Читать книгу Kom sit aan - Rudi Swanepoel - Страница 6

’n Verbond met ons voedsel

Оглавление

Die kos wat ons eet, is nie bloot koue voorwerpe wat ons verbruik nie. Alles wat ons eet, was eens lewend, het gegroei en is gevorm. Martin Versfeld sê die kos wat ons eet, is ons band met die aarde.

Bybels gesproke is daar natuurlik ook ’n heerlike perspektief hierop: Ons word in Genesis 9 vertel dat God ’n verbond met die hele aarde gesluit het – nie net met die mense nie. Die “hele aarde” sluit plante en diere in!

Daarom, wanneer ons eet, is ons eintlik besig met ’n heilige aktiwiteit.


Dis maklik om te verorber, sonder aandag te eet, te verslind, te veel te eet, sleg te eet en goor te voel omdat jy nie lekker eet nie.

Jy bevind jou op ’n glibberige afdraande pad wanneer jy jou oorgee aan kos wat te maklik na jou toe kom, aan soetgoed en aan feeskos wat spesiaal gemaak is vir ’n feesdag of ’n buitengewone viering.

Om aandagtig te eet, om die spiritualiteit van kos, produkte, voorbereiding en genot te bedink en te waardeer, is nie maklik nie.

Wanneer jy agt of nege of tien (of meer) uur per dag werk, nie ’n sterbeplanner is nie en dus vergeet om vooruit te dink, stop jy vinnig by ’n kitskosplek vir ’n hamburger en tjips, of by Woolies vir ’n maaltyd wat na ’n mikrogolf verlang.

Dis hoe baie mense vandag eet.

Vinnig.

Sonder om te dink.

Met min variasie.

Terwyl ’n kosprogram (dink Masterchef, My Kitchen Rules, Kokkedoor of Come Dine with Me) gekyk word.

En net dan en wan met so ’n bietjie verbeelding en ware plesier. Of saam met interessante mense.

Maar wat is die alternatiewe? Is daar minstens een werkbare, heilsame alternatief vir onnadenkend (en dikwels ongedissiplineerd) eet?

Daar móét eenvoudig wees.

Miskien is die antwoord weggesteek tussen die fyn lyne van spiritualiteit1.


Wat is spiritualiteit? Is dit nie om dieper, verby die voor die hand liggende te soek en te kyk en te sien nie?

Het spiritualiteit nie te make met ander dimensies en meer interpretasiemoontlikhede – van alles wat is, alles wat ons beleef en alles wat ons waarneem – nie?

Is die uiteinde van lewegewende spiritualiteit nie groei en onuitspreeklike tevredenheid nie?

Spiritualiteit is ’n mistieke ding; dis die waardering van die onverklaarbare; dis ’n verwondering oor dit wat is (oor álles wat is), die skeppende vormgewing aan wat kan wees en ’n proses van vrede maak met dit wat nie is (of nog nie kan wees) nie.

Spiritualiteit is om in verbondenheid te leef. Dis om bewus te wees van die onderlinge koppelinge en delikate skakels tussen alles en almal, gebore uit God se verbondenheid met alles en almal wat is.

Redelik aan die begin van die Bybel word die oerverhaal van Noag en die ark vertel. Ons onthou dalk die storie uit ons kinderdae: Dit wat ons bygebly het, is die prentjies van ’n man en ’n gesinnetjie, maar ook veel meer – ’n ellelange ry diere wat doelgerig teen ’n plank op stap tot in die groot, veilige houtskip, twee-twee in perfekte paartjies.

Dan die grys lug, die baie water en die onophoudelike reën vir 40 dae en 40 nagte aaneen.

En natuurlik die reënboog.

Die deel wat ons vergeet, is dat die reënboog juis ’n verbondsteken was.

