Читать книгу Die grondbaron - Schalkie van Wyk - Страница 3

Оглавление

1

Erika Marais draai die koperdeurknop met haar regterhand en slaak ’n dankbare sug van verligting toe die swaar houtvoordeur geluidloos oopgaan. Sy het reeds drie keer die deurklokkie gelui, haar kneukels rooi en seer teen die deur geklop en toe tot die gevolgtrekking gekom dat haar jonger broer, Henno, vergeet het dat sy vandag op Bergvallei arriveer.

Op Bergvallei sluit die mense nie hulle deure nie, selfs nie as hulle in ’n kasteelagtige ou woning soos dié van Henno woon nie. Haar huis ook, dink sy en glimlag trots terwyl sy die deur agter haar toestoot en dan bly staan om die ruim ontvangsportaal met sy hoë staalplafon en glinsterende kristalkandelaar te bewonder.

Agter haar word daar hard aan die voordeur geklop en sy swaai om en wonder nog wie haar besoeker kan wees, toe die deur sonder meer oopgestoot word.

“Kind, jy kom asof jy gestuur is! Waarheen sou ek en die arme skepseltjie ons gewend het as jy en jou dierbare man nie julle losieshuis hier geopen het nie?” vra haar besoekster en steek haar hand uit na Erika. “Dag, ou dingetjie. Ek is tant Sophia van Vollenhoven met ’n ph.”

Erika groet Sophia werktuiglik, voel hoe haar arm lustig gepomp word en vryf haar gekneusde vingers toe Sophia haar hande eindelik los.

Sophia is ’n groot, lang vrou, nie werklik vet nie, maar daar is baie van haar, dink Erika opsommend. Haar stem is groot en hartlik soos sy, haar glimlag sprekend van warmte en mensliewendheid. Sy skat Sophia nie ouer as sestig jaar nie, want hoewel haar hare reeds silwergrys is, het haar gelaat min plooie en in haar grysblou oë vonkel ’n stukkie immerjeug.

Maar dis die kind langs Sophia wat werklik Erika se nuuskierigheid gaande maak. Of dit ’n seun of ’n dogter is, kan sy aan die kleredrag nie raai nie. Waar ’n kop en ’n gesig moet wees, dra die kind ’n wit katoenmasker wat moontlik ’n kussingsloop kan wees, behalwe dat dit in ’n skerp punt bo-op die kop eindig en van twee netjiese loergate voorsien is. Sou Sophia spesiaal die masker vir die kleintjie gemaak het? wonder Erika en skrik toe Sophia weer begin praat.

“En dis nou Jacqueline de Vries, maar ons noem haar sommer Jackie, want dit pas beter by haar,” stel tant Sophia die kind aan haar voor. “Jackie, groet die tannie.”

“Ek kan nie, want ek kan nog nie goed Engels praat nie,” antwoord ’n knorrige stemmetjie onder die masker uit.

“Dis nou weer Riaan se bogstories: sê mos vir Jackie sy lyk soos ’n lid van die Ku-Klux-Klan en nou weier die skepseltjie om die dood om Afrikaans te praat terwyl sy met die masker oor haar kop loop. Maar kom ons stap deur kombuis toe en maak ’n koppie koffie, want my keel is droog van die ver stap hier na die ou huis toe. Ons loseer mos as ’t ware klaar hier by jou, nè, ou diertjie.”

“E . . . ja, maar . . . e . . . ek weet nie waar is die kombuis nie, Tannie,” erken Erika met blosende ongemak. “Ek het self so pas hier aangekom en ek het net die voordeur oopgemaak, toe klop Tannie-hulle aan. Ons sal seker maar die kombuis moet soek.”

Sophia los Jackie se hand, plant haar hande in haar sye en glimlag met stralende goedkeuring.

“Nou wil jy meer . . . Kind, dis mos ’n bestiering dat die dierbare Riaan ’n motorongeluk gehad het . . . Haai, nee, nou klink dit al asof ek bly is die seun het so seergekry, maar dis nie hoe ek dit bedoel nie. Ek bedoel maar net: as dit nou nie was dat Riaan in die hospitaal beland het nie, het ek nie uit pure moedeloosheid my skrede tot ’n losieshuis gewend nie. Want ek het klaar besluit: ek, Sophia Maria Johanna van Vollenhoven, het lank genoeg my vingers vir die kinders deurgewerk. Nou kom rus ek in ’n losieshuis.”

