Читать книгу Legkaart van die liefde - Renda de Waal - Страница 7
5
ОглавлениеDie week sonder Deon gaan langsaam verby, ondanks ’n baie besige tyd by haar werk. Sy mis hom, mis ook die opwinding van uitsien na ’n aand saam met hom. En deurentyd is die wete daar dat sy ’n besluit moet neem.
Sy kan nie dink dat sy ooit weer so oor ’n man sal voel nie; waarom dan nie aanbeweeg na ’n fisieke verhouding nie? Omtrent al haar vriendinne was al in ernstige verhoudings betrokke, selfs Lientjie. Arme Lientjie, watter spit het sy nie afgebyt nie!
Instinktief besef sy dat as ’n intieme verhouding met Deon tot ’n einde moet kom, dit haar dalk onherstelbaar kan kwes. Maar om nou vir hom te sê: Nee, ek sien nie kans vir ’n intieme verhouding nie, ek is bang vir seerkry, is ’n lafhartige uitweg. Sy kan vra vir meer tyd, maar wat gaan verander?
Gereserveerd soos sy is, het sy emosioneel nog altyd te versigtig geleef, te bang om seer te kry. Is dit nie nou die tyd om die lewe by die horings te pak nie?
Om alles daaruit te put wat sy kan. Voluit te leef.
Ondanks die kort tydjie wat sy hom ken, vertrou sy Deon op ’n vreemde manier. Hy het integriteit. Sy is nie die eerste vrou in sy lewe nie, hy is ’n man met ondervinding, maar sy voel aan dat hy haar respekteer en van haar as mens hou. En tot dusver was hy geduldig met haar en gun hy haar dit om self die besluit te neem. Dit gee uiteindelik die deurslag, laat haar tot ’n besluit kom: Terwyl die verhouding hou, sal sy veilig in sy hande wees. En as dit moet eindig, het sy ten minste bietjie lewensondervinding bygekry.
Sy sal alles in haar vermoë doen om hom só gelukkig te maak, sy lewe tot so ’n mate te vul dat hulle verhouding in ’n permanente een sal verander.
Deon bel haar Donderdagoggend net voor ses: “Dis amper twaalfuur hier, en ek is doodmoeg, ek gaan nou slaap. Maar sover beplan ek steeds om Saterdagoggend terug in Suid-Afrika te wees.” In ’n sagter stem vra hy: “Is jy nog in die bed?”
“My wekker het nou net afgegaan, ek moet binnekort opstaan. En ek is bly jy hou by jou skedule.”
“Beteken dit jy mis my ’n bietjie?”
“Ja, natuurlik. Ek moes self kosmaak dié week, want niemand wou vir my etes koop nie.”
“Vir daardie antwoord moet ek ’n straf uitdink. Soos byvoorbeeld dat jy die res van volgende week vir my moet kook. Maar dit sal alles afhang van …”
“Waarvan?”
“Van jou antwoord.”
“My antwoord?”
“Ek het jou gevra om oor iets te dink terwyl ek weg is. Het jy?”
Willa se hart klop vinnig, maar skielik is alle oorblywende twyfel weg. “Ek het,” sê sy heserig, “maar ek sal jou my antwoord gee wanneer jy terug is.”
Stilte.
“Ook maar goed so.” ’n Laggie. “Want wat jy ook al besluit het, sou ’n slapelose nag gewaarborg het.”
“Nou toe,” terg Willa waaghalsig, “kry nou al die slaap in wat jy kan, terwyl jy nog kan. Ek moet ook opstaan, anders is ek laat.”
“Terwyl ek nog kán? Wat beplan jy vir my, juffrou le Roux?
“Jy sal sien, meneer Joubert, jy sal sien.”
“Ek dink jy is skaamteloos. Lekker dag vir jou, my liefling,” groet hy.
My liefling … Die liefkosing bly by haar, kleur die dag wat nou eindeloos voel.
Omstreeks elfuur lui Willa se telefoon. ’n Onbekende nommer.
“Willa?” vra ’n manstem toe sy antwoord. Daar is iets bekends aan die stem, maar sy kan dit nie plaas nie. Wat sy wel weet, is dat daar ’n onaangename gevoel by haar opkom.
“Ja?”
“Ralph Pienaar. Ek bel om jou te nooi om vanaand saam met my te gaan eet. Daar is iets wat ek met jou moet bespreek.”
