Читать книгу Legkaart van die liefde - Renda de Waal - Страница 6

4

Оглавление

“Ek kan nie glo ek gaan jou ridder nié ontmoet nie,” bekla Lientjie haar lot Dinsdagoggend vir die soveelste keer. “Hoekom kon ek nou nie eers môre met my opleiding begin het nie? Of, noudat ek daaroor dink, kon die man jou nie vir gisteraand al uitgevra het nie?”

Willa lag. “Ek weet nie, maar ek belowe ek sal jou môre bel en alles vertel.”

Nadat sy vir Lientjie gegroet het, stap sy met ’n glimlag om haar mond na haar motor toe. Die dag is ’n juweel: die blou somerlug, die bome wat vol sagte, jong groen blare is, opwinding in die lug.

Dis amper vakansietyd, Kersfees is om die draai. En vanaand … vanaand sien sy weer vir Deon.

En toe is sy amper laat. Sy het gister al besluit om haar mooi nuwe halterbloes by ’n langbroek aan te trek, maar toe begin sy twyfel. Dalk liewers die koningsblou rok met die dun bandjies; nee, nie informeel genoeg nie, net om uiteindelik tog die langbroek aan te trek.

Hy is ’n paar minute vroeg.

Toe sy die deur oopmaak, sien sy dat hy chinos aanhet. Sy langmouhemp is tot by sy elmboë teruggevou. Sy voorarms lyk sterk.

“Hallo, Willa.” Daar is warm goedkeuring in sy oë.

Verwonderd raak hy aan die punte van haar hare. “Dis die eerste keer dat ek jou hare los sien. In die gim het jy dit in ’n poniestert gehad.”

Sy ligte aanraking maak Willa se bene lam. “Die gim?” Maar sy onthou wat Ettienne gesê het. Trouens, die wete dat hy haar daardie aand raakgesien het, nes sy vir hom, is al die hele week soos ’n koel briesie in haar gemoed.

“Dis waar ek jou die eerste keer gesien het, weet jy.”

Hy neem haar sleutels by haar en sluit die deur. Hulle stap met die trappe af na die straat waar sy motor geparkeer is. Die binnekant van die motor is luuks.

Hy neem haar na ’n Italiaanse restaurant, klein, met ’n wonderlike atmosfeer. Die tafels is ver genoeg van mekaar om privaatheid moontlik te maak.

“Guiseppi se geregte is almal uitstekend. Sy seekos is net so goed soos sy tradisioneel Italiaanse geregte,” beveel Deon aan.

Hy bestel wyn, en Willa kies met sy hulp. Die kelner bring warm Italiaanse brood en saam-saam meng hulle olyfolie en balsamiese asyn om die brood in te doop.

Guiseppi kom groet, en sy word aan hom voorgestel. Hy kyk belangstellend na haar voordat hy weer haastig kombuis toe skarrel. Willa wonder onwillekeurig aan hoeveel meisies hy al voorgestel is.

Hulle gesels oor nuus van die dag: die uitwerking van al die heffings op die salaris wat die gewone man huis toe neem, al die politieke manewales, die godsdiensdebat wat net nie ophou nie.

Deon se menings is weldeurdag; hy stel belang in haar menings en dwing haar om uit die vuis en dieper te dink.

Langsamerhand, soos die ete vorder, raak die gesprek meer persoonlik. Hulle vra oor mekaar se belangstellings uit. Doen jy iets anders vir oefening behalwe gim? Wat lees jy? Ander stokperdjies? Flieks wat ’n indruk op jou gemaak het? Musiek? Sy vind uit dat Deon twee en dertig jaar oud is, nege jaar ouer as syself.

Hulle is klaar met hulle hoofgereg toe ’n vriend van Deon kom groet.

Deon kyk gesteurd op, maar kom op sy voete en groet. Hy stel haar voor, sê dis sy boesemvriend, Jean Duval, maar hy maak dit in nieverbale taal duidelik dat Jean nie moet talm nie.

Dit gee Willa ’n paar broodnodige oomblikke om bestek te neem. Sy sal versigtig moet wees. Die wyn en die man is direk na haar kop toe. Sy, wat gewoonlik so gereserveerd is, het onder sy belangstelling oopgemaak, haar gedagtes onvoorwaardelik met hom gedeel en onder sy goedkeuring geblom. Dwarsdeur die ete het sy oë haar geliefkoos, het sy blik soos ’n aanraking van haar skouers, haar mond, haar oë gevoel.

