Читать книгу Katrientjie - Sarah du Pisanie - Страница 5

3

Оглавление

Byna tien minute lank ry Katrien voordat ’n ruiter skielik van agter ’n boom verskyn. Sy is nie seker of dit dieselfde man is wat haar in die wa aangehou het nie, maar hy het ook swart klere aan, met ’n doek om die onderste gedeelte van sy gesig en ’n hoed op sy kop. Dit is eers toe die man praat dat sy weet dit is nie die een wat by haar in die wa was nie.

“Hierdie kant toe! Ons gaan nou berg se kant toe.”

In doodse stilte ry hulle ongeveer ’n halfuur voordat hulle skielik op twee ruiters, verskuil agter ’n rotskoppie, afkom. Dit is twee swart helpers wat geen aandag aan haar skenk nie.

“Is Klaus nog nie hier nie?”

Die grootste van die twee mans skud sy kop en wys in ’n westelike rigting. “Daar kom hy nou!”

Katrien kyk vinnig op om haar aanvaller van die nag met lang treë na hulle toe aangestap te sien kom. Toe hy naby kom, trek hy weer die doek oor sy gesig sodat sy hom nie kan herken nie.

“So, jy is hier. Baie verstandig.” Hy draai na die ander man toe. “Het sy niks probeer aanvang nie?”

Die man skud sy kop ontkennend terwyl hy sy hoed ’n entjie terugskuif. Die eerste keer kan Katrien sy oë sien. Hy het groot, helderblou oë, met iets vreemds daarin, wat stil en opsommend na haar kyk.

’n Ligte rilling gaan deur haar en sy wonder onwillekeurig of dit dalk Kas is van wie die ander rower gepraat het.

Klaus, die aanvaller van die nag, draai na die man met die helderblou oë. “Ons verander die planne so ’n bietjie. Sy is koppig! Jy moet haar solank berg toe vat. Hou haar omtrent ’n week daar in die hut, dan kom julle af tot by die skuilplek by Otjimbingwe. Daarvandaan werk die plan soos die oorspronklike.”

Die man met die blou oë knik en kyk Katrien stil aan. Sy kan sweer daar was ’n tikkie bewondering in daardie oë.

“Ek gaan Bloukrans toe. Een van hierdie twee,” sê Klaus en wys met ’n slap hand na die twee Ovambo’s, “sal ’n dag of wat daar moet agterbly totdat die beeste daar verby is.”

“Hoekom?”

“Haar ou voorman verwag haar daar. Sy het vir hulle gesê sy gaan kuier daar by ’n kêrel. Ek sal nou maar vir Nikanor daar los en dan moet hy net vir hulle sê sy is vooruit Otjimbingwe toe omdat die mense nie meer daar bly nie, en sy sal hulle daar ontmoet.” Hy draai skielik na Katrien.“Ek wil iets van jou hê wat ek daar kan los sodat die ou man nie agterdogtig word nie.”

Katrien staar hom sprakeloos aan. Sy het al haar hoop op die plaas gevestig, maar hy het al weer ’n oplossing vir so ’n probleem ook. O, die skurk!

“Gee vir my jou hoed.”

“Is jy mal! Die son sal my doodbrand sonder ’n hoed.”

Klaus gryp die hoed van haar kop af en stamp haar uit die pad uit. “Lukas sal tog weet julle lieg vir hom. Ek loop nooit sonder my hoed nie.”

Klaus kom tot stilstand en draai om. Hy vloek saggies toe hy die waarheid van haar woorde besef. Hy gooi die hoed vir haar terug, stap na haar perd toe en ruk die saalsak oop. Sonder die minste selfbewustheid krap hy alles uit haar saalsak en staan ’n oomblik lank met haar fyn onderklere in sy hand. ’n Siniese glimlaggie verskyn in sy oë toe hy dit spottend ophou voordat hy dit saam met die ander goed in die sand neergooi.

Die verleentheid laat rooi kolle op Katrien se wange uitslaan en sy staar net stip voor haar op die grond. Katrien maak die rooi serpie wat sy altyd om haar nek bind vir die sweet en stof los en stap na die ongepoetste man. “Vat dit en los my goed uit, jou ongeskikte ding! Hulle ken my serp.”

