Читать книгу Rian - Rian van Heerden - Страница 5

1

Оглавление

HOE GAAN U DIE IDENTITEIT

VAN DIE AFRIKANER BESKERM?

Ek was ’n onmerkwaardige kind.

Dis nou as jy enigiemand behalwe my ma en my ouma Tinka sou vra. Ek was stil en teruggetrokke en my ma sou ge­reeld vertel hoe hulle net ’n hoop ou Huisgenote nodig gehad het om my te vermaak. Blykbaar sou ek net in die hoek sit en die tydskrifte opskeur. Niks merkwaardigs nie, sien? Geen invul van blokkiesraaisels op ouderdom twee of so nie.

Wat dalk wel merkwaardig was, was die feit dat my ma my geboorte oorleef het. Sy het op die (vir die sewentigs) gevorderde ouderdom van 37 besluit om ’n tweede kind hierdie wêreld in te bring en is deur bykans elke dokter gewaarsku dat dit uiters gevaarlik sou wees. Rona van Heerden, vasbeslote soos altyd, het haar egter aan niemand se advies gesteur nie en in die vroeë oggendure van 2 November 1973 is ek gebore.

Hierna was dit, soos die gesegde lui, touch and go met Rona wat eers heelwat later, en steeds kritiek, haar jongste vir die eerste keer gesien het. Sy vertel dat die son op my yl hare geval het met ’n silwer skynsel. Sy het onmiddellik gewonder of dit dalk te wyte was aan ’n tipe haarsproei wat sy in daardie stadium gebruik het. Dekades later sou sy weer oor daardie haar­sproei wonder.

’n Bietjie meer daaroor later!

O ja, hierdie gedeelte van boeke soos dié is gewoonlik die gedeelte wat ek persoonlik oorslaan. Ek is daarvan oortuig skrywers gebruik dit net om te voldoen aan die kwota van 60 000 woorde, want wie is dan nou werklik geïnteresseerd in die grootwordjare van enigiemand?

So, ek sal dit alles kort hou, met miskien net hier en daar ’n staaltjie wat my steeds bybly …

My pa se naam was Esli. Vreemd, ek weet. Dis ook my tweede naam en kom uit die Bybel. Soos enigiemand weet, is daar duisende name in die Bybel, maar om die een of ander rede het my oupa Van en ouma Tinka daardie naam raakgelees. Die naam Esli (in die nuwe vertaling “Hesli”) kom voor in die geslagsregister van Jesus (Luk 3:25). Dit het ek eers later agter­gekom. Vir lank het ek vas geglo Esli was een van die draers van die ark.

Waar kom “Rian” vandaan? Wel, die naam van my ouma aan moeders­kant was Rina en dit was in die jare toe hulle nie seker was of jy die babakamer pienk of blou moes verf nie. Ek neem aan almal wou vreeslik graag ’n dogtertjie gehad het en sy sou die naam Rina gekry het.

’n Dogtertjie het hulle toe nie gehad nie, maar hulle was halfpad reg!

Klein Rian was verslaaf aan boeke. Die gogga het dalk met daardie Huisgenote gebyt. Hy het in sy verbeelding saam met die Uile en die Hardy Boys rondgehang, en wie het dan nou werklike vriende nodig gehad as jy ’n verbeelding gehad het? Hy was vir ’n ruk baie mal oor rugby en het albums vol foto’s en uitknipsels versamel, grotendeels omdat hy ’n crush gehad het op Naas Botha en Danie Gerber.

Dit was egter iets wat hy vir homself gehou het, alhoewel sy pa baie tevrede was met sy lewendige belangstelling in enig­iets anders as boeke.

Ons het baie getrek. Ai, so tipies.

Ek het maar altyd aan die kinders by die nuwe skool vertel dat ons agter die skape aan getrek het, maar die eintlike rede was dat my pa maar gesukkel het om ’n werk as korttermynversekeringsmakelaar te behou. Hy was ’n alkoholis, maar die nice tipe wat nooit sy hand vir sy vrou of kinders gelig het nie. Ek blameer hom ook nie daarvoor nie. As ek sy geskie­de­nis gehad het, was ek beslis ook ’n alkoholis.

