Читать книгу Weermagstories - Roelf Schoeman - Страница 8
HOOFSTUK 1
ОглавлениеDie impak van oorlog
Oorlog verwond die siel. Gedurende ’n oorlog word ons gewone sin vir moraliteit op sy kop staangemaak; en dit wat sin maak tydens die oorlog – dalk selfs noodsaaklik is tydens die oorlog – maak dalk nie sin wanneer jy na die burgerlike lewe terugkeer nie.
– Ron Langer6
As gevolg van die politieke verwikkelinge in Afrika en die res van die wêreld, is Suid-Afrika gaandeweg by ’n oorlog betrek wat die land nie werklik voorsien of beplan het nie. Geskiedskrywers soos Leopold Scholtz en Louis Bothma wys daarop dat die Grensoorlog eintlik reeds in 1884, nadat Suidwes-Afrika deur Duitsland geannekseer is, begin het. Suid-Afrikaanse magte was reeds vóór 1965 op ’n kleiner skaal betrokke by hierdie oorlog.7 Die aanloop tot en verloop van die Grensoorlog was, soos met enige ander oorlog, vol traumatiese ervarings aan albei kante van die stryd. Dit het ’n groot impak op ál die bevolkingsgroepe in Suid-Afrika gehad. Die Grensoorlog het ’n diep wond in die diepste wese – die siel (psige) – van sommige individue en bevolkingsgroepe veroorsaak. Nie alle dienspligtiges het ’n traumatiese ervaring tydens die oorlog gehad nie en sommiges sukkel net om sin en betekenis oor die oorlog te kry. Deur die impak van ander oorloë op die psige van individue en bevolkingsgroepe te bestudeer, kan ons gehelp word om die impak van die Grensoorlog op Suid-Afrika beter te verstaan.
Trauma en die posttraumatiese stresversteuring (PTSV)
Die woord “trauma”, afgelei van die Griekse woord vir wond, het so algemeen in ons spreektaal geword dat daar soms na enige ontstellende ervaring as ’n traumatiese gebeurtenis verwys word. Tog is daar duidelike definisies vir trauma en veral posttraumatiese stresversteuring (PTSV) in gebruik. Na aanleiding van navorsing tydens en ná die Viëtnamese oorlog, is PTSV in 1980 deur die Amerikaanse Psigiatriese Assosiasie as ’n angsversteuring gediagnoseer en omskryf.
Trauma word oor die algemeen as ’n spesifieke gebeurtenis beskou wat ’n invloed op die mens se persoonlike wêreld, verstand, liggaam, gees en siel het. Die effek van traumatiese gebeurtenisse kan nie in net een dimensie bepaal word nie. In die Suid-Afrikaanse konteks verwys Yvonne Retief8 na die Instituut van Traumatologie se definisie van trauma:
’n Persoon het ’n trauma beleef indien hy of sy blootgestel was aan gebeure wat te make het met sy of haar lewensomstandighede, of met sy of haar lewensfase (byvoorbeeld die oorgaan van een lewensfase na ’n ander of omstandighede as gevolg van ’n nuwe fase wat die persoon onhanteerbaar vind) en wat tot gevolg het dat daardie persoon se gewone hanteringsmeganismes lamgelê is en ten minste een van die volgende effekte waargeneem word:
•Daar is ’n element van gelatenheid.
•Daar is ’n diep, amper onomkeerbare verandering in ’n basiese lewensiening of oortuiging.
•Daar is ’n ernstige oorbelading van die mens se normale hanteringsmeganismes.
Verskillende soorte trauma word onderskei: seksuele trauma (verkragting, bloedskande en rituele of kulturele mishandeling), fisieke trauma (oorlog, gewelddadige aanranding, marteling, ongelukke en natuurrampe), psigologiese trauma (’n direkte persoonlike bedreiging van lewe), om ooggetuie te wees van ’n natuurramp of die marteling of traumatiese dood van ander mense en geestelike trauma.9
Die impak van ’n oorlog op ’n individu het dus veral te doen met fisieke en psigologiese trauma, waar die persoon fisieke beserings opdoen en waar die lewe van die persoon of ’n ander persoon direk bedreig word. Aanvanklik is daar tydens oorloë net op die hantering van die fisieke trauma (hantering van fisieke wonde) gefokus en is psigologiese trauma (verwonding van die innerlike mens) nie verstaan nie. Psigologiese trauma het toe verskeie ander name soos “soldier’s heart” in die Amerikaanse burgeroorlog, “shell shock” (bomskok) in die Eerste Wêreldoorlog, “combat fatigue” in die Tweede Wêreldoorlog en die oorlog in Korea en “bossies” in die Grensoorlog gekry.
