Читать книгу Kruispunt - P.J Haasbroek - Страница 5
Die kap van die byl
ОглавлениеOns drink koffie in die Casspir, moeg, vuil en heeltemal gatvol.
Bo-oor ons waai swart rook. Die buiteband-barrikades brand seker nog. Jy kan die mense van Thokoza ook nog hoor raas. Hulle kry net nie einde nie. Gooi klippe, steek brand en raas. En maak mekaar dood.
Af en toe praat een van ons oor iets waarvoor hy lus het. ’n Dop. Om by die huis voor die televisie te sit. Big time is nou aan.
“Big time, nogal,” sê Tommie Erlank.
Nie lank nie, toe is dit vroumense. Wat jou vorige nooiens nou doen. Hoe gemaak, as jy weer ’n stuk raakloop wat jy laas in matriek gevry het? Begin jy voor, of gaan jy maar net verder?
“Komaan, Piet, jy’s die oudste, dit moet al met jou gebeur het,” moedig sersant Johnnie my aan.
Sy gesig is swart van die roet. Dit laat my Aliwal se warmbron onthou. En Riena.
“Ja. Dit het. Maar niks kon daai liefde weer laat opvlam nie.”
Ek onthou hoe ek en my broer en my neef Henk in die bloekom gesit het, swart betakel met modder en aaplekker hoog bokant die water, toe ek haar die eerste maal gesien het.
Sy het by die kleedkamer uitgekom, na die leertjie gestap waarmee jy in die bron klim en daar gestaan, slank in haar swemklere, met swart krulhare. En toe sy opkyk, was haar oë die blouste blou.
Ek het dadelik gespring. Met ’n kreet myself in die lug gewerp, arms wyd oop en op die laaste oomblik toegevou. Die water het met ’n slag oopgebreek.
Ek aarsel ’n oomblik voor ek begin vertel; daardie lekker tye is verlore.
Ons het by Aliwal se warmbron vakansie gehou. My pa-hulle en my oom en tante en ons hele spul neefs en niggies. Ek was toe in standerd nege en so jags soos jy dan maar is. En so vatbaar vir die liefde.
Soggens, as ons bron toe stap, het die donker water gestoom en het daar ’n mistigheid om die groot bloekoms en die paar geboue gehang. Dit het jou laat voel jy gaan ’n vreemde gebied binne. Daar, waar almal halfkaal was, het die lug na swael geruik en het jy heeltyd ’n geplas en mense wat lag, gehoor. Aliwal se bron was daai tyd ’n plek van aardse vreugdes.
In die warmste kuil het die twee skuite gedryf, een vir die oumense en een vir die klein kindertjies. Soos huise met ’n sinkdak en ’n plankvloer en twee lang bankies teenoor mekaar. Die skuite was eintlik vlotte wat op leë 44-gallondromme vasgemaak was, al wat gekeer het dat dit nie met ’n vol vrag oumense of kindertjies in die bodemlose diepte van die bron wegsink nie.
Ek moes by die skuit verby om by die meisie met die swart hare en die blou oë uit te kom. Ek kon omswem. Onderdeur was ’n ysingwekkende waagstuk. Jy kon minder as ’n armlengte voor jou sien. Tog het ek op daardie oomblik gevoel dat dit die aangewese ding was om te doen.
Met skêrskop en sterk hale het ek die loodgrys skemer ingeswem. Al dieper, tot waar die druk my ore laat pyn het en my asem in my keel vasgestoot het.
Ek het probeer skat hoe ver ek nog moes swem om onder die oumense se skuit deur te kom. My asem was op. Versigtig het ek skuins boontoe begin mik. Toe doem die skuit bokant my op. ’n Plafon van planke, slymerig groen, met openinge tussenin waardeur ek die oumense se voete kon sien. Dit was soos die tralies van ’n hok waardeur die blinde wit salmanderkoppe van hul tone gewys het. Desperaat het ek myself weggestoot.
