Mevrou Bester, het Joey mettertyd verstaan, se oorlede man was ’n baie lang, skraal man, net soos al sy broers. Om sy erflating te beveilig, het Joey Mevrou Bester laat verstaan dat die Hans Bester (mag hy in vrede rus) wat saam met hóm was, ’n man van gewone lengte was, en bepaald nie skraal nie, selfs dalk effens geset. Joey het gevoel dit was noodsaaklik om oorlede Hans (mag hy die rus vind wat hy so verdien het) enkele duime te verkort, en ’n paar pond aan sy oorlede lyf te sit, om eerbare redes: hy was nie lus vir argumente oor sy kar en perde nie, en hoe kon hy, in geval van dispuut, die weduwee se stellings verifieer terwyl hulle saam van die honger vrek in ’n tóé dorp omsingel deur Boere? Vir wat sou sy in elk geval wou rondrits?

Maar nadat Joey dinge soos verifikasie en ander wetlike aspekte van sy erfporsie bedink het, het hy dié aand sy enigste stuk klerasie wat by die Van Wyks Sarah se wassende hande vrygespring het, uit die trommel gehaal – die lang baadjie met die verkorte moue. Die roeping van die dode is om te rus, nie om regstwiste aan die gang te sit nie, het hy vir homself gesê. Hy het die dokumente en papiere uit die voering van die baadjie gehaal, geen benul kon vorm van die inhoud, woorde of rooi lakseëls op hulle nie, en hulle aan die vergetelheid van die vlamme in sy stoof toevertrou.

Maar origens het dit goed gegaan. Hy het die kamera en die bevolking se ego’s gehad om mee te werk – en die apteker by Kimberley Apothecary kon nie net sy fotografiese plate baie goed ontwikkel nie, maar het ook die kuns van vergroting en die inkleur van foto’s verstaan. Toe Fienatjie Minter se gesig uit die chemikalieë verskyn, kon Joey nie wag om die beste blou in haar oë te verf nie. Met die rooi van Magrieta van Wyk se lippe en die rosigheid van haar wange kon Joey na hartelus speel. Met sy eerste poging het hy die lippe en wange bietjie té rooi gehad en Magrieta het na ’n besonder mooi hoer gelyk. Dit kon tog nie, want dit het nie gestrook met Joey se bewondering vir, en verering van dié pragtige vrou nie. Dit was Magrieta se aanvallige gelaat wat Joey geleer het om sagter met kleure om te gaan, want met sy derde poging was sy amper so mooi soos wat sy in lewende lywe was, en Joey kon die afbeelding vir ure bewonder – ure waarin die glimlag in haar oë hom nie kon verwurm nie. Salige ure.

Begelei deur die klank van die beuel wat met sy luide G telkens aangekondig het dat daar weer ’n wolkie rook uit ’n Boere-kanon gepof het en dat die ontploffing van die koeël oor nege sekondes in die dorp verwag moet word, en ander soortgelyke steurings, het daar ’n kunstenaar uit die dieptes van Joey Drew se gees opgestaan.

Hy’t ’n huis gehuur in ’n deel van die dorp waarheen die Boere blykbaar nie mik nie. Wanneer hy wel moes binnedorp toe, het hy, aan almal wat wou luister, vertel dat ’n “man van geluk” eintlik maar min te vrese het. Daardie bomme kom, inderwaarheid, in die dorp aan soos die noodlot, en nes die noodlot, skop hulle ’n helse kabaal en ’n groot klomp stof op waar hulle val, maar eintlik is hulle ’n noodlot wat ylerig oor ’n groot gebied versprei word. ’n Man moet maar sy geluk beproef, dis al. As die dood nou só moet kom, is dit maar reg, want jy skuld die ewigheid in elk geval een lewe en die lot besluit sélf wanneer jou skuldjie ingevorder moet word. En as die ewigheid jou nou só wil vat, is dit eintlik goed, want jou stukkies wat oral rondvlie sal nie eens weet hulle was deel van ’n siel wat so pas die pad boontoe moes vat nie. Dis wat Joey gesê het, al het hy ook maar koes-koes geloop en sy gang deur die dorp só beplan dat hy binne inspring-afstand van die skuilings bly – altyd met een oor oop vir die beuel se G wat moes aankondig wanneer nog ’n dosis noodlot op pad is. Die dag in die myn wou Joey se gedagtes en verbeelding maar net nie los nie. In die nag, wanneer die nagkar met sy klinkende en skrapende emmers die reuk van sy vuil deur Joey se slaapkamervenster adem, het hy van die dag in die tonnel van die myn begin droom en natgesweet wakker geword. Sterk reuke het maar ’n enkele herinnering by Joey opgeroep.