Klaus gryp die serp by haar en druk dit in sy sak. “Ons moet ry. Julle moet maar jag vir vleis en daar is ’n bietjie meel en koffie in die hut. Vandag oor ’n week kan julle hiervandaan begin, dan behoort ons mekaar op Otjimbingwe te ontmoet.”

Klaus swaai hom gemaklik op sy perd wat die twee Ovambo’s nog stilswyend vashou en wink vir die twee mans om te kom. Hy draai egter weer na die man wat nog teen die rots aanleun. “Bring haar lewend. Haar mense sal haar anderkant Otjimbingwe moet sien, sodat hulle nie onraad sal merk nie. Almal moet dink dat dit as gevolg van haar eie agtelosigheid is dat haar beeste gesteel is. Maak haar vas wanneer julle kom; sy is ’n klein feeks!”

Hy lag en knipoog vir die ander een wat dan klaarblyklik Kas is na wie die vorige nag verwys is. “Geniet dit. Ek kan aan onaangenamer maniere dink om ’n week deur te bring.”

Die man is egter doenig met sy perd en Katrien kan nie sien watse uitwerking hierdie woorde op hom het nie.

Katrien voel die paniekerigheid in haar opstoot. Hy moet haar tog net nie alleen saam met hierdie wellustige man in die veld los nie. Hulle kan haar vasmaak en mishandel, maar hy moet haar nie alleen by hierdie man los nie! “Laat my asseblief saam met jou gaan. Ek . . . ek sal niks doen nie. Jy kan my vasmaak!”

“Wel, wel! Dit is nou vir jou te sê! Hier soebat die skone dame my om haar saam met my te neem.” Klaus buk vooroor en vat haar gesiggie in sy groot hand. “Toemaar, my poppie, ou Klaus sal jou darem nie so in die steek laat nie. Ek kom weer terug, dan kan ons tweetjies ’n week of twee na die hut toe gaan.”

Vererg klap Katrien sy hand weg. Sy is egter baie na aan trane. “Ek wil nie. Ek wil nie alleen saam met ’n man in die veld gelos wees nie . . .”

Klaus lag hard en sonder om haar te antwoord, druk hy sy hakke in die perd se sye en dan verdwyn hy en die twee helpers agter die rotsagtige koppie.

Katrien tel haar goedjies op en sit dit terug in die saalsak. Die vrees vir die stil man hier agter haar met wie sy ’n hele week lank alleen in die berg gaan wees, maak haar verstandeloos en heeltemal lam. Sy meet die afstand van hom af na haar toe. Ongemerk maak sy die perd se teuels los en gooi dit oor sy kop. Dan, sonder waarskuwing, spring sy op die perd se rug.

Voordat die perd besef dat hy ’n ruiter op sy rug het, is die groot man langs haar en ruk hy haar sonder ontsag van die perd se rug af. “Is jy simpel?” Hy sit haar voor hom neer en skud haar aan haar skouers terwyl sy hande soos staalklemme om haar arms knel. “Waarheen dink jy wil jy gaan?”

“Ek gaan soek liewer my dood as om alleen saam met jou in die veld gelos te word.”

“Wel, jy is een dood skuldig! Maar ek moet jou ’n week lank oppas, en dit gaan ek doen. Ek sal nie toelaat dat ’n vrou nou al my planne kom deurmekaarkrap nie. Jy is reeds vinnig besig om dit te doen.”

Woedend ruk Katrien haar arm los. “Los my, jou walglike ding!”

“Jy gedra jou, anders maak ek jou vas! Ek gaan nie met jou sukkel nie.”

Dewald kyk af in die onstuimige, bruin oë en hy skaam hom vir wat hy aan hierdie pragtige, onskuldige kind moet doen.

“Gmf! Waag dit net!” Katrien staan regop voor hom en haar oë blits vuur.

Sonder om verder met haar te redeneer, maak Dewald haar hande stewig voor haar vas en met gemak buk hy af en tel haar op. Sy skop wild, maar voordat sy tot verhaal kan kom, het hy haar sonder inspanning opgeswaai tot in die saal. “Jy moet aan die saal vashou, ons gaan berg toe.”

Katrien kan niks anders doen as om voor aan die saal vas te klou nie. Dewald het haar perd se teuels en stadig, op ’n gemaklike stappie, begin hy die tog, al kronkelend tussen die rotse deur die berg in.

