Читать книгу Boomwortels in die hemel - Pierre du Plessis - Страница 9

KAAL

Оглавление

Ek sou raai die meeste van ons is heel ongemaklik om kaal te wees – ’n kombinasie van hoe ons grootgeword en wat ons van ons lywe dink. Ons lywe lyk nie altyd vir ons so lekker nie. Sommige van ons hardloop vinnig verby die spieël in die badkamer en het onsself jare laas kaal gesien. Daar is natuurlik uitsonderings. Die mense wat nie kan wag om van hul klere ontslae te raak nie. Ek is seker jy ken dalk ook ’n paar: diegene wat so vinnig almal wil oortuig om kaal te gaan swem of kaal in die straat af te hardloop by ’n nuwejaarspartytjie of oor die krieketveld.

Ek is seker dat baie van ons die lekker sal kan onthou van kaal in ’n plaasdam swem, of die stoutigheid om laatnag oor die skool se heining te klim en kaal in die swembad te spring. Een van my dogtertjie, Noa, se gunstelingstories is om, tot my spyt, vir nuwe gaste te vertel dat haar pappa, toe hy in die Voortrekkers was, in die middel van die nag kaal by Zita Parkie in Pretoria se supertube afgegly het. Ter verdediging, dit was ’n praktiese besluit as ’n 10-jarige laitie – ’n mens kan baie vinniger so afgaan.

Daar is tog iets lekkers aan, as ons eerlik kan wees en oor ons selfbeheptheid en konserwatiewe grootword kan kom, om so sorgeloos en kaal te wees.


Die mensdom het ’n vreemde verhouding met kaalwees. Sommige tye in die geskiedenis was dit heel aanvaarbaar en ander kere glad nie. Daar is selfs ’n brief van ’n geskokte Franse ambassadeur wat Koningin Elizabeth 1 besoek het en heel onkant gevang is deur haar uitrusting. Haar gewaad het nie haar borste genoeg bedek nie.

Om kaal te wees kan gesien word as onskuldig, kwesbaar, eroties, skaam, eerlik, vernederend of sommer net stout.

Naaktheid is verseker ’n aandagtrekker in ons dag en tyd. Dit is nie iets wat ongesiens verbygaan nie – alhoewel ons dalk die naakte beelde wil óntsien.

Gedurende die Renaissance het kunstenaars die Christuskind kaal en ook anatomies korrek begin uitbeeld. Die babaseuntjie wat naak in Maria se arms lê, heeltemal gemaklik en heeltemal ontbloot. Die hoofrede was om Christus se menswees te beklemtoon, dat God waarlik totaal mens geword het, dat selfs Jesus kaal die wêreld ingekom het. Voorheen is Jesus amper soos ’n klein grootmensie uitgebeeld, sommer met ’n toga en alles.


Hulle twee, die man en die vrou, was kaal,

maar hulle was nie skaam vir mekaar

nie.18

Adam en Eva is kaal in die tuin van Eden, geen skaamte vir mekaar en geen skaamte voor God nie – totaal en al ontbloot en eerlik. Hulle het niks gehad om vir mekaar weg te steek nie. Dit is natuurlik ná die sondeval, ná die ontkenning van hulle afhanklikheid van God alleen, dat hulle begin klere aantrek en toemaak het en ook begin wegkruip het. Dit bly vir my een van die mooiste beelde in die Bybel dat God selfs dít verstaan. God ontmoet hulle in hul gebrokenheid en maak selfs vir hulle klere, al was dit nie sy oorspronklike plan nie.

God se plan was dat hulle kaal moes wees. As jy nog tot hier gelees het, is ek bly. Dit kan seker moeilik wees vir sommige mense om oor kaalwees in ’n Christelike boek te lees. Ons bestee baie geld en tyd daaraan om nie kaal te wees nie. Ons het aantrekkamers, stortgordyne en kaste vol klere om ons te bedek.

Ons trek aan soos dit by die geleentheid pas: kragdrag vir onderhoude, oefenklere vir die gym en vleiende klere vir die eerste afspraak. Gereeld trek ons aan volgens die beeld wat ons graag wil uitstraal en glad nie soos die persoon wat ons regtig is nie. Daar is ’n teorie dat klere aan die begin ontstaan het om status te onderskei. Byvoorbeeld, in antieke Egipte het slawe kaal geloop en net die elite het klere gedra. Gewone mense het dalk op die meeste ’n eenvoudige lendekleed gedra.


Onthou jy nog kerkklere?

