Читать книгу Katrientjie - Sarah du Pisanie - Страница 3
1
Оглавление“As die ou skepsel net sy pyp in sy oor wil sit, dan sal dit ook help, maar hy is vanmôre weer so halsstarrig soos ’n donkie.”
“Wat brom Ouma so?”
Katrien haal die laphoedjie van haar kop af en vee die sweet met haar hempsmou van haar voorkop af.
“Nee, kind, dit is hierdie oupa van jou. Hy is nou weer vanmôre so beduiweld soos ’n afrikaneros. Hy gluur my net aan wanneer ek sy gehoorpyp vir hom aangee. Hy het die ding daar aankant op die kas neergesmyt. Hy wíl vandag weer nie hoor nie!”
Katrien gooi haar kop agteroor en lag skaterend.
“Soms is dit goed om nie te hoor nie, Ouma. Dan hoef ’n mens jou oor niks te bekommer nie.”
“Almiskie! Maar ek sê nou vir jou, die duiwel sit weer vandag wydsbeen op sy skouers. Hy sit en broei net onheil uit wanneer hy so stil op die stoep sit en niks wil hoor nie.”
“Is daar ’n bietjie koffie, Ouma?”
“Ja, kind! Wag, ek skink gou vir jou in. Sit tog reg! Jy is so mannetjiesrig, altyd so agterstevoor op die stoel. Ek wens jy wil daardie nare ou kakieklere ook uittrek. Dit pas jou g’n stuk nie.”
Katrien lag net en trek die bak beskuit nader. Sy kan ook goed verstaan waarom haar oupa Faan nie vanoggend sy gehoorpyp wil gebruik nie. Wanneer haar ouma Stien eers in so ’n bui is, borrel al die opgekropte frustrasie soos rook uit Aladdin se lamp. Haar oupa is mos darem nie verniet al agt en veertig jaar met haar ouma getroud nie. Hy ken darem ook al die tekens wanneer hy die oggend sy oë oopmaak. “Hmm! Ouma se beskuit is darem maar die lekkerste in die hele wêreld. Daardie twee jaar wat ek in die koshuis was, het die kinders altyd so gretig gewag dat ek Ouma se beskuit moet uithaal. Hulle het altyd gesê Ouma se beskuit is die heel lekkerste in die koshuis.”
“Gmf!” Stien snork ongelowig, maar Katrien kan die lekkerkry in haar houding sien.
“Stien! Wanneer Katrien inkom, sê sy moet hiernatoe kom!” Faan se harde stem weergalm van die stoep af.
“Dat hy nou altyd dink ek is net so doof soos hy!” Stien baklei kliphard met die koffiekan in haar hand.
Katrien lag en hap nog eers ’n stuk van die nat beskuit wat druppend van die koffie bokant die koppie hang. “Hoe sê Ouma, waar is Oupa se gehoorpyp?”
“Op die kas in die eetkamer, kind.”
Katrien vee haar hande aan die spierwit vadoekie af en stap eers eetkamer toe om haar oupa se gehoorpyp te kry. Sy stoot liggies aan sy skouer en oorhandig die trompetagtige gehoorpyp aan hom.
Hy glimlag breed op na haar toe en neem dit met ’n ondeunde knipoog om dit dan met sy knobbelrige, dik vingers onhandig in sy oor te druk. Katrien gaan sit op die muurtjie en wag geduldig totdat sy die breë glimlag stadig om sy mond sien verskyn en hy liggies goedkeurend knik. Nou weet sy hy kan hoor.
“Ja, Oupa?”
“Hoe gaan dit daar by die beeste, kind? My ou bene is vanmôre so beduiweld dat ek nie onder by die krale sal kan kom nie.”
“Hulle is mooi, Oupa. Baie mooi! Ons moet hulle maar so gou moontlik bemark. Ek is bang vir die bek-en-klouseer wat nou bo in Ovamboland uitgebreek het. Dit versprei dalk hiernatoe ook en dan sit ’n mens met die diere en kan ons hulle nie verkoop kry nie.”