Joey het nooit geweet of hy vrywillig by die “Town Guard” aangesluit het, of hy tot militêre diens opgeroep is, en of die hele ding net sommer ’n misverstand was nie.

Daar’t ’n man by sy woonplek aangekom. Hy was omtrent sestig jaar oud en geklee in ’n uniform wat Joey nie kon eien nie. Hy’t hom voorgestel as sersant Jackson en ’n pak papiere by hom gehad. Toe Joey hom innooi, het hy eers die pak op die tafel neergesit voor hy gaan sit het. Hy was op ’n soort veeldoelige missie waarvan hy alles nie behoorlik verduidelik het nie.

Joey het wel mettertyd agtergekom dat die man ’n sersant in die “Town Guard” is en dat dit ’n burgerlik-militêre organisasie is wat dit ten doel het om die dorp met groot opoffering en heldhaftigheid straat-vir-straat te verdedig as die Boere sou inval … ensovoorts, ensovoorts, ensovoorts. Joey het na die beste van sy vermoë probeer volg wat die sersant sê. Elke man was nodig vir die verdediging van die dorp: die oues, soos die sersant self, die jonges, die siekes, die mankes, en selfs dié met baie ooglopende en ernstige tekortkominge en skete. Ná sy laaste woorde het hy lank na Joey gekyk. Daar is ’n plekkie vir almal, het hy uiteindelik voortgegaan asof hy die uiterste toegewing aan die maak is. Dit was elke patriot se heilige plig om sy deel te doen. Dis waarop dit neergekom het.

Tot daar was dit gaaf, maar toe begin die man praat van opofferings en hy stoot die eerste papier oor die tafel tot reg voor Joey. Dit was ’n ontstellende dokument, want dit was ’n soort belofte wat geteken kon word deur mense wat genoeg burgerlike pligsbesef in hulle het om hulle perde te verkoop om geslag te word ter voeding van die hongeres en behoeftiges – in daardie stadium so ongeveer driekwart van die dorp. Aflewering van die diere geskied op Dinsdae en Vrydae by die Washington-mark. Vergoeding teen heersende pryse.

So, dis wat hulle wil maak, het Joey gedink. Eers gaan hulle maak of hulle jou diere wil koop, maar uiteindelik gaan hulle die goed sommer vat en opvreet. Kan die man die stal agter in die erf ruik? Hy’t probeer tyd wen: “Wat is daar nog om te teken?”

Hy het met groot aandag deur die pak papier geblaai en die dokument oor die perde onder in die pak ingewerk.

Die sersant het oorgeleun, die pak papier na hóm toe oorgetrek en vinnig deurgeblaai.

Hy het sy dokument gevind, sy inkflessie uit sy sak gehaal en ontkurk, die pen wat hy by hom het van ’n punt voorsien, die dokument tot voor Joey geskuif, die pen in die ink gedoop, vir Joey aangegee, en gesê: “Teken hier. Ek moet bewys hê dat die ‘Town Guard’ hier was.”

Dis wat die bliksem gesê het. Dis wat die noodlot gesê het, sou Joey vir die res van sy lewe glo. Bewys dat hy daar was! Mense kan so lieg!

Joey het geteken. Die sersant het die ander papiere net so op die tafel gelos sodat Joey later daarop kon reageer soos hy goeddink. Maar hy’t met die een wat Joey geteken het en die bleddie inkfles en die bleddie pen in sy hand gestaan en vir Joey gesê: “Rapporteer om agtuur!”

Net so. Nie ’n “asseblief” of “as dit jou pas” in sig nie. Net so: “Rapporteer om agtuur.”

Joey het gegaan, die hoofkwartier van die Town Guard gekry, en daar aangemeld. Daar het hulle hom ’n geweer, uniform, te groot stewels, ammunisie en sy eerste bevele gegee. Maak die geweer skoon, maak die skoene en gordel baie blink, poets alle knope en gespes, sorg dat die uniform môre pas, hier’s die gare, meld môreoggend sewe-uur ge-uniform en gewapen by die paradegrond aan. Sewe-uur is sewe-uur! Alle nuwe rekrute sal agtuur aantree vir wapenoefening. Agtuur!

Joey het die nag met skoenborsel en vryflap en met naald en gare deurgebring. Hy’t betyds by die paradegrond aangemeld. Ná sy besige nag, was Joey verbaas om te sien dat hy een van die min in uniform is. Hy moes later verneem dat daar net uniforms oor was vir die heel-heel grotes en die baie-baie kleintjies. Die gemiddeldes se uniforms was op.