Daardie klere wat net Sondae uitgehaal is? Kompleet met die spesiale paar skoentjies wat kort voor jy in die kar klim, aangetrek is en dan vinnig uitgetrek is voor jy by die huis kom – net vir ingeval hulle vuil of stukkend raak. Dan terug in die kas waar hulle tot volgende Sondag wag.

Ek en my vrou praat steeds van kerkklere, hoewel ons net kerkklere aantrek as ons na troues toe gaan, meestal op Saterdae.

Kerkklere was warm, ongemaklik. Ek onthou altyd die ooms wat so rooi gesweet was in die poliësterbaadjies en dasse in die NG kerk op die dorp. Die kwik draai so net-net onder veertig, maar baadjie sal jy baadjie. Die dominee het darem die genade gehad, so nou en dan, om af te kondig dat die mense maar hulle baadjies kan uittrek en hulle sweetkolle ten toon stel.

Ek dink dit was ons tandarts in Pretoria, wat die dag met sy seun se doop by die kerk aangekom het – sonder ’n das of baadjie. Die dominee vra toe mooi beleefd: “My broer, wat sal jy aantrek as jy na die staatspresident se huis genooi word?” Vinnig antwoord ons tandarts: “Ek sal natuurlik my pak aantrek.” Ek dink die dominee het seker so lekker gekry, want die tandarts het toe mooi in sy strik getrap. “Nou hoekom dra jy dan nie ’n pak na die huis van die Here toe nie?” kom die doodskoot van die dominee af.

“Wel, Dominee, want die Here sien my hart.”

Tandarts 1.

Dominee 0.

Twee mense het na die tempel toe gegaan

om te bid. Die een was ’n Fariseër en die

ander een ’n tollenaar. Die Fariseër het

gaan staan en by homself so gebid: “O

God, ek dank U dat ek nie soos ander

mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers,

en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek

vas twee keer in die week en ek gee ’n

tiende van my hele inkomste.” Maar die

tollenaar het daar ver bly staan en wou

selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het

bedroef op sy bors geslaan en gesê:“O God,

wees my, sondaar, genadig.”19

Dit is moeilik vir ons hedendaagse lesers om die vlak van skok te verstaan wat hierdie gelykenis in Jesus se dag sou veroorsaak het. Die mense rondom Hom se asem sou weggeslaan het, en een of twee sou dalk omgekap het.

Fariseërs is oor die algemeen gesien as die mees regverdige mense in die tyd van Jesus. Hulle het die wet onderhou en het presies gedoen wat God wou hê. Hulle was die Tannie Emsies van die kerkwêreld – alles is reg gedoen. Die Fariseër wat in hierdie verhaal is, het selfs méér gedoen as wat nodig was. Die wet het net vereis dat daar een dag in die jaar gevas word; hy het twee keer per week gevas. Net op sekere gedeeltes van jou inkomste moes ’n tiende betaal word; hy het op sy hele inkomste ’n tiende betaal. Hy was die toonbeeld van reg doen.

’n Tollenaar was natuurlik nie gewild in die antieke tyd nie. Tollenaars het die reg om belasting in te vorder by die Romeine gekoop en enigiets wat hulle meer as die ooreengekome bedrag kon insamel, was wins. Hulle was gewoonlik ook Jode. Die res van die Jode het hulle as verraaiers gesien, as die slegste van die slegtes. Die Mishna het gesê dat tollenaars nie in die hof kan getuig nie en dat jy nie eers vir hulle die waarheid hoef te vertel nie.

Dink aan die regverdigste, godsdienstigste groep mense waarvan jy weet – of dalk eerder ’n groep wat diep geestelik is, om meer hedendaagse taal te gebruik. Dalk ’n groep nonne, of monnike, dalk mense wat lang tye in stilte deurbring. Dalk mense wat onder die armes werk. Hulle is dalk meer soos die Fariseër in die storie.

Dink dan aan mense wat deur niemand vertrou word nie. Korrupte politici is die eerste wat in my kop opkom. Hoekom moet ons vir hulle die waarheid vertel oor ons eie inkomste? Hoekom moet ons die boetes betaal wat korrupte polisie uitskryf?

Dit gee dalk ’n beter prentjie.

Die vraag wat die gelykenis vra, is waarin stel God belang? Wat is vir Hom belangrik? Die mooi van die verhaal is vir my die beskrywing van die twee figure se gebede en liggaamstaal. Die beskrywing van die Fariseër se gebed is lank en gedetailleerd en die beskrywing van sy postuur, kort. Die tollenaar se gebed is kort en tog is die beskrywing van sy postuur en sy houding veel langer as die een van die Fariseër.

