Читать книгу Weermagstories - Roelf Schoeman - Страница 5

VOORWOORD

Оглавление

Waar is die dae toe ouers aan hulle kinders gesê het: “Gaan speel! Moenie sit en tande tel nie!”? Of nóg erger: “Kinders moet gesien en nie gehoor word nie.” Dit was veral in die Afrikaner-kultuur die gebruik. Kinders en jongmense van daardie era is ook selde die geleentheid gegun om vrae te vra of verduidelikings te eis. Outoritêre figure het eenvoudig vereis dat daar “gedoen moet word wat gesê word” en basta met die res.

Toe televisie Suid-Afrika in die laat jare sewentig tref, het die samelewing ’n aanpassing gemaak sodat beide oud en jonk nóg minder tyd vir lees of praat gehad het. Kinderprogramme, sepies en sport het elkeen hulle ondersteuners gehad, wat die samelewing verder ontneem het van die geleentheid vir lekker gesels en stories vertel.

Die koms van selfone was ’n verdere terugslag vir tye van luilekker kuier om die kaggelvuur of om die kombuistafel. Op die koop toe het ook die sosiale media gekom en daar sit ons nou met ’n wêreld waar almal met almal praat, maar in baie kriptiese formaat.

Gedurende hierdie tyd, in die jare tagtig, toe die dae van stories vertel stelselmatig stil-stil verdwyn het, vind die Grensoorlog plaas. Die ou gesegde van “cowboys don’t cry” is ’n wesenlike deel van hierdie tydperk. Daar is diegene wat “nie daar was nie”, wat stories verdig en gewillige luisteraars met vertellings vermaak of beïndruk. Ander weer, wás daar, maar praat nie. Hoe meer ’n mens hulle vra om te vertel wat met hom of haar in die Grensoorlog gebeur het, hoe meer ontwykend is die reaksie en die afmaak van die werklike gebeure.

Dit is opmerklik hoe daar sedert 2008, sowat 20 tot 30 jaar ná die Grensoorlog, al hoe meer aandag aan die konflik van daardie tyd gegee word. Dit is asof koerantberigte, TV-programme, boeke oor die Grensoorlog en die sosiale media daarop gerig is om “verroeste gedagtes” los te maak. In 2013 was daar ’n artikel in die gedrukte media wat verwys het na ’n insident waar soldate erg gewond was. Daarin is melding gemaak van ’n dokter wat gehuil het terwyl hy die gewondes gehelp het. Die mediese dokter waaroor daar geskryf is, het ná meer as 30 jaar verontwaardig reageer toe hy die berig lees. Hy het sy destydse bevelvoerder geskakel, na die berig verwys en gevra: “Wie sê ek het gehuil?” Sy bevelvoerder, wat tydens die afvoer en behandeling deur die twee dokters teenwoordig was, kon getuig dat die dokters só gefokus was om die gewondes te red dat niemand gehuil het nie. Die opmerking het die dokter egter so ontstel dat hy die bevelvoerder gevra het om daaroor te skryf. Die bevelvoerder het die versoek omgekeer en die dokter gevra om die werklike gebeure op skrif te stel en aan hom te stuur. Dit het die dokter tot groot verligting van sy vrou gedoen, want hy wou voorheen glad nie oor die insidente op die grens praat nie. Dit was die eerste keer dat hy in soveel besonderhede daaroor gepraat het. Dit het hom gehelp om die detail van die gebeure te herroep en so het daar vir hom berusting gekom. Daar is talle voorbeelde wat toenemend van opgekropte emosies getuig.

Hierdie onderdrukking van onaangename, hartseer en skokkende gebeure is by baie mense aanwesig. Die uitdaging is om los te kom van hierdie onderdrukking en mense by te staan om van die swaar las ontslae te raak.