Sy bedekte misnoeë oor die onderbreking laat haar ongelooflik spesiaal voel.

Jean groet gou met ’n geamuseerde glimlag om sy mond.

Deon vra om verskoning vir die onderbreking en verneem of sy nagereg wil eet.

“Ek kan nie ’n krummeltjie meer eet nie,” sê Willa, “maar koffie sal lekker wees, dankie.”

Nadat hy vir hulle albei koffie bestel het, sê Deon: “As jy wil, kan ek bietjie kyk na jou gholf, jy sê mos jy vind dit ’n moeilike spel. Waarmee presies sukkel jy?”

“Laat ek sien,” lag Willa. “Ek sukkel met my afslane, ek sukkel met my naderhoue, ek sukkel met my sethoue. So jy kan maar sê ek sukkel met gholf.”

Toe Deon lag, gaan sy voort: “Onthou, ek het maar ’n paar maande gelede begin. Ek het enkele lesse gekry, maar vermoed dis nou net oefen vorentoe. En ek sal dit nie aan jou doen om saam met ’n beginner soos ek te speel nie.”

“Ek sal daarvan hou om saam met jou te speel, en nie net gholf nie.”

Willa trek haar asem in. Die beelde wat sy woorde in haar oproep, laat haar vuurwarm bloos. En die probleem is dat sy ’n beginner is wat baie soorte speletjies betref, veral die soort speletjies wat sy woorde suggereer, en dit laat haar meewarig glimlag.

“Jy doen dit al weer,” sê Deon. “Daardie innerlike oomblikke van pret waarvan net jy weet. En tot dusver wou jy hulle nie met my deel nie. Kan ek betaal daarvoor?”

“Hoeveel sou jy bereid wees om te betaal? Die spreekwoordelike pennie?” skerm sy.

Hy leun vorentoe, druk haar hare agter haar oor in, soos hy haar al ’n paar keer sien doen het, en sê speels: “Maak jou prys.”

“Gevaarlike aanbod, meneer Joubert. Ek kan jou dalk kaal uittrek.” Onmiddellik besef sy dat sy die grootste flater begaan het deur juis dié beeld te gebruik.

Hy gooi sy kop agtertoe en lag: “Jy het my toestemming,” en vra tergend: “Gee jy my wedersyds toestemming?”

“Jy weet baie goed ek het spreekwoordelik gepraat,” en toe moet sy ondanks haar verleentheid saamlag.

Terug by die woonstel vra Willa of hy wil inkom vir koffie?

Met ’n ironiese glimlaggie, sê Deon: “Liewer nie, want dis nie koffie wat ek wil hê nie. Of tee, of enige ander drankie nie.”

“Dis net koffie wat op die spyskaart is,” daag sy hom uit.

“Ek beplan om die spyskaart uit te brei.” En met die kriptiese woorde trek hy haar vir ’n oomblik nader en druk sy mond in die holte tussen haar skouer en haar nek.

“Lekker slaap.” Hy trek die deur agter hom toe.

Willa moet eers teen die deur leun om haar bewende bene kans te gee om te herstel.

Die volgende oggend lê Willa nog in haar bed toe haar selfoon lui. Deon. Haar hart klop in haar keel toe sy sy naam sien. Hy vra of sy die aand saam met hom na die fliek sal gaan kyk waaroor hulle die vorige aand gepraat het.

Willa stem in. Hy spreek af om haar vroeg te kom kry sodat hulle eers iewers kan gaan eet.

Die een afspraak volg na die ander. Hulle sien mekaar daardie eerste paar weke elke dag, meestal selfs vir middagete. Deon maak geen geheim daarvan dat hy haar geselskap geniet en haar graag meer wil sien nie.

En Willa dink nie eens daaraan om haar ’n bietjie meer onbeskikbaar te stel nie. Soos hy, wil sy hom sien en by hom wees. Hulle kan nie genoeg kry van gesels nie, en Deon is versigtig om nie aanmerkings te maak wat haar verleë laat voel nie.

Hy raak selde aan haar. Sy oë lag in hare, en dit terg, maar dit liefkoos haar nie soos die eerste aand nie. Sy voel verward. As dit nie vir sy afskeidswoorde daardie eerste aand was nie, sou sy rêrig gedink het hulle is net vriende en dat daar geen dieper aangetrokkenheid van sy kant is nie.