Katrien se tong klou aan haar verhemelte vas van dors en die sweet loop in straaltjies teen haar slape af. Dankbaar dink sy daaraan dat sy dit darem reggekry het dat die nare Klaus haar hoed vir haar teruggegee het, anders sou sy vandag doodgebrand het hier in die berg.

Die man voor haar het al ’n rukkie gelede die doek van sy gesig afgehaal, maar sy het nog nie sy gesig gesien nie. Hy vee net kort-kort die sweet met die doek van sy nek af. Hulle is seker al twee uur of meer op hierdie steil, rotsagtige kronkelgangetjie – ’n paadjie kan ’n mens dit nie noem nie. Die man hier voor haar weet blykbaar waarheen hy gaan, want hy stuur die perd doelgerig sonder om na die regte pad te soek.

Stil en verwese staar Katrien voor haar op die saal. Sy het alle besef van rigting verloor en vir al wat sy weet, kan hulle nou op pad Griekeland toe wees. Dit dring stadig tot haar deur dat sy teen die perd se nek langs afkyk. Nou eers merk sy op dat hulle afsak en nie meer klim soos ’n rukkie gelede nie. Met meer belangstelling kyk sy om haar rond. Skielik is hulle in die pragtige valleitjie. Groot bome staan knus op mekaar op ’n operige kolletjie in die hart van die berg.

Eers toe hulle heeltemal agter die rots uit is, sien sy die ruwe, bruin houthut effe verskuil teen die rots en heerlik koel onder ’n groot boom. Die berg vorm punte alkante van hulle en hier sal niemand haar ooit kry nie. ’n Vuur se rook sal nie van agter die berg af gesien kan word nie.

Sy sien hoe die man hier voor haar hom van sy perd afswaai en toe sy weer opkyk, staan hy voor haar. ’n Oomblik lank is sy heeltemal uit die veld geslaan. Hy lyk glad nie soos iemand wat hom aan sulke lae, gemene misdade skuldig sal maak nie. Sy gesig is bruingebrand van die son en die twee helderblou oë steek vreemd af teen sy donker hare en vel. Die uitdrukking in sy oë kan enigiets van jammerte tot verleentheid wees.

Vererg ruk sy haar reg. Sy is darem nie meer ’n bakvissie wat haar deur ’n aantreklike gesig om die bos sal laat lei nie. Sulke mans is gewoonlik die gevaarlikste. Sy sal elke oomblik op haar hoede moet wees. Vinnig kyk sy weg toe sy die spottende lig in sy oë sien. “Kom!” Hy staan langs haar perd en steek sy hande na haar toe uit. Onwillekeurig deins sy terug. Hy steek egter sy hande onder haar arms in en tel haar van die perd af.

Sonder om weer na haar te kyk, vroetel hy met die toue aan haar hande en die hoop vlam hoog in haar op dat hy haar gaan losmaak. Hy trek egter net die knoop stywer en beduie dan na die hut. “Jy kan maar daar gaan rus as jy wil.”

Katrien kners op haar tande. Oor haar dooie liggaam sal sy in daardie hut ingaan waar hy haar kan vaskeer.

“Is jy bang om my hande los te maak? Wat kan ek tog aan ’n groot man soos jy doen?”

Dewald glimlag breed af in die vuil, stowwerige gesiggie. “Ek vertrou jou nie.”

“Wel, ek vir jou nog minder. Maar ek dink darem dit is net regverdig dat ons met dieselfde wapens veg. Watse kans het ek terwyl my hande vasgebind is?”

Hy gooi sy kop agteroor en lag skaterend sodat die klank daarvan teen die klowe vasslaan en vrolik na hulle terug weergalm.

“Dit is nie vir my wat jy moet bang wees nie!”

“Gmf! Dan wonder ek nogal vir wie ek moet bang wees! Dit is immers net jy wat hier is.” Haar stem klink spottend en darem braaf genoeg in haar eie ore. “Ek het dors.”

Katrien verander skielik van taktiek. Dalk moet sy hom nie treiter nie. Hy lyk darem na iemand met ’n bietjie humorsin en miskien is dit beter om hom nie kwaad te maak nie.