Jy sien, hy was in die motor toe sy jonger broer, Mardo, ver­ongeluk het en is deur sy ouers daarvoor die skuld gegee. Ek was byvoorbeeld by een middag toe ouma Tinka baie gefolterd vir hom gesê het: “Dit moes jy gewees het.”

Dit was egter nie nodig dat hulle hom blameer het nie, hy het dit self gedoen. Richelieu sou hom kortstondig van daardie aand laat vergeet.

Ek was in heelwat laerskole voordat ons in Randfontein beland het. Daar was twee laerskole in Vereeniging, een in Rus­tenburg, een in Lichtenburg, en uiteindelik het ons in ons avo-­groen huis in Randfontein ingetrek.

My pa was in daardie stadium weer werkloos met my ma wat (weer eens) die pot aan die kook moes hou. Esli het egter steeds elke dag aangetrek vir werk en die trein Johannesburg toe gevat, waar ek seker is hy maar die dag op ’n bankie in Joubertpark deurgebring het. Hy wou net nie gehad het ons moes weet dat hy al wéér sy werk verloor het nie.

My ma was toe werksaam by mnr. Hürkens, die Duitse eienaar van die Total in West Porges en het gereeld gesorg dat ou Hürkens vir ons ’n Yogi Sip in sy yskassie aanhou vir wanneer ons ná skool met ons BMX’e daar gestop het. Met “ons” verwys ek na my en my ouer broer (ook gedoop “Mardo”), wat nie eintlik tydens ons skoolloopbane met mekaar gepraat het nie. Soos broers of susters wat min in ouderdom verskil maar doen.

In elk geval, om ons inkomste aan te vul het my ma besluit om bedsokkies te begin hekel. Dit was dan my taak om hierdie bedsokkies by die plaaslike biblioteek te probeer smous. Dit was my eie idee aangesien ek baie tuis gevoel het tussen daardie honderde boeke. ’n Vreemde selfvertroue het oor my gespoel elke keer wanneer ek die koel gebou binnegestap het.

Kort voor lank was die bedsokkies ’n topverkoper (R5 son­der tossels en R5,50 met tossels) en kon ons ’n klein bietjie asemskep. Afgesien van die ekstra inkomste is ek ook gedwing om met vreemde mense te kommunikeer, wat my baie met my ontwikkeling gehelp het. Dit was broodnodig.

Ek vertel altyd vir mense, met my tipe geskiedenis was daar werklik net twee keuses: reeksmoordenaar of die vermaaklikheidsbedryf. Maar my bril het veral sosiaal teen my getel. Tydens die Randfontein-jare in die avo-groen huis was ek reeds vir drie jaar ’n brildraer. Ek het my eerste bril op nege gekry.

Die skoolsuster het ons skool kom besoek en wou by my weet wat die letters op die swartbord was.

“Watter letters?” het ek gevra.

“Hier op die swartbord,” sê sy.

“Watter swartbord?” vra ek.

Só kry ek toe my eerste bril en word daar en dan ’n nerd. En ek was nie eens so slim nie! Dit het my eenvoudig net dieper in my dop laat kruip en ek het uiteindelik my eie fantasie­wêrelde begin skep met my eie verhale wat ek begin skryf het.

So, daardie bedsokkies verkoop, het my op ’n manier gered.

My obsessie met boeke het my uiteindelik die titel “biblio­teekprefek” tydens my laaste jaar op laerskool besorg en ek onthou dat ek hierdie amp baie ernstig opgeneem het. Ons “bib-prefekte” is ook in hierdie jare gesekondeer om die be­langriker prefekte te help om pouses die skoolgrond van die Laerskool Rapportryer te patrolleer. Die jaar was 1986 en elke swart persoon wat té stadig verby die skool geloop het, was verdag. Veral as die “swarte” nie ’n overall gedra het nie, moes ons hom onmiddellik rapporteer.

Daar is ook van ons verwag om almal die verskillende tipes landmyne en handgranate te kon uitken. Net vir ingeval die ANC ons laerskool sou aanval, sien?