Daar was nog ’n flits van ’n rooi baaikostuum tussen die planke, ’n dik wit kuit, en toe het ek geweet ek was in die oop water op pad wal toe. Soos ek ingeduik het, so het ek deur die oppervlak gebars toe ek uitkom.
Sy was weg.
Met my kop so ver moontlik gelig om te sien wat van die meisie geword het, het ek groot teue lug ingehap. My teleurstelling was groter omdat sy nie my kordaatstuk aanskou het nie. Toe gewaar ek haar by ’n ou oom met ’n woeste grys snor en ’n tante in ’n maroen trui. Die tante het haar arm gemoedelik vasgehou terwyl sy met haar praat. Soos ’n ouma.
“Dáár’s hy!” het ek Sarel uit die boom hoor roep en omgedraai. “Ons dog jy’t versuip.”
“Ek het ’n baber probeer vang,” het ek teruggeskreeu.
“Hier’s g’n stuk babers hier in die bron nie,” het ’n oom in die skuit gebrom.
Dit was net waarop neef Henk gewag het. “Oom, laat ek oom sê, hier swem allemintige babers hier onder rond. Hier van bo af kan jy hulle mooi sien. Sulke groenvales met snorre.”
“Nonsens! In hierdie swaelwater hou g’n lewende ding nie,” het die oom beslis gesê.
“Oom moet ’n lyn hier ingooi met ’n dooie kleinvoëltjie aan die hoek,” het Sarel ewe ernstig genooi. “Dan sal oom net sien wat oom hier vang.”
“Seker een van julle waterbobbejane,” het die oom gelag, ingenome dat hy betyds agter die kap van die byl gekom het.
“Maar is hier nie dalk rêrig sulke groot babers nie?” het ’n tante onrustig gevra.
My pogings om Riena daardie dag op te spoor, was vrugteloos. Sy is terug kleedkamer toe sonder om te swem. Sy het haar gaan aantrek en is saam met haar oupa en ouma weg. Ek het oral op die terrein en tussen die vakansiewoonstelletjies na haar gaan soek. Ek het naby die ingangshek gaan wag dat sy terugkom. Teen sononder was ek moedeloos. Ek het begin dink dat ek haar nie weer sal sien nie.
Dié aand is ’n paar van ons bioskoop toe. Dit was ’n klein saaltjie met ’n plankvloer, opslaanstoele en ’n balkon. Ons is met die trap op boontoe. In die agterste ry het daar alreeds ’n paar meisies gesit wat belangstellend na ons geloer het.
Toe die gordyn oopskuif en die ligte afgaan, het ’n foto van ’n slaghuis op die doek verskyn. Die lekkerste vleis in Aliwal, het die onderskrif ons verseker.
Sarel het na die straal lig bokant sy kop gekyk en sy wysvinger in die lug gesteek. Voor die slaghuis se deur het daar nou ’n swart wag gestaan. Dié het vinnig weer verdwyn. ’n Heer en sy dame, spoggerig uitgevat in Sondagklere, gesels ontspanne op ’n stoep. Sarel het ’n opdringerige slapoorhaas as geselskap vir hulle aangebied. Agter ons het die meisies gegiggel. Die skaduwee-haas het sy ore gewikkel en Sarel het luid uitgeroep: “Lus vir ’n hop?!”
Die blondinetjie agter my het haar knieë teen die rugleuning van my stoel vasgedruk. Ek het die moedswillige stoot gevoel en vir haar oor my skouer geglimlag. Sy het nie ’n kêrel langs haar gehad nie.