“Ja, dit is juis waaroor ek met jou wil praat. Ek het gister met ou Lewies van Windhoek gepraat.”
“Ek het gesien hy was hier.” Katrien skuif hoër op sodat haar rug teen die pilaar rus en trek haar bene hoog op, terwyl sy haar arms daarom vou om geduldig op die res van die storie te wag.
“Hy wil so twee honderd, twee honderd en twintig osse hê.” Katrien sit kiertsregop en swaai haar bene stadig van die muurtjie af. “Gaan hy hulle hier kom haal?”
Faan vroetel ongemaklik met die pyp in sy oor. “Nee . . . nee, sien, ons sal hulle Windhoek toe moet neem.”
“Oupa! Maar . . . bedoel Oupa . . .?”
“Wel, ja! Ek sal saamgaan.”
“Ag, Oupa! Moet tog nou nie vir Oupa kom laf hou nie! Oupa kan nie eens by die krale kom nie, wat nog te sê in Windhoek. Dit is honderde myle hiervandaan.”
“Hoe sê?” Faan kyk gemaak onskuldig na Katrien.
“Ek sê Oupa kan nie saamgaan nie. Oupa moet hier by Ouma bly!” Katrien skree die sin hard en duidelik uit sodat daar nie weer ’n misverstand kan kom nie.
“Wat skree jy so?” Stien kom vinnig op die stoep uit terwyl sy haar pofferhandjies aan haar voorskoot afvee.
Katrien sug en kyk ver oor die veld. Die moedswillige oupa Faan – hy hoor altyd net wanneer dit hom pas.
“Dit is nie nodig om jou te wip nie, meisiekind! Ek het goed gehoor wat jy sê. En vir wat kan ek nie saamgaan nie? Jy dink tog nie ek sal jou alleen wegstuur Windhoek toe met die beeste nie?”
“Dit sal die beste wees, Oupa. Al is dit hoe gevaarlik, sal dit nogtans beter wees as ek alleen gaan; anders het ek nog vir Oupa ook om na te kyk.” Die laaste gedeelte sê sy saggies sodat net Stien dit kan hoor.
“Wat is dit nou?” Stien staan soos ’n generaal voor hulle en Katrien verduidelik geduldig waaroor dit gaan.
Stien stap beslis nader en praat binne-in die trompet. “Is jy dan gek? Dink jy een oomblik ek sal toelaat dat Katrien alleen met die beeste Windhoek toe trek? Jy hoor dan hoe besteel en berowe hulle die mense deesdae.”
Faan ruk vererg sy gehoorpyp weg en sit dit op sy skoot neer. “Maar niemand het gesê sy gaan alleen nie. Ek gaan saam met haar.” Magteloos lig Stien haar hande in die lug en kyk hulpsoekend na Katrien.
“Ag, Ouma, Oupa kan nie eens by die krale kom nie. Hy weet goed hy kan nie saamgaan nie. Dit is maar net dat . . .”
Sy sit ’n oomblik lank diep ingedagte. “Ouma, ons moet die beeste in Windhoek kry voordat die bek-en-klouseer hiernatoe versprei. Ons kan dit nie bekostig om hierdie beeste te verloor nie. Hulle is nou so mooi vet en pragtig. Ons hele toekoms is om hulle gebou. Ons het reeds soveel skade gely die afgelope paar jaar; alles was teen ons.”
“Maar hoe, my kind?” Sy kom staan pleitend voor Katrien. “Hoe gaan julle die goed in Windhoek kry? Dit is ver en julle sal seker veertien dae lank op die trekpad wees.”
“Seker nog langer, Ouma. ’n Mens trek stadig met die beeste sodat hulle soveel moontlik kan wei en nie te veel kondisie verloor nie.”