Dis veral daardie vrees wat die volwassenes by ons aan­gewakker het wat my altyd sal bybly. Nie net is ons op skool die hele tyd vertel dat die Kommuniste ons wil oorneem en uitmoor nie, maar ook in die kerk het bangmaakstories Son­dag ná Sondag op ons neergereën. Op ouderdom twaalf het ek byvoorbeeld ’n boekprys gewen omdat ek presies kon sê waar ’n spesifieke Bybelversie voorkom (ek was ’n toegewyde leser) en is deur die dominee beloon met die boek Wêreld-Oorlog 3.

I kid you not.

Ná ongeveer drie jaar in Randfontein het ons uiteindelik in 1987 Pretoria toe verhuis en hier is ek nog steeds, dertig jaar later.

Alhoewel ons geensins ryk was nie het my pa-hulle ons Hoërskool Waterkloof toe gestuur en ek onthou veral my bruin skoene in ’n skool waar net swart skoene gedra is. My pa het eenvoudig geweier om vir ons nuwe skoene te koop en was oortuig dat ’n goeie brand soos bruin Grasshoppers ’n waarborg vir skolastiese sukses was. Dit was nie.

Reg van die begin af, veral omdat ek van ’n vreemde laerskool gekom het, was dit net ek en my kosblik met peanut-butter-en-stroop-broodjies pouse op die speelgrond. En dit, liewe leser, is hoe ek op die verhoog beland het.

Daar was seker maar altyd iets wat my na die verhoog geroep het, maar my deelname aan daardie eerste redenaarskompetisie op dertien as standerdsessie was die gevolg van ’n harde gesprek wat ek met myself in die spieël gehad het: “So kan dit nie aangaan nie, Van Heerden!”

Ek het besef dat ek iets aan my selfvertroue sou moes doen en wat dan nou beter as om voor mense te praat? En daar was vreemd genoeg iets baie aanlokliks aan die idee dat mense vir ’n rukkie na jou móét luister …

Ek onthou dat ek uit drie deelnemers derde gekom het en dat my sertifikaat natgereën het toe ek ná die kompetisie na my pa se wagtende Renault gehardloop het. Dit het nie saak gemaak nie … ek het dit in elk geval geraam en bo my bed gehang.

Dit was die begin van alles.

Ek het nie net meer en meer geleenthede begin opsoek om voor mense te praat nie, maar ook die mag van humor begin besef. As jy snaaks is, is jy gewilder en kort voor lank was ek nie meer daardie alleenkind nie. My selfvertroue en vrien­de­kring het groter geword alhoewel ek steeds ver van so gewild soos die rugbyspelers was. Die groepe voor wie ek gepraat het, het groter en groter geword en uiteindelik het ek ’n toespraak op Republiekdag voor die hele skool gelewer. Ek was agter die podium, aan beide kante langs my was meisies uit my geskie­denisklas met Suid-Afrika se vlae van 1652 af tot 1991 en voor my was die hele skool op die pawiljoen. Al 1 600 van hulle.

Hemels!

Ek was verlief op die mikrofoon soos op ’n skoolcrush.

En ai, daai skoolcrushes … Nodeloos om te sê, het ek teen hierdie tyd lankal geweet dat ek meer van seuns as van mei­sies hou, maar was deeglik bewus dat dit nie vir die groter gemeenskap aanvaarbaar was nie. So het ek maar my twee crushes van ver af bewonder.

Ek moet ook hier byvoeg dat ek polities baie regs was in daardie stadium. Sterk orators het my gefassineer en die sterk­stes in hierdie jare was natuurlik Andries Treurnicht van die Konserwatiewe Party en Eugène Terre’Blanche van die AWB. My pa (self ’n regse) sou my gereeld saamneem na die vergaderings van een van hierdie twee organisasies in die stadsaal en ek sou verstom toekyk hoe hulle met die gesproke woord die skares kon opsweep.