Wragtig, Ralph Pienaar! Die rede vir die onaangenaamheid.
“Ek kan nie dink aan enigiets wat jy met my kan bespreek nie,” sê sy koud.
“Die tienduisend rand.”
“Dan moet jy dit mos liewers met Lientjie bespreek. Nie dat ek dink sy het enige begeerte om selfs dít met jou te bespreek nie.”
“Jy weet goed sy antwoord nie ’n telefoon as sy weet dis ek nie, of sy sit dit in my oor neer.” Sy stem het ’n klaerige toon gekry.
“Vanselfsprekend. Sy het jou vertrou en jy het haar in die rug gesteek.”
“Ou Willatjie, dis onnodig om sulke goed op te haal. Ek dink ek het ’n manier gevind om die tienduisend rand terug te kry. Ek wil jou in die saak ken, siende dat dit jy is wat die geld vir Lientjie geleen het.”
“Nou kry die geld en betaal dit terug aan Lientjie. Dan kan ons almal in vrede aangaan met ons lewens.”
“Daar is iets wat ek met jou moet bespreek. Jy het mos baie besigheidskennis. Kom eet nou vanaand saam met my, dan kan jy my raad gee.”
Sy is nie lus om ’n aand vir Ralph Pienaar op te offer nie, al kan dit die tienduisend rand waaroor Lientjie so sleg voel, terugbesorg. Buitendien vertrou sy hom nie. En ’n aand saam impliseer amper ’n soort intimiteit. Nee, as hy finansiële raad wil hê, kan hy dit oor ’n middagete kry.
“Ek kan nie vanaand nie, maar ek kan jou eenuur sien, net vir ’n halfuur, dis die langste wat ek etenstyd kan neem. Ons is baie besig. En verkieslik ’n plek naby my kantoor.”
“Ag, kom nou, Willa. Vanmiddag pas my nie. Kom ons maak dit vanaand.”
“Vanmiddag of glad nie, Ralph.”
“Oukei, oukei. Ek sien jou dan eenuur by Ranchez. Weet jy waar dit is?”
“Ja.” Sy sny die oproep af. Nie ’n restaurant daardie waarvan sy hou nie.
Vir ’n oomblik oorweeg sy dit om Lientjie te bel, maar nee, laat sy eers seker maak of daar wel hoop is om die geld terug te kry, dan kan sy met die goeie nuus na Lientjie gaan. En sy wil ook nie vir Lientjie ontstel nie, al sê sy sy is oor die man, veral nie terwyl sy by haar ouers is nie.
Die verhouding wat sy met Ralph gehad het, is ’n baie teer sakie.
Sy gaan aan met haar werk, maar haar gedagtes is kort-kort by Lientjie. En by hom, die Pienaar-man wat so ’n impak op Lientjie se lewe gehad het. Teen halfeen skakel sy haar rekenaar af. Sy kry in elk geval glad nie haar gedagtes by haar werk bepaal nie, sy kan netsowel nou al ry en sorg dat sy rustig by die restaurant aankom. Sy gaan al haar reserwes nodig hê om Ralph Pienaar te hanteer.
Op pad onthou sy weer die dag toe Lientjie vir Ralph Pienaar die eerste keer ontmoet het. Die feit dat hy saam met haar stiefsuster was, het hom onmiddellik in haar oë onaanvaarbaar gemaak, regverdig of nie. Want oor Melanie het sy lankal nie meer illusies gehad nie. En die blaam wat sy lank aan haarself toegedig het oor haar mislukte verhouding met haar stiefma en -suster, het met afstand en tyd en volwassenheid lankal verdwyn. Dit is vervang deur die seker wete dat hulle mense is wat gedy op fout in ander mense soek. En dat daar bitter min deernis teenoor ander mense in hulle is.
Die eerste maande nadat haar pa oorlede is, het sy nog steeds probeer kontak maak, maar moes later die boodskap kry dat hulle haar nie wil sien en ook nie van haar wil hoor nie. Haar stiefma, Miriam, was die enigste erfgenaam in haar pa se boedel, en Willa het gewonder of Miriam bang is sy betwis die testament. Nie dat daar so baie was nie, ’n huis, motor, ’n paar beleggings – polisse wat, as dit goed belê sou word, vir ’n goeie neseier kon sorg.
