Читать книгу Kruispunt - P.J Haasbroek - Страница 4
Tilapie
ОглавлениеPetrus het ’n vis gevang, ’n wyfiekurper, en omdat die blouweer begin grom het, pak hy haastig sy hengelgerei in, gooi die kurper klapstert in ’n sak in die kattebak van sy motortjie, en ry terug Pretoria toe.
Die kurper leef nog toe hy by sy woonstel kom, maar hy is nie lus om haar buite in die reën te slag nie. Hy sit haar in sy bad, en tap water in.
Die volgende oggend kan Petrus die handdoeke oor die bad wegvat; sy het nie meer uitgespring nie. Hy het aan ’n naam vir haar gedink: Tilapie, van die Latyns.
Tilapie wil nie die pap eet wat Petrus in die bad gooi nie. Ook nie brood of erdwurms nie. Miskien is sy ontsteld oor haar nuwe omgewing, dink hy. Hy wil haar gerusstel. “Ek kan dink hoe vreemd dit vir jou moet wees,” sê hy. “Maar jy sal nog daaraan gewoond raak dat jy alles kan sien.”
Gou leer Tilapie hoe om in die bad te swem. Die patroon wat aan haar die beste gebruik van die bad se lengte, breedte en diepte gee, is ’n figuur agt. Aan die onderkant van die bad en bo, by die krane, swenk sy glad met ’n flitsklap van haar breë rooi stert, wat soms die water laat uitspat. Dan kantel sy oor op haar sy en sny weer terug in die rigting van waar sy so pas gekom het.
Tilapie is ook nie meer vir Petrus bang nie. Hy voer haar nou met klein bolletjies pap, wat hy tussen duim en wysvinger na haar uithou. Sy kom stadig nader, met syvinne wat vorentoe en agtertoe waai, en suig die pap tussen sy vingerpunte uit.
Dit is vir Petrus lekker dat Tilapie uit sy hand eet. Hy eksperimenteer met verskillende resepte om te bepaal waarvan sy die meeste hou. As sy nie van die pap hou wat hy haar aanbied nie, spoeg sy dit so sterk uit dat hy die badwater moet vervang.
Petrus bring al meer tyd by Tilapie deur. Hy druk sy hande in die water en voel hoe roer die water as sy verbyswem. Later laat sy hom toe om haar aan te raak. Hy streel met sy vingerpunte oor haar gladde sy. Oor die skerp puntjies van haar rugvin.
Dit raak ook al makliker vir Petrus om met Tilapie te praat. “Jy is mooi,” sê hy dikwels, en eerlik, want sy is ’n mooi kurperwyfie. Groot en metaalblou, en sonder die frons wat die mannetjies kenmerk. Dit lyk asof sy groter word. In die rivier sou sy nie soveel kos gekry het nie, dink Petrus.
Een aand toe Petrus weer op sy knieë langs die bad staan, steek hy albei sy arms in die water na Tilapie toe uit. Stadig en versigtig, sodat sy nie dink hy probeer haar vaskeer nie; net ’n gebaar van sy toegeneentheid.
Tilapie swem tussen sy hande in, nader na sy gesig toe wat hy kort bokant die oppervlak van die water hou. Sy kyk vriendelik deur die helder water na hom op. Toe hy sy gesig in die water druk, draai sy om en swem tussen sy hande deur weg.
Op ’n Vrydagmiddag nooi Soon, Petrus se hengelvriend, hom om saam te gaan Hartbeespoortdam toe. “Die weer lyk vir my reg,” sê hy. “Ek dink die kurpers gaan môre byt.”
Petrus voel ’n sekere ongemak oor hom kom, ’n afkeer in Soon. “Nee, jammer, Soon,” maak hy verskoning. “Ek dink nie ek kan môre saam nie.”
Die nag reën dit, en die volgende oggend is dit nog bewolk. So ’n stil, koel oggend wat die beste weer vir kurperhengel is. Petrus is besig om Tilapie erdwurms te voer, toe Soon onverwags opdaag. “En dié kurper in jou bad?” roep hy verbaas uit.
“Sy kom al mooi reg,” sê Petrus verleë. “Ek voer haar erdwurms en pap.” Hy probeer Soon se vraag ontduik met ’n verduideliking hoe hy haar by Ouplaas gevang het. “Net daar waar die rivier sy laaste draai voor die dam maak. Die stroom kom daar so stadig onder die koelte van die populiere deur, en aan die kant is die wal toegegroei met kweekgras.” Hy vertel hoe die swaarweer hom huis toe gejaag het met die kurper in sy vissak.
