Читать книгу Kom sit aan - Rudi Swanepoel - Страница 7
Offerkos (iets sterf sodat ons kan lewe)
Оглавление’n Mens kry jou energie uit dít wat jy eet. Die plant en dier wat op ons bord beland, het ’n wyle terug nog geleef: die dier deur die klop van ’n hart en die plant deur ’n magiese proses van fotosintese en absorpsie van water, minerale en ander voedingstowwe.
Die groeiproses is egter beëindig voor die kos in jou yskas of op jou bord beland het. Dood het ingetree en as verwerking of bewaring nie sou plaasvind nie, sou verrotting die uiteinde wees.
Maar dis juis weens dié onafwendbare feit – die feit van die dood – dat ek en jy aan die ontvangkant van lewensonderhoudende energie beland. Ons kan eet en leef omdat iets gesterf het.
Daar is baie mense op die aarde. Miljarde. Dié mense moet almal eet en drink om aan die lewe te bly. Die volume kos wat deurentyd nodig is om die wêreldbevolking te voed is aardskuddend.
Kan jy jou dit indink?
In Amerika alleen word daar beraam dat 39 000 000 hektaar grond gebruik word vir mielieverbouing. Sowat 94 400 000 beeste bewandel die lengte en breedte van Amerika. Ongeveer 135 000 000 hoenders word daagliks wêreldwyd geslag.
Kolossale bedrywe bestaan en ontstaan rondom die mens se behoefte aan kos. Die verbouing van voedsel en neweprodukte benodig tallose werkers, maar die landskap verander vinnig en voortdurend weens onder meer meganisering.
Die feit bly staan, kos is groot. Kos is lewend, gaan dan dood, verskaf dan energie en lewe. En die siklus gaan aan.
Ek wonder soms hoeveel mense dink aan die dood wanneer hulle aansit vir ete. Die naakte werklikheid is dat alles op jou bord, of dit slaaiblare of biefstuk, graanvlokkies of skaapvleisblokkies is, eens geleef het. Die plante het nou wel nie noodwendig ’n hartklop gehad nie, maar hulle het gelewe.
En toe plante gepluk is, of begin verwelk het, of diere geslag is, het die dood ingetree. En verrotting.
Of begín intree.
Dis dié dood – die dood van ’n plant of ’n dier – wat vir my en jou lewe gee. Sonder dood kan daar nie lewe wees nie en kan energie nie oorgedra word nie.
Die oordra van energie is op sigself ’n wonder.
Dink maar aan koring. Die koringplante groei, is geil en groen op die lande en vorm koringare. Dit bereik die einde van hulle lewe, verbruin stadig en “sterf” uiteindelik. Die koring word geoes en gemaal. Die koringkorrels se doppe word uitgewan; die kosbare korrels wat oorbly, word gemaal.
Meel is gemaalde koring. Meel lyk dood. En as dit ongebleikte meel is, vaal.
Maar vaal meel kan weer lewe. Dit kan lewe kry, nadat dit met water en gis gemeng is. As die verhouding tussen die elemente reg en die toestande gunstig is, groei die deeg, dit rys en het die potensiaal om brood te word.
As dit teen ongeveer 200 °C gebak word, word dit eetbaar, smaaklik en voedsaam. Dit bevat energie, dit géé energie. En onderhou lewe.
Energie is oorgedra. Wat “dood” was, gee lewe. Gee wéér lewe.
Is dit nie ’n wonder nie? Is dit nie die mees fantastiese daaglikse wonder nie?
Ons lewe nie daagliks (of gereeld) met die bewustheid dat iets gesterf het sodat ons kan eet en leef nie.
Hoekom nie? Want ons verbou nie ons eie kos nie. Baie min van ons leef in voeling met eetbare plante en diere.
Verbeel jou ’n oomblik dat jy nog nooit op ’n plaas was nie en nog nooit ’n TV-program oor die verbouing van kos gekyk het nie. Kan jy jou dit indink?
Nou goed.