Ons het natuurlik die besonderhede van die verbond wat God met Noag gesluit het heeltemal misgelees. As jy mooi kyk, doen die skrywer(s) nogal moeite om die omvattendheid van die verbond te beduie. God se verbond met Noag is ’n verbond met hom en sy mense, maar ook met die diere, die plante en al die lewende wesens. Dit staan so. In die Bybel.

Dis asof alles wat is, ingesluit word. Niks wat is, word uitgesluit nie.

Wat sou dit tog beteken?

Dit beteken dat God nie ver is nie, maar verbind, verbonde aan die aarde, aan die lewende wesens wie se lewe almal deur die aarde, Moeder Natuur se kosbare hulpbronne en intiem verweefde ekosisteme moontlik gemaak word.

Dit beteken dat God omgee, dat God besorg is oor mens en dier en plant en produksie en plaas, en aanhou om Hom as sorgsaam te openbaar.

Dit kommunikeer dat die mens telkens sy of haar plek in die delikate netwerk van alle geskape dinge vergeet en dat dinge dan uitmekaarval.

Dit eggo ook die boodskap van die skeppingsverhaal, dat die skepping bedoel was om goed te wees. En mooi, soos die reënboog ons herinner.


Wanneer ons eet, het ons eintlik een van twee keuses: Ons kan eet as onnadenkende verbruikers, of as bewustelike wesens.

Om as verbruiker te eet, beteken in ’n mate dat ons in kompartemente lewe. Ek gaan supermark toe, koop wat ek nodig het (of wil hê), gaan huis toe en pak dit weg vir wanneer ek dit nodig het.

Dan haal ek dit uit, verwyder die verpakking en gooi dit doer eenkant, verwerk en verbruik dit. Ek eet werktuiglik en om te kan funksioneer.

As ek só eet, kan ek eet terwyl ek e-posse beantwoord, TV kyk of selfs oor die foon gesels. Ek hoef nie te dink oor wat ek doen nie, en ek hoef nie bewus te wees van enigiets behalwe my drang na kos of die onmiddellike les van my dors nie.

Eet is ’n soort hindernis, ’n bysaak. Eet is nie belangrik nie, nie deel van iets groters as net die bevrediging van ’n oerdrang nie.

Dis ’n voortsetting en nie ’n pouse nie, ’n taak en nie ’n vreugde nie.

Dit word nie onthou nie.

Verbruikers eet wanneer hulle honger is en vergeet om te eet wanneer hulle nie is nie. Vir ’n verbruiker is ’n ete ’n lastigheid om uit die weg te ruim, ’n ding om af te handel, ’n irriterende onderbreking van ’n aktiwiteit of projek.

Dis vir verbruikers moontlik om kos, die voorbereiding en eet daarvan, bloot as ’n afdeling van hulle lewe te sien: nie geïntegreer met die res nie, nie verbind aan verhoudings, die natuur en ander mense nie.

Dis ook moontlik (eintlik waarskynlik) dat ons status as verbruikers ons menswees kan definieer.

Op dié skaal is dié wat baie kan verbruik boaan. Hulle is die kragtiges, die invloedrykes, die celebrities.

Hulle is, juis omdat hulle kan koop. En gevolglik het.

Gemeet aan die verbruikerskaal is mense soos die Kardashians boaan. Hulle menswaardigheid word bepaal deur voorkoms en besittings en die aantal (meestal histeriese) volgelinge wat hulle op sosiale media het.

Hulle is supermense, uitmuntende voorbeelde van verbruikers. Hulle is bemagtigdes, gevolmagtigdes, mense wat vol mag is.

Hulle kan (wetend of onwetend) bepaal of ’n tienermeisie maer of vet voel, of sy ’n realistiese selfbeeld het en of sy voel dat sy nie die paal haal nie.

Die interessante van die celebrity-kultuur is dat dit ons meer gereeld as wat ons dalk sou wou erken van onsself verwyder, van ander vervreem en ons van nadenkendheid beroof.

