Читать книгу Katrientjie - Sarah du Pisanie - Страница 4

2

Оглавление

Ritmies skommel die wa agter die blinkvet osse aan. Die ritme maak Katrien lomerig en sy sit slap en lui voor op die bankie. Haar hele liggaam is ontspanne, oorgegee aan die tydsame eindeloosheid van die groen landskap om haar.

Die opgeskote Hereroseun sing ’n wysielose liedjie waar hy gedagteloos met die leiriem in sy hande in die rooi stofspore voor die osse uitstap.

Katrien sien sy kaal voete breë spore langs dié van die osse trap en dit fassineer haar etlike minute lank. Sy rek haar uit en spring dan rats van die bewegende ossewa af.

“Filemon, trek daar voor onder die groot boom in. Ek gaan met Bes terugry en help om die beeste aan te jaag. Ons gaan vannag hier kamp opslaan.”

“Is dit nie nog baie vroeg nie?” Filemon kyk na die son en skud sy kop onbegrypend.

“Ja, dit is nog vroeg, maar ek wil hulle nie die eerste dag te veel aanjaag nie. Ons sal die skofte maar elke dag ’n entjie langer maak. Die beeste is vet en lui.”

Filemon is tevrede met die verduideliking en hervat sy eentonige liedjie terwyl hy met die osse aanstap na die koelte van die groot maroelaboom wat uitnodigend wink.

Katrien spring rats op die getroue Bes wat ook slenterend saam met die wa stap. Op ’n stadige stappie beweeg hulle al met die spore langs terug tot by Lukas en Andreas en die ander twee beeswagters wat die beeste aanjaag.

“Is hulle nog almal bymekaar, Lukas?”

“Ja, juffrou Katrien. Hulle is net lui. Hulle wil kort-kort eers gaan staan, en party wil sommer gaan lê.”

“Ja, ek het so gedink. Ons gaan net hier voor kamp opslaan. Ons sal môre probeer om ’n bietjie verder te trek as vandag.”

“Ja, dit sal goed wees, juffrou Katrien. Ons is nog op Kameeldrif. Hulle kan sommer hier by hierdie plaasdam suip.”

“Ja, ons het dit so beplan.”

Katrien spring van die perd af en oorhandig die teuels aan Lukas. Sy stap ’n draai deur die trop pragtige, vet afrikanerbeeste en haar hart swel van trots terwyl sy na hul blink, gladde lywe kyk wat knop maak van die vet onder die velle.

Hierdie beeste gaan hulle weer op die been bring. Dit het die afgelope klompie jare nie so goed gegaan nie. Daar het altyd iets opgeduik wat hulle ’n klomp geld uit die sak gejaag het. Hierdie spannetjie behoort egter ’n goeie sommetjie in te bring. Oumeneer Lewis van Windhoek het reeds sy prys gemaak en dit is baie beter as wat hulle hier in hul onmiddellike omgewing kan kry. Sy moet hulle net stadig aanjaag en gereeld laat oorstaan om te rus, sodat hulle nie te veel kondisie verloor nie.

Sy en haar oupa het die hele trek na Windhoek tot in die fynste besonderhede uitgewerk. Daar is oral langs die pad plase waar hulle die beeste kan laat suip. Verder aan is daar nog die Omaruru-rivier. Dit was ’n goeie jaar en water is volop.

Katrien kyk na die groen veld en digte ruigtes om haar en in haar hart is ’n groot dankbaarheid teenoor die Skepper wat aan hulle soveel milde gawes uitgedeel het. Hoe lief het sy nie hierdie wêreld met sy warm son en groen-groen velde nie!

“Lukas, nadat die beeste klaar gesuip het, kan hulle sommer daar op die kaal kol langs die dam oorstaan vir die nag.”

Katrien praat oor haar skouer met Lukas wat amptelik in bevel van die beeste is, terwyl sy weer in die saal wip.

“Ja, juffrou Katrien. Die oumeneer het gesê ons moet waghou vannag, so ons sal maar moet beurte maak. Die oumeneer is glad nie gerus nie.”

