Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 14 - Schalkie van Wyk - Страница 4

1

Оглавление

Malvalekkers vir tant Grietjie, pepermente vir tant Lerina, herinner Wiandri Rosseau haarself terwyl sy skerp links draai uit die enigste teerstraat van die klein plattelandse dorpie Wernerspan. Oomblikke later bring sy haar motor glyend en plassend deur die modder voor Wessie se Winkel tot stilstand en klim haastig uit.

“Hoei, jy!” skel Wessie Wessels fluitjieskril uit die ingang van haar klein negosiewinkeltjie en trippeldans van ergernis voor die modderbespatte winkelvenster rond. “Agge siesa, asempie, kyk net hoe lyk my winkelvenster wat ek vroegoggend spiekeries-skoon gewas het! Is jy nou te slim en geleerd om te onthou van onse dorpie se dinge? Sloef-slaf deur die modder as dit reën, en stoot die Langerivier oor sy walle, swem ons poskantoor en kerk toe!” Sy plooi haar okkerneutbruin gesiggie in ’n vraagteken en fluister benoud: “Is dit siekte wat jou so laat jaag, asempie? Is dit juffrou Lerina …?” Sy klap haar regterhand hard teen haar lippe asof sy wil verhoed dat haar woorde haar vrees sal bewaarheid, maar haar oë pleit om ’n antwoord.

Dis waarom sy altyd weer sal terugkom na haar tuisdorpie, dink Wiandri, want almal ken almal en almal gee om, so anders as in ’n onpersoonlike stad. En niks en niemand verander nie, want tant Wessie lyk nog al die jare dieselfde: ’n kort, skraal bondeltjie mens met ’n stem soos ’n skeermeslemmetjie, grysswart, weerbarstige krulle wat haar kop te groot laat lyk op haar smal skouertjies, groot, donker oë en ’n plooigesiggie wat wipplank ry tussen verontwaardigde uitbarstings en mensliewende glimlaggies.

“Ek het ’n halfuur gelede met tant Grietjie gesels op my selfoon, tant Wessie, en sy het my verseker dit gaan goed met tant Lerina,” antwoord Wiandri gerusstellend. “Ek is jammer ek het so vinnig gerem en tannie se winkelvenster vol modder gespat, maar as ek deur daardie yslike plas water gery het, was dit nog ’n groter gemors,” gaan sy verskonend voort, druk met haar linkerhand op die enjinkap van haar motor, gebruik die buffer as ’n brug en swaai-tree oor die naaste punt van die modderpoel om die sypaadjie te bereik.

“Tja, dis ’n allemintige eendepan in die middel van die straat. Reën dit nog ’n week, koop ek vir my ’n visstok en vang geelbekke en babers as ek nie klante het nie,” beaam Wessie misnoeg, kyk dan vinnig op en glimlag met stralende trots. “Haai, dingetjie, dat ek so maklik kon vergeet: Grietjie het my vertel jy is nou klaar volleerd en vandag kom jy vir goed huis toe. Suster Wiandri Rosseau, het Grietjie gesê. Noem ek jou nou suster Wiandri, of moet ek eers wag totdat ek sterwende in onse hospitaaltjie lê, my diertjie?”

“Vir tannie sal ek altyd net Wiandri wees,” glimlag sy en draai terug na haar motor. “Ek moet malvalekkers en pepermente vir die tannies koop, tant Wessie. Ek kry net gou my beursie.”

“Ek pak sommer twee van alles in, asempie, want ek ken ou Grietjie: verorber eers haar eie lekkers en gaps dan juffrou Lerina se peperminte, die gulsige ou sieletjie,” praat Wessie oor haar skouer en drafstap haar winkel binne.

Wiandri talm op die sypaadjie voor haar motor en betrag die poel modderwater wat dwarsoor die straat strek met ’n ongeduldige suggie. Miskien moet sy haar sandale uitskop en deur die water plas, want loop sy agter om haar motor, sak sy heel waarskynlik tot by haar enkels in die modder weg. Sy is nie bekommerd oor haar jeans of haar T-hemp nie, maar sy wil nie …

“Jeeaaw!” hoor sy haarself gil, binne ’n breukdeel van ’n sekonde bewus van die brullende gedreun van ’n motorenjin, die plassende gedruis van water en ’n yskoue modderwatergolf wat haar van kop tot tone oorspoel.