Soon wil sien hoe Petrus die kurper voer. “Maar kyk so ’n geleerde vis,” lag hy toe hy sien hoe sy die bolletjie pap tussen Petrus se vingerpunte neem. Hy het ’n rukkie staan en kyk, voor hy sê: “Goed, jy’t nou klaar die vis gevoer. Kom ons gaan vang nog ’n paar.”
Petrus jok hy moet ’n rekening gaan betaal. Hy sal nie vandag ’n kurper kan vang nie. “Anderdag,” belowe hy.
Toe Soon opstaan om te loop, vra hy: “Hoe lank gaan jy nog die kurper in jou bad aanhou?”
Die vraag bly Petrus kwel. Hy kon nie antwoord nie – net iets vaags gebrom – want hy het nog nooit daaraan gedink dat Tilapie dalk weer moet uit nie.
Daardie aand trek Petrus sy klere uit en klim versigtig in die bad. Hy gaan sit op sy hurke in die koel water.
Tilapie draai om en om in die beperkte ruimte, en swem uiteindelik tot by Petrus se knieë. Stadig skuif hy sy hand op die bodem langs onder haar in. Sy gee nie pad toe Petrus oor haar maag streel nie. Hy lig haar in die holte van sy handpalm op, en gaan sit toe plat met sy bene lankuit voor hom uitgestrek. Terwyl die water met ’n gorrelende geluid by die gat onder die krane uitvloei, speel Petrus met Tilapie in die bad.
Die volgende week besoek Soon Petrus in sy kantoor. “Het jy nog daardie kurper?” vra hy. “Ek het nou ’n regte akwarium by my huis. Self gebou.” Hy verduidelik hoe groot die kas is. Hy het riviersand ingegooi om die bodem te bedek, en ’n paar mooi spoelklippe daar in gerangskik. Ook spesiale waterplante geplant, fyn soos varings. “Dis nes ’n stukkie rivier,” spog Soon. Die akwarium staan op die stoep waar die son soggens ’n paar uur lank in die water kan inskyn. “Te lekker!” sê hy ingenome.
“Watse visse gaan jy daar insit?”
Soon glimlag breed. “Jy sal nooit kan raai nie. Kurpers!” Toe vertel hy Petrus van die mannetjiekurper wat hy alreeds in sy akwarium het. “Hy’s nie so groot nie, maar lewendig genoeg. Hy soek net ’n maat.” Soon kyk afwagtend na hom, maar toe Petrus stilbly, vra hy: “Hoe lyk’t met daai wyfie van jou?”
Die hele tyd terwyl Soon van sy akwarium vertel het, het Petrus aan Tilapie gedink. Tilapie in Soon se akwarium. “Nee!” roep hy nou uit. “Jy kry haar nie.”
“Aag, kom nou, man. Dit sal mos baie lekkerder vir haar in ’n regte akwarium wees as in jou bad.”
Petrus kan hom Soon se akwarium voorstel, met ’n duikerbeeldjie waaruit ’n stroom borrels opstyg. Sy groen veeragtige plante. En Soon wat sy hande in die water steek om die twee kurpers te voer. Die water vergroot die swart hare op die rugkant van sy hand en op elke vingerlid tot harde stekels. Tilapie wat versigtig nader kom, aangedryf deur honger, en met haar mond teen Soon se vingers pleit om ’n bolletjie pap te kry.
Elke keer dat Petrus aan Soon se selftevrede glimlag dink, vat sy ergernis vlam, en byt hy hard op sy tande.
Hoe anders het Tilapie nie in die rivier geleef nie. Terwyl sy swem, streel die water oor haar lyf, streel die donker, want die rivier is donker om die draai in die koelte van die populiere. Miljarde donkergroen stippels. Dit druk sag teen haar oë, en bied weerstand teen haar vinne se beweging, en teen die waaier van haar stert. Die stippels stroom stil by haar verby.
Hier hoor sy selde ’n geluid. Soms word die donker skielik solied. ’n Ander vis materialiseer en kolk die stroom met ’n sku swenk. Kan hulle mekaar ooit in die diepte sien? Hulle stamp teen mekaar, geniepsig hard as dit broeityd is. Terwyl die wyfies monde vol kleintjies dra, bevestig die mannetjies aggressief hul ongeduldige belang.
Tilapie dryf weg in ’n donkergroen nag.
Een aand hoor Petrus ’n klop aan sy voordeur. Dit is die opsigter van die woonstelblok, ’n grys en ligroos pensioenaris met ’n moesie op sy neus. “Ons het vanoggend geiserinspeksie gedoen, meneer, en toe sien ons jy’t ’n vis in jou bad.” Die opsigter swaai sy kop afkeurend van kant tot kant. “Dit is heeltemal teen die reëls.”