“Kom, ek sal vir jou gaan water gee. Daar anderkant is ’n fontein.” Katrien stap gedwee saam met hom na die fontein toe wat omtrent vyftig tree van die hut af is. Hy skep van die lekker koel water in ’n blikbeker en hou dit na haar toe uit. Sy steek die twee vasgebinde hande na die beker toe uit en draai die een hand by die ander een verby sodat sy darem die beker aan sy oor kan vat. Gulsig drink sy die beker byna leeg en dit is toe sy die beker aan hom wil teruggee dat sy sien hy staan haar peinsend en dophou. Skielik is haar oë weer waaksaam en baie bang.

Dewald beskou haar aandagtig en steek dan sy hand uit om die beker by haar te neem. ’n Vreemde uitdrukking verskyn in sy helderblou oë. Terug by die hut sit sy met haar rug teen ’n boomstam terwyl sy hom behoedsaam onder oog hou. Dewald saal die perde af en sit hul saalsakke in die hut. Haar blik volg elke beweging wat hy maak. Haar liggaam is snaarstyf gespan en in haar kop woel ’n swetterjoel planne hoe sy haarself tot die bitter einde kan verdedig. Hy lyk nie vir haar soos wat sy Kas vir haarself voorgestel het nie, maar dit maak hom in elk geval nie minder gevaarlik nie. Volgens Klaus se praatjies het hy ’n swak vir vroumense en sal hy dit vreeslik geniet om haar hier op te pas. Maar sy sal hom dwing om haar dan liewer te skiet, besluit sy heimlik.

Die man het al ’n vuurtjie gemaak en skuif die keteltjie oor die vlamme. Katrien se maag grom en sy besef nou eers dat sy rasend honger het. ’n Plan skiet haar skielik te binne toe sy na haar vasgebinde hande kyk. “Maak my hande los, dan sal ek vir ons kan kos maak.”

Dewald kyk vinnig op en grinnik na haar toe. “Wel, ja . . . dit sal gaaf wees. Jy sal nie veel van ’n ete kry as ek moet kos maak nie. Hier is nie vleis om te braai nie.”

“Wat is hier?” Haar oë fynkam die omgewing. Sy sal haar kans afwag en hom net gerus laat voel. Sy moet hier wegkom voordat Lukas en die ander te ver weg is, want dan sal sy hulle nie weer kan inhaal nie.

“Hier is mieliemeel en gewone meel. Dan is hier nog biltong en ’n emmertjie met skaapvet – en darem sout ook. Verder net koffie en suiker.”

“Ek sal pap of roosterkoek maak. Maak net my hande los.” Dewald kom hurk by haar. “Jy probeer nie een van jou slim planne nie, verstaan jy my?”

“Nou wat kan ek tog hier doen? As ek hier probeer wegkom, vreet die leeus my in elk geval op. Ek het nie eens ’n geweer nie; dit het julle ook gevat.”

Dewald neem Katrien se plek teen die boom in, met sy geweer op sy skoot.

Katrien stap na die hut toe om te gaan kyk wat sy vir ete kan maak. Die hut is baie primitief gemeubileer met ’n houtbed waarop ’n paar velle en ’n ou kombers lê. Alles is vuil en vol stof. In die een hoek is ’n ruwe kas waarin die kosvoorraad gebêre is. ’n Paar vuil blikborde staan op die lendelam tafel en daar is ook drie blikbekers waarin die koffiereste al taai en klewerig geword het.

Haar oë soek rond vir ’n bak of skottel om die deeg in aan te maak, maar daar is net twee potte – ’n gewone driepoot-ysterpot en ’n platboompot. Wel, die platboompot sal maar moet diens doen as ’n skottel, besluit sy. Maar sy sal eers ’n plan moet kry vir ’n bietjie suurdeeg voordat sy die roosterkoeke sal kan maak. Sy vat die pot aan sy hingsel en stap na buite.

“Waarheen gaan jy?” roep Dewald agter haar aan toe sy by hom verbystap met die pot.

“Ek gaan net die pot was. ’n Mens sal siek word as jy kos in so ’n vuil ding maak.”

Dewald stap vinnig agter haar aan en haal haar met drie lang treë in. Sy grinnik net sarkasties in sy rigting, maar praat nie verder met hom nie. Toe die pot skoon genoeg is na haar sin, stap sy terug en gooi sommer van die kook­water uit die ketel daarin, voordat sy vir hulle pap maak.

Intussen het Dewald ’n bord gaan haal wat Katrien sommer saam met die bekers ook onder die kookwater laat deurloop het. Hy sit nou met ’n stuk biltong en kerf dit fyn op in die een bord.

