Читать книгу Vlam van verlange - Schalkie van Wyk - Страница 4
1
ОглавлениеCarli van Eeden sit opgekrul op ’n gemakstoel in die ruim sitkamer van haar ouerhuis, haar arms om haar opgetrekte bene saamgevat, haar ken rustend op haar knieë. Sy staar stom na die lang, soepel Mariska Viviers wat met glyende balletbewegings die vertrek binnedans, sierlik op die punte van haar tone pirouetteer en ’n elegante buiging maak voordat sy haar balans verloor en op die naaste rusbank neerplof.
“Geen applous nie?” vra Mariska meer uitasem as beledig en vervolg agterdogtig: “Of is dit ’n sameswering tussen jou en my ma? Sy sê ek mag nie balletklasse gee nie, want sy en my pa het ’n fortuin betaal sodat ek my graad in Ekonomie kon kry. Dis glo nou my plig en voorreg om soos my pa ’n effektemakelaar te word. Ek, Mariska Viviers, die wêreld se grootste ballerina – groot in talent en nog groter in bou!” ’n Onkeerbare laggie glip oor haar lippe en dan leun sy terug op die rusbank en lag haarself skaterend uit.
Carli glimlag halfhartig. Sy voel gemeen toe Mariska ophou lag en haar bekommerd aankyk en sê waarderend: “Dankie dat jy my probeer opbeur, Mariska, maar dis glad nie nodig nie. Ek bedoel, ek is nie ’n treurende wesie of … of hartseer nie.”
“O, ek glo jou. Ons was gistermiddag op jou ma se begrafnis, maar niks het verander nie. Jy jok vir die Schoemans en jy jok vir my, jou beste vriendin. Jy slaap stoksielalleen in hierdie vistenk van ’n huis – terwyl ek glo jy oornag by die Schoemans en hulle glo jy oornag by ons. Toe daardie lastige Vincent my nou-nou bel om te hoor hoe jy geslaap het, moes ek soos ’n tandetrekker lieg om aan verskonings te dink waarom ek jou nie na die foon kon roep om met hom te praat nie,” verwyt Mariska kamma gegrief.
“Ek is jammer, Mariska, maar ek wou net alleen wees. Al daardie mense op my ma se begrafnis … Almal praat en simpatiseer en huil – net ek huil nie, want ek wil net alleen wees. Is dit só moeilik om te verstaan?” vra Carli pleitend.
“Ek sou probeer het om te verstaan as jy my vertel het hoe jy voel. En jy antwoord nie jou selfoon of julle huisfoon nie. Ek was so bekommerd oor jou dat ek byna ’n fietsryer uit die aarde gehardloop het toe ek die straat oorsteek om hier te kom. As ek nie ’n afstandbeheer vir julle motorhek en ’n voordeursleutel gehad het nie, het ek lankal die polisie en die brandweer gebel!” vaar Mariska verwytend uit.
Sy merk hoe Carli op haar onderlip byt en sê skuldig: “Skuus, Carli. Ek kyf nes my ma as my pa gaan gholf speel wanneer my ouma die naweek kom kuier.”
Carli glimlag ten spyte van haarself en betrag Mariska met ’n gevoel van warmte en dankbaarheid. Wat sou sy al die jare sonder Mariska se lojale vriendskap gedoen het? vra sy haarself af. Mariska, die lang, blonde meisie met die hemelsblou oë wat altyd ’n kop langer as sy was, selfs al is hulle dieselfde ouderdom. Net Mariska kon haar troos toe haar pa twaalf jaar gelede dood is, want haar vriendin beskik oor die rare talent om humor in hartseer of teleurstelling raak te sien. Maar sy was hartseer toe haar pa dood is, onthou Carli, hartseer met die skrynende seer van ’n tienjarige kind se onbegrip, want die groot man met die sterk arms en die warm lag in sy stem was skielik nie meer daar om haar styf vas te hou teen sy bors en te troos nie. Om haar stukkende wêreldjie heel te maak.
“Ek is jammer jy moes ter wille van my vir Vincent jok, maar as jy geweet het ek wou gisternag alleen in ons huis slaap, sou jy my nooit met rus gelaat het nie. Jy was hier toe die polisie my oor my ma se noodlottige motorongeluk ingelig het, Mariska. Ek het vyf nagte in julle huis geslaap en … en jy het my getroos. Julle was almal so goed vir my, maar gister ná die begrafnis moes ek net terugkom huis toe om alleen te wees. Dis waarom ek vir jou gejok het toe ek gesê het ek sou gisteraand by die Schoemans slaap,” verduidelik Carli skuldig.