Willa besef al hoe meer dat dit nie met haar die geval is nie. Hy is seker die aantreklikste man op die aarde, besluit sy elke keer opnuut. Die emosies wat hy by haar wek, word by die dag intenser. Sy gesigsuitdrukkings leer sy ken. Hoe lag eerste by sy oë begin en dan na sy mond versprei. Hoe hy ernstig kan raak, die lyne om sy mond duideliker. Sy hou van sy houding teenoor die lewe, die verantwoordelikheidsgevoel teenoor en respek vir sy werknemers, sy begeerte om ’n verskil te maak.

Een heerlike, warm Saterdagoggend nooi hy haar na sy huis. Sy raak dadelik verlief op die groot, ou huis met sy pragtige tuin. Gerieflik binne, en onpretensieus luuks, ’n mengsel van oud en modern.

Deon stel voor dat hulle in die swembad afkoel.

Hulle swem en speel met ’n bal, en klim later uit om in die son droog te bak. Deon probeer nie sy belangstelling verberg toe sy, effens selfbewus in haar bikini, sonblok aan haar lyf smeer nie, maar bied ook nie aan om dit vir haar te doen nie.

Sy huiwer tussen verligting aan die een kant – sy aanraking sou net te veel van ’n uitwerking op haar gehad het – en verwarring aan die ander kant: Ander jong mans het nooit die geleentheid verby laat gaan om aan te bied om so ’n takie te verrig nie.

Vir die eerste keer in haar lewe is sy intens bewus van ’n man se liggaam: sy lang, goed gevormde bene, sy breë skouers, sy gespierde borskas en maag, sy sterk arms.

Hoe sal dit voel …? Nee, keer sy haar gedagtes; haar gesig sal haar net verraai.

Toe sy later omdraai om op haar maag te lê, steek Deon sy hand uit en raak liggies met sy wysvinger aan die geboortevlekkie baie laag op haar rug.

“’n Geboortevlekkie?”

En toe sy glimlaggend knik: “Ek het vir ’n oomblik gedink dis ’n tatoeëermerk. Dis ’n perfekte hartjie.”

“Ek het dit by my ma geërf. Sy het op presies dieselfde plek ook so ’n geboortevlek gehad.”

“Baie sexy.”

Die lig in sy oë laat haar vir ’n oomblik voel dat hy haar baie begeerlik vind, maar hy spring op en trek haar aan haar hand op. “Kom, juffrou le Roux, jy word lui hier in die son. Kom swem weer voor ons gaan eet.”

Sy ontmoet vir Gladys, sy huishulp, wat na baie jare by die Jouberts feitlik deel van die familie is, vertel Deon, en hom help grootmaak het. Gladys sit ’n fantastiese middag- en later ook aandete voor, en Willa vertel haar na aandete met groot entoesiasme hoe sy dit geniet het.

Gladys se gesig straal. Nadat sy alles opgeruim het, bring sy vir Willa ’n bakkie met gesondheidsbeskuit. “Jy is heeltemal te maer. Jy moet eet dat jy kan lyf kry.”

Willa lag en bedank haar, maar toe Gladys haar uit die voete maak en sy na Deon kyk, verdwyn haar lag.

Sy blik is intens. Hy staan op en trek haar uit haar stoel op. “Net reg,” sê hy, terwyl sy oë oor haar gly. “Perfek. En ek moet jou eerder nou huis toe neem.”

Een Sondagaand sê Willa dat sy baie verpligtinge gedurende die week het en waarskynlik elke aand sal moet werk. Deon moet, op sy beurt, vir ’n paar dae Kaap toe. Hy sê hy sal haar Vrydagaand sien en dat hy reeds twee teaterkaartjies vir ’n skreeusnaakse komedie gekry het vir die komende Saterdag, sal sy saamgaan? Hulle kan voor die tyd eers iets gaan eet.

“Ek dink dit is nou my beurt om vir jou ’n ete te maak,” sê Willa. “Wat van Vrydagaand hier by my?”

“Ek wil nie hê dat jy Vrydag na werk nog moet koskook nie,” besluit Deon. “Ek weet hoe hard jy gedurende die week werk.”

“Jy kan my altyd kom help.”

“Goed,” glimlag hy, “ek sal kom kyk dat jy die kos nie brand nie,” en vang haar hand toe sy ’n oppas-vir-jou-vinger na hom wys, vou dit in syne toe. Hy groet met ’n hand teen haar wang.