Pouse het ons uitgestap. Sarel het ’n pakkie-tien sigarette gekoop. Ons het elkeen een gevat en dit bakhand om die vlam aangesteek asof daar ’n wind in die portaal waai. Ek het die rook versigtig ingesuig. Dit was makliker as wat ek gedink het. Ek het dit in ’n dun straaltjie plafon toe geblaas. Ná nog ’n paar diep teue het ek duiselig begin voel. Daar was ’n naar kol op my maag wat al boontoe wou druk. Ek het haastig ’n koeldrank gekoop met die hoop dat dit sal help. Toe eers merk ek hoe vlak Sarel aan sy sigaret suig. Hy het net sy mond vol rook gemaak en dit dan dadelik weer uitgeblaas. Ek het nie weer die rook ingeasem nie, net die sigaret nonchalant tussen my vingers vasgehou en die as op die plankvloer afgetik.
Henk het vir ons pepermente aangebied. Hy het die pakkie na agter gehou en die twee meisies het elkeen een geneem. Toe die een sê hy’s ’n skat, belowe Henk haar nog ’n peperment as sy langs hom kom sit.
“Ek wil nie alleen hier agter sit nie,” het die blondinetjie agter my gekla.
Voor ek kon opstaan, is Sarel al oor sy stoel agtertoe en het hy homself langs haar tuisgemaak, met sy sigaret ewe windmakerig in die hoek van sy mond.
Toe kyk ek maar na die film. ’n Bende skurke was besig om op ’n cowboy jag te maak. Ek het boet Dolfie, wat op Sarel se plek kom sit het, aangesê om die cowboy se skote te tel. “Jy sal sien, hy skiet nooit sy rewolwer leeg nie.” Terselfdertyd het ek opgemerk hoe lekker rus die blonde koppie teen Sarel se skouer. Dit het my weer aan die meisie met die swart krulhare laat dink. Ek het my voorgestel hoe lekker dit sou wees om haar daar langs my in die bioskoop te hê, harde stoele ten spyt.
Ek het weer gevoel hoe stoot die meisie agter my met haar knie teen my rugleuning. Ek het vinnig omgekyk, net betyds om te sien hoe Sarel haar soen. Dat ek die stamp kry en Sarel die soen, het vir my bitter onregverdig gevoel. Ek het gewonder hoe ek die bordjies kan verhang. Nog voor die cowboy nog ’n skoot kon vuur, had ek ’n plan.
Ek het my hand stadig agter die rugleuning van Dolfie se stoel laat sak, skuins agtertoe en al nader aan die blondinetjie se kuit. As ek reg vat, kon Sarel dalk ’n klap kry.
Dié waagstuk was meer opwindend as die skurk se bekruipery in die perdekamp. Enige oomblik het ek ’n skoot verwag wat teen my agterkop klap. My vingerpunte het haar rok gevoel: kanterig. Haar uitskoponderrok! Toe, onverwags skielik en hard, het ek my handpalm teen haar dy gedruk. Of dit was sy wat haar knie uitgeswaai het, maar ek het my hand weggeruk asof ek aan ’n warm stoofplaat geraak het. Onverklaarbaar kon ek, terwyl ek angstig op haar reaksie wag, onthou hoe sag en warm haar vel gevoel het.
Sy het niks laat blyk van die intieme betasting nie. Het sy dit nie dalk moedswillig bewerkstellig nie? Ek het heeltemal onseker daar gesit, met die grootste lus, en onbegrypend gekyk na die vlug van die cowboy oor ’n droë vlakte.
Die volgende oggend was ek vroeg by die bron, in die hoop dat die swartkopnooi sou opdaag. Ek het op die duikplank gesit van waar ek die ingang kon dophou en my ons kennismaking voorgestel. Ek het gedink hoe ek haar moet benader; wat ek vir haar kon sê. Toe was dit nie so maklik soos nou om ’n meisie te ontmoet nie.
Ek onthou hoe die mense in groepies deur die hek gekom het. Rustig, met hul handdoeke oor die skouers, met hul mandjies eetgoed en leesgoed, met hul kleiner kindertjies aan die hand, geselsend. Almal was plesierig; hulle had die vooruitsig op ’n stil en sonnige blou oggend.