In stilte eet hulle die pap en biltong en dit smaak heerlik vir Katrien. Die koffie is geurig en verfrissend en sy drink sommer twee bekers vol daarvan.

Sy ignoreer Dewald geheel en al. Sy praat nie ’n woord nie, kyk ook nie eens in sy rigting nie. Sy oë, wat haar so onderlangs dophou, laat haar bang en paniekerig voel. Sy bid amper hardop dat die son moet stilstaan, want wat gaan gebeur wanneer dit vanaand donker word?

“Jy kan maar daar in die hut gaan lê as jy wil.” Katrien kyk vinnig op en die vrees lê naak op haar gesig. Dewald vloek saggies. “Ek sal jou nie opvreet nie! Ek het gesê jý kan daarbinne gaan lê. Dit is koeler daar.”

“Dankie, maar ek bly liewer buite. Ek laat my nie in ’n hut vaskeer nie.”

Dewald sug en sy blik rus peinsend op haar. Hy wens hy kan haar gerusstel en in sy vertroue neem, sodat sy nie so vreesbevange hoef te wees nie. Hy kan dit egter nie waag nie – te veel hang van hierdie volgende paar dae af.

Die hitte maak Katrien lomerig en haar kop knik ’n slag. Sy laat haar kop op haar opgetrekte knieë sak en wens sy kan net wegdommel en rustig slaap.

Dewald sit doodstil. Om in die koelte te wees, moes sy noodgedwonge onder dieselfde boom as hy kom sit en kan hy dus net oorbuk om aan haar te raak.

“Luister, ek sal vir ons iets moet gaan skiet om te eet.” Hoop vlam hoog in Katrien op. Nou is haar kans!

Dewald sien die hoopvolle flikkering in haar oë en sug innerlik. Om haar lewe te beskerm, sal hy haar hier moet hou. Sy mag nie nou probeer ontsnap nie. Hy sal dit ook nie kan waag om haar in sy vertroue te neem nie; die risiko is te groot.

Sy skud net gedwee haar kop en versluier vinnig haar oë.

“Ek sal jou moet vasmaak totdat ek terugkom. Ek vertrou jou nie; jy sal weer iets onnosels probeer aanvang.”

“Ag, asseblief nie! Ek . . . sal hier bly.”

“Jammer, juffroutjie! Vasmaaktyd.” Hy haak die tou van die tak af en kom nader. Gelate steek sy haar hande uit. Dewald het lus en vryf die rooi merke aan haar polse saggies met sy groot vingers. Hy kry seer om die tou weer om die gevoelige polse vas te maak. Hy vermy egter haar oë en maak haar stewig vas. “Ek sal jou aan die boom ook moet vasmaak, want ek vat nie die perde saam nie.”

Sy staan op soos ’n skaap wat ter slagting gelei word en stap nader aan die stam van die boom.

Dewald buk skielik af en tel haar in sy arms op. Vrees laat haar ’n oomblik lam voel sodat sy net stil na hom kan lê en staar. Dit is eers toe Dewald in beweging kom dat die besef tot haar deurdring wat hy wil doen en sy begin wild skop en met haar liggaam wriemel.

“Ek dink jy moet liewer in die hut gaan wag. Dit is koeler daar.” Hy wag nie op bevestiging van haar nie, maar stap by die hut in en sit haar op die bed neer. Stewig bind hy haar hande en voete aan die bed vas. Sy beweeg effens. As sy stil lê, behoort sy heeltemal gerieflik te wees, besef sy gou.

“O, jou nare, ongevoelige bees! Het . . . julle geen respek vir iemand anders nie? Wat wil jy met my maak? Skiet my en kry klaar!” Haar stem eindig in ’n snik en sy draai haar kop vinnig weg.

Dewald moet hard sluk aan die knop in sy keel. Hy draai dus vinnig om en stap uit.

Katrien hoor sy voetstappe wegsterf en begin wild aan die toue ruk en pluk. Sy besef uiteindelik die nutteloosheid daarvan en haar liggaam raak stil terwyl warm trane oor haar stowwerige wange loop. Die rustigheid in die hut en die heerlike koelte druk saggies haar ooglede toe en sy raak rustig aan die slaap.

