Читать книгу Die kralebruid - Sarah du Pisanie - Страница 4
2
Оглавление“Isa!” Nina skud liggies aan haar skouer.
Isa sit verskrik regop. Nina druk haar hand voor haar mond om haar tot stilte te maan.
“Kom!”
“Waarheen?” fluistervra Isa en haar oë is groot in die skrefie maanlig wat by die hut insypel.
Nina beduie egter net dat sy moet stilbly en loer by die opening van die hut uit om seker te maak dat almal reeds slaap. Nina vat haar hand en stil sluip hulle by die kamp uit. Isa wil oopbars van nuuskierigheid, maar weet dat sy nou geen geluid moet maak nie.
Eers toe hulle baie ver van die hutte af is, gaan Nina uitasem sit. “Wat gaan aan, Ma-Nina? Waarheen gaan ons?” vra Isa nog steeds heeltemal oorbluf deur hierdie vreemde optrede van Nina.
“Ons gaan na die gode toe.”
“Die gode?” Isa se oë is groot en geskok.
“Ja, dié waarvan Kara gepraat het. Hulle wil jou sien. Hulle wil natuurlik sien of ek goed na jou gekyk het.”
Isa kan die heilige respek in Nina se stem hoor. “Maar, Ma-Nina, ons kan dit mos nie doen nie. Hulle kom soek dalk glad nie vir my nie. Hoe weet ons dat hulle ons goedgesind is?” vra Isa.
“Wat sal hulle dan anders hier kom maak? Kara sê dit is mansgode en hulle lyk soos jy. Die een se hare is amper net so wit soos joune. Hulle dra ook vreemde klere soos wat jy aangehad het,” sê Nina beslis.
“Ma-Nina . . .” Isa weet nie mooi hoe om dit vir haar te sê nie. Kara het ’n week gelede hier aangekom en gesê dat daar twee gode van die see se kant af aankom. Hulle het nog twee ander by hulle wat baie soos die Ouni’s lyk, maar hulle dra ook vreemde klere soos die gode. Dan is daar nóg vier, maar hul velle is swart en hulle dra groot pakke goed – hulle is seker die gode van die slawe, want hulle lyk soos die Nu-Khoins en hulle dra ook klere van vel.
“Ma-Nina, ek is glad nie van die gode nie. Ek kom . . .”
Nina druk vinnig Isa se mond toe. “Jy moet dit nooit weer sê nie! Natuurlik is jy van die gode! Jy het uit die see gekom en hulle het jou spesiaal vir my daar op die strand neergesit omdat my hart so na jou gesmag het. Ek wil net vir hulle gaan wys dat ek jou al hierdie tyd mooi opgepas het.” Nina se stem is so beslis dat Isa weet dit sal nie help om verder met haar daaroor te redeneer nie.
“Waar is die gode nou, Ma-Nina? Het Ma uitgevind?”
“Ja, by die gat van die klein volstruisies.”
Isa sug. Dit is nie ver hiervandaan nie. Nina het haar dinge mooi uitgewerk.
Noudat sy daaraan dink, Nina was onrustig al vandat Kara met die storie gekom het dat daar gode uit die see aangekom het. Sy het vir Kara teruggestuur om die gode dop te hou en hy moes gereeld kom verslag doen waar hulle is.
Nina staan weer steunend op en in stilte beweeg hulle ’n entjie verder voordat Nina haar terughou.
“Gaan jy alleen nader en gaan kyk of hulle nog daar is. Saggies, hoor, die gode sal jou hoor.” Nina deel haar bevele uit en gaan sit dan moeg en kortasem onder ’n bos.
Isa sluip geluidloos nader en sien dan in die maanskyn die hobbels soos die mense lê en slaap.
Sy sit lank daar. Haar gedagtes is ’n maalkolk. Nina sal nooit luister en verstaan as sy probeer verduidelik nie. Soveel jare het sy gewag vir iemand om haar terug te neem na die beskaafde wêreld, en nou weet sy nie of sy wil gaan nie.
