Читать книгу Rian - Rian van Heerden - Страница 7

3

Оглавление

HOE PIEPIE BEDOËIEN-

VROUE?

Miskien moet ek nou eers iets meer sê oor my tyd by die regsfirma.

Om die twee jaar verpligte articles te doen (die regte Afri­kaanse woord is glo “leerkontrak”) het ek by Jasper van der West­huizen, Prinsloo en Bodenstein beland, met die formidabele Van der Westhuizen as my prinsipaal. Alhoewel Jasper meer van die reg af geweet het as enigeen wat ek al ooit teëgekom het, kon ek myself steeds ná twee jaar nie as ’n prokureur sien nie.

Dit was rondom hierdie tyd (1997) dat ek gevra is om een aand die besturende direkteur van ’n beplande splinternuwe radiostasie te ontmoet. Ek onthou hierdie dinamiese man was heeltemal in swart geklee en dat ons in tydelike kantore iewers in Hatfield gesels het. Hy het homself voorgestel as André Potgieter.

Hy’t vertel dat hy in ’n stadium ’n pastoor was, maar het ook by ander projekte betrokke geraak. Soos die eerste Houtstok-musiekfees, wat hy gereël het. Houtstok was ’n tipe voorganger van Oppikoppi en is in die vroeë negentigs buite Pretoria aan­gebied. Derduisende mense het dit bygewoon.

Ek het onmiddellik van André gehou. Hy was ongelooflik passievol oor die nuwe radiostasie van hom en duidelik ’n man wat grense wou verskuif. Die nuwe mededinger op die luggolwe sou Punt Geselsradio heet en al was dit op mediumgolf was André oortuig dit sou binnekort een van die grootste Afri­kaanse radiostasies in die land wees.

Die idee was dat Afrikaanse mense uiteindelik ongesensor sou kon gesels oor enigiets van seks tot hulle ware gevoelens oor die veranderinge in die land, met die land se top- Afri­kaanse aanbieders. André was ongelooflik oopkop en het nie net ’n baie diverse span bymekaargekry nie (wit, swart en bruin), maar hy’t ook vir my ’n program op ’n Saterdagaand aangebied waar ek sou kon “sê of doen net wat ek wou”.

Ek het hom gevra hoe hy dan by my uitgekom het.

“Ken jy vir Frank Opperman?” wou hy weet. Natuurlik. Frank was ná televisiereekse soos Orkney snork nie en The Big Time een van die bekendste persoonlikhede in die land.

“Wel, Frank luister gereeld na jou program en hy het daarop aangedring dat ek jou moet aanstel!”

Dit was ’n ongelooflike kompliment vir my, want nes dui­sende ander was ek ook ’n aanhanger van Ouboet! Tot vandag toe is ons vriende en ek gee steeds die krediet vir die begin van my loopbaan aan hierdie veelsydige en hoogs vermaaklike akteur.

Uiteindelik sou André vir my drie programme aanbied: ’n Dinsdagaand- aktuele program tussen 21:00 en 24:00, ’n Woens­dagaand-debatprogram tussen 22:00 en 24:00 en daardie Sater­dagaand-program tussen 22:00 en 24:00 waar ek kon “sê of doen net wat ek wou”.

Solank dit komies was!

Natuurlik het ek ingestem en alhoewel ek my luisteraars by Radio Tuks moes groet, sou ek steeds aanhou werk by die regs­firma omdat Punt se betaling maar skraps was (R170 per uur).

André het geen onkoste ontsien om pragtige ateljees in Gau­teng en Kaapstad te vestig nie. Die idee was dat die meeste programme deur twee aanbieders aangebied word met een wat sou uitsaai vanaf ateljees by Gallagher Estate in Midrand en die ander vanaf ateljees net buite die Kaapse Waterfront.

Groot name is aangekondig as die splinternuwe stemme van Punt Geselsradio. Ek was baie beïndruk dat ek my in die geledere sou bevind van mense soos Susan Booyens, Solly Philander, Alvin Bruinders, David Rees en Tiffany Kelly van Egoli – en selfs Pik Botha!

