Читать книгу Weermagstories - Roelf Schoeman - Страница 6

ERKENNINGS

Оглавление

Baie dankie aan almal wat my ondersteun het om hierdie boek ’n werklikheid te laat raak. Sonder julle bydrae sou hierdie stories nie vertel kon word nie.

Dankie aan my ouers vir die ouerhuis waarin ek kon grootword. Pa Roelf, jy is vir my ’n voorbeeld wat ek nog al die jare kon nastreef. Dankie dat jy my lief gemaak het vir stories. Ma Nelie, dankie dat jy gesorg het dat ons ouerhuis altyd ’n veilige hawe is waarheen ons tydens die storms van die lewe kon onttrek waar ons weer krag kon kry om aan te gaan.

Vir my vrou Elize, dankie vir al jou ondersteuning en bemoediging. Saam kon ons ’n tweede huwelik en hersaamgestelde gesin maak werk – ten spyte van al die uitdagings.

My kinders, Hardus, Eksteen en Roelize, julle is kinders waarop enige pa trots sal wees en ek weet daar wag ’n wonderlike toekoms op julle.

Aan proff Yolanda Dreyer en Julian Müller en dr Andre de la Porte by wie ek so baie oor narratiewe gesprekvoering en pastorale sorg kon leer. Julle het my ondersteun in die proses om ’n nuwe loopbaan te kon begin.

Vir my kollegas by die Sentrum vir Kontekstuele Bediening – prof Malan Nel, dr Stephan de Beer en dr Hannes van der Walt – dankie vir die geleentheid en ondersteuning om ’n verskil in ons gebroke gemeenskap te kan maak.

Vir al die militêre leiers onder wie ek as lid van die SAW en later die SANW kon dien, baie dankie vir die insette en leiding in soms moeilike en uitdagende omstandighede.

Aan al die storievertellers wat bereid was om hulle stories met ons te deel. Ek vertrou dit sal vir die lesers net so ingrypend wees as wat dit vir my is.

Aan die manne van die veteraneorganisasie van 61 Meg Infanterie Bataljon wat my by hulle skouerskuur-geleenthede betrek het. Veral genl Johann Dippenaar, genl Roland de Vries, Gert Minnaar en Ariel Hugo, dankie vir die inligting en julle ondersteuning met die skryf van die boek.

Lux Verbi, in die besonder Veronica Scholtz, dankie vir julle geloof in die boek en ondersteuning om dit op die ou end die lig te laat sien. Sonder julle betrokkenheid sou die boek nie kon wees wat hy is nie.

Weermagstories

Подняться наверх