Читать книгу Kom sit aan - Rudi Swanepoel - Страница 5
Om ’n tafel te dek
ОглавлениеEen van die eerste dae lange retraites wat ek bygewoon het, was op ’n pragtige wildreservaat buite Pearston in die lieflike Oos-Kaap.
Die Pearston-distrik is ’n magiese en betowerende plek. Dis ook stil. Baie stil.
Tydens die stil tyd op die stil plek het Willem Nicol ons begelei om stil te word. Indien jy al deur so ’n proses gegaan het, sal jy weet dat dit baie makliker klink as wat dit is, veral as jy ’n besige mens met ’n woelige brein en duisende kruisende gedagtes is.
Een van die maniere waarop Willem ons gehelp het om te fokus, was deur ons aan te moedig om ’n meditasiewoord te kies. Sy riglyn was dat dit enige woord kan wees, maar dat dit sal help as die woord uit die Bybel kom, as jy ’n ander verbintenis (met die woord) het of ten minste een kan maak.
My woord was “brood”.
Brood, maar nie net brood nie.
Brood wat lewe gee.
Hy, wat die brood is wat lewe gee.
Hy, die brood wat gebreek is sodat ons kan lewe.
Brood. Lewe.
Vandag, etlike jare later, draai baie dinge wat ek daagliks en weekliks en maandeliks doen rondom brood. Ek bak brood, eet brood, deel brood, dink aan brood.
En elke nou en dan kry ek so lus vir die reuk van bakkende brood dat ek sommer helder oordag, op ’n doodgewone weeksdag, deeg begin knie. Om brood te bak is sonder twyfel terapie. Vir my lê die terapeutiese waarde daarvan hierin: in my werk as predikant sien ek nie te gereeld eindprodukte nie. Ja, sake en take word afgehandel, maar heel dikwels is my dagtaak onafgehandeld: die saamstap wanneer verlies verwerk word, die hulp aan iemand in nood, noem maar op. Om ’n brood te bak het ’n begin, ’n middel en ’n einde. En neffens na die einde kan jy proe aan jou handewerk.
Tydens die laaste maand voor die voltooiing van die manuskrip (wat hierdie boek sou word) lyk my daaglikse roetine só:
My foon maak my 04:30 wakker. Ek staan deesdae baie minder teësinnig op as toe ek jonger was. Dit neem my dan 35 minute (maar soms 33 en soms 37) om reg te maak om te gaan draf. Dis nie dat ek lank neem om te besluit wat om te dra nie. Hierdie ongekende lang tyd word in beslag geneem deur die maal van koffiebone, die maak van espresso in ’n Italiaanse patent (die outydse tipe wat uiters meganies en ongesofistikeerd op die stoof werk deur stoom te genereer en týd nodig het), die tydsame drink van die koffie en ’n (soms ingewikkelde) besoek aan die badkamer. Niemand wil in die knyp hardloop nie.
Daarna draf ek tussen 8 en 10 km deur Johannesburg se boomryke strate. Dis meestal ’n plesier, want dis mooi. Dis soms ’n uitdaging, want in die winter sukkel ’n mens byvoorbeeld om die oneweredighede op die sypaadjies of ’n waterplassie (nie altyd skoon reënwater nie) langs die pad te sien.
Die mooiste deel van die verskillende roetes is die bome: jakarandas, platane en eike. Hulle het die vermoë om ’n mens beter oor die stad, die land en selfs jouself te laat voel.
Hulle gee ook asem.
Teen 06:05 is ek terug by die huis.
By die huis gekom, is ek gewoonlik rasend honger, gedryf deur ’n irrasionele vrees dat ek nooit in my hele lewe ooit weer gaan eet nie. Ek eet meestal ’n sny roosterbrood met sjokoladesmeer op (te vinnig), of ’n sny roosterbrood met grondboontjiebotter en heuning.
Hierna moet die hoenders kos kry. Hierdie swerm bestaan uit 13 van Johannesburg se voorste lêhenne. Hulle is ’n reënboognasie: ’n paar is amper wit, enkeles is bruinerig en ’n groepie is na aan pikswart. Die meerderheid is nie wit nie en die bruines was eerste hier.
Dit neem minder as vyf minute om hulle kos te gee.
Dan eet ek ontbyt, omring deur ’n swetterjoel kinders – die beste in die wêreld. Terwyl ek hier skryf, wissel hulle tussen 9 en 17 jaar oud. Die span bestaan uit vier: drie dogters (die oudstes) en ’n seuntjie.