Mariska kyk Carli agterdogtig aan, skreef haar oë en sê verpletterend: “Jy is ydel, Carli van Eeden! Ek besef in sprokies is die prinsesse altyd blond met blou oë, en die hekse het rooi hare en groen oë, maar dis loutere bog. Ek is blond en gebou om te hou, terwyl jy met jou koperbruin hare en groen oë en jou pieperige … e … fyn liggaamsbou, soos een van my ma se Dresden-beeldjies lyk. Vandat ons tieners was, skouer Vincent Schoeman my uit die pad as hy my raakloop, maar sien hy jou aankom, gaan lê hy op die grond sodat jy bo-oor hom kan loop. Jy, meisiekind, is só ydel oor jou skoonheid dat jy nie voor my wou huil nie, daarom het jy in julle huis kom wegkruip. Toe, erken dit en lyk berouvol!”
Carli sien die vonkelende lag in Mariska se oë, probeer vergeefs om te glimlag en druk haar voorkop met ’n kreunsuggie op haar knieë. Sy lig haar kop eindelik op, haar oë die onstuimige donkergroen van ’n stormsee. “Ek het gedink ek sal kan huil as ek terug is hier in my ma se glaspaleis … huis … maar ek kan nie, Mariska, ek kan nie! Ek onthou hoe verskriklik ek gehuil het na my pa se dood – dae, weke, maande aanmekaar. Ek kon nie aanvaar hy is vir altyd weg nie, want ek wou altyd net nog iets vir hom gesê of gevra het.”
Haar stem word sagter toe sy aarselend voortgaan: “Ek het selfs gewens dat my ma liewer gesterf het, as ek net my pa kon terughê. Dalk … dalk is dit waarom ek nie nou kan huil nie; dalk het ek haar al die jare doodgewens.”
Mariska lyk oomblikke lank onkant gevang en sê dan met oordrewe erns: “My liewe Carli, jy is toe nooit ydel nie, net doodgewoon dom.”
Sy glimlag met sigbare verligting en vervolg vertroulik: “My ma sê dis my onstuitbare optimisme wat my, ten spyte van my groot beenstruktuur, al die jare laat ballet neem het. My optimisme het my laat glo ek kan ’n professionele ballerina word, maar gelukkig is ek met insig en intelligensie geseën – dis wat my ma sê – daarom het ek universiteit toe gegaan en my graad gekry sodat ek vir my pa se firma kan werk.”
Carli staar haar verward aan toe sy selfvoldaan swyg en vra onthuts: “Hoe raak jou onstuitbare optimisme en intelligensie mý, Mariska? Of gee dit jou die reg om te sê ek is dom?”
“Ek dink insig is die sleutelwoord,” antwoord Mariska met ’n selftevrede glimlaggie.
“Net ou mense het insig, Mariska. Jy is twee-en-twintig en jy weet net so min soos ek!” protesteer Carli ongeduldig.
“Nee, ek weet baie meer, want ek is gewoond om op die kantlyn te staan en toeskouer te speel. Jy weet self wat het op skool en universiteit gebeur, wat nou nog gebeur as ons partytjies toe gaan of doodgewoon by die bure kuier: jy kry al die aandag, en ek is net toevallig daar omdat ek jou vriendin is. Reg?”
Carli byt op haar onderlip en antwoord ongemaklik: “Vincent se ma gee net voor dat sy van my hou omdat sy nie met hom wil rusie maak nie. Ek vermoed sy hou meer van jou. En my ma het van jou gehou.”
“Leuenaar!” roep Mariska treiterend uit en skaterlag toe Carli skuldig bloos. “Ek twyfel of jou ma ooit besef het sy het ’n dogter, of dat ek haar dogter se vriendin is. My ma is my ma, maar sy is terselfdertyd my vriendin en vertroueling. Ek dryf haar gewoonlik tot raserny omdat ek so lomp is dat ek altyd klein tafeltjies omstamp of kosbare ornamente breek, maar ek weet sy is lief vir my. Ek weet ek kan op haar skouer huil as ek hartseer is en ek weet sy sal my troos. My ma deel beurtelings drukkies en soentjies en preke en dreigemente uit, maar dis alles deel van haar liefde. Jou ma was ’n glasvrou wat in ’n glaspaleis gewoon het. As daar liefde in haar glashart was, was dit nie vir jou nie. Of is ek nou te blatant eerlik, Carli?”