Die psigiater wat psigologiese trauma as “an affliction of the powerless” definieer, Judith Herman, gee ’n baie goeie uiteensetting van die ontwikkeling van psigologiese trauma en die diagnosering van PTSV. Volgens die Comprehensive Textbook of Psychiatry is die gemene deler van psigologiese trauma die gevoel van intense vrees, hulpeloosheid, verlies aan beheer en dreigende vernietiging. Sekere spesifieke ervarings soos verrassing, om vasgekeer te wees en blootgestel te word tot op die punt van algehele uitputting, verhoog die ervaring van leed en gevolglik ook die trauma. ’n Traumatiese gebeurtenis oorweldig die gewone mens se vermoë om aan te pas by die uitdagings van die lewe. Slagoffers van psigologiese trauma bevind hulle tussen die uiterstes van relatiewe kalmte tot intense angs, onrustigheid, woede, kalmte, hiperwaaksaamheid en ekstreme opgewektheid.10
Die hantering van psigologiese trauma tydens die Eerste Wêreldoorlog
Die psigologiese reaksie ná die Eerste Wêreldoorlog, nadat ongeveer agt miljoen soldate oor ’n tydperk van vier jaar gesterf het, was fenomenaal. Hoewel dit aanvanklik geheim gehou is, was 40% van die ongevalle ná die oorlog in Brittanje psigologies van aard.11 Tydens ’n meningsopname deur 61 Meg Infanterie Bataljon, die eenheid van die SAW wat by die meeste oorgrensoperasies in Angola betrokke was, is die invloed van psigologiese trauma bevestig. Uit die 64 veterane wat aan die meningsopname deelgeneem het, het net agt fisieke behandeling gekry en twaalf het vir sielkundige behandeling gegaan. Van die groep het vyftien aangedui dat hulle geen angs of stres ervaar het nie en elf het aanvanklik stres ervaar, maar 25 (amper die helfte van die groep) ervaar dit steeds.12
Die Britse sielkundige, Charles Myers, het hierdie simptome van psigologiese trauma aanvanklik net aan die aanhoudende blootstelling van bomontploffings toegeskryf en dit die benaming “shell shock” gegee. Dit het egter duidelik geword dat hierdie simptome ook by persone voorgekom het wat nie aan fisieke geweld blootgestel was nie. Aanvanklik is daar egter neergekyk op enige soldaat wat hierdie simptome getoon het. Hulle is as lafaards beskou, met skokterapie behandel en selfs gestraf.13
Toe ek van hierdie aanvanklike persepsie oor psigiese trauma lees, het dit my laat terugdink aan my eerste blootstelling aan psigiese trauma tydens my diensplig. Tydens ons opleiding was ons baie ontevrede toe ’n aand voor die televisie kortgeknip is om na ’n makker, wat vroeër probeer selfmoord pleeg het en nou weggeraak het, te soek. Ons hele kompanie het oral in die basis na hom gesoek en hom uiteindelik gekry waar hy tussen asblikke weggekruip het. Ek het dadelik saam met die ander gestem dat hy maar net lafhartig was, nie meer vir die strawwe opleiding kans gesien het nie en ’n maklike uitweg probeer soek het. Nou wonder ek of my en my makkers se oordeel nie baie kras was nie.
WHR Rivers, professor in neurofisiologie, sielkunde en antropologie en ook ’n praktiserende dokter, was die eerste om ’n deurbraak met sy positiewe benadering tot psigologiese trauma te maak. Siegfried Sassoon, ’n bekende digter wat homself onderskei het as ’n baie dapper soldaat, het simptome van psigologiese trauma getoon en een van Rivers se pasiënte geword. Hy was aanvanklik ná sy traumatiese ervaring ’n aktivis, maar Rivers se behandeling was só suksesvol dat Sassoon weer in die oorlog betrokke geraak het. Hy het Rivers bedank omdat hy hom met waardigheid en respek behandel het en hom veilig laat voel en toegelaat het om oor sy ervarings te praat en te skryf.14
Hierdie benadering van Rivers was die eerste aanduiding van die benadering wat ek voorstaan: Getraumatiseerde mense moet met waardigheid en respek behandel word ten spyte van die trauma wat hulle ervaar het. Daar behoort ook ’n veilige omgewing vir hulle geskep te word waar hulle die vrymoedigheid kan hê om oor hulle ervaring te praat en te skryf. Hulle behoort ook die geleentheid te kry om emosie in kunsvorme uit te druk en te verwerk as hulle dit so verkies.