Toe ek Riena gewaar, was sy saam met haar ouma op die stoep van die kafeteria en al amper om die hoek. Ek kon van blydskap juig. Toe ek opspring, het ek amper van die duikplank afgeval. Hulle het die kleedkamer binnegegaan en ek het op die muur naby die leertjie gaan sit.
Riena het eerste uitgekom, net soos ek verwag het, en na die spelende kinders in hulle skuit gestaan en kyk. Van naby kon ek sien hoe mooi sy regtig was. Haar vel was baie lig en daar was ’n blos op haar wange. ’n Regte blos, en haar lippe was regtig rosig, want sy het nie grimering gedra nie. Maar die mooiste was haar oë: die blou van ver berge en van die see wat amper pers is, so diep was dit. Natuurlik het ek ook die sagte rondings van haar lyf opgelet, bly dat sy my portuur was.
Ek het besef ek moet met haar praat voor haar ouma kom. Maar hoe en waaroor? Daar was min tyd oor. Met die gevoel wat jou keel toetrek voor jy wegspring vir ’n honderdtreewedloop, het ek opgestaan en langs haar gaan staan. Ek het môre gesê, en wie ek is. En toe gemeld hoe teleurgesteld ek die vorige dag was dat sy nie teruggekom het bron toe nie. “Ek het die wêreld plat gesoek na jou.”
Sy moet besef het dat dit alles waar was, want sy het verbaas gelyk. Toe het sy my hand skamerig geskud en gesê haar naam is Riena. Op daardie oomblik het haar ouma opgedaag.
So vriendelik soos Riena se ouma was, so kwaai was haar oupa. Hy het nie geskroom om te sê wat hy dink nie. Oor alles het hy sy mening uitgespreek: die politiek het hy ’n dom geploeter genoem, die kerkvaders was ’n kudde skynheilig-sedige napraters. En ons jong mense met ons lang hare en ons raasmusiek was in sy oë reguit op pad warmplek toe.
Die middag het ons by ’n tafeltjie in die kafeteria gesit en koffie drink wat die oom, sonder om te vra wat ons verkies, bestel het.
Buite het die sonlig oor die kruine van die bloekoms tot in die water geskyn. In die lig was die kleure van die sambrele en handdoeke helder en in skerp kontras met die blougroen donker van die skaduwee onder die bome.
Ek wou buite wees, saam met Riena oor die gras stap; iewers op ’n bankie onder die bome met haar sit en gesels. Maar ek het nie geweet hoe om dit voor te stel nie. Nie na haar oupa gesê het ons is soos uitsuipkalwers wat jy heeldag moet hokslaan nie. Hy het Die Volksblad voor hom oopgevou en kort-kort minagtend gesnork oor iets wat hy daarin lees. Toe vra hy onverwags: “Leer hulle julle op skool van Verwoerd se tuislandplanne?”
“Ons geskiedenisonderwyser het ons daarvan vertel, oom.”
“Wat sê hy?”
Ek het probeer onthou. “Hy dink dit kan werk, oom,” het ek gewaag. “Maar dan moet almal ’n eie tuisland wil hê. En hulle moenie baklei oor wat hulle kry nie.”
Riena se oupa het met sy plat hand op die tafel geklap. “Daar lê die moeilikheid. As hulle uitboer in hul tuisland, trek hulle met hul sinkplate op hul donkiekarre stad toe. Hoe dink Verwoerd gaan hy hulle uithou?”
“Hulle moet mos ’n pas hê om stad toe te kom, oom.”
Hy het net gesnork en weer in sy koerant begin blaai.
Riena, wat deur die venster sit en kyk het, het skielik bly uitgeroep: “Kyk daar hoe mooi!” In ’n sonkol tussen die bome het ’n poumannetjie sy stert oopgewaaier. ’n Wonderlike patroon van oë, koningsblou, smarag, ougoud en violet wat in die son glinster. “Ek gaan kyk,” het sy gesê, opgespring en by die glasdeur uitgehardloop.