Carli stoot ’n bewerige suggie oor haar lippe en skud haar kop ontkennend. “Nee … My ma het net een kind gehad: my broer, Arnold. Dalk was dit omdat hy sestien jaar ouer as ek was dat hy nooit soos my broer gevoel het nie, of dalk het hy te hard gewerk om notisie van my te neem. Hy en my ma was altyd so besig met ons maatskappye en om vriende te onthaal of saam oorsee te gaan. My ma het hom haar kroonprins genoem. En toe hy vyf maande gelede in ’n vliegongeluk dood is …” Carli swyg en kyk met ’n bodemlose leegheid in haar oë na Mariska voordat sy effens skor voortgaan: “Ek dink ná Arnold se dood het my ma vir die eerste maal besef ek bestaan; dat ek leef terwyl Arnold dood is. Soms … soms het sy met ’n uitdrukking van haat na my gekyk, asof sy gewonder het waarom ek durf leef terwyl Arnold moes sterf. Of miskien was dit net my verbeelding, omdat ek skuldig gevoel het dat ek nooit enigiets in haar lewe sou kon beteken nie.”
“Ek het jou gesê jy is dom, my liewe vriendin,” spot Mariska goedig. “Ná Arnold se dood het jou ma na ons almal gekyk asof sy ons haat – asof sy die hele wêreld én haarself haat omdat ons nie almal saam met Arnold dood is nie. Maar ons praat oor die rede waarom jy nie oor jou ma kan rou nie: hoe kán jy, as sy nooit eens probeer het om jou lief te hê nie? Erken dit, Carli: jou ma se gehuurde huispersoneel het jou grootgemaak, en die enigste liefde wat jy in julle huis gekry het, was die liefde wat jou pa jou gegee het. Is dit die waarheid of oordryf ek?”
Carli haal haar skouers met gedwonge onverskilligheid op. “Jy weet dis die waarheid – of dalk oordeel ons my ma te kras omdat ons haar nie goed genoeg geken het nie. Sy was nooit ’n demonstratiewe mens nie.”
“Nie teenoor jou nie, maar ek kan onthou hoe liefdevol sy teenoor jou pa was. My ma sê jou ouers se huwelik was soos ’n lewenslange wittebrood, want hulle liefde vir mekaar het jonk gebly. Arnold is vyf jaar na hulle huwelik gebore, en vir jou ma was hy die seël op hulle volmaakte liefde, want hy was die ewebeeld van jou pa – uiterlik, in elk geval.”
“Lank en blond en ’n briljante sakeman soos my pa en met ’n glashart soos my ma,” beaam Carli en vervolg bedroë: “En toe daag ek sestien jaar later ongevraag op. Moontlik het my ma aanvanklik gehoop ek sou ’n tweede kroonprins wees, maar in plaas daarvan het sy ’n pieperige dogter met rooi hare en ertjiegroen oë gekry. Ek lyk nie soos my pa óf my ma nie – ek wens amper ek kon glo ek is ’n aangenome kind.”
“Moenie jok nie. Jou pa het jou sy prinsessie genoem en jou soos een behandel. Ek weet ek kan maklik praat, want ek het nog albei my ouers en twee lastige jonger broers. Maar jy het die troos dat jy, en nie Arnold nie, jou pa se lieflingkind was.”
Mariska hou haar kop skeef en betrag die swygende Carli. “Wil jy nou steeds alleen wees, of sien jy kans vir meer geselskap?”
“Wie?” vra Carli agterdogtig. “Die Schoemans is gawe bure, maar tant Renette lyk geïrriteerd as oom Wim kort-kort met my simpatiseer en my oor die kop streel asof ek ’n driejarige kleuter is. En as Vincent my nog een maal vra om in sy arms troos te soek, skree ek hard en lank.”
“Jy ly aan vertraagde skok, mens. Het jou ma en tant Renette nie reeds die dag van jou geboorte besluit jy is Vincent se toekomstige bruid nie?” vra Mariska tergend.
“Ek en Vincent sal eendag trou,” antwoord Carli onverskillig en glimlag skrams toe sy vervolg: “Eendag as ons groot is. Of wanneer ek kan vergeet dat my ma dood is voordat ek haar kon leer ken het; of as ek kan glo tant Renette dink werklik ek is die regte vrou vir haar enigste seun. Ek geniet dit meer om by julle te kuier, want jou pa praat gewoonlik oor finansies of gholf. En jou ma is altyd besig om óf kos te maak óf jou broers uit die spens te boender. Of sy dreig om ’n senu-instorting te kry omdat jy ballet in die sitkamer doen en al haar meubels omstamp en haar antieke ornamente breek.”