Ons mandaat was om ’n Afrikaanse 702 daar te stel met die geleentheid om Afrikaanse mense oor alle grense heen aan die praat te kry. Daar was geen twyfel dat daar binne die Suid-Afrika van die tyd en veral binne die postdemokrasie in Afri­kaanse geledere heelwat verwarring was nie. Praat wou mense praat en ons sou hulle die platform daarvoor gee.

Ek moet nou erken dat my Dinsdagaand-program geensins ’n sukses was nie. Ek sukkel met harde nuus en aktualiteit as ek nie ’n ou grappie kan inbring nie. Alhoewel my regisseur, Elize Parker, voortreflik was, het ek eenvoudig die programme omgewens. Woensdagaande was heelwat beter. Ek en die formidable eks-PAC-lid Ingrid Jones was mede-aanbieders van RSVP, ’n debatprogram wat alles van politiek tot sosiale norme getakel het. Ingrid het nie ’n aks vir my teruggestaan nie en ons debatte was soms vurig, maar grotendeels baie vermaaklik en beleefd.

Maar kom ons gesels oor daai Saterdagaand-program van my. Ek het besluit om dit Tussen die hoenders te noem – om ’n paar redes, maar hoofsaaklik omdat ek geweet het ek gaan die mense beslis die hoenders in maak! Ek het mos toestemming van die baas self gehad, of hoe?

Ek was die alleenaanbieder van die program met “Skriba” (die grensverskuiwende skrywer en musikant Theunis Engel­brecht) as vervaardiger. Nou en dan sou ons egter ’n mede-­aanbieder soos die skreeusnaakse fopdosser Sizzling Sue in die ateljee kry. Ek onthou een aand toe Sue vir my gesê het: “Jou stem gaan jou nog ver bring. Ek weet net nie hoe de moer jy gaan terugkom nie!”

Dit was ook op ’n program een aand saam met Sue dat ’n hoogs ontstoke luisteraar op die lug vir my gevra het: “Weet jou ma waarmee jy besig is?”

Ek het net daar geweet die program werk!

Ons het ook reg aan die einde van die program ’n inbel-­geleentheid vir ’n grappie deur luisteraars gehad. En, ja, alhoe­wel Skriba sy bes probeer het om die inhoud hiervan vooraf vas te stel, het dit maar dikwels gebeur dat mense, wanneer hulle eers op die lug is, die storie effens verander. Voeg nou hierby die feit dat dit Saterdagaand is en heelwat van my luis­teraars was gesuip – en jy het ’n recipe for disaster. As ek reg onthou, het my eerste BCCSA-klag (Broadcasting Complaints Commis­sion) juis gevolg nadat ’n luisteraar my een aand vertel het van ’n hoender wat die pad probeer oorsteek het: “En net toe daai hoennertjie daai pad proebie oorstiek, Rian, toe kom da’ ’n trok an, maar hy ry vi’ hom in sy #@$% in!”

Ek moes ook gereeld vir ons programbestuurder, Dawid van Lill (die einste Dawid van Flinkdink-faam wat die beste algemene kennis in Suid-Afrika het), Maandagoggende om verskoning vra vir wat die afgelope Saterdagaand gebeur het. Uiteindelik sou ek ’n standaardbrief opstel waarvan ek net elke keer die datum verander het: “Beste Dawid. Hiermee vra ek plegtig om verskoning vir die Tussen die hoenders-program van Saterdagaand (datum). Ek begryp dat ’n paar luisteraars hierdeur ontstel is en sal poog om meer omsigtigheid tydens ’n volgende geleentheid aan die dag te lê. Beste wense. Rian van Heerden.”

Maar grense het ons grense verskuif. Daar was selfs ’n hele bespreking een aand oor watter alternatiewe gebruike daar vir voorvelle kan wees!

En, ja, ek gaan myself nou hier onderbreek, maar dis mos hoe dit gaan met ’n boekskrywery, skielik onthou jy iets wat jy eintlik in ’n vorige hoofstuk moes genoem het. Die voorvel-­storie laat my dink aan my vroeë dae by Radio Tuks toe die rektor, prof. Flip Smit, ’n onderhoud kom voer het oor ’n insident tydens die studenteraadsverkiesing. Die professor was duidelik nog moeg ná ’n hele dag se lang vergaderings en ek vra hom toe sy kommentaar op die betrokke student. Prof Flip antwoord toe: “Wel, insake die Reynard Buys-voor­vel … uhmm … voorval.”