Tog bel hy haar Donderdagoggend: “Ek is op Kaapstad se lughawe. Ek het vroeër klaargekry as wat ek gedink het. Is jy by jou werkplek al senior genoeg om vanmiddag ’n paar uur af te knyp, dan gaan speel ons gholf?”

Willa se hart bokspring van vreugde toe sy sy stem hoor. Sy dink vinnig: Sy het die week al lang ure gewerk, en sy kan vanaand weer ’n paar ure insit.

“Goed,” stem sy in, “hoe laat?”

Hy kom haal haar met ’n viertrek sodat die gholfsakke kan inpas en neem haar na ’n minder bekende, minder besige gholfbaan sodat hy haar bietjie kan afrig, vertel hy.

By die eerste bof slaan Deon eerste af, waarna hulle na die damesbof stap.

Willa is so beïndruk deur sy afslaan dat sy sommer senuweeagtig voel. Haar eerste afslaan is dan ook glad nie ’n sukses nie.

Deon gee vir haar nog ’n balletjie aan. Hy demonstreer hoe sy haar drywer moet terugtrek en afswaai: “Oefen eers. Probeer die gras raakslaan.”

Willa probeer doen wat hy sê, maar sien duidelik dat sy nie laag genoeg swaai nie. Sy sou die bal nooit optimum getref het nie.

“Jy trek jou drywer te laag agter jou skouers af. En jy gebruik jou gewrig: dan het jy nie beheer oor die stok nie,” kritiseer hy, en kom staan agter haar. Sy een hand rus op haar heup, die ander vou oor haar hande, trek die stok op en sê: “Tot hier, en dan swaai jy af,” en demonstreer met sy hand oor hare die afwaartse swaai. “Onthou, jy hoef nie krag in te sit nie, dis die spoed van die afwaartse swaai wat belangrik is. Hou jou bene effens gebuig. Swaai deur. En moet nié jou kop optel voor jy nie klaar geslaan het nie, dis die grootste fout wat beginners maak.”

Nou hoe moet ek al dié goed onthou as my hele lyf in skok is van jou aanraking?

Willa dwing haar om te konsentreer. Lig die drywer so ver soos hy gedemonstreer het, swaai af en slaan die bal … mis. ’n Freshie! Sy kyk verbaas op na Deon, sien hoe hy sy onderlip vasbyt om nie te lag nie, en dan tog, toe hy haar kwasiverontwaardigde blik sien, toegee.

Willa lig haar stok kastig dreigend en loop op hom af.

Laggend gryp hy haar pols en trek haar nader, soen haar vol op haar mond.

Dit is binne ’n oomblik verby, maar vir Willa is die wonder daarvan kosbaar in haar hart.

Later, by die klubhuis, terwyl Deon ’n bier en sy ’n vrugtesap drink, vra hy of sy tyd het om iets ligs saam met hom te gaan eet.

“Ek weet nie, Deon,” antwoord sy aarselend. “Ek sal vanmiddag se werk moet inhaal.”

“Jy moet in elk geval eet. Ek belowe jy sal op die laatste halftien terug by jou woonstel wees. En omdat ek nogal voorsien het dat jy dalk sal moet werk, het ek klere in ’n sportsak gegooi om vanaand aan te trek in die hoop dat jy saam met my sal gaan eet. Dus, as jy instem, stort ek sommer by jou om tyd te spaar. Is dit reg so?”

“Reg so,” stem Willa in. “En ek is rasend honger. Kan ons gaan?”

Toe Willa later daardie aand, nadat Deon haar terugbesorg het, in die badkamer van hulle woonstel kom en die talmende geur eie aan hom ruik, word haar hele wese week.

Ek wil hom die res van my lewe ruik, en voel, en sien, en hoor. Die gedagte laat haar skrik; sy weet nie hoe hy voel nie.

Toe hy gegroet het, het hy sy hand om haar wang gekelk het en sag gemaan: “Moenie te laat werk nie,” en met sy duim heen en weer, eers oor haar onderlip en toe oor haar bolip gestreel, en die deur toe met “sluit die deur dadelik agter my”, agter hom toegetrek.

Daar was teerheid in sy gebaar, maar is sy gevoelens ooit so diep soos hare?

Dit is te laat om nou te probeer keer. Sy is tot oor haar ore verlief op hom.