Katrien keer stadig tot die werklikheid terug. Hier tussen die berge word dit vroeg donker en sy sukkel om haar tyds­besef reg te kry toe sy wakker is. Sy beur orent, maar dan rem die toue aan haar hande en voete en sy sak weer magteloos terug. Haar hart gaan wild en benoud aan die klop toe sy Dewald se groot gestalte in die deur van die hut opmerk. Sy wonder hoe lank hy al daar staan. Eers toe hy beweeg, sien sy dat dit sy liggaam is wat die hut so verdonker het en dat dit nie regtig al so donker is buite nie.

“Ek het darem ’n springbok gekry. Ek het dit al klaar afgeslag. Kom maak asseblief vir ons die lewer gaar, toe!” Sy stem is sag en vriendelik en dit stel Katrien nog meer op haar hoede. Dit word donker; hy sal seker nou met sy streke begin.

Hy maak eers haar voete los en buig dan nader om haar hande ook los te maak. Hy is so naby aan haar dat sy die stof en sweet aan sy liggaam kan ruik.

Sy vryf haar seer polse en swaai dan haar bene van die bed af. Dewald staan opsy sodat sy kan verbykom en sy stap met ’n stywe rug by hom verby, sonder om weer na hom te kyk.

Die springbok hang reeds afgeslag aan die boom en eenkant in ’n bord is die lewer en vetdermpie neergesit.

Kort voor lank lê die lewer sissend op die rooster en roosterkoeke is besig om goudbruin te bak. Sy het ’n bietjie rysmiddel in die kardoesie gekry en is verbaas dat dit nog goed genoeg is.

Katrien sien Dewald se oë hongerig op die kos gerig en sy snork verontwaardig. Hy is menslik genoeg om honger te voel, maar nie menslik genoeg om ander mense se goed uit te los nie.

“Wat is jou naam?”

Katrien kyk gesteurd na hom. “Ek dink nie dit het iets met jou te doen nie.”

Dewald grinnik en vee vinnig oor sy mond sodat sy nie die glimlag moet sien nie. Die klein skepseltjie is darem verskriklik astrant en nie juis bang nie. “Ek kan tog nie vir jou ‘juffrou’ sê nie.”

“Ja, jy kan! Ek is nie jou soort nie. Ek steel nie ou mense en weeskinders se goed, hul laaste hoop, nie.”

“Wat bedoel jy?”

“Moet net nie vir my sê julle is so edel dat julle net ons beeste vir ons wil aanjaag Windhoek toe nie.” Katrien se stem drup van sarkasme.

“Ek bedoel van ou mense en weeskinders.”

“Wel, ek is ’n weeskind. My ouers is dood toe ek twee jaar oud was en ek bly by my ouma en oupa. Hulle is al baie oud en hierdie beeste was ons laaste hoop. Ons het baie teëspoed gehad en sonder die geld vir hierdie beeste sal ons die plaas moet verkoop.” Katrien sug en haar stem is bitter en ongelukkig. “Ek sien nie kans om die nuus vir my oupa te gaan vertel nie, daarom verkies ek dat julle my liewer doodskiet.” Haar oë is ysig toe sy hom vas aankyk.“Ek waarsku jou, ek sal elke geleentheid wat ek kry, aangryp om te probeer wegkom. Jy sal later verplig wees om my van kant te maak.”

Dewald staan met een lang tree langs haar. “Luister, jy gaan dit nie vir my moeilik maak nie! Ek belowe jou, jy sal veilig hier uitkom. Vertrou my net!”

“Vertrou!” Katrien gil die woord uit. “Vir jou? Moenie dat ek lag nie!”

In doodse stilte skep Katrien vir hom kos in ’n bord en gee dit vir hom aan sonder om na hom te kyk.

“Dankie!” Sy kyk verbaas op. “Jy het nog nie vir my gesê wat jou naam is nie.”

“Ek het! Ek het vir jou gesê dit traak jou nie!”

“Wel, dan sal ek jou maar ‘Liefie’ moet noem.”

“My naam is Katrien.”

“O!” Dewald glimlag breed. “Ek wonder of ek nie meer van ‘Liefie’ hou nie.”

“O, jou haatlike ding!”

Katrien staan op toe sy klaar geëet het en mik om fontein toe te stap.

“Waarheen gaan jy?”

“Meneer, ek is vandag nog heeldag vasgemaak. Dink jy nie ek mag myself vyf minute verskoon nie?”