Die dag wil-wil in die ooste breek toe Isa terugsluip.
Nina lê skuins op haar sy en Isa weet dat die geringste beweging haar sal wakker maak. Arme Nina. Sy word nou so vinnig oud, haar tyd hier saam met hulle is nie meer lank nie. Wat gaan dan van haar word?
In Isa woel en woed ’n tweestryd. Hier is eindelik van haar eie mense wat haar kan terugneem na waar sy hoort. Noudat die geleentheid hier is, is sy bang! Het sy nie al te veel verander en te veel vergeet van die beskawing nie? Al wat sy nog kan onthou, is die swaarkry en harde werk. Wil sy regtig weer teruggaan daarheen?
Nina sit vinnig regop toe Isa liggies sug. “Is hulle nog daar?”
“Ja, hulle is nog daar, maar ons sal maar moet wag totdat dit lig is, anders . . . skrik hulle dalk.”
Nina kyk na die oosterkim en skud haar kop. Isa kom lê styf teen haar en sit haar arm om die benerige ou lyfie.
“Ma-Nina, kom ons gaan liewer terug. Netnou . . . wil die gode my terugvat en . . . ek wil nie vir Ma-Nina alleen los nie.”
Nina is eers ’n lang ruk stil.
“Ek kan dit nie doen nie, kind. As ek jou vir hulle wegsteek, kan hulle dalk kwaad word en die ander mense van die Ounistam ook kwaad aandoen. Kara sê hulle het stokke by hulle waarmee hulle donderweer maak en dit laat ’n bok ín sy spore neerslaan. Nee, kind! Ons kan dit nie aan die ander doen nie. Ek is baie dankbaar vir die tyd wat hulle jou vir my gegee het. Ons . . . moet alleen gaan sodat hulle nie van die ander weet nie. Dit is hoekom ek jou hierheen gebring het.” Isa besef die wysheid van Nina se woorde.
Al vertolk sy ook dinge heeltemal verkeerd, bly die beginsel nog reg.
Isa sug en lê dan weer stil. Nina het reg, dit is beter dat hulle alleen gaan. Dalk gaan sy saam met hulle terug, dan sal dit beter wees dat hulle nie weet waar die ander mense van die Ounistam is nie. Of as hierdie mense hulle kwaad wil aandoen, dan is dit darem net haar en Nina se lewe wat in gevaar is.
Nina se skraal hand skuif op en kom rus vertroostend op Isa se arm hier om haar middel.
’n Entjie verder word elkeen in die kamp van Gerrit van Reenen ook traag wakker.
Hy en Pieter van Reenen, sy neef, is twee ontdekkingsreisigers wat deur die goewerneur van die Kaap de Goede Hoop aangesê is om hierdie land noord van die Kaap te kom verken.
Hy wat Gerrit is, is die ekspedisieleier en sy neef Pieter is die een wat die kaarte teken. Hulle het natuurlik al vantevore hierdie land van die suide af benader, maar nie ver oor die Grootrivier gekom nie. Die eerste keer moes hulle omdraai as gevolg van ’n vreeslike droogte, en die tweede keer het Pieter koors opgedoen en het die osse so gevrek dat hulle weer eens moes omdraai.
Vanjaar het hulle met ’n boot tot regoor die mond van hierdie droë rivier gekom. Hulle beweeg hierdie keer van noord na suid – te voet, en met net vier draers en twee spoorsnyers.
In die loop van hierdie rivier is daar darem plantegroei en kan daar gate gegrawe word vir water. Aan die kante van die rivier is dit woestynagtig, maar daar is darem so hier en daar yl gras sodat hulle af en toe ’n wildjie hier teëkom. Kos is dus nie so ’n groot probleem nie. Hulle weet net nie hoe lank dit so sal aanhou nie. Dit is maar ’n wrede en onherbergsame wêreld hierdie.
