Читать книгу Kruispunt - P.J Haasbroek - Страница 3
Ahmo se perd
ОглавлениеToe hy die oggend by hul huis uitkom, sien die seun anderkant die bruggie ’n bont karavaan staan, en naby wei drie perde in die oopte.
Ahmo hou van perde. By die skool dink hy hoe hy na hulle toe sal gaan. Sal hy oor die heining kan klim?
Die oggend gaan stadig, klas na klas, verby. Hy ken min van die kinders, want hy het maar vanjaar in Konic se hoërskool begin, die lang grys gebou naby die Neretvarivier.
Asof die hoërskool wil wys hoe ’n ernstige saak onderwys hier is, dra die gebou letsels van die oorlog: ’n Kroatiese tenk het daarvan ’n teiken gemaak. Die eerste dag al het hy en sy maats na die twee gate in ’n muur aan die bergkant gaan kyk. Dit is rof toegemessel, maar granaatskerwe het kepe in die pleister gekerf. Kepe wat wegspat van die rou wond in die stene.
Dikwels dink Ahmo hoe bang almal moes gewees het toe die tenk op die skool begin skiet het. In een klaskamer mag nou nog niemand ingaan nie; ’n bom wat deur die venster gevlieg het, het binne ontplof, en die skade is nog nie opgeruim nie.
Van die groot seuns spog dat hulle al dáár gaan rook het. Hulle kan seker vertel hoe lyk dit, sou hy vra, maar Ahmo sien nie kans vir die gedagte aan die stukkende skoolbanke nie, en moontlik, die donker vlekke binne op die vloer. Hy het genoeg van die oorlog gesien om terug te deins voor alles wat hom daaraan sal herinner.
Vandag wil Ahmo liewer aan die perde dink. Die drie perde wat tussen die kersiebome wei. ’n Perd begin soms sommer hardloop, baldadig, en dan volg die ander hom. Hulle kopspeel en runnik; hy het al perde so sien maak. Eendag het ’n skietgeveg bo in die berg twee ploegperde in ’n kraaltjie laat skrik, en toe breek hulle die hek, en hardloop in die pad af. Toe hulle onder in Podorajac kom, voor die huise verby, was hulle skoon uitbundig. Asof hulle heeltemal van die skote vergeet het.
“Die twee dink seker hulle is nou vir goed bevry van hul tuie,” het sy pa dié oggend gesê.
Die skooldag gaan verby sonder dat Ahmo sy maats van die karavaan en die perde vertel. Hy wil eers by die perde uitkom, straks aan hulle geraak het, voor hy iets daarvan sê.
In die skoolbus op pad terug wonder hy wie het die karavaan in die nag daar langs ou Nikola se huis geparkeer. Dit kan ’n sigeuner wees; hulle verf gewoonlik hul rytuie so.
Hy wonder ook oor die perde. Waarom drie? Twee is genoeg om die karavaan te trek, die twee bruines. Dalk is die swarte die sigeuner se ryperd. Of hy kan ’n plan hê om die perd op Konic se mark te gaan verkoop.
Die vallei waarin hul skoolbus opry, is so nou, dit druk die pad teen die riviertjie vas, klein Tresanica, wat haas om by die Neretva aan te sluit. Soms, waar die riviertjie langs die pad effens swenk, sien hy dit deur die venster blink, die kabbeling wat spring en skuim oor wit kalkklippe.
Weerskante van die vallei is die berghange steil onder digte donkergroen woude, met net hier en daar, waar die helling gelyker is, ’n lappie saailand of ’n boord. Soos die bus ry, sien Ahmo ook huise bo teen die berg. Min van die huise staan alleen; oor jare en jare is hulle deur familielede wat verkies om naby mekaar te woon, onder spits grys klipdakke saamgebondel.
Van die huise is net murasies. Hulle was sterk genoeg van klip gebou om nie van ouderdom inmekaar te tuimel nie. Nie eens die tenks op die berg kon hulle stukkend skiet nie. Toe stuur die kolonel soldate af in die vallei om van die plaashuise met dinamiet op te blaas.
