Читать книгу Boomwortels in die hemel - Pierre du Plessis - Страница 7

EERSTE WOORD

Оглавление

FEESJARE, TABERNAKELS EN CAPPUCCINO’S

Jesus is die sentrale figuur in die Westerse samelewing. Of jy nou van Hom hou of nie; of jy nou glo in Hom of nie; of jy nou kerk toe gaan of nie – een ding is seker: Jesus kan nie geïgnoreer word nie. Die skuif wat Jesus 2 000 jaar gelede gebring het, is en bly steeds die enkele grootste impak wat een persoon op die mensdom en ons gedeelde geskiedenis gehad het. Vandag kan ons steeds nie uitgeskryf, uitgepraat of uitgebaklei raak oor die persoon van Jesus en sy leringe nie.

Jesus bly sentraal radikaal.

Jesus draai dinge op hul kop. Wie eerste is, gaan laaste wees, en laaste, eerste1. Hy vra: Draai die ander wang, loop die ekstra myl, laat staan die onkruid net so tussen die koring, gee al jou geld weg en volg My. Hy eet saam met sondaars, prostitute en korrupte staatsamptenare, maar ook saam met godsdienstiges, rykes, vromes, priesters en regsgeleerdes.

Jesus breek die grense van albei kante af af.

Jesus maak almal de hel in.

Tog is ons geneig om Jesus maklik te wil maak. Ons teken Hom mooi in Kinderbybels en laat Hom lyk soos ’n goeie laerskoolmeneer. Jesus die kinderoppasser.

Liewe Jesus.

Liewe Jesus is nie altyd so lief nie. Liewe Jesus wat mense met ’n sweep uit die tempel gehaal het. Liewe Jesus wat mense vervloek het en gesê het hulle is slange, wit grafte en heeltemal vrot van binne. Elke keer wanneer ek liewe Jesus se familieuitsprake lees, soos “haat jou vader en jou moeder2”, dan wonder ek altyd hoe pas Hy nou in jou standaard familiekerk in? ’n Liewe Jesus het nie vyande wat planne maak om Hom uit te haal nie. ’n Liewe Jesus word nie tot die dood veroordeel nie.

Jesus, daarenteen, sterf die dood van ’n rebel, dief en verraaier. Ons prentjie van Jesus kort werk. Jesus is méér as liewe Jesus. Sy koninkryk is anders as die wêreld wat ons ken. Dit is vir ons vreemd en soms ontstellend. Jesus is baie dinge, maar maklik? Glad nie.

Die woord radikaal se oorsprong is juis dít: oorsprong. Radikaal verwys na die wortel, die begin van die plant, die oorspronklike motivering. Om te sê Jesus was, of is, radikaal, is om te verwys – nie na sy nuwe idees nie – maar eerder na die manier hoe Hy ons na die oorsprong terugbring,3 na God se oorspronklike bedoeling met die skepping en met ons.

Dit is wat die woord bekering in Hebreeus beteken: terugkeer. Die woord is teshuvah. Teshuvah beteken om “terug te gaan na die begin”, ’n 180-grade-omkeer te maak terug na die oorsprong.

Ons klou aan ’n baie flou weergawe van bekering vas. Bekering beteken vir baie mense dat jy ophou sondig, ophou drink, dans en dobbel, of wat ook al die sondes van die dag is, en dan begin kerk toe gaan en jou gedra totdat jy doodgaan en hemel toe mag gaan.

Bekering is meer as dit, sóveel meer. Bekering is die terugkeer, die teshuvah, na God se eerste bedoeling, na God se hart, en die terugkeer na volkome menswees. Daar is ’n Afrikaanse sêding wat vir my so mooi is: Wat is jou hart hieroor? Die bedoeling is: Hoe voel jy oor die saak? Wat wil jy graag hê moet gebeur?

Wat is God se hart? Dit is die vraag wat bekering vra – om terug te keer na wat God se hart was en is vir die skepping.


