Читать книгу Vlam van verlange - Schalkie van Wyk - Страница 5
2
ОглавлениеCarli voel Meyer se groot hand ferm en warm om haar boarm sluit. Sy ruk tot stilstand in haar spore, intens bewus van haar asemhaling wat ineens vlak en gejaagd is. Sy hoor die onverklaarbare sang van haar hart en luister betowerd na die lied wat haar polsende bloed deur haar are sing, ’n onbekende lied sonder oorsprong of woorde.
Sy is bang, dink sy, bang vir die verwarrende emosies wat sy ervaar sedert sy Meyer Feldtmann voor haar sien staan het. Net om na hom te kyk, het haar laat voel asof sy saam met die sterre deur die naghemel tol en kantel. Nou rus sy hand met ’n warm intimiteit op haar arm en sy word oorweldig deur ’n ekstatiese gevoel wat haar vreemd kragteloos laat voel.
Nee, haar gevoelens het niks met die koms van Meyer Feldtmann te doen nie, besluit sy koppig en haal diep asem om haar selfbeheersing te herwin. Haar hart klop so onstuimig omdat sy hierdie vreemde man wat sy verroeste ou bakkie in hulle spogbuurt geparkeer het en ewe vrypostig met haar ’n geselsie aangeknoop het, vrees en wantrou. Miskien was sy oorgretig om met hom te praat, maar dit was bloot omdat sy so uitgehonger was vir ’n normale geselsie met iemand. Maar dit was voordat sy besef het hy is ’n leuenaar en ’n bedrieër – dalk ’n gevaarlike misdadiger wat haar wil ontvoer omdat sy die erfgenaam is van die Van Eeden Eiendomstrust!
Sy oorweeg dit om Meyer op sy maermerrie te skop en na Mariska-hulle toe te hardloop, maar besluit dan daarteen. Skop sy hom, val haar sandaal heel waarskynlik uit en moontlik breek sy al haar tone. Hy is ongetwyfeld vuil en moontlik arm, maar hy lyk nie soos ’n misdadiger nie – en sy enkele leuen oor haar kamtige tant Emma is nie ’n onvergeeflike sonde nie. Dalk soek hy net soos sy ’n bietjie geselskap omdat hy ook alleen hier in die stad is. Sy is Carli van Eeden en sy kan enige situasie met waardigheid hanteer, herinner sy haarself en staan onwillekeurig regopper.
“Mag ek nou maar praat, Carli, of huil jy nog?” vra Meyer geduldig langs haar.
Sy ruk haar kop beledig op en gluur hom aan. “Ek huil nie!” ontken sy verneder, besef dan dat sy skree en onthou gegrief dat sy van haar waardigheid vergeet het.
“Dan moet jy so spoedig moontlik ’n oogarts raadpleeg, want jou trane het spierwit paadjies oor jou vuil gesig geloop. Of dalk sal tant Emma vir jou oogdruppels vir jou tranende oë kan voorskryf. Sy is ’n goeie dokter,” antwoord hy en kyk haar soos ’n besorgde pa aan.
“Luister mooi, Meyer Feldtmann: jou tant Emma is nie my tant Emma nie, want ek het nie ’n enkele tante, oom, neef of niggie nie. My ma was ’n enigste kind en reeds vier-en-sestig toe sy verlede week dood is. En haar ouers is dood toe ek nog op skool was. My pa was ook ’n enigste kind, en sy ouers is lankal dood. Klim in jou verroeste bakkie, ry terug na waar jy vandaan kom en moenie weer terugkom nie!”
Dit was beter, dink sy vergenoegd, want sy het haar waardigheid onthou. Sy lig haar ken trots, probeer om weg te beweeg van hom en besef dat hy nog haar arm vashou. “As jy my arm los, sal ek nie omval nie, meneer Feldtmann,” sê sy met kille meerderwaardigheid en kyk na sy groot hand asof dit iets is wat in ’n vullisblik hoort.
“Klein snob! Jy is ’n vuil klein trens, maar jy dink my pragtige Disselboom is nie goed genoeg vir jou nie. Jy, Carli van Eeden, kan jouself bevoorreg ag as ek jou ooit toelaat om in my bakkie te ry,” sê hy onthuts, maar los nie haar arm nie.
“Wat is ’n trens?” vra sy agterdogtig, seker dat hy haar beledig het, maar veels te gelukkig omdat hy nog haar arm vashou om werklik kwaad te wees vir hom.