Gerrit strek sy stram spiere lank en luidrugtig uit totdat hulle weer beweeglik voel.
Pieter gaap en stap dan ’n entjie met die rivierloop af om houtjies op te tel.
“Seur!” Jantjie, die een spoorsnyer, sit op sy hurke na iets in die sand en kyk.
“Wat is dit, Jantjie? ’n Leeu?” vra Gerrit en stap nader.
“Kyk hier, seur.”
Gerrit gaan sit langs hom en kyk dan verbaas na die klein mensspoortjie in die sagte sand.
“Hierdie spoor is maar ’n paar uur oud, seur.”
Pieter kom ook nou nader en kom loer oor Gerrit se skouer. “Wat sien julle?”
“Kyk hier.” Gerrit beduie na die spoor.
“Genade!” Pieter kom hurk eenkant.“Dit lyk soos ’n Boesmanspoor.”
Jantjie wil sommer dadelik die spoor vat, maar Gerrit keer hom. “Kom ons maak eers koffie en laat dit behoorlik lig word. Ons moet versigtig wees. Ek het eerlikwaar nie gedink enigiets buiten diere sal hier bly nie.”
Hulle is egter kriewelrig. As die mense tot hier by hulle kon kom, sit hulle natuurlik van iewers af en beloer hulle – dalk ’n horde mense.
Jantjie sit sy beker sag neer en sy stem is ’n fluistering. “Seur, kyk daar.”
Gerrit se kop ruk vinnig op en dan bly hang sy hand met die beker koffie daarin in die lug.
Effens verskuil agter ’n kameeldoringboom sit ’n stokou vroutjie, die ene plooie, en dan kom sy krommerig, stadig te voorskyn.
’n Karos hang swaar om die maer skouertjies, en op hierdie oomblik is daar iets soos doodse vrees op die ou plooigesiggie.
Dit is seker omdat hulle op hul hoede is dat hulle haar so gou gesien het.
Pieter staan op en dadelik gee sy ’n treetjie terug, haar hele houding vreesbevange. Hy steek sy hand na haar uit om haar te probeer gerusstel.
Gerrit staan egter terselfdertyd op en sy groot, bonkige gestalte moet blykbaar vir die vreemde ou vroutjie so oorweldigend en skrikwekkend wees, dat sy op haar knieë neerval en haar kop op die grond druk.
Gerrit wil ’n treetjie nader gee, maar dan stol die bloed in sy are en kan hy net oopmond soos ’n imbesiel bly staar. Langs hom trek Pieter sy asem vinnig in.
Gerrit kan sweer sy het uit die lug geval, want niemand het haar gesien voordat sy langs die vreemde, bruin ou vroutjie kom hurk het nie. Haar arms, wat baie ligter van kleur is as die vrou s’n, gaan nou vinnig en beskermend om die maer lyfie, en dan word die ou vrou effens opgelig en styf teen haar vasgedruk. Haar oë daag die verslae mans woordeloos uit om nader te kom.
Gerrit sluk en sluk, maar nog steeds ontwyk die vermoë om ’n geluid te maak hom.
Pieter lek oor sy lippe, maar geen klank wil hoorbaar word nie. “Genade!” kry hy dit eindelik uit.
Gerrit beweeg baie versigtig nader en Isa druk Nina stywer teen haar vas, en nou vind die ou vrou se vrees weerklank in die helderblou oë.
“Jantjie, kom praat Boesmantaal met hulle. Dalk verstaan hulle dit,” sê Gerrit sonder om sy blik van die twee vroue af te neem.
Jantjie kom versigtig nader, en onmiddellik is die ou vrou waaksaam en sit sy weg van die jong een af; gespanne, oorgehaal om vinnig te kan beweeg. Sy druk die meisie met die spierwit hare weg van haar af en skuif dan pertinent voor haar in.