Oor die testament het sy haar pa nie kwalik geneem nie. Sy kon sy redenasie verstaan. Ten tye van sy dood was sy reeds in Johannesburg, besig om haar vir ’n beroep te bekwaam. Miriam het nooit ’n beroep gehad nie en het versorging nodig gehad. En natuurlik kon hy nie voorsien dat hy so gou te sterwe sou kom nie. Sy het húlle wel kwalik geneem omdat hulle niks aangebied het nie, nie eens ’n verwelkoming in die huis waar sy grootgeword het nie.
Jinne, Willa, verwens sy haarself toe sy by die parkeerarea van die restaurant indraai. Was dit nou nodig om weer op dié onthoupaadjie te loop? Dis net dat Ralph en Melanie onlosmaaklik in haar geheue gekoppel is: Dink sy aan die een, dan dink sy aan die ander. Hulle is in dieselfde geheuekassie gebêre.
’n Paar minute vroeg, gaan sit sy solank by die tafel wat Ralph bespreek het, haar gedagtes nog steeds by hom en die skade wat hy aangerig het.
Sy ruk soos sy skrik toe hy skielik langs haar staan. En sy word totaal onkant betrap toe hy afbuk en haar soen. Sy ruk haar kop weg. Wat de duiwel?
Ralph tree met ’n selfvoldane glimlag terug en gaan sit op die stoel oorkant haar: “Moenie kwaad wees nie, Willa,” sê hy terwyl sy haar mond openlik met ’n servet afvee. “Jy het so mooi gelyk, ek kon dit nie weerstaan nie.”
Twak. “Ek dink jy moet tot die punt kom, Ralph. Ek het nie baie tyd nie.”
“Laat ons net eers iets te ete kry.”
Willa bestel net ’n toebroodjie; sy wil so gou moontlik wegkom.
Ralph bly egter ontwykend oor die geld, ontwykend oor hoe hy dit gaan terugkry, belaglik oor die advies wat hy kamma wil hê, maar hy wíl weet hoe dit met Lientjie gaan, en of daar iemand anders in haar lewe is.
In ’n stadium neem hy Willa se hand en kyk in haar oë: “Ek is baie lief vir Lientjie, al wil jy dit nie glo nie.”
Toe sy haar hand onder syne wil uittrek, hou hy dit so styf dat sy seerkry. “Los my hand nou dadelik of ek maak ’n helse scene,” dreig sy afgemete. “Kyk, Ralph, ek weet nie wat jy met my wou bespreek nie, want jy het nog nie daarmee vorendag gekom nie, maar ek gaan nie langer tyd mors nie. Ek moet nou gaan.”
Toe sy langs die tafel staan: “Maar voor ek gaan, net dít: Lientjie het nie jou soort liefde nodig nie. Watter soort man het ’n vrou kastig lief en steel dan van haar?”
En toe hy wil protesteer: “Ek en jy weet dat dit die waarheid is.” Sy draai om om te loop.
“Wag, ek stap saam met jou,” keer hy dat haar alleen-uittog aandag trek.
By haar motor trek hy haar skielik teen hom vas.
Verwoed stamp sy hom weg. “Hou jou hande van my af, Ralph Pienaar!” Sy kan nie vinnig genoeg in haar motor kom en die deure sluit nie.
Sy ry terug na haar kantoor toe, en die hele tyd wonder sy wat die doel van die ontmoeting was. Wou hy net oor Lientjie uitvra?
Later, terug by haar woonstel, kry sy die hele episode steeds nie uit haar kop nie. Lientjie … hoe moet sy nie voel nie! En nou moet sy saamleef met die verkeerde besluite wat sy geneem het.
Miskien, bespiegel Willa nou, was die geld ’n geringe prys om te betaal vir die feit dat Lientjie gedwing is om met ander oë na Ralph te kyk, anders het hulle verhouding nog maande lank aangehou en het Lientjie dalk soveel seerder gekry.
Hoog tyd dat sy die man nou ook uit haar kop sit. Hy het reeds te veel skade berokken. Sy gee nie om oor die geld nie, laat hy dit hou. Solank nie sy of Lientjie ooit weer iets met hom te doen hoef te hê nie. Think happy thoughts, Willa.
Happy thoughts lei na net een gedagte: Nog net twee slapies, dan is Deon terug.
Hoe anders is hy nie: sterk, beskermend, en die ene lig en lag. Sy voel veilig by hom. Saterdagaand gee sy haar antwoord vir hom. Sy vertrou hom.