“ ’n Liederlike vuil meisie soos jy.” Lag klim in sy oë en steek vuurtjies in die donkerbruin dieptes aan. “As ek tant Emma vertel jy was selfs vuiler as ek met ons eerste ontmoeting, sal sy my nie glo nie. Maar jy is darem mooier. En jy sal nog mooier wees as jy skoon is. Hoekom gaan bad jy nie eers voordat ek jou na tant Emma toe neem nie?”
Sy wil hom vertrou, wil hom so graag vertrou omdat sy so baie van hom hou, dans die verraderlike waarheid soos ’n speelse sonstraaltjie deur haar gedagtes en laat haar selfbewus haar blik neerslaan. Staar sy hom soos ’n verliefde tiener aan? wonder sy, sluk droog en vra met gedwonge saaklikheid: “As ek ’n tant Emma het – ek bedoel, as tant Emma werklik bestaan en my ma se jonger suster is – waarom het sy jóú gestuur om my te kom haal? Hoekom het sy nie self gekom nie? En waarom was sy nie op my ma se begrafnis nie? En hoekom het my ma nooit oor haar gepraat nie?” Carli se oë vernou agterdogtig. “Het my tant Emma ’n … ’n onsmaaklike verlede?”
“Gebruik jy altyd jou verbeelding om vir jouself bangmaakstories te vertel, Carli?” vra hy en lag hoofskuddend. “Ek verseker jou: dokter Emma de Winter is ’n gesiene persoon in ons klein gemeenskappie, nie ’n krimineel met ’n duistere verlede nie. Ek weet sy en jou ma het in hulle jeug rusie gehad en hulle het nooit weer versoen geraak nie. Tant Emma het in ’n koerant van jou ma se begrafnis gelees, maar sy het my eers gisteraand daarvan vertel. Ek twyfel of sy jou ma se begrafnis sou bygewoon het, want tant Emma doen niks vir die skyn nie. Hoeveel vrae het ek nou al beantwoord?”
“Drie. Hoekom het tant Emma jou met ’n ou flenterbakkie gestuur om my te kom haal? Ek wed sy ry met ’n blink motor rond as sy ’n dokter is. Is haar blink motor nie goed genoeg vir my nie omdat sy en my ma rusie gehad het?”
Meyer maak sy mond oop asof hy haar wil antwoord, besluit dan daarteen en vryf met sy regterhand oor sy linkerwang. Hy frons en sug oorwonne. “As ek nou lieg, sit ek in ’n groter verknorsing, daarom sal ek dit ruiterlik erken: ek wou tant Emma verras het.”
“Hoe?” vra sy onbegrypend.
“Met jou, natuurlik. Tant Emma is my voog, ’n nuuskierige en besitlike ou mens … e … ouerige persoon van sestig. Ek is ’n man van dertig, maar in tant Emma se oë is ek nog die weekoue baba wat my ma in haar sorg gelaat het. As ek tuis is, wil sy altyd weet wat ek doen of waarheen ek op pad is. Veral naweke, want gedurende die week hou haar praktyk haar besig. Sy sou nooit kon glo dat ek al die pad hierheen in ou Disselboom sou kon ry nie, daarom sal ek haar behoorlik verras as ek met jou in my ou bakkie by die huis opdaag.”
Carli lees die erns in Meyer se oë, weet dat hy die waarheid praat, en sê met ’n gevoel van intense teleurstelling: “Tant Emma het jou nie gestuur om my te kom haal nie. Jy weet nie eens of sy my wil ken nie.”
“Tant Emma sal vanselfsprekend bly wees as ek jou –”
“Nee, Meyer,” val sy hom beslis in die rede, bewus van ’n nuwe hartseer wat in haar binneste knaag. “Tant Emma het haar eie lewe, haar man en kinders en haar praktyk om haar besig te hou. Erken dit maar: sy sou my nooit kom haal het nie. En daag ek ongenooid op haar drumpel op, sal ek net ’n verleentheid vir haar wees.”
Hy frons nadenkend, sy lippe saamgepers, en skud dan sy kop. “Ek kan nie met sekerheid sê wat tant Emma van jou sal dink nie, Carli, want ek en sy het nooit jou ma of hulle rusie bespreek nie. Ek weet net tant Emma is alleen soos jy, want anders as wat jy dink, is sy nooit getroud nie. Sy en jou ma was kwaaivriende, maar jy en sy het nie rusie gehad nie, daarom is dit moontlik dat julle vriende kan wees, en julle is mekaar se enigste familie. Is jy nie net ’n klein bietjie nuuskierig om jou tant Emma te ontmoet nie?”
