Читать книгу Legkaart van die liefde - Renda de Waal - Страница 5

3

Оглавление

“Môre, môre! Ek wag al die hele oggend dat jy moet wakker word. Koffie?” vra Lientjie toe Willa die volgende oggend haar opwagting in die kombuis maak.

En toe Willa knik, vra sy: “Ek kan nie wag om van die bal te hoor nie. Het jy dit geniet?”

“Ja, dit was ’n fantástiese aand. Heerlike kos, lekker gedans, goeie geselskap. Wat wil jy nog weet?”

Lientjie kyk haar glimlaggend aan. “Ek wil weet hoekom dit nie net lekker was nie, maar fantásties. Ek wil weet waarom jou oë so blink. Moet net nie vir my sê Ettienne is die rede daarvoor nie. Hy is ’n oulike ou, maar … Hy is te jonk vir jou.”

“Ettienne is net so oud soos ek,” terg Willa. “’n Paar maande ouer, om die waarheid te sê.”

“ ‘You need someone older and wiser’,” sing Lientjie ’n frase uit een van The Sound of Music se bekende liedjies. “Wraggies, dis moeilik om jou saam met hom voor te stel.”

“Stop net daar,” keer Willa met haar hand in die lug. “Ek en Ettienne is rêrig net goeie maats.”

“Wat ’n verligting. Ek wil alles hoor van die bal. In detail. Hier is jou koffie en nog ’n bietjie van my ma se beskuit. Kom ons gaan sit, dan vertel jy.”

Hulle maak hulle op die sitkamerbank tuis.

Terwyl Willa haar koffie drink en beskuit eet, vertel sy tussenin van die geregte wat voorgesit is, wie almal saam aan tafel was, van die geselskap, maar oor Deon Joubert huiwer sy. Enersyds brand sy om vir Lientjie te vertel, andersyds wil sy die emosies wat in haar gewek is vir ’n rukkie net vir haarself hou en troetel.

“Ek het nou al die onbelangrike dinge gehoor. Wat het nog gebeur, Willa? Ek ken jou so goed. Iemand spesiaal aan julle tafel?”

“Nie aan ons tafel nie, maar ja, daar was iemand wat ’n indruk op my gemaak het.”

Sy vertel waar sy hom die eerste keer gesien het, van die dans, wat Ettienne vertel het, maar raak net aan die oppervlak van haar emosies. Dis te nuut, en sy is te versigtig. Sy weet nie eens of sy hom ooit weer sal sien nie.

“A!” Lientjie se oë blink. “Ek het geweet jou prins sal een of ander tyd sy opwagting maak. Dis so opwindend. Wat nou? Het hy ’n afspraak gemaak?”

“Baie opwindend, ja, maar daarby moet dit bly, my liewe vriendin, want, nee, hy het nie my telefoonnommer gevra of ’n afspraak gemaak nie. Ek het seker nie so ’n indruk op hom gemaak soos hy op my nie. Dit was lekker om so spesiaal en mooi te voel, maar ek verwag niks meer nie.”

“H’m. Moenie dieselfde fout maak as wat ek gemaak het deur halsoorkop in ’n verhouding te tuimel nie,” sê Lientjie, selfverwyt in haar stem. Sy maak die bekers bymekaar en stap daarmee kombuis toe.

Die wrewel jeens Ralph Pienaar vlam opnuut in Willa op. Dat een mens nou soveel skade kan aanrig! Haar spontane en effens impulsiewe vriendin is deesdae werklik so versigtig.

Sy stap agter Lientjie aan: “Geen koskokery vandag nie. Kom ons gaan eet iewers en drink ’n bottel wyn. Ek weet dit vergoed nie regtig nie, maar ek wil daarmee vir jou dankie sê vir al die bederf terwyl ek vir die eksamen geswot het.”

Toe hulle later in ’n geliefde restaurant sit, elk met ’n glas wyn voor hulle, sê Lientjie: “Jy wil dankie sê dat ek die voorbereiding van ons etes op my geneem het terwyl jy so besig was, maar hoe sê ek ooit dankie vir wat jy vir my gedoen het tydens die Ralph-fase van my lewe?”

“Jy weet ek wil nooit weer daaraan herinner word nie,” sê Willa streng. En in ’n sagter stemtoon: “En hoe kan ék ooit vergoed vir wat jy en jou ma-hulle vir my gedoen het nadat my stieffamilie in my lewe gekom het? Mens kan in elk geval nie al die liefde wat ek van jou en jou familie ontvang het, bereken nie.”

“Ag, ek weet nie wat my vandag makeer nie. Ek kry dit reg om vir weke lank nie aan Ralph te dink nie, maar vandag het ek weer en dan verwyt ek myself van vooraf. Is dit nie snaaks dat jou stiefsuster, wat soveel probleme in jou lewe veroorsaak het, juis indirek tot my probleme bygedra het nie?”