Die hantering van psigologiese trauma tydens die Tweede Wêreldoorlog
Rivers het bewys dat selfs dapper manne deur vrees oorweldig kan word en dat die beste motivering om hierdie vrees te oorkom iets was wat sterker was as patriotisme, abstrakte beginsels of haat vir die vyand. Sassoon se motivering om weer in gevegte betrokke te raak, was sy emosionele band met sy medesoldate. Rivers se bevinding is met verdere navorsing tydens die Tweede Wêreldoorlog onderskryf en bevestig. Aan die einde van die oorlog het twee Amerikaanse psigiaters, JW Appel en GW Beebe, verklaar dat blootstelling aan oorlog wat tussen 200 tot 240 dae duur, selfs die sterkste en dapperste soldaat kan breek en dat psigologiese verwonding, net soos wonde deur gewere of skrapnel, onafwendbaar is.15
Amerikaanse psigiaters het verdere navorsing gedoen om die faktore te identifiseer wat soldate teen ineenstorting kan beskerm of wat hulle kan help om vinnig te herstel. Abram Kardiner en Herbert Spiegel het ná intensiewe navorsing verklaar dat ’n soldaat se beste beskerming teen trauma ’n baie goeie verhouding met sy gevegseenheid en sy leier is. Ander psigiaters het ook daarop gewys dat die aanhoudende blootstelling aan gevaar baie sterk emosionele bande tussen die groep en hulle leier tot gevolg het en verklaar dat die sterkste teenvoeter vir psigologiese ineenstorting die moraal en leierskap van die klein gevegseenhede is.16
Tydens ’n meningsopname deur 61 Meg veteraanorganisasie is die invloed van makkers en die leiers in gevalle van trauma bevestig. Uit die 64 veterane wat aan die meningsopname deelgeneem het, het 30 vriendskappe gesmee wat hulle tot vandag toe het. Die oorgrote meerderheid is steeds baie positief oor hulle eenheid en die leierskap.17
Om die ondersteuning van ander soldate te verseker, is getraumatiseerde soldate vinnig behandel om te verseker dat hulle so gou moontlik weer terug in die geveg kon wees. Roy Grinker en John Spiegel, wat ook baie navorsing hieroor gedoen het, het egter verklaar dat die impak van gevegte nie soos iets wat op ’n tablet geskryf is, net uitgevee kon word nie, maar dat dit ’n onuitwisbare indruk op ’n mens se verstand laat en hom soos enige ander beslissende gebeurtenis radikaal kan verander.18 Daar moes dus opvolgbehandeling wees. Tog is soldate wat gevegstrauma ervaar het, nie verder tydens en ná die oorlog ondersteun nie en is daar geen verdere navorsing gedoen nie.