Sy vee-vee met haar hande die water uit haar oë, voel haar hare in druipnat slierte aan haar wange kleef en gluur na die straat se kant toe. Die bestuurder van die ouerige, roesbruin motortjie het sy voertuig tot stilstand gebring, kyk oor sy skouer na waar sy staan, en ry teen ’n verbasende snelheid agteruit.

“Jeeaaw!” krys Wiandri weer met verwoede verontwaardiging toe ’n tweede watergolf haar van bo tot onder deurweek.

“Wat skrou jy so, asempie?” kom Wessie saam met haar woorde by die winkeldeur uit. Sy steek in haar spore vas toe sy die druipnat Wiandri gewaar en swaai om na die bestuurder van die roesbruin motor. “Satangskind! Waar sit jou oë, gebroedseltjie? Kan jy nie ’n eendepan herken as jy ’n eendepan sien nie?” skeerlem haar stem haar toorn uit. Haar asem ruk in haar keel, haar oë pieringrond van skok toe sy voortgaan: “Gorrelpyp-Griet! Kyk, dingetjie, dis onse eie Grietjie se ou karretjie. Die man is ’n bose kardief en dalk nog ’n rower … en als! Kom, kom, asempie, laat ons vinnig in my winkeltjie kom en die deur sluit en grendel. Ek sal die polieste bel en jy kan my ou haelgeweer laai en by die agterdeur wag staan.”

Wiandri hoor nouliks Wessie se histeriese voorspooksels, haar oë vasgenael op die man wat uit die motor klim. Hy is lank en breed van skouer, geklee in ’n kakiehemp en -kortbroek, sy gespierde arms en bene sonbruin, en met ’n paar sterk leerstewels aan sy voete. Hy beweeg met die grasieuse sekerheid en ingehoue krag van ’n roofdier, en sy laat haar blik tydsaam opkruip oor sy nek en gesig. Sy digte, witblonde hare vorm ’n skerp kontras met sy donker wenkbroue en swartbruin oë, en sy wonder nydig of hy sy hare so blond kleur.

Sy is vuil, druipnat en bedremmeld, en hierdie ongenooide vreemdeling wat boonop tant Grietjie se motortjie gesteel het, loop met die trots van ’n landheer op haar af en probeer nie eens om skuldig te lyk nie, dink Wiandri wrewelrig. Sy gluur hom aan, maar in plaas van ergernis ervaar sy ’n gevoel van onverklaarbare wonder. Haar oë streel oor sy breë voorkop, die volmaakte boë van sy wenkbroue, die raaiselagtige dieptes van sy donker oë, sy reguit neus en hoë wangbene. Haar oë gly oor sy mond en sy vierkantige ken, maar keer weer terug na die fyn afgeëtste volmaaktheid van sy lippe, die sensuele volheid van sy onderlip. Sy raak bewus van ’n onkeerbare begeerte om in die gespierde krag van sy arms te staan en hom te soen, besef dan ontsteld wat sy aan die dink is en voel haar wange vlam van verleentheid.

Die man bly naas haar op die sypaadjie staan, kyk na Wessie wat doodsbenoud om die halftoe winkeldeur na hom loer, en sê stug, sy stemtoon ’n eentonige gerammel: “Ek kom al ’n maand lank elke dag hierheen om koerante en tydskrifte vir juffrou Lerina en tant Grietjie te koop. Sukkel jy met jou oë, tant Wessie?”

“Floors!” jubel Wessie haar verligting skril uit en trippel nader, ’n halfmaanglimlag om haar lippe. “Ag, askies tog, Floorsie, maar met al die modder en water wat so oor my en my ou winkeltjie spat, kan ek nie ordentlik sien nie. Maar vir wat ry jy met Grietjie se karretjie rond, dingetjie? Ry jy nie altyd die viertrekker nie?”