Voorheen was hier min plekke in die vallei waar ’n sigeuner sou kon uitspan. Elke plasie het ’n baas gehad, en op elke erf het een van die smal dubbelverdiepinghuisies gestaan waarin ’n gesin gewoon het. Die oorlog het hulle uitgejaag, maar toe die gevegte draai, was dit weer die Serwiërs wat moes vlug. Hulle het hul huise en landjies net so gelos. Die mans van Podorajac – sy pa en sy vriende – het die Serwiërs se verlate huise aan die brand gesteek.
Dit lyk nie vir Ahmo of iemand dit weer wil opeis nie.
Die sigeuner het dalk geweet van die plasie wat oorkant die brug leeg lê, ou Nikola Klajic s’n. Hy kon gesien het niemand bly meer in die huis nie; die sigeuners se oë is glo skerp om iets te sien wat hulle kan toe-eien.
Die deure hang oop en hulle het Nicola se yskas en elektriese stoof in die riviertjie gegooi. Oral in die oorgroeide tuin lê van sy klere en skoene rond. Sy pa was baie kwaad vir ou Nikola. Hulle dink die ou Serwiër het die Kroatiese soldate gewys waar hulle hul masjiengeweer in die berg moet opstel. Van die krans af het hulle op alles geskiet wat in die pad beweeg.
Nie een van die seuns in die bus is in Ahmo se klas nie. Behalwe twee groot seuns wat heel agter sit, stil Rutko en sy maat, Mičak, Konic-hoërskool se sterkste stoeier, is al die ander nog in die laerskool. Uit Podorajac kom gans te veel meisies. Ook drie of vier wat saam met hom in die klas is, sit in die bus. Hulle giggel al weer oor iets. Lawwe goed. Loer oor hul skouers agtertoe na Rutko en Mičak met sy dik skouers.
Toe Ahmo hoërskool toe is, het dit ’n afstand tussen hom en die ander seuns van Podorajac gebring. Eensklaps het hulle nog klein gelyk, en het hy alleen gevoel wanneer hy huis toe loop. Hy het verantwoordelikhede bygekry. Terwyl die knape buite in die sneeu kon speel, moes hy huiswerk doen. Of sy pa ’n plank help vashou wat hy saag.
Die Kroate het al die groot houtwerkmasjiene uit sy oupa se meubelfabriek in Konic weggery, en toe die fabriek met dinamiet opgeblaas. Hulle het ook die stapels planke aan die brand gesteek. Dit was ’n groot vuur.
Sy pa het toe nie meer sy werk as bestuurder in die fabriek gehad nie. Hy kon ook nie elders werk kry nie, want hulle het die ander fabrieke ook gesloop. Tot in Mostar het hy gaan soek, maar daar lyk dit nóg erger, met baie mense wat werk soek op straat. Hy het toe maar die hele lang pad Konic toe teruggeloop.
Dit sal Ahmo seker nooit kan vergeet nie: die kort, moeë figuur in sy groen soldatebroek wat daardie skemeraand stadig in die pad aangeloop kom na hul huis toe. “Vati!” het hy bly uitgeroep toe hy hom herken.
Nou maak sy pa by sy werksbank agter die huis ander mense se meubels reg.
Ahmo help graag waar hy kan, hy hou van hout, kerf figuurtjies daaruit met ’n skerp mes. ’n Soldaat wat hurk en bakhand water skep. Oma op haar stoel voor die stoof. Of hul hond, Jojo, wat slaap. Soms teken hy hulle. Sy ma sê sy kan sien dit is Oma of Jojo.
Deur die busvenster sien hy hoe ruig hang die bos van die oewers af oor die bokspronge van die Tresanica; dit is moeilik om anderkant die stroom te kom. Net die bruggie gee toegang tot die plasies oorkant. Die sigeuner het sy uitspanplek goed uitgesoek.
Toe die bus stilhou, kyk Ahmo of die karavaan nog daar staan. Ja, in die oopte vlak langs Nikola se huis anderkant die Tresanica. Opvallend, want dit is bont geverf in krulpatrone, ’n mooi versiering, al lyk dit vreemd. ’n Kookvuur se rokie styg van agter die karavaan af op, yl blouerig soos mis wat bo in die boomtoppe uitrafel. Hy kan nie die perde sien nie. Dalk is die sigeuner iewers heen met hulle.
Dan gee dit hom nou die kans om te gaan kyk wat daar aangaan.