Vrydagmiddag haas Willa haar huis toe. Sy stort gou, grimeer liggies en trek jeans en ’n koel bloesie aan. Sy maak ’n biltongslaai en begin met die voorbereiding van die paella-risotto wat sy beplan het.

Deon daag op met ’n bottel wyn en vra waarmee hy kan help. Sy wys hom waar die eetgerei is en vra hom om tafel te dek. Hy diep selfs iewers uit ’n laai ’n kers op wat hy aansteek. Toe skink hy vir hulle elkeen ’n glasie wyn en bring Willa s’n vir haar.

Sy skep op. Hulle eet en gesels oor die week wat verby is.

“Jou kos is heerlik,” komplimenteer hy haar. “Waar het jy leer kook?”

“My ma was baie lief vir kook en dit was altyd vir my lekker om by haar in die kombuis te wees wanneer sy kosmaak. Sy het graag met nuwe resepte geëksperimenteer. Ek dink my belangstelling is daar gekweek. En na haar dood …”

“En na haar dood …?”

“Toe het ek nie ’n keuse gehad nie, en moes ek kook.” Vervlaks, sy het nou meer gesê as wat sy in dié stadium wou. “Ons huishulp kon nie, en my pa het eers laatmiddag by die huis gekom. Ek was in graad agt toe sy oorlede is. My pa was adjunkhoof by ons plaaslike hoërskool, en het maar altyd werk en sportafrigting in die middae gehad. Hy is twee jaar na my ma se dood weer getroud, en hoewel my stiefma baie van my pligte oorgeneem het, het ek nog dikwels, veral naweke, vir etes gesorg. Kook was nie regtig haar of my stiefsuster se belangstelling nie.”

“En noudat jy nie meer in die huis is nie? Wie kook nou vir hulle?” vra hy.

“My pa is aan die einde van my eerste jaar aan ’n hartaanval oorlede. Ek het nie vreeslik goed klaargekom met my stiefma en my stiefsuster nie, dus is ek na skool uit die huis uit. Ek en Lien, die vriendin van wie ek jou al vertel het, het dié woonstel van die begin van daardie jaar af gedeel. Sy het ’n skoonheidskundekursus by die tegniese universiteit geloop en ek het by die universiteit met my kursus begin. Na my pa se dood het ek oorgeslaan na deeltydse studie en met klerkskap begin.”

“Ek sal jou vriendin graag wil ontmoet wanneer sy van haar vakansie terugkom.”

“Sy wil jou ook graag ontmoet. Sy is pragtig, binne en buite.”

Deon is ’n rukkie stil.

Willa is bly dat sy sit, want haar bene word heeltemal lam toe hy haar hand in syne neem en liggies met sy duim oor haar palm vryf.

“Wat jou familie betref, vermoed ek daar is heelwat meer wat ek nie vertel is nie.” Hy druk ’n soentjie op haar palm en vou haar hand toe. “Ek is gelukkig dat ek nog beide my ouers het. Ons is ’n gelukkige gesin, behalwe dat my suster op die oomblik deur ’n moeilike tydperk gaan. Sy is onlangs van haar man geskei. Die klassieke rede: ’n ander vrou. En al het ek van die begin af nie veel gedink van die man met wie sy getroud is nie, het ek ook geen simpatie met die ander persoon in ’n liefdesdriehoek nie. Die skade wat aangerig word, is net te groot. Ek wens ek kon verhoed dat haar hart gebreek word. Ek haat dit om haar so ongelukkig te sien.”

Willa kyk na die ernstige trek om sy mond. Dit is duidelik dat hy baie lojaal teenoor sy suster voel. Sy is voorwaar gelukkig om so ’n broer te hê.

Hoe anders was haar eie latere gesinslewe nie!

Willa teug aan die laaste bietjie wyn in haar glas terwyl haar gedagtes in die verlede dwaal.

Aan die begin was die vrae: Wat doen ek verkeerd? Dit moet my skuld wees dat my nuwe ma en haar dogter nie van my hou nie.

Melanie is so mooi, ’n ekstrovert. Aan die einde van elke dag die voorneme: Ek gaan harder probeer, nie in my dop kruip nie, vriendeliker wees.

Eers later het sy besef dat dit twee neem om te tango.

Van hulle kant het haar stieffamilie niks gedoen om haar te betrek nie. ’n Nuwe gesin het tot stand gekom, maar daar was geen poging om haar deel daarvan te maak nie.