“Dit sal darem nie vannag al nodig wees nie, Lukas. Ons is mos nog sommer hier by die huis.”

“Almiskie! Ons sal maar waghou. Ons wêreld is te naby die berge en hulle sê juis daardie skelms hou hier naby die berge rond waar hulle kan wegkruip.”

Katrien lag net. Hierdie veediefstalstorie bekommer haar glad nie. Dit is darem taamlik vergesog en sy blaker die eerste een wat aan haar beeste wil vat vol lood. Lukas knyp sy mond op ’n stywe plooi en Katrien kan sien hy het hom vir haar vererg.

“Ag, toemaar, Lukas! As die oumeneer gesê het julle moet waghou, dan moet julle seker maar. Ek gaan in elk geval nie vannag help nie.”

“Nee, dit is goed. Oumeneer het immers gesê dat juffrou Katrien nie alleen mag waghou nie.”

“Jy en jou oumeneer is twee regte ou knoeiers! Julle twee bespreek glad te veel dinge agter my rug.”

Lukas lag net en skree in sy eie taal op die jong wagters.

By die kampplek het Filemon al die paar osse uitgespan en die rooster en kampstoeltjie van die wa afgehaal.

Katrien saal vir ou Bes af en stap met haar na die water toe sodat sy ook kan suip.

Die middagsonnetjie begin lang skaduwees gooi teen die tyd dat die diere versorg is, en die rustigheid van die stil veld kom kruip diep in Katrien se siel. ’n Vreemde eensaamheid kom skop nes in haar binneste. Skielik wens sy dat daar vanaand iemand was om hierdie vreemde stilte en hierdie vrede met haar te deel; iemand wat nog jonk en vrolik is, sodat hulle saam kan lag en saam die stilte van die aand kan geniet.

Katrien haal haar hoed af en die dik, bruin vlegsel lê breed agter teen die skraal ruggie af. Sy vee die sweet van haar voorkop af en wens sy kan haar hare afsny, maar haar ouma wil ’n aanval kry wanneer sy dit net noem.

Sy skuif haar gemaklik teen die boomstam reg en kyk in die helder vlammetjies van die vuurtjie waarop sy aanstons ’n vleisie gaan braai. Die werkers het vanaand hul vuurtjie naby die beeste gemaak, sodat hulle daar kan wees wanneer dit begin donker word. Lukas is baie beslis dat hulle vanaand al gaan wagstaan.

Katrien glimlag en staan dan op om vir haar ’n bietjie koffie te maak toe sy vaal stoom by die tuit van die ketel sien uitborrel.

Filemon kom staan stil eenkant langs die wa en wag op verdere opdragte.

“Filemon, jul meel en vleis is agter in die wa in die groen kis. Jy kan maar gaan, ek sal sommer my eie vleis braai. Sê asseblief ook vir Anna sy kan maar daar by julle bly, ek sal haar nie nodig hê nie.”

Katrien skud laggend haar kop terwyl sy aan Anna dink. Sy is Lukas se vrou en Stien het daarop aangedring dat sy moet saamkom om na Katrien te kyk. Katrien kan mos nie so alleen sonder ’n ander vrou rondry nie!

“Goed, juffrou Katrien. Dan sê ek maar nag, juffrou.”

“Nag, Filemon. Julle moenie te laat gaan slaap nie – die dae gaan nou lank wees en julle gaan moeg word.”

“Nee, dit is reg so, juffrou Katrien.”

Die aand is soel en warm en die rustigheid van die veld met sy kenmerkende naggeluide maak Katrien vroegaand lomerig. Nadat sy geëet het, sit sy nog ’n lang ruk so stil en staar droomverlore oor die kole voordat sy eindelik opstaan en haar gaan was. Daarna gaan maak sy haar tuis vir die nag in die watent.

Die dae vloei rustig die een in die ander. Die stilte van die veld en die stilte in Katrien se siel vloei ineen tot een stroom verlatenheid. Hierdie gevoel, wat sy nog nooit vantevore ervaar het nie, kom lê diep en onrustig binne-in haar.