Dit was die hardste wat ek ooit in my lewe moes probeer om ’n lagbui te onderdruk. My hele lyf het eintlik nog vir ’n paar dae ná hierdie “voorvel” gekramp!

In elk geval, kort voor lank was Punt Geselsradio in die moeilikheid. Die hoofprobleem was dat André hoër probeer vlieg het as wat sy vlerke hom wou dra. Die radiostasie het massiewe uitgawes gehad, veral die salarisse van die groot name. Daarbenewens was die bemarkingsonkoste astronomies, al kon ons nooit meer as ongeveer 100 000 luisteraars in albei provinsies trek nie. Mediumgolf was eenvoudig nie so aan­treklik vir luisteraars soos wat André en sy span vermoed het nie, al het ons die tipe onderwerpe aangeroer waaraan min ander mense in die radiobedryf wou raak.

Gevolglik is ons uiteindelik oorgeneem deur Africa Media and Entertainment (AME) en is ek, glo dit of nie, in 1998 en op die brose ouderdom van 25 die ontbytprogram op die nuwe vaartbelynde Punt Geselsradio aangebied. Hierdie aanbod het presies op die regte tyd gekom. Ek was pas toegelaat as pro­kureur en aktevervaardiger te danke aan al Jasper se praktiese kennis, maar daar was ongelukkig nie ’n pos vir my by die firma beskikbaar nie. Op dieselfde dag dat ek dit verneem het, was daar ’n faks vir my – die skriftelike aanbod vir die gesogte pos as ontbytprogram-aanbieder!

Hieroor was daar, soos ’n mens seker kon verwag, heelwat kritiek. Nie net van die koekerige spul wat oor Tussen die hoenders gekla het nie, maar ook van mense wat gevoel het ek is heeltemal te jonk en onervare vir so ’n belangrike program op radio. Die ontbytprogram was nog altyd die program waarna enige radio-aanbieder streef. Dit is tradisioneel die program met die meeste luisteraars en die aanbieders hiervan kry ook die meeste blootstelling en die hoogste salarisse.

Elke aanbieder se droom, inderdaad … totdat jy dit aanbied! Oor die kritiek op my ouderdom het ek destyds tydens ’n onderhoud gesê: “Ek dink nie mense van in die twintig moet onderskat word nie. Jong mense is deur ’n proses van selfontdekking en die ontwikkeling van ’n eie identiteit. Wat ons te sê het, is relevant.”

Oor die persepsie dat ek “ongeskik” was, was my antwoord: “Dit gebeur soms dat ’n mens as ongeskik oorkom, maar ek hoop nie dis die algemene persepsie van my nie. As mense egter ’n mening het oor iets moet hulle bereid wees om dit op die radio te verdedig. Hulle moet op oorspronklike wyse kan debatteer en nie op geykte argumente terugval nie.”

Snaaks, dit is ná al die tyd nog steeds my opinie hieroor.

Liezl Squire is aangewys as my inhoudsvervaardiger met Natasha Marchetti en Ziggy Endemann wat sou roteer as tegniese vervaardigers. Verder sou “Sporty” uithelp met sport, Charlene du Toit was aan die nuus-kant en die nimlike Richard (Riccardo) het die verkeersverslae waargeneem.

Die show was gou op volspoed. FW de Klerk was ’n gas (nee, hy kon my nie onthou nie), die nuwe ANC-ministers was daar, ambassadeurs en selfs koninklikes. Louis Luyt (die be­kende besigheids- en rugbyman van destyds) het kom gesels. Die voorsitter van sy Federale Alliansie-party, Simon Zulu, het drie uur ná my onderhoud met Louis bedank. Ek sê toe vir Louis: “Ek hoop nie ons het die ou té veel ontstel nie. Toe sê Louis: “Jaaaa … Lyk my jy het maar die geneigdheid om mense te ontstel.”