Die celebrity-kultuur skep voortdurend ’n soort onaantasbare, onbekombare hiperkultuur waar amper alles OTT (over the top) is; waar jy nie moet dink nie, maar net moet doen; waar jy nie wysheid aan die dag hoef te lê of self hoef te besluit nie; waar jy soms aangemoedig word om jouself te wees, maar dit eintlik nie durf waag nie. Dis ’n bestaan waar jy maar net moet begeer wat ander het en nooit jou eie lewe leef en besit en waardeer nie. Dis ’n sisteem, ’n masjien, ’n wêreldbeskouing, dikwels “materialisme” genoem. Dit meet die meetbare, tel die telbare en beoordeel die sigbare.

Dit vergeet die onsigbare, minag die onaantasbare en maak ’n bespotting van die geringe.

Maar ’n wending is moontlik – ’n lewegewende alternatief vir die geweldige verbruikerskultuur waarin die meeste Westerlinge hulle tans bevind, is binne ons bereik.

Dié alternatief word moontlik gemaak deur Christelike spiritualiteit en die ingesteldheid om bewustelik en aandagtig te lewe.

Talle verhale in die Bybel vertel hoe mense deur God wakker gemaak word. In Noag se verhaal het die wekroep te make met die mens wat “slegte dinge bedink” het.2 Dit was nie goed nie. Dit moes reggestel word, geheilig word. Die mensdom moes wakker word en besef dat die pad waarop slegte dinge bedink word nie na die lewe lei nie, maar juis na die dood.

Toe maak die sondvloed mense wakker. En ’n nuwe begin raak moontlik.

Die agent van die nuwe begin was nie ’n individu met een groot missie en een uitvoerbare plan nie. Die plan was nie duidelik beskryf en dig omlyn nie; dit was eintlik skrikwekkend eenvoudig.

Daar was pare diere, ’n nuwe aarde (skoongewas deur al die water) en ’n familie.

Die pare, die vars, vrugbare grond en die mense-in-verhouding was die plan, ’n plan geanker in die verbond wat God met Noag sou sluit.

Verbond.

Verbondenheid.

Netwerk.

Interafhanklikheid.

En bewustelikheid.

Saam.


Dis asof God die mens telkens moes herinner (en dit nog steeds moet doen) om wakker te wees, om dinge nie maar net te laat gaan nie, om nie oor te gee aan chaos en toe te laat dat gedagtes deur slegte dinge gevul word nie.

Om wakker te word is ’n saak van identiteit, van wie ons werklik is. Die proses vat ons verby wat ons kan doen (of reeds gedoen het) na hoe ons in dié wêreld leef; dit stel ons in staat om te besin, te besluit en vryer te raak as wat ons gister en eergister was.

Iemand wat wakker is, sien die “meer” raak, kyk dieper, vra meer vrae en oorweeg alternatiewe opsies.

Iemand wat wakker is, het die vermoë om verby die ooglopende te kyk en om ook ander moontlikhede raak te sien en die skynbaar onmoontlike te verwag.

Spiritualiteit is ook die geboorteplek van kreatiwiteit. Van droom, die droom van mý drome, in pas met my gesitueerdheid, die plek waar ek is, die gawes wat ek het, die moontlikhede wat ek in werklikhede kan omskep.

Dis hier – in my wakker staat – waar bewustelik eet moontlik word: eet nie as verbruik nie, maar as bewustelike daad, as alledaagse daad met dieper betekenis.

Dan word jou tafel gedek vir meer as net eet en verbruik.

Dan word jou tafel ’n wordplek, ’n aambeeld waar jy en jou tafelgenote gevorm word, waar julle potensiaal aangevuur word, waar jy en jou betekenisvolle mense bevestig word, waar julle uniekheid beklemtoon word en waar jy ander se uniekheid kan beklemtoon.

Hier – by jou tafel – kan jy aan ’n sinlose, bedwelmde bestaan ontkom, kan jy sien en hoor wat jy nooit sou gesien en gehoor en bedink het as jy bloot ’n verbruiker gebly het nie.