Ná die vergaderings was daar altyd (koue) kerrie-en-rys buite te koop en ek onthou ’n keer toe AWB-lede die Oranje, blanje, blou wou verbrand, maar nêrens ’n aansteker kon kry nie. My pa, mid-sigaret, wou nie help nie …

Regs was ek regs. Ek het selfs in matriek ’n AWB-kenteken onder my leerlingraad-balkie begin dra en van my mederegses met ’n Eugène-saluut gegroet as ek hulle tussen klasse raakgeloop het. Daar was selfs ’n keer dat my Engels-onder­wy­seres my die klas verbied het as ek nie my kenteken verwyder nie. Waarna ek eenvoudig ’n hele periode buite die klas gesit het.

Tydens ’n nagwedloop een aand het ek met ’n Vierkleur om die baan gehardloop en, ja, selfs die Vierkleur voor die skool gehys. Die skool het eers baie later agtergekom dat die vlag voor die administratiewe blok wapper. Ek dink dit was ná ’n paar oproepe van verbygangers.

Ek was regs, ja, maar dit het my direk na FW gelei.

Dit is nie nodig hier om die geskiedenis te herhaal nie. FW de Klerk het staatspresident geword, sy toespraak in 1990 gemaak en Nelson Mandela was ’n vry man. Die land was, nodeloos om te sê, in rep en roer en veral in Pretoria was daar heelwat aksie. In hierdie tyd (ons het in Moreletapark gewoon in ’n huis sonder ’n garage) sit ek een middag op my bed besig om my wiskundehuiswerk te doen toe die foon lui. My ma was besig om te stryk en het die oproep beantwoord.

“Rian! Daar’s foon vir jou!”

Die man aan die ander kant van die lyn het blykbaar reeds heelwat inligting oor my gehad. Hy het homself voorgestel as ’n regisseur van die televisieprogram Agenda en vertel dat hulle ’n program beoog waarin sekere jeugdiges vrae kon stel aan die president. Die idee was om jeugdige verteenwoordigers van die belangrikste politieke partye te kry. Blykbaar was daar reeds iemand van SASCO (namens die ANC), ’n IVP-ver­teen­woordiger, ’n NP-meisie en ek.

En soos jy seker kan raai, het ek die KP (en seker ook die regses) verteenwoordig, alhoewel ek in daardie stadium nie amptelik aan enige politieke party behoort het nie. Maar die stories oor die Vierkleur en die AWB-kenteken het geloop, sien?

Almal was vreeslik opgewonde oor my afspraak met FW. My ma het vir almal by die haarsalon en by die kleuterskool waar sy onderwyseres was, vertel, terwyl my pa veral geïnteresseerd was in watter vrae ek sou vra. By die skool het die skoolhoof dit een middag oor die interkom afgekondig terwyl ek in die einste Engelse klas gesit het waaruit ek kortstondig verban is.

Rian met die bruin skoene was nou in ’n ander liga. ’n Pre­sidensiële liga. En net 17 jaar oud.

Ek het lank getob oor wat ek moes vra en toe besluit dat ek hierdie volksverraaier sommer met my eerste vraag sou uitboul. Ek het dit ingeoefen, my skoolbaadjie laat droogskoonmaak en my hare spesiaal laat sny. ’n Bussie het ons paar kom oppik om eers ’n draai te gaan maak by die SAUK in Auck­land Park waar ons op ’n toer deur die Agenda-ateljee geneem is.

Ek onthou veral twee dinge van daardie eerste stop: Eers­tens was daar basies geen gesprekvoering tussen ons tieners nie weens die wantroue wat in daardie stadium geheers het, en tweedens het ons Freek Robinson ontmoet toe die hysbakdeure op die Agenda-vloer oopgaan. Ek was oorstelp!

Hy was as bekende televisie-aanbieder my eerste celebrity wat ek in lewende lywe ontmoet het en die naaste wat ons gesin ooit aan bekendes kon kom met die uitsondering van my pa wat ’n jaar tevore vir David Kramer op die lughawe gesien het. O ja, en daar was ’n outjie saam met my in stan­derd 1 wat eenkeer sy witrot na die Wielie Walie-speelkamer gevat het vir show and tell … Maar dit was basies dit.