“Ja, Tannie,” sê Erika hoflik, hoewel sy geen kop of stert van Sophia se verduideliking kan uitmaak nie, en vra dan huiwerig: “Weet Tannie dalk waar is die kombuis?”

Sophia lag uitbundig, haar kop agteroor en haar hande nog in haar sye geplant.

“Maar, ou dingetjie, hoe anders dan? Riaan se vader, oorlede Wim, was my enigste broer en ons het saam in hierdie huis grootgeword. Toe Wim bykans veertig jaar gelede getroud is met Nelia de Jager, het ek vir my ’n nuwe huis daar naby die kerk en die winkels in die hoofstraat laat bou, en sedertdien woon ek daar. Maar die huis hier op Drie Eike is my geboorteplek, daarom is ek so dankbaar om terug te wees. Maar kom saam, dan wys ek jou waar is die kombuis,” nooi Sophia en stap vooruit.

“Dankie, Tannie,” sê Erika en voel oneindig dom dat sy nie self daaraan gedink het dat Sophia van Vollenhoven familie is van Riaan van Vollenhoven nie. “Hoe gaan dit nou met Riaan, Tannie? Henno het vir my oor die foon vertel dit was ’n ernstige ongeluk. Is Riaan nog in die hospitaal?”

“Hy is, ja, maar nie meer vir lank nie,” antwoord Sophia wat ’n deur langs die breë houttrap wat na die eerste verdieping van die ou woning lei, oopmaak en in ’n lang, breë gang afstap. Sy beduie met haar hand na links. “Links is die tweede sitkamer en regs was my oorle vader se studeer­kamer en die biblioteek. My pa was sy lewe lank ’n student en van boeke kon hy nooit genoeg kry nie. Hier by die dwarsgang draai jy links en stap ons deur kombuis en spens toe.”

“Dis so groot soos ’n saal!” roep Erika verruk uit en bly in die deur staan terwyl haar oë gretig deur die ruim kombuis dwaal. “Dit gaan pret wees om hier kos te maak.”

“My oorle moeder had altoos gesê die plek is ’n skuur, want daar is genoeg ruimte om ’n paar dosyn sakke mielies te bêre, sonder dat jy dit sou agterkom. Maar, nou ja, oorle ma was nooit lief vir kos kook en koek bak nie, maar sy had ’n groot liefde vir musiek en boeke en fyn borduurwerk. Gelukkig aard ek na my ouma Van Vollenhoven, want ek het gesorg dat die koek- en beskuitblik altyd vol was,” vertel Sophia, raap die elektriese ketel op en tap dit vol water.

“Wag, tant Sophia. Dis seker tog my werk,” maak Erika skuldig beswaar.

Sophia draai die waterkraan toe, skakel die ketel aan en betrag Erika asof sy haar vir die eerste maal sien.

“Jy is te pieperig en te jonk om alleen die werk van ’n losieshuis te behartig, ou dingetjie,” sê sy met opregte besorgdheid in haar stem. “Mooi is jy wel, met jou goue hare en jou groot groen oë, maar jy lyk darem vir my te fyntjies vir sulke harde werk. Is jy seker jy kan darem kook, ou kindjie?”

“Ek is ’n huishoudkunde-onderwyseres, Tannie, en tot gister het ek nog onderwys in Johannesburg gegee,” antwoord Erika.

“Ja, dis wat Riaan my ook vertel het.” Sophia se oë rek. “Maar as jy die huishoudkunde-onderwyseres is, is jy mos Henno se sustertjie en nie sy vrou nie?”

“Ja, Tannie, hy is byna twee jaar ouer as ek. Ek word in November drie-en-twintig en Henno was mondig in Maart. Dit was tydens die April-vakansie wat ons saam in Durban deurgebring het, dat ons vir Riaan ontmoet en toe oor Drie Eike en Bergvallei begin gesels het.”

“En toe besluit julle om die huis te koop en ’n losieshuis te begin?” vra Sophia wat sonder toestemming baie laaie ooptrek en kasdeure oop- en toeklap, klaarblyklik besig om vas te stel of die kosvoorraad bevredigend is.