Jy kan mens word.


Dit moet een van die voor die hand liggende maniere wees om jou lewe radikaal te verander: om bewustelik te begin eet.

Die vraag is hóé.

God het ons genadiglik met sintuie geseën. Om kos voor te berei, te besluit hoe om dit voor te sit en dit uiteindelik te geniet is ten diepste ’n sintuiglike ervaring, vanaf die oomblik dat jy by die winkel inloop tot wanneer jy die eerste happie in jou mond sit – en daarna.

Om jou sintuie te gebruik moet jy wakker wees. Jy moet oplet. Jy moet die vermoë hê om in die oomblik te wees. Jou kop en hart werk saam met jou sintuie; dus help dit nie jy tel iets met jou vingers op, maar dink aan die frustrerende vergadering wat jy die afgelope oggend bygewoon het nie. Om in die oomblik teenwoordig te wees, beteken dat jou gedagtes en jou sintuie belyn moet wees, saam moet werk.

Wanneer jy in die oomblik is, teenwoordig is in die nou, kan jou gedagtes tekstuur en diepte begin gee aan die proses van kosmaak en eet. Jou ervaring kan nou ryk word, ryker word, gebou word, lyf gegee word.

Eet jy alleen, of gaan iemand saam met jou eet? Indien jy nie alleen gaan wees nie, weet jy hoe dit met die mense aan jou tafel gaan? Wat gaan julle eet? Wil jy graag hê dat dit vir hulle ’n lekker ervaring sal wees? Hoe wil jy hê moet jou gaste voel, selfs op ’n weeksaand? Met watter geure is jy besig? Aan wie of wat herinner jou bestanddele jou? Is jy besig om iemand se gunsteling voor te berei?

Wat gaan met die bestanddele gebeur waarmee jy besig is? Gaan die uie ’n bietjie bruiner en soeter word, en hoe gaan die verskillende geure waaruit jou gereg bestaan mekaar aanvul?

Wat gebeur wanneer jy varsgekapte knoffel by braaiende uie voeg? Hoe ruik dit?

Watter kleure is op jou bord? Is daar een, of meer as een kleur? Hoeveel kleure is daar? Twee, of drie?

Raak jy ’n oomblik stil voor jy eet? Skep jy ’n moment van nadenke, ’n dankbare gedagte, ’n gebed (onuitgesproke of verwoord), ’n gedagtenis aan diegene wat nie so gelukkig soos jy is nie?

Is die klein dingetjie – dié bordjie kos – nie dalk ’n baie groter ding as wat jy dink nie? Is die klein dingetjies nie die groot goed nie?

Jy sal weet wanneer jy bewustelik eet. En dit mag dalk net jou lewe verander.


Die proses van kos voorberei is wat die mens onderskei van ander skepsels. Denkers soos James Boswell en Claude Lévi-Strauss definieer die mens in terme van ons vermoë om te kook.

Dink daaroor: Alle diere eet, onthou, plant voort, maak keuses, maar net die mens kook. Net die mens neem bestanddele (blare, bessies, vrugte, blomme, vlees) en besit die vermoë om oneindige konkoksies deur kombinasies en verhoudings te skep. Net die mens kan sy of haar voedsel op skeppende wyse verwerk.3

Die spektrum van moontlikhede tot ’n mens se beskikking is verbysterend: ’n Oranje wortel kan uit die grond getrek, met vingers skoongevryf en net daar geëet word.

Dieselfde wortel kan geskil, gegeur, gekook, verpulp, versap, gestol, verkoel en met iets anders gemeng word.

Een kossoort, eindelose moontlikhede. Omdat die mens dit hanteer.

Kokende mens. Skeppende mens.

Onbeperkte moontlikhede.

Oneindige kombinasies.

Vele verhoudings.