Hulle ma is instrumenteel in een van die grootste wonderwerke wat haar (in hierdie geval moet ’n wonderwerk ’n sy wees) op elke moontlike skooldag herhaal: almal kry kos (vir ontbyt), almal het tasse en sportsakke (met allerlei dinge in: van leë toiletrolletjies vir herwinning tot komponente van tegnologietake) en dan die fabelagtige klimaks – niemand het iemand vermoor nie.
Carina is eiehandig verantwoordelik vir hierdie herhalende mirakel.
Ontbyt is nooit klein nie. Dit bestaan ten minste uit geskilde en gesnyde vrugte (die soort wat self voorberei is, deur Carina), jogurt (die mense wat vir die winkel werk, het dit gemaak), granola (ons oudste dogter se entrepreneursproduk waarmee sy al berge versit gekry het), eiers na smaak (tussen vier kinders is daar talle voorkeure, na gelang van buie) en soms spek.
Op die stoof wag daar hawermoutpap (die resep gaan saam met ons graf toe, tensy ek anders besluit), slappap of krummelpap.
Op spesiale dae is daar vars uitgedrukte lemoensap. Daar is elke dag koffie en water, en tans drink vier van die ses van ons ’n koppie moer.
Om 06:40 vertrek ons skool toe. Teen 06:55 is die meeste kinders uit die kar uit, maar soms bly een agter wat ’n woord (meestal bemoedigend en sag, soms minder sag) nodig het. Ek ry 07:00 terug huis toe.
Op 46-jarige ouderdom baat dit my geweldig om my liggaam te strek. Dus, ná my tweede koppie koffie, hier teen 07:30, lê ek op die TV-kamer se vloer en strek elke moontlike spier wat my verbeelding gaan rek en my gemoed gaan lig.
Dan stort ek en trek aan, om teen ongeveer 08:30 voor (of is dit agter?) die rekenaar te kom sit.
Ek tik. En delete, dink en wroeg.
Soms lag ek terwyl ek skryf, en dit het al ’n paar keer gebeur dat ek huil.
Teen 11:30 is ek gedaan. Dis ’n vreemde moeg, want jou lyf het nie baie beweeg nie, maar jou brein was soms wel so op hol dat die gedagtes met mekaar gebots het en jy bang was iets brand uit.
Dis amper middagete. Middagete is ’n vleis en groenigheid: groente of slaai of albei.
13:00 is die perfekte tyd vir ’n middagslapie, wat in my geval 25 minute (dis ’n standaardtydhouer op my foon) duur.
13:30 is dit tyd vir my derde koppie koffie van die dag. Terwyl dit op die stoof brou, eet ek twee blokkies donker sjokolade, oftewel een rytjie. Dan drink ek my koffie.
Om 13:50 trek ek weg om een of meer kinders te gaan haal. Hulle het dan aktiwiteite, maar nie so baie soos baie ander kinders van hulle portuur nie. Ook nie so min soos sommige nie.
Teen 16:00 is daar kans om aan aandete te begin dink of om dit aanmekaar te slaan. Tussendeur moet die werfdiere weer kos kry, want die dag is lank en swaar. Dit neem langer as in die oggend, want die eiers moet uitgehaal word. Dit is ’n daaglikse lucky packet, want ’n mens weet nooit vooraf of daar ’n dame is wat ’n bietjie lyf wegsteek of op die randjie van haar oorgang is nie.
Partykeer is daar 7 eiers, soms 11. Slaan ’n mens ’n dag se uithaal oor, is daar baie, genoeg om te kan deel.
Soms word daar dan 18:00 geëet, nou en dan ’n bietjie later, want die groter kinders maak van tyd tot tyd eers later klaar.
Saans is daar dalk kans om ’n episode van ’n goeie of snaakse (of albei) reeks te kyk. Dit word gevolg deur lees (op die oomblik is dit navorsing), en teen 21:00 (of daar rond) word die lig afgesit.
Die volgende dag?
Herhaal.
Wat is dit om te eet?
Is dit die bevrediging van ’n drang? Die inneem en verteer van voedsel? ’n Hervulling, soos om vulstasie toe te gaan en petrol te kry?
Is dit ’n ewige sloer, ’n herhalende taak wat onuitputbare aandag verg? Is alles wat met kos verband hou ’n onophoudelike en sieldodende ritueel van beplan, bekom en bewerk, om bloot aan die lewe te bly en te sorg dat ’n mens nie tot stilstand kom en ophou werk nie?