Freek het gegroet en net die NP-meisie het gereageer. Ons ander kon óf nie groet nie óf wou nie. By die Agenda-ateljee het nog ’n verrassing gewag, die bekende joernalis Clarence Keyter sou die program lei! Ek dink dit was dalk ingeval een van ons sou vries – Clarence kon mos iets kry om oor te praat, al het jy lankal oor die weer gepraat.

(Hy het dit mos teen daardie tyd al bewys met sy dekking van Madiba se vrylating, wat ure gevat het. Clarence was mos besig om te gesels oor die dieper betekenis van ’n lekkende kraan toe Madiba uiteindelik deur daardie Victor Verster-hekke stap.)

Uiteindelik het die bussie weer vertrek en voor die presiden­siële gastehuis stilgehou. Ek was nogals teleurgesteld, ek dog die gesprek sou in sy kantoor in die Uniegebou plaasvind, daar waar die setel van alle mag na my wete was. Maar nou ja, die gastehuis was netjies genoeg (ligjare weg van avo-groen huise) en ’n impromptu atlejee is in die pragtige tuin opgestel. Daar sou ons wag op die president.

Soos ek nou terugdink, weet ek nie presies wat ek verwag het nie. Dalk trompetgeskal met sy aankoms of ’n marsjerende peloton wagte wat hom vooruitloop. Maar skielik was hy daar, sonder fanfare. ’n Blesserige oom in ’n kerkpak en baie korter as wat ek verwag het. Wat hom nog meer menslik gemaak het, was sy soektog na ’n lighter in sy binnesakke om sy sigaret aan te steek.

Ons is voorgestel en het met FW bladgeskud (ek dink die NP-meisie het gecurtsy) en is gevra om ons plekke in te neem.

Die NP-meisie was eerste aan die beurt, as ek reg onthou, en het iets gevra soos: “Is dit nie moeilik om so amazing te wees nie?” Of so iets. Ek het nie regtig aandag geskenk nie. Ek was te besig om my vraag oor en oor in my kop te oefen.

Uiteindelik (na heelwat Nasionale Party-bla-bla-bla) het Cla­rence in my rigting geknik: “Het jy ’n vraag vir mnr. De Klerk?”

FW het vol selfvertroue na my gekyk. Hy was die president en ek was maar ’n hoërskoolleerling. Ek sou hom wys! Toe trek ek los: “Meneer De Klerk, hoe gaan u die identiteit van die Afrikaner beskerm as u beplan om ontslae te raak van ons vlag en ons volkslied?”

Hy het geglimlag en geantwoord: “Dit lyk vir my jy is die slagoffer van propaganda.”

Hierna het hy oorgeslaan na ’n antwoord vol geprop met propaganda. Ek was onmiddellik vies. Hoe durf hy? Ek het self aan daardie vraag gedink! Ek het teëgestribbel oor hoe ek bloot my vrese uitspreek as bekommerde jong Afrikaner en begin vra oor kultuurgebonde onderwys. Skielik het Clarence ingespring en aangekondig dat dit tyd is vir ’n advertensiebreek.

En dit was tydens hierdie onderbreking dat my mikrofoon weggeneem is.

Dit was die einde van my geleentheid om te probeer debatteer met FW. Vir die res van die program moes ek maar na die ander se vrae en antwoorde luister.

Die produksiespan het ons darem hierna vir ’n gratis ete by die Meat & Eat in Hatfield geneem. Miskien het ek toe al ’n verdere renons in stilbly begin kry, iets wat ek uiteindelik begin verafsku het.

Kort ná die program uitgesaai is, het ek ook my eerste klagtes gekry. Ons was in die kombuis van ons huis (ons derde huis in Elarduspark, Pretoria) toe my pa die koerant van die dag te voorskyn bring en my die briewekolom wys. En daar was dit, swart op wit: “Wie dink hierdie snotkop is hy om so sonder respek met die president te praat?”

Dit sou die begin wees van nie net ’n loopbaan in televisie en radio nie, maar dit was ook ’n voorsmakie van hoe genadeloos die publiek kan wees.

Al is jy 17 jaar oud en bekommerd oor jou toekoms.

Rian

Подняться наверх