“As tant Emma soos my ma is … Tant Emma ken my nie. Sy het my nie nodig nie.”
Hartseer en verwyt voer ’n tweestryd in Carli se binneste voordat sy met hoorbare bitterheid sê: “Ek veronderstel jy is tant Emma se uitverkore kroonprins, soos wat my oorlede broer my ma se kroonprins was. Dankie vir jou moeite en die uitnodiging, Meyer, maar nee, dankie. Ek sien nie kans vir nog ’n vrou met ’n yskoue glashart soos my ma nie.”
“Kroonprins se voet! Carli … wag!” roep Meyer toe Carli haar arm onverwags losruk uit sy greep. Hy tree vinnig nader aan haar, plaas sy hande op haar skouers en vervolg met dringende erns: “Ek het nooit geweet tant Emma het ’n ouer suster gehad nie – nie voor gistermiddag toe sy my van jou ma se dood vertel het nie. Dis toe dat sy my ook van jou vertel het. Ek het nie jou ma geken nie, Carli, maar ek ken tant Emma. Ek erken: sy is die ene draadwerk, maar haar hart is so groot soos ’n Karoo-nag. Kom kuier net vir ’n uur of wat saam met my by haar. Dalk hou julle van mekaar; dalk hou jy genoeg van haar om weer te kom.” ’n Glimlag laat lig sy mondhoeke. “En volgende keer sal ek jou met ’n effens nuwer voertuig kom haal.”
Sy verkyk haar aan die volmaaktheid van sy digte, geboë wenkbroue, bewonder die fyn lagplooitjies langs sy oë en raak bewus van ’n opwellende golf van verlies wat dreig om haar te oorspoel, want sy weet reeds sy kan nie aan sy versoek voldoen nie. Haar ma het haar twee-en-twintig jaar lank laat voel asof sy ’n aangelaste lap is, onbelangriker as die kleingeld in haar beursie, en nou vra Meyer haar om dieselfde rol in haar tant Emma se lewe te speel.
“Tant Emma sal nie van my hou nie, Meyer, maak nie saak hoe goed of lief sy teenoor jou is nie. My eie ma kon nie eens van my hou nie.” Onrus werp ’n skadu in haar oë toe sy aarselend vervolg: “Dalk skort daar iets met my, want Vincent se ma is ook nie lief vir my nie.”
“Vincent wie?” vra Meyer saaklik.
“Vincent Schoeman.” Sy beduie na ’n dubbelverdiepingwoning links van hulle. “Die Schoemans is ons bure, en my ma en tant Renette het besluit ek en Vincent moet eendag trou.”
“Is dit wat jy en Vincent wil hê?” vra hy, sy stemtoon gelykmatig.
Carli haal haar skouers op. “Ja, wat. Ons ken mekaar so goed, want ons het saam grootgeword. En ons hou van mekaar. Almal sê ek en Vincent is ’n volmaakte paartjie.”
“Selfs Vincent se ma wat nie lief is vir jou nie?” vra hy skepties.
“My beste vriendin, Mariska, sê alle ma’s dink geen meisie is goed genoeg vir hulle seuns nie, maar dis gelukkig net totdat hulle oumas word,” antwoord Carli met ’n onbesorgde glimlaggie, besef dat sy haarself nie glo nie, en sug ongeduldig. “Ek dink tant Renette – sy is Vincent se ma – weet self nie wat sy wil hê nie. Sy sê altyd ek is haar aanstaande skoondogter, maar sy vertel my en Vincent in dieselfde asem dat ons nog veels te jonk is om te trou. My ma is getroud toe sy mondig was.”
“En jy was al mondig, klein Carli?” vra hy met oordrewe verbasing, sien die blos van verleentheid oor haar gesig kruip en lag haar goedig uit. “Tant Emma het my vertel hoe oud jy is – jonk genoeg om nie oorhaastig te trou nie. Of is jy en Vincent gretig om huis-huis te speel?”
Sy woorde laat haar beledig voel, want dis te na aan die waarheid: haar en Vincent se toekomstige huwelik is in haar oë net ’n voortsetting van die huis-huis-speletjies van hulle kleintyd, dink sy en vermy Meyer se ondersoekende blik.
“ ’n Mens trou nie net na ’n begrafnis nie,” antwoord sy ongemaklik.
“Nee, ’n mens trou net as jy seker is van jou liefde,” sê Meyer doodluiters. Hy wag totdat sy fronsend opkyk na hom en vra ernstig: “Is jy baie, baie seker jy wil nie by tant Emma gaan kuier nie, Carli? Jy kan selfs jou Monster saambring. Tant Emma hou van kinders en honde.”