Jou vermoë om te skep deur kreatiwiteit aan die dag te lê kom van iewers af. Maar kom álles nie van een bron nie? Alle tasbare dinge, maar ook alle abstrakte dinge: die water wat jou dors les en jou vermoë om verligting te ervaar ná ’n uitputtende staptog.

Alles.

Alles en almal in verbondenheid; niks of niemand, geen gebeurtenis of vreugde of krisis bestaan ooit in isolasie nie.

Die harde werklikheid is dít: Dinge val maklik uitmekaar. Alles en almal is broos. Die lewe se legkaartstukke moet bymekaar gehou word. Soms skuif hulle; soms sien ons die prentjie en soms nie. Partykeer vermis ons ’n stukkie en raak gefrustreerd. Of bang.

Maar dinge val maklik uitmekaar.

Een van ons take as mense is om dit bymekaar te hou. Weer bymekaar te sit. Te heg, te verbind.

Is die koninkryk van God nie die plek van heelword nie? Is God se verhaal nie een van hegting nie?

Is die hele lewe nie ’n skokkende ontdekking van die gebrokenheid van alles nie? Is die koninkryk van God nie die daaglikse geleentheid om deel te neem aan herstel nie?

Is Jesus se aankondiging dat die koninkryk van God naby gekom het nie die uitnodiging aan mense om deel te neem aan versoening, heelword, opbou nie?

Soms moet jy jou eie lewe herbou.

Soms – wanneer jy begenadig is met ’n meer heel lewe – kan jy meewerk aan die bou van ander se lewe. Maar die lewe is meestal ’n dans tussen die twee: aandag aan jou eie gebrokenheid en beskikbaarheid vir ander.

Jou tafel is jou verbindingsplek. Dis waar jy verbind raak met jouself, met die natuur, met ander mense en met God.

En dit wat op jou tafel is? Is dit nie ook saamgevoeg nie? Selfs al eet jy die eenvoudigste maaltyd – brood, botter en wyn, dalk kaas ook – is dit saamgevoeg; dis gekies; dit is op een tafel geplaas, bymekaargemaak, saam voorgesit.

Jy eet dit; dit word deel van jou lyf. Dit word gekou, gesluk. Dit word iets anders, verander vorm, gee jou jou lewe.

Jou tafel is jou heelwordplek; dis waar jy energie kry: nie bloot omdat jy brandstof inneem nie, maar omdat jy sake kan afhandel, perspektief kan kry en sekere goed kan agterlaat of saam met die brokstukkies oorskietkos in die vullisblik kan uitkrap.


God se verbond met alles wat is (Gen 9), sy verbond met Abraham (Gen 12, 15 en 17) en die ander Ou Testamentiese verwysings na die verbond is woordgebonde. God maak die verbond met woorde: woorde wat dui op trou en belofte. God gee sy woord aan sy mense, sy betroubare woord. Sy verbondsbelofte is duursaam, standhoudend en konstant.

Die mense – diegene aan die ontvangkant – antwoord ook met woorde. Hulle woorde is dalk minder indrukwekkend, maar die woorde is – by herhaling – “Stuur my.” Hier is ek. Ek hoor. Ek luister. Ek reageer.

En ons reageer met ons liggame: met ons lyflikheid en ons lywe se funksies, van voedsel bedink tot voedsel bekom, voedsel voorberei, aansit op ons boude, dank met ons harte, proe met ons tonge en kou met ons tande. Van water tot wyn, van melk tot kaas, van koring tot brood. Van glasies klink op goeie gesondheid tot vloeistof en oormatige vaste stowwe uitskei.

Om die uitskeiding te erken (en selfs te vier) is om die sikliese aard van alles te omhels. Het die Prediker nie gesê dat alles wat reeds was, weer sal wees nie? Het hy nie beskryf hoe daar niks nuuts onder die son is nie? Is dit nie ’n teken van heelheid wanneer ’n mens besef dat prosesse nie lineêr verloop nie, nie eens jou biologiese sisteme nie?