Of kan kos en eet – selfs die onafwendbare noodsaak van die alledaagse – teruggeëis word as heilige daad, as méér as die ooglopende, as toeganklike sakrament, as manier om in verbondenheid te lewe, deels in die wete dat jy nooit geïsoleerd is nie, selfs al voel dit so?
En gegewe die meedoënlose geneigdheid van die lewe om uitmekaar te wil val, is die tafel nie die plek waar ’n mens jouself en ander weer bymekaar kan kry, die plek waarheen jy telkens kan terugkeer om te baklei teen verbrokkeling en verval nie?
Wat van herinneringe? Wanneer iets vir jou ongelooflik lekker is, is dit nie deels omdat jy ’n smaak, geur of gebeurtenis onthou nie? Is jou tafel nie ook die plek waar jy ménse onthou nie: voormalige vriende, afgestorwe familie, kuiers op ander plekke?
Die feit van die saak bly: eet gaan jy eet. Jy gaan moontlik tot op die heel laaste dag van jou lewe (waaraan jy so pas nader beweeg het as toe jy hierdie boek opgetel het) eet. Tensy jy die res van jou lewe op jou skoot of haastig in die loop gaan eet, gaan jy by tafels sit: kombuistafels, eetkamertafels, restauranttafels, bruilofstafels, vergaderingtafels, basaartafels, koffietafels.
Jy gaan soms alleen eet, en gereeld saam met ander. Jy gaan wonder wat om volgende te eet en vir ander mense in die teekamer vra wat op hulle broodjies is of watter eetplan hulle tans volg.
Jy gaan nog baie eet.
Maar jy hét ook al baie geëet. Jy het al te veel geëet, dalk ook ’n slag te min. Dalk “reg” en dalk “verkeerd”. Jy het in gelukkige tye geëet en in hartseer tye. Jy het slegte en lekker kos geëet, op mooi plekke en op ongemaklike plekke.
Jou kos was al skreeulelik en gedaan gekook, maar dikwels ook asemrowend pragtig en vars. Dit was soms goed gegeur en kleurvol, soms smaakloos en vaal.
Met ’n bord kos voor jou het jy al jou diepste geheime gedeel; jy het gelag dat jou maag en jou rug pyn. Jy het geluister, gedink, gepraat en was soms spyt oor wat jy kwytgeraak het.
Jy ís geraak, jy ís gevorm; jy hét geraak, jy hét gevorm.
By tafels, op stoele, terwyl jy geëet het, het daar al baie gebeur.
Die persoon wat hier skryf, is maar ’n heiden. Dalk was ek vir ’n vlugtige wyle, moontlik hier rondom my laat hoërskooljare, ’n vorm van ’n geestelike persoon. Maar dit was so kortstondig soos ’n uitgedyde soufflé wat nie die dapper beeld kon volhou nie en toe maar teruggesak het. Sedertdien is ek ’n mens.
Hierdie mens se oordeel is meestal nie uitstaande nie. Ek neig om oorhaastig te wees, praat te vinnig (en soms te veel), dink skrikwekkende dinge en doen soms iets wat my skaam maak.
Hulle sê jy moet daai ding doen (vir ’n lewe) wat jy wou of kon doen toe jy 12 jaar oud was. Nou, in daai tyd het ek my eerste opstel geskryf waarvoor ek volpunte gekry het. Ek was gek na woorde en my verbeelding was op hol. Ek was vrot en pateties op die rugbyveld, maar my kop was vol en my drome kleurryk en onbeskryfbaar. En onoorvertelbaar.
In standerd 7 gebeur daar toe ’n ding. Mev Barnard, my Afrikaans-onderwyseres op Lichtenburg, het my beveel om ná klas agter te bly. Hoekom dan? Dit was om my aan te moedig om dorpsbiblioteek toe te gaan en enigiets van André P Brink te gaan uitneem. En dit te lees.
Ek het dit verslind. Alles.
Hierna was ek nooit weer dieselfde nie. Wêrelde het oopgegaan. Grense is verskuif. Denke is geprikkel. Ek dink ek het ook vir die eerste keer diep bewus geword van die wrede gradering waaraan mense mekaar kan onderwerp, van die bokse waarin almal tog net moet pas en die knelling wat ontstaan wanneer ons nie leefruimte het en vir ander gun nie.
En ’n liefde vir letterkunde het ontstaan.
Een van my groot sondes wat egter hierop gevolg het, was dat ek Afrikaans II op universiteit deurgekom het sonder om ’n enkele klas by te woon. Tot vandag toe is dit ’n wandaad waarop ek nie vir een oomblik trots is nie. Ek besef dat dit veel eerder ’n verlies is, ’n geleentheid wat misgeloop is.