“Ja . . . nee, nie heeltemal nie. Ek is jammer hier is so min kos, maar Henno het seker gereken ek moet inkopies gaan doen sodra ek hier aankom. Dit sal my seker minstens ’n week of twee kos voordat ek die kamers gereed sal hê, maar ek sal Tannie dadelik laat weet wanneer ek loseerders kan inneem. Hier is darem ’n bottel melk in die yskas. Het Tannie al die tee en suiker ontdek?”

“Vandag,” sê Sophia met onverbiddelike beslistheid. “Ek en Jackie en Karen trek vandag nog in, want met die ganske Julie-vakansie voor ons, dryf Karen my tot raserny as Jackie dit nie alleen regkry nie.” Sy kyk na Jackie wat doodstil langs ’n stoel aan die onderpunt van die groot kombuistafel staan. “Nes ’n ou spokie: grafstil, en dit alles omdat sy nie Engels kan praat nie. Wat kon Riaan besiel het om vir die kind van die Ku-Klux-Klan te vertel?”

“Maar sy gaan seker tog haar masker afhaal terwyl sy saam met ons tee drink?” vra Erika en glimlag halfhartig vir die wit masker met die twee loergaatjies vir die oë.

Wat ’n eienaardige kind, dink Erika ongemaklik. Sy herinner ’n mens werklik aan ’n patetiese spokie met haar dun liggaampie en dunner armpies en beentjies. Wat besiel die kind om voltyds die rol van ’n spook te wil speel?

Erika hoor ’n vreemde wurggeluidjie onder die wit masker uit opklink en merk hoe Jackie met handjies wat soos voëlkloutjies lyk, die boonste sport van die stoelrugleuning vasgryp sodat haar enkels wit vertoon. Sy frons en kyk vraend na Sophia wat besig is om twee koppies tee in te skink.

“Ek het nog nie tyd gehad om jou daarvan te vertel nie, Erika, maar die ou skepseltjie het maar ’n week of twee gelede hier op Bergvallei aangekom en sy ken my en die mense nog nie so goed nie. Dis waarom sy verkies om alleen saam met my te wees wanneer sy eet of drink. Jackie, sal jy ’n bietjie melk drink?” vra Sophia deernisvol.

Jackie skud haar kop en beduie met haar hand na die gangdeur en dan na die plafon.

“O ja, die solderkamers . . . Nou goed dan, ek sal jou gaan wys waar ek en my broer se speelkamer was. Riaan-hulle het dit ook gebruik en ek dink daar is nog van ons speelgoed. Ek is nou terug, ou diertjie,” sê Sophia aan Erika, vat Jackie se hand en stap met haar die kombuis uit.

As ’n meisie normaal wil wees, moet sy nie ’n skilder as broer hê nie, dink Erika vies en proe aan haar koppie tee, besluit dis te warm en plaas dit terug op die skinkbord. Sy sug, loop na die westelike venster van die kombuis toe en glimlag impulsief toe ’n prentjie van immergroen bome, blommende struike en groen gras haar begroet.

Sy is gister weg uit die Hoëveld se winter met sy dooie gras en kaal gestroopte bome, maar vandag is sy terug in die Kaap met sy winterreën.

Maar waar is Henno? wonder sy kwellend. Hy weet sy sou vanmiddag opgedaag het, want sy het hom gisteraand laat gebel nadat sy besluit het om haar reis van Johannesburg af ’n paar uur lank te onderbreek en in ’n hotel te oornag. Dis tog seker die minste wat ’n opofferende suster kan verwag ná so ’n lang reis: ’n dankbare broer en ’n koppie warm tee. Of het Henno dalk Sophia afgevaardig om haar hier op Bergvallei in Drie Eike welkom te heet?

“Maar drink nou jou tee voordat dit koud word, ou dingetjie,” praat Sophia agter haar, trek ’n stoel uit en neem by die tafel plaas.

Erika glimlag oor haar skrik toe Sophia praat, kom nader en neem haar koppie tee.

“Is Jackie nou tevrede, Tannie?” vra sy en gaan sit met haar tee voor haar, teenoor Sophia.

“Ja, Erika, maar ek het haar beloof ons sal hard praat en eers aan die deur klop as ons haar gaan roep, anders sou sy nooit die masker afgehaal het nie. Tsk, tsk,” klap Sophia haar tong hoofskuddend, “die arme ou skepseltjie lyk maar sleg, maar haar ouma, Susan Badenhorst, het my verseker oor ’n maand of wat sal die swelsel heeltemal gesak wees en die kind sal nie meer so blou en pers en groen en al die kleure van die reënboog wees nie.”

“Maar wat het dan gebeur, Tannie? Ek het gedink Jackie is net besig met ’n speletjie. Dra sy die masker om ’n spesifieke rede?” vra Erika verras.

“Tja, ek kon jou nog nie vertel het nie, want die kind was heeltyd teenwoordig, maar nou kan jy seker maar weet: sy en haar ma was so vyf, ses weke gelede in ’n ernstige motorongeluk. Die arme vroutjie is dood, maar Jackie het haar gesiggie as ’t ware te pletter voor teen die instrumente­paneel gestamp.”

“Arme kind! Is dit as gevolg van die letsels dat sy die masker dra?” vra Erika ontsteld.

“Ja, ou kindjie. En ek stem saam, sy lyk nie mooi nie. Die chirurg het darem vir haar ouma Susan verseker dat sy oor ’n verdere maand of drie, vier, net hier en daar ’n fyn ou merkie sal oorhou – en dié sal ook mettertyd verdwyn, want Jackie was pas nege in Februarie. Maar om dít nou aan die kind se verstand te bring . . .”

“Het haar ouma vir haar die masker gemaak?” vra Erika terwyl sy kyk hoe tant Sophia weer haar koppie vol skink.

“Nee, dit was mý plan, want die arme bloedjie was so skaam en inkennig toe haar ouma Susan haar hier op Bergvallei kom aflaai het, dat ek uit die goedheid van my hart vir haar die masker gemaak het. Sien, ek het só geredeneer: sy is net nege, en sy sal siek word en uitteer as sy dag in en dag uit soos ’n wilde diertjie in haar kamer gevange gehou word, want uitkom, wou sy nie.”

“Is sy nie skaam om met die masker oor haar kop rond te loop nie?” vra Erika verwonderd.

“Glad nie, want sy het die paar nuuskierige kinders wat oor haar masker uitgevra het, vertel sy is ’n Marsmannetjie en dat hulle hulle morsdood sal skrik as sy haar masker afhaal. Liewe bloedjie – spot nog oor al haar beserings,” sê Sophia met ’n goedige laggie en frons ergerlik terwyl sy vervolg: “Maar toe kom Riaan met sy storie oor die Ku-Klux-Klan en die Engels praat, en nou weier die kind volstrek om ’n woord te sê terwyl sy die masker dra. Maar ek kan hom ook nie te veel verkwalik nie, want hy het lelik seergekry toe sy motor gegly en teen ’n lamppaal gebots het.”

“Dis nou omtrent so twee weke gelede?” verneem Erika.

“Ja, ou diertjie . . . skaars ’n volle dag nadat Susan klein Jackie hier by my kom aflaai het. Susan is, nes jy en Henno, ’n oud-inwoner van Bergvallei. Ons het saam hier skoolgegaan, maar aan universiteit het sy haar toekomstige man, Henk Badenhorst, ontmoet en hy is seker nou al byna veertig jaar lank dokter in die Kaap,” vertel Sophia en proe-proe aan haar koppie tee.

“O . . .” Erika huiwer, wonder of sy te persoonlik is, maar vra tog: “Hoekom het tant Susan klein Jackie Bergvallei toe gebring? En waar is Jackie se ander mense? Leef haar pa nie nog nie?”

“Foei, ja, jy sal ook nie weet nie,” antwoord Sophia, dink ’n oomblik lank na en vertel: “Susan is haar lewe lank ’n senulyer en nie alte lief vir kinders nie, want oorlede Deidré – dis nou Jackie se moeder – was haar enigste kind. Jackie se pa, Leendert de Vries, is ’n aangename mens, maar hy is ook ’n dokter en internis, en hy moes kort ná die begrafnis Amerika toe gaan vir een of ander mediese simposium, en boonop het hy ook maar nie geweet hoe om die arme Jackie te troos nie. Toe Susan my nou so gereeld bel en van al haar ellende vertel, het ek maar aangebied om Jackie hier by my te laat kuier en haar maar te help waar ek kan.”

Dis hoe sy Sophia met die eerste oogopslag opgesom het, dink Erika: ’n groot vrou met ’n groot hart. Sy is dankbaar Sophia gaan haar eerste loseerder wees, maar daar kan geen sprake wees dat sy reeds vandag loseerders inneem nie.

“Ek wil môreoggend Kaap toe ry om die nodige linnegoed en handdoeke vir ons losieshuis te koop, Tannie. Sodra ek gereed is, sal ek Tannie laat weet en dan kan Tannie-hulle maar intrek,” sê Erika tegemoetkomend.

“Maar het jy my dan nie reg verstaan nie, ou dingetjie?” vra Sophia verwonderd. “Ek het jou mos gesê ek trek sommer vandag in; en oor linnegoed hoef jy jou g’n te kwel nie, want ek bring alles saam met my. Sien, my ou huisie daar in Kerkstraat was as ’t ware ook ’n losieshuis, want Riaan en sy jongste suster, Karen, het mos by my gebly.”

“Hy het iets van ’n jonger suster gesê, maar ons het nie veel oor sy familie gesels nie,” erken Erika halfhartig. “Hy en Henno was vuur en vlam oor Drie Eike, want Riaan was gretig om van die ou huis ontslae te raak, terwyl Henno nie kon wag om eindelik terug te keer na Bergvallei nie. Hoe oud is Karen?”

“Sestien. Haar moeder is met haar geboorte dood, maar sy en my broer Wim het al die jare hier op Drie Eike gewoon. Wim was ’n prokureur hier op ons dorp, nes Riaan, maar hy het hom nie veel aan sy plase gesteur nie. Ons was almal gedaan geskrik toe Wim drie jaar gelede van ’n vakansie op Margate terugkeer en vertel hy is weer getroud – nogal met ’n aansienlike vroutjie. Wim het sy huis en praktyk net so vir die jonge Riaan gelos, en ek is gevra om te sorg dat Karen haar studie voltooi en ná matriek Stellen­bosch toe gaan. Dis darem vreemd hoe ’n nuwe vrou ’n man skoon van sy kinders en verantwoordelikhede kan laat vergeet.”

“Maar waarom wil Tannie nie meer in Tannie se eie huis woon nie?” vra Erika onbegrypend.

“Hoe kan ek, ou kindjie? Ek het die ou plekkie vir myself gebou en daar is net twee slaapkamers – Riaan moes maar in die studeerkamer sy intrek neem. En nou sit ek met klein Jackie en oor ’n dag of drie kom Riaan terug. Die seun sit met albei hande in gips en tot tyd en wyl sy hande genees het, sal ek hom soos ’n baba moet versorg. Wie weet, dalk kry ek nog iemand om my te help, want om ’n yslike man en ’n hulpelose kind soos Jackie op te pas, is meer as wat my ou rug my sal toelaat om te doen. En waar moet al die mense slaap, vra ek jou? Nee, dis dié dat ek so dankbaar was om te hoor julle gaan Drie Eike in ’n losieshuis om­skep,” antwoord Sophia innig dankbaar.

“Dan trek Tannie-hulle sommer nou dadelik in?” vra Erika, bly dat haar en Henno se losieshuis uit die staanspoor ’n sukses is, maar bekommerd dat dit dalk in ’n privaat hospitaal omskep sal word met soveel siekes.

“Sommer nou dadelik, ou diertjie. Die son trek water en dis ’n ver ent van hier op die bult tot daar onder in Kerkstraat waar ek bly, daarom sal ek jou ewig dankbaar wees as jy vir my en Jackie met jou motortjie kan huis toe neem. Vandat Henno my vertel het van julle planne met Drie Eike, het ek begin inpak en ek is as ’t ware gereed om dadelik te trek. Ek bestuur nou nie self motor nie, maar as jy ons kan huis toe neem, sal ek en Jackie en Karen op ons eie stoom terugkom hierheen.”

“Goed, Tannie. Ek sal intussen gaan kruideniersware koop, anders het ons nie vanaand aandete nie,” willig Erika in, nog effens oorweldig oor die vreemde wending van sake, en tel haar handsak met haar motorsleutels van die kombuistafel af op.

Die laatmiddagson blink op Henno Marais se goudblonde hare en kenbaard en laat hom soos ’n Ou-Testamentiese profeet lyk in sy loshangende skilderjurk waar hy op die stoeptrap van Drie Eike staan en Erika met uitgestrekte hande inwag.

Erika glimlag en wuif vir hom, hou met haar motor voor die dubbelverdiepingwoning stil, en draf die stoeptrap laggend op na hom.

“Aaklige broer! Waar was jy toe ek vanmiddag hier aangekom het?” raas sy terwyl hy haar speels omhels en ’n klap­soen op haar wang druk.

“Maar ek is mos hier, meisie van my drome. Waar was jý vanmiddag?” vra hy verwonderd.

“Hier,” sê sy en beduie met haar wysvinger reg voor haar. “Ek en tant Sophia.”

“Tant Sophia met die ph?” Henno grinnik met lag in sy oë. “Is sy nie pragtig nie? Ek het haar binne tien minute oortuig dat sy nooit twee invalides sal kan versorg nie, daarom het sy besluit om sak en pak hier by Drie Eike in te trek. Dink net aan al die geld wat ons sal spaar as sy al haar lakens en komberse en tafeldoeke en dinge saambring!” Hy frons bekommerd. “Om die waarheid te sê, ek het presies ses rand en sewe-en-veertig sent in my beursie en totdat een van die ateljees ’n skildery van my verkoop, sal ek niks meer hê nie. Het jy dalk êrens nog ’n paar sent spaargeld?”

“Nadat ek jou gehelp het om Drie Eike en ’n spul kruideniersware te koop?” vra Erika gegrief, gluur hom kamma kwaad aan en glimlag met ’n tikkie opregte kommer in haar oë. “Ek het nog ’n paar rand in die bank, maar ek weet nie of dit genoeg gaan wees om vir die res van Julie kruideniersware te koop nie. Ek begin te wonder of ons plan om ’n losieshuis te begin, werklik so wys was.”

“Maar jy hou mos van kos kook – dis waarom jy ’n huishoudkunde-onderwyseres is, nie waar nie?” vra Henno onthuts.

“Ja, Henno, maar dis nie waarom ek teruggekom het Bergvallei toe nie,” antwoord sy, ’n peinsende uitdrukking op haar gelaat.

“Wel, hierdie ou plek is ’n goeie finansiële belegging. Riaan het nie belang gestel daarin nie en ek het dit vir ’n appel en ’n ei gekoop,” redeneer hy.

“Ek en jy, want al ons erfgeld moes vir hierdie ou klipkasteel betaal,” sê sy met ’n wrang trek om haar lippe, draai na die swaar houtvoordeur en vervolg verwonderd: “Dis tog vreemd dat Riaan nie omgegee het om sy ouerhuis so maklik te verkoop nie.”

“Vreemd?” Henno staar haar onthuts aan. “My liewe sus, dit was net logies, want wat maak ’n ongetroude man met so ’n yslike ou skuur? As jy nie kon kos kook nie en as ek nie graag wou skilder nie, sou ek nooit daarvan gedroom het om die ou huis te koop nie. Maar nou help ons mekaar: ek het jou gehelp om ’n losieshuis te koop en jy moet genoeg geld uit jou loseerders maak sodat ek nie vergaan van honger voordat ek beroemd geword het nie.”

“Ek dink nog dit sou makliker gewees het as jy daar in Johannesburg by my woonstel ingetrek het. ’n Onderwyseres is immers seker van haar inkomste,” twyfel sy.

“Haai, wie word nou bang?” vra hy verwytend en slaan sy arm om haar skouers. “Jy het tog self gesê jy verlang al die jare nog terug na ou Bergvallei. Het jy gesien Pappa se ou apteek is nog op dieselfde plek? Oom Kobus Ferreira wat die apteek ná Pappa se dood gekoop het, is nog altyd die apteker hier. Ons het die ander dag lank gesels en hy het beloof om uit te vind van loseerders vir ons losieshuis.”

“Twaalf, amper dertien jaar,” kom dit mymerend van Erika. “Ons is aan die einde van September hier weg om in Johannesburg saam met Mamma by oupa en ouma Marais te gaan woon. Ek is bly om terug te wees, Henno, maar ek kwel my tog oor ons min geld. Miskien moet ek weer gaan skoolhou en net kamers verhuur. Jy het tog gesê die ou plek het twaalf slaapkamers?”

“Genugtig, meisiekind, jy het klaar vier loseerders, maar jy kwel jou oor geld! Wat wed ek jou ons losieshuis is binne ’n maand propvol loseerders?” sê-vra hy optimisties.

“Maar jy het gesê die dorp het reeds ’n losieshuis en dalk verkies die mense –” protesteer sy bekommerd.

“Tant Doortjie se Tronk? Dis wat die mense ou tant Doortjie Kolwer se losieshuis noem, want die ou tannie kry glo haar resepte van oud-prisoniers.” Henno lag gerusstellend. “Moenie jou kwel nie, Erika. Ek sou jou nie oorreed het om jou erfgeld in ’n plek te belê wat nie winsgewend sal wees nie. Dink net daaraan: ons is die gesamentlike eienaars van die oudste en grootste privaat woning op Bergvallei en as ons losieshuis misluk, kan jy nog altyd terugkeer na die onderwys.” Hy gee haar skouers ’n bemoedigende drukkie. “Dis darem ’n dak oor ons kop – ons eie dak, en dis al wat saak maak.”

Sy knik woordeloos en weet dat hulle gedagtes ooreenstem. Sedert hulle pa se dood byna dertien jaar gelede het hulle nooit ’n eie dak oor hulle koppe gehad nie. Eers was hulle lastige loseerders by hulle grootouers, wat hulle ouma se bloeddruk die hoogte laat inskiet het, want hulle moeder het gaan werk, en as plattelandse kinders kon hulle nie aan die ingeperkte ruimte van ’n woonstel gewoond raak nie.

Drie jaar ná hul pa se dood is hulle ma weer getroud en hulle moes hulle nuwe huis met drie ouer stiefbroers en ’n jonger stiefsuster deel, en weer het hulle die verlange na ’n eie huis ervaar. En nou, eindelik, ’n eie dak oor hulle kop.

Asof afgespreek, kyk hulle na mekaar en glimlag.

“Ek het ’n jong knaap, Bartel Klopper, saam met my gebring om jou te help om die huis skoon te maak. Hy wag in die kombuis op jou,” sê Henno en draai na die voordeur.

“ ’n Seun wat huiswerk doen?” vra sy ongelowig.

“Hy het nie ’n keuse nie. Op Bergvallei is daar net nie vakansiewerk nie en Bartel het sakgeld nodig. Hy het my laat belowe dat ek aan niemand sal vertel dat hy huishulp speel nie. Kan ons hom bekostig?”

“Vir ’n halfdag, ja,” antwoord sy laggend, begin wegstap na die deur en sê oor haar skouer: “Miskien moet jy solank gaan kyk of jy nie vir tant Sophia kan help nie. Bartel kan vir my die kruideniersware uit die motor aandra.”

“Goed, dan ry ek eers,” antwoord hy en stap na sy motor toe wat voor die huis geparkeer staan.

Erika steek in die kombuisdeur vas, haar blik verras op die groot, donker man wat met sy rug op haar gekeer voor die een kombuisvenster staan. Hy draai om toe hy haar voetstappe hoor, maar met die lig agter hom is dit onmoontlik vir haar om sy gelaatstrekke behoorlik te onderskei.

“E . . . hallo, Bartel,” groet sy met ’n senuagtige glimlaggie. “Henno het gesê jy sal my met die huiswerk help. Dit is al byna vyfuur, maar as jy my tot so sewe-uur kan help, sal ek jou drie rand betaal. Is dit reg so?”

Wat ’n vreemde jong man wat huiswerkies wil doen om sakgeld te verdien! dink sy, intens bewus van Bartel se besonderse lengte en breë skouers. Is hy moontlik ’n student? Maar studente speel nie huishulp nie, redeneer sy en skreef haar oë om sy gesig duideliker te kan sien.

“En jy dan, juffroutjie? Wat gaan jy doen terwyl ek die huis aan die kant kry vir ’n hele drie rand? Of betaal Riaan jou net om mooi te lyk?” vra die man, tree nader en staan tronend oor haar.

Hy het sterk, gebeitelde gelaatstrekke, merk sy, maar dis sy ysblou oë onder sy donker wenkbroue wat haar laat besluit dat hy die lelikste man is wat sy nog gesien het – dít, en die koue spot in sy diep baritonstem.

“Drie Eike is my en my broer Henno se losieshuis, meneer. Ons het die plek van Riaan gekoop en dit behoort nou aan ons. Ek weet nie wie jy is nie, maar –” sê sy vyandig.

“Ek is Wilhelm van Vollenhoven, Riaan se ouer broer, en ek het reeds tien jaar gelede die opsie gekry om Drie Eike te koop. Drie Eike is myne, juffroutjie, en hoe gouer jy en jou broer vertrek, hoe beter vir ons almal,” val die man haar in die rede en glimlag in haar verbysterde gelaat.

Die grondbaron

Подняться наверх