Dinge in die skepping is nie soos dit moet wees nie. Dinge is verkeerd. Ons almal voel dit aan en almal sien dit raak. In die eerste film van die trilogie The Matrix, sê Morpheus vir Neo, die hoofkarakter: “What you know you can’t explain, but you feel it. You’ve felt it your entire life, that there’s something wrong in the world. You don’t know what it is, but it is there, like a splinter in your mind. Driving you mad.”

Jesus het nie gekom om iets nuuts te begin nie, maar om iets radikaals te hervestig. Jesus bring ons nie vorentoe nie, maar terug. Huis toe. Jesus draai dinge om; nie onderstebo nie, maar regop.

Die wortels is eintlik in die hemel.

Dit is óns wat die ding verkeerdom het. Soos ’n trui of ’n T-hemp wat jy onderstebo aangetrek het en eers wanneer iemand dit vir jou uitwys, jy vinnig die ding regom aantrek. Ons loop nou al te lank met onderstebo truie en T-hemde rond.

Jesus het meer kom doen as kaartjies uitdeel sodat ons wat “bekeer” is een kan kry en dan eendag hemel toe kan gaan. Net so tussen ons, die prentjies van die hemel wat die meeste geteken en beskryf word, klink vir my verskriklik vervelig: heeldag sit en sing met ’n harp en ’n wit nagrok aan? Dankie, maar nee dankie.

Jesus het gekom om te wys en te leer en te bemagtig wat dit beteken om méns te wees, om dit te wees wat ons geskape is om te wees. Jesus is die argetipe mens. Jesus het die koms van God se koninkryk aangekondig en bewerkstellig – hierdie “onderstebo” koninkryk van die hemel.


Vroeg in die Lukas-evangelie, trouens by een van Jesus se eerste openbare verskynings, is hierdie liewe Sondagskool-Jesus nêrens in sig nie. Hy maak die mense met sy intreepreek by sy plaaslike gemeente só kwaad dat hulle Hom by ’n afgrond wil afgooi.4

Jesus begin deur vir hulle goeie nuus te vertel. Hy sê dat Hy gekom het om die genadejaar aan te kondig. Hierdie genadejaar-uitspraak is Jesus se motivering, sy beweegrede. Dit is wat Hy kom doen het en dit is hoekom Hy hier is.

Dit is sy roeping.

Die slagspreuk van sy beweging is: Hy het gekom om die koninkryk van God aan te kondig en hierdie koninkryk gaan die vorm van ’n genadejaar aanneem.

Almal is verwonderd oor sy uitspraak. Dit is ’n groot aankondiging om te maak, ’n wilde ding om te sê. ’n Mens kan dit amper vergelyk met die groot toesprake in ons geskiedenis. Martin Luther King se “I have a dream” of selfs FW de Klerk se aankondiging oor die vrylating van Nelson Mandela.

Dit verander alles.

Die genadejaar, feesjaar of die groot sabbatsjaar, die jubeljaar is ’n kernkonsep in die geskiedenis van die volk Israel. Dit is amper ’n tipe ekonomiese stelsel wat God self in plek gestel het.

Dit is radikaal; dit is die begin van ’n revolusie. Hoekom is die mense in sy tuisdorp dan só kwaad dat hulle Hom by ’n afgrond wil afgooi? Hoekom is hulle só kwaad dat hulle in werklikheid ’n “honour killing” wil doen, Hom wil doodmaak omdat Hy skande oor hulle dorp bring?