Ervarings wat mense in vuurgevegte deurgemaak het, waar makkers brutaal om hulle sneuwel, spook steeds by sommige soldate wat by die oorlog betrokke was. Familielede het ook nie altyd ’n goeie begrip van hierdie mense se werklike ervarings as daar nog nie ’n behoorlike oop gesprek oor wat werklik gebeur het, was nie.

Die tradisionele gebruik om by die etenstafel te sit en met belangstelling na mekaar se stories te luister is nou belangriker as ooit. Daar is reeds bewyse van hoe die vertel van ’n mens se storie genesing en selfs versoening in gesinne gebring het. Die hoorder kry ook meer begrip van wat die verteller ervaar het en in watter konteks dit alles gebeur het.

Elkeen van ons se storie is uniek, want mense beleef en interpreteer dieselfde insident verskillend – daarom behoort hierdie stories vertel te word. Wanneer daar weer en weer uitgevra word om meer te hoor van wat werklik gebeur het, verander die inhoud of die belewenis daarvan vir die verteller én die hoorder. Dit is met hierdie herhaaldelike belangstellende luister dat die konteks van dít wat gebeur het, beter verstaan word en selfs só verander dat die verteller by die werklike verhaal uitkom. Dan kom daar genesing.

Menige soldaat of veteraan wat steeds met gebeure uit die verlede sukkel, moet die geleentheid gebruik om dit wat met hom of haar gebeur het, oor te vertel. Veral soldate wat in gevegte was, moet besef dat radikale deursigtigheid van die belewenis ontstaan deur daaroor te praat en dat juis dit tot volle genesing lei. Sedert die stigting van die 61 Gemeganiseerde Bataljongroep (voortaan 61 Meg) in 1979 en die 38 oorgrensoperasies waarby die eenheid betrokke was, is daar besef dat iets gedoen moet word. Daar is steeds veterane wat met skok, hartseer, pyn en trauma leef, maar wat dit ontken of wat die dinge wat pla, probeer vergeet sonder om iets daaraan te doen. Daar is besluit om veterane te nooi om hulle wedervarings op skrif te stel en dit op die 61 Meg-webblad te plaas.

Die 61 Meg-veteranevereniging funksioneer in streke waar tien en meer veterane periodiek bymekaarkom en die geleentheid kry om hulle operasionele ondervindings en stories met mekaar te deel. Vir sommiges is hierdie byeenkomste van groot waarde en ’n bron van krag en inspirasie.

Geen storie het net een kant nie. Dit is keer op keer bewys dat stories van die Grensoorlog, wanneer dit in ’n groep vertel word, uiteenlopende ervarings na vore bring wat sodoende die konteks verander. Stories wat in groepsverband vertel word, wys ook dat bepaalde herinnerings loskom en meer betekenis aan gebeure, en veral traumatiese ervarings, gee. Oor ’n periode van twee jaar is daar meer as 300 skriftelike bydraes gepubliseer. Roelf Schoeman, wat deel geword het van die ondersteuning aan veterane, het besluit om van hierdie stories in hierdie boek te plaas. Dit is nie moontlik om die positiewe reaksie hierop te kwantifiseer nie, alhoewel daar onomstootlike bewyse van spesifieke gevalle van genesing en aanvaarding is.

Die boek deur Louis Bothma oor die besoek wat 61 Meg-veterane aan Angola gebring het, Anderkant Cuito, bevat verskeie voorbeelde van ontmoetings tussen partye wat voorheen teen mekaar geveg het en wat uiteindelik vryelik oor die oorlog met mekaar kon gesels. Dit het vir albei partye geweldig baie beteken in die proses van versoening en aanvaarding. Wanneer die dag aanbreek dat voormalige vyande in Suid-Afrika (statutêre en nie-statutêre magte) begin om hulle stories met mekaar te deel, sal dit ook die dag wees wat hierdie land van versoening en vereniging kan begin praat.


Generaal-majoor (afgetree) Johann Dippenaar

Weermagstories

Подняться наверх