In die begin was dinge egter nie so rooskleurig nie. Omdat die ontbytprogram die meeste luisteraars gehad het, was daar ook die meeste klagtes. Ek onthou hoe André een middag op die lug gegaan het om te hoor wat mense dink van die nuwe ontbytprogram. Ek was toevallig nog in die gebou en het be­sluit om buite die ateljee te gaan inluister.

Nou moet ek erken dat ek in daardie stadium nie eintlik gewoond was aan klagtes en hoe geniepsig mense kan raak nie. Ja, daar was klagtes tydens Tussen die hoenders, maar dit was in retrospek maar net hier en daar. By Tuks was daar byna geen klagtes nie.

Daardie middag het ek egter dinge gehoor wat my diep seer­gemaak het. Ek kon eenvoudig nie glo dat mense met soveel haat kan praat van iemand wat hulle nog nooit ontmoet het nie. Inbeller ná inbeller het my en die program gruwelik beledig. Arme André het my probeer verdedig en male sonder tal gesê: “Gee die man net ’n kans!”

Ek onthou hoe ek aanvanklik gestaan en luister het en toe eenvoudig net gaan sit het. Ek wou nie die volgende oggend teruggaan nie. Ek het daar ’n stille belofte aan myself gemaak: As een persoon vandag inbel, net een wat hou van wat ek doen, sal ek môre terugkom. Ek sal die program voortaan vir daardie een persoon doen.

Jy sien, die truuk van radio-aanbieding is presies dit: Jy moet nooit dink aan die honderde of duisende mense wat na jou luister nie. Stel jouself net een persoon voor wat geniet wat jy doen. Dis dalk ’n vriend, vriendin of familielid of miskien iemand wat jy opmaak. Solank hulle (voor jou geestesoog) aan­dagtig na jou program luister en glimlag vir jou grappies.

Maar ná die stortvloed van klagtes daardie middag was dit moeilik om my daardie persoon voor te stel. Ek het nodig gehad om te hoor dat nie almal my afkeur nie. En toe, op my laagste moment kom die oproep. Dit was ’n vroue-inbeller: “Ek weet nie wat is fout met al hierdie mense wat vandag ingebel het nie. Ek geniet hom baie. Doen so voort!”

Ek onthou die dankbaarheid wat oor my gespoel het. Daar­die verligting. Ek was 25 jaar oud en kwesbaar en ek dink nie daardie inbeller sal ooit besef hoe waardevol haar oproep vir my was nie.

Ek het voortgegaan met my ontbytprogram en met Liezl en (later) mede-vervaardiger Sasha Endemann het ons van krag tot krag gegaan. Ons het byna elke nuusmaker op die program gehad en ek moes baie vinnig leer om met enigiemand ’n onderhoud te kan voer.

Ek onthou een oggend toe almal in die nuuskantoor eenvoudig geweier het om die voormalige staatspresident PW Botha te bel. Ons wou sy kommentaar kry op die boete (en opgeskorte vonnis) wat hom opgelê is oor sy weiering om voor die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) te getuig. Uit­eindelik is die taak aan die junior outjie (ek) gegee.

Was ek bang om PW te bel? Natuurlik. Ons het grootgeword met ontsag vir hierdie staatspresident wat mos vir ons teen die kommuniste baklei het. En meer nog was hy vir baie lank die baas van die land en het duidelik baie mag gehad. En hy was beslis nie baie vriendelik nie …

So bel ek toe vir PW by sy huis in Wildernis, met ’n bewende broek. Hy het self die foon geantwoord: “Jaaaaaaaa?” Ek het teen duisend myl per uur begin praat, verduidelik wie ek is, oor die belangrikheid van die WVK-verwikkelinge vir die land en gevra oor die vonnis.

Wat het PW geantwoord? Hy het begin deur te verwys na die feit dat ek dit durf waag het om hom direk te bel en het toe nog ’n paar dinge bygevoeg wat ek nie nou kan onthou nie. Ek kon nie meer fokus nie en ek dink ek het op aandag ge­staan tydens die res van die gesprek.

Hy het toe net bot “tot siens” gesê en dit was dit. Geen kom­mentaar nie.

