Читать книгу Die kralebruid - Sarah du Pisanie - Страница 5

3

Оглавление

Gerrit het amper bly geword, want teen die aand is daar nog geen teken van die vreemde meisiekind nie. Diep in sy hart hoop hy regtig dat sy nie meer gaan opdaag nie. Wat op aarde gaan hulle met haar aanvang? Hulle gaan nog maande in die veld wees.

“Hoe lyk dit dan of ons vondeling nie meer gaan opdaag nie?” sê-vra Pieter toe hulle later om hul uitgebrande vuurtjie sit. Die draers en ook Willem en Jantjie het lankal tot ruste gekom.

“Eienaardige skepseltjie!” sê Gerrit en tussen hom en Pieter is nie veel meer woorde nodig nie.

“Ja, ’n mens kan niks anders doen as om haar saam te neem nie,” antwoord Pieter en gooi ’n stokkie in die vaal assies.

“My gewete sou my nooit met rus gelaat het as ons haar hier gelos het nie,” sê Gerrit en staar ver voor hom uit.

Hulle hoor haar glad nie aankom nie. Die skrik slaan koud teen Pieter vas, en sy hand soek vinnig na sy geweer toe sy skielik op haar stadige, afgemete manier hier agter hom praat.

“Ma-Nina is veilig.” Sy haak die velsak wat oor haar skouer hang af en laat dit op die grond sak, en dan gly die karos ook van haar skouers af en kom lê in ’n hopie by haar voete.

Gerrit staan op en skielik is almal ongemaklik. Wat gaan hulle met hierdie vreemde, amper wilde mens maak?

“E . . . daar is nog koffie. Wil jy ’n bietjie hê?” sê hy sommer die eerste gedagte wat in sy kop kom.

“Koffie?” Isa se stem is vraend.

“Ja.” Pieter staan op en gooi vir haar in en sy stem is vriendelik. “Kan jy nie meer onthou hoe dit smaak nie?” Hy gooi vir haar baie suiker in en hou die beker na haar toe uit.

Isa proe-proe ongemaklik daaraan, maar dan oorwin die soetigheid en sy drink dit stadig en onhandig.

“Ons moet maar gaan inkruip,” sê Gerrit. “Ons moet vroeg roer.”

Isa bekyk hulle stil onderlangs. Die een is groot en sy hare en baard is swart en dit is haar man! Sy kan nie meer sy naam onthou nie. Sy sal môre weer vir hom vra wat dit is. Die ander een is kleiner en skraler en hy het wit hare, amper soos hare, en ook blou oë. Dit is vir haar vreemd dat Nina hóm nie uitgesoek het om haar man te wees nie. Dit is seker maar omdat die ander een die leier is, ’n mens kan dit sommer aanvoel.

Isa kyk skaam weg toe Gerrit vraend na haar kyk. Hy is groot en sterk en sal mooi na haar kyk, het Nina gesê. “Julle sal groot, sterk kinders hê wat eendag na julle sal kan kyk wanneer julle oud is.”

Die mans rol hulle in hul komberse toe en Isa is genoodsaak om haar karos oor haar te gooi en ook te gaan slaap.

Isa is vergete al wakker toe die mans eers roer. Sy lê egter maar doodstil, want sy het geen benul wat hulle nou van haar verwag nie.

Pieter begin vuur maak. Isa sit regop en trek haar bene op, vou haar arms daarom en sit hulle doodstil en bekyk.

Pieter beduie liggies met sy kop in haar rigting en Gerrit loer onderlangs na haar. Wat sou tog in daardie deurmekaar kop aangaan? Mensig, maar die dingetjie is vuil en stink behoorlik windop! “Kom eet, hier is nog van gisteraand se kos oor,” nooi Gerrit toe sy hulle net doodstil sit en bekyk.

Isa kom versigtig nader, asof sy bang is hulle sal haar bevlieg as sy te naby hul kos kom. Gerrit gee vir haar ’n stuk vleis aan en sy verskeur die vleis met haar tande soos ’n dier. Sy drink weer koffie en vandag smaak dit al lekkerder as gisteraand.

“Wat is jou regte naam?” vra Gerrit en kyk haar reguit aan.

“Isa.”

“Isa wie?”

Sy frons en kyk hom onbegrypend aan.