In die apokriewe boek Henog word daar beskryf hoe gevalle engele glad nie hul oë na die hemel kon oplig nie. Die tollenaar staan ver, kop na onder, slaan op sy bors, bedroef. Meer as net ’n les dat ons nie op ander moet neersien nie, is hierdie gelykenis ’n voorbeeld van eerlikheid, weerloosheid en naaktheid voor God.

Dit is wat die Here soek: egtheid. Jesus se hardste woorde in al die Evangelies is seker dié in Matteus 7:22, 23 (Die Boodskap) waar die mense wat Hy van Hom af wegstuur, vir Hom vra: “Here en Meester, onthou U dan nie watter groot dinge ons alles in u Naam gedoen het nie? Ons het gepreek, duiwels uit mense verdryf en allerhande magtige dade gedoen.” Jesus se antwoord is skokkend: “Ek ken julle van g’n kant af nie. Julle spul slegte mense verdien die hel. Gee dadelik pad voor My!”

Jesus ken hulle nie.

Met hoeveel pretensie kom ek nie na die Here toe nie; met my mooi woorde en goeie dade, met my Bybellees en bid, met my betrokkenheid by die kerk en by die armes. Al ooit in die spieël gekyk en gedink: ek is eintlik oraait? Dit is dit waarvan hierdie verhaal praat, die belaglikheid om te dink jy is oraait, die belaglikheid om te dink dat ons in elk geval iets vir God kan wegsteek. Ons sit nog steeds elke dag en vyeblare aanmekaar, spoeg en plak en dink ons kan ons naaktheid vir God wegsteek. Hoe kan Jesus ons ken as alles wat ons voorhou vals is?

Jesus hou Hom nie met maskers op nie.

Daar is ’n bekende verhaal van Herkules waar die sentour, ’n perdmens, Herkules se vrou ontvoer en haar wil verkrag. Herkules skiet toe ’n pyl af en wond die sentour noodlottig. Terwyl die sentour besig is om dood te gaan, vra hy die vrou om vergifnis en vra dat sy, na sy dood, sy vel vir Herkules moet gee. Sy doen dit toe, maar dit was ’n lokval. Die sentour se vel was vergiftig en toe Herkules dit met trots om sy skouers gooi, toe vreet die gif in sy vel in. Sommige weergawes van die verhaal vertel dat hy dit nie weer kon afkry nie, terwyl ander vertel dat hy van die gif dood is.

So is dit met ons wat identiteite aanneem wat nie ons eie is nie. Na ’n tyd kan ons nie meer onderskei wat vals is en wat waar is nie; asof die masker wat ons dra, wat ons selfs voor God dra, in ons gesig in gevreet het.

Dit is beter om kaal te wees.


Hier is ek.

Hierdie woorde weerklink deur die hele storie van die Bybel. Keer op keer hoor ons hoe iemand antwoord wanneer God roep.

Hier is ek.

Adam antwoord: “Hier is ek.”

Abram antwoord: “Hier is ek.”

Jakob antwoord: “Hier is ek.”

Moses antwoord: “Hier is ek.”

Samuel antwoord: “Hier is ek.”

Ananias antwoord: “Hier is ek.”

Die woord in Hebreeus is hineni. Dit beteken meer as “hier is ek”. Dit beteken ook “ek is gereed, gebruik my”. Die woord vir waarheid in die Nuwe Testament, aletheia, beteken “iets wat ontbloot is”, wat nie meer toegemaak is nie.

Ek glo dit is wat die tollenaar doen. Hy sê met sy hele liggaam hineni.

Ek glo ten diepste dit is al wat ek en jy vir God kan antwoord. Dit is al wat ons Hom kan bied wanneer Hy ons in die tuin kom soek waar ons probeer wegkruip en ons sonde probeer toemaak. Hineni.


Dit is moeilik om met ’n oop hart te leef. Harte kry maklik seer. Om weerbaar en broos te leef voor die Here is een ding, maar voor die mense in ons geloofsgemeenskappe, ons kerke, is dit éérs moeilik. Ons is maar stukkende en gebroke mense, en stukkende mense het skerp kante wat diep kan sny.

Tog glo ek ten diepste dat ons saam in ons gebrokenheid moet leef, dat ons oor en oor ons harte vir mekaar moet oopmaak, braaf moet wees, met die wete dat ’n mens tien teen een weer sal seerkry. Dit is hierdie deel, hierdie saam oefen hoe om agter Jesus aan te loop, hoe om eerlik en opreg te leef, wat ons stadig maar seker meer mens maak. Dit is hierdie skerp kante wat dalk net help om die masker wat so aan ons gesigte vasgegroei het stadig los te sny. Dit is nie toeval dat die woord courage van die Franse coeur (hart) kom nie.