“Ek weet nie van ’n reël wat sê mens mag nie ’n vis in jou bad aanhou nie,” verweer Petrus hom.
“Jy mag nie troeteldiere in jou woonstel aanhou nie, meneer.”
“Visse is mos nie troeteldiere nie,” probeer Petrus uit ’n ander hoek keer. En voeg hoopvol by: “Hulle pla mos niemand nie …”
Die opsigter lyk bra ongemaklik. Hy korrel met die moesie na die onderste hoek van die deur. “Dis nie ek wat moet sê wat alles troeteldiere is nie, meneer. Dis die eienaars van Altebella Heights wat die reëls maak.”
Petrus probeer moedeloos aan ’n uitweg uit die opsigter se aanklag dink. “Niemand hoef mos van die vis te weet nie,” skerm hy flou. Maar aan die verontwaardige opswaai van die moesie kan hy sien dat hy nooit die opsigter tot medepligtigheid aan sy oortreding sal kan oorreed nie.
“Jammer, ek sal ’n plan maak,” belowe Petrus ten einde raad.
Die volgende oggend in die bus op pad werk toe, is Petrus mismoedig. Hy het gewonder of ’n akwarium soos Soon s’n dalk vir die opsigter aanvaarbaar sal wees. Miskien is hy net gekant teen die vis in die bad. As dit so is, hoekom het die omie dit nie voorgestel nie?
Teen teetyd oorweeg Petrus of hy nie maar vir Tilapie aan Soon moet skenk nie. Laat hy haar maar in sy akwarium sit by die kurpermannetjie en die plante soos vere. Hy sit radeloos na die lêers op sy lessenaar en staar, en dink aan die stil draai in die rivier op Ouplaas waar Tilapie vandaan kom. Hoe donker en koud moet dit nie in die diep water onder die koelte van die populiere wees nie. As hy daarin wegsink, sal niemand meer van hom weet nie. Hy en Tilapie in die ewige groen nag.
Wolke pak die middag saam, blou en swaar van die reën, en dit word vroeër skemer. ’n Halfdonker waarin weerlig kort-kort flikker en dreigend grom; dit demp die gesprekke in die bus.
Met tye heers daar ’n somber stilte waarin Petrus afgetrokke deur sy venster na die nors geboue weerskante kyk. Die bekende landmerke skuif verby. Die bootwinkel in Du Toitstraat, en toe Sunnypark wat moedig ’n neonstryd aanknoop teen die voortydige skemer. Kantoormeisies en klerke sonder sambrele haas hulle na hul woonstelle toe.
Petrus dink hoe Tilapie op hom wag. Sy swem nou op en af in die bad. Heeltyd op en af tot hy inkom om haar te voer.
Hy klim van die bus af en stap bedruk verby die groot, leë draadhokke van Sunnyside se tennisklub.
Toe hy sy woonstel oopsluit, voel Petrus kwaad. Die opsigter het ’n onredelike eis aan hom gestel. Heeldag lank het hy aan ’n oplossing vir sy probleem probeer dink, maar tevergeefs; om Tilapie vir Soon te gee, is nie ’n uitweg nie. Soon sal ook nie aan hom sy akwarium leen nie. Al kan hy elders dalk ’n akwarium in die hande kry – dis mos maar net ’n groot glaskas – is dit dalk ook teen die reëls.
Hoe nou gemaak met sy kurperwyfie, Tilapie, in sy bad?
Petrus wag tot dit heeltemal donker is voor hy na die badkamer toe loop. Hy skakel nie die lig aan nie; die sporadiese flikkering van die weerlig in die venster moet hom help om te sien wat hy wil. Dit klink vir hom asof hy Tilapie kan hoor swem: ’n sagte gespat in die donker, ’n onrustige geklots teen die kant van die bad.
Petrus buk vorentoe, voel na die badprop, en toe hy dit raakvat, trek hy dit uit die gat uit. Die water suig in die pyp; hy weet die klein maalkolkie draai regsom oor die opening. Met sy linkerhand voel hy na Tilapie, na haar lyf en die sagte opening van haar kieue. Hy vou haar in sy handdoek toe.
In sy motortjie praat Petrus nog vir oulaas met haar. “Ek kan nie anders nie,” bly hy homself verontskuldig.
Hy hou langs die heining van die voëlreservaat stil. Dis stil in die straat en onder die bome, asof in afwagting van die reën. Hy kyk nie na die weerkaatsings van die straatligte in die dam toe hy Tilapie uit die nat handdoek loswikkel nie. Sy val met ’n plons in die water, en lemme van die weerkaatsings swaai ’n oomblik wild heen en weer.
Op pad na sy woonstel in Altebella Heights koop Petrus vis en skyfies by ’n padkafee. Hy voel alreeds beter.