Op die paradegrond het hy nie heeltemal na die sersant-majoor se smaak met die dril-oefening presteer nie. Maar hy’s daardeur deur die man voor hom – so nougeset as wat die tyd toegelaat het – in alles na te doen, en al het dit hom bietjie laat gemaak met sy bewegings nadat die bevele geblaf is, het dit gaandeweg beter gegaan. Hy het agtuur by die skietbaan opgedaag met ’n blinkskoon, nuwe leemetford.

Wie menere Lee en Metford ook al was – so het Joey later baie gewonder – en waarom meneer Enfield die fabriek moes verlaat om plek te maak vir meneer Metford (of andersom) het Joey nie geweet nie en het hy nie voor omgegee nie, maar oor hulle verpakkingsdepartement sou hy heelwat te sê gehad het. Toe hy die vorige nag sy nuwe leemetford uit die windsels van sy verpakking losdraai, het hy gevind dat die hele ding in ghries verpak is. Geel ghries. Toegebeplak van die goed. Die geweer sou ná ’n leeftyd op see nie roes nie. Maar dié geweer moes al, sedert Rhodes hom seker ingevoer het vir die Jameson-debakel, in sy ghries en in die hitte van die De Beers-stoor gelê het, en daardie ghries het nou verhard totdat dit ’n soort geel seepklip geword het. Joey het gevee en gevryf en geskraap vir meer as drie lang ure. Uiteindelik kon hy darem met sy laaste bietjie paraffien voldoende beweging in die slot-aksie kry. Hier teen twee-uur die nag was nog net die loop oor, maar die ding was verstop soos ’n snotneus wat versteen het. Die loopstaaf het net gebuig wanneer Joey hom van agter of van voor af probeer in- en deurdruk. Dit was laat, en Joey het toe al baie ure aan gordels, knope, skoene en gespes gepoets, en ’n hele uniform met naald en gare kleiner gemaak. Hy’t toe maar ’n drie-duim-spyker gevat en die voorste ghries uit die bek van die loop gegrawe, só dat niemand dit van buite af sou agterkom nie, en agter by die slot het hy met dieselfde spyker genoeg ghries uitgegrou om darem ’n patroon te kan inkry. Na die ghries binne-in, moes die noodlot nou maar omsien.

Die korporaal by die skietbaan het die nuwe troep Drew deurgekyk. Hy was veral bekommerd oor waar en hoe die man kyk.

“Is jy regs?” het hy gevra.

Joey het instemmend geknik.

“Hoe skiet jy?”

“Geen belediging bedoel nie, maar wat bedoel Korporaal?”

“Links of regs?”

“Ek weet nie …”

“Kom ons probeer links … dis die oog waarmee jy kyk, is dit nie?”

“Ek weet nie …”

Die korporaal het Joey laat lê en oor hom gebuig. Hy het ’n patroon in die loop gedruk en die slot versigtig toegemaak, die kolf teen Joey se skouer gesit, vir hom beduie hoe om aan te lê en te korrel, verduidelik hoe die veiligheidsmeganisme werk, en hom aangesê om te korrel na die teiken en die sneller te trek soos hy hom gewys het.

Joey het die skoot afgetrek.

Menere Lee en Metford sou hulle hande saamgeslaan het.

Die geweer het op ’n vreemde wyse gebars – halfpad langs die loop af. Die slag sou die beste vuurwerkvervaardiger in China jaloers maak. Die korporaal het met duim en wysvinger ’n skerfie metaal en verskeie stukkies hout uit sy goedgeghriesde uniformbaadjie losgewoel en gelyk of hy self gaan ontplof. Hy het doodsbleek begin mompel van ’n krygshof, van oë wat verloor kon word, en hom na die luitenant toe gehaas. Die luitenant het aan die kaptein gerapporteer en dié het persoonlik saam met die bevelstruktuur onder hom kom kyk wat aangaan.

“Wat gaan hier aan, Soldaat?” het hy vir Joey gevra.

Joey het self gewonder wat verkeerd geloop het. Hy’t tog presies gedoen soos die man gesê het! En hy’t geweet hy moes opstaan voor soveel hoëre aandag wat rondom hom – soos om ’n graf – vergader, maar hy kon nie. Sy knieë sou nie. Die slag het hom doof gelaat en hy kon nie behoorlik hoor wat hulle sê nie. Hy het, so met die lê en opkyk, sy hand agter sy oor gehou – om darem te wys hy sou hulle graag wou aanhoor.

“Wat het gebeur?” het die kaptein vir die dowe geskree.

“’n Fabrieksfout … ?” het Joey probeer.