Daar was niks wat my op my stoel kon hou nie. Ek het ’n verskoning gemompel en die volgende oomblik was ek ook op pad uit. So groot was my blydskap dat ek bo-oor die bedding krismisrose tot op die grasperk gespring het. Ek het Riena ingehaal. “Jou oupa het my gestuur om jou teen die pou te beskerm,” het ek gesê. “Met daardie oë op sy stert kan hy jou alte verskriklik betower.”
Om ’n gesprek met Riena te voer, was nie maklik nie. Met haar oë op my mond gerig, het sy skynbaar aandagtig na my geluister, maar self niks gesê nie. Net as ek haar direk iets vra, het sy geantwoord, skaam en halfhartig, asof sy bang was dat sy haar sou kompromitteer. Sy is vyftien en in standerd agt. Sy bly by haar ouma en oupa in Lady Grey, op die dorp. Haar pa boer in die distrik en haar ma is Engeland toe.
“Ek dink die seuns van julle dorp is almal op jou verlief,” het ek geterg. Toe sy blosend erken dat sy nog nie ’n kêrel het nie, was ek verbaas, maar so bly dat ek my lollery gestaak het. Ek was onseker of ek Riena verder oor haar lewe moes uitvra.
Riena het niks gedoen om sake vir my makliker te maak nie. Haar oupa was vir haar ’n onoorkombare struikelblok. Omdat sy hom nie wou vra of sy saans met ons jongklomp kon uitgaan nie, was ek al jongkêrel sonder ’n nooi by die verskeidenheidskonsert. Ek was ook alleen toe ons vleis gebraai het en almal, met die draradio so hard moontlik gestel, op die stoep voor die woonstelletjie gedans het.
Dit was die laat vyftigerjare van bob en rôkkerôl, soos neef Henk dit genoem het; van nou broekspype, lang kuiwe en meisies met wegstaanrompe. Maar Riena was onaangeraak deur dit alles. Sy was net mooi, geklee in ’n eenvoudige rokkie en plat skoene en skroomvallig eenkant.
My gebrek aan vordering het my opstandig gemaak. “Dan vra ék jou oupa of jy kan kom,” het ek gedreig. Hierop het sy angstig gepleit dat ek dit nie moes doen nie. Hy sal net weier, of dalk kwaad word en haar verbied om my weer te sien. “Waarom is jou oupa so ’n ou korrelkop?” het ek gevra sonder om ’n antwoord te verwag. “My pa kan ook maar befoeterd wees as hy wil. As ons nie ’n ding na sy sin doen nie. Maar verder los hy ons uit. Ons kan by die bure in die gronddam gaan swem of heelnag gaan springhase jag, dit pla hom glad nie. Solank ons net ons plaaswerk doen.”
“Dis omdat julle seuns is,” het Riena verweer. “Met meisies is dit anders.”
Ek het Riena daarop gewys hoeveel vryheid my niggies geniet. Dit het my die plan gegee om haar deur my niggies van haar oupa af weg te rokkel. Hy sou oor hulle vriendskap minder agterdogtig wees as oor my belangstelling in sy kleindogter.
Langs die groot swembad was ’n kleedkamer, dames eenkant, mans anderkant. Die heining het agter die kleedkamer aan die kant van die bos verbygeloop. Hier was ook die gat waar die dorpseuns ingekom het sonder om ’n kaartjie te koop. Hulle voetpad het onder die bome deurgekronkel, deur die spruitjie en om die kop tot naby die grootpad waar hulle hul fietse gelos het.
Dolfie en sy maats het die gat in die heining ontdek, miskien toe hulle die meisies aan hul kant van die kleedkamer probeer afloer het. Hulle het die paadjie gevolg en op ’n swaai afgekom: ’n lang tou bo uit ’n boom met ’n dwarshout onder aan die punt vasgemaak. Daarmee swaai jy in ’n wye boog bo-oor die spruit. Hulle het ons verseker dat nie eens Tarzan so hoog sal kan swaai nie, en vol modder soos hulle in die spruit geval het, was hulle oortuig dat nie een van ons groot seuns veilig sou kon land nie.