Die hantering van veterane tydens die Viëtnamese oorlog
Ná die studies en bevindings van die Tweede Wêreldoorlog, was dit eers weer die oorlogsveterane van die Viëtnamese oorlog wat in 1970 die psigologiese trauma van oorlog na vore gebring het. Die organisasie Veterans Against War het samesprekings met twee psigiaters, Robert Jay Lifton en Chaim Shatan, gehou oor wat hulle ervaar het en het dit gebruik om ’n aksie teen die oorlog te organiseer. Baie van hulle was veterane wat hulle in die oorlog as dapper soldate onderskei het, maar nie meer vir die oorlog kans gesien het nie. Hulle het hulleself in klein groepe wat as “rap groups” bekend gestaan het, georganiseer en psigiaters wat hulle saak goedgesind was, is genooi om na hulle ervarings te luister.19
Omdat hulle nie van die Veterane-Administrasie en ander tradisionele instellings gebruik gemaak het nie, het hulle familie en vriende nie verstaan waarom hulle so anders as die veterane van die vorige oorloë opgetree het nie. Hierdie veterane het, anders as hulle voorgangers, geweier om toe te laat dat hulle vergeet word. Hulle optrede was daarop gemik om vertroosting en ondersteuning aan persone wat oorlogstrauma ervaar het, te bied en ’n bewustheid van die gevolge van oorlog te skep. Die getuienisse van hierdie groepe en hulle politieke druk het openbare belangstelling in die langdurige gevolge van psigologiese trauma laat ontstaan.20
In die middel van die jare sewentig was daar reeds honderde van die “rap groups” gestig om politieke druk op die Veterane-Administrasie te plaas om ’n formele program te ontwikkel. Hierdie program het later as “Operation Outreach” bekend gestaan. Deur middel van “Operation Outreach” is meer as 100 sentrums op die been gebring waar veterane betrokke was by die aanbieding van programme wat berus het op eiehulp en makkerhulp. Hierdie groep het aan navorsers die geleentheid vir behoorlike, sistematiese navorsing gebied. Vanuit hierdie navorsing is psigologiese trauma en die verbintenis daarvan met oorlogsblootstelling uiteindelik in 1980 as PTSV gediagnoseer en in die Amerikaanse Psigiatriese Vereniging se Diagnostic and Statistical Manual (DSM-III) opgeneem.21
Ek is sedert 2011 by die ondersteuning van veterane van 61 Meg betrokke. Ons is besig om ’n ondersteuningsmodel te ontwikkel wat veterane, wat steeds psigologiese trauma ervaar, help om deur die trauma te werk. ’n Belangrike deel van die ondersteuningsproses is om veterane landwyd in verskillende areas aan te moedig om hulle kamerade op te soek en oor hulle ervarings en uitdagings te praat. Die reaksie op hierdie inisiatief is baie positief. 61 Meg het ’n webwerf waar veterane aan storiekompetisies oor hulle ervarings kan deelneem. Sommige van die stories van versoening wat na aanleiding van die kommunikasie tussen veterane plaasgevind het, word later in hierdie boek vertel.
Die verskil tussen trauma en posttraumatiese stresversteuring
Daar is ’n duidelike verskil tussen ’n persoon wat getraumatiseer is en iemand wat aan PTSV ly. Persone wat getraumatiseer word en wat nie binne ’n maand tot ses weke ondersteuning ontvang om hulle emosies en ander aspekte wat verband hou met die trauma te hanteer nie, se trauma kan tot PTSV ontwikkel.22
Die formele definisie van ’n getraumatiseerde persoon uit die DSM IV (APA 2002), wat as Bylaag 1 by hierdie boek aangeheg is, dui al die simptome van PTSV aan en wys daarop dat die simptome akuut is as dit vir minder as drie maande voorkom en kronies as dit langer as drie maande duur. Hierdie definisie van trauma maak ook voorsiening daarvoor dat ’n reeks kleiner, afsonderlike gebeurtenisse wat nie lewensbedreigend is nie, die potensiaal het om in PTSV te ontwikkel. Scott en Stradling wys daarop dat die simptome van PTSV soms deur depressie of dwelmafhanklikheid beïnvloed word.23
Die ontvanklikheid vir PTSV hang af van verskeie faktore soos genetiese predisposisie, persoonlike samestelling, lewenservarings van die verlede, gemoedstoestand, fase van volwassenheid, sosiale ondersteuning voor en ná die trauma, selfvoldaanheid en die intensiteit van die gebeurtenis. Die kwesbaarheid vir PTSV word vererger deur ander psigologiese versteurings, veral wanneer dit verband hou met vorige trauma, swak selfbeeld, gesinsprobleme en swak hanteringsmeganismes. ’n Persoon se algemene lewensvaardigheid (konflikhantering, buigbaarheid en hantering van stres) en die doeltreffendheid van sy ondersteuningstruktuur is ook aanduidings van hoe doeltreffend hy die emosionele gevolge van ’n traumatiese gebeurtenis sal kan hanteer.
Verskillende mense ervaar traumatiese ervarings of krisisse op verskillende maniere. Sommige persone wat aan ernstige trauma blootgestel word, beskik oor uitstekende hanteringsmeganismes en word nie getraumatiseer nie, terwyl ander wat slegs aan ’n ontstellende gebeurtenis blootgestel word, getraumatiseer word.24 Daarom is dit nodig om vas te stel wanneer ’n krisis of traumatiese gebeurtenis van só ’n aard is dat dit nie sonder ingryping opgelos kan word nie.