“Sy sal ’n mens aanval,” sê Jantjie versigtig. “Soos ’n dier wanneer hy sy kleintjies wil beskerm.”
“Dit kan onmoontlik haar kind wees. Praat met hulle.” Gerrit praat met Jantjie, maar haal nie sy blik ’n sekonde lank van die twee vroue af nie.
Jantjie praat in ’n vinnige klik-klak-taal wat baie soos dié van die Ouni’s klink, maar vir Isa en Nina is dit heeltemal onverstaanbaar.
Isa kyk versigtig na Jantjie. Hy lyk nogal soos die Ouni’s. Baie meer as die ander twee – hulle lyk soos sy. Dit is van haar soort mense.
Toe Gerrit nog nader kom, druk Nina vir Isa heeltemal agter haar in en haar hele wese is nou behoedsaam.
“Hulle verstaan niks nie, seur,” sê Jantjie verlig. Hy vertrou die ou vroutjie glad nie. Kyk net hoe wil sy die jonger een beskerm.
“Ek het net vir hulle kom wys dat ek mooi kyk na my Isa.” Nina se stem is hees van spanning. “Kyk! Sy is gesond en vet . . .” Nina se stem word dun van benoudheid en sy hou Isa se arm op sodat die gode kan sien hoe mooi die kind is.
“Wat op aarde wil die vrou hê?” vra Pieter en kyk vraend na Gerrit.
“Ek het geen benul nie, maar ons móét meer van die meisie te wete kom. Sy is nie van dieselfde ras as die ouer een nie.” Gerrit se blik gaan vinnig oor hulle terwyl hy praat.
“Hoe op aarde sou sy hier gekom het? Sy lyk soos ’n Europeër,” sê Pieter en kan sy blik nie van die vreemde verskynsel af wegskeur nie.
“Dalk is hier so ’n stam in die nabyheid,” sê Gerrit en die opgewondenheid slaan deur in sy stem.
“Die meisie is beslis heeltemal anders. Sy is ook nie so vuil soos die ou vrou nie. Weliswaar nie skoon nie, maar dit lyk nie soos jare se lae en lae vuilgoed wat aan haar vasklou nie. En daardie lang, blonde hare is verbasend skoon.”
Pieter beduie na Isa en dadelik is Nina op haar hoede.
“Hulle wil jou hê, kind. Dit lyk vir my hulle wil jou terugvat,” sê sy dan en druk weer vir Isa beskermend dieper agter haar rug in.
“Willem, roep een van die Xhosas om met hulle te kom praat; dalk verstaan hulle Xhosa beter,” sê Gerrit en een van die draers kom maar taamlik versigtig nader.
Hierdie keer verstaan hulle nog minder en die draer gee dan ook maar die saak gewonne.
“Gaan haal van die krale en armbande wat ons vir ruiltransaksies gebruik. Ons moet hulle op die een of ander manier langer hier hou totdat ons iets kan vasstel.” Gerrit praat met Willem, maar hou sy oë voor hom op die twee vroue gerig.
Dit is asof Isa se oor stadig aan die mans se vreemde, growwe stemme gewoond raak, en die eerste woorde wat by haar registreer, is toe Gerrit sê: “Ons móét meer van die meisie te wete kom.”
Meisie! Die woord haak in haar verstand vas. Sý is ’n meisie. Sy draai haar kop luisterend en vang nog ’n woord op toe Gerrit vir Pieter sê: “Sy is nie die ou vrou se kind nie. Daarvoor . . .”
Vrou! Kind! Sy ken hierdie taal. Dit is mos haar taal!
Sy skuif agter Nina uit toe Gerrit van die gekleurde krale in sy hand gooi en na hulle uithou.
“Kyk! Mooi! Kom vat vir jou!” Hy beduie met sy kop en Isa glimlag stadig vir hom. Sy verstaan hulle! Dit is haar taal wat hulle praat!
