Читать книгу Rian - Rian van Heerden - Страница 6

2

Оглавление

HOE SKENK KRIMPVARKIES

GEBOORTE?

In die begin van 1992 het ek by die Universiteit van Pre­to­ria aangemeld om te begin met my regstudie. Hoekom regte?

Wel, soos jy seker al begin agterkom het, het ek ’n voorliefde vir die politiek begin ontwikkel, en ek het vasgestel dat be­kende politici (van Madiba tot FW) almal eers gaan regte swot het. So, blykbaar was dit ’n sine qua non (sien, ek onthou nog ’n bietjie van my Regslatyn!) vir ’n loopbaan in die politiek. Dit was my uiteindelike doel, my eie party waarmee ek kon veg vir die voortbestaan van die Afrikaner wat ek in daardie stadium steeds gesien het as die uitverkore volk. Ek sou die HAP begin. Die Handhawing van die Afrikaner Party. Dit het my ontgaan dat die akroniem nogals baie na aan die groot budjieboer Jaap Marais se baie konserwatiewe HNP was.

Twee weke ná my aankoms op kampus het ek ’n toespraak op die grasperk voor die Geestesweerbaarheid-gebou (GW) gelewer. Dit was ’n kort toespraak maar vurig. My plan was dat dit ’n tipe bekendstelling sou wees van die HAP. ’n Tipe hap van HAP.

Ek het aangedring op ’n volkstaat en volkseie onderwys en beperkte politieke regte vir die ANC. ’n Groepie geamuseerde Asterhof-koshuismeisies en vier duiwe het my toespraak aanvanklik aangehoor, maar kort voor lank was dit net een duif en ’n leë pizzaboks.

Ek het besef dat daar ander maniere gevind sou moes word om gehoor te word. Ironies genoeg, op dieselfde dag, het ek my stokou Mini in Duxburystraat aan die kant van ’n ou huis geparkeer. Gewond maar onoorwonne ná my toespraak was ek op pad terug na my motortjie toe ek vir die eerste keer behoorlik die bord voor die ou huis raaksien: Radio Tuks.

In my kop het allerhande sinapse begin vuur. Dit was mos nou perfek! Wat is dan nou ’n beter medium as radio om HAP se boodskap te versprei? Ek het links op die sypaadjie gedraai en die ou huis ingegaan. Daar was ’n gang met ’n toe deur aan die linkerkant en ’n sekuriteitshek aan die punt. Aan die een kant van die muur was ’n kennisgewingbord met ’n paar A4’s daarteen vasgekram. Die meeste het dieselfde boodskap verkondig: “Radio Tuks soek nuwe lede! Omroepers, nuuslesers, verkoopspersone of miskien weet jy iets van tegnies af!”

Ek kon my geluk nie glo nie. Omroepers! Met my stem sou hulle mos nie ’n keuse hê nie, hulle sou my moes aanstel. Om­roepers klink soos Eon de Vos en wraggies, ek het! En dan sou die HAP sy stem behoorlik laat hoor! Daar was ’n boks met aansoekvorms op ’n mankolieke tafel en ek het onmiddellik een ingevul en dit vir hierdie gelukkige radiostasie daar gelaat.

Dit het my nie eens gepla toe die fokken Mini kort hierna nie onmiddellik wou start nie.

Kort voor lank het Radio Tuks my inderdaad gekontak. Ek probeer nog steeds onthou hoe, want ons het natuurlik nie selfone gehad nie. Ek neem aan ek was seker maar die een wat gaan vra het of ek nou die joppie het of nie. Hulle was erg geïnteresseerd in my. Oor die stem, jy sien?

Nie lank daarna nie moes ek vir ’n stemtoets gaan en het Duncan Pollock (omroeperbestuurder) my getoets. Ek moes Michael Jackson se “Black or White” aankondig en het dit so na as moontlik aan Eon de Vos se styl probeer doen. Ek is aangestel as omroeper. Oor die stem, jy sien?