“Die viertrek se petrolpomp lol, dis hoekom,” mompel hy, sy gelaat emosieloos.

Hy klink soos ’n Floors, maar hy lyk nie soos ’n Floors nie, dink Wiandri en kyk hom met groeiende agterdog aan. En waarom het tant Grietjie nooit melding gemaak van die bot, groothartige en aantreklike Floorsie wat die afgelope maand gereeld vir haar en tant Lerina inkopies doen nie? Is hy ’n nuwe buurman? Tant Grietjie skinder oor als wat leef en beef op Wernerspan, maar sy het nie ’n woord oor hierdie indringer gerep nie – waarom al die geheimsinnigheid? wonder Wiandri en voel haar asem in haar keel vassteek toe Floors na haar draai, sy hand uitsteek en ’n nat sliert hare met versigtige vingers uit haar oë vee.

“Los …” begin Wiandri, besef dat haar stem hees en asemrig klink pleks van boos en verontwaardig, en sluk haar ergernis weg toe sy in die donker dieptes van sy oë kyk. Sy het nog altyd geglo donker oë is nie so uitdrukkingsvol soos blou oë nie, maar dié man s’n straal ’n warmte en empatie uit wat haar vreemd veilig laat voel – so asof sy ná ’n lang reis eindelik tuisgekom het. Maar dis belaglik: Sy is nog nie tuis nie en sy is waternat en briesend omdat die Floors-vent haar nie één maal nie, maar twéé maal ’n modderwaterbad gegee het. En kyk sy nou objektief, is sy donker oë so uitdrukkingloos soos die modderige straat.

“Ek is so jammer dat ek gemaak het dat jy waternat is, juffrou Wiandri,” sê hy, maar klink belangeloos, nie jammer nie. “Ek het jou nie gesien nie, want ek moes kyk waar ek ry. En toe ek jou hoor skree en sien wat gebeur het, het ek vinnig agteruitgery om …”

“Om my ’n tweede modderbad te gee,” val sy hom koel in die rede, en hoor verlig die sarkasme in haar eie stemtoon. Hoe ken die vent dan haar naam?

“Nee! Ek het agteruitgery om askies te sê en te vra of ek jou kan help … en toe gly die simpel kar toe ek die rem trap. Ek kan net weer sê ek is jammer, juffrou Wiandri. Gelukkig skyn die son en as ons ’n bietjie langer hier op die sypaadjie staan, sal jy droog bak voordat jy huis toe ry.”

Is die mansmens vertraag? Of dryf hy die spot met haar? vra Wiandri haarself ergerlik af en antwoord bitsig: “Ek is nie gewoond om in vuil, nat klere op ’n sypaadjie droog te bak nie, meneer Floors. Ek ry nou huis toe!”

“Hokaai, asempie!” protesteer Wessie heftig en klou met klein, sterk handjies aan Wiandri se arm vas. “Vir wat hou jy jou so hoog en spoggerig, dingetjie? Floorsie het mos klaar askies gesê en mooi verduidelik hoekom hy jou sopnat gespat het.” Sy draai haar kop skeef en betrag Wiandri oomblikke lank met meewarige erns, maar dan peul ’n moedswillige laggie oor haar lippe. “Hygend, dingetjie, jy kan maar sê Floorsie het jou propperlies in daai eendepan versuip, jy’s nat tot op jou naeltjie!”

Dis onmoontlik om waardig, laat staan nog meerderwaardig, te lyk terwyl tant Wessie soos ’n mak bobbejaantjie aan ’n mens se arm klou en haar skril skaterlag soos ’n sirene oor die dorpie uitstuur, dink Wiandri misnoeg, en gluur Floors aan, maar hy verroer nie ’n spiertjie in sy gesig nie. Gaaf, die man is nie so dom as wat sy aanvanklik gedink het nie, want hy besef sy sal hom fisiek aanrand as hy durf waag om ’n flikkering van ’n glimlag te toon.