Jy eet vandag. Jy gaan môre weer eet. Jy gaan môre uitskei, en oormôre ook. Hopelik.

Ons hoor God se aanbod van liefde en trou met ons ore, ons antwoord met ons woorde, ons volg met ons liggame.

Die resultaat? Verbondenheid. Geaardheid. ’n Diepe besef dat ek nie los staan van die res van God se skepping nie, dat ek nie verhewe of geïsoleerd is nie, dat ek met my halfhartige hart en my bewerige knieë en my honger na reg en soms na verkeerd en my ewige dors aan God verbind is, en aan alles wat is.

My verbondenheid beteken dat ek nie bloot roekeloos kan verbruik nie, sover moontlik nie mag mors nie, myself nie mag uitlig en verhef bo die res nie, maar ook nie myself minder mag maak as die ander in die kring nie.

Waar ek my ook al bevind op enige moontlike spektrum (ryk-arm, lank-kort, man-vrou), bepaal nie wie ek ten diepste is nie. Ek is nie my geld, my goed, my vernuf, my plek nie.

Ek is veel meer my potensiaal, my bewustelikheid; ek is my ware identiteit in verbondenheid met God, geënt op ’n goddelike wynstok.

Ek is bekwaam genoeg vir wat ek moet doen.

Ek is geliefd.

Ek is in staat om lief te hê.

Ek is groot genoeg om te kan vergewe.

Ek is sterk, sterker as wat ek dink.

Ek is ’n komplekse, wonderlike lyf wat op ontelbare maniere funksioneer en verwerk en produseer.

Ek is elektrone en neurone en elektrisiteit en neuroses en sensasies.

Ek is die draer van herinneringe en gevoelens en drome.

Ek is meer as my slegste oomblik en minder as my beste.

Ek is.

Ek.4


Tafels is praatplekke. Tafels is ook luisterplekke.

Tafels is woordplekke.

Die eerste woord aan elke tafel is: “Welkom.” Jy, jou lyf, jou storie, jou emosie, jou mening is welkom.

Jou woorde is welkom.

My ore en my hart gaan jou woorde ontvang, my hande is oop.

My woorde aan jou gaan nie oordeel nie. En ek gaan nie net my ore oopmaak, vir ’n rukkie luister en dan uit die heup uit reageer nie; jou woorde kan bý my, ín my stowe soos ’n bredie byna moeiteloos sou doen.

Vir ons woorde om gevorm te word, het ons tyd nodig. En ruimte.

Ons woorde kry tyd, ons tafels maak plek vir woorde. By ons tafels werk ons woorde nie soos op Twitter nie; daar is nie beperkings nie, niemand sensor ons nie, dis nie oop vir die wêreld om te sien en te hoor nie.

Ons woorde is vir ons, deur ons, tussen ons.

Jou woorde, en my woorde. Ons woorde.

Hier, waar ons mekaar in die oë kyk en aan mekaar kan raak, gaan ons ons woorde goed gebruik. Ons gaan eerlik wees; en omdat ons eerlikheid ons weerloos gaan maak, gaan ons mooi op alles let. Ons gaan versigtigheid aan die dag lê, ons gaan nie toelaat dat ons woorde afbreek nie.

En wanneer ons woorde seermaak, gaan ons regmaak. Maar voordat ons gaan regmaak, gaan ons glo dat regmaak móóntlik is, dat seermaak (wanneer dit gebeur) nie die einde is nie, maar ’n spoedhobbel in die pad.

Ons gaan weer versoen raak.

Die tafel maak die waarskynlikheid vir versoening groter, want ek weet ons gaan weer hier moet sit. En ons albei weet dat dit niks lekker gaan wees as ’n woedende toestand gaan aankom en aanhou nie.

Ons het mos ooreengekom dat ons altyd weer by die tafel gaan bymekaarkom, nie waar nie? Dis tog deel van die verbond wat ons met mekaar het.