Almal in die sinagoge was woedend

toe hulle hierdie dinge hoor. Hulle het

opgespring, Hom uit die dorp uitgejaag en

Hom gebring tot op die rand van die berg

waarop hulle dorp gebou was, om Hom

van die krans af te gooi.5

Soos die meeste van ons weet, vier die Jode elke week, vandag nog, die Sabbat. Die Sabbat is die heiligste dag in die week en ook die heiligste dag op die Joodse kalender. Hierdie dag strek van Vrydagaand sononder tot Saterdagaand sononder. Jesus het baie in die moeilikheid gekom omdat Hy die Sabbat volgens die Fariseërs en die wetgeleerdes verbreek het. Volgens hulle het Hy op die Sabbat gewerk deur onder meer mense gesond te maak6 en toe te laat dat sy dissipels die koringare uitvryf om iets te kry om te eet.7

Die basiese idee agter die Sabbat is rus. Ek onthou toe ons klein was en in die Oos-Kaap gebly het, hoe die dorpsmense gekyk het of jy jou grasperk op ’n Sondag natspuit of sny. Dit maak nie saak dat die Sabbat inderwaarheid op ’n Saterdag is nie. Sabbat gaan oor baie meer as om nie te werk nie, of om nie jou gras te sny nie. Die idee is om te erken dat God die skepper en onderhouer is van die lewe, en nie ek en jy nie. Dit is ’n pragtige idee en gebruik. God is in beheer – nie jy nie. Ons almal kan dit gerus een keer ’n week onthou.

Hierdie reël om nie op die Sabbat te werk nie het ’n uitdaging vir die Jode gestel, want wanneer presies verbreek hulle dan nou die Sabbat en wanneer nie? Ons mensdom kan tog so gepla wees met die detail dat ons totaal die groter prentjie en betekenis van iets miskyk. Ons volg die letter, maar verloor die gees van ’n ding.

In hierdie tradisie van obsessie met die letter, moes daar bepaal word wat presies as werk beskou word en wat nie. Nou-nou werk jy per ongeluk, soos om ’n cappuccino te bestel, en dan val die hele ding uitmekaar. Volgens sekere hedendaagse Jode is dit nie werk as jy koffie in die hotel drink wat vir ander nie-Jode gemaak word nie. Maar omdat cappuccino spesifiek per bestelling gemaak word, veroorsaak jy dan dat iemand anders moet werk – en is jy dan ook skuldig aan werk.

In die Mishna,8 ’n geskrif wat die orale wette, kennis en kommentaar op die Torah (die eerste vyf boeke van die Ou Testament oftewel die hele wet) bevat, definieer die rabbi’s 39 take wat as werk beskou kan word. Hierdie take is almal tydens die bou van die tabernakel verrig. Tydens die bouproses is die werk aan die tabernakel op die Sabbat gestaak. Dit maak dus mooi sin om “werk” volgens hierdie 39 take te definieer.

Probleem opgelos.

Take wat verbied word, is dié wat geassosieer word met die voorbereiding van die brood in die tempel. Dit verwys na verwante take soos saai, ploeg, oes, knie, bak, ensovoorts. Take wat ook op die Sabbat verbied is, was om die tabernakel se tent en die klere van die priester te maak. Die verwante take sluit in weef, sny, skaapskeer, kleur van lap, borduur, skeur en om vuur te maak.

Hierdie voorskrifte is reeds ingewikkeld, maar dit raak al hoe ingewikkelder vir mense wat die Sabbat streng in Jesus se dag onderhou het, asook vandag. Op die Sabbat mag jy byvoorbeeld nie vars water by blomme in ’n vaas gooi nie, want dit is ’n landbou-aktiwiteit. Jy mag nie ’n lig aanskakel nie, want dit is so goed soos om vuur te maak. Jy mag nege steke met ’n naald werk, maar nie meer nie. Jy mag nie op die grond spoeg nie, want dis ook ’n landbou-aktiwiteit.

Die Sabbat is egter veel meer as die nakom van voorskrifte van wat werk is en wat nie werk is nie. Die Sabbat se oorspronklike, radikale idee is om God te eer vir sy skepping. Dit is ’n tyd van feesvier, rus, aanbid en sommer net wees. Vrydagaande is in die Joodse kultuur die tradisionele tyd vir getroude pare om te doen wat getroude pare doen as daar nie TV is nie – blykbaar is dit darem nie werk nie.