“Wel! Sien jy nou? Daar moet ’n ander plan gemaak word. Ek sal dit nooit toelaat nie. Jy trek nie met hulle nie!”
“Oupa!” Katrien gaan hurk voor Faan en lig die gehoorpyp op na sy oor toe. “Kan oumeneer Lewis die beeste nie self kom haal nie? Hy het tog baie mense wat vir hom werk. Hulle kan dit tog maar self kom haal.”
Faan lyk ongelukkig en Katrien weet dat die bravade wat hy voorgehou het, maar net ’n rookskerm was.
“Hy wil nie, kind. Ek het aan hom ons posisie verduidelik, maar hy wil niks weet nie. Hy sê hier is baie beeste in die noorde en almal wil nou verkoop, omdat hulle bang is vir die bek-en-klouseer.”
“Ja, die ou skelm!” Katrien kners op haar tande. “Hy weet goed ons is nou almal verleë om te verkoop; nou maak hy misbruik daarvan.”
“As ek net nie so oud en mankoliek was nie!” Faan se verbleikte blou ogies is skielik mistig en hy kyk by Katrien en Stien verby. “Oupa is darem nie meer ’n kind nie.” Katrien vryf liefdevol oor die beaarde, knobbelrige hande.“Ek sal die ou werkie graag vir Oupa wil doen. Ek is mos darem al gewoond aan die gevare van Suidwes.”
“Jy doen dit nie!” Stien se stemmetjie probeer beslis klink, maar Katrien kan die verlatenheid daarin hoor.
“Wie anders sal dit dan doen, Ouma?” Katrien staan stadig op en sit haar arms om die mollige ou vroutjie.
Faan sit sy gehoorpyp styf in sy oor en leun effens vorentoe om seker te maak dat hy hoor wat daar nou vir Stien gesê word.
“Ek is tog al wat julle het.” Sy lag ondeund. “Oupa se seun en Ouma se dogter.”
“Nie juis veel van ’n dogter nie, sou ek sê!” Stien vee ongemerk ’n traan uit haar oog en snuif hard.
Katrien lag en druk ’n soen op die grys haartjies. “Ag, Ouma is tog lief vir my, al wil ek nie graag rokke dra nie. ’n Mens kan mos darem ook nie met ’n rok aan op die plaas en veral in die krale werk nie.”
Faan steek sy hand na haar uit en trek haar nader. “Ek weet nie wat ons sonder jou sou gedoen het nie, my kind. Jou pa was ons enigste kind en hy is so jonk dood. Hy én Betsie, sommerso op een dag. Toe . . . is jy maar al wat ons het.”
Katrien gaan hurk weer by hom. Sy is so gretig dat hulle oor haar ouers moet gesels, maar hulle skram altyd daarvan weg. Dit is asof hulle nie kans sien vir die seer en die rouheid daarvan nie. Net so af en toe lig hulle die sluier van die verlede so ’n bietjie.
“Ja, kindjie!” Faan se sug hang swaar in die lug en sy beaarde hande vee die bruin hare teer van haar voorkop af weg. “Jou pa was so vreeslik lief vir hierdie plaas. Dit was sy hele lewe! Ons het destyds hierdie plaas vir hom gehelp koop, want juis hier in hierdie wilde, woeste land wou hy kom boer. Ons het alles wat ons gehad het vir hom gegee om te help betaal. Ek was maar altyd ’n onderwyser en ons het nie veel geld gekry nie.”
“Oupa het mos op Upington skoolgehou. Het Oupa en Ouma toe saam met Pappa Suidwes toe gekom?”
“Nee, hy het alleen gekom. Hy was so gelukkig en het drie jaar so alleen hier geboer. Een jaar, toe hy vir ons kom kuier het, het hy jou ma ontmoet. Sy was ’n jong onderwyseressie daar by my skool. ’n Pragtige kind.”
Stien kom sit stil eenkant op die bank en Katrien sien die hartseer in haar oë terwyl Faan vertel.