“Arme Monster! Hy sit nog al die tyd onder jou bakkie vas. Hoe gaan ons hom daar uitkry?” vra Carli ontsteld.
“Jy en Monster het ’n baas nodig, want julle is ewe hulpeloos,” antwoord hy treiterend en loop na die agterkant van sy bakkie. Hy hurk, kom orent met die protesterende Floorsie in sy regterhand en sit die kat in die mik van die naaste skaduboom neer.
“Waf!” blaf Monster en skiet soos ’n pyl uit ’n boog onder die bakkie uit, om stertswaaiend onder die boom waarin Floorsie sit stelling in te neem.
“Monster het nooit vasgesit nie,” sê Carli bedroë en blik met ’n verleë glimlaggie na Meyer. “Baie dankie vir jou hulp, Meyer. Ek … e … sal met Vincent se ma praat. Sy was my ma se beste vriendin en sy sal weet of ek … e … sy sal my alles oor tant Emma kan vertel.”
“Met ander woorde: jy dink nog steeds ek is ’n vuil, armoedige leuenaar,” spot hy.
Hy is ongetwyfeld vuil, maar hy is en bly die aantreklikste man wat sy nog ooit gesien het. Sy selfversekerdheid is nie verwaandheid nie, en daar is ’n unieke warmte en teerheid in hom wat haar soos ’n magneet trek, dink sy en kyk haastig weg, bang dat hy haar bewondering in haar oë sal lees.
“Ek sal graag meer oor tant Emma wil weet voordat ek haar ontmoet,” antwoord sy ontwykend.
“Gaaf! Dan kom haal ek jou op ’n ander dag as ons albei skoner is. Of sien jy kans om –”
“Hier kom Mariska!” val Carli hom gedemp in die rede.
“Tot siens, Carli. Ek sal vir jou tante sê jy stuur liefde,” sê Meyer hard genoeg dat Mariska hom kan hoor. Hy buig nader aan Carli en vir ’n toweroomblik raak sy lippe sysag aan hare.
Carli sluit haar oë onwillekeurig en bly roerloos staan. Maar dan, voordat sy die wonder van die oomblik kan indrink, beweeg hy weg van haar.
Haar oë vlieg oop toe sy die deur van die bakkie hoor toeklap, en sy sien Mariska nuuskierig nader draf terwyl Meyer se bakkie vinnig trustoot en wegry.
“Wie is daardie ou boemelaar? Hoekom het hy jou gesoen? Goeiste, Carli, het jy vir jou ’n geheime minnaar aangeskaf? Is hy darem ongetroud, of het hy ’n vrou en ’n spul kinders? Ek kan nie glo jy kan so ’n vuil man wat in ’n ou flenterbakkie rondry, soen nie!” kom dit uitasem van Mariska, lam geskok deur haar eie vrugbare verbeelding.
“Het jy die man sowaar gesoen, Carli?” vra Vincent Schoeman afkeurend. Hy gaap lank agter sy hand en sluit by die meisies op die sypaadjie aan.
Vincent is nie mooi nie, dink Carli en kyk krities na die lang, skraal jong man wat eendag haar bruidegom sal wees. Vincent is doodgewoon aantreklik met sy digte, heuningblonde hare, ligbruin wenkbroue en koringblou oë, omraam met lang wimpers. Sy neus is kort en reguit en sy gesig lank en hoekig. Sy mond is groot, sy lippe vol en sensueel, en as hy glimlag, keep diep kuiltjies in sy wange. Vreemd, sy en Mariska glo sedert hulle kleintyd Vincent is die aantreklikste ou in die wêreld, maar vandag lyk hy soos ’n vaak skoolseun met sy ongeskeerde gesig, deurmekaar hare en ’n T-hemp wat hy agterstevoor aangetrek het.
“Het jy nie gesien Carli soen die man nie, Vincent?” dring Mariska se verontwaardigde stem tot haar deur. “Ek kon my oë nie glo nie! Carli, wat het jou besiel om die vuil ou boemelaar te soen?”
“Dis wat my ma ook wil weet, Carli,” sê Vincent en gaap weer agter sy hand. “Ekskuus. Ek slaap nog. Ek het tot halfdrie vanoggend DVD’s saam met Peet-hulle gekyk. En toe kom boender my ma my uit die bed omdat jy ’n uur lank met ’n vuil boemelaar in die straat staan en praat. Wat het hy verkoop? Kompos, kraalmis of waatlemoene?”