“Is Isa die naam wat jy gehad het toe jy nog in Holland was?” vra hy dan en hy kan sien dat dit darem nou by haar registreer. “Nee . . . my naam was . . . e . . .” Sy dink eers ’n bietjie. “Anna . . . Anna den Hoon. Ma-Nina het my Isa genoem. Isa beteken ‘mooi’!” Gerrit moet sy kieste vasbyt om nie te lag nie. Die vuil, verwaarloosde dingetjie met die deurmekaar hare en lang, vuil naels is allermins ’n pluimpie vir haar naam.

Isa drink haar koffie, staan dan op en stap die veld in.

Pieter kyk hulpsoekend na Gerrit. “Ons sal die vroumens moet bad, jong,” sê hy vies.

“Hier is nie genoeg water nie. Ons sal maar net moet uithou totdat ons uit hierdie woestynagtige deel is en iewers genoeg water kan kry,” sê Gerrit en sug beswaard.

Isa kom eers terug toe hulle al klaar opgepak het. “Watter koers stap julle?” vra sy toe sy haar velsak optel.

“Nog steeds reg suid,” sê Gerrit en Isa knik.

Sy verdwyn later weer tussen die bome en Gerrit raak bekommerd.

“Waar sal die meisiekind wees?” vra hy heelwat later vir Pieter toe daar nog geen teken van haar is nie.

“Ek weet nie, maar ek dink nie ons twee gaan so gelukkig wees om van haar ontslae te raak nie. Sy gaan soos klitsgras klou tot in die Kaap en nugter weet wat ons daar met haar gaan doen,” sê Pieter ietwat moedeloos.

“Ons kon haar tog nie hier los nie. Hoe wil jy dan nou maak of dit ek was wat haar wou saambring?”

Pieter lag en klap Gerrit joviaal op die skouer. “Gelukkig is sy jou probleem. Die ou vrou het haar vir jou gegee. Jy het nou ’n mooi wit diensmeisie,” sê hy laggend en moet dan vinnig koes toe Gerrit ’n hou na hom mik.

Teen middagete kom sluit Isa haar net so stil weer by hulle aan. Uit die velsak haal sy ’n klomp bessies en wortels en sit dit selfvoldaan voor Gerrit neer.

“Kan ’n mens dit eet?” Gerrit kyk vies daarna.

Isa glimlag en tel dan ’n hand vol op en druk dit in haar mond om vir hom te wys dat dit nie giftig is nie.

Gerrit voel warm onder sy kraag toe sy onderlangs vir hom glimlag en te meer nog toe Pieter ongeskik proes van die lag.

Isa weet darem dat die man die vrou kom vat. Die vrou gaan sit nie by die man nie. Dit het Nina haar geleer. Die man kom sit by die vrou en hy gee vir haar kos aan en die aand wanneer die huwelikseremonie verby is, dan kom vat hy die vrou na sy hut toe. Die vrou gaan nooit uit haar eie daarheen nie. Sy sal dus maar geduldig moet wag totdat haar bruidegom haar kom vat. Hulle het natuurlik ook nie nou ’n hut nie. Sy weet nie wat hy nou gaan doen nie. Sy sal maar net geduldig moet wag.

“Vertel ons meer van jouself,” sê Pieter en skuif die ketel oor die vlamme toe hulle die aand kamp opgeslaan het en die veld rustig om hulle word.

Isa praat al vinniger en nie meer so afgemete nie. Sy glimlag breed. “Wat wil julle weet?” vra sy en Gerrit kan hom verstom aan die selfvertroue van die wilde meisie. Sy leun gemaklik teen die boomstam agter haar en haar stem is lui.

“Vertel vir ons van jou kinderdae in Holland,” stel Pieter voor.

“Ek sukkel ’n bietjie om daardie dae goed te onthou. Dit voel so ver.” Sy dink eers ’n bietjie en hulle kan sien hoe sy haar inspan om haar gedagtes meer georden te kry. “Ons was in die weeshuis. Ons was tien meisies in een kamer . . . en ons het op . . . beddens geslaap . . . Hulle het hoër as die grond gestaan.”

Gerrit en Pieter luister aandagtig terwyl haar gedagtes stukkies en brokkies ver uit die verlede gaan haal. Sy vertel van die bootreis, die vrees vir die storm en dan die dae waarvan sy baie min weet. Die heerlike, kommerlose dae by die Ounistam en haar liefde vir Nina straal soos ’n lig uit haar vertellinge uit, en die blou oë is skielik hartseer en vol verlange na die maer, plooierige maar baie geliefde mens.