“Hulle tweetjies is toe sommer dadelik getroud en sy het saam met hom hiernatoe gekom. Ons het hulle meer as ’n jaar nie gesien nie. Toe kon ons dit nie meer hou nie en het vir hulle kom kuier. Want . . . ons het toe darem al geweet dat daar ’n babatjie aan die kom is.”
Stien skuif vorentoe en steel sonder ontsag Faan se storie uit sy mond uit. “Toe ons hier aankom, was jy al gebore. Ag, jy was die mooiste ou dingetjie! So klein en so sag. Ek . . . wou nie weer weggaan nie en toe het ons sommer besluit om hier aan te bly.” Stien vee ’n traan met haar voorskoot af en praat dan vinnig verder voordat Faan sy storie kan hervat. “Oupa het sommer maklik die onderwyser hier op Otjiwarongo geword. Hier was net een onderwyser en hy was maar te bly dat Oupa hier wou kom skoolhou, want toe kon hy teruggaan Kaap toe waar sy ouers gewoon het.”
“Nadat Pappa en Mamma verongeluk het – het Oupa-hulle toe eers plaas toe gekom?”
“Ja. Jou ma is op slag dood, maar jou pa het nog ’n rukkie gelewe. Hy het gevra dat ons jou hier moes grootmaak en dat ons nie die plaas moes verkoop nie, maar dit vir jou moes bewaar.”
“Ai, Oupa! Ek sou hulle so graag wou geken het.”
“Ja, my kind!” Faan sug diep. “Soms is die weë van die Here vir ons vreemd. Hulle het die dag op die dorp by ons gekuier. Dit het vreeslik gereën en ons wou nie gehad het hulle moes ry nie, want die ou perdekar was nie die gerieflikste ryding in die reën nie. Maar hulle wou nie luister nie, want daar was te veel dinge wat kon skeefloop op die plaas.”
Sy wat Katrien is, het by haar ouma en oupa op die dorp agtergebly en sou die volgende week, wanneer die skoolvakansie begin, saam met hulle plaas toe kom. Sy was maar twee jaar oud en haar ouma se oogappel. Katrien vra nie verder uit nie, want hierdie deel van die storie ken sy darem al. Die perdekar het blykbaar omgeslaan terwyl die rivier afgekom het. Haar ma het met haar kop teen ’n klip geval en hulle weet nie of sy dadelik dood is en of sy net bewusteloos was nie. Die water het haar egter meegesleur.
Haar pa was rasend en is blykbaar agter sy vrou se liggaam aan om haar te probeer red, maar is rondgeslinger deur die vloedwater. Die volgende oggend het ’n ou Herero hom sterwend gekry en sy laaste boodskap aan sy ouers oorgedra. Hulle het toe ook so gou soos wat hulle kon op die plaas kom woon en sedertdien is hulle hier.
Die grootste gedeelte van haar skoolloopbaan het haar oupa haar sommer self geleer. Sy was net die laaste twee jaar in Windhoek, want toe het hy nie meer kans gesien nie.
Dit was egter die ongelukkigste twee jaar van haar lewe. Hier by haar oupa en ouma op die plaas het haar geluk gelê. Sy het geen trek gehad vir die giggeltjies en ogiesmakery van die ander meisietjies van haar jare nie. Sy is al twee en twintig jaar oud en ’n bron van kommer vir haar ouma. Dié glo sy gaan nie ’n man kry nie omdat sy so alleen hier op die plaas boer en altyd in kakieklere rondloop. Hier is ook nie juis jong mense in die omtrek nie. Die wêreld is groot en uitgestrek en baie yl bewoon.
Katrien kyk liefdevol oor die groot, deeglik bewerkte plaas. Haar oupa het van donker tot donker gewerk om alles te hou soos haar pa dit gehad het. Hier in die mooi, vrugbare land het hulle geleer om na aan die aarde en na aan die Skepper te leef. Die lewe is nie meer naastenby so gevaarlik soos dit was toe haar pa destyds hiernatoe gekom het nie, want toe was hier nog heelwat oorloë tussen die verskillende stamme en die wêreld was ruig en onbewerk.