Ahmo loop oor die bruggie. Die stroom raas harder onder in die tonnel asof die klein Tresanica daarvan hou om haar lied te hoor weergalm. Die gedruis sal maak dat hy nie sy ma van die huis af kan hoor roep nie. Hy sal gou maak; net eers gaan kyk of die perde nog onder die kersiebome wei.
Die swarte is ’n ou reunperd, alleen in die kampie. Hy kom nader toe hy Ahmo sien verbyloop. Lig sy kop en runnik saggies.
Dit is dalk hoe ’n perd jou groet. Of roep hy hom? Ahmo gaan staan en wag om te sien of die perd na hom toe, langs die heining, sal kom. Hy steek sy hand by voorbaat na hom toe uit.
Die reun kom rustig aangestap. Toe druk hy sy neus teen Ahmo se hand. Die vel van sy bolip voel fluweelsag. Ahmo sien homself weerkaats in die perd se groot bruin oë. Hy vryf oor die neus; voel sy asem warm stoot, en dan sper die reun sy neusgate wyer. Hy praat ook met die reun, vra hom wat is sy naam. As dit sy perd is, sal hy hom Pescka noem. Al het die sigeuner vir hom ’n ander naam gegee, is dit ’n mooi naam vir ’n perd.
“Pescka!” sê hy en die reun spits sy ore.
’n Vrou in ’n geblomde rok en ’n windjekker klim uit die karavaan en kom lig ’n ketel van die vuur af.
Wat sal hy vir haar sê doen hy by die perd? Maar sy het hom gelukkig nie gesien nie. “Ek kom weer, Pescka,” belowe hy voor hy na die brug toe terugstap.
Sy pa is in die agterplaas besig om ’n laaikas reg te maak. Hy staan krom gebuig oor ’n plank op sy werkstafel waarin hy met ’n beitel swaelsterttappe uitkap. Hy konsentreer so om akkuraat te werk, dat hy nie opkyk toe Ahmo hom groet nie. Hy sê net: “Middag, seun,” en gaan met sy werk aan.
Die opgerolde moue wys die spiere op sy pa se voorarms. Al is hy ’n buksie, is hy sterk: weet almal in Podorajac, met hom skoor jy nie. Diep plooie langs sy mond en om sy oë wys die soort erns en vasberadenheid wat hom deur die oorlog gedra het, en sekerlik ook die swaarkry toe daar min kos in hul huis was. Dat hy soos sy pa lyk, pla Ahmo nie. Eendag sal hulle ook nie met hom sukkel nie.
Die geklop van sy pa se hamer volg Ahmo teen die trap op.
Dit is warm in die kombuis van sy ma se gekook. Uit die pot op die stoof kom die geur van groentesop: tamatie en uie. Daar lê reeds ’n dik sny vars brood op sy bord vir hom en wag. Hy roep na agter; sy ma is seker besig om die wasgoed wat sy die oggend gestryk het in die kaste weg te pak. “Hallo, Ahmo,” hoor hy haar groet. Hoe weet sy altyd wanneer hy inkom?
“Het Muti gesien daar staan ’n karavaan langs ou Nikola se huis?” vra hy, terwyl hy agter die tafel inskuif.
Sy ma kom die kombuis binne, kommer in haar swart oë. Alles wat buite haar werf gebeur, selfs die kleinste dingetjie, maak haar bang. “Jy moet wegbly van die sigeuners af, Ahmo,” sê sy. “En van Nikola se huis af.” Dit klink soos ’n waarskuwing.
“Wat maak hulle daar, Muti?”
Sy trek haar oë groot. “Sigeuners het ’n klomp snaakse maniere. Ek het al gehoor hulle vang kinders en steek hulle weg. Dan moet jy betaal om weer jou kind terug te kry.” Sy skep vir hom ’n bakkie sop uit.
“Hulle perde wei daar in die kampie,” sê hy.
“Sigeuners eet perde,” sê sy ma.
Geskok kyk Ahmo op. Hy kan hom nie voorstel hoe ’n mens ’n perd kan slag nie; die sagte oë wat pleit, die nek sierlik gekrom. Die brood wat hy in die sop geweek het, het dik in sy mond geraak, soos deeg. Hy kou en sluk met moeite; die uiesmaak van die sop herinner hom aan die kruierige veld in die kampie waar die perde wei. Die gedagte aan die sigeuner met sy mes by die swart perd is vir hom verskriklik.