Carli kyk hom geïrriteerd aan. “Is jy regtig drie maande ouer as ek, Vincent?”
“Dis wat op my geboortesertifikaat staan. Hoekom vra jy?” Hy vryf die slaap uit sy oë en gaap weer.
“Omdat ek skielik twintig jaar ouer as jy voel,” antwoord Carli en voel dan gemeen. Dis nie Vincent se skuld dat hy minder manlik as die dertigjarige Meyer Feldtmann lyk nie, of dat hy op twee-en-twintig nie die innerlike krag en selfversekerdheid van Meyer uitstraal nie. Oor agt jaar sal Vincent ook manlik wees – as tant Renette intussen ophou om hom soos ’n hulpelose kleuter te behandel.
“Jy het jou T-hemp agterstevoor aan, Vincent. Gaan klim in jou bed en slaap klaar.”
“Moenie katterig wees nie, Carli,” sê Mariska partydig. “Vincent is minstens skoon, maar daardie boemelaar wat jy gesoen het … Hoekom hét jy hom gesoen?”
“Ek het nie,” ontken Carli. Sy voel hartseer. As sy geweet het Meyer gaan haar soen, het sy hom teruggesoen, dink sy, ervaar ’n oomblik van bandelose begeerte en bloos dan vuurrooi oor die intensiteit van haar emosies.
“Jy jok! Kyk hoe bloos sy, Vincent. Carli bloos altyd as sy jok.” Mariska kyk ontsteld na Vincent en dan weer na die blosende Carli.
“Dis haar ma se dood,” sê Vincent vertroulik en staan nader aan Mariska. “My ma sê die dood van ’n ouer is ’n traumatiese ervaring, daarom moet ons nie verbaas wees as Carli skielik vreemd optree nie. Dis waarom sy haar simpel hond se geselskap bo myne en joune verkies.”
“Ek het nooit so daaraan gedink nie,” sê Mariska en staar bewonderend na Vincent. “Arme Carli het niks en niemand wat sy haar eie kan noem nie, daarom het sy ’n wildvreemde boemelaar gesoen.”
“Dis reg,” beaam Vincent. “Maar haar soen was sonder bybedoelings, want sy het hom in die straat gesoen waar almal haar kon sien. Ek wed sy weet nie eens sy het hom gesoen nie. Dis haar gemoedstoestand, verstaan?”
“Ja, Vincent, maar wat –”
“Hy het mý gesoen, julle twee pampoene!” val Carli Mariska boos in die rede. “Glo julle ek het skielik doof en stom geword omdat my ma dood is? Julle staan my gemoedstoestand en ontleed soos twee ou professore, en intussen het julle nie die vaagste benul waaroor julle praat nie! Ek kan nie glo julle is my vriende nie!”
“Sy is histeries, Vincent. Wat doen ons nou?” vra Mariska gedemp en hou Carli besorg dop.
“Ons moet kalm bly,” antwoord hy en waag ’n versigtige glimlaggie toe hy na Carli draai. “Moenie jou vir ons vererg nie, Carli. Ek en Mariska probeer jou net help, want ons het begrip vir jou … e … situasie. Hoekom het die boemelaar jou gesoen?”
“Omdat hy wou,” antwoord Carli kamma bedees, blik beurtelings na Mariska en Vincent en bars in ’n onkeerbare giggelbui uit. “Julle is snaaks – julle weet net nie hoe snaaks nie! Die man het my gesoen omdat … e … omdat hy my neef is.”
“Jy het nie ’n neef nie, want jou tant …” begin Vincent. Hy pers sy lippe hard saam en kyk betekenisvol na Mariska, wat hom met groot, geskokte oë aanstaar en probeer om haar kop ongemerk te skud.
“Dan weet julle van my tant Emma de Winter?” vra Carli met onskuldige belangstelling.
“Het my ma jou vertel?” vra Vincent ongelowig.
“Dis ’n dom vraag, Vincent,” sê Mariska misnoeg. “Jou ma sou nooit so ’n persoonlike saak met Carli bespreek het nie, en ek en jy bewaar al jare lank ons geheim. Wanneer het jou ma jou van haar suster Emma vertel, Carli?”
Carli ignoreer Mariska se vraag en vra ingehoue: “Hoe lank weet jy en Vincent al van my tant Emma?”
Mariska en Vincent kyk na mekaar en lyk albei skuldig. Dan antwoord Mariska teësinnig: “Vandat ons twaalf was. Jy het daardie wintervakansie masels gehad en ek en Vincent het mekaar geselskap gehou. Ons het moeg geword van televisiespeletjies en toe gaan krap ons op die solder rond en kom op ’n ou album van tant Renette af.”