Die kotseltjie ghries voor die loop en die smeersel op die korporaal se uniform het teen Joey getuig. Die kaptein het afgekyk na Joey. Die klein, skeel figuurtjie het bewend van vrees na hom toe opgekyk en terselfdertyd by hom verbygekyk. Die kaptein se harde militêre uiterlike het versag.

“Wat kán jy doen?” het hy soos vir ’n hardhorende gevra.

“Foto’s neem …”

Die kaptein het ontspan. Die mannetjie het dalk tog nut.

“Ons het ons regimentsfotograaf hier, Luitenant.” En alhoewel dit effens oordrewe was om van die Kimberley Town Guard as ’n regiment te praat, was die res van die kaptein se bevele – hy was ’n boekhouer in die burgerlike lewe – uitvoerig en presies: “Registreer hom as sodanig en hou hom weg van die wapentuig en die paradegrond. Ons moet aan ons goeie militêre naam dink. Gee hom ’n vrywilliger se dokumente en rantsoenkaart, maar vat sy uniform en wat oor is van sy wapen terug. Maak ’n lys van alle foto’s wat geneem moet word en die koste daaraan verbonde en sit dit voor parade môreoggend op my lessenaar. Maak die rekwisisies uit vir enige materiale wat benodig mag word, en heg aan vir my magtiging. Hy rapporteer aan jou, so kyk eers na die gehalte van sy werk. Rapporteer daaroor op skrif. En, Luitenant, verander die skietoefening-prosedure sodat alle lope vry van obstruksie verklaar word voor die aanvang van die oefening. Sit dit voor parade môreoggend op my lessenaar. Alle lope eers geïnspekteer voor hierdie oefening voortgaan. Nou!”

Joey se bydrae tot militêre prosedure is dus onmiddellik in werking gestel: eers as ’n bevel langs die bevelstruktuur van die offisiere af, en toe al langs die linie af – van die vrywilligers wat nog gewag het om hulle eerste skoot te skiet. Uiteindelik het dit ’n standaard-instruksie vir die opleiding van junior offisiere geword.

“Alle lope!” was die blaf wat tot die keffery toegevoeg is, en die verlangde antwoord was: “Alle lope geïnspekteer en vry van obstruksie!”

En almal is gewaarsku dat as dié prosedure nié gevolg word nie, jy die slag van ’n “Troep Drew” kan verwag, en daarvoor was die straf erg.

So het die noodlot dan bygedra tot militêre prosedure en tot Joey se lewensgehalte gedurende die beleg van Kimberley.

In die oggende het Joey volgens “regimentêre opdrag” gewerk. Vir die luitenant het dit beteken dat hy die militêre mense moes afneem. Snorre, snorretjies, moestasse en moestassies. Joey het almal gefotografeer: offisiere styf op ’n ry; troepe verstyf tussen die sandsakke, in die loopgrawe en langs kanonne; styfbeveelde manne op parade; die beredenes styf op hulle perde – wat hulle koppe en sterte nie wou stil hou vir die kamera nie. Wasige perdekoppe en -sterte het op die foto’s verskyn en dit het tot die kavalerie-bevel “Alle sterte gevleg!” gelei. Met die koppe was selfs die militêre mense aangehaal, want die diere was lewend meer werd. Die Kimberley Town Guard moes leer dat ’n perd hom net só ver laat militariseer.

Later-aan, nadat die militêre almal gedokumenteer is, moes Joey die baie belangrike persone van die De Beers-maatskappy afneem. Weer snorre en snorretjies en moestassies en moestasse. Daarna is hy aangesê om die dames van die vrouebewegings te fotografeer. Dit was vir Joey interessanter, want hulle was darem nie so eenvormig aangetrek nie en hulle was meer subtiel gesnor. Toe die sportmanne, en so voort.

Maar smiddae moes Joey die “effek van beleg en burgerlike weerstand” verewig. Dis in die middae dat die kunstenaar in Joey gebot, geblom en begin vrugte dra het.

Hy’t so hard gewerk as wat die beskikbare lig en die energie van sy aptekersvriend toelaat. Met die nuwe bron van fotografiese materiaal uit sowel die leër se magasyn as De Beers se stoor, het dinge goed gegaan. Joey het vriende gemaak met ’n ene Mr Owen wat soms as deeltydse fotograaf by De Beers werk. Dié man was gelukkig meestal beskonke en nie ’n goeie toesighouer oor fotografiese materiaal nie. Dit was Mr Owen wat Joey-hulle tydens een van sy skaars deurbrake na soberheid aan die jongste tegnieke en materiale voorgestel het. Joey het besef dat sy mahoniekassie met die blink ogie erg verouderd is, en daar was ’n kamera by De Beers wat ’n perd se stert tot ewige stilstand kon ruk, om nie eens van die kop te praat nie. Joey het, vir alle praktiese doeleindes, vrye gebruik van De Beers se materiaal gehad, veral omdat hy en sy aptekersvriend op die “gebruik een, vat twee” -stelsel gewerk het. Soos werknemers nou maar maak om die voorradeboek te omseil.