Ron Langer is ’n psigoterapeut wat in die behandeling van militêre veterane spesialiseer. Hy het ’n paar opmerkings oor veterane van die Tweede Wêreldoorlog gemaak wat vir die militêre veterane in Suid-Afrika van waarde kan wees:
1.Hoewel die simptome van PTSV by veterane van die Tweede Wêreldoorlog direk ná die oorlog afgeneem het, was dit ná twee dekades weer teenwoordig. Die rede hiervoor is waarskynlik omdat die veterane aanvanklik soos helde behandel is. Die simptome van PTSV was ook tydens lewenskrisisse teenwoordig, wat daarop kan dui dat nuwe trauma, lewenskrisisse of die afwesigheid van sin en betekenis van die lewe die simptome weer kan aktiveer.
2.Die veterane van die Tweede Wêreldoorlog het die impak van hulle persoonlike trauma onderskat en het eers ná die bekendstelling van PTSV ná die Viëtnamese oorlog oor hulle ervarings begin praat. In daardie vergange era was daar ook nog ’n stigma daaraan verbonde om van ’n geestesongesteldheid te praat of om ’n sielkundige te raadpleeg. Die gebruik van alkohol om emosionele seer te hanteer, was algemeen. Sommige dienspligtiges wat diens gedoen het tydens die Grensoorlog het op dieselfde manier as die veterane van die Tweede Wêreldoorlog reageer. Daar is ook aanduidings dat hulle hul eie maniere om die emosionele seer te behandel, ontwikkel het, waarvan alkoholgebruik een is.
3.Gevegsverwante trauma (combat-related trauma) verskil van PTSV in dié opsig dat dit nie die dinge wat die persoon ervaar het, insluit nie, maar ook wat hy of sy gedoen het. Indien ’n persoon iemand per ongeluk doodgemaak het (soos byvoorbeeld lede van die onskuldige plaaslike bevolking), veroorsaak dit dat gevegsverwante trauma (CRT) nie net psigologiese trauma is nie. Dit kan dan ook ’n psigo-geestelike dimensie hê waar morele aspekte na vore tree. CRT kan tot volle PTSV of gedeeltelike PTSV lei. Die kenmerkende simptome is depressie, skuldgevoelens en skaamte, ’n obsessie met onderwerpe en voorwerpe van oorlog, afhanklikheidsprobleme en woede.
Psigologiese trauma het verder ook ’n baie negatiewe invloed op veterane se gesinslewe gehad. Sestig persent van die gevangenes van die Tweede Wêreldoorlog het hulle aan verbale geweld skuldig gemaak. Twaalf persent het hulle aan fisieke geweld skuldig gemaak.
Baie slagoffers van CRT ervaar ook herinnerings (of terugflitse) en drome van traumatiese ervarings. Daar ontwikkel dikwels ’n storie rondom hierdie herinnerings wat homself herhaal. BA van der Kolk wys daarop dat mense hierdie herinnerings beter kan hanteer of verwerk deur oor die ervarings te praat. Sodoende begin hulle betekenis aan hierdie herinnerings koppel deur die leemtes in hulle stories te identifiseer en in te vul. Hulle kan dus deur die vertel van die storie die leemtes invul om die prent te voltooi en betekenis in hulle lewe kry.25
Die invloed van die gemeenskap
Judith Herman wys daarop dat soldate wat terugkom van ’n oorlog af gewoonlik baie sensitief is oor die openbare erkenning wat hulle van die gemeenskap kry. Ná elke oorlog was daar aanduidings van ontevredenheid oor die gebrek aan openbare erkenning. Die veterane van die Eerste Wêreldoorlog het na dié oorlog as die “great unmentionable” verwys. Veterane wil gewoonlik seker maak dat dit wat hulle gedoen en opgeoffer het, nie uit die openbare oog sal verdwyn nie. Hulle vrees dat hulle offers verniet was en dring gewoonlik aan op medaljes, monumente, parades en openbare seremonies. Hulle wil ook bevestiging hê dat dit wat hulle gedoen het deur die gemeenskap goedgekeur word en as heldedade vereer word. Dit help hulle dan ook om weer in die gemeenskap aan te pas en daarin geïntegreer te word.26
In teenstelling hiermee het die Viëtnamese oorlog, volgens Herman, glad nie aan hierdie vereistes voldoen nie en dit het die veterane wat teruggekeer het weer getraumatiseer. Miljoene soldate was verplig om aan ’n oorlog deel te neem wat nie ’n behoorlik geformuleerde doel gehad het nie en gekenmerk was deur politieke verdeeldheid. Soos wat die ongevalle toegeneem het, het die openbare weerstand ook toegeneem. As gevolg daarvan het soldate as individue teruggekeer en nie die geleentheid gehad om hulle kamerade behoorlik te groet nie.27
Toe ek hierdie gedeelte die eerste keer lees, het ek verstaan waarom ek aan die einde van die Grensoorlog so ontnugter was. Toe die ou Suid-Afrikaanse vlag gestryk en die vlag van Namibië gehys is, kon ek myself glad nie met die Namibiërs se vreugde vereenselwig nie. Ek het gevoel ons het die oorlog verloor omdat ons voormalige vyand, SWAPO, die verkiesing gewen het. Vandag het ek ’n beter perspektief van wat werklik gebeur het en wonder ek of ek nie ook moes juig nie. Moes ek nie saam met hulle bly gewees het omdat dit waarvoor ek in Suidwes-Afrika geveg het, verwesenlik is nie? Dit het mos nie vir Suid-Afrika om die wen van die oorlog gegaan nie, maar eerder oor die vestiging van ’n stabiele regering in Namibië.