“Daar was foto’s van jou in die album, Carli!” sit Vincent die vertelling gretig voort. “Ek bedoel, die meisie op die foto’s het soos jy gelyk – stokou foto’s van my ma en jou ma en die meisie wat soos jy gelyk het. Ek en Mariska was so opgewonde dat ons my ma gaan vra het of ons die album vir jou kon wys. Sy het nie juis ’n keuse gehad nie: sy moes ons toe van jou tant Emma vertel. Maar sy het ons laat beloof dat ons nooit enigiets oor tant Emma en die foto’s vir jou sal sê nie. Verkwalik jy ons dat ons stilgebly het?”
“Nee, Vincent. Het jou ma julle vertel waaroor my ma en tant Emma rusie gehad het?” vra Carli gelykmatig en hoop sy verraai nie haar gebrek aan inligting oor haar onbekende tant Emma aan die ander twee nie.
“Nee. Weet jy?” kom dit tegelykertyd van Vincent en Mariska.
Carli glimlag sonnig. “Jammer, julle twee, maar dis ’n De Winter-geheim. Maar ek kan julle vertel dat tant Emma ’n pleegseun het – Meyer Feldtmann.”
“Die boemelaar?” vra Mariska ongelowig.
“Moenie oordryf nie, Mariska!” sê Carli onthuts. “Meyer het twaalf jaar lank in sy vrye tyd aan daardie antieke bakkie gewerk om dit weer in ’n lopende toestand te kry. Hy het al die pad van Henningshoogte af gery en op pad hierheen het die oliepypie van die bakkie gelek of gebreek. Hy moes seker onder die bakkie inkruip om dit reg te maak, want hy was die ene stof en olie, maar sy klere was nie oud of flenters nie. Sy gesig was in elk geval skoon.”
“Ja, hy het die aantreklikste gesig wat …” begin Mariska entoesiasties, kyk na Vincent en lyk skuldig. “Ek persoonlik verkies blonde mans, maar as ’n mens van donker mans hou, is jou neef nogal aantreklik, Carli.”
Vincent vee sy deurmekaar kuif uit sy oë, kyk ongemaklik na Carli en vra onwillig: “Is die Meyer-vent getroud?”
Is Meyer getroud? wonder sy, ineens smoorkwaad vir Vincent oor sy nuuskierigheid. Tot op hierdie oomblik het sy nie aan die moontlikheid gedink dat Meyer ’n getroude man met ’n vrou en ’n huis vol kinders is nie, maar nou sal sy vir die res van haar lewe daaroor wonder – en dis alles Vincent se skuld.
“Ja, hy is getroud en die pa van ses kinders, maar ek weet nie wat hy vir ontbyt eet nie. Enige verdere vrae kan skriftelik en in triplikaat aan my gepos word.”
“E-pos of slakkepos?” vra Mariska, haar oë vonkelend.
Carli kyk na haar vriendin en lees ’n boodskap van woordelose begrip in haar oë. Dis wat Mariska nog al die jare doen, besef sy: stuur met haar oë boodskappe van begrip as Vincent haar met sy nuuskierige vrae irriteer. Mariska is wyser as sy en Vincent, want sy speel altyd die rol van ’n goedige ouer suster wat die vrede tussen hulle bewaar. As sy en Vincent die dag trou, sal sy Mariska vra om by hulle in te trek, dink sy en glimlag vir Mariska.
“Jy praat in jou slaap,Vincent,” terg Mariska en stoot hom liggies teen die skouer. “Gaan stel jou nuuskierige ma gerus en gaan slaap klaar. Jy is altyd effens dommerig as jy nie genoeg geslaap het nie.”
Vincent knik. Hy gaap tot sy oë traan en draai terug huis toe. “Ek is selfs te vaak om dom te voel,” mompel hy. “Bel my as jy moeg is van jou hond se geselskap, Carli, maar eers teen vanmiddag,” vervolg hy en drentel weg.
“Arme drommel. Tant Renette gaan hom onder die stort druk en hom saam kerk toe sleep,” sê Mariska simpatiek.
“Dis sy eie skuld. Vincent is ’n man onder die manne, maar stap hy by hulle huis in, is hy skielik drie jaar oud. Verbeel jou, tant Renette kyk elke oggend of sy hare netjies gekam en sy naels skoon is voordat hy universiteit toe gaan!” sê Carli misnoeg.
