Читать книгу Noudat slapende honde - Ronelda S Kamfer - Страница 9

’n gewone blou Maandagoggend

Оглавление

dit was ’n gewone blou Maandagoggend

êrens het ’n ma haar kind se lyk gaan uitken

ek het my gewas, tande geborsel en my bio-taak afgehandel

op die yskas was ’n briefie van my ma

wat vra dat ek tog nie die breyani so sterk moet maak vanaand nie

my sussie het haar sokkies gesoek en by halfag het ek die voordeur gesluit

en die sleutel op die ou plek gaan wegsteek

by die huiswinkel het ek twee los sigarette gekoop

en in my sokkie weggesteek

op die hoek van Wildflower- en Rosestraat

het ’n meisie saam met haar toekomstige moordenaars gejoke

in my kop het Dylan Thomas geskreeu

do not go gentle into that good night, rage, rage against the dying of the light

in die voorligtingklas het my hoogswanger beste vriendin begin bloei

buite in die straat was daar ’n paar gunshots

by eerste pouse was daar ’n lyk in Skoolstraat

’n miskraam in my klas

’n uitstel op die bio-taak

en ’n vrou wat gillend in die straat afhardloop

en vir die Here vra

“waar was Josef toe Jesus gekruisig is?”

Noudat slapende  honde

Подняться наверх