Sedert my 15de lewensjaar wil ek kook. Ek het al verskeie fases beleef: 13 variasies op ’n tunaslaai, eksperimente wat sjokoladesous met vleis gekombineer het (dit was in der waarheid ’n kompetisie tussen my en ’n kosbare vriend) en natuurlik ’n oordaad-hoofstuk. So erg was die oordaad (darem nie lank nie) dat ek een aand ná ’n ontsettende stuk vleis (daar was avo en peppadew ook betrokke, en wyn, mildelik en skoon ingeneem) met my gesig in die bord, aan tafel, aan die slaap geraak het. Daarop is ek ook nie trots nie, hoewel dit ’n bogemiddeld vermaaklike storie is.
Vir ’n kortstondige 14 maande het ons ’n restaurantjie in Bedford in die Oos-Kaap gehad. Die idee daaragter was soos volg: Ek het dit beskou as ’n uitbreiding van ons eetkamer, met die verskil dat ons gaste betaal het om te kom eet.
In dié tyd het ek meer geleer as in die voorafgaande 34 jaar. Ek het ook meer gedroom. En onder meer geleer dat ’n mens nie jou personeel kan betaal deur net te droom nie. Die herinneringe? Onvervangbaar. Ek onthou die feestelikste Nuwejaar ooit, met Dominee wat gou-gou om 23:00 ’n stort gaan vat het om 23:15 die erediens te lei en skuins na 00:15 weer sy opwagting by die restaurant gemaak het om tot ounag te kietermaai (ek was voltyds predikant en voltyds kok/eienaar).
Ek onthou skaapboude wat in brooddeeg in die oond gebak is, heel beesfilette wat vir groot groepe in stukke gesny is, pastamaak-werksessies en wynproeë. Die beste van tye, en die slegste van tye.
Met die opening van die restaurant in 2007 het ek 73 kg geweeg. Drie maande later het ek die skaal op 65 kg getrek. Die finansiële druk was geweldig en grotendeels my eie skuld. My en Carina se verhouding het nie die druk vrygespring nie en nog ander verhoudings het swaar getrek. Dit was baie, baie moeilik.
Daar kom altyd ’n dag dat die onafwendbare onafwendbaar is. Die keuses is op. Daai soort dae is hartseer, maar bring ook ’n soort verligting wat nie ver verwyderd is van die verlies nie.
Ons moes toemaak en verkoop en die skuld wat ons kon betaal, betaal. Dit was pynlik.
Ek het ’n sware taak gehad om te probeer sin maak van wat gebeur het. Een van die moeilikste goed wat ek moes doen, was om myself te vergewe vir swak besluite. Met die hulp van baie genade en onvervangbare ondersteuning van familie en vriende kon dit uiteindelik gebeur.
En snaaks genoeg het die mees onverwagte en positiewe dinge, wat nog geslagte lank waarde sal hê, daaruit voortgekom. Dit was dus nie tevergeefs nie.
Daarna het ek heel gereeld gewonder of ek ooit die storie sou kon vertel.
Dit is nie daai storie dié nie.
Dalk is dié woorde ’n poging om dít te bereik: om te integreer, om bymekaar te sit, om die waarde wat ons aan alledaagse dinge kan heg (maar wat verlore geraak het) terug te bring, om heel te probeer hou, om krag te gee en moed in te praat.
Want terwyl eet ’n baie natuurlike ding is, is dit nie altyd maklik en ongekompliseerd nie. Dit omvat baie fasette, baie geskiedenis, baie bestanddele, baie maniere, baie moontlikhede.
My missie met dié boek is om twee dinge te bereik: om mense lus te maak om self te kook, en om mense uit te nooi om saam te eet. En teenwoordig te wees wanneer hulle dit doen.
Ek besef deeglik dat daar baie hindernisse is wat dit moeilik maak: min tyd, gebrek aan selfvertroue of ervaring, selfs vrees.
En tog meen ek dit moet ons nie verhinder nie.
As jy self wil kook, begin klein. Jy hoef nie op dag een al suurdeegbrood te bak of ’n restaurant oop te maak nie. Leer iets. Probeer iets. Gaan kuier by iemand wat weet. As jy desperaat is, kyk ’n YouTube-video, maar gaan leer eerder by ’n regte mens. Luister wat die eksperts jou kan vertel en moenie skrik vir nuwe dinge nie.
As jy alleen is, gaan soek iemand om langs jou te staan. Neem daai stap. Waag dit net.