Hoewel dit vir my as Afrikaner en die regering nie die ideaal was dat SWAPO in Namibië moes regeer nie, het die destydse Suid-Afrikaanse regering wel in baie moeilike omstandighede in sy oorspronklike doel geslaag. In daardie stadium het ek nie besef dat die proses wat toe gevolg is tot ’n stabiele regering in ’n Namibië sonder negatiewe Kubaanse of kommunistiese invloed, soos tans die geval is, sou lei nie.
Herman wys daarop dat die veterane vir ’n tweede keer getraumatiseer is toe hulle blootgestel is aan die openbare kritiek oor die oorlog wat hulle verloor het. Waar die SAW aan die einde van die Grensoorlog die erkenning moes kry vir sy reuse-aandeel in die totstandkoming van ’n stabiele demokratiese regering in Namibië, is hulle met die propaganda van die Kubane wat wou voorgee dat die SAW nie in sy doel geslaag het nie en by Cuito Cuanavale verslaan is, gebombardeer. Tereg wys David Williams in sy boek Op die grens daarop dat genl Geldenhuys openlik erken het dat die SAW die propaganda-oorlog verloor het en die Suid-Afrikaanse publiek nooit ’n volledige of selfs net ’n gedeeltelike prentjie gekry het van wat op die grens aan die gebeur was nie. Oorwinnings wat in ander lande tot militêre trots en gelukwense sou lei, is nooit behoorlik aan die lig gebring om die regte perspektief van die SAW se suksesse te vestig nie.
Die meningsverskil oor Cuito Cuanavale trek ook die aandag af van die taktiese en strategiese oorwinning wat die SAW wel op 1 April 1988 behaal het. SWAPO se laat en roekelose opmars met ongeveer 1 600 vegters wat die grens tussen Angola en Suidwes-Afrika oorgesteek het – nadat oorgangsooreenkomste reeds aangegaan is en vyandelikhede gestaak is – het tot ’n negedag-oorlog gelei. Met die Verenigde Nasies (VN) se toestemming het die SAW meer as 300 van hulle gedood met ’n verlies van 26 lewens. Daar is dus geen twyfel wie hierdie skermutseling gewen het nie.28 In teenstelling met SWAPO se inval het die SAW ingevolge die voorskrifte van die politieke skikking ordelik uit Namibië onttrek.
Veral die onbesliste gevegte by Cuito Cuanavale en die onttrekking van die SAW daarna, omdat die politieke onderhandelingsproses uiteindelik aan die gang gekom het, het in die gemoed van die Afrikaners baie onbeantwoorde vrae gelos. Hierdie onbesliste einde van die oorlog is op ’n meesterlike wyse deur Fidel Castro uitgebuit om politieke munt te slaan en word steeds deur die ANC-regering ondersteun. In plaas daarvan om in 1990 die erkenning te kry vir sy aandeel in die vestiging van ’n stabiele regering in Namibië, het die SAW tydens die politieke verwikkelinge in Suid-Afrika ná 2 Februarie 1990, toe onderhandelings met die ANC begin het, weer ’n teiken van negatiewe propaganda geword. Die SAW is verder ook toenemend in swart woongebiede ontplooi waar ’n ander oorlog, sedert 1986 toe ’n noodtoestand afgekondig is, in intensiteit begin toeneem het.