Hy wil sy pa gaan vra. Net hý sal hom kan gerusstel. Ahmo eet haastig. Hy hardloop die trap af en om die huis na waar sy pa by die werksbank met ’n winkelhaak meet of die tappe haaks en vlak is.
“Het Vati gesien daar’s ’n karavaan oorkant die riviertjie?” vra hy. “So ’n bonte, dis seker ’n sigeuner wat daar uitkamp.”
Sy pa sit die plank en die winkelhaak neer en met die kant van sy hand vee hy die skaafsels van die werksbank af. Toe kyk hy na hom op en glimlag effens. “Ja, Bratska is sy naam. Hy het my kom vra ek moet vir hom ’n velling regmaak.”
Ahmo is uit die veld geslaan. Hoe kan sy pa die man vertrou? “Ken Vati hom dan?”
“Net van die een keer se praat toe hy my kom vra het.” Sy pa pas die tappe in die kopkante van twee planke in mekaar. Knik tevrede.
“Vati, is dit waar dat sigeuners perde slag?”
“Baie mense eet perdevleis.” Sy pa het nie eens opgekyk toe hy dit sê nie. Dit was ’n doodluiterse mededeling, ontdaan van enige verskrikking, so gewoon soos om te erken hulle eet burek.
“Hoekom eet hulle dan nie beesvleis of skaap nie, Vati?”
“Ha! Ha-a!” lag sy pa sy kortaf lag. “O, hulle eet dit ook, en hulle slag hoenders en ganse en konyne, maar soms slag hulle die perde wat hulle nie meer gebruik nie.”
Daar het nog net een vraag oorgebly. Dit het op Ahmo se tong gehuiwer, bitter soos ’n groen olyf, maar hy wil sy pa dit nie vra nie, want die antwoord het hy reeds uitgedink. En die antwoord het ’n naam en ’n vorm: Pescka, die swart reunperd, gaan geslag word omdat die sigeuner nie meer gebruik vir hom het nie.
Toe sy pa hom daaroor uitvra, vertel Ahmo van die dag by die skool. Van die goeie punte wat hy vir sy opstel gekry het.
“Leer hulle darem vir jou ’n bietjie houtwerk ook?” vra sy pa. Hy glo mens gaan skool toe om die een of ander nuttige vaardigheid te bekom. “In Konic, waar die helfte sonder werk sit, sal jy nie juis ver kom met jou opstelle nie.” Asof hy besef hoe bitter hy al weer geklink het, voeg hy by: “Leer dan liewer sing, Ahmo; in die kroeg luister ons graag na Safet se hartseer liedjies.”
“Eendag sal ek ook ’n liedjie skryf,” antwoord Ahmo. “Een wat Safet kan sing.”
“Nou ja, toe dan,” sê sy pa, en korrel langs ’n ongeskaafde plank se kant af. So kan hy sien of dit met die droog word skeef gedraai het.
Ahmo doen sy huiswerk voor die venster. Daarvandaan kan hy die pad oor die bruggie dophou. Hy wil die sigeuner, Bratska, sien terugkom.
Hy kyk ook teen die berg op na die hoogte waar die Kroate ingegrawe was. Sy oupa het daar grond gehad, goeie weiveld, maar dit was voor die oorlog.
Dit is laat, al byna donker, toe Bratska op ’n skotskar – getrek deur die twee bruin perde – aangery kom. Hy het ’n swart leerbaadjie aan en ’n pet op sy kop. Onder die pet hang sy hare uit tot in sy nek, en oor sy ore. Hy het ’n sweep in sy hand, al draf die perde fluks.
Anderkant die bruggie raak die pad agter die bosse weg. Ahmo kan nie sien waar Bratska met sy skotskar heen ry nie, maar die perde, dink hy, sal hy seker in die kampie uitspan. Tot môre, dan vang hy hulle weer en los die swarte hier … Hy sal ná skool gaan kyk. Dalk bly die man weer die hele dag weg. Hy het die hele namiddag om ’n plan te maak.
Kommer dat die sigeuner die perd na Konic toe sal neem, het sy naels in Ahmo se gemoed geslaan. Hy stel hom voor hoe Bratska die swart reun in die sigeuners se kamp daar onder langs die Neretva aan ’n paal vasmaak. Die mans staan uit hul karavane nader om te kom perdevleis koop, terwyl die vroue in hul bont rokke alreeds potte vol water op die vure sit om te kook. Eenkant werk die ou man wat al Konic se messe en skêre slyp met sy klipwiel. Hy trap dit tot dit vinnig draai, en slyp Bratska se mes. Daarna toets hy dit op sy duimnael.