Joey het elke middag benut, maar veral Sondae – wanneer die Boere-kanonne die Sabbatsbevel stip nagekom en ná ses dae se gedonder die sewende dag hulle bekke gehou en in stilte gerus het. Dan het hoor en sien vergaan soos al die Kimberliete aan hulle reparasies en skuilings timmer en werskaf. Eintlik het die mense van die dorp ses dae gekoes en die sewende gewerk. Maar ook gedurende die week was Joey en sy kamera orals. Selfs toe die Boere se groot Long Tom met sy geweldige ontploffings en skreeuende skerwe op die dorp begin skiet en sy noodlot hou vir hou oor ’n wyer gebied saai, het Joey gewerk. En deur die genade was Mr Owen die hele week dronk toe die groot De Beers-vervaardigde kanon sy eerste skote begin terugskiet. Joey was daar, met kamera.

Daar het in dié dae ’n idee in Joey Drew se kop kom vassteek: hy was die boekhouer, die bewaarder van beelde, die verewiger van mense en hulle dinge, en van hulle dade, en van die gevolge van daardie dade. Wat ’n manier was om van die myn af weg te kom en ’n ander lewe te maak, het gegroei tot ’n obsessie. ’n Lastige, neulende vraag het in Joey ontstaan en dit was die belangrikste vraag wat ooit by hom sou opkom.

“Hoekom?” het hy begin vra wanneer hy sien hoe die dorpsmense bomverskrik maar honger-gedrewe voor die “Food Supply Department” toustaan vir ’n porsie meel of perd – met hulle angsbeswete permitte styf in die hand. En dit terwyl die beuel enige oomblik kan gil “G!” en die lot na jou toe aangesuis kan kom. Of wanneer hy hulle in ’n ander tou sien staan met alles wat hol is in die hande, om die sop te ontvang wat meneer Rhodes se mense met soveel liefde en so gratis uitdeel as jy die regte permit het.

“Hoekom,” het Joey gevra, “lyk party nog so half uitgevreet en ander brand van die maerte?”

Hy het die antwoord raakgeloop en met daardie ontmoeting het sy obsessie ’n roeping geword. Nadat die antwoord op daardie vraag by hom gedaag het, het hy skielik besef dat hy meer is as net ’n skeel wurm met die rits bakbeentjies van ’n oorkruiper. Want dit was waarin die glimlag in Magrieta van Wyk se goddelike oë hom verander het. Hy was meer as net Joey Drew, die man wat altyd “Somerset, Engeland” moes bysê om na iets te voel; hy was ’n man op ’n hoëre sending – ’n man wat bestem is vir iets meer as om net die gemors te oorleef. Hy was nie die hande of die voete van die gemeenskap nie, hy was hulle geheue, en hulle het maar één geheue gehad – Joey Drew. En sy soort geheue was wáár, want dit sou uiteindelik wys hoe dinge régtig was. En al die verdraaide vertel waarmee mense hulleself ná die gebeure gaan probeer mooilieg, reglieg en onskuldig lieg, sal gekorrigeer word deur die waarheid van sy prente. Want Joey het geglo dat, anders as hyself en almal wat hy geken het, sy kamera nie lieg nie. Om te keer dat die ding nie selektief begin onthou soos mense nie, het Joey net harder gewerk. Hy het begin agterkom: dit was nie die grootste mensgemaakte gat in die wêreld in die agterplaas van die dorp wat afgeneem moes word nie, maar die ander kant van die spoor en die honger van dié wat altyd minder het as ander – tot in ’n beleg.

Om sy nuutgevonde eiewaarde te vier en te bevestig, het Joey diep in die baadjie met die lang lyfpante en kort moue se voering gedelf en vir hom ’n pak klere by die snyer laat maak. Hy het die Duitsvervaardigde skeermes gevat wat in die kis was wat hy saam met die kamera gekry het, dit op die strop wat ook in die kis was, geslyp, lekker dik skuim met die skeerkwas uit die kis opgeklits in die skeerbeker wat ook maar oorspronklik in die kis was, en sy baard afgeskeer. Maar die snor het hy, nadat hy sy moontlikhede ’n rukkie ondersoek het, belowend genoeg gevind om te hou. Die volgende dag het hy die blikkie welriekende stywewaks vir die draai van die punte van die snor gekoop. Toe is hy na die barbier toe om sy hare behoorlik te laat kap. Hy het só gewens Magrieta kon hom sien in sy blink nuwe skoene en in sy sokkies wat nog nie eens één keer gestop is nie. O ienatjie moes hom sien! Fienatjie Minter! Sy sou soos ’n bly jong hondjie met haar hele lyfie jubel vir haar vriend, en “Joey, Joey!” sê, en haar oë sou nog méér wonder in hulle hê.

Joey Drew het sy verlede en die oorsprong van sy besittings tot rus gebring. Jy moet eers vergeet voor jy ’n behoorlike geheue kan word, het hy gereken.

Van daardie dag af het hy hom altyd voorgestel as Mr Drew, fotograaf, en sy produkte het hy geteken “J.F. Drew, Esq.” En net wanneer hy direk gevra is, het hy mense in alle eerlikheid vertel dat daar vir sy besittings betaal is met bloedgeld wat verdien is deur ’n hardwerkende Johannesburgse mynwerker wat baie dubbelskofte vir soveel besittings moes werk. As mense dan dink hy is daardie mynwerker, was dit maar goed so. En oor De Beers se kamera wat in ’n ontploffing verpletter is toe dit toevallig in Joey se besit was, en vreemd genoeg dieselfde model is as die een wat Joey tans gebruik, het hy net verduidelik as hy direk gevra is. Daardie soort toeval moet maar aan die noodlot toegeskryf word, het hy dan gesê. En, soos almal weet, moet jy nie met hoekoms en waaroms by die noodlot aangesit kom nie – veral nie as hy deur ’n Boer-kanon uitgespoeg word en deur die lug aangesuis kom soos nou nie.

Dit was skaars ’n week nadat die “hoekom” by Joey aangekom het dat hy vir die eerste keer na die kostoue vir swart mense is.

Dit was ’n ander tou, in ’n ander dorp, ’n ander beleg, ’n ander wêreld. Die oë van die mense wat daar gewag het, was dof van ’n ander honger. Hulle het tale gepraat wat Joey nog nooit gehoor het nie. Hulle het klere gedra wat Joey baie gesien en nooit raakgesien het nie. Die ander foto’s wat hy geneem het, het na Joey toe teruggekom: van welgeklede, gladgestrykte, besnorde mans wat net bekommerd was oor hoe hulle poseer, oor die kam van hulle kuiwe, oor ’n verdwaalde kreukel in hulle klere, oor wat hulle beste kant vir die kamera is; van dames wat aanstaan gesetheid toe en hulle klere en ydelhede rangskik om presies só verewig te word. Hulle het almal vol, gladde wange gehad. G’n wonder die mense het gespot dat die enigste persoon wat gedurende die beleg aan gewig vermeerder en bietjie vervet het, meneer Rhodes was nie.

Joey het die ry permitte in die swart hande gesien en gaan vra of hy na een mag kyk. Die dogter wat hy genader het, het nie ’n woord van sy vreemde taal verstaan nie, maar het nie geprotesteer toe hy die dokument wat al slap-oor was van daaglikse hantering by haar vat nie. Van wat die krabbels op die stukkie papier beteken het, kon sy geen benul gehad het nie, maar Joey kon dadelik sien hoeveel anders haar permit as sy eie daar uitsien. Dit was ’n permit vir die helfte van wat hy kry, net vir mieliemeel, en vir drie mense. Hy het geweet dat dít is wat mense wat later van die beleg vertel, sal verkies om te vergeet. Hy sou dit vir hulle onthou, het hy hom voorgeneem, want terwyl hy langs die honger ry mense afkyk, het hy geweet dié mense sal vergeet word in die vertellings, as hulle nie al klaar, met of sonder skuldgevoel, bewustelik vergeet word nie.

Hy was besig om sy kamera op die driepoot vas te skroef toe die vrywilliger-offisier van die uitdeeltafel af na hom toe aangedraf kom: “Waarmee is jy besig?”

“Ek wil die tou afneem.”

“Hoekom? Het jy nodig om die permitte te lees daarvoor?”

“Ek het opdrag om die gevolge van die beleg … om die mense van die dorp af te neem.”

“Ons is gewaarsku teen mense soos jy. As jy die kostoue wil afneem, kan jy dit by die wit tou gaan doen. Dit wil sê as jy nie jou kamera gekonfiskeer wil hê nie.”

Die offisier het omgedraai en omkyk-omkyk teruggegaan na die tafel toe.

Joey was besig om sy kamera weer op die kar te laai toe die vrou by hom aankom. Haar ouderdom kon hy nie skat nie, maar sy kon nie veel ouer as twintig wees nie. Sy was skraal, moontlik van gemengde herkoms, maar die hoë wangbene en hartvormige gesig van die mense van die streek was onmiskenbaar.

“Ek het gehoor wat julle praat,” het sy in verstaanbare Engels gesê. “As jy regtig wil sien wat aangaan, kan jy saam met my kom.”

Sy het weggeloop en hom agternagewink. Hy het met die kar agter haar aangery. Ná ’n straatblok het sy gaan staan en hom ingewag om met hom te praat: “Dit is Barkly Road hierdie. Volg hom totdat jy ’n groot bloekomboom links van die pad sien staan. Jy sal die lokasie daar sien. Ek sal vir jou daar wag.”

Toe sy omdraai en begin aanstap, het Joey haar gevra hoekom sy nie sommer saam met hom ry nie?

“Jy wil nie helder oordag saam met ’n swart vrou gesien word nie, Engelsman. Wit mans laai ons net in die donker op. Wag ’n halfuur voor jy kom, dan kry ek jou daar.”

Joey het die halfuur omgedraal en toe gery. Sy het vir hom gewag waar die tweespoor-paadjie lokasie toe afdraai. Toe hy stilhou, het sy sonder meer opgeklim en vir hom beduie hy moet aanry.

Terwyl hulle stadig oor die hobbels en gate na die krotbuurt toe ry, het hy haar gevra wie sy is en hoe dit kom dat sy kan Engels praat.

Sy het hom onbevange vertel, soos ’n kind.

Die wit mense, het sy vertel, noem haar Elizabeth, maar dis nie haar regte naam nie. Sy was iets van ’n verworpeling. Sy het, van sy amper nog ’n kind was, gewerk by een van die min vroeë delwers wat sy vrou en kinders saamgebring het na die delwerye by Colesberg-koppie wat nou Kimberley se oop myn is. Sy was ’n hele paar jaar by hulle, maar sy’s daar weg toe sy met ’n wit delwer deurmekaargeraak en by hom gaan bly het. Die ander delwers wou nie die ding wat hulle in die nag doen, in die dag sien nie, en het begin om partykeer klippe na haar en haar vryer se sinkkaia te gooi – veral op Saterdagaande as hulle alleen en jaloers van die lus was. Toe wil haar delwer hê sy moet ’n vriend van hom ook op daardie manier help en toe hardloop sy weg van hom af.

“Ek maak my bene net vir een man op ’n slag oop.” Daar was so ’n onskuld aan die manier waarop sy die onnoembare sê, dat Joey meer geïnteresseerd as geskok was, al het hy sulke woorde nooit eens by die wildste dames van Johannesburg gehoor nie.

Haar eie familie wou haar nie terughê nie, omdat sy so aanstellerig was die tyd toe sy by die wit mense gebly en hulle taal gepraat en hulle klere gedra het. “Loop vreet jy jou maar dik aan jou wit vleis,” het hulle vir haar gesê toe hulle haar wegjaag. En die wit familie waar sy eers gewerk het, wou haar ook nie terughê nie, want hulle het gesê hulle twee seuns was nou aan die grootword en hulle soek nie Koranna-meid wat wit vleis lus in hulle huis nie.

“Ek het twee keer soontoe teruggegaan en elke keer een van die seuns bossies toe gevat. So’t ek hulle teruggekry. Ek het nooit weer gegaan nie. Daardie twee seuns sal nog vir jare na my soek, want as hulle aan daardie ding dink, sal hulle aan my dink, want ek het hulle gelekker tot hulle krom was.”

Sy’t gelag. Haar tande was gelyk, en wit.

Hulle het deur ’n stank gery.

“Hulle het weer ’n dooie donkie aangesleep,” het Elizabeth verduidelik.

Die perde moes stadig stap op die paadjie tussen die hutte en krotte. Daar was nie eintlik ’n pad nie. Die voortjies en slote van vorige reënseisoene het padlangs gesny en diep geword waar daar karspore loop. Op plekke was daar slaggate wat in die winter stof en in die somer modder vergader. Voetpaadjies het parallel en oor-dwars hulle eie gang gegaan.

Die perdekar met die wit man op het geen indruk gemaak op die mense by die sinkkrotte en kleistrooise nie. Dié wat gehurk of plat gesit het op die blinkgetrapte grond, teen die mure geleun, of in die skaduwees gelê het, het hulle nie aan die verbysukkelende perdekar gesteur nie. Die belangeloosheid van verhongering het in die mense se houdings gesit en was te sien in die lusteloosheid van elke beweging. Wanneer een wel beweeg het, was dit stadig, met ’n amper spookse ekonomie in die beweging. Dit was asof elke klein roering eers noodsaaklik moes wees voordat dit spaarsaam uitgevoer is – om die laaste energie nie te gou op te gebruik nie. Só spaarsaam, dat elke beweging soos ’n laaste gelyk het.

“Ek het gedink hulle sou bedel … soos dié in die dorp,” was al wat Joey kon wonder.

“Hulle weet dit sal nie help nie.”

Maar dit was meer as net dit, het hy besef. Hierdie mense was by omgee verby, hulle was al óór die stadium waar hulle nog sou wou probeer om hulle lewens van die afgrond af terug te sleep.

“Dié wat nog kan, soek kos in die dorp,” het Elizabeth verduidelik. “Dit is die ergstes hierdie.”

Die reuk van die misvure, van vrot donkievleis wat kook, van die waterdun skytsels uit verhongerdes, het by tye oor hulle gewaai, maar Joey het nie aan die mynontploffing gedink nie, want dit was erger hierdie, want dit was stadiger.

Elizabeth het hom aangesê om voor ’n krot te stop.

“Hierdie mense het nou al vir twee dae nie uitgekom nie. Die ma sal seker in die dorp wees om te probeer hoer vir kos, maar sy sal niks regkry nie – sy’s te maer. Niemand sal betaal om ’n geraamte by te kom nie. Kom.”

Joey het afgeklim en agter Elizabeth aan by die stroois ingebuk. Hy’t in ’n stink holte orent gekom. Een kamer. Drie mense, ’n pa en twee kinders. Die man en een kind het gelê – opgefrommelde hopies onder vuil komberse. Die ander kind het in ’n hoek gehurk. Net hulle oë het beweeg om Joey en Elizabeth se binnekoms te volg. Hulle het niks gesê nie. Hulle het geen ledemaat verroer nie.

Elizabeth moes aan Joey se arm raak om sy aandag weg te kry van die ellende rondom hom: “Neem hulle af. Dis wat jy gesê het jy wil doen.”

“Daar’s nie genoeg lig hier binne nie …”

“Kry jou kamera op sy pote, ek sal hulle uitbring son toe. Hulle is so lig soos veertjies.”

Joey het die kamera opgestel en Elizabeth het die man en kinders half gedra, half gesleep, maar buitentoe gebring. Die mense van die lokasie het nie ’n nuuskierige skare rondom die vreemde verskynsel in hulle midde gevorm nie. Nie een het kom kyk nie. Nuuskierigheid en belangstelling was al dood in hulle. Dit was asof Joey en Elizabeth nie daar was nie – of op ’n plek waar net afwesiges bymekaarkom. Hulle twee was gewoon nie aanwesig in die mense teen die mure se sinne en lewens nie. Hulle was nie teenwoordig nie, want dié mense was klaar in ’n ander werklikheid, op ’n ander plek – onbereikbaar en eenkant.

Terwyl hy besig was om met die hulp van Elizabeth die drie mense – met ’n gesleep, gerem en gestut – voor sy kamera te rangskik, terwyl hy hulle woordeloosheid verduur en die leegheid van hulle oë probeer miskyk, het Joey die jammerte in hom probeer stilkry. Dit was nie die regte tyd vir die hart om te wil saamkyk nie.

Maar deur die kamera kon hy nie anders nie:

Die man het vodde oor sy lyf gehad; die kinders was nakend. Hulle velle het al lankal teruggekrimp tot op hulle gebeentes. Elke stukkie agtergeblewe vel en vleis wat nie deur been gestut is nie, het ’n holte geword: hulle wange, hulle slape, hulle oogholtes, hulle nekke, bo die sleutelbene, tussen die ribbes en heupe. Hulle dun bene het bultend langs mesdun heupbene begin en langs velvoue waar daar eens dye was, aangegaan, by die oordrewe knoppe van hulle knieë geknak, en by knokkige, stowwerige voete geëindig. Hulle lippe was weggeteer en hulle monde was vertrek in ’n stywe, dun, vreugdelose glimlag – die gryns van honger. Die tande van die kinders het byna onbehoorlik wit tussen hulle half-oop lippe gesit; die man se mond was hol, met bloederige tandvleis, só asof sy tande onlangs uitgeval het.

Joey het gevoel hy fotografeer hopies beendere met net ’n los sak swart vel bo-oor – weggeteerde hopies mens met nuttelose monde waarvan die gryns net vir die vlieë ’n toegang was. En bo-aan die hopies het die bruin oë gesit wat onsiende die niks in staar – soos stukkies agtergeblewe siel wat nog vir oulaas klou aan ’n lyf wat was.

Fees van die ongenooides

Подняться наверх