Die soldate van die SAW het dus nooit aan die einde van die Grensoorlog die nodige erkenning gekry vir hulle aandeel in die daarstelling van stabiliteit en vrede in Namibië nie. Inteendeel, weens die politieke verwikkelinge in Suid-Afrika het hulle weer ’n teiken vir negatiewe propaganda geword. Die onbeantwoorde vrae het net meer geword en die onsekerheid of al die opofferings tydens die Grensoorlog werklik die moeite werd was, het toegeneem.
Hoewel die Suid-Afrikaanse Veiligheidsmagte en veral die SAW soms gevoel het asof hulle vir die wolwe gegooi is, het hulle tydens die oorgangsproses ’n kritieke rol vervul om stabiliteit vir die verkiesing in 1994 te verseker. Weer eens is hulle nie werklik vir hulle aandeel bedank nie en het hulle ook nie die erkenning gekry wat hulle verdien het nie. Daar is glad nie aandag gegee aan die ontnugtering van dienspligtiges wat weer eens gevoel het dat hulle die oorlog verloor het nie. Verder is die Burgermag-eenhede, wat ’n jare lange tradisie in Suid-Afrika was en ook ’n groot bydrae tot stabiliteit in die oorgangstyd gelewer het, verplig om te ontbind.
Ek het ook besef waarom die WVK my so ontstel het. Hoewel hierdie kommissie ’n belangrike terapeutiese rol vervul het deur openbare erkenning te verleen aan mense wat weens apartheid gely het, het prof Piet Meiring, medevoorsitter van die kommissie, tydens ’n persoonlike gesprek aan my gesê dat dit baie jammer is dat so min Afrikaners, en veral ook dienspligtiges, aan die proses deelgeneem het. Hermann Giliomee wys ook daarop dat die WVK se ondersoek, wat twee jaar geduur het, hoofsaaklik op die gruweldade wat deur veiligheidsmagte gepleeg is, gefokus het en dat dit met maksimum publisiteit gepaardgegaan het.29 Die onthullings hiervan was ’n groot skok vir wit mense, en veral Afrikaners, wat grotendeels afgesonder was van die oorlog in die swart en bruin woongebiede en die maniere hoe inligting verkry is. Vir die meerderheid wit mense en veral die SAW was die WVK dus nie versoenend nie. Dit kan miskien die rede wees waarom daar vir ongeveer tien jaar ’n stilte in die Afrikaner-geledere was en daar in dié tyd so min oor die Grensoorlog geskryf is.
Die meeste wit mense en meer as die helfte van die Afrikaners was volgens Hermann Giliomee in die jare negentig hervormingsgesind. Hierdie siening word deur die uitslag van die referendum van 1992 bevestig.
Die Viëtnam-veterane het eers met die oprigting van die Viëtnam-oorlogsgedenkteken ervaar dat die onreg teen hulle reggestel word. Ken Smith, wat besoeke aan die gedenkteken organiseer, het sy eerste besoek aan die gedenkteken soos volg beskryf: “Ek onthou sekere ouens, ek onthou sekere reuke, ek onthou sekere tye, ek onthou die reën, ek onthou Oukersaand, ek onthou die weggaan. Ek was in ’n paar lelike voorvalle betrokke – ek onthou hulle. Ek onthou gesigte. Ek onthou … Vir sommige mense is dit soos ’n begraafplaas, maar vir my is dit meer soos ’n katedraal. Dit is meer soos ’n godsdienstige ervaring. Dit is meer soos ’n katarsis.”
Die besoek aan die gedenkteken het Ken Smith gehelp om vrede te maak. Dit het hom versterk om te doen wat hy moet doen.30
Die afgelope paar jaar is daar ’n groot toename in die skryf van boeke oor die Grensoorlog, die ontwikkeling van webwerwe op die internet waar gesprek oor die oorlog gevoer word en besoeke aan slagvelde. ’n Muur van herinnering is ook opgerig en verskeie inisiatiewe van veteraanorganisasies is aan die gang om seker te maak dat dit wat hulle ervaar het, nie vergete raak nie. Hierdie inisiatief kan verder deur die gemeenskap ondersteun word om sodoende vir hulle meer erkenning te gee.