Ek dink baie terug aan hoe daardie aanstelling my lewe totaal en al verander het. As lid van ’n diverse en dinamiese groepie misfits het ek my ware self gevind. Miskien was FW reg, mis­kien was ek die slagoffer van propaganda waarvan ek nie eens geweet het nie. Al wat ek vir jou vandag kan sê, is dat ek stadig maar seker begin verander het.

Hierdie lieflike lot mense was vrydenkers, hulle was individue, hulle was opinionated en skaamteloos, hulle het gedrink en gerook en soms heel skape op die spit gesit. Tussendeur het hulle ongelooflike radio gemaak. Hulle het name gehad soos Smiddie en Witblitz, The Fury en The Doctor. Hulle het my gewys dat dit fine is om te verskil van ander. Dat diversiteit inderdaad die ware spesery van die lewe is. Hulle het my help grootmaak.

Toe ek uiteindelik toegelaat is om my eie program aan te bied, was ek alreeds anders. Ek het besef dat ’n DJ (nie “omroeper” nie) nie soos iemand anders moet klink nie. Hy moet soos homself klink.

Steeds het ek gesukkel. Afrikaans was nie cool nie, in Afri­kaans het jy as DJ nie Metallica, Green Day of Nirvana aangekondig nie, dit was Cora Marie of Bles Bridges. Die name van die liedjies het vreemd van my tong afgerol, so tussen die tyd­aankondigings en weerberigte deur. Ek was ’n totale groentjie, totaal onkundig en totaal uit my diepte.

Ons sou iets nuuts moes skep …

Vir langer as ’n jaar het ek uitgesaai vir koshuiseetsale. Dit was Radio Tuks se grootste gehoor aangesien FM steeds net bestem was vir die uitgelese stasies wat óf steeds deel was van die SAUK óf voorheen deel was. Ons het landlyne gehad en dit was dit. In die koshuise was dus versterkers wat aange­skakel moes word deur die studente anders was ons gehoor beperk tot die paar besoekers wat ons in die radiostasie se sitkamer gekry het. En, ja, die studente het gereeld vergeet om Radio Tuks aan te skakel.

Vir langer as ’n jaar het ek dus eintlik net geoefen om ’n DJ te wees. En toe, in Februarie van 1993 kry ek uiteindelik die geleentheid. Ons is ’n tweeweke-lisensie gegun om op FM uit te saai! Ek onthou dat daar ’n ou beige telefoon in die ateljee was met ’n rooi liggie wat sou aandui as iemand die ateljee skakel en ons sou vir die ding staar soos nuwe sekuriteits­wagte vir ’n kluis.

’n Inbeller het beteken iemand luister! Ons sou ook elke op­roep met absolute waardigheid hanteer en selfs soms (soos in my geval) lang gesprekke aanknoop oor vakkeuses en die stand van die land. Ons het ook ’n paar prominente gaste in hierdie tyd gehad. Ek het byvoorbeeld die voorreg gehad om ’n onder­houd te voer met die legendariese Anton Goosen. Die enigste probleem was dat ons net een liedjie van Anton in die radiostasie gehad het.

“Boude.” En dit was op ’n gekrapte kortspeler! Ja, kinders, daar was nie sulke goed soos MP3’s en downloading en so nie. Alles was op plate en tapes met net enkele CD’s in die platebiblioteek beskikbaar. Ek moes natuurlik darem ietsie van Anton speel tydens ons onderhoud en vat toe maar ’n kans met “Boude”.

Só trek daai liedjie toe weg: “Boude … lekker … lekker … lek­ker … lekker … lekker … lekker … ” Die plaat het vasgehaak. Sommer reg in die begin en ek moes sonder dat my gas dit agterkom die platespeler van onder ’n stamp met die knie probeer gee. Gelukkig het dit gewerk!