Die swart reun staan nog steeds in die kampie toe Ahmo die middag daar aankom. Sonder om te dink wie hom dalk sien, roep hy bly: “Pescka!”
Die perd kom dadelik nader. Is dit blydskap om hom weer te sien wat in sy groot bruin oë blink? Ahmo slaan sy arms om die reun se nek.
Niemand kom kyk wat hy langs die heining met die reun doen nie. Hy du hom na die hek se kant toe. Toe bind hy die tou wat hy saamgebring het om sy nek, gou, met ’n knoop wat nie sal toeskuif nie, en maak die hek oop. Die reun volg hom gedwee die woud binne.
Die paadjie teen die hang is dik met blare bedek; geen spore sal daarin wys nie. Net om seker te maak dat hy nie agtervolg kan word nie, draai Ahmo later daarvan weg en loop skuins bergop. Sy koers sigsag al hoër, al nader aan die krans waarop die Kroate hulle masjiengeweerstelling ingerig het: die uitsigpunt wat ou Nikola vir hulle aanbeveel het.
Niemand soek ooit daar naby sampioene nie.
Nadat die UNFOR-spesialiste hul kennisgewings daar aangebring het, gaan Podorajac se seuns ook nie meer soontoe nie. Oral waarsku blikplaatjies aan ’n pen in rooi verf teen myne. As jy ’n personeelmyn aftrap, skiet dit so hoog soos jou knieë in die lug op voor dit ontplof.
Bratska sal dit nie waag om hom hierheen te volg nie.
Stadig, met sy blik stip op die grond ’n entjie voor hom, lei Ahmo die perd deur die woud. Die helling is moeilik, steil en klipperig, en ontblote kronkels van boomwortels pootjie hom. Nogtans bly die perd kort agter hom, soms met sy neus teen sy nek. Heeltyd dink Ahmo aan die gevaarlike myne – in Konic hink twee jong mans, wat in die berge aan die gevegte deelgeneem het, op krukke – maar hy is eintlik banger dat die reun ’n myn kan aftrap as hy.
’n Uur later kom Ahmo by ’n tweespoorpaadjie uit. Sy oupa is altyd hierlangs op na sy beeste in die bergkampie toe. Dit was maar laas somer dat die skaapwagters weer die paadjie begin gebruik het om hul kuddes bergop te neem: die maklikste roete van onder uit die vallei uit. Hy sal met die paadjie langs hou terug huis toe.
Die paalomheinde kampie waarheen Ahmo die reun neem, het genoeg weiding en water; ’n fontein syfer sommer so uit die gras uit, maar wat dit ’n ideale wegsteekplek maak, is die woud rondom, dig en donker soos ’n gordyn van groen fluweel. Voor die oorlog het sy oupa nog drie guskoeie en van sy speenkalwers hier gehou, maar die vlugtende Kroatiese soldate het op hulle afgekom en hulle geslag. Sy pa het nie vee om hierheen te bring nie.
Ahmo knoop die tou om die perd se nek los. “Hier gaan daai sigeuner jou nooit kry nie,” sê hy. “Ek kom môreoggend weer, Pescka.” Dan is dit Saterdag en die skool is toe. Hy kan maklik van die huis af wegglip.
Ahmo hardloop met die paadjie langs bergaf, so vinnig as wat sy bene hom kan dra. Toe hy by die huis kom, is dit nog nie donker nie. Niemand het hom gemis nie. Net Jojo blaf van blydskap, en spring teen hom op.
Ahmo is verbaas hoe maklik hy dit reggekry het om Pescka te red. Vreugdevol gaan hy die aand bed toe, opgewonde oor sy plan.
Vroeg die volgende oggend hoor Ahmo buite in die straat iemand praat; ’n harde, vreemde stemtoon het hom laat wakker skrik. Toe hy by die venster uitloer, sien hy die sigeuner, Bratska, by hul heining staan. Hy praat met sy pa en beduie straatop en straataf na al die huisies van Podorajac. Ná ’n rukkie word dit weer stil.