“Ek weet. My ma sê haar moederliefde word al twee-en-twintig jaar deur my beproef … en toe kom Monster.” Mariska sug aandoenlik en vervolg verwese: “Arme Monster. Hy is soos ek. Hy sondig sonder om te sukkel, maar sy enigste sonde is dat hy groot en lomp is, nes ek. Soms het my ma ook ’n glashart, want sy het Monster met ’n vleismes en ’n bloederige einde gedreig. Kan jy glo dat my liewe, geduldige ma so harteloos en bloeddorstig kan wees, Carli?”
“Ek kan, want jy en jou broers sal enige ma na ’n vleismes laat gryp!” lag Carli en vra nuuskierig: “Maar wie is Monster? Of is dit ’n nuwe bynaam vir een van jou broers?”
“Kom kyk,” nooi Mariska. Sy spring op en beweeg met glyende en springende balletbewegings na die noordelike glaswand van die sitkamer.
“Mariska! Ek bewonder jou elegante glassades en sautes, maar eendag pirouetteer jy nog dwarsdeur die mure van my ma se glaspaleis!” roep Carli ontsteld uit en ruk Mariska tot stilstand net voordat sy teen die glaswand bots.
“Gnng!” peul ’n geamuseerde laggie deur Mariska se neus en lig haar mondhoeke in ’n breë glimlag. “Jy hoef nie eens te oefen nie, my liewe mens: jy klink al soos my ma! Dankie vir jou hand van beskerming, Carli, maar jou pa het my in ons kleintyd verseker dat glas sterker as beton is. Dis hoekom Monster hier so veilig sal voel: jou ma het nie allerlei kosbare beeldjies en ornamente en onnodige tafeltjies en voetstoeltjies versamel nie. Julle het nie eens ’n voortuin met ’n grasperk en blombeddings nie – net ’n halfakker geplaveide parkeerterrein en yslike potplante.”
Carli staar antagonisties na die geplaveide parkeerterrein wat tot teen die veiligheidsheining om die erf strek en antwoord misnoeg: “Dis so onpersoonlik soos die parkeerarea van ’n inkopiesentrum. Ek is my lewe lank jaloers op jou ma se pragtige blomtuin en julle immergroen grasperk.”
“Ek is weer jaloers op julle voortuin wat nie ’n tuin is nie. Dis waarom my ma my en Monster hierheen verban het. Sy het gesê ek moet jou oorreed om Monster hier te hou, anders bel sy die beenmeelfabriek. Kyk net hoe soet lê hy daar in die koelte van daardie groot pot met die palmboom en slaap. Is hy nie die oulikste hondjie wat jy nog gesien het nie, Carli?” vra Mariska met ’n hoopvolle glimlaggie.
Carli snak verbysterd na haar asem. “Hondjie? Liewe land, ek het gedink dis ’n kalf of ’n kameel!”
“Sien jy nou?” vra Mariska bitter. “Dis waarom ek aan ’n minderwaardigheidskompleks ly. As mense my vir die eerste maal ontmoet, sien hulle nie ’n taamlik aantreklike blonde meisie met ’n innemende glimlag en ’n sprankelende persoonlikheid nie. O nee, hulle kyk net een maal en besluit ek is ’n natuurfrats of iets wat uit ’n sirkus ontsnap het. Goed, ek weet nou wat jy van my en Monster dink, Carli. Ek sal Monster in my motortjie laai en ons sal êrens in ’n plakkerskamp gaan plak.”
“Wag nou, Mariska!” protesteer Carli. Sy probeer om Mariska aan haar arm terug te hou, maar haar vriendin sleep haar saam deur die ontvangsportaal na die voordeur toe. “Mariska, staan stil! Of gaan jy my al die pad saam met jou na die plakkerskamp toe sleep?”
Mariska bly staan, haar glimlag sonnig. “Jou liewe ding! Dan kan Monster maar hier by jou bly? Hy is ’n Deense hond en … en groterig, maar hy het die liefdevolste geaardheid. My ma is net vyf sentimeter korter as ek, maar sy sê ek en Monster lyk soos twee uitroeptekens as ons saam in die straat afstap – veels te groot om misgekyk te word. Maar jy is klein, en sonder ’n enkele familielid om jou liefde te gee, my arme vriendin. Jy het ’n groot hond nodig om jou op te pas en lief te hê, veral noudat jy besluit het om soos ’n kluisenaar in hierdie glaspaleis te woon.”