Die gogga het gebyt. Politiek het tweede viool begin speel teen die uitvindsel van Marconi en ek was hopeloos verlief op die medium. Ons almal wat vir die eerste keer op die lug kon uitsaai, het opgesien teen daardie Sondag 14 Februarie 1993 wanneer ons kortstondige lisensie tot ’n einde sou kom.

Daar is besluit dat die laaste program ’n Valentynsprogram sou wees en dat ek en Gideon Fourie (The Fury) dit sou aanbied. Luisteraars kon inbel met hulle Valentynsboodskappe – en het hulle ingebel! Nie net die ateljeenommer nie, maar elke foon in die plek het gelui en ’n aktuariële student in die nuus­komitee het bereken dat 25 000 studente besig was om na ons te luister. Ons was in ekstase. 25 000!

Om te dink dat ’n radiostasie soos Jacaranda FM tans rond­om 1 400 000 luisteraars het!

Maar toe was dit tyd om die sender af te skakel. Met die horlosie wat nader aan 24:00 beweeg daardie Sondagaand het ek en Gideon besluit dat ons laaste song Boys 2 Men se “End of the Road” sou wees. Terwyl dié destydse treffer klaar speel, het ons en ons medespanlede met trane in die oë binne en buite die ateljee gesit. Die droom was byna aan sy einde.

“So we’ve come, to the end of the road … Still I can’t let go … ”

Boys 2 Men se laaste klanke het in die eter weggedryf en Gideon het ’n laaste klingel gespeel: “You’re listening to Radio Tuks … Tuks … Tuks … ”

En dit was dit. Twee weke van great musiek, gesprekke, pret en spangees was verby. Ek het nog ’n paar trane gestort in die Mini op pad terug na my woonstel in Hatfield.

Maar teen Augustus was Radio Tuks weer terug op die lug, van 2 tot 15 Augustus, om saam te val met die Tuks-RAU-Intervarsity en ek het weer die 10:00–13:00-program op weeksdae aangebied. As jy na die koerantfoto kyk waar hierdie blye nuus in die Pretoria News aangekondig word, sien jy my met ’n oop bek glimlag wat groot genoeg is om die hele mikrofoon in te sluk.

Ons kon eenvoudig nie wag nie. Dit was ook in hierdie tyd dat ek vriende geword het met Ian van Wyk, of “Witblitz” soos hy op die lug bekend gestaan het. Ian se pa was die dekaan van Lettere en Wysbegeerte by die universiteit en nogals ’n ver­name man op kampus.

Een aand het ek tydens Witblitz se show vir hom gaan kuier en het verveeld in die sitkamer rondgesit terwyl hy besig was met een of ander treffersparade. In ’n stadium het hy die sitkamer ingestap gekom en my gevra om in die ateljee by hom te kom sit en sommer ’n bietjie op die lug te gesels. Ek was verveeld genoeg om dit te doen, maar besluit toe om eerder ’n skuilnaam te gebruik. Ek het gedink dit kan net belaglik klink as die ou van die laatoggendgleuf skielik ook in die aand sy verskyning maak!

Dit is hoe Huigel met Hassim begin het. Ek het agter die mikrofoon gaan sit en aangekondig dat my naam “Hassim” is en dat hierdie geselsie met my bekend sal staan as “Huigel met Hassim”.

Waaroor het ons daardie eerste aand gesels? Wel, kom ons stel dit so, dis ongelooflik hoeveel mag daar agter ’n skuilnaam skuil! Ek het (aangehits deur Witblitz) vinnig nader aan die grense begin beweeg – en daar was baie van hulle!

Daardie eerste aand het ons om die een of ander rede oor ou tannies gesels en ek wou verwys na die ouer langbeenhaar-­vrouebrigade wat ek keer op keer in Randfontein se OK raakgeloop het. Ek kon net nie op die naam van die bekende pienk skeermes kom wat so gewild was onder die dames nie. Toe glip dit uit: “Ou tannies gebruik nie Lil-let’s nie!”

Witblitz het letterlik van sy stoel afgeval. Hy was op die grond. Die arme man kon skaars ophou lag om die volgende plaat te draai.