Om braaf te leef, is om met ’n oop hart te leef.20

Jesus word gereeld met ’n oop hart uitgebeeld, die sacred heart, ’n hart wat brand en bloei. Jesus is ook naak gekruisig sodat ons nie hoef skaam te wees oor ons naaktheid voor God nie.

Jesus skeur alles oop tussen ons en God.


Dit vat verskriklik baie tyd en moeite om jou masker te begin losskeur, grimering te begin afvee en ons kragdrag uit te trek.

Ons is baie gewoond aan die wapenrusting wat ons teen die wêreld dra, die honderde verskillende maniere waarop ons van God wegkruip, en ook van onsself.

Dit is baie moeilik om naak te wees en kaal vir jouself in die spieël te kyk. Ons reis is een terug na onsself, na die self wat God gemaak het. Ons Self, Godsbeeld Self met ’n hoofletter S, is diep weggebêre onder jare se toemaak.

Gereeld op ’n Sondag lees ons saam as gemeenskap hierdie stuk deur Rachel Held Evans (wat nou onlangs oorlede is). Frieda het dit vir ons mooi vertaal uit Evans se boek Searching for Sunday (2015):

Ons kom soos ons is – sonder om weg

te kruip, sonder om toneel te speel, sonder

om bang te wees.

Ons kom met ons materialisme,

ons trots, ons kleinlike griewe teen ons

bure, ons skynheilige minagting vir die

veroordelende mense in die kerk langsaan.

Ons kom met ons angs oor die dood,

ons desperaatheid om liefgehê te word, ons

stormagtige huwelike, ons knaende twyfel,

ons beheptheid met status en selfbeeld.

Ons kom met ons verslawings – aan

middels, aan werk, aan besittings, aan

beheer, aan kos.

Ons kom met ons verskille – polities,

teologies, rassig of sosio-ekonomies.

Ons kom op soek na heiligdom en rus,

’n veilige plek om ons maskers af te gooi en

uit te asem.

Ons kom om ons vuil wasgoed lug te

gee voor God en almal anders, want as

ons dit saam kan doen, hoef ons nie langer

bang te wees nie.

Wanneer Paulus en Timoteus praat oor wat belangrik is,21 gebruik hy die woord Gymnasto. Dit is natuurlik waar ons woord gimnasium vandaan kom. Die Griekse woord beteken letterlik om kaal te oefen. Dit is wat die antieke Grieke in die gimnasia en ook by die Olimpiese Spele gedoen het. Hulle het poedelnaak deelgeneem.

Hierdie woordspeling van Paulus is doelbewus, sou ek raai. Wanneer ons ons geloof in gemeenskap oefen, moet ons dit kaal oefen. Sonder maskers en sonder voorgee, net soos ons is.

Len Sweet het ons eenkeer vertel hoe sy seun ’n musiekinstrument moes kies om gedurende die somervakansie te leer speel. Hy kies toe die klarinet. As jy al ooit uitgelewer is aan die onaardse klanke van iemand wat ’n musiekinstrument leer bespeel, sal jy verstaan. Dit is verskriklik, en kom ons wees maar eerlik met mekaar, ’n vals noot op ’n klarinet is veel erger as een op talle ander instrumente. Tog het hulle hom toegelaat om die klarinet te leer speel deur die hele drie maande van die Amerikaanse somervakansie. Hoekom?

Omdat hulle lief is vir hom.

Ons almal speel soms vals note, ons almal probeer, en ons almal hardloop saam die wedren. Die ruimte wat ’n gemeenskap skep waar foute gemaak kan word, en vergewe kan word, is heilig. Jy sien, heiligheid het nie te doen met dit wat jy uitsluit en diegene wat jy vermy nie. Dit het baie meer te doen met dit en diegene wat jy omhels en insluit.

In die onderstebo koninkryk van die hemel hoef ons nie perfek te wees voordat ons voor God opdaag nie. Ons kan gaan net soos ons is. Ons kan voor die tempel gaan staan in naakte eerlikheid. Ons hoef nie ons mooiste aan te trek, ons hare te kam en ons gesigte te was nie. Ons kan gaan net soos ons is.

Jy trek nie jouself áán vir kerk nie – jy trek uit.


Boomwortels in die hemel

Подняться наверх