“Ek moes haar nie nou alleen gelos het nie.” Isa vee met ’n vuil hand die blink traan van haar wang af.

“Dit is beter so. Jy sal dit eendag insien. Nina het verstaan dat jy nie met Gao wil trou nie,” verduidelik Gerrit en iets in sy stem laat Isa glimlag en begrypend knik.

“Ek verlang net na Ma-Nina. Sy is al ma wat ek ooit geken het. Ek . . . was so lief vir haar.”

Gerrit kyk ongemaklik na Pieter. Daar is ’n hartseer trek op Pieter se gesig. Arme kind! Hoe dankbaar is sy nie vir die ou klein en onbenullige dingetjies in die lewe nie. Hoe wreed gaan sy nie dalk ontnugter word in die beskaafde wêreld nie.

Die gesels het Isa na Nina laat verlang en sy is die res van die aand stil. Sy skeur stukke van die vleis wat Gerrit vir haar aangee met haar tande af. Hy hou sy mes na haar toe uit, maar sy kyk hom net onbegrypend aan en gaan dan aan waarmee sy besig was.

Gerrit sug moedeloos en kerf vir hom ’n paar stukke van die vleis. Hulle sal beslis aan haar maniere moet werk voordat hulle in die Kaap kom. Hy sal haar egter eers nog ’n paar dae kans gee en haar stadig inbreek. Vanaand is sy nog te vol hartseer en verlange om iets te leer.

Isa verdwyn soggens vroeg en sluit haar soms eers weer in die aand by hulle aan. Hulle aanvaar dit maar so. Hulle moet meer as ’n week lank egter uithou voordat hulle ordentlike water kry om Isa te was.

Die gat wat Willem grawe, is by syferwatertjies en gou-gou is die gat vol. Nadat hulle die bottels volgemaak het, skep die mans vir hulle ook waswater uit.

“Isa!” Gerrit besluit net daar en dan dat dit tyd is vir Isa se eerste skoonmaaksessie. Bad is nog nie moontlik nie, maar was wel!

“Ja?” Isa kom staan langs hom.

“Kom was jou,” gebied hy. “Ons het reeds die waterbottels gevul. Jy kan jou maar hier was.”

“Hoekom?” Sy kyk vies en baie vererg na hulle.

“Omdat jy vuil is! Kyk net hoe lyk jy!”

Isa kyk af na haar velrok en dan op in Pieter se laggende oë. “Jou gesig lyk soos die grond en jou arms en bene ook. Was jou ordentlik. Sodra ons eendag by groter water kom, kan jy bad.” Gerrit klink kwaai en asof hy verwag dat sy bevele uitgevoer sal word.

“Nee, ek gaan nie! Ek het geswem toe ons laas by die see was en Ma-Nina het altyd my hare gewas sodat dit wit kan wees en nie rooi van die stof nie.”

“En wanneer laas was dit?” vra Pieter geskok.

“Seker ’n jaar terug,” sê Gerrit sarkasties.

“Nie baie lank voordat julle daar aangekom het nie . . . dalk twee, drie weke,” sê sy verontwaardig.

Gerrit gooi sy kop agteroor en lag skertsend.“En dit, muishond, moet seker al twee maande gelede wees!”

Isa besef dat hier moeilikheid gaan kom en probeer by hom verbyspring, maar hy is te vinnig vir haar en gryp haar aan haar arm.

“Pieter, gaan haal seep en ’n lap en bring sommer my handdoek,” gebied Gerrit en sleep solank vir Isa nader aan die gat met water.

Isa skop en gil en byt na Gerrit, maar hy is te sterk vir haar. Pieter is gou terug met die lap en seep en baie gewillig om deel van hierdie span te wees.

“Ek sal haar vashou en jy kan haar was,” sê Gerrit en vat haar twee arms stewig agter haar rug vas.

Pieter smeer die lap met seep en dan was hy die vuil gesiggie dat die skuim so staan terwyl Isa luidkeels gil.

“Hou op skree! Ek smeer die seep in jou mond,” dreig Pieter. “Was nou eers haar bene, dan sal ek haar arms een-een vir jou aangee.”