“Ek is jammer vir jou suster,” simpatiseer sy. “Dit moet baie pynlik wees om deur so iets te gaan. Ek was in my hoërskooljare gelukkig om ’n vriendin soos Lien te hê. Sy én haar gesin. Hulle almal het hulle met liefde en deernis oor my ontferm. By hulle het ek telkemale weer moed gaan skep.”

Deon glimlag vir haar, sy oë baie sag. Hy kyk op sy horlosie, sê: “Ons het so lank geëet en gesels. Ek gaan die skottelgoed was, gaan sit jy voor die televisie.”

Daarvan wil Willa nie hoor nie. Hulle was saam skottelgoed en ruim die kombuis op.

Deon wil graag na ’n dokumentêre program kyk, en Willa neem die koerant om op hoogte te kom van die dag se nuus, maar toe sy in ’n stoel wil neersak, keer Deon: “Kom sit hier by my op die bank.”

Die afgelope vier weke het Deon gesorg dat daar fisiek ’n afstand tussen hulle is. Is dit die eerste stap om nader aan mekaar te beweeg?

Sy gaan sit op die ander sitplek van hulle tweesitplekbank, maar Deon trek haar nader sodat sy teen hom aanleun, sy arm agter haar skouers. Ongeërg skakel hy met die afstandbeheerder oor na die kanaal wat hy verlang en begin na sy program kyk.

Willa skop haar sandale uit en trek haar voete onder haar in, slaan die koerant oop en begin stadigaan ontspan. Geen bedreiging hier nie. Sy bly ontspanne selfs toe Deon na ’n rukkie liggies haar skouer en nek begin streel.

Later vou sy die koerant op en leun ontspanne en lomerig teen hom aan. Sy ander hand vou om haar gesig, lig haar ken op. Oombliklik is die spanning terug. Vir ’n paar oomblikke kyk sy in sy oë: Sy weet nie wat haar oë verraai nie, maar sy blik is enigmaties.

Hy buig sy kop en sy lippe sluit oor hare. Sy soen is teer, sy een hand streel haar nek en rug totdat alle spanning in haar verdwyn. Sy gee haar oor aan sy omhelsing, haar mond beantwoord sy soen. Deon trek haar stywer teen hom aan, sy soene word dringender.

Willa het nie geweet ’n blote soen is in staat om soveel emosies in haar op te wek nie. Die omhelsings waarvan sy ervaring het, was vir haar aangenaam tot op ’n punt, dan het sy haarself sonder moeite onttrek.

Maar dis nou … ánders. Sy wil nie hê hy moet ophou nie. Sy wil sy hande oral op haar voel. Haar bloed jaag deur haar are. Haar hande kruip op na sy skouers, meet dit oor en oor, beweeg op na sy nek en kop, streel dit, haar vingers in sy hare.

Hy streel met sy mond oor haar wang, druk sagte soentjies in haar nek. ’n Lam gevoel spoel deur haar, haar hele wese meteens sag. Keer op keer soek hy weer haar mond op.

Dis ’n skok toe hy haar effens hardhandig van hom wegstoot en vinnig opstaan. Hy stap ’n entjie weg, sy een hand teen die muur en sy kop geboë, sukkelend om sy asemhaling onder beheer te kry.

Willa staan wankelend op en stap na die venster, kyk uit oor die stadsliggies sonder om iets te sien. Haar enigste troos is dat hy, soos sy, nie onaangeraak is nie: Albei van hulle sukkel om hulle selfbeheersing terug te kry.

Toe haar asemhaling na normaal terugkeer, draai sy om. Sy voel sy blik op haar, maar dis moeilik om dit te ontmoet.

“Jy oukei?” vra hy, en toe sy knik, glimlag hy meewarig: “Jammer, Willa, dit was nie beplan nie. Maar jy gaan na ’n man se kop. Kom sê vir my tot siens by die deur. Ek wil jou nie hier groet nie, ek weet nie of ek dan sal wegkom nie.”

Die volgende dag bel Deon om hul afspraak vir die aand te bevestig en om af te spreek hoe laat hy haar sal kom kry. Sy stem klink saaklik oor die telefoon, maar toe hy die aand opdaag, kom hulle albei agter dat hulle ’n grens oorgesteek het. Daar is intimiteit, innigheid tussen hulle wat die een nie vir die ander kan wegsteek nie.