Binne dae was “Huigel met Hassim” ’n voltreffer. Veral onder skoolkinders! Ons is meegedeel dat skoolkinders dit in die aand opneem en dan die volgende dag onder mekaar sou versprei. Jy sien, in daardie stadium was ons temas ongehoord (letterlik en figuurlik) op radio. Veral in Afrikaans.

Ons het byvoorbeeld ’n hele program afgestaan aan hoe moei­lik dit moet wees vir ’n krimpvarkie om geboorte te skenk!

Ek onthou ook nou skielik een aand toe ons besluit het om oor masturbasie te praat. Dit was een woord wat nie een van ons tot in daardie stadium op radio gehoor het nie en ons was nie seker of hulle die sender sou kom afsit as ons dit durf noem nie. Toe breek ons dit maar op in lettergrepe! Ons het ’n derde DJ (Die Man met die Pyp) in die ateljee ingebring sonder om hom volledig in te lig oor wat ons beplan om te doen.

En toe trek Witblitz weg: “Vanaand chat ons bietjie oor Mas-.” Ek het volgende ingespring met: “-Tur.” Ons het bloot na die Man met die Pyp gestaar, wat toe fronsend byvoeg: “-Basie?”

Ai, het ons pret gehad!

Tot een aand toe ons oor konserwatiewe dominees begin gesels. Ek noem dit toe dat dit meer gereeld gebeur as wat ’n mens sou verwag dat die koster die kerkklokke lui en die dominee die koster se klokke.

Kort ná hierdie opmerking (ek dink dit was twee liedjies later) het ’n kombi reg voor die ateljee gestop. Op die kant was “KruisJool” in groot letters geskryf. KruisJool was natuurlik die groepie studente wat gevoel het hulle Christelike beginsels verhinder hulle om aan die gewone Jool deel te neem. Net ingeval een van hulle dronk of swanger word of so.

In elk geval, ’n hele paar manlike lede van KruisJool het uit die kombi getuimel en almal was gewapen met van gholfstokke tot krieketkolwe. Dit was duidelik dat hulle hoogs ontstoke was oor die dominee-opmerking en die eer van die Kerk wou kom verdedig.

Witblitz het my een kyk gegee: “Gaan sort hierdie uit. Ek kan nie nou nie, ek moet ’n radioshow aanbied.”

Ek het in elk geval besef dat ek moes pa staan vir wat ek gesê het en het met ’n bewende broek die ateljee uitgestap om hierdie Gideonsbende in die gang te gaan inwag. En was hulle opgewerk! Die voorste een het ’n lekker Hebreeuse baard gehad en het onmiddellik aangedring op ’n verduideliking met sy kneukels wat wit geword het om sy hokkiestok. En net daar, half binne die sitkamer en half binne die gang van Radio Tuks, het ek agtergekom wat my ware talent is: Ek kan situasies baie vinnig ontlont.

Met die regte woorde.

Ons het almal in die sitkamer gaan sit en ek het verduidelik hoe die ware Boodskap so maklik verswelg kan word deur die Fariseërs en dat my probeem nie is met die Christelike geloof nie, maar met eng dominees wat die geloof onaantreklik kan maak vir die massas. Soos daardie spul wat sê ons kan nie na rockmusiek luister nie, want dis Satanisties. Ek het daardie laaste enetjie ingegooi omdat ek geweet het dat hulle ons musiek geniet. Hulle het tog na Radio Tuks geluister, of hoe? Die groepie was konserwatief, maar ook te vinde vir ’n bietjie Bon Jovi nou en dan.

Ek het vir hulle elkeen ’n glasie van die flat Sprite aangebied wat iemand in die yskas vergeet het en kort voor lank was ons groot vriende. Hulle is daar weg as nuwe aanhangers van “Huigel met Hassim”.