“Ag, askies toggie, my diertjie, maar as ’n ding snaaks is, is dit nie sonde om te lag nie,” sê Wessie verskonend, lyk skuldig toe sy die afsydige uitdrukking op Wiandri se gesig sien en vra sielsbekommerd: “Kom koop jy nog die lekkertjies of is jy nou die herrie in vir my ok, Wiandri? Almal wil altyd op die boek koop, maar jy betaal met harde kontant. ’n Geldjie is ’n geldjie, asempie, en jou kontantgeldjies sal alte welkom wees.”

“Ek sal vir alles betaal wat juffrou Wiandri koop, tant Wessie,” bied Floors halfhartig aan en kyk met die waaksaamheid van ’n roofdier na Wiandri, asof hy wonder of sy sy aanbod as ’n belediging sal beskou.

“Met geld wat jy waar kry, Floorsie?” vra Wessie met ’n uitkoggelende laggie. “Op onse dorpie leef almal in almal se binnekamers en beursies, asempie. Grietjie het my hoeka vertel jy is een van die miljoene werklose sieletjies wat dolgelukkig is om net vir ’n dak oor jou kop en kossies in jou maag los werkies in en om die huis doen. Siestog, jy is ’n alte mooie seunskind, maar sonder geld in die bank is jy ’n nul op ’n kontrak, g’n meisie sal jou mos present wil hê nie.”

“Ek wil geen meisiemens se present wees nie, tant Wessie,” antwoord Floors onbesorg.

Dis tipies van die goedhartige tant Grietjie, dink Wiandri wrang: voer al die armes op die ewe groothartige tant Lerina se onkoste. Maar Floors lyk nie arm of behoeftig nie, eerder arrogant en propvol selfvertroue, totdat hy sy mond oopmaak en praat. Is sy toonlose stem net oortuigende toneelspel? vra sy haarself af en kyk wantrouig na Wessie wat Floors uitjouend uitlag. En dan weet hy boonop van haar, Wiandri!

“Nou vir wat loer jy so kort-kort na Wiandri, Floorsie? Sy is sopnat en moddervuil, die arme sieletjie, maar jy het mos oë in jou kop. Prentjiemooi, dis onse Wiandri, met haar donkerbruin hare wat soos koper in die son blink en haar blou-blou ogies. Die skoolseuns het altoos gesê sy het die mooiste, lang bene en die …” Wessie snak haarself tot stilte en gaan geskok voort: “Hygend, Wiandri, ek sal vir jou ’n droë T-hempie leen, joune klou jou liggaampie soos ’n handskoen vas! Kom, dingetjie, kom!”

Wiandri pluk-pluk aan haar nat T-hemp en laat Wessie toe om haar na die ingang van die winkel te sleep, haar emosies wisselend tussen ergernis en ongemak. Was dit nou werklik nodig dat tant Wessie Floors se aandag op haar nat klere vestig? Op die strand of langs ’n swembad is die bewonderende kyke van mans so aanvaarbaar soos die hitte van die son, maar om in druipnat klere voor Floors te staan laat haar weer soos ’n selfbewuste tiener voel, en boonop stamp sy haar ken teen die korter Wessie se kop toe dié skielik in haar spore vassteek en omswaai na Floors, wat op hul hakke volg.

“Skoert terug na jou karretjie toe, Floors! Of meen jy om by te staan as Wiandri ’n droë hempie aantrek?” vra sy kwaai.

“Nee, tant Wessie. Ek sou in die winkel gewag het. Ek hoef nie te wonder oor hoe juffrou Wiandri lyk nie. Ek kyk minstens twee maal per week saam met tant Grietjie deur haar fotoalbum. Dis propvol foto’s van juffrou Wiandri en op party foto’s dra juffrou Wiandri nie baie kleertjies nie,” antwoord Floors bedaard.

Die onbeskofte vent! dink Wiandri beledig en gluur Floors met blitsende oë aan. Hy het opsetlik na die talle foto’s van haar in haar bikini verwys omdat hy hoop om haar verleentheid te vergroot. Sy soek na ’n uitdrukking van spot in sy oë, maar sy sonbruin gelaat is so uitdrukkingloos soos ’n granietmasker.