“Jy praat my dom, Mariska! Voordat ek Monster op hierdie werf toelaat, wil ek eers weet: wanneer het jy hom gekoop? En hoekom het jy my nooit vertel jy wil graag ’n hond hê nie? Jy het altyd gesê jy hou meer van katte,” sê Carli wantrouig.
“My ma het my van kleins af gebreinspoel, daarom het ek ingestem dat sy vir my ’n kat koop. Maar toe Hilda se ouma besluit om haar huis te verkoop … Dis ’n ellelange storie, Carli, maar die uiteinde was dat ek ingestem het om Monster te vat. Maar toe besluit my ma Monster is nie welkom in haar blomtuin nie. Hy het al haar hiasinte uitgegrawe en die satynblomme en cleomes opgevreet – gelukkig het hy die roosbome met rus gelaat. As ek Monster met al die liefde in my hart en … en uit loutere desperaatheid vir jou present gee, sal jy hom asseblief vat, my beste vriendin?” pleit Mariska vurig.
“As jy langer op my gevoel speel, sal jy my in trane laat uitbars, my agterbakse vriendin. Goed, Monster kan die glaspaleis met my deel. Hy sal minstens ’n bietjie lewe in hierdie leë kasarm bring,” willig Carli glimlaggend in.
“Jou dierbare mens!” jubel Mariska. Sy maak die voordeur oop en roep: “Monster, kom!”
Dit lyk asof die groot hond in segmente orent kom en dan met wapperende ore, ’n uithangende tong en ’n oop bek wat die indruk skep dat hy permanent glimlag, op hulle afpyl – in ’n warreling van swaaiende stert en lang bene, ’n leiband slepend agterna.
“Staan, Monster!” beveel Mariska en glimlag ingenome toe die hond viervoet in sy spore vassteek. “Soet Monster. Dis Carli, jou nuwe baas. Monster … groet Carli!” beveel Mariska weer en wys met haar hand na Carli.
Monster spring op sy agterpote, plaas sy voorpote op Carli se skouers en lek met ’n lang, nat tong oor haar linkeroor.
“Jigg!” ril Carli. Sy probeer agteruit tree, maar verloor haar balans en beland op die naat van haar rug.
“Waf!” blaf Monster uitgelate, spring op Carli se maag en bly met ’n selftevrede uitdrukking op sy gesig sit.
Carli kreun onder Monster se gewig. Sy staar vreesbevange in sy groot, oop bek en fluister benoud: “Gryp sy leiband, Mariska! As hy dink ek is ’n dahlia, vreet hy my net hier op!”
“Gngg!” glip ’n hulpelose laggie uit Mariska se neus en dan sak sy skaterend van die lag op haar knieë neer. Sy poog herhaalde male om te praat, maar word elke maal deur ’n hernude lagbui oorval.
“Gevoellose ruspe!” skel Carli haar uit, smoorkwaad toe sy die lagtrane oor Mariska se wange sien rol. “Dit kan jou nie raak dat hierdie kameel van ’n Monster my onderstebo … jigg! Hou op om my te lek, ellendige hond! Af, Monster! Klim af!”
Monster klim gehoorsaam van Carli se maag af en bly afwagtend staan, sy regteroor gespits soos ’n vraagteken.
“Hy het sowaar na my geluister,” sê Carli verdwaas.
“Ekskuus dat ek gelag het, Carli,” maak Mariska verskoning. Sy probeer nederig klink, maar kan nie ophou glimlag nie. “Dit was skreeusnaaks. Monster sit op jou maag en kwispel sy stert ewe vriendelik, maar jy glo hy gaan jou lewend opvreet! O gansie toggie, die uitdrukking op jou gesig …”
Carli ignoreer die giggelende Mariska, beveel Monster om te sit en dan weer om te staan, en tel sy leiband op. “Ek en Monster gaan na die park toe sodat hy van sy oortollige energie ontslae kan raak. Kom jy saam, of wil jy liewer hier bly en klaar lag?” vra sy, reeds op pad na die voordeur.
Mariska rank orent en sluit haastig by Carli aan. “Nee, ek moet sorg dat ek by die huis kom, my ma het gesê sy wil my winkel toe stuur. Ek is bly jy hou van Monster. Hy sal jou help om nie jou ma te mis nie.”