Sy wil vorentoe beweeg, maar Nina ruk haar terug.
“Ek sal met hulle praat, Ma-Nina. Ek verstaan hulle nog. Ek dink nie hulle wil ons kwaad aandoen nie.” Nina laat haar onwillig vorentoe gaan.
“Wag, dit lyk vir my sy wil van die krale hê,” sê Pieter opgewonde.
“Jantjie, praat weer jou taal met hulle. Dalk was hulle netnou net te verskrik. Die taal wat hulle twee praat, klink baie soos joune.”
Jantjie probeer weer, maar dit maak geen indruk op die twee vroue nie.
Isa hou haar hande uit en Pieter sit van die helderkleurige krale daarin.
“Mooi!” sê Isa en kyk op in Gerrit se verbaasde oë.
“Wat sê sy?” vra Pieter verbaas.
“Ek kan nou sweer sy het gesê ‘mooi’,” sê Gerrit.
Isa gee die krale vir Pieter terug en druk met haar hand voor haar bors.
“Isa . . . My . . . naam . . . Isa.” Sy praat stadig en afgemete en glimlag dan selfvoldaan toe haar stem vir haarself heeltemal goed klink in haar eie taal.
As die hemel nou op hul koppe geval het, kon hulle nie meer verbaas gewees het nie.
“Liewe aarde!” sê Gerrit stomgeslaan. “Die meisiekind praat Hollands!”
Gerrit wil haar aan die arm vat, maar onmiddellik is Nina by en Gerrit laat sak sy hand. Hy gaan sit dan op die sand en beduie vir hulle om ook te sit.
Die ander kom sak ook stil op die grond neer en hulle vorm ’n geslote kring. Die ou vrou kom sit styf teen Isa en sit haar arm skuins oor Isa se skoot asof sy haar so wil beskerm.
Gerrit voel tot in sy tone lam van skok. Waar op aarde kom hierdie meisie vandaan?
“My . . . naam is . . . Isa . . . Joune . . .?” vra sy stadig en versigtig. Isa moet konsentreer op elke woord wat sy sê. Dit voel asof sy van voor af moet leer om in haar eie taal te dink.
Gerrit skud sy kop ongelowig en Pieter druk maar teen sy eie bors.
“Ek is Pieter van Reenen en dit is my neef Gerrit van Reenen. Ons is besig met ’n ontdekkingstog van hierdie land. Ons is op pad na die Kaap de Goede Hoop.” Hy praat ook stadig en afgemete.
“Kaap . . . de . . . Goede Hoop?” Sy glimlag breed. “Ek . . . was . . . ook op pad . . . daarheen.” Dit gaan makliker hoe meer sy praat.
“Wanneer was dit?” Gerrit het darem ook nou al sy stem teruggekry.
“Omtrent . . . ses . . . ja, ses jaar gelede.” Isa dink eers ’n rukkie oor haar volgende woorde. “Ons . . . was op pad na die Kaap. Ons . . .” Aanvanklik stadig en soekend na woorde, maar algaande vinniger vertel Isa vir hulle in ’n paar sinne haar hele lewensgeskiedenis.
Toe Isa klaar is, kyk Gerrit met heelwat meer respek na die ou plooigesiggie langs haar. “Is dit die een wat jou op die strand gekry het?” vra hy en beduie na Nina.
“Ja, dit is my Ma-Nina. Ek het al die jare in die weeshuis nie soveel liefde gekry soos by haar nie. Sy dink ek is die kind wat die gode vir haar gegee het. Sy het nooit haar eie kinders gehad nie.” Isa vee liefdevol oor Nina se vuil wang, en Nina se hand vang hare stewig vas en druk dit teen haar bors.
“Wat sê hulle alles, kind?” vra sy angstig vir Isa.
Isa verduidelik kortliks dat hulle net hier deurreis en op pad is na die suide toe.