Net soos daar ’n spesiale dag elke sewende dag was, was daar ook ’n spesiale jaar elke sewende jaar. Dit is die Sabbatsjaar9 genoem. Hierdie jaar het ook ’n paar spesiale voorskrifte gehad wat nagekom moes word.

Gedurende die Sabbatsjaar is die grond op die plase gelos om te rus. Afgesien daarvan dat enige boer jou sal vertel dat dit ’n goeie idee is om grond te laat rus, het die Sabbatsjaar nie soseer oor goeie landboupraktyk gegaan nie, maar oor vertroue. Die Jode moes God vertrou dat Hy in hul behoeftes sou voorsien. Die voorskrif was dat daar nie geplant mag word nie, maar wel geoes mag word waarvan op ’n natuurlike manier uit die rustende grond gegroei het.

Een van die groot aanklagte van die profete teen die Jode was dat hulle die Sabbatsjaar nie onderhou het nie, en in werklikheid nie op God vertrou het nie. Die aanklag was so groot dat die skrywer van Kronieke opgemerk het dat die grond uiteindelik kon rus10 nadat die volk in ballingskap weggevoer is.

Hierdie stelsel is op sigself radikaal, maar daar is nog meer.

Elke sewende Sabbatsjaar is deur God aangewys as ’n genadejaar, ’n feesjaar, ’n hersteljaar, ’n jubeljaar. Gedurende hierdie jaar moes die grond rus en daar is nóg drie voorskrifte bygelas.

Die grond moes aan die oorspronklike eienaars terugbesorg word, die slawe moes vrygelaat word en alle skuld moes afgeskryf word. Alles moes dus terugkeer na soos dit was voor die tyd. Lees in Levitikus 25:8-10.

“Tel sewe sabbatsjare af, sewe maal sewe

jaar, dit wil sê nege en veertig jaar. Laat

dan ramshorings blaas op die tiende van

die sewende maand op die versoendag.

Die ramshorings is die teken dat almal

in die land die jaar van die vyftigste

landbouseisoen op ’n besondere wyse aan

die Here moet wy. Daar moet ’n landwye

afskrywing van skuld geproklameer word.

Dit moet vir almal ’n hersteljaar wees: elke

Israeliet moet sy grond terugkry en

mag na sy familie toe teruggaan.”

Praat van goeie nuus. Tog, hierdie hersteljaar is blykbaar 600 jaar voor Christus laas in Israel gevier. Mense was duidelik nie baie lus om hul slawe te laat gaan, skuld af te skryf of grond terug te gee nie.


Die vraag is dan: Hoekom is die mense in die sinagoge in Nasaret so kwaad vir Jesus? ’n Feesjaar is mos ’n fantastiese ding, of nie?

Wanneer ons die teks sorgvuldig lees, kan ons sien dat Jesus se aankondiging aanvanklik goed ontvang is. Die meeste van die mense in die tyd van Jesus het onder die broodlyn geleef. Die meeste van hulle het ook al lank terug hul stamgrond of familiegrond verloor of verkoop om skuld te probeer betaal. Van hierdie mense wat rondom Jesus gesit het, het heel waarskynlik familie gehad wat as slawe gewerk het of as slawe verkoop is nadat hulle al hul grond kwyt was.

In ’n land waar mense swaar deur die Romeine onderdruk is, was selfs ’n greintjie hoop wat op die tafel geplaas word, selfs deur die seun van ’n skrynwerker in ’n nikswerd-dorpie, iets om aan te gryp. Dit is iets om oor opgewonde te raak. Dit is redding.

Dit is wat die Messias wou kom doen. Die Messias was eerstens, in die verbeelding van die alledaagse Jood, ’n politieke revolusieleier. Iemand wat die Romeine sou kom uitskop en die grond teruggee. Iemand wat Israel en die Jode sou opbou tot die politieke en religieuse middelpunt van die antieke wêreld. Hierdie punt is verskriklik belangrik in die verstaan van Jesus. Hierdie beeld van Jesus was wat die mense rondom Hom en veral sy dissipels van Hom verwag het. Dit is ook hoekom hulle Hom die meeste van die tyd nie verstaan het nie. Hulle vra selfs ná sy opstanding: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?”11

Jesus speel nie saam met hul prentjie en verwagting van Israel as ’n supermoondheid nie.