Wessie trek haar asem skerp in en vra ongelowig: “Al die foto’s, Floorsie?”

“Ja, tant Wessie, al die foto’s,” antwoord hy onverskillig.

“Ou Grietjie is ’n sedelose sieletjie … of dalk verstaan sy net nie mooi van mans nie. Hoor jy wat ek sê, Wiandri? Grietjie was nooit getroud nie, die arme, eensame sieletjie, daarom weet sy nie wat mans dink nie. Moenie kwaad wees vir haar nie, asempie, sy is ’n bietjie dom, maar sy het darem ’n liewe hartjie,” verduidelik Wessie en plooi haar dun lippe oomblikke lank vroom saam, maar dan vonk haar oë bestraffend op Floors. “En jy, jou bose seunskind, moet ophou om die liewe Grietjie in haar onskuld te laat sondig. Jy kyk nie weer na Wiandri se foto’s nie, gehoor?”

“Ja, tant Wessie. Ek kyk liewer na Wiandri in haar nat kleertjies,” antwoord Floors, sy stemtoon onpersoonlik.

“Stuur die lekkers saam met Floors, tant Wessie. Ek sal later kom betaal,” versoek Wiandri gesmoord, ruk haar arm uit Wessie se klouende hand en storm uit na haar motor toe.

Sy is gewoond aan die onstuitbare tant Wessie se uitgesprokenheid, maar sy weier om die emosielose gespot van ’n wildvreemde man met ’n klipgesig te verduur, dink sy smoorkwaad terwyl sy deur die water voor haar motor plas. Die blote gedagte dat die gehate indringer gereeld na foto’s van haar in haar bikini kyk, is so vernederend. Het tant Grietjie oornag seniel geword? wonder sy nydig, en ruk haar motordeur oop.

Sy klap dit hard agter haar toe en bly roerloos agter die stuurwiel sit, te ontsteld om dadelik huis toe te ry en terselfdertyd nie seker waarom presies sy so ontsteld is nie. Sy byt op haar onderlip toe die besef eindelik tot haar deurdring: Sy voel kwaad en beledig omdat Floors nie met die verwagte bewondering na haar gekyk het nie. Sy is twee-en-twintig en sedert haar tienerjare weet sy dat mans, veral jongmans, nie haar uiterlike skoonheid kan ignoreer nie. Sy kyk in die truspieëltjie, sien die diepblou van haar oë omraam deur lang, digte wimpers, en weet met sekerheid dat selfs haar nat hare nie die egaligheid van haar fyn gelaatstrekke en die volheid van haar lippe kan verberg nie. Sy is te mooi om deur enige jongman geïgnoreer te word. Maar Floors kan. Floors! Wat ’n simpel naam, vir ’n simpel man. Sy sal sorg dat Floors binnekort in die pad gesteek word, besluit sy, en skakel die motorenjin aan.

Daar is nêrens ’n mooier plek as Huis Groeneweide nie, dink Wiandri, en bring haar motor aan die onderpunt van die skaduryke eikeboomomsoomde rylaan tot stilstand om haar oë met bewondering op die ruim sandsteenwoning te laat rus. Toe sy klein was, het sy geglo Huis Groeneweide is ’n paleis, met die talle ruim vertrekke op die grondvloer, twaalf en suite-slaapkamers op die eerste verdieping, en ’n heerlike, geheimsinnige wêreld van solderkamertjies en gangetjies, skuilhoekies en klein venstertjies op die tweede verdieping. Sy onthou die ritseling van die voëls in die klimopplant wat die mure van die ou woning plek-plek met ’n groen kleed bedek, en glimlag onwillekeurig.

“Dan is jy nie so de vieste in soos wat ou Wessie Winkel my wou laat glo het nie, my engeltjie?” vra ’n goedige vrouestem onverwags langs haar.