“Jou ma en tant Renette was albei twee-en-veertig toe jy en Vincent gebore is. My ma sê tant Renette het besluit sy is ’n ouma, daarom behandel sy Vincent soos ’n oulike kleinkind.”
“Jou ma is ’n slim vrou,” sê Carli met ’n skraal glimlaggie. “My ma het doodgewoon besluit ek bestaan nie. Dit was nie baie aangenaam vir my nie, maar dit het my selfstandig gemaak. Wat doen ek met tant Renette as ek en Vincent die dag trou?”
Mariska kyk haar onthuts aan en bars skaterend uit van die lag. “Stommerik! Het jy vergeet jy besit nou hotelle en ander eiendom in byna elke land in Europa, Amerika en Asië? My ma sê jy is nou so ryk dat sy jou eintlik jammer kry.”
“Dankie. Ek het myself jammer gekry nadat my prokureur … e … oom Wim my ma se testament voorgelees het. Hy het my verseker ek hoef my nie oor die bestuur van die trust te bekommer nie, want hy en die ander direkteure sorg daarvoor. Maar ons praat nie nou oor my erfenis nie. Wat doen ek met tant Renette as ek en Vincent eendag trou?” vra sy weer.
“Ignoreer haar, klim saam met Vincent op ’n vliegtuig en hou vir die res van julle lewe vakansie in jou eie hotelle,” stel Mariska met ’n ondeunde glimlag voor.
“Dis presies wat ek sal doen! Ek dink ek is vir die eerste maal bly ek het ryk geërf,” sê Carli verlig.
Mariska sug verlangend. “Dit moet hemels wees om soveel geld te hê dat jy nooit hoef te werk nie.”
“Dit is nie. Ek wil net baie kinders en kleinkinders en agterkleinkinders hê – hope van hulle, sodat my huis altyd propvol van my eie mense is.” Carli frons spytig. “Ek wens ek en Vincent kon sommer môre trou, maar tant Renette sal ons nie toelaat nie.”
“Julle is albei mondig, Carli. Niks verhoed julle om môre te trou nie,” sê Mariska ingehoue, haar stem effens hees.
Die beeld van ’n lang, donker man met spatsels sonlig in sy diepbruin oë verskyn onverhoeds voor Carli se geestesoog. Sy ervaar weer die tintelende warmte van sy groot hand op haar arm, hoor die diep timbre van sy stem in haar ore en wens hy was by haar. Vreemd hoe veilig en gelukkig sy in sy geselskap gevoel het, selfs toe hulle rusie gemaak het …
“Waf!” blaf Monster haar onverklaarbare verlange na Meyer aan skerwe en kom sit voor haar, sy leiband in sy bek, sy regteroor gespits.
“Jou liewe ding! Het jy moeg geword om Floorsie dop te hou?” vra Carli vir die groot hond, knip die leiband aan sy halsband vas en draai na Mariska. “Tant Renette het Vincent oortuig ek en hy is veels te jonk om te trou, daarom moet ons wag. Ek en Monster was op pad kafee toe. Kom jy saam?”
“Jy is te vuil om kafee toe te loop,” sê Mariska, ’n troebel uitdrukking in haar oë.
“Goeiste, ek het vergeet ek is die ene stof en olie! Maar ek kan nie vir Monster teleurstel nie. Ons sal om die blok loop. Toe, kom saam.”
“Nee, ons gaan kerk toe. Sien jou!” roep Mariska en draf weg oor die straat.
“Tot later!” roep Carli, verlig dat Mariska haar alleen gelaat het. Sy wil ongesteurd aan Meyer dink, want sy beeld bring ’n ongekende warmte diep in haar. Sy voel hoe dié warmte deur haar liggaam tintel met ’n sensasie wat sy teësinnig as begeerte herken. Sy wil hê dat Meyer haar styf in sy arms vashou en … Nee! Sy is ’n opperste dwaas, want sy droom oor ’n man wat sy moontlik nie weer sal sien nie. Sy gaan met Vincent trou want sy het hom lief – so lief as wat sy Mariska het.
Carli bly staan, geskok deur die besef. Is sy werklik lief genoeg vir Vincent om met hom te trou? vra sy haarself ontsteld af. Tant Renette sê liefde is iets wat stadig moet groei, gevoed deur kennis van mekaar en die waardering van gesamentlike ervaringe. Sy het ’n deeglike kennis van Vincent, het haar hele jeug saam met hom ervaar, maar miskien het tant Renette gelyk: sy is nog nie oud genoeg om Vincent met die volwasse liefde van ’n vrou lief te hê nie, besluit sy en begin draf saam met Monster om aan haar twyfelgedagtes te ontsnap.