“Het jy vir hulle gesê dat ek jou net vir hulle kom wys het en dat ek mooi na jou gekyk het?” vra Nina angstig.
“Wat sê sy?” vra Gerrit nuuskierig.
“Kara, een van ons mense, het so ’n week gelede berig dat julle aan die kom is. Ma-Nina glo dat julle ook van die gode is. Sy dink ek is ’n kind van die gode omdat ek uit die see gekom het. Sy dink julle het kom kyk of sy goed na my kyk en julle wil weet hoe dit met my gaan. Sy het my nou net vir julle kom wys.”
Gerrit en Pieter kyk met groot respek na die bruin gesiggie wat hulle so angstig dophou.
“Sê vir haar sy het baie mooi na jou gekyk en ons is baie tevrede.” Gerrit glimlag vir Nina.
Isa knik dankbaar toe sy sien hoe die angstigheid uit die ou gesiggie verdwyn. Dan trek die plooie oop en steek die geel tandjies uit terwyl sy breed glimlag.
“Dankie,” sê Isa sag vir Gerrit, en druk haar kop liefdevol teen Nina se arm. “Ek het probeer verduidelik dat ek nie van die gode is nie, maar sy wil niks daarvan hoor nie. Sy maak my stil. Sy is bang dat die gode dit as oneerbiedig sal beskou.”
“Isa,” en Nina trek aan haar arm, “sê vir hulle dat ek jou aan Gao as vrou gegee het. Vra vir hulle of hulle tevrede is.”
Isa frons en Gerrit en Pieter is nou openlik nuuskierig. “Wat sê sy?”
Isa tolk verleë en Gerrit frons hewig. “Wie is Gao?” vra hy dan en Nina kyk bekommerd na hom.
“Hy is ook ’n Ouni, maar net van ’n ander familiegroep. Hierdie tyd van die jaar kom haal die mans vir hulle vroue by die ander groepe en betaal dan met bokke vir hulle. Gao wou my verlede jaar al gekoop het, maar Ma-Nina het gesê ek is nog te jonk. Hy moes wag tot hierdie jaar.”
Nina kyk angstig na Gerrit. Hoe dieper sy frons word, hoe benouder voel sy.
“Maar jy kan tog nie met een van hulle trou nie!” sê Gerrit. “Of wil jy? Ons sal vir die goewerneur in die Kaap van jou sê, en wanneer hulle weer ’n boot in hierdie rigting stuur, sal iemand jou kom soek. Maar dit sal nie voor volgende jaar kan wees nie. Jy . . . hoort tussen jou eie mense.”
Isa se oë is groot en baie eerlik toe sy hom stil aankyk.
“Ek . . . weet nie. Ek het net nog altyd die gevoel dat ek nie met een van hierdie mans wil trou nie. Ek het deur die jare altyd gehoop hier kom iemand wat my kan terugvat na my eie soort toe. Later jare het die hoop gesterf . . .”
Gerrit skud sy kop heftig. “Jy kan nie met Gao trou nie!”
Nina sit vorentoe. “Wil hy nie hê jy moet met Gao trou nie, kind?” vra sy dan bekommerd. Isa knik liggies bevestigend en Nina sit terug op haar hurke en staar peinsend voor haar uit. “Dan moet hulle jou nou terugvat. Gao sal jou kom opeis en ek sal my woord moet hou. Sê vir hom dit is goed, maar dan moet hulle jou nou saamvat.”
“Wat sê sy?” vra Pieter nuuskierig toe hy sien hoe vasberade sy is en hoe ongemaklik Isa voel.
Isa tolk vir hulle en Pieter en Gerrit kyk magteloos na mekaar. Hulle besef die waarheid van Nina se woorde. As hulle Isa van so ’n huwelik wil red, sal hulle haar moet saamneem.