Hulle is al vier dae op pad met die beeste. Hulle het die afgelope drie dae darem vinniger getrek as die eerste dag, maar sy wil probeer om oormôre die diere eers ’n slag goed te laat uitrus. Sover sy kan vasstel, lê hier vier of vyf plase langs mekaar wat nie bewoon word nie, en dis hier waar hulle vanaand oorstaan.

Lukas is van gister af al onrustig. Hy sorg dus ook dat die jong Herero’s vanaand ’n kraal van droë takke trek waarin hulle die beeste kan jaag.

“Juffrou Katrien, jy moet die wa vanaand nader aan ons kamp trek.”

“Wat is dit vanaand met jou, Lukas?”

“Ons is by die Waterberg. Die storie loop dat die rowers gewoonlik hier rondom die Waterberg toeslaan. Hulle het natuurlik ’n lekker wegkruipplek hier.”

“Ag, Lukas, dit is sommer stories. ’n Mens kan dit glad nie glo nie. Dit was Hendrik Oupos se storie en hy kan maar baie dinge uit sy duim suig.”

“Ek weet darem nie, juffrou Katrien. Die ander manne wat by hom was, sê ook dat hulle die beeste gesteel het en die wagters aan ’n boom vasgemaak het. Hulle het amper twee dae daar gesit voordat daar iemand verbygekom het wat hulle losgemaak het. Hulle sê die rowers het ook op hulle geskiet. Sê nou maar net hulle skiet ons dood, wat word dan van jou, juffrou Katrien?”

“Dit is nie oor my wat julle bekommerd moet wees nie, Lukas. Dit is oor die beeste. As ons hierdie beeste verloor, is ons onderdeur. Ons sal nie geld hê om verder aan te gaan nie.”

Lukas dring daarop aan dat Filemon die wa omtrent dertig tree van hul kampplek af trek en Katrien bekyk Lukas se organiseerdery met ’n sagte glimlag. Hy is darem al net soos haar ouma en oupa; altyd vreeslik bekommerd oor haar welsyn.

Die nag gaan egter rustig verby en Katrien kan die skelm glimlaggie om haar mond nie keer toe sy na die vaak Lukas kyk wat asvaal die oggendsonnetjie uit sy oë probeer hou nie.

“Jy was verniet so bekommerd, Lukas. Dit lyk vir my die veediewe is met vakansie.”

“Gmf!” Lukas snork net verontwaardig en verwerdig hom nie eens om haar verder op die aanmerking te antwoord nie.

Die dag is warm en Katrien is teen die middag moeg en iesegrimmig. Die kakieklere is warm en klou aan haar natgeswete lyf vas. Die dik vlegsel is vandag swaarder as gewoonlik en sy het sommer lus en sny dit met haar slagmes af. Sy sal darem baie betaal vir ’n lekker bad vanaand. Hulle het vandag een van hul langste skofte gehad. Maar daar is ook ’n ligstraaltjie, want daar waar hulle beoog om vanaand uit te span, behoort ’n heerlike fontein te wees. As sy reg onthou, is daar ook ’n plaat bome wat ’n afdak vorm waaronder hulle kan intrek. Sy wil juis by hierdie oase ’n dag oorstaan met die beeste.

Die son begin al vinnig in die weste sak voordat hulle moeg en vuil onder die digte afdak van die blare en takke intrek. Katrien is op ou Bes tussen die beeste en help aanjaag. Anna maak solank ’n vuurtjie by die kampplek sodat die koffiewater kan kook teen die tyd dat hulle die beeste klaar versorg het. Die twee jong veewagters is besig om ’n kraaltjie van bosse en doringtakke te maak en almal werk fluks met die een oog op die sonnetjie wat vinnig besig is om te sak.

Die fonteintjie is ’n lus vir die oog. Dit borrel en raas en stoot ’n blink stroom helder water in ’n voor af. Luidrugtig en uitgelate raas die blink water oor die gladde klippe om verder af om ’n draai agter ’n plaat bosse te verdwyn.

“O, Anna, die koffie ruik darem lekker! Ek het so honger, ek kan doodgaan daarvan.”