Tydens die WVK-verhore het ek ook vir die eerste keer te doen gekry met die duistere magte van die ou apartheids­regering. Ons verslaggewer wat die verhore bygewoon het, het een oggend vertel van getuienis wat afgelê is oor veiligheids­polisielede wat ’n vermeende lid van umKhonto weSizwe gemartel het deur ysblokkies in sy anus te druk. Ek het baie driftig hierop gereageer en die hoop uitgespreek dat hierdie wreedheid uiteindelik hard gestraf sou word.

Daardie selfde aand nog het my foon gelui. Die persoon aan die ander kant, ’n man, het eers net asemgehaal en toe stadig gesê: “Ek kan jou sien daar waar jy staan … ”

Ek het onmiddellik paniekerig begin raak, want my vermoede was dat hierdie oproep verband gehou het met wat ek die oggend gesê het. Die man het sy stem begin verhef: “Ons het in niemand se gatte ysblokkies opgedruk nie! Onthou, ons weet waar jy bly … ” Hierna het hy die foon neergesit.

Vreemd genoeg was ek ’n paar aande later by ’n braai waar ek agtergekom het daar is voormalige veiligheidspolisielede teenwoordig. Hulle het begin gesels oor “die goeie ou dae” en tot my skok het hulle geweet van die oproep wat ek ontvang het. Ek het my dadelik uit die voete gemaak. Afgesien van die dreigement wou ek eenvoudig nie tyd in hulle geselskap deur­bring nie.

’n Baie belangrike les wat ek in my tyd op die ontbytpro­gram by Punt Geselsradio geleer het, was oor onderhoudvoe­ring. Andrew Morton, die Engelse joernalis en skrywer, was daardie jare baie bekend vir die biografie wat hy oor prinses Diana geskryf het (Diana: Her True Story in Her Own Words) en was ’n gas op ons program om te gesels oor sy nuwe boek oor Monica Lewinsky (Monica’s Story).

Soos gewoonlik het die uitgewers vooraf ’n eksemplaar van die boek afgelewer en soos gewoonlik het ek dit nie gelees nie. Ek het daardie oggend net twee vrae vir Andrew gevra voordat hy gesê het: “You didn’t read my book, did you?”

Dit was die laaste keer dat ek nie behoorlik voorberei het vir ’n gas nie. Sedertdien het ek ekstra moeite ingesit en, ja, as my gas pas ’n boek gepubliseer het, het ek dit gelees.

Dit was ook nie die rede waarom ek by die ontbytprogram uitgeskuif is nie. Dit was die storie waaraan hierdie hoofstuk sy titel te danke het …

In die begin van 2000 moes ek Durban toe gaan om my ma by te staan tydens my pa se siekte. Toe ek uiteindelik terugkeer, was ek nie meer die aanbieder van die ontbytprogram nie. Ek is na die middagprogram verskuif en was geensins gelukkig daaroor nie. Ek was in elk geval teen hierdie tyd taamlik keelvol vir geselsradio. Ek het musiekradio ongelooflik begin mis en onthou hoe ek een aand tydens ’n laataand-werksessie vir die ontbytprogram in die produksie-ateljee gaan sit en na Springbok Nude Girls se “Blue Eyes” geluister het. Hierdie treffer van Arno en kie is toe pas uitgereik en een van die mooiste songs wat ek nog gehoor het. Ek het skoon bewoë geraak.

Ek wou weer musiekradio begin aanbied, maar hoe?

Miskien was my optrede die betrokke middag op die program ’n poging om afgedank te word, miskien was dit ’n poging om deur musiekradiostasies raakgesien te word. Miskien was dit net ’n moedswillige poging om die grense te probeer verskuif. Maar as ek vandag daaraan terugdink, kan ek steeds nie glo ons het dit gedoen nie!

Dit het alles begin met ’n artikel wat ek toevallig op die internet raakgelees het, op een van daardie webtuistes waaroor hulle jou destyds gewaarsku het. Dit het gehandel oor Bedoeïen-vroue en hoe hulle op hulle trek deur die woestyn sommer staande sal piepie (seker weens al die sand!). Daar was ’n spesifieke metode wat hulle gevolg het en dit het twee vingers van die regterhand behels …

Minute ná my en Natasha Marchetti (my tegniese vervaardiger) se stunt het elke enkele telefoon begin lui. Die skerm voor my het soos ’n Kersboom gelyk kort voordat ons program­bestuur­der, Johan Kriek, die ateljee binnegestorm het. Hy was nogals heel kalm en het net een ding gesê: “Jy is nou amptelik met vakansie.”