Nina staan op en dadelik is Isa langs haar. Gerrit en Pieter staan ook maar op. Nina steek haar hand na Gerrit uit, maar toe hy haar verbaas aankyk, vat sy sy hand en dan vat sy Isa se hand en sit haar hand in Gerrit s’n. Haar plooierige hand sluit bo-oor Gerrit se grote en dan kyk sy afwagtend na Pieter. Pieter staan nog effens verdwaas, maar Nina beduie vir hom om sy hand bo-op hare te sit en gedwee doen hy dit maar.
“Sy is nou joune. Jy moet baie mooi na haar kyk. Sy . . . was ’n baie goeie dogter en sal . . . goed wees vir jou.” Nina se stem is plegtig en twee blink trane rol oor die vuil wange.
“Maar, Ma-Nina, ek wil liewer by jou bly. Jy is oud. Wie gaan na jou kyk?” pleit Isa.
“Wat sê sy?” vra Gerrit vir Isa en kyk na die hopie saamgevoude hande.
“Ek dink sy het nou net vir jou hierdie meisie present gegee,” sê Pieter en sy stem is sag terwyl hy na Gerrit se verbaasde gesig kyk.
Asof Nina werklik Pieter se woorde kan verstaan, knik sy en glimlag breed vir hom.
Isa is skielik skaam vir hierdie groot man met sy swart baard. Sy span haar gedagtes in om te probeer onthou hoe ’n huwelik in die beskawing bevestig word. As weeskind het hulle nooit daarmee kennis gemaak nie. Nie op hul ouderdom nie. Sodra die meisies twaalf jaar oud geword het, is hulle as diensmeisies verkoop en dié wat eenkeer uit was, het nie weer teruggekom om te vertel nie. Vir hulle het die lewe op daardie ouderdom eers werklik begin.
“Is dit wat sy gesê het, Isa?” vra Gerrit, en daar is ’n vreemde uitdrukking op sy gesig.
Hy kyk stil na Nina se ou plooigesiggie en hy voel so klein en onbekwaam, want hierdie ou mensie het nou net vir hom haar kosbaarste besitting gegee en hy het geen benul wat hy daarmee moet maak nie.
“Goed . . . ons sal jou saamneem. Jy behoort ons nie te veel op te hou nie. Jy is mos darem aan ontberings gewoond,” sê Gerrit en trek sy hand los uit hare. “Die meisiekind kom darem uit ’n beskaafde wêreld. Sy behoort gou weer die dinge aan te leer. Willem, gee vir Nina van die krale,” beveel hy. Hy draai glimlaggend na Isa. “Sê vir haar ek het nie bokke om haar mee te betaal nie.”
Isa tolk vir Nina en sy knik goedkeurend.“Ek is al te oud vir bokke. Hierdie mooi goed sal my altyd aan my Isa laat dink. Hulle . . . is darem nie so mooi soos jy nie,” sê sy sag en druk Isa teen haar vas.
Isa se arms gaan om haar en dan ruk ’n droë snik uit haar liggaam. “Jy is al ma wat ek ooit gehad het, Ma-Nina. Ek is so lief vir jou. Ek sal eendag my eerste dogtertjie die naam Nina gee en ek sal haar vir jou kom wys wanneer ons almal by die voorvaders is,” snik Isa saggies.
Gerrit en Pieter staan verleë totdat Nina omdraai en die krale in haar twee hande vat. Gerrit vou haar hande vas om die krale en so beklink hy onwetend ’n baie rare huwelik.
“Jy moet my net terugvat tot naby die hut en jou goed kry en dan kan jy terugkom na jou man toe. Ek sal aan die ander verduidelik soos ek goeddink,” sê Nina.
“Ek vat haar net terug en dan kom ek weer. Julle kan solank voortgaan. Ek sal julle laer af kry. Julle loop mos reg suid?”
Isa glimlag vir Gerrit, vat dan Nina se arm en verdwyn agter die paar bome in.