“Ek mis haar nie,” sê Carli met sekerheid, en lyk dan verbaas oor haar eie woorde. “Ek wens ek het haar gemis, maar ek mis haar nie,” herhaal sy sag, half aan haarself.
Is dit moontlik dat sy liewer kan wees vir ’n groot, lomp hond as vir haar eie ma? wonder Carli skuldig terwyl sy die voordeur agter haar sluit. Haar blik rus peinsend op Monster wat met sy leiband in sy bek baldadig om haar rondspring, uitgelate wegstorm na die motorhek en dan weer op volle galop terugkeer na haar toe.
Nee, sy is laf om ’n hond met haar ma te vergelyk. Monster is soos ’n uitbundige kleuter wat enigiets sal doen om liefde te kry en haar met ’n stertswaai bedank vir elke tikkie aandag wat sy aan hom gee. Selfs al sit sy en lees, lê hy met sy groot kop op sy voorpote en staar haar met oënskynlike aanbidding aan totdat die slaap hom oorval.
Haar ma was altyd so volkome in beheer van haar werk en haar lewe, en veral van haar emosies, dat sy haarself nie die tyd gegun het om demonstratief te wees nie, dink sy. Nee, sy jok vir haarself. Haar ma kon liefde gee aan die mense wat saak gemaak het in haar lewe – soos haar pa en Arnold. Vreemd, sy was nooit jaloers op haar ma se liefde vir Arnold nie, want sy het van kleins af aanvaar Arnold behoort aan haar ma soos wat sy aan haar pa behoort het, besef sy nou.
Sy skuif die motorhek met haar afstandbeheer oop en steek op die sypaadjie vas toe sy oor Monster se leiband struikel.
“Monster?” roep sy, raap die leiband op en kyk bekommerd om haar rond, maar sy gewaar geen teken van haar hond nie.
“Kom, Monster! Kom ons stap gou kafee toe. Monster!” roep sy weer. Sy hoor die paniek in haar eie stem en kyk soekend oor die verlate Sondagoggend-straat.
’n Geskuifel trek haar aandag en sy draai agterdogtig na die ou, verroeste rooi bakkie wat regs van die ingang na hulle erf teen die sypaadjie geparkeer staan. Sagte tjankgeluidjies laat haar haastig voor die bakkie kniel. Sy sien Monster op sy maag onder die voertuig lê, sy stert kwispelend, sy volle aandag op Mariska se kat, Floorsie, wat onder die bak van die voertuig sit, houtgerus besig om sy een voorpoot te lek en sy gesig te was.
“Monster, kom uit! Daardie geniepsige Floorsie sal jou neus flenters krap!” waarsku Carli en wens sy het iets gehad om na die vermakerige kat te gooi.
Monster kwispel sy stert met groter energie, draai sy kop met ’n gesukkel in Carli se rigting en tjank aandoenlik.
“Jou arme, dom ding! Jy sit vas. Maar moenie bekommerd wees nie, my ou Monster, ek sal jou help om uit te kom,” gesels Carli paaiend en seil op haar maag onder die bakkie in. “Dis jou kop wat te groot is,” vervolg sy toe sy langs die tjankende hond lê. “Buig jou nek as jy wil uitkruip. Toe nou, Monster, jy sal net jou kop aanhou stamp as jy nie jou nek buig nie.”
“Stadskinders! Wat de duiwel soek julle snuiters onder my bakkie? Het julle ma julle nie geleer dis gevaarlik om onder motors te speel nie?” sweepslag ’n diep, ergerlike manstem uit die rigting van Carli se voete.
Die kwaai, donker stem skok Carli se asem weg en laat haar momenteel roerloos langs Monster lê, maar dan laat verontwaardiging haar na haar asem snak. Sy is Carli van Eeden, die enigste, skatryk erfgenaam van die magtige Van Eeden Eiendomstrust, sy het haar graad in Fisioterapie en sy is slim genoeg om te besef sy is mooi, selfs al voel sy meer alleen as mooi. Geen sukkelaar van ’n man wat met ’n verroeste ou bakkie rondry en die vermetelheid het om voor haar huis te parkeer het die reg om net na agtuur op ’n Sondagoggend in hulle vooraanstaande woonbuurt op haar te skree asof hy hom in ’n plakkerskamp bevind nie.