Dis tipies van tant Renette, ’n besige prokureur en een van oom Wim se talle vennote in sy groot prokureursfirma, dink Carli en volg die kelner wat haar na Renette se tafel toe lei. In plaas daarvan om haar wat Carli is tuis te besoek, nooi sy haar vir ’n peperduur middagete in ’n gewilde hotelrestaurant.
Renette glimlag verwelkomend – ’n glimlag wat soos gewoonlik nie haar oë bereik nie, merk Carli op. Sy wag totdat Carli aan haar tafel sit en haar bestelling aan die kelner gegee het voordat sy vleiend sê: “Jy lyk pragtig, Carli – werklik chic! Ek besef jy is nog besig om jou ma se dood te verwerk, maar dis vir my ontstellend dat jy jouself in jou ouerhuis toesluit en meestal in verbleikte denims rondloop en met daardie aaklige gedierte in julle agterplaas speel. Jy is my aanstaande skoondogter, en vanselfsprekend bekommer ek my oor jou. Jy moet wegkom uit daardie huis van rou, daarom het ek jou hierheen genooi vir middagete.”
“Ons huis rou nie,” antwoord Carli impulsief, wonder of sy onhoflik was en besluit dan met ’n onverklaarbare gevoel van vryheid dat dit haar nie kan traak of sy goeie maniere het of nie. Sy het toegelaat dat tant Renette twee-en-twintig jaar lank aan haar voorskryf wat om te dink of te doen. Nee, dit was erger: tant Renette kon haar so maklik met ’n skerp antwoord of ’n meerderwaardige glimlaggie klein en dom laat voel. Haar eie ma het haar bloot geïgnoreer, maar tant Renette het altyd stekies ingekry. Nie langer nie, besluit Carli en lig haar ken onbewustelik.
“Dit was figuurlik gesproke, Carli,” sê Renette, haar glimlag simpatiek toe sy vervolg: “Ek was verstom om te hoor jy het julle getroue huispersoneel afgedank. Wat het jou besiel om dit te doen, my liewe meisie?”
“Ek wil my eie tee maak, self vir my koeldrank skink en my hond voer, tant Renette. Ek het vir elkeen van ons huispersoneel ’n groot Kersfeesbonus gegee, en ’n personeelfirma het gesorg dat hulle almal nuwe poste kry. ’n Skoonmaakdiens maak nou die huis twee maal per week skoon. Dit pas my,” antwoord sy met saaklike erns.
“Solank jy nie eensaam is nie.” Renette probeer om begrypend te klink, maar Carli merk die oorwegende lig in haar oë.
“As ek eensaam is, is dit omdat ek dit verkies, tant Renette. My vriende bel my gereeld, en Mariska boer by my.”
“Ja … Mariska beskik oor die besondere talent om by ’n mens te wees sonder om lastig te wees,” beaam Renette en vra met oordrewe belangeloosheid: “Is jy van plan om die Kerstyd saam met jou tant Emma en haar pleegseun deur te bring? Is dit waarom hy by jou was? Het hy jou uitgenooi vir ’n kuiertjie?”
Die nuuskierige ou heks! dink Carli briesend en staar stip na die tafelblad, haar gelaat uitdrukkingloos. Dan is dít die rede vir tant Renette se uitnodiging: om oor tant Emma en Meyer Feldtmann uit te vis, nie omdat sy haar oor haar toekomstige skoondogter bekommer nie.
Carli glimlag dierbaar en antwoord stroopsoet: “Ja, die liewe Meyer! Hy het so mooi gevra dat ek nie anders kon as om te beloof dat ek Kersfees saam met hulle sal deurbring nie.”
Renette kry kleur op kleur, glimlag met onoortuigende blydskap en sê gul: “Dis wonderlike nuus, Carli! Ek het Emma goed geken toe ons jonk was, en sy het so ’n minsame geaardheid. Ek is seker sy sal jou en Vincent met ope arms verwelkom.”
“My en Vincent?” vra Carli onkant, onthou dat sy eendag met Vincent gaan trou en glimlag sonnig. “Ja, natuurlik. Vincent is nog besig met sy LL.M.-graad, maar as hy eindelik klaar –”
Renette lê Carli met ’n handgebaar die swye op. “Waarom so lank wag, Carli? Ek het besluit julle tweetjies kan voor Kersfees verloof raak en vroeg aanstaande jaar trou. Is jy nie bly nie, my meisie?”