Sal hy sy kennis van die rede vir die man se ontsteltenis vir sy pa kan wegsteek? Beteuterd loop Ahmo kombuis toe. Hoe moet hy maak om nie skuldig te lyk nie? Gelukkig stuur sy ma hom na sy tante toe om vir hul oggendete burek te gaan haal, vars gebak en geurig onder ’n servetjie toegemaak op ’n bord.
Sy pa se stroewe stilte aan tafel is aan Bratska se berig oor sy perd te wyte, weet Ahmo, maar hy durf hom nie uitvra nie. Sy perd is gesteel, sou Bratska vertel het. Toe hy van Konic af terugkom, was die perd weg. Nee, hy het die spoor in die woud verloor.
Asof hy die vraag wat by Ahmo spook, verwag het, sê sy pa: “Die sigeuner wil nou by almal loop en navraag doen oor sy perd. Hy het nog nie gedink om ’n klag by die polisie te lê nie.”
“Dalk omdat hy self by allerhande onwettighede betrokke is,” sê sy ma.
“Dalk omdat hy weet die polisie het nie veel tyd vir hulle sigeuners nie,” antwoord sy pa.
Ahmo wil so gou as moontlik wegglip, maar hy kan nie sommer net oor die bruggie loop nie; dit sal te veel agterdog wek. Hy moet hoër op oor die Tresanica, waar ’n paar groot klippe trapplek bied in die stroom.
Toe hy later daar kom, trek hy sy skoene uit; kaalvoet is jou kans vir gly minder. Anderkant kies hy ’n kortpad deur die woud. Hy wil so gou as moontlik die tweespoorpaadjie bereik. En vir Pescka het hy twee appels gebring. Perde hou van appels, het hy gehoor.
Vroegmiddag keer Ahmo terug. Hy voel tevrede, dit was lekker om op die reun se rug te klim, al het hy nie teuels gehad om hom mee te stuur nie.
Die volgende oggend gaan Ahmo weer bergop, na die perd toe, in die geheime kampie in die woud. Hy bly nie lank nie; as sy pa hom soek om hom met iets te help, sal hy sê hy was by ’n vriend.
Ahmo hou ’n hele week hiermee vol. Al duur dit langer om soontoe te gaan en terug te kom as die rukkie wat hy daar vertoef, is dit die moeite werd. Hy het die sigeuner se aaklige voornemens gefnuik.
Net een middag het hy Bratska stadig oor die bruggie sien loop. Dit het gereën, en sy ou leerbaadjie se kraag was opgeslaan agter sy nek, sy pet diep oor sy oë afgetrek. Hy het hande in die sakke geloop, geboë onder die harde val van die koue druppels, asof die reën hom grond toe afdruk, af in die modderige plasse in die pad.
Ahmo het geskrik, want ’n oomblik lank het hy gedink dit is ou Nikola wat na sy vernielde huis toe teruggekom het. Hy was so ’n krom ou man.
Saterdagoggend vra Ahmo sy pa of hy hom by sy werkstafel nodig het, want hy wil Rutko gaan vra om hom te help met sy algebra; almal weet hoe knap is hy met wiskunde.
Gou is hy by die trapklippe oor die Tresanica, en daarna kortpad deur die woud teen die berghang op na die paadjie toe. Hy het vir Pescka appels gebring. Appels en ’n tou om ’n toom te prakseer, want vandag wil hy hom weer probeer ry. So ver as wat Ahmo loop, hoor hy voëls in die woud sing. Hy kyk of hy nie een kan sien nie, maar hulle bly verskuil tussen die groen lower, veilig onsigbaar.
Solank as wat Pescka weggesteek bly, sal hy ook veilig wees.
Om ’n toom van ’n tou te maak, is toe glad nie maklik nie; Ahmo kom gou agter ’n toom moet ’n stang hê, waaraan die teuels kom. Hy sukkel ook om bo-op die groot swart reun se rug te klim. As hy die maanhare vasgryp en homself probeer optrek, gly sy kaalvoete teen die reun se gladde flanke.
Die perd bly verbasend geduldig staan.
Soos hy die vorige keer ten einde raad gemaak het, lei Ahmo die perd later tot langs die heining, en klim toe van die heining af op sy rug.