Isa skop Pieter voor sy bors dat hy agteroor val.

“Jou satanskind!” sê hy en gryp weer haar een been vas. “Hou daardie ander been vas, Gerrit. Sy is erger as ’n donkie.”

Gerrit gaan sit plat en trek Isa voor hom neer sodat hy sy een been oor hare kan sit en dit so vaspen, terwyl hy nog haar arms stewig vashou. Toe haar bene klaar gewas is, laat Gerrit die arms een-een los.

Isa staan vies weg toe hulle haar loslaat en skud dan haar lyf soos ’n hond wat van die nattigheid ontslae wil raak.

Gerrit gee laggend pad toe sy skielik grommend op hom afstorm. Pieter dink nog hy is onder haar hande uit, toe gooi sy hom met ’n stuk hout tussen sy blaaie dat hy so hik.

Gerrit, wat sy waaksaamheid ’n oomblik verslap en skaterend lag toe sy vir Pieter raak gooi, keer magteloos van die lag toe sy hom skielik bespring en klouend en krappend aanval.

“Piet, kom help! Hierdie wilde vroumens gaan my vermoor!” skree Gerrit.

“Nee wat, dankie, ek het my beurt gehad. Sy het my longe by my mond uitgegooi,” sê Pieter ongevoelig en hardloop terug na hul kampplek toe.

Gerrit gryp vinnig haar twee hande vas en hou haar ’n armlengte van hom af weg.

Hy is egter nog so slap van die lag dat sy losruk en hom weer dreigend aanval.

“Hou op! Jou wildewragtig! Jy móét mos bad! ’n Mens ruik jou windop.”

“Gmf!” Isa snork verontwaardig. “Dink jy dalk julle stink nie? Ma-Nina het ook gekla en gesê sy weet nie hoe ek dit gaan hou nie. Julle ruik aaklig!”

“Goed, dan stink ons vir mekaar. Maar as jy jou in die vervolg self bad, dan sal ons dit nie hoef te doen nie.” Sy stem is egter nog vol lag.

Isa ruk haar hande los en stap vererg weg. Hy sal hom wat verbeel om te sê sy ruik sleg! Die reuk wat aan hulle klou, gee haar behoorlik kopseer.

“Kom, ou aapstert!” Pieter hou die beker koffie versoenend na haar uit en sy oë glinster ondeund. Sy het gou weer haar smaak vir koffie teruggekry en Pieter buit hierdie ou swak puntjie nou maklik uit.

Isa kom nader en glimlag effens toe sy die beker koffie vat en eenkant gaan sit.

“Jy lyk beter, jong. ’n Mens kan nou glad nie sien dat jou vel regtig witter as dié van die spul Ouni’s is nie,” terg hy.

Pieter braai vir hulle vleis en voordat Gerrit hare vir haar aangee, sny hy dit eers in kleiner stukkies.

“’n Mens skeur nie die vleis met jou tande nie, Isa. Jy sny dit so met ’n mes stukkend en dan eet jy dit met ’n vurk.” Gerrit beduie oordrewe. “Onthou jy nog? Hierdie ding is ’n mes en daardie een is ’n vurk.”

Gerrit gee die bord en vurk vir haar aan en Isa vat dit stil by hom. Hy gee darem al vir haar kos. Een van die dae sal hy haar na sy hut toe ook vat. Sy glimlag skaam vir hom en Gerrit loer vinnig onderlangs na Pieter of hy dit dalk raakgesien het.

Sy steek onhandig na die vleis en prop dan haar mond so vol moontlik. Sy probeer om die hele mond vol kos van die een kies na die ander te verskuif en die blou oë rek groter oop soos sy sukkel.

Gerrit sug moedeloos. Hy sal maar net geduldig moet wees en haar baie stadig een ding op ’n slag moet leer. Laat haar vanaand maar eers die vurk onder die knie kry. Môre kan hy praat oor die vreeslike groot monde vol kos.

Toe Isa klaar geëet het, kommandeer Pieter haar op. “Kom, jy kan mos darem ook ’n slag jou kos verdien. Kom was die borde in hierdie skotteltjie water. Kom, ek wys jou.”

Isa kyk stil en aandagtig wat hy doen en nadat hy die eerste een klaar gewas het, vat sy die lappie by hom en was die ander. Dit is vreemd dat sy dadelik weet wat om te doen. Dit kom sommer vanself weer terug. Hulle het dit baie in die weeshuis gedoen. Daar was altyd berge skottelgoed wat hulle moes was.