Volgens Chris de Waal, die jong prokureurtjie op die dorp, is Suidwes nou nog woes en barbaars in vergelyking met die Kaap.
Katrien glimlag breed toe sy aan Faan se verontwaardigde snorke dink toe Chris die aand hierdie wysheid kwytgeraak het. Sy was later bang hy druk die gehoorpyp dwarsdeur sy kop uit vrees dat hy nie alles sou hoor nie.
Volgens Chris is hulle twintig jaar agter die tyd. Hulle leef glo hier soos wat die mense twintig en meer jaar gelede op ander plekke geleef het.
Wel, vir haar is die lewe hier lekker en sy is doodtevrede. Dit is stil en vreedsaam en as 1910 nou vir Chris voel soos die vorige eeu, kan dit haar nie ’n snars skeel nie.
“Jy moet die wa vat, Katrientjie!”
“Hoekom, Oupa? Ek ry sommer met my perd.”
“En waar slaap jy snags?”
“In die veld, Oupa! Ek het mos al dikwels in die veld geslaap.”
“Jy sal twintig dae of meer in die veld wees, net met die afgaan. Jy kan nie so onbeskerm wees nie.”
“Pappa!” Stien pleit nou openlik. “Jy kan mos nie ons ou kindjie so alleen die woeste wêreld instuur nie! Hendrik Oupos het nou die dag nog vertel dat hulle twintig van sy jong osse gesteel het wat hy Otjimbingwe toe wou vat.”
“Ag, Hendrik Oupos lieg so baie. As hy vir jou sê die son skyn, dan moet jy eers gaan kyk of dit so is.”
“Maar dit is waar, Faan! Jy weet tog self dat hier ’n bende rowers is wat die mense met gewere dreig en dan die beeste afvat.”
“Ek sal vir Lukas en Andreas en nog die vier jong werkers ook saamstuur.”
“Pappa!” Stien staan handevrywend en smekend voor hom. “Toemaar, Ouma!” Katrien kom staan by haar en sit haar arm om die ronde skouertjies. “Ek kan mos goed skiet, Ouma. Ek blaas hulle so vol lood dat hulle soos bliksoldaatjies sal voel wanneer ek met hulle klaar is.”
“Ag, my hartjie!” Stien druk haar grys koppie teen Katrien vas en huil harde, droë snikke.
Faan haal veiligheidshalwe sy gehoorpyp uit sy oor en kyk ver oor die groen ruigtes.
“Wanneer wil Oupa hê ek moet ry?” Katrien kry nie ’n antwoord nie en sy kyk teer na die gehoorpyp tussen die twee ou hande. Sy tel die pyp op en hou dit liggies by sy oor. “Wanneer wil Oupa hê ek moet ry?”
Faan glimlag hartseer en al die liefde en teerheid vir hierdie pragtige, ongeskonde kleindogter van hom kom lê in sy bleekblou oë.
“As julle dit kan reël, so oor twee of drie dae. Ouma sal vir jou biltong en beskuit moet inpak. Verder moet jy maar langs die pad ’n slagdingetjie koop of ’n wildjie skiet.”
“Jy trek net vir jou ’n rok aan voordat jy in Windhoek kom.” Stien besef sy het die stryd verloor en gooi ’n laaste, manhaftige stuiwer in die armbeurs.
Katrien lag hard en vol vreugde.“Om watter rede, Ouma? Dink Ouma dalk daar sal ’n man los rondloop wat vrou soek?”
“Ag, moenie vir jou snaaks hou nie! Ek het nog nooit tyd gehad vir verspotte meisiekindertjies nie!” Sy draai vererg om en stap met ’n stywe ruggie wat die plomp postuurtjie potsierlik laat rol by die deur in.