“Wel, wat nog die hele tyd vir my vreemd is, is dat sy nie hand en tand oor Ralph baklei het nie. Ons het mos vermoed daar is iets tussen die twee. Dalk het sy dit stilswyend goedgekeur dat daar ’n verhouding tussen jou en Ralph Pienaar ontstaan. Ek kan nie anders as om te dink dat sy en haar ma daarvan hou wanneer mense foute maak nie; hulle sal jou selfs manipuleer om dit te doen sodat hulle dit agterna teen jou kan gebruik.

“Maar, Lien, hou op om jouself te verwyt. Die lewe gebeur. Jy is so ’n positiewe mens; ek glo die ondervinding sal net positief tot jou geestelike groei bydra.

“Aa … hier kom ons kos. Vergeet nou van daardie man. Ons het nog mekaar. En ons het kos!”

Hulle giggel. Albei se liefde vir lekker eet en erns met kos is ’n bron van vermaak onder hulle vriende.

Hulle is stil terwyl hulle met die eerste happies ’n oordeel oor die geregte fel.

Lientjie het Ralph Pienaar sewe, agt maande gelede gedurende middagete ontmoet.

Willa het daardie dag geoudit by ’n kliënt in dieselfde gebou waarin die salon is waar Lientjie werk. Dit was ondenkbaar om nie vir Lientjie te bel en te sê waar sy is nie.

“Kom ons glip weg en gaan eet gou iets,” het Lientjie voorgestel. “Dis amper etenstyd en ek het nie nou kliënte nie.”

Willa het opgewek ingestem en hulle is by ’n restaurant in waar Lientjie met ’n vonkeling in die oog besluit het sy gaan selfs wyn drink, al het sy kliënte later die middag.

Hulle het soos altyd lekker saamgekuier, op hulle gemak met mekaar, die kuier selfs lekkerder as gewoonlik vanweë die onverwagsheid daarvan.

Teen die einde van die ete het Willa opgekyk en haar stiefsuster saam met ’n man op hulle sien afpyl. Sy het skaars genoeg tyd gehad om Lientjie te waarsku.

“Ek sien julle is nog net sulke dik tjommies soos altyd,” het Melanie hulle gegroet.

Willa het alles in haar voel styf trek, maar voor sy iets kon sê, het die man langs Melanie, met sy oë op Lientjie, gesê: “Stel my voor, Mel.”

Vir die eerste keer het Willa regtig aandag aan hom gegee. Hy is beeldskoon, was die woord wat by haar opgekom het. So mooi, met sy vol mond en pikswart oë en swart hare en digte wenkbroue, en tog het sy terselfdertyd ’n rilling van afkeer teen haar ruggraat voel afgly.

Lientjie se oë was, dalk omdat sy in die skoonheidsbedryf is en self beeldskoon is, in vervoering op die man vasgenael.

Melanie het hom suurderig voorgestel as Ralph Pienaar.

Terwyl Ralph met Lientjie gepraat het, het Willa ter wille van konvensie ’n paar woorde met Melanie gewissel. Op haar vraag hoe dit met haar ma gaan, het Melanie geantwoord: “Goed. Sy moes begin werk, want sy was mos dom genoeg om met ’n onderwyser te trou wat nie behoorlik vir haar kon sorg nie,” en na haar metgesel gedraai voor Willa iets kon antwoord: “Dis tyd dat ons gaan, Ralph.”

Tipies, het Willa gedink, woedend oor die onverdiende belediging van haar oorlede pa. Melanie en haar ma sê die mislikste goed, maar is nie eerlik of dapper genoeg om jou die geleentheid te gee om daarop te reageer nie.

“Is hy nie die mooiste man nie?” het Lientjie gesug toe hulle wegstap.

“Jaaa …” het Willa gehuiwer, “dalk té mooi.”

En so het dit begin.

Ralph het Lientjie nog daardie selfde aand gebel en uitgevra, en Lientjie was in die sewende hemel, maar toe effense nugterheid terugkeer, het haar gewete haar gepla.

“Dink jy hy en Melanie het iets aan?” wou sy by Willa weet.

Willa wou sê hulle pas bymekaar, maar het haarself bedink. “Ek weet regtig nie, maar ek dink jy moet versigtig wees. Jy ken hom glad nie. Waarheen het hy jou uitgevra?”

Lientjie het haar uitgelag. “Jy klink erger as my ma. Hy het my vir ete genooi. En ek gaan my nie te veel oor Melanie bekommer nie. Sy het nooit op skool omgegee of sy in iemand se slaai krap nie. Selfs doelbewus vir Willem du Toit van jou vervreem. Miskien is dit goed dat sy bietjie van haar eie medisyne terugkry.”