Anna lag breed en gaan maar net stil-stil aan om die lewer en vetdermpie van die springbok wat Katrien vroeër die dag geskiet het, gereed te kry vir die rooster.

“Ek gaan net gou kyk of ek vir Lukas en Andreas kan help om die beeste almal gesuip te kry, dan moet jy my kom help dat ek gou kan gaan bad.”

Anna knik bevestigend en Katrien kan nie help om hardop te lag vir die verontwaardigde uitdrukking op Anna se gesig nie. Anna beskou darem nie ’n fontein as die beste badplek nie, dit sien Katrien sommer op haar gesig.

Dit is al sterk skemer voordat die beeste klaar gesuip en in die primitiewe kraaltjie ingejaag is.

“Kom, Anna!” Katrien kry vir haar ’n handdoek en seep en ook skoon klere.

Anna skree iets vir die mans in haar eie taal en Katrien neem aan dat sy hulle waarsku om nie naby die fontein te kom nie. Sy plas en bad soos ’n kleuter in die vlak stroompie en voel heerlik ontspanne en verfris toe sy eindelik uitklim en haar droogvryf. Sy sal môre, terwyl hulle hier oorstaan, haar hare was. Dit is al te laat om dit nou te doen; die dik bos hare sal nie nou meer droog word nie.

Anna verdwyn stil-stil na hul vuurtjie toe en Katrien skuif moeg en eensaam teen die boomstam vas met haar kos op haar skoot. Lank nadat die vuurtjie reeds uitgebrand is, sit en staar sy net in die kole wat af en toe nog gloei. Haar gedagtes kuier ver op eensame paaie. Hoe anders sou haar lewe nie dalk gewees het as haar ouers nog gelewe het nie. Sy sou dalk broers en susters gehad het om vir haar die dae op te vrolik. Daar sou geselskap en vrolikheid gewees het. Daar sou jong stemme op die plaaswerf gewees het en die jong mense van die ander plase sou ook kom kuier het. Miskien sou sy teen hierdie tyd reeds getroud gewees het, moontlik selfs kinders gehad het. Veral as sy ’n broer gehad het wat die pligte op die plaas kon oorneem.

Sy rek haar lank en lekker uit en klim dan traag in die wa. Daar is dit egter bedompig en warm en op die ingewing van die oomblik haal sy haar kampbedjie en matrassie af en slaan dit langs die wa op. Hier buite onder die sterbelaaide hemel sal dit tog baie lekkerder wees as binne.

Die fris naglug maak haar lomerig en kort voor lank is sy ver weg in ’n ander land. Sy wou haar nog uittrek, maar die vaak kom druk sommer haar oë toe terwyl sy nog met klere en al op die bedjie lê.

Die verskrikking van ’n nagmerrie, saam met die rustige Suidwesnag en die helder skoon lug, wil net nie tot haar deurdring nie. Sy hyg na asem, maar dit word behoorlik uit haar liggaam gepers deur ’n groot hand wat baie stewig oor haar mond gehou word. Haar oë is groot in die helder maanlignag en die slaap wyk vinnig voor die skrik wat nou om haar vasslaan. ’n Gesig wat tot oor die neus met ’n swart doek bedek is, is ’n handbreedte van haar eie gesig af.

Sy probeer vervaard orent kom, maar ’n gespierde arm druk haar styf op die bedjie vas.

Die stem agter die doek is sissend hier by haar oor. “Moenie ’n geluid maak nie, anders is jy dood.”

Nou eers sien sy die blink lem van ’n mes, wat styf vasgeklem in sy hand skitter, waar dit dreigend byna teenaan haar bors gehou word.

Sy lê gespanne weer terug teen die kussing. Haar oë is onafgebroke gerig op die bedekte gesig en die twee gloeiende oë wat tussen die hoed en die doek om sy mond uitloer.

“Ek gaan my hand wegneem, maar as jy ’n geluid maak, steek ek jou dood. Die Herero’s is ook almal onder skoot van my manne. Die jakkalse sal jul vleis hier vreet nog voordat die son môre opkom.”