“Jy!” bulder die man en skop liggies teen die sool van Carli se sandaal. “Kruip onder my bakkie uit, voordat ek jou aan jou enkels uitsleep!”
Carli rol onder die bakkie uit en skiet orent, haar oë blitsende groen weerligstrale onder haar koperbruin krulle, haar gesig strak van nouliks beteuelde woede, haar ken trots gelig. Haar oë soek en vind die voorwerp van haar woede … en die oomblik word ’n ewigheid.
Sy ken hom, besef sy met ’n vreemde sekerheid, selfs al weet sy sy het hom nog nooit tevore ontmoet nie. Hy is nie gewoon aantreklik nie; hy is volmaakte skoonheid, dink sy en staar asof betowerd na die man se lang, breedgeskouerde gestalte. Sy bewonder die elegante wyse waarop hy aanmekaargesit is, soos ’n standbeeld van ’n Griekse god, sy liggaam lenig en gespierd. Sy digte, swart hare vertoon net ’n sweem van ’n krul en groei slordig oor sy kraag, maar dit gee aan hom ’n romantiese voorkoms. Sy hoë wangbene, die strak vlakke van sy gelaat en sy vierkantige ken beklemtoon die selfversekerdheid wat sy donker oë uitstraal. Sy neus het ’n tikkie van ’n Romeinse boog en sy effens voller onderlip gee ’n sensuele uitdrukking aan sy wye, ferm mond. Selfs sy vuil T-hemp en vuiler kortbroek doen geen afbreuk aan die ingebore outoriteit wat uit sy hele houding straal nie.
“Ek het gedink ék is vuil, maar jy is die vuilste klein meisietjie wat ek nog gesien het,” skerts die man. Hy haal ’n wit sakdoek met ghrieskolle uit sy broeksak, maar prop dit dadelik weer terug. “Jammer, ek wou aangebied het om die stofstrepe van jou gesig af te vee, maar my sakdoek is te vuil. Sal ek jou help om jou maatjie onder my bakkie uit te kry?”
Wat makeer haar? wonder Carli onthuts. Sy sweef op ’n pienk wolkie êrens in Kammaland rond en intussen laat sy hierdie wildvreemde man toe om haar soos ’n hulpelose kind te behandel. Eintlik voel en lyk sy soos ’n verwaarloosde straatkind, dink sy wrang, want haar liggroen bloesie en appelgroen langbroek is die ene stof en olie, afkomstig van die vreemdeling se wrak van ’n ou bakkie.
Sy vee met haar hand haar hare uit haar oë, besef dat haar stowwerige palm heel waarskynlik nog ’n stofstreep op haar gesig gelaat het en sê met saamgeskraapte flentertjies waardigheid: “Ek maak nie ’n gewoonte daarvan om onder geparkeerde voertuie te speel nie. Monster het onder jou bakkie ingekruip om Floorsie by te kom, maar nou sit hy vas. Ek het hom net probeer help om uit te kom.”
“Is Monster en Floorsie jou boeties? Ek hoop nie dis hulle doopname nie,” sê die man en lyk opreg bekommerd.
Sy sien dansende lag soos gesmelte sjokolade in sy donkerbruin oë lê en kry gloede van verontwaardiging. “Niemand kan Monster miskyk nie! Jy moes gesien het toe my yslike Deense hond by ons hek uitgestorm het, of het jy agter ’n boom weggekruip?” vra sy boos. Sy besef dat sy met ’n wildvreemde man in die straat staan en rusie maak, maar sy geniet elke oomblik daarvan.
Sy was so alleen die afgelope tyd, dink sy. Sy voel tuis in Mariska-hulle se huis, want die Viviers’s voel soos haar eie mense, maar niks kan hulle haar bloedeie maak nie. Sy sal eendag met Vincent Schoeman trou, maar op die oomblik is hy nog tant Renette se seun en tant Renette hou nie werklik van haar nie. Die afgelope twee weke het Monster haar geselskap gehou, maar Monster kan net luister, nie gesels of rusie maak nie. Dit voel goed om met iemand wat haar nie oor haar ma se dood bejammer nie rusie te maak, dink sy en gluur die man agterdogtig aan.
“Was dit ’n hond?” vra die man verbaas. Hy stoot sy vuil hand deur sy hare en skud sy kop ongelowig. “Ek kon sweer dit was ’n kalf. Ek onthou hoe verras ek was om kalwers in so ’n spoggerige woonbuurt te sien.”