Katrien gaan sit weer op die muurtjie en kyk oor die stil, vreedsame plaas. Dit sal lekker wees om met die beeste te trek. Aan die stories van die veediewe steur sy haar min. Sy hou net nie van die idee om in Windhoek te moet vertoef nie. Sy het tog geen sinnigheid in die lewe daar nie.
“Katrien.”
“Ja, Oupa?” Sy kom sit naby hom, want sy kan sien dat hierdie praatjie nie vir Stien se ore bedoel is nie.
“Jy moet versigtig wees, my kind.”
“Ja, Oupa. Oupa weet mos ek sal!”
“Die stories van die veediewe is waar. Daar is glo twee wit mans en ’n paar swart helpers. Hulle slaan gewoonlik toe op die boere wat so met hul vee trek, want dan weet hulle daar is nie hulp naby nie.”
“Ag, Oupa, ek glo dit darem nie. Dit is maar sommer net stories.”
“Ek hoop regtig so, my kind. Maar jy moet tog versigtig wees. Oupa weet dat jy beter kan skiet as enige van hierdie mans, maar jy is en bly net ’n vrou. Jou krag is baie minder as die mans s’n wanneer dit op ’n skermutseling uitloop.”
“Moenie bekommerd wees nie, Oupa. Ek sal die beeste veilig in Windhoek kry. Ons sal nie een van hulle verloor nie.”
“Dit is nie oor die beeste wat ek bekommerd is nie, my kind; dit is oor jou!”
Sy buk vorentoe en soen hom liggies op sy wang. “Ek sal versigtig wees, Oupa.”
Sy stap dan diep ingedagte kombuis toe om ’n bietjie om Stien te gaan draai. Sy weet dat dié nou behoefte het aan haar nabyheid en nie nou alleen wil wees met haar kwellende gedagtes nie.
“Gee, dan skil ek vir Ouma die aartappels.”
Stien vee ongemerk oor haar oë met haar voorskoot se punt en Katrien maak maar of sy dit nie raaksien nie.
“Ek sal nie so lank weg wees nie, Ouma. Wanneer ons eers die beeste afgelewer het, kom ons baie vinniger terug. Die osse wat die wa trek, trek baie vinniger, want ’n mens het mos nie nodig om hulle te spaar nie.”
Stien sug net diep, maar praat niks nie.
“Ek sal sommer vir Lukas vra om vir ons lekker vars mieliemeel te maal. Veral wanneer hy so ’n bietjie geelmielies bysit, is dit darem baie lekker.”
Katrien sien hoe haar ouma stadig opstaan terwyl sy haar gedagtes begin organiseer en sy begin beplan wat sy alles vir haar enigste ou ooilammetjie moet inpak.
“Ek wil net gou weer ’n draai daar by die krale gaan maak, Ouma. Ek sal nou-nou terug wees.”
“Goed, hartjie!”
By die deur draai Katrien eers weer om met ’n stout glimlaggie op haar gesig. “Hoe lyk dit met ’n ou poedinkie, Ouma?”
“Stout kind! Jy soek darem altyd net ’n verskoning om ’n soetigheidjie uit my te kry.”
“Maar Ouma is darem ook so snoep met die soetgoedjies.”
“Ek wil nie hê jy moet soos daardie ou jong meisietjies lyk wat in Jan Prinsloo se winkel werk nie.”
“Ag, nee wat, Ouma, daarvoor werk ek te hard. Ek sal nie kans kry om so te stoel nie.”
“Ja, wees maar versigtig! Ek was ook so maer en dun soos jy toe ek jou ouderdom gehad het, en kyk net hoe lyk ek vandag!”
“Ag, Ouma is pragtig en die lekkerste, sagste ouma in die hele wêreld.” Katrien druk ’n soentjie op die verrimpelde ou wangetjie en draf by die agterdeur uit.