Sy knik liggies en toe die gemaskerde man sien dat sy verstaan, neem hy sy hand baie stadig van haar mond af weg. Die groot liggaam is egter snaarstyf gespan en die blink mes word nog steeds gespanne bokant haar hart gehou.

Katrien haal ’n slag diep asem om weer genoeg lug in haar longe te kry en staar na die indringer.“Wat wil jy hê?” Die woorde kom in ’n skor fluistering oor haar lippe.

“Die beeste!”

“Maar julle kan dit nie doen nie!” Haar stem is angstig en pleitend.

“Ons vra nie, ons vat!”

“Wel, wat keer julle?” Katrien se stem is fluisterend, maar iemand wat haar ken, sou dadelik die dodelike kalmte daarin gehoor het.

“Jy gaan maak soos ek sê! Môreoggend gaan julle doodgewoon trek soos elke dag. Ek bly hier in jou wa en jy sorg dat jy heeldag op die wa bly waar jy onder skoot gehou kan word.”

“Ons sou nie môre getrek het nie. Ons sou hier oorgestaan het om die beeste ’n bietjie te laat rus.”

“Nee, julle trek. Jy gee môre opdrag soos wat ek jou nou gaan voorsê.”

“Ek sal dit nie doen nie!”

“O, ja, jy sal!”

“Dit is wat jy dink.” Katrien se rug trek styf van beslistheid. “As julle die beeste wil vat, kan julle maar vir my ook doodskiet. Dink julle miskien ek is bang?” Sy lig haar kop op om meer beslis te klink. “Ek trek nie môre nie! Die beeste is moeg en moet ’n slag rus en goed wei.”

Katrien besef sy betrap die rower onkant. Hy het natuurlik gedink sy gaan doodverskrik en bang wees en maar te gewillig om met hom saam te stem net om haar eie bas te red. Hy ken haar darem baie sleg! Die dag dat Katrien Viljoen vir ’n bullebak en ’n dief gaan skrik, moet nog kom.

Die gemaskerde man buk vooroor en sis gebiedend hier by haar oor: “Jy sal maak soos ek sê, verstaan jy my?”

“Of wat?” Katrien se fluisterstem is so sarkasties dat jy dit met ’n mes kan sny.

Hy dink ’n oomblik lank na en lag dan sag en gedemp. Hierdie klein vuurvreter het hom byna van balans af gehad. Hy het nie gedink sy sou so vreesloos wees nie. Maar hy moet haar kry dat sy van koers verander en op die onbewoonde plaas uitkom!

“Goed, as jy dan liewer alleen tussen ’n klomp mans wil wees . . . Ek dink nogal die ander ouens sal dit geniet, veral ou Kas.” Die man bly ’n oomblik lank stil en lag dan weer sag en walglik hier by haar gesig. “Hy sal natuurlik verkies om jou net vir homself te hê, so moenie sê ek het jou nie gewaarsku nie.”

Katrien voel die ysigheid van vrees stadig in haar knieë opkruip. “Wat . . . wil jy hê moet ek doen?”

“Nee, ek het nou net besluit dat dit ’n baie beter plan sal wees. Jy gaan saam met my in plaas daarvan dat ek saam met jou gaan.”

“Ek gaan nêrens saam met jou nie, ek bly net hier by my mense en my beeste. Hier sal julle my moet doodskiet.”

“Nie vir jou nie, maar jou werksmense wel! Ons sal hulle skiet en dan het ons nog ’n vroumens om ou Kas mee te vermaak.”

Die betekenis van sy woorde slaan Katrien vol op die krop van haar maag, sodat sy voel of sy vooroor wil buig om die fisieke pyn te keer. Sy knyp haar oë toe en bid geluidloos: Ag, Vader, dit kan nie werklik met my gebeur nie. Wat gaan van my word in hierdie woeste, afgeleë stuk wêreld?

As hulle vir Lukas en die ander moet doodskiet, sal niemand weet waar sy is nie. Hulle sal maar aanneem dat sy ook vermoor is. “Goed, ons kan môre trek.” Sy probeer haar stem so kalm moontlik hou sodat die vrees nie moet deurslaan nie.