Direk nadat Jesus hierdie genadejaar aankondig, los Hy ’n bom. Hy vertel hulle hoe hulle, die Israeliete, nie deel aan die genadejaar sal hê nie; dat soos in die tyd van Elisa hulle die buitestaanders sal wees, die onreines, die sondaars, wat die genadejaar sal beleef. Dat dit hul armes is wat die goeie nuus sal hoor.

Hul gevangenes wat vrygelaat sal word.

Hul blindes wat sal sien.

Hul onderdruktes wat vryheid sal proe.

Geen wonder hulle is kwaad nie.

Jesus gebruik selfs ’n Siriër as voorbeeld van ’n ontvanger van God se genade. Die Siriërs was deel van die Assiriese Ryk wat die noordelike deel van Israel in ballingskap geneem het – aartsvyande van die Jode.

Jesus se woorde dus: hierdie feesjaar gaan gebeur, maar dis nie vir julle nie.


Hoe lyk God se hart, daar waar die wortels van die koninkryk diep ingegroei lê? God se plan is nog altyd dieselfde. God se plan is vir sy mense om Hom te ken, om Hom lief te hê en Hom te volg. Die plan is vir ons om terug te keer na ons wortels, om weer saam met Hom in die tuin te stap – in perfekte harmonie met Hom, mekaar en die natuur.

Die waardes van God se koninkryk is anders en lyk vir ons onderstebo. Amper soos die kremetartboom wat so onderstebo staan met sy worteltakke wat na die hemel strek. God sluit hulle in wat ons uitsluit. God stel belang in wie jy is, in jou karakter, nie in wat jy dink jy reggekry het nie. God is nie magsbehep nie. God is die mens Jesus wat onder ons kom woon het en ons kom dien het. In God se nuwe wêreld tel oorgee meer as beheer, tel vertroue meer as sekuriteit en tel liefde meer as aanvaarding.

Jesus kondig ’n feesjaar aan, ’n jaar van rus met slawe wat vry gaan, grond wat terugbesorg word en skuld wat afgeskryf word. Hierdie nuwe koninkryk se ekonomie lyk baie anders as die een wat ons in ons Westerse wêreld ken, selfs al is Jesus die sentrale figuur. Jesus is anders, radikaal, terug na die wortel. Die onderstebo genadejaarkoninkryk verskyn gereeld in Jesus se optrede, in sy stories en in sy wysheid.

Hoe lyk ’n feesjaar se ekonomiese stelsels? Watter dinge sal in ons wêreld moet verander as ons durf waag om te begin leef soos wat Jesus leer? Hoe dink ons op ’n praktiese vlak oor rus, slawe, eiendom en skuld? Dit is maklik om dit te vergeestelik, maar ons het baie egte uitdagings in elkeen van hierdie vier genadejaarvoorwaardes wat aan ons samelewing se deure hamer.

Ons is uitgeput en uitgebrand. Ons werksetiek is van so ’n aard dat ons mense letterlik en figuurlik boei. Grondhervorming is ’n tameletjie in ons eie land en in baie wêrelddele. Finansiële skuld verwoes gesinne en ekonomieë.

Ek het regtig nie antwoorde nie, maar ons moet baie ernstig oor hierdie sake dink. Hoe loop ons agter Jesus aan as Hy ons na ’n hersteljaar uitnooi?

Dit is moeilik om te verteer. Ons is so gewoond aan die wêreld soos dit is dat Jesus se wêreld vir ons verkeerd lyk – onmoontlik en onderstebo.

Terwyl dit eintlik óns is wat onderstebo en agterstevoorom leef.


Boomwortels in die hemel

Подняться наверх