“Tant Grietjie!” roep Wiandri verras uit, skakel die motorenjin af en klim uit. “Ek was briesend kwaad, maar ek vergeet altyd van almal en alles as ek Huis Groeneweide weer ná ’n paar maande sien,” verduidelik sy en soengroet Grietjie op die wang. “Hallo, my liewe tannie. Dis goed om terug te wees.”

Grietjie Verster vou Wiandri ’n oomblik lank in die sagte warmte van haar mollige arms teen haar bors en soen haar op haar voorkop. “Natterig en vuilerig, maar tog so welkom, my hartjie.” Sy hou Wiandri aan die skouers vas, stoot haar effens weg van haar en sê met stralende trots: “En nou is jy ’n gekwalifiseerde hospitaalsuster met ’n graad in verpleegkunde. Ag, my hart, hoe lank het ek en juffrou Lerina nie saam uitgesien na hierdie dag nie! Geluk, Wiandri, my skat. Ek … ek weet ek moenie, maar as ek dink hoe trots jou oorle ma en pa …” Haar woorde wankel op trane tot stilte en sy los Wiandri se skouers en vroetel ’n hand vol snesies uit haar kakelbont roksak. “Jou ouers … hulle sou so trots op jou gewees het,” vervolg sy, haar stem effens hees, en kyk weg oor die somertuin.

“Dalk sou hulle vir my ’n ander loopbaan gekies het,” mymer Wiandri. “Hy was mos so ’n slim sakeman en my ma het pas haar BCom-graad gekry toe hulle getroud is. Miskien sou hulle van my verwag het om ook in die sakewêreld belang te stel.”

“Jy weet meer van die aandelemark en beleggings as ek of juffrou Lerina,” sê Grietjie en laat haar woorde soos ’n verwyt klink. “Jy het dit ter wille van haar gedoen, nè Wiandri? Jy het verpleegster geword omdat jy wou terugkom huis toe om haar te help as sy jou nodig het.”

“Is dit wat tant Lerina glo?” vra Wiandri onrustig.

“Wat ek en juffrou Lerina wéét, nie glo nie. Ek moes seker eerder gepraat het, maar jy is jonk en dis nog nie te laat nie: Juffrou Lerina verwag nie van jou om jou hier op Wernerspan te begrawe nie, my poppie. Jy is jonk en alte pragtig, Wiandri. Jy verdien die liefde van ’n goeie man, ’n gelukkige huwelik en ’n eie huis en kinders. Ek en …”

“Wil tannie-hulle my nie meer hê nie? Is Groeneweide dan nie meer my huis nie? Hou julle nou meer van daardie liederlike Floors as van my?” val Wiandri haar gegrief in die rede.

“Floors?” vra Grietjie onkant, knip haar oë vinnig en glimlag verwonderd. “Nou wat op aarde het die liewe Floorsie met ons sake te doen, my engeltjie? Ek en juffrou Lerina het sommer net gesels, gewonder oor jou toekoms … Juffrou Lerina is bang jy voel dat sy dit van jou verwag om na haar om te sien as ek die dag te oud is om haar by te staan. Jy skuld ons niks nie, Wiandri. Juffrou Lerina is jou bloedeie groottante en ek is al ’n leeftyd lank haar huishoudster. Niks kon ons groter vreugde gegee het as die voorreg om jou so saam-saam groot te maak nie.”

Bloedeie, herhaal Wiandri in haar gedagtes. Bloed maak ’n mens nie eie nie, want sy het tant Grietjie net so lief soos tant Lerina, dink sy, en kyk deernisvol na die mollige Grietjie, soos altyd geklee in ’n bont rok met groot sakke waarin sy sleutels, snesies, hegpleisters, pakkies lekkers en droëvrugte en soms ’n paar krummelrige koekies ronddra. Sy weet tant Grietjie is vyf-en-vyftig, maar deur die jare het haar wortelrooi hare, haar jeugdige groen oë en haar byna plooilose, ronde gesig met ’n wipneusie en die groot mond wat so maklik glimlag, onveranderd gebly. Wiandri het ’n vermoede tant Grietjie kleur haar hare, maar as tant Grietjie nie daaroor wil praat nie, is dit haar geheim. Gekleurde hare laat tant Grietjie jonk lyk en maak van haar ’n tydlose koskas, want by tant Grietjie ly niemand ooit honger nie, dink Wiandri en glimlag.