’n Huwelik is ’n voorbeeld van ’n verbond tussen twee mense. Daar staan julle by julle troue: uitgevat, opgewonde en dalk ook bang. Nou praat julle agter die predikant aan: Ek, met dié stel name (wat ek nie kon kies nie), kies jou, met jou name (wat jy nie kon kies nie), ons kies nou om saam te wees. Ons sê met ons woorde voor dié klomp (of paar) getuies – almal daar met hulle eie agendas en persoonlikhede en geite, sommige gereed om die reëls te oortree en ’n foto van die bruidspaar met die wye wêreld te deel – dat ons ons aan mekaar verbind.

Ons wil nie langer alleen wees nie, ons wil saam wees, saam iets bou, saam skep.

Ons het by mekaar uitgekom en nou wil ons by mekaar bly.

Om by mekaar te bly, belowe ons dat ons sal. Ons beloftes is so diep en so kosbaar en so ernstig dat dit ’n verbond is.

Ons het mekaar om ’n tafel leer ken: ’n studietafel, operasietafel, etenstafel.

Ons gaan mekaar by nog meer tafels beter leer ken en by daardie tafels onthou dat en wat ons belowe het.

Ons verbond maak dat ons in onsself, in mekaar en in ons verhouding glo. Ons verbond maak dat ons in versoening glo: die voortdurende geloof in die moontlikheid dat mense mekaar kan vind.

En weer kan vind.


Om aan mekaar verbind te bly, moet ’n mens kan luister. Luister en hoor. Hoor en luister. Jy moet kan plek maak, plek vir goed wat jy nie weet nie, vir idees wat jy nog nie bedink het nie en vir menings wat jy nie verwag het nie.

Om aan mekaar verbind te bly, moet jy nie die wêreld (en ander mense) na jou beeld wil vervorm nie; jy moet weet en onthou dat jy een van baie is, en so geldig soos wat jou wêreld is, so geldig is die volgende persoon s’n.

Om aan mekaar verbind te bly, moet ’n mens aandagtig en fyn kan luister.

Een van my mentors het dit so ontroerend mooi gestel: “’n Mens luister waarlik wanneer jy jou gedagtes en menings tydelik buite aksie stel ter wille van ’n ander.” Die Engelse woord vir dié “buite aksie stel” is suspend. Jy suspend jou ter wille van ’n ander. Dis luister, diep luister. Dis hoor, dis verstaan.

Om te kan luister het ’n mens tyd nodig. Maar ons het nie altyd tyd nie. Juis omdat ons nie altyd tyd het nie, moet ons tyd maak om tyd te hê. Ons moet besluit vir tyd – tyd om te luister.

Wanneer jy in verbondenheid met die mense om jou lewe, kan jy tyd opsy sit om te praat en te luister. Jy kan vir die mens by jou sê: “Dit gaan dalk nou moeilik wees om te gesels, maar kan ons vanaand?”

Dan kan jy jou belofte hou; jy kan onthou dat daai mens in jou lewe iets wou deel of bespreek of hoor. Wanneer jy opdaag omdat jy jou belofte gehou het, opdaag met jou ore en jou hart en jou hande oop, dan wys jy met alles wat jy het en op miljoene onuitspreeklike maniere dat jy omgee, dat die ander persoon belangrik is, dat hy of sy genoeg saak maak om tyd en aandag te kry.

Koffie of tee of kos, maar by ’n tafel.


Om gehoor te word is by uitstek ’n bindende ding. En om in verbondenheid te leef beteken ’n mens voel jy het ’n plek, jy behoort iewers.

In talle antieke kulture en gemeenskappe het mense byeengekom om probleme te bespreek en geskille te besleg. Deesdae voel dit asof ons almal weet wat die wêreld se probleme is, asof almal menings het oor die probleme en asof ons daardie opvattings eerder via ons slimfone deel as om van aangesig tot aangesig daaroor te praat – of selfs aan te raak, werkbare planne te maak en tot aksie oor te gaan.