Dit laat die gemaskerde man egter net sinies en lelik lag.“Die dag gaan nou-nou breek. Ek gaan in jou wa wegkruip. Jy kom sit voor op die bankie en ek gaan die geweer dodelik beslis op jou hou. Sodra die ander opstaan, gaan jy normaal voort soos gewoonlik.”

Katrien knik liggies.

“So teen agtuur roep jy jou voorman en sê vir hom dat jy ’n ent vooruit gaan ry. Twee dae se trek met die beeste hiervandaan is ’n plaashuis wat tot onlangs nog bewoon was. Julle moet van koers verander; dit is ’n klein draaitjie, daarom dat ons jou hier moes voorkeer. Jy sê vir hulle jy gaan daarheen om by die mense wat daar woon te kuier. Hulle moet dan oormôre daarheen begin trek. Sê jy sal daar vir hulle wag.”

’n Duisend planne maal deur Katrien se kop, maar sy kan aan geen uitvoerbare een dink nie. “Wel . . .” Katrien sukkel om haar gedagtes by sy woorde te hou. “En wanneer hulle daar kom en ek is nie daar nie?”

“Dit sal my bekommernis wees; ek sal sorg dat hulle tevrede gestel word. Buitendien sal jy dan al drie dae weg wees en sal hulle nie meer jou spoor kry nie.”

“Hoe de drommel dink jy gaan jy dit regkry?”

“Dit het niks met jou te doen nie,” snou die gemaskerde man haar ongeskik toe.

“My mense sal nie ’n tree sonder my trek nie.”

“Jy gaan hulle oortuig om dit te doen sonder dat hulle die minste agterdogtig raak.” Sy woorde is dreigend en beslis en Katrien voel vasgekeer en benoud. “Een verdagte beweging van jou kant af en ek skiet jou en al jou werksmense net hier dood. Onthou, ons speel nie.” Katrien meet die afstand na die wa toe met haar oë. Haar geweer is in die hoek naaste aan haar en hy is gelaai.

Sy sit regop en maak ’n beweging met haar skouers asof sy die stram spiere ’n bietjie wil rek. Die gemaskerde man se oë is onafgebroke op haar gerig. Sy liggaam is snaarstyf gespan, gereed vir enige beweging van haar kant af.

Katrien swaai haar bene van die bedjie af en hou die man gespanne dop. Hy is egter tussen haar en die wa en sy besef dat dit omtrent ’n onbegonne taak is om by die geweer te kom.

“Goed, ek sal maak soos jy sê, maar jy raak nie aan my mense nie!” Katrien se stem klink vir haarself maar taamlik onvas en bang. Sy beweeg effens en meet weer die afstand na die wa toe, terwyl sy ongemerk haar spiere saamtrek soos ’n tier wat wil spring. Voordat die donker gestalte besef wat gebeur, spring sy onder sy arm deur en tas wild in die hoek van die wa rond vir haar geweer.

Die swart gestalte gryp haar in ’n dodelike greep vas en sis sag en dreigend: “Moet niks waag nie, meisiekind! Ek het die geweer al lankal weggevat. Ek sny vir jou oop soos ’n geslagte skaap voordat jy jou asem kan intrek. Laai jou bed en matras terug in die wa en kom klim hier in.”

Gedwee doen Katrien soos hy beveel en gaan sit dan styf en regop voor in die hoek van die wa. Die donker gestalte skuif die kos so dat hy gemaklik daarlangs kan sit en beduie vir Katrien om die bedjie so te trek dat hy met die minste moeite daaronder kan inkruip en nog steeds die bankie voor onder oog kan hê. Hy vroetel met die seil en Katrien besef dat hy vir hom ’n loergaatjie maak sodat hy haar kan dophou netnou wanneer sy gaan koffie maak.

Lukas en die ander is vanoggend traag en die son is al op voordat hulle die beeste uitjaag om te gaan wei. Sy hoor hul vrolike gelag en gesels en sien dan hoe die stil Filemon nader staan om ’n vuurtjie vir haar te maak. Hy skuif die ketel oor die vlamme en stap dan singend terug na die ander toe.