Ná nog ’n paar lekker kontroversiële episodes het ons program egter kort hierna gesneuwel. Soos genoem, was Witblitz se pa ’n dekaan op kampus en Hassim het begin om hom sleg te laat lyk. Hy het sy seun versoek om die program te staak.

Andersins was my ander radioprogramme in hierdie tyd lammetjiemak. Klagtes was daar nie. Ek het behalwe my laatnag-avonture gefokus op my studie as regstudent en my take as omroepershoof (glo dit of nie).

Dit was ook in hierdie kapasiteit dat ons die eerste swart student as omroeper aangestel het. Sy naam was Mashilo Bopape en met net enkele swart studente op kampus was sy teenwoordigheid op die lug ’n vars briesie. My politieke ommeswaai het egter reeds die vorige jaar begin tydens die 1992-­referendum. Dit was die eerste keer dat ek oor enigiets kon stem en ek het nogals gewroeg of ek my kruisie langs die “Ja” (vir voortgesette onderhandelings) of die “Nee” moes trek. Jy moet onthou dat ek in hierdie stadium steeds regse vergaderings in die stadsaal bygewoon het, alhoewel die boodskap nie meer so diep ingesink het nie.

Ek onthou byvoorbeeld ’n aand toe ek ons liberale Radio Tuks-programbestuurder saam met my na ’n AWB-verga­dering gesleep het. Dit was winter en hy het ’n lang jas aangehad. Ná die vergadering het ons buite die stadsaal rondgestaan toe Eugène Terre’Blanche uitgestap kom, gaan staan en vir die programbestuurder sê: “Jong man, jy lyk vir my soos ’n kunste­naar.”

Dit was basies al wat ek weke ná die vergadering kon ont­hou en oor gepraat het. Die toesprake was toe alreeds net ’n spul onsinnige woorde vir my.

Om op die universiteitskampus te wees en met oopkop-mede-studente en regsdosente soos Johan van der Westhuizen en Frans Viljoen te doen te kry, het my begrip van geregtigheid beslis beïnvloed. Maar dit was meer as dit, my logika kon geen ander opsie vind as ’n ware demokrasie nie.

Ek het egter steeds soos ’n verraaier gevoel toe ek my kruisie op 17 Maart 1992 langs “Ja” trek. Maar my persoonlike kentering was toe al in volle gang. Dit het natuurlik ’n rukkie geneem. Ek was byvoorbeeld heeltemal te emosioneel om ’n radioprogram aan te bied toe ons verneem van die afsterwe van die leier van die KP, Andries Treurnicht, op 22 April 1993. Ek het iemand gekry om vir my in te staan en teruggegaan woonstel toe waar ek ’n paar trane oor oorlede Doktor gestort het. En, ja, ek het die hele begrafnis op televisie gevolg, ek ont­hou selfs wat tannie Engela, sy weduwee, langs die graf aan­gehad het.

Radio Tuks het my in baie opsigte gered. Nie net het die radiostasie gehelp om my denke te verbreed nie, maar dit het vir my ’n loopbaan gegee.

Ek sou uiteindelik regdeur my universiteitsloopbaan daar werksaam wees, alhoewel ek self uiteindelik (ná ons toetrede tot FM) na die aandgleuf geskuif het. My dae was nogals besig, om die minste te sê, met tydelike werk as bankklerk, klasse en ’n naweekjoppie in ’n videowinkel wat baie van my tyd opgeslurp het. Maar ek kon steeds nie wag om daardie twee aande per week (Donderdag- en Sondagaande tussen 21:00 en 24:00) agter die mikrofoon in te skuif nie. Uiteindelik het ek voltyds met my articles by ’n regsfirma begin, maar steeds ná my laaste aandklas gejaag om betyds te wees vir daardie paar uur op die lug.