Voor ons weg is om na die swaai te gaan kyk, het ek nog my niggie Martie van my plan vertel. Sy moes sommer dadelik met Riena gaan praat. Saam sou hulle maklik kon wegglip.
Neef Sampie moes die swaai demonstreer; ’n swaai wat net so angswekkend hoog was soos wat hulle beweer het, maar Sampie skrik vir niks nie. Om by die dwarshout uit te kom, moes hy teen ’n skuins populierstam uitklouter, hoër as ’n huis se dak, en die tou dan met ’n stuk bloudraad nader haak.
Sampie het die dwarshout vasgegryp en met ’n kreet vorentoe geval. Hy het in ’n lang boog deurgeswaai, af en toe op, en die verste punt aan die ander kant van die spruitjie bereik. ’n Oomblik het dit gelyk asof hy hoog in die lug stilstaan, toe het hy begin terugswaai. Heen en weer het hy geswaai, al oor die spruitjie en al korter, tot hy reg bokant die water tot stilstand gekom het. Toe los hy en val.
Ons paar groter seuns het gelag, nie uitbundig nie; ons het nou self voor die toets gestaan. Sampie het uit die kniediep modderwater opgestaan en met ’n grynslag op sy sproetgesig teen die wal uitgeklouter.
Henk het stadig teen die skuins populierstam begin opklim toe ons meisiestemme hoor. Dit was my niggies, en Riena was by.
“Ons kom kyk hoe julle swaai,” het Martie gesê. “Tóé, Henk!”
Ek het langs Riena gaan staan en vir haar gesê hoe bly ek is dat sy gekom het. Sy was vir my mooier as ooit en ek was so trots dat ek nie kon ophou glimlag nie.
Henk was al bo, met die dwarshout in sy hande. “Jy kan maar my windbuks erf, Dolfie,” het hy testament gemaak en dadelik gespring. Nog voor hy die verste punt bereik het, het hy gelos. Sy momentum het hom verder gedra, tot waar hy krakend in ’n digte bos jong populiere geval het. Ná Henk was dit Sarel, wat in die modder geval het, en toe een van ons maats. Net Dolfie het daarin geslaag om netjies op die oorkantste wal te land. Ek het probeer onthou hoe hy gemaak het sodat ek dieselfde kon doen.
Riena het gesê sy wil teruggaan, dis al amper etenstyd.
Ek het haar eers die volgende dag weer gesien. Martie het haar na die kleedkamer toe gebring waar ek, met ’n hart wat so klop dat ek dit kon voel en my mond droog van opwinding, agter ’n bloekomboom se dik stam op haar gewag het. Die enigste plek waar ek gedink het ons twee veilig alleen sou kon gesels, was by die swaai oor die spruitjie.
Die voetpaadjie was so nou dat ons nie langs mekaar kon stap nie. Riena moes my volg. Maar ek het darem haar hand agter my rug vasgehou. Ek was intens bewus van hoe ons saam in die groen afsondering van die bos was. Ek het haar asemhaling gehoor en die sagte vee van haar lyf teen die blare. Ek het ook gedink ek ruik haar soet bo die muf van die grond en die blare.
Hoog bokant ons het die sonlig in die lower geflikker, maar dit was koel in die bos, asof dit nog vroegoggend was. Ek het die watertjie hoor kabbel en ’n vink se gekweel van waar hy nes bou in ’n wilgerboom. Oral om ons het die stamme boontoe gestoot. Ek het vir ons ’n sitplek op ’n stomp gekry.