Die man hier agter haar sis saggies: “Gaan maak koffie en bring vir my ook. Dan roep jy die een wat jy in bevel gaan laat hiernatoe. Ek wil sien en hoor wat julle alles gesels. En geen slenterslae nie, ek ken elke inboorlingtaal in hierdie land.”

Katrien klim met bewende knieë van die wa af en bid stilletjies vir ’n wonderwerk. Sy sien vir Anna met haar lang, gekleurde rok en hoë kopdoek verder by die ander vuurtjie en haar hart spring amper by haar keel uit van pure opgewondenheid. Anna! Sy het vergeet van Anna! Anna ry altyd saam met haar in die wa.

Sy dra die man se koffie vir hom terug en fluister dan oor haar skouer: “Hier is ’n Hererovrou ook by ons. Sy het saamgekom om na my om te sien. Sy sal nie verstaan as ek haar nie saamneem nie. Sy ry altyd saam op die wa. Sy sal dadelik weet daar is ’n skroef los as ons haar nie saamneem nie.”

Die gemaskerde man hoor die triomfantelike toon van haar stem. “Dan vat ons haar saam en ek skiet haar hier anderkant dood.” Katrien hoor die dodelike beslistheid in sy stem en alles binne-in haar word koud toe die besef tot haar deurdring dat hy elke woord bedoel.

“Nee, dit kan jy nie doen nie! Ek sal saam met jou gaan, maar dan moet ons die wa hier los vir Anna. Sy is al oud en kan nie meer stap nie,” pleit Katrien.

Raadop wens Katrien sy kan net ’n oomblik in die haatlike man se gesig kyk sodat sy kan sien hoe lyk so ’n koelbloedige duiwel. Sy hoed is egter diep oor sy oë getrek en sy het nog net een keer die blink van twee swart, slangagtige oë gesien.“Nee, juffroutjie, al jou planne gaan nie uitwerk nie. Ek en jy moet ongesiens hier wegkom en dit is net nie moontlik sonder die wa nie.”

“Ek sal my perd vat, dan los ons vir Anna die wa hier.”

“Goed, maar jy sorg dat ek ongesiens hier wegkom. My manne is rondom julle. Ek wag vir jou agter daardie rotse. Roep jou mense nader sodat ek kan hoor wat jy vir hulle sê.”

Katrien proe die vrank smaak van bloed in haar mond en besef nou eers dat sy haar onderlip styf vasbyt.

“Lukas!” Katrien roep hard na hom en klim dan by die watent uit om hom buitekant in te wag.

“Ja, juffrou Katrien!” Lukas kom vinnig nader gedraf.

“Lukas, so ses tot agt uur te perd hiervandaan is ’n plaas. Ek ken die mense daar, ek het hulle al ontmoet. Rus julle nog vandag en dan trek julle môre verder. Ek wil solank ’n bietjie by die mense gaan kuier. Julle behoort dan twee dae te trek tot daar. Dit beteken ek kan so drie dae lank by die mense kuier.”

“Juffrou Katrien! Nee, dit kan nie! Die oumeneer het gesê jy gaan nêrens alleen nie; ons moet by jou bly.”

“Ag, kom nou, Lukas, ek is mos nie meer ’n kind nie.”

“Dan moet jy met die wa ry sodat Anna en Filemon kan saamgaan.”

“Dit sal mos niks help nie, Lukas; dan is ek omtrent maar saam met julle daar. Ek wil juis vinnig vooruitry sodat ek twee of drie dae lekker kan kuier.”

“Nee, juffrou Katrien, jy kan dit nie doen nie! Dit is gevaarlike wêreld hierdie. Die oumeneer sal my doodmaak as hy weet ek het dit toegelaat.”

“Weet jy watter plaas dit is waarvan ek praat, Lukas?” Katrien probeer so beslis moontlik met Lukas wees toe sy die skerp punt van ’n mes aan die agterkant van die seil teen haar rug voel druk. “Julle sal so ’n bietjie diékant toe moet swenk.” Sy wys in ’n meer westelike rigting. “Dit is ’n klein draaitjie, maar dit sal nie saak maak nie.”