Veral die Sondagaandprogram was uiteindelik nogal baie gewild en veral een insetsel, “Ant Souf se Doepa”, het baie aftrek gekry. Ek sou elke Sondagaand een of ander kwaal kies en dan boererate met die luisteraars deel. Nodeloos om te sê, klink die ou rate vandag baie komies. Byvoorbeeld raat teen sproete:

1 Melk ’n perd en was die gesig daarmee, laat dit droog word, en dan kan dit weer afgewas word.

2 Kap ’n paar dassterte af, sit dit in ’n blikkie, bedek met versterkwater, begraaf aan die oostekant van die huis vir drie weke. Smeer dit aan die sproete.

Ek weet steeds nie wie die weeklikse rate meer geniet het nie, ek of die luisteraars. Kort voor lank het ek selfs bewonderaars begin kry met twee outjies wat vir my ’n hele boek oor boe­rerate by die ateljee gelos het. Ek deel graag die briefie wat hulle voorin vir my geskryf het:

Jy is die snaaksste persoon in die hele wye wêreld. Moet asb nooit ophou om ’n platejoggie te wees nie. My Ouma Martie stuur hierdie boererate boek vir jou. Ek hoop jy sal dit handig kan gebruik. Soos sy altyd gesê het: “’n Voël in die hand is beter as tien in die lug.” Nou ja. Hou die blink kant bo. Jou twee grootste bewonderaars: Kaspernikoph (Emile) en Poepenoende (John).”

Wow! Ek was so gelukkig dat ek ook uiteindelik bewonderaars gehad het. En, ja, ek het hierdie briefie al die jare gehou.

Wou ek nog enigsins in daardie stadium ’n prokureur of poli­tikus word?

Ek was beslis minder entoesiasties en het maar bloot elke dag by die regsfirma opgedaag omdat my twee jaar prakties nodig was om te kwalifiseer as prokureur. Die probleem was egter om ’n werk by ’n radiostasie te kry en met my tipe styl was ek oortuig dat só ’n pos my nie beskore was nie. Nie­mand op radio het soos ek geklink nie, met dalk die uitsonde­ring van ’n paar DJ’s by 5FM. En hulle was almal Engels.

Ek het nie eens Jacaranda FM oorweeg nie. Hulle het heeltemal té konserwatief geklink en was mos ’n stasie waarna die ouer garde geluister het, of hoe? Dit was inderdaad ’n dilemma, veral nadat ek een aand ’n luisteraar buite die GW-gebou raak­geloop het. Hy wou weet of ek daai Rian van die Sondag­aandprogram was.

Nou moet jy verstaan dat alhoewel die show nie vreeslik kontroversieel was nie, was ek steeds maar lugtig dat mense weet hoe ek lyk. Die rede hiervoor was baie eenvoudig: As mense weet hoe jy lyk, raak dit moeiliker om in ’n plek ’n waarnemer te wees en later oor die lug daaroor te praat. In elk geval, ek het dit eers ontken, maar soos ek gepraat het, het die student se gesig begin ophelder: “Dit ís jy!”

Ek het toe maar erken dis ek, en is tot vandag toe bly. Want ná sy storie klaar was, het ek geen twyfel meer gehad oor wat my grootste passie in my lewe sou wees nie. Hy het vertel hoe hy ’n meisie ontmoet het en dat hulle iets gemeen gehad het: Albei was lojale luisteraars van my program. Hy het in ’n stadium gevra dat ek ’n liedjie vir haar speel en dat ek toe sy versoek uitgesaai het. Hy het my vas in die oë gekyk: “Ek het daardie boodskap en die song van die radio af getape. En ons het die dansbaan op ons troue daarmee geopen.”

Ek was sprakeloos. Ek kon ’n “dankie vir die luister” uitstot­ter en toe is hy weg, die herfsaand in. Ek raak nog steeds emosioneel as ek mense hierdie storie vertel. My oomblik van weet sonder twyfel …

Maar hoe ’n loopbaan daarvan maak? En waar?

Wat ek tóé nie geweet het nie was dat die nimlike akteur Frank Opperman ook na my program geluister het. En dit sou Frank wees wat my loopbaan in die vermaaklikheids­bedryf laat begin het.

Rian

Подняться наверх