En Willa was mens genoeg om daarmee saam te stem.

Die verhouding tussen Lientjie en Ralph het vinnig vlamgevat en hoog gebrand.

Willa het wal probeer gooi, gemaan tot besinning en later vir haarself soos ’n preutse oujongnooi geklink, maar die waarheid was dat hoe meer sy van Ralph Pienaar gesien het, hoe minder sy van hom gehou het.

Toe kom Lientjie opgewonde vertel van die kontak van Ralph wat ’n laserapparaat teen groot afslag kan invoer vir die skoonheidsalon wat sy wil open. Die prys van die masjien was drieduisend Amerikaanse dollar, wat toe – het hulle uitgewerk – amper vyftigduisend rand was, maar as sy nou ’n deposito van tienduisend rand gee, kan hy die apparaat vir net meer as vyftig persent van die normale prys invoer en mag sy die balans in paaiemente afbetaal wanneer sy dit die volgende jaar begin gebruik.

Lientjie sou haar bes doen om geld by die bank te leen.

Willa het Ralph glad nie vertrou nie. Haar rekenkundige brein het al die bekende argumente opgehaal: As iets te goed klink om waar te wees is dit te goed en nie waar nie; jy doen nie besigheid met familie nie, ook nie met iemand wat so naby aan jou staan nie; jy moet ’n kontrak sluit; kry die besonderhede van die toerusting op skrif sodat jy nie later met ’n minderwaardige produk opgesaal sit nie.

Lientjie wou nie, dit gaan mos lyk asof sy Ralph nie vertrou nie, en eintlik vertrou sy hom met haar lewe. En hy het haar die webwerf gewys van die vervaardiger in wie se diens sy kontak is, en dit is presies die apparaat wat sy nog altyd wou hê.

Genadiglik wou die bank nie vir haar ’n lening gee nie, maar toe sy daardie aand van Ralph af terugkom, was daar traanspore op haar wange.

Op Willa se vraag wat fout is, het sy vertel dat Ralph kwaad is en natuurlik kan sy dit verstaan, want die toerusting is al so te sê op pad en na al die moeite wat hy gedoen en die onkoste wat hy met sy kontak in Amerika aangegaan het, voel hy nou soos ’n gek.

Lientjie het so gesnik dat Willa in ’n oomblik van swakheid aangebied het om die tienduisend rand vir haar te leen. Sy het mos al ’n bietjie spaargeld. Teen haar beterwete het sy vir Lientjie se onthalwe gehoop dat sy verkeerd in haar opsomming van die man was.

Lientjie wou aanvanklik niks weet nie, maar het tog later dankbaar toegegee, vas oortuig dat die masjien homself baie gou sal betaal en dan kan sy elke sent aan Willa terugbetaal.

Willa wou weet aan wie sy die bedrag moet betaal. Lientjie het nie geweet nie en vir Ralph gebel, teruggekom en gesê die kontak wil die geld in kontant hê, anders kan hulle nie dieselfde wonderlike afslag beding nie, maar Willa kan dit in sy rekening deponeer, dan sal hy die kontant aan die kontakpersoon oorhandig.

Willa het niks daarvan gehou nie, maar haar bedenkinge vir haarself gehou en die tienduisend rand elektronies oorbetaal.

Ralph het die geld ontvang, en Lientjie het vir die apparaat gewag terwyl hulle verhouding voortgegaan het. Dat alles nie meer so goed gegaan het nie, het party aande ook duidelik op Lientjie se gesig gewys wanneer sy teruggekom het voor Willa gaan slaap het.

Toe die masjien na twaalf weke nog steeds nie kom nie, het selfs Lientjie begin lont ruik. Daar was net te veel verskonings van Ralph se kant af. En uiteindelik sy “erkenning” dat die kontak met die geld verdwyn het.

Willa het getwyfel of daar ooit ’n kontak was.

Lientjie was ontsteld en skaam oor die hele petalje. Haar inherente eerlikheid het haar uiteindelik gedwing om Ralph aan te sien vir die skurk wat hy is.

“Ek sweer dis die lekkerste garnaal-en-hoenderkerrie wat ek al ooit geëet het,” onderbreek Lientjie haar gedagtes. “Ek proe lietsjie hier in.”

“Dan moet ons dit in die week self probeer maak.”

“Jy kan dit maar oefen, my mater. Ek sal volgende jaar jou vervolmaakte kerrie kom eet. Ek gaan nie tyd vir kosmaak hê nie. Ek gaan mos Dinsdagoggend tot Vrydagmiddag vir die opleidingsessie in grimering by daardie nuwe spa waarvan ek jou vertel het. En daarna reguit huis toe. Ek kan nie wag nie. Ses weke vakansie! Wanneer laas kon ek so lank vakansie hou en net rus? Seker toe ek nog op skool was.”