Riena het gesê ons moet liewer teruggaan, haar oupa kan na haar begin soek. Ek het haar probeer oortuig dat sy onnodig bekommerd was. Dit was nog net so moeilik om met haar ’n gesprek te voer. Dit was asof sy haar gedagtes weggesluit gehou het. In haar oë was daar net ’n durende onsekerheid. Miskien was sy skaam om so alleen saam met my te wees. Sy het egter niks gesê nie. My arm was om haar skouers, maar sy het styf regop bly sit, ontoeskietlik afgetrokke. Ek het die soveelste aanknopingspunt getoets: “Wat doen jou ma in Engeland, Riena?”
Riena het geskrik; ek kon haar skok voel. Dié vraag kon sy nie met stilbly afweer nie. “Sy bly daar,” het sy gesê. “Sy bly by my ander ouma in Londen.”
Toe begaan ek ’n groot fout. Ek vra vir Riena of haar ouma in Engeland haar ma ook so goed oppas soos haar oupa vir haar, Riena, oppas. Ek het niks daarby bedoel nie; die vraag het op die ingewing van die oomblik gekom; miskien wou ek haar net ’n bietjie terg.
Riena het haar uit my arm losgeruk om voor my te kom staan, regop, met haar hande op haar heupe. Sy het stip na my gekyk en haar wange het rooi gevlam. “My mammie hoef nie opgepas te word nie,” het sy gesê en toe kom daar trane in haar oë.
As daar een meisieding was wat my radeloos gemaak het, was dit hulle manier om skielik, onverwags aan die huil te gaan. Ek het lomp probeer troos. Gesê ek’s jammer. Dit het nie gehelp nie. Toe neem ek Riena se hand in myne. Sy het verbaas opgekyk. Ek kon nie aan iets dink om te sê nie, toe slaan ek maar my arms om haar en druk haar teen my bors vas en soen haar. Haar nat ooglede, haar wange en toe, met die gevoel dat my hart skielik groter as ekself geword het, haar mond.
Riena se oë het my laat ophou. Ek het haar so jammer gekry dat my eie oë begin brand het. Om van die verleentheid te ontkom, het ek haar gelos en vinnig teen die skuins stam van die boom oor die water opgeklim. “Nou sal jy sien hoe moet ’n man hier oorswaai,” het ek belowe terwyl ek die tou nader haak.
Ek moet hoër klim, het ek besef, en harder wegskop. Onder my het die watertjie effens geblink. Met die kreet van Tarzan, die aapman, het ek vorentoe oor die ruigte geduik. Net voor die draaipunt het ek gelos, tien voet hoog in die lug, en geval. Ek het op die wal geland, met my voete netjies langs mekaar geplant. Maar my momentum was agteruit, sodat ek teruggesteier het. Wal-af, modder toe.
Toe ek orent kom, het ek Riena bokant my op die wal hoor lag en dit het my bly gemaak.
Ons het teruggestap in die gangetjie van die voetpad deur die populiere; ek, van kop tot tone swart modder, weer voor.
Skielik was daar nie meer sonlig op die blare nie: die wolke moet ongemerk voor die son ingeskuif en ’n skemer in die bos gebring het.
Ek het besef hoe alleen ons was. Die bos was om ons, geheimsinnig en neerdrukkend stil. Ek het my verbeel ons het verdwaal. Ons sal so aanhou loop tot die skemer te diep raak vir ons om te kan sien. Tot dit donker is en ons nie verder kan loop nie. Riena en ek alleen in die nag.
Die gedagte het my verontrus. Ek het my voorgestel hoe ek Riena vashou, nie omdat ek die aanraking begeer nie, maar omdat ek bang was dat ek haar in die duisternis sou verloor.
Ons was al amper by die heining toe ’n poumannetjie hoog bokant ons in ’n bloekomboom skreeu – ’n aaklige gil wat ons albei laat ruk het van die skrik. Ek kon Riena nie keer nie. Sy is by my verby en deur die gat in die heining.
Voor was die oop grasperke en die swembad. Ek moes my eers was; as ek só agter Riena uit die bos sou storm … Toe ek uit die kleedkamer kom, was sy al weg.