“Ja, ek weet van daardie plaas, juffrou Katrien, maar jy kan nie alleen daarnatoe ry nie.”

Katrien voel lus en huil. Dierbare Lukas wat haar saam met haar ouma en oupa grootgemaak het. As hy maar net weet dat sy dit vir hul eie beswil doen en glad nie omdat sy koppig en astrant is nie. “Lukas, hier gaan niks gebeur nie. Ek kry julle op die plaas. Daar . . . is ’n man . . . Ek . . . het hom ontmoet en ek wil baie graag daar gaan kuier . . .”

“O-o-o!” Lukas se plooigesig vertrek tot een groot rimpel. “O! Dit is vir die mannetjie wat juffrou Katrien wil gaan kuier. Oumevrou sal bly wees as ons met ’n jong man by die huis aankom.”

Katrien probeer lag en terselfdertyd met haar oë vir hom na die wa beduie, maar Lukas is nou meer tevrede en grinnik net breed. “Dan moet Andreas maar my perd vat en saam met jou ry. Ons sal regkom hier.”

“Julle sal glad nie regkom nie. Julle moet nog snags wagstaan ook. Ek sal heeltemal veilig wees. Wanneer julle op die plaas aankom, wag ek daar vir julle.”

Katrien lê ekstra klem op die feit dat sy vir hulle daar sal wag en probeer Lukas laat verstaan dat daar iewers ’n skroef los sal wees as sy nie daar is nie. Lukas is egter so behep met haar onmiddellike probleem dat hy niks van die erns van haar houding raaksien of inneem nie.

“Ai, ek wens juffrou Katrien wil liewer dat ons almal twee of drie dae daar op die plaas gaan oorstaan. Wat gaan die oumeneer tog sê?”

“Hy sal bly wees as hy weet ek was ’n paar dae tussen jong mense, Lukas. En as ons daar gaan oorstaan met die beeste, mors ons onnodige tyd.” Katrien draai beslis om om vir Lukas te wys die gesprek is afgesluit. Hy is egter traag en onwillig om sy toestemming te gee. Hy draai onnodig al in die rondte en sy gesig is weer eens in ’n diep bekommerde plooi getrek. “Toe, gaan nou en dan rus julle vandag nog lekker.”

Katrien wag eers totdat Lukas goed buite hoorafstand is en fluister dan vir die gemaskerde man: “Jy kan nou uitkom en behoort ongesiens agter die rotse te kom. Hulle is almal nou aan die ander kant by die beeste.”

“Ek sluip net tot agter hierdie rotskoppie. Enige verdagte beweging wat jy maak, sal ek sien. Een van my manne lê omtrent twintig tree hiervandaan en ek sal hom sê om die ou man wat jy nou net hier gehad het, onder skoot te hou. Enige verdagte beweging en ons skiet hom sonder om twee keer te dink. So, gedra jou! Ek gee jou vyf minute, dan moet jy op jou perd wees. Jy beweeg agter daardie plaat swarthaakbosse om en ry reguit suid. Ek sal jou vorentoe ontmoet.” Die man loer versigtig rond en glip dan sag, byna geluidloos, agter by die wa uit. Voordat Katrien dit mooi besef, het hy heeltemal verdwyn.

Vinnig pak sy ’n stel skoon klere, kam en tandeborsel, asook ’n handdoek en ’n stukkie seep, in haar saalsak. Bekommerd soek haar oë na iets om vir hulle mee ’n bood­skap in die wa agter te laat, maar sy besef dat sy niks het om dit te doen nie. Hulle kan nie een lees of skryf nie en hier is niks anders wat sy kan gebruik nie.

Vinnig gryp sy ’n paar stukke biltong en beskuit en haar oë soek wild na ’n mes, maar haar slagmes is ook nie meer op die plek waar sy dit gewoonlik bêre nie.

Katrientjie

Подняться наверх