Hulle eet by ’n restaurant wat al ’n paar keer genomineer is as een van die beste restaurante in die land. Hulle kies verskillende geregte en laat mekaar daaraan proe. Soos die eerste aand wat hulle uitgegaan het, liefkoos Deon se oë en stem haar. Daar is ’n lig in sy oë wat haar vertel hoe begeerlik hy haar vind, en sy verlustig haar daarin.

Intuïtief weet sy hoe sensueel dié nuutgevonde mag wat haar vroulike aantreklikheid haar gee, haar maak. Dit is daar in elke beweging van haar lyf, elke flikkering van haar ooglede. Terwyl hulle wag vir hulle koffie, speel hy met haar vingers, hou hy met brandende oë dop hoe sy aanraking haar affekteer.

Sy trek haar rug met moeite orent sodat haar lyftaal haar nie geheel en al verraai nie.

In die teater neem hy haar hand in syne. Hoewel die komedie regtig skreeusnaaks is, kom hulle agter dat hulle inderdaad ook dieselfde sin vir humor deel: Sekere humoristiese insidente laat hulle net glimlag, terwyl ander hulle lam van die lag laat.

Later by haar woonstel wil Deon nie inkom nie. Hy neem haar in sy arms: “Ek wil vir jou nagsê, maar na wat gisteraand tussen ons gebeur het, wil ek dit hier by ’n oop deur doen, en moet jy my help om die deur agter my nie toe te maak nie. Tensy jy gereed is om die finale stap te neem en my die nag te laat bly?”

Haar hande lê teen sy bors. Sy voel die dringende klop van sy hart, ’n eggo van haar eie. Haar mond is kurkdroog. Is sy gereed? Haar liggaam wil so graag bevestigend antwoord, maar haar diepgewortelde opvoeding maan haar om te besin.

Sy antwoord: “Ek wil nie halsoorkop ’n besluit neem nie. Ek het meer tyd nodig, Deon. Dis maar vier weke of so vandat ons mekaar ontmoet het.”

“Vir my voel dit nie asof ek jou nog net vier weke ken nie. Daar was van die begin af ’n baie sterk aantrekkingskrag tussen ons – jy weet dit, nè?”

Haar oë vlieg na syne. Peil hy haar so maklik? Daardie lig brand weer in sy oë.

Sy laat haar blik sak, knik haar kop in erkenning. Sy kan haar nie voorstel dat daar ’n vrou is wat nié sterk tot hom aangetrokke sal voel nie. Vroue hou hom dop, oral waar hulle gaan.

“Willa,” en sy stem word ernstig, “dit word al hoe moeiliker om by jou deur vir jou nag te sê. En as ons gaan aanhou om sulke speletjies met mekaar te speel soos wat ons vanaand in die restaurant gedoen het, gaan dit onmoontlik word om die spel nié enduit te speel nie.”

“Ek besef dit ook,” erken sy hees. Willa maak haar oë ’n oomblik toe, onwillig dat hy die twyfel én hunkering daarin sien. “Maar ek moet rasioneel wees. Ek wil nie halsoorkop ’n besluit neem nie.”

“Ek aanvaar dit so.” Sy oë word sag. “En ek weet dit is waarskynlik te gou vir jou om so ’n besluit te neem. Ek sal geduldig wees as jy langer tyd nodig het. Maar dink daaroor terwyl ek weg is: of jy gereed is om jou in ’n ernstiger verhouding te begeef?”

Terwyl hy weg is? Haar oë soek syne.

“Daar het ongelukkig en onverwags dringende sake by ons Amerikaanse kantoor opgeduik. Ons het die laaste paar jaar heelwat beleggings in die Noordelike Halfrond gemaak, veral in die VSA, en dit het noodsaaklik geword om ’n kantoor daar oop te maak.

“’n Vriend van my het ook ’n aandeel daarin en beman die kantoor. Ek vlieg môreoggend New York toe om hom te help om ’n paar probleme uit te stryk, maar ek is volgende Saterdagoggend weer terug in die land. Hou volgende Saterdagaand vir my oop, hoor?”

Hy trek haar teen hom vas en soen haar.

En wetend dat hy ’n week lank nie op dieselfde tyd dieselfde sonstrale en lug met haar gaan deel nie, plaas Willa haar hele hart in haar respons.

Deon druk haar so styf teen hom vas dat haar voete van die vloer af lig. Ooglopend onwillig laat hy haar gaan. “Lekker slaap,” sê hy skor. “Kyk mooi na jouself terwyl ek weg is.”

Legkaart van die liefde

Подняться наверх