“Monster is eintlik ’n kameel,” antwoord Carli kil en gaan met haar ysigste stemtoon voort: “As jy heeltemal klaar gelag het, meneer, sal ek dit waardeer as jy Monster onder jou ou bakkie kan uitkry.”
“Loop soos ’n droom,” sê die man ingenome en klop-klop met die trots van eienaarskap teen die deur van die bakkie. “Drie-en-sewentig jaar oud, en byna net ’n leë dop toe ek dit in die hande gekry het. Ek het op agtien begin met die enjin, elke oomblik van my kosbare vrye tyd en kosbaarder spaargeld gebruik, en hier staan hy, twaalf jaar later: ’n droom van ’n bakkie, beter as nuut. Ek het sonder enige teëspoed al die pad van Henningshoogte af tot hier met Disselboom gery – dis nou behalwe vir ’n klein probleempie met ’n oliepypie. Goed, nè?”
“Verbysterend goed en verbysterend vuil. Het julle nie stofsuiers en water en seep op Henningshoogte nie?” vra Carli sarkasties. Sy maak vinnig sommetjies en besef dat die man dertig jaar oud is en moontlik ’n motorwerktuigkundige.
“As ek die stof en die roes afskrop, val ou Disselboom uitmekaar. Ek sal die bakwerk stuk-stuk vervang, maar dit sal nog ’n hele paar jaar duur voordat ek daarmee klaar is,” verduidelik hy en vee-vee met sy hand oor die dak van die bakkie asof hy dit liefkoos.
“Hoekom het jou bakkie so ’n lawwe naam? Is ’n disselboom nie deel van ’n ossewa nie?” vra Carli kortaf, sommer geïrriteerd omdat die man met soveel deernis na sy verroeste ou bakkie kyk.
“Dis reg, maar tant Emma het besluit dis ’n gepaste naam, want my bakkie kom uit die dae toe ossewaens en disselbome nog iets alledaags was,” antwoord hy. Hy vee sy regterhand aan sy broek af en steek dit uit na haar. “Ek is Meyer Feldtmann. Sal ons aangename kennis sê voordat ons jou kameel onder my bakkie uitgrawe?”
Daar is olie onder sy naels, maar hy het die hande van ’n kunstenaar, ’n pianis, dink sy en kyk na sy breë, vierkantige palm en lang, byna delikate vingers wat uitloop in plat, halfmaanvormige naels.
“Is my hand vuiler as joune?” vra hy tergend.
“Nee!” antwoord sy gejaagd en gryp sy hand in hare, verleentheid vlammend op haar wange. “Bly te kenne, meneer Feldtmann. Ek is Carli van Eeden.”
Sy los sy hand vinnig en beduie na haar ouerhuis. “Ek woon in die glaspaleis … die huis wat soos ’n spieël lyk. Maar dis darem net die noordelike muur wat van glas gebou is. My pa het dit die glaspaleis genoem, maar my ma was dol op glas en moderne meubels en skilderye en hy was so lief vir haar dat hy haar niks kon weier nie. My ma is …” Sy kyk flitsend na hom, merk sy luisterende houding, die rustige, bemoedigende uitdrukking in sy oë, en voel haar woorde opdroog. Sy lek oor haar lippe en vervolg verskonend: “Ek praat te veel, maar dis omdat ek eintlik nie wil praat nie … Nee, dit klink dom.”
“Nie werklik nie. Soms praat ek ure lank met tant Emma oor die weer as ek eintlik net wil weet wat sy vir my verjaarsdag gekoop het. Woorde kan mure bou tussen jou en jou nuuskierigheid … of jou hartseer.”
“Ek is nie hartseer nie!” ontken sy met onnodige drif.
“Dalk nie, maar jy is eensaam. Dis waarom ek hier is: tant Emma het gesê ek moet jou kom haal. Kom jy saam met my, Carli?”
“Na ’n onbekende ou tannie wat …?” begin sy onthuts, kyk in sy warm oë en voel asof sy in ’n diep, donker stroom van ’n ongekende euforie verdrink. Sy wil saam met hom gaan, maak nie saak waarheen nie, maak nie saak waarom nie, besef sy en vra huiwerig: “Wie is tant Emma?”
“Dokter Emma de Winter, jou ma se jonger suster,” lig hy haar glimlaggend in.
“Leuenaar!” krys sy, storm terug na die motorhek en weet dat die sout smaak op haar lippe trane van teleurstelling is omdat hierdie man wat haar so maklik betower het, ’n laakbare bedrieër is.