Ons leef geïsoleerd.

Ons het verbondenheid vergeet.

Ons is alleen en kwaad.

En ons sorteer nie regtig ons issues uit nie.

Daar is al baie gesê en geskryf oor hoe ons deesdae ons keuses maak in terme van waarna ons kyk, na wie ons luister en wat ons lees. Die feit bly dat ons kies: In die wêreld waarin ons vandag leef, kiés ons ons bronne. Ons maak mense bymekaar van wie ons hou, met wie se menings en vertrekpunte ons saamstem. Dan luister ons na hulle en wat ons vermoed, word versterk. Ons vooropgestelde idees word bevestig en nie noodwendig uitgedaag nie.

Dit veroorsaak polarisasie en ekstremiteite, asook onverdraagsaamheid en onbuigsaamheid.

Ons het steeds ’n geweldige invloed op mekaar, maar dit gebeur per geleentheid, en hoewel die invloed hoegenaamd nie net negatief is nie, ervaar ons nie die onderlinge verbondenheid wat moontlik is tussen mense nie. In dié wêreld is dit moontlik om mekaar af te maak en af te skryf, weg te skuif en selfs te vergeet dat daar ander menings en stemme en perspektiewe is.

Ons begin onder die wanindruk leef dat ons altyd reg is, en dat ander meestal verkeerd is.

Tensy ons in dieselfde vertrek kom, tensy ons saam-saam sit, tensy ons by ’n tafel is met ons ore en harte oop.


Wanneer ons luister, wérklik na mekaar luister, onbevange en sonder vrees na mekaar luister, ontspring verbondenheid. Ons hoor mekaar nie net nie, ons sien mekaar ook. Ons sien en ons kry begrip, ons oordeel raak sagter en ons bekom insig.

Maar om te luister is nie so maklik soos om die ketel aan te skakel of die roosterbrood te verbrand nie. Luister is ’n kuns, ’n gesogte vaardigheid; dit is iets wat sielkundiges met baie moeite leer doen en wanneer hulle dit goed doen, gee hulle vir jou die gevoel dat jy gesien word, dat jy nie ’n blote toevalligheid of ’n ontydige lastigheid is nie.

Om te luister moet jy pause druk. Jy moet jou gedagtes, jou bekommernisse, jou menings en jou eie storie eers parkeer, ten minste terughou, vir ’n rukkie bêre.

Wanneer jy dit doen, maak jy plek. Jy skep ruimte tussen jou en jou genoot, ruimte vir die prater om te deel. Jy laat haar toe om play te druk, om haar waaksaamheid te laat gaan en maar net te gesels. Jy gee hom ’n onbekostigbare geskenk, die gevoel dat hy kan ontspan, dat sy ervaring en besorgdheid nie nietig is nie, dat dit in die oopte mag wees en nie weggesteek hoef te word nie.

Die waarheid maak ons vry.

Jou tafel kan jou plek van waarheid wees. Julle plek van waarheid. Alle waarhede, van gemaklik en ongekompliseerd tot dié met skerp kante en ontelbare fasette.

Maar jy moet daai tafel toe-eien, jy moet hom oormerk, jy moet hom opsy sit, jy moet hom dek. Selfs mooimaak. Kerslig kan die swaarste ontboeseming minder neerdrukkend laat voel.

Jou tafelgenote moet weet dat jou tafel ’n plek sonder vaardige oordeel en vinnige kritiek is. Hulle moet voel dat nie net hulle lywe nie, maar ook hulle angs en hartseer en humor en klein vreugdes welkom is, dat hulle sonder ongenaakbare sensors en met min genoeg vrees kan saamsit. Dat hulle plek het.

Wanneer jy mense by jou tafel verwelkom, is jy nie net ’n verbondsmens nie, maar ook ’n verbondskepper.

Kom sit aan

Подняться наверх