Asof hy sy ruiter se probleem verstaan, stap die perd rustig met hom in die kampie rond. Ahmo kom agter dat hy hom met sy knieë kan stuur: druk links, en Pescka swenk regs. Hy hou aan sy maanhare vas. Later begin hy tuis voel op die wye, gespierde rug, al skaaf hy ook ’n bietjie tussen sy boude. Hy praat met die perd: “Jy kan vir altyd hier bly, Pescka. Dis veilig hier in die woud.”
Die lyk asof die bome soos vriende hand om die lyf staan, so strengel hul dik takke ineen, so vou hulle mekaar in mantels lower toe. Net bokant die kampie is die lug oop: ’n blou vierkant. Wolke dryf dit stadig binne en weer uit. Dit kan vanmiddag reën, het sy pa gesê.
Ahmo voel jammer vir die ou swart reun wat alleen moet agterbly. “Sodra ek kan, kom ek weer,” belowe hy.
Hy hardloop in die paadjie af. Die wolke het saamgepak en die woud donker gemaak; in die skemer lyk die lower amper swart. Die voëls het stil geraak. As die wind reg waai, sal hy die vragmotors onder in die vallei op pad Sarajevo toe kan hoor, maar uit die verte kom net ’n gedruis soos van wind in die boomtoppe. Of is dit al reën?
Net om die draai in die paadjie, sien Ahmo skielik die man voor hom in die pad aankom. Bratska, die sigeuner.
Van skrik gaan staan hy, maar Bratska het hom alreeds gesien. Sy smal donker gesig het gelig; hy staar stip na hom, agterdogtig? Of is dit boosaardigheid wat in daardie swart oë glim?
Ahmo wag nie om te hoor wat die sigeuner roep nie. Hy spring uit die paadjie in die struikgewas in. Dit gryp hom vas, die ineengestrengelde takke en die blare wat meegee as hy daaraan gryp. Hy spartel los, kry ’n opening onder langs ’n boomstam waardeur hy kan kruip, maar dan maak die ruigte weer om hom toe en moet hy aanhou kruip, af teen ’n steilte wat hom na onder trek, af oor kronkelende wortels en verby mosbedekte stamme.
Hoor hy blare agter hom ritsel? Het hy takke hoor kraak?
Vreesbevange vlug die seun bergaf.
Jong dennebome hang hul takke vol stekelrige naalde amper tot op die grond, en hy moet onderdeur seil. Na ’n entjie kan hy hande-viervoet kruip, en die slap dennetakke opsy druk. Hier is ’n effense oopte. ’n Kans om asem te skep. Van die dennetakke lê afgekap op ’n hoop. Bruin verdroog; baie naalde het al afgeval.
Ahmo wil aanhou vlug, maar hy is so moeg dat hy op sy knieë bly staan, met sy asem wat seer deur sy rou keel jaag. Hy laat sy kop hang; maak ’n oomblik sy oë toe.
Die beeld van die perd kom ’n oomblik in sy gedagte op, hoe hy hom bloots bergaf ry: sy rug regop, kop effens agteroor, trots.
Toe hy weer opkyk, na die hoop takke reg voor hom, sien hy ’n patroon van olyfgroen en bruin vlekke onder die dennenaalde. Al smelt dit met die kleure van die bos saam, is die patroon te reëlmatig om natuurlik te wees. Hy vee van die dennenaalde opsy. Dis lap! ’n Baadjie se mou of ’n broekspyp. Die materiaal het die kamoefleerkleure van ’n soldaat se uniform, bedoel om hom onopsigtelik te maak in die woud.
Ahmo onthou die uniforms van die Kroatiese soldate, ook van die bebaarde Serwiese korporaal wat hulle op die televisie gewys het, maar hierdie kamoeflering was hul eie soldate s’n. Dis ’n Bosniese soldaat wat hier dood lê. Weggesteek onder droë dennetakke.
Onwillekeurig snuif die seun die lug: die denne se terpentyn en die vae, muwwe reuk van die grond en verrotte blare. Dit ruik byna soet hier. Sy maag gee ’n ruk, en hy voel hy wil kots, al besef hy dat die lyk lank verby ontbinding is.
Inderhaas kom Ahmo regop. Hy hoor niks meer nie. Niemand agtervolg hom nie. Hy hoor nie die ver wind of reën nie. Ook nie vragmotors wat bultop beur op die grootpad van Konic na Sarajevo nie. Die stilte van die dood het al die geluide in die vallei versmoor.