Hierna is hy weer die ateljee uit om verder met woedende luisteraars te gesels. Ek is vir drie dae geskors. Maar net drie dae.

Ek gaan vervolgens aanhaal uit die koerantberig wat kort ná hierdie insident gepubliseer is. Die opskrif was: Punt Gesels­radio-man tydelik geskors oor swak smaak.

“Mnr. Rian van Heerden is Woensdag geskors nadat Punt Geselsradio-luisteraars in Stellenbosch en die Paarl aanstoot geneem het oor sy letterlike verdui­deliking (hoe ’n vrou urineer terwyl sy staan). Van Heerden het op sy program glo me. Natasha Marchetti, sy tegniese assistent, gevra om in die ateljee met ’n leë emmer te demonstreer hoe ’n vrou staande kan urineer. Hy het Marchetti glo gevra om haar ritssluiter oop te maak. Water is in ’n emmer gegooi om die klank na te boots. ‘Ek het humor probeer skep, nie om aanstoot te gee nie. Dis al wat dit was,’ het Van Heerden gister gesê.”

Dit is nie al wat dit was nie. En die koerant het self versuim om in detail te vertel wat tydens die demonstrasie gebeur het. Dit was baie meer grafies. Ek het Natasha inderdaad gevra om haar broek los te maak en af te trek. Hierna haar onderklere. En, ja, toe het sy op my instruksie haar twee vingers gebruik om eers die buitenste labia oop te sprei en toe die binneste. Daarna het die straal piepie gevolg.

Natuurlik was alles net theatre of the imagination en Natasha het maar dinge geantwoord soos “Dis uit, Rian” of “Hulle is oop” en water uit ’n bottel in ’n emmer gespuit. Maar soos jy kan verwag, was daar ongelooflik baie klagtes.

Swak smaak was dit inderdaad swak smaak en daar is eenvoudig geen manier dat enige aanbieder vandag met so iets sal wegkom nie. Ek is egter net vir daardie drie dae geskors. En dit het my tyd gegee om te begin werk aan plan B …

Maar eers kortliks terug na André Potgieter. André het altyd na homself verwys as die Punt Pater (die Punt Vader) en was maar soos ons almal iemand met sy eie swakhede en sterk punte. Een van my gunstelingstories oor hom het een herfs­middag gebeur toe Punt se ateljee in Gauteng ’n bomdreigement gekry het. Dit was in die tyd toe die vigilante-groep PAGAD (People Against Gangsterism And Drugs) baie prominent in die Kaap was. Hulle is die skuld gegee vir heelwat van die bomontploffings in Kaapstad, waarvan die mees prominente een die Planet Hollywood-bom op 25 Augustus 1998. Toe ons kantore dus daardie dag die dreigement kry, was almal in rep en roer.

Die ateljees moes ontruim word met die gevolglike probleem dat niemand beskikbaar was om programme aan te bied nie. André het egter as Punt Pater besluit om te bly. Hy het ’n bottel whisky saamgevat vir ’n bietjie Dutch courage en het agter die mikrofoon gaan plaasneem, waarna hy ’n preek afgesteek het oor Die Man van Nasaret. Ek onthou daardie ellelange preek soos gister. Wat indrukwekkend was, was dat dit geduur het vandat die laaste persoon die ateljee verlaat het tot regdeur die bomeenheid se deursoeking van die perseel. Nadat alles veilig verklaar is en almal weer terug was, was André nog steeds besig!

Dit is wat ek onthou van daardie dag. Dit, en dat een van die bomeenheidhonde in ons portaal gekak het.

Ek sal André tot vandag toe krediet gee vir sy visie, vir die feit dat hy bykans twee jaar lank pool gespeel het om homself aan die gang te hou terwyl hy probeer geld insamel het vir Punt, maar veral vir die feit dat hy my die kans gegee het om op kommersiële radio net myself te wees.

Dit is iets wat ’n mens vandag maar min kry by radiostasies.

Dankie, André.

Rian

Подняться наверх