“Jy lyk bly, hartjie. Jy het nie nie dalk al klaar trouplanne nie?” verneem Grietjie hoopvol.

“Op twee-en-twintig?” vra Wiandri kamstig ontsteld. “Goeiste, tannie, ek het my oor ’n mik gewerk om my graad met hoogste lof te verwerf, om my twee tannies trots te maak. Ek het nog niks tyd gehad om op al wat man is jag te maak en een te vang nie!”

“Vier lange jare in Pretoria tussen al daardie jong dokters – en nie eens een van hulle kon jou hart vinniger laat klop nie, Wiandri?” vra Grietjie verwytend.

Wiandri betrag Grietjie wantrouig. “Wat is aan die gang, tant Grietjie? Tannie weet van elke man wat my uitgeneem het en hoe ek oor elkeen gevoel het; tannie weet ook ek het nie een van hulle werklik liefgehad nie. Hoekom is dit skielik so belangrik dat ek moet trou?”

Grietjie glimlag met salige tevredenheid. “Ek wou maar net weer seker maak, my poppie. Liefde is nie ’n sagte lentereëntjie nie, dis soos ’n emmer yskoue water wat in jou gesig uitgeskiet word.” Sy voel-voel aan Wiandri se digte hare wat koperbruin in die sonlig weerkaats en vervolg onnutsig: “Wessie Winkel vertel my die liewe Floors het jou sommer twee maal ’n yskoue bad gegee.”

“Hy het, maar dít, my tannie, was beslis nie liefde nie!” antwoord Wiandri gebelg. Sy wil nie aan Floors dink nie; of liewer, sy wil nie herinner word aan haar gevoel dat sy eindelik tuisgekom het toe sy die eerste maal in Floors se swartbruin oë gekyk het nie. En tog … tot op daardie oomblik was haar lewe leeg, asof sy net ’n halwe mens was. Saam met Floors voel sy heel. Nee! Dit was definitief net haar verbeelding. Floors is ’n onbeholpe en onbeskofte stommerik wat nes talle ander mans met honger oë na haar kyk en haar begeer. Maar sy frons afgehaal toe sy onthou: Floors het beslis nié met begerige oë na haar gekyk nie.

“Hoor jy nie wat ek sê nie, hartjie?” vra Grietjie, skud Wiandri liggies aan die skouer en vervolg toe Wiandri haar vraend aankyk. “Ek hoop nie jy gaan die arme Floorsie stief behandel nie, Wiandri. Die seun is flink met sy hande, help om die huis in stand te hou en hou ’n ogie op die tuin ook. Hy speel graag saam met jou tant Lerina kaart as ek elders besig is, en lees voor uit ’n boek terwyl juffrou Lerina haar legkaarte bou. Jy weet hoe ’n energieke mens juffrou Lerina is: Dis die ganse dag die trappe op en die trappe af as daar niemand is om haar geselskap te hou nie. Sy is darem al ses-en-tagtig, en ter wille van haar hart móét sy ’n bietjie rustiger wees.”

Wiandri lig haar ken asof sy die lewe self uitdaag en sê met oortuiging: “Ses-en-tagtig is nie oud nie, tant Grietjie, en noudat ek terug is, sal ek sorg dat tant Lerina nie haarself ooreis nie. Angina pectoris maak in elk geval nie van ’n mens ’n invalide nie – een van ons pasiënte het dieselfde probleem, maar sy speel op negentig nog gereeld rolbal. Tant Lerina het Floors se geselskap nie meer nodig nie. Of gaan hy vir die res van sy lewe op ons nekke lê?”

Grietjie kyk haar oomblikke lank verslae aan en lag haar dan goedig uit. “Stomme bloedjie, jy is jaloers op Floors! Glo jy werklik ’n vