Читать книгу Boomwortels in die hemel - Pierre du Plessis - Страница 4

DIE WOORD HET VLEES GEWORD

Оглавление

Mens

Menswees is morsig en magies.

Om Pierre du Plessis te wees ook.

Soms preek iemand en dit bly net ’n preek. Woorde uit ’n mond. Of iemand skryf ’n boek en dit bly ’n boek met woorde. ’n Woordeboek. Hierdie man is nie daai mens nie en hierdie boek is nie daai boek nie. Die woorde vlieg van die papier af tot binne-in jou hart. Woorde deur ’n regte mens wat al regtig gelééf het. Woorde oor ’n God wat regtig-egtig is. ’n God wat ongetwyfeld werk deur twyfelaars, huigelaars, martelaars, boemelaars, oorwinnaars … ’n God wat ’n volk vir Hom bymekaargeroep het met die naam Israel – “die een wat met God worstel”. ’n God wat die reëls op hul kop kom draai én kom vervul het. ’n God wat ewigwordend, dinamies, skeppend en tog altyd onwrikbaar is. ’n God wat mét ons is, nie eenkant op sy troon sit en wag vir sy hoofseun, Jesus, om sy ontruimingsplan hier op aarde uit te voer nie.

Sy Naam is Saam.

Pierre du Plessis gaan sit en skryf nie boeke in isolasie nie. Die woorde van hierdie boek is gevorm deur en by etes om tafels, in die sirkels van vertroue tussen mense, by vergaderings, bergklim, buurtbraai, ontwerp, skets, kinders by die skool aflaai, hondjies om die blok vat – uit die roumateriaal van die lewe.

Dit is die eerlike weergee van die Lewe binne-in hierdie lewe.

Om op te daag.

Die digter Mary Oliver, wat onlangs oorlede is, het geskryf:

Instructions for living a life:

Pay attention.

Be astonished.

Tell about it.

Pierre het aandag geskenk. Hy het hom verwonder. Hy deel dit in hierdie boek.

Wat ’n uitnodiging: ’n lewe wat smeek om geléwe te word. ’n Diep, oorweldigende uitroep dat jy – en selfs ook ek! – welkom is op hierdie aarde wat wemel van die hemel.

Dalk makliker gesê as gedaan, mag jy dink. Die skrywer is ’n man wat preek, wat mense toespreek, wat sy woord kan doen, sy Bybel ken, op sy voete kan dink. Miskien, ja. Maar hy’s ook ’n fynbesnaarde mens, ’n kunstenaar, ’n waarnemer wat dikwels veel eerder tussen ’n groot groep mense onder die tafel wil gaan sit en teken as om op die tafels te dans, of – meer stemmig – met mense te gesels.

Pierre skryf soos ’n verkenner, nie ’n kenner nie. Hy deel meer van sy soeke as van sy vonds – die wond altyd vlak onder die verwondering. Hy leef mét onsekerheid, mét vrees, mét ’n doring in die vlees … ín Christus. Altyd ín Christus.

En dit is braaf.

Dis radikaal.

Dis boomwortels in die hemel.

FRIEDA VAN DEN HEEVER

Boomwortels in die hemel

Подняться наверх