Isa is saans vroeg vaak en gaan slaap gewoonlik net sodra hulle klaar geëet het. Die mans sit soms nog ure lank om die vuurtjie en gesels.

Vanaand ontwyk die slaap haar egter. Sy draai op haar rug, sit haar arms onder haar kop en kyk na die blink sterre daar bo. Sy skuif dieper in die skaduwees in en nou kan sy die mans dophou sonder dat hulle daarvan bewus is.

Gerrit is groot en aantreklik. Sy wonder hoe hy sonder daardie swart baard sal lyk. Sy hande is sterk en sy arms was hard en gespierd toe hy haar vanmiddag vasgehou het. Die trots kom sit in haar bors. Hy is haar man! Nina het dit goedgedink om haar vir hom te gee. Sy wonder wat hy nou dink. Sou hy ook al haastig wees om by hul hut te kom sodat hulle heeltemal alleen kan wees?

Sy glimlag stil toe sy na Pieter kyk. Sy hou baie van hom ook, maar hy is vir haar soos Kara en Hareb. Hulle sal saam kan lag en hardloop, maar daar is nie daardie ander warm gevoel in haar binneste wanneer sy na hom kyk nie. Net wanneer sy na Gerrit kyk.

Gerrit staar peinsend na die vuur. Hierdie ekspedisies was nog altyd vir hom een groot avontuur. Dit moet maar sy laaste een wees. Die maande van die huis af raak vir hom baie. Hy wil ook nou trou en met ’n gesin begin.

“Ek wil hierdie tog my laaste ene maak,” sê hy en leun terug teen die boomstam.

“Ja, ek wil ook nou ernstig gaan begin huis bou. Ek bly nou al soveel jare daar by julle, ek sal darem nou daaraan moet begin dink om my eie potjie te krap,” gesels Pieter gesellig saam.

“Jy is al so deel van die huishouding, dit sal heeltemal vreemd wees as jy nou op jou eie plaas gaan nesskop.” Gerrit glimlag skeefweg.

Pieter is sy neef, maar vandat sy ouers dood is, bly hy by hulle op die plaas. Die buurplaas behoort aan hom en dit is daar waar hy nou wil begin bou. Dierbare ou Pieter. Hy voel meer soos ’n broer as ’n neef.

“Dit is al vyftien jaar, weet jy, Gerrit? Ek was maar twaalf toe my ouers dood is.”

Gerrit kyk verras na hom en wil eers stry, maar skud dan net sy kop liggies. “Die tyd gaan so vinnig verby. Ek kan amper nie glo dat dit al so lank is nie.”

“Ja, ons word oud. Ek word vanjaar al sewe en twintig.” Pieter staan op en skud die sand van sy broek af.

“Die jare haal ons in. Ek word vanjaar al dertig.” Gerrit gooi nog ’n paar stompies op die vuur en rol dan sy kombers oop en met groot vertoon draai hy hom knus daarin toe.

“Ek wil darem ook nou ernstig begin dink aan vrou soek. Daardie Roché-meisiekind lyk nogal heel oulik. Sy was nog altyd net ’n bietjie jonk, maar sy moet ook nou troubaar wees.” Pieter gesels en vee die sand onder sy heup uit vir ’n gemakliker holte.

Gerrit lig hom op sy elmboog en loer in Isa se rigting. “Wat maak die muishond, slaap sy al?”

Pieter lag sag. “Sy was darem kwaad vanmiddag.”

“En die beste het jy nie eens gehoor nie. Sy sê ons stink so dat Ma-Nina gesê het sy weet nie hoe sy dit gaan uithou nie.”

“Sê sy so?” vra Pieter laggend.

“Ja. Kan jy nou meer!”

“Wel, sy lyk darem al beter. Ek wens sy kan ’n slag ordentlik bad en daardie velding uittrek.”

“Wel, die bad sal ek darem nie waag nie. Ma sal ons velle aftrek as sy daarvan moet hoor,” sê Gerrit en lag sag.

Pieter gaap lank en lekker en voordat Gerrit hom heeltemal gemaklik gemaak het, klink ligte snorkgeluide op.

Die kralebruid

Подняться наверх