“Ongelukkig vertrou ek jou nie vyf minute alleen nie. Netnou verdrink jy jouself in die fontein en die ander sal my nooit vergewe as ek jou iets laat oorkom nie.”

“Wel, dit is jou probleem.” Katrien kyk nie om nie, maar stap vinnig met die toegegroeide voetpaadjie langs fontein toe.

Sy het skaars tien tree gevorder toe sluit Dewald se groot hand stewig om haar boarm.

“Ek gaan saam.”

“My liewe aarde, word dít my nie eens gegun nie? Menslik gesproke, meneer, sal dit nie moontlik wees om ’n week lank uit te hou nie.”

“Goed, jy kan gaan, maar trek jou skoene uit.”

“My skoene?”

“Ja, jou skoene! Hier is ’n voetpaadjie tot daar onder en jy as gebore Suidwester sal tog nie mal genoeg wees om sonder skoene te probeer vlug nie.”

“O! Jou . . .”

“Ag, noem my sommer Dewald. Dewald Swart. Aangename kennis.”

“O!” Katrien plons op die grond neer en ruk haar afgeleefde bruin sandale van haar voete af. Woedend gooi sy dit voor hom op die vloer neer. Versigtig vir dorings stap sy in die voetpaadjie terwyl sy oor haar skouers kners: “Eenvoudige ding!”

Tien minute later kom sy stilstaan-stilstaan met die voetpaadjie langs terug. Sy het sommer van die geleentheid gebruik gemaak om haar gesig en arms, asook haar voete, in die lekker koel fonteinwater te was, maar die dorings verrinneweer haar voete en sy stap woedend by Dewald verby sonder om in sy rigting te kyk. Sy krap vinnig in haar saalsak vir haar handdoek om haar gesig en arms mee af te droog.

Buitekant tel sy haar sandale op om dit weer aan te trek sonder om in Dewald se rigting te kyk.

“Wel, ek kan jou nie alleen hier los nie, en dit sal ook nie help ek vat jou skoene saam nie, dan spring jy dalk op die perd. Ek is jammer, maar ek sal jou weer moet vasbind, want ek wil gaan bad.” Katrien wens sý kan gaan bad. Sy sal dit egter nooit kan waag met hierdie sadis in die omtrek nie.

“Jammer, liefie, ek kan nie anders nie, tensy jy wil saamkom.”

“Eenvoudige ding!”

“Haai! Dit is nie my naam nie. My naam is Dewald.” Woedend gluur Katrien hom net aan. “Kom! Vasmaaktyd!” Hy staan laggend nader en hou die tou na haar toe uit, maar sy klap dit woedend voor haar weg. “Ag, nee! Hoekom nou so kwaai?”

“Los my uit! Ek kan nêrens heen gaan in die donker nie.”

“Ek is glad nie so seker daarvan nie. Ek wil darem ook nie met my geweer en klere aan bad nie. Ek is bang jy steel my goed solank ek in die water is.”

Hy steek sy hand uit om haar hande te vat, maar skielik is al die opgekropte frustrasie en woede heeltemal uit rat uit binne-in Katrien. Voordat Dewald weet wat gebeur, sak haar gesonde, wit tande weg in sy hand se sagte vleis.

“Eina! Jou klein satanskind!” Soos blits staan hy agter haar en sy arm span soos ’n klem om haar keel terwyl sy baie styf teen sy groot, gespierde liggaam vasgedruk word. “Doen dit weer!” Hy sis die woorde afgemete uit. “Ek sal jou waaragtig so ’n loesing gee, jy sal dit nooit vergeet nie.”

“Hoekom probeer jy nie? Jou skelm! Jou . . . rower! Dink jy ek is bang vir jou?” Katrien voel hoe sy spiere om haar nek verslap terwyl hy iets onverstaanbaars grom.

Sonder simpatie maak hy haar deeglik vas. Hy dra haar tot teen die boomstam en maak haar dan aan die boom ook vas. “Ek is nou weer terug. Roep my as jy na my verlang.”

“Loop, jou uitvaagsel! Ek haat jou! Ek wens ’n slang pik jou in die donker!”

Dewald se grimmigheid van so effe is skoon vergete. Hy lag lekker en fluit ’n vrolike deuntjie terwyl hy met die voetpaadjie langs fontein toe stap.

Katrientjie

Подняться наверх