Ek het stadig oor die grasperk gestap. Die kinders het nie meer uitgelate op die gras gespeel nie. Niemand het geswem nie. Mense het met strak gesigte in groepies gestaan en gesels. Die vrolikheid was weg, gedemp deur ’n somber erns. Dit het my verbaas. Die lug was betrokke, maar die onweer was nie so dreigend dat dit kon verontrus nie.
Ek het my pa tussen ’n groepie mans op die kafeteriastoep gesien staan, verdiep in ’n ernstige gesprek, en soontoe gestap.
’n Man met die moue van sy kakiehemp hoog opgerol, was aan die woord. “Dit sal ons nie van koers af kry nie,” het hy gesê. “Ons weet waar ons wil uitkom. Doktor het mos vir ons die pad gewys.”
Ek het aan my pa se baadjiemou geraak. Hy het omgedraai en ’n paar oomblikke na my gekyk voor hy gevra het: “Het jy gehoor, Boet? ’n Kommunis het vandag daar by die skou vir doktor Verwoerd geskiet.”
Ek het nie geweet wat om te sê nie. Die vrae was te groot. Wat is die betekenis van ’n sluipmoord? Wat is beëindig en wat het begin?
Oral rondom my was daar nou veranderinge aan die gang, so subtiel dat ek dit nooit sou kon begryp nie, so groot dat die wêreld daarvan sou sidder. Die geskiedenis word in ’n nuwe koers gestuur, maar daar het ek skuins agter my pa in my swembroek gestaan; nog net dieselfde en skynbaar die enigste wat nie verstaan nie.
Vir my was die belangrikste gevolg van die sluipmoordpoging dat ek Riena verloor het. Haar oupa het hom in die skuit glo almal se argwaan op die hals gehaal deur te sê dat sonder die Hollandse Moses ons Boere dalk nou gouer deur die woestyn sal kom. Hulle het dieselfde middag gery.
“Gouer in die kak, as jy vir my vra,” sê sersant Johnnie.
Tommie Erlank, so deur my vertelling geboei dat hy sy sigaret tussen sy vingers laat doodsmoor het, wil hoor wanneer het ek toe weer vir Riena raakgeloop. “Wat het toe gebeur?”
’n Jaar of twee gelede ry ek deur Aliwal-Noord na Lady Grey toe om ’n moordsaak te gaan ondersoek. ’n Bende Aplas het op die Barkly-Oospad op ’n verbygaande motor geskiet en die bestuurder gedood. Sy vrou het die aanval oorleef.
Ek het die Lady Grey-afdraai mis gery en toe op die pad bronne toe links gedraai. Ek het party van die huise herken. Die bloekoms, en net aangehou ry tot ek by die warmbron gekom het. Ek wou weer oor die grasperke loop, na die donker gat swaelwater toe waarin die skuite op die dromme gedryf het.
Alles was onherkenbaar anders.
Die vrou in die kliniek met wie ek moes praat, was Riena. Ek was verbaas, want ek het gehoor die slagoffers was ’n bejaarde egpaar. Sy was nog mooi, al het sy grys en swaar van lyf geword.
Tydens die ondervraging het ek die gevoel gekry dat sy afwesig is. Dat sy lank gelede reeds weg is en iemand anders daar in die hospitaalbed gelaat het om namens haar te vertel wat gebeur het. Dit het my die vrymoedigheid gegee om haar uit te vra oor dinge wat nie verband hou met die moord nie. Oor haar ma wat weggeloop het Londen toe en oor Riena se huwelik – op haar oupa se aandrang – met die wewenaar.
Riena het my nie herken nie. Nie eens toe ek haar op haar voornaam groet toe ek loop nie.
Tommie Erlank glimlag en begin sing: “Those were the days, my friend …” Maar ná twee strofes hou hy op.
“Verwoerd is toe nooit dood nie,” sê sersant Johnnie.
Ons herinneringe is saam met hom begrawe in die staalkis van ’n Casspir.