Wie die soldaat hier naby doodgeskiet het, het ’n spoor gelos; soos hulle tussen die dennebome deur gekom het, hou die seun daarop. Hier en daar knak hy van die denne se sagte groeipunte om die spoor duideliker te wys. Hoekom het hulle die lyk weggesteek? Al die moontlike antwoorde waaraan hy dink, maak hom kwaad: ’n vreemde gevoel dat onreg hier gepleeg is en om vergelding roep. Dit is sy plig om die grootmense van Podorajac hiervan te gaan vertel.
Toe Ahmo by die kloof kom, weet hy waar hy is. Net ’n entjie hoër, dan sal hy die masjiengeweerstelling op die krans bokant hom kan sien: nou net ’n skans van verweerde sandsakke. Maar weerskant, eindeloos geduldig, waak daar nog steeds van die myne wat die Kroatiese soldate gestel het.
Die nuus wat hy bring, weeg so swaar op Ahmo se gemoed dat hy nie meer aan die perd dink nie. Of aan sy vreesbevange vlug, wat tot die ontdekking gelei het. Dit maak glad nie meer saak nie.
Hy kan dink wat nou kom.
’n Familielid, ’n vriend wat in die oorlog vermis geraak het, is gevind. Hulle sal die week nog ’n smal wit marmerpaaltjie regop in die begraafplaas plant. Mense sal blomkranse op die graf plaas, en die soldaat in hul gesprekke noem, by sy naam. Hy is nou weer terug in Konic, of in Podorajac; die onsekerheid oor hom is uiteindelik verby.
Ahmo stamp Jojo weg toe hy teen hom opspring. Hy gaan nie in die huis in nie; hy loop om na sy pa toe, wat besig is om ’n plank haaks te skaaf.
“Vati,” begin hy, maar sy nuus brand sy oë.
“Is dit oor die perd?” vra sy pa.
Meteens voel Ahmo kalm. Hy trek sy skouers terug en kyk sy pa in die oë. “Ek het een van ons soldate wat dood is, in die berg gekry,” rapporteer hy.
Agter die klompie mans van Podorajac loop Rutko, wie se ouer broer in die oorlog vermis geraak het. Hy dra die draagbaar oor sy skouer. Ahmo loop voor langs sy pa om te beduie waarlangs hulle moet loop.
“As dit ons uniform is,” het sy pa net gesê, “moet hy een van ons manne wees.”
“Daar lê seker nog baie van ons dood in die woude,” het sy buurman opgemerk.
Hulle praat nie weer oor die weggesteekte massagrafte elders nie. Hulle loop in stilte onder die donker bome.
Hulle loop ook nie ver nie, toe bereik hulle die kloof waar die jong denneboompies skaar.
Rutko lig die droë dennetakke versigtig van die soldaat af. Die vyand het ’n manier gehad om ’n handgranaat op ’n gesneuwelde te stel. Sagkens, soos ’n kombers van ’n slapende, lig hy die een na die ander tak op. Hy weet alreeds dit is sy broer.
Hulle dra hom, lig soos ’n marionet in sy kamoefleeruniform, na Podorajac.
Die reën wat so lank gedreig het, begin in die skemer uitsak.
Die Sondagoggend stap Ahmo se pa saam met hom oor die bruggie na die sigeuner se karavaan toe. Die stroompie raas, en in die kampie wei die twee bruin perde tussen die kersiebome.
Bratska klim uit sy karavaan uit. Hy groet stug.
“Dis my seun, Ahmo. Hy wil jou jou perd gaan wys.”
Hulle is al ’n hele ent teen die berg op, toe vra Bratska hom eers hoekom hy sy perd gevat het. “My ploegperd,” sê hy.
“Ek het gedog jy gaan hom slag,” brom die seun.
“Ploegtyd werk ek met hom by boere wat nie meer trekdiere oor het nie.”
“Ekskuus,” sê Ahmo verleë. “Ek is jammer.”
Daardie aand maak Ahmo ’n tekening van die swart reun. Hy staan omraam deur die donker woud, en die son skyn deur die blare op die grond. Dit vlek die bruin en groen kolle van kamoeflering onder sy hoewe.
Op so ’n perd sal hy van die oorlog kan wegry, weet Ahmo.