“Die tyd vlieg darem,” antwoord Willa. “Dit voel asof die eksamen wat verby is ’n hap van drie weke uit my lewe geneem het. Ek het gedink dis nog ver in die verskiet voor jy huis toe gaan. Ek gaan jou mis. Maar ek sien julle Kersfees as die aanbod nog staan.”

“Natuurlik wil ons jou Kersfees graag by ons hê. Ma-hulle begin jou kwalik neem dat jy nog nie eens hulle huis gesien het nie. Dis al ’n jaar vandat hulle afgetree en met die besigheid op George begin het.”

“Die oomblik wanneer my werk klaar is, kom ek. Ek sien net so uit daarna om my aanneemfamilie weer te sien,” glimlag Willa.

Hoe gelukkig was sy nie om so ’n vriendin met so ’n familie tydens haar grootwordjare te hê nie, mymer Willa toe sy later terug is in die woonstel en Lientjie vroeg vir ’n vergadering kerk toe is. Al die Cronjé’s het haar aanvaar asof sy deel van hulle gesin is.

Met liefde en deernis rus haar geestesoog op hulle elkeen: Tannie Magda, wat almal om haar altyd gelukkig wil sien. Oom Henk, so lief vir sy gesin, hulle geestelike leier. Marietjie wat nou ’n eerstejaar in haar onderwysstudie is, so gretig om ’n verskil in kinders se lewens te maak. Terggees Stefan, wat nog een jaar skool oorhet. En so spesiaal: Lientjie, haar beste maat van graad agt af.

Lientjie moes vanjaar so ’n groot lewensles leer, maar dit werp reeds vrugte af. Sy het finaal die moed bymekaar geskraap om in Februarie met haar eie skoonheidsalon te begin. Sy neem nou al haar opgehoopte verlof en werk haar kennismaand in Januarie.

Haar selfoon lui. Nie ’n bekende nommer nie.

Deon Joubert! Sy herken sy stem onmiddellik: “Goeienaand, Willa. Dis Deon Joubert wat praat.”

Willa se hart klop in haar keel. Dít het sy sowaar nie verwag nie. Waar het hy haar telefoonnommer gekry? Terwyl hulle by GJ Investments geoudit het?

“En hoe was jou Sondag?” vra hy sag nadat sy gegroet het.

“Heerlik gewees. Die Sunday blues pak my gewoonlik net dié tyd van ’n Sondagaand.” Nou vir wat sê sy dít nou? Hoekom laat sy dit nie klink asof sy nog steeds ’n besige Sondag met hope vriende om haar het nie?

Deon lag saggies. “Kom ons kyk of ons die blues nie ’n bietjie kan verlig nie. Ek wil hoor of jy Dinsdagaand saam met my sal gaan eet?”

Willa aarsel. Nou is die tyd om soos in tienerflieks te sê: “Ek kry net gou my dagboek,” eers hard rond te blaai en dan: “Ek sien ek het ’n opening Dinsdagaand. Dankie – dit sal lekker wees.”

Die lag slaan deur in haar stem toe sy sê: “Dankie, ek sal dit geniet. Hoe laat?”

Deon is ’n oomblik stil, sê dan: “Ek wens ek kan jou gesig op dié oomblik sien, weet jy? Ek wed jou jy glimlag weer vir jou eie gedagtes.”

“Is jy heldersiende, meneer Joubert?” terg sy met lag in haar stem.

“Nee, juffrou le Roux, net baie gefokus op jou. En as ek jou gesig nie kan sien nie, luister ek na die nuanses in jou stem.”

Oe-la-la, dié man is ’n meester wanneer dit by die flankeerkuns kom, besef sy met ’n vinnig kloppende hart.

“Nou toe nou,” spot sy. “Ek het altyd gehoor ’n mens moet oppas wat jou oë verraai. Nooit geweet jou stem kan jou ook verraai nie. En dit nogal oor ’n telefoon.”

“Regtig? En ek het jou nogal opgesom as ’n meisie wat darem weet dat meer as tagtig persent van alle kommunikasie nieverbaal geskied.”

Sy lag. “Oukei, jy wen,” en hoor hom aan die ander kant lag.

Hy spreek af hoe laat hy Dinsdagaand by haar sal wees, dat hy haar na een van sy gunstelingrestaurante wil neem en dat sy maar informeel kan aantrek.

Willa groet en sny die oproep af. Sy probeer haar vreugde in toom hou. Pas op, Willa, pas op.

Maar sy kan nie wag om te hoor wat Lientjie gaan sê nie.

Legkaart van die liefde

Подняться наверх