Waar kom jou kos vandaan? Van die winkel af.
Jou melk is in ’n plastiekbottel, jou wortels in ’n sakkie. Jou vleis is in kleefplastiek en polistireen toegedraai, jou wyn kom in en uit ’n bottel.
Jy dink aan jou kos as die item wat jy vanoggend by die winkel gaan koop het en vanaand in die oond gaarmaak. Jy dink nie dieper nie, verwonder en verbeel jou nie.
Voeg daarby die voorafbereide maaltyd, die mikrogolfete wat straks binne net drie of vier minute eetgereed is. Wanneer jy wag vir die maaltyd om eetbaar te word, foon in die hand, besig om te kyk wat ander mense so pas gedoen het of besig is om te doen, is jy ver verwyderd van wat jy eet.
Jy hoef geensins te dink aan waar jou kos vandaan kom, wat dit geverg het om jou te voed en hoeveel energie die son en aarde oorgedra het sodat jou bloed deur jou are kan bruis nie.
So terloops, jou bloed reis ongeveer 19 000 km daagliks deur jou redelik ingewikkelde en delikate bloedvaatstelsel. Dit verg nogal moeite. En daai krag moet iewers vandaan kom.
Oor dié krag, oor die werking van energie en die krag van jou hart, kan ’n mens nie anders as om verwonderd te wees nie.
Dink net, dis moontlik dat jy jou lewe deurbring as verbruiker. Jy koop en eet. Jy dink nie dieper nie, kyk nie verby die slaai se vervaldatum en die kleur van die maalvleis nie.
Dit hoef nie so te wees nie. Jou vermoë om dieper te kyk maak moontlikhede oop, wakker jou kreatiwiteit en nuuskierigheid aan, voeg betekenis by jou lewe, help jou om te waardeer wat op jou bord is en wat jy het. Dis ten diepste ’n geestelike ding.
Wanneer jou eet en kou geïntegreer is met jou spiritualiteit, kan jy die sonstrale wat op die wingerd neerbak, waardeer vir die lewegewende energiebron wat dit is. Jy kan stadiger loop en soms stilstaan by ’n plant. Jy kan wonder of hy (of sy) genoeg water kry, of daar genoegsame voedingstowwe in die grond is, of hy gesond en gelukkig is.
Jy kan jou verwonder.
Hoe sou dit wees as jy jou eie kos moes oes, en as jy lus was vir vleis self jou dier moes doodmaak? Sou jy anders gedink het oor kos, anders gevoel het? Sou jy meer nadenkend geëet het? Meer omsigtig geleef het? Dalk nie so baie geëet het nie?
Maar ons lewe nie so nie. Selfs die mees gesoute jagter koop (gereeld!) ’n vleisie en die ywerigste voorstedelike groentetuin-aanplanter loer in by sy of haar naaste supermark.
Ons het nie ’n band met wat ons eet nie. Nie vanself nie.
’n Paar jaar gelede het ’n vriendin van ons aangekondig dat sy gaan probeer om net vleis wat sy self doodgemaak het te eet. Ek dink sy het vir ’n ruk nie vleis geëet nie en toe maar teruggegaan winkel toe. Bitter min mense kan so leef.
So wat sou verander as ons – die besige stedelinge, die gulsige liefhebbers van gerief en genot – ten minste kon onthóú dat ons kos eens geleef het en moes doodgaan sodat ons kan voordeel trek?
Dalk sou ons – wanneer ons met dié bewustheid leef – meer respek gehad het; meer respek vir lewe, vir tyd, vir natuurlike hulpbronne, vir die son se warmte en vir die koelheid van bergwater. Dalk sou ons anders gekyk het na beknopte hoenderplase en weivelde waar beeste en skape stap.
Miskien sou ons meer dankbaar gewees het, dankbaar vir die draai van seisoene en die wonder van biodiversiteit en die skoonheid van die fynste genetika wat ingewikkelde boodskappe dra en die regte sel op die regte tyd laat verdeel en groei.
Sou dit moontlik wees dat ons ons plek kon ken, ons fyn, uiters brose plek in die skepping, dié wêreld wat nou meer as ooit bedreig word deur plundery, die uitputting van hulpbronne en die uitwissing van spesies?
Skuldbelydenis is dalk hier in orde: ’n opregte erkenning dat ons nie bewerk en bewaak het nie, dat ons die oeropdrag geminag het, dit selfs heeltemal verkeerd verstaan het.
Dit is God se aarde dié, God se goed, sy diere en plante. Ons is nie die enigstes vir wie God lief is nie.
As ons só na die wêreld kyk, kan baie dinge verander. Ons kan verander. Die aarde sal anders wees.
Ons sal anders wees omdat ons anders oor die dood dink, en daarom ook oor die lewe.
Dit verbaas my redelik gereeld dat van die lande wat die slegste reputasies het as dit kom by die gebruik (misbruik?) en verantwoordelike omgaan met natuurlike hulpbronne ook die sogenaamde Christelike lande is. Of is dit ’n veralgemening? Ek dink nie so nie.
Het dit te make met ons beskouing van lewende dinge, watter waarde ons heg aan lewe, aan plante en diere wat lewe (en geleef het)? Dit het.
Christene behoort mense te wees wat weet dat lewe – alle lewe – heilig is en dat die dood nie onheilig is nie. Maar wat wel onheilig is, is misbruik, plundery en ’n onnadenkende lewenstyl.
Soos die meeste dinge, begin jou verhouding met die natuur en gepaardgaande hulpbronne met ’n beskouing. Hoe sien jy die aarde? Aan wie behoort dit? Wat is ons verantwoordelikheid teenoor die aarde? Deel ons (die mensdom) dié verantwoordelikheid of is dit net die juk van sommige besorgdes?
Is ons alleen, of deel van ’n onbeskryflik delikate netwerk, ’n ragfyn web van onderling afhanklike wesens, kragte, gebeure en geleenthede?
Is ons nie as afhanklikes geskep nie? Afhanklik van God, van mekaar en die natuur?
Maar toe, op ’n dag, word ons verbruikers. Pleks van versorgers en opsigters word ons heersers en vatters. En vergrype word moontlik.
So wat staan ons te doen? Kan ons aan ons lot ontkom? Is daar ander moontlikhede as om blote verbruikers te wees? Kan ons gered word van ’n verwoestende bestaan, waarin ons nie net opgebruik en afbreek nie, maar self ook opgebruik en afgebreek word?
Natuurlik kan ons.
Maar dan moet ons van posisie verander, onsself anders sien, dit wat ons doodmaak en eet nie net as tydelike voorwerpe hanteer nie, maar die verbondenheid waarvan ons geloofstradisie ons leer, werklik verstaan.
En dalk selfs verteer.
My pa was een van daardie welmenende vaders des huises wat binnensmondse en derhalwe onverstaanbaare tafelgebede gedoen het.
In alle eerlikheid: ons het eintlik almal geweet waaroor, waarvoor en tot wie hy bid. Dalk was die belangrikste ons ervaring dat hy dankbaar was en dat sy onverstaanbare (wel, vir ons) gebed ons al vier verenig het in ’n uitdrukking van waardering.
Ek wonder soms hoe my grootwordjare sonder dié gebed sou gewees het.
Sou ek geleer het van dankbaarheid?
Sou ek gedink en geglo het dat daar voorsien word?
Sou ek iemand buite myself leer erken en eer het?
Sou ek anders geglo het, of dalk glad nie?
Soos ek hier sit, is ek dankbaar dat God die onhoorbare hoor en die onverstaanbare vertaal.
Ek is dankbaar dat God weet.
Die kos op my bord herinner my daaraan dat iets moet sterf voordat daar lewe kan kom, hoe vreemd en paradoksaal en onmoontlik dit ook al klink.
Maar dankie. Te midde van die onverstaanbaarheid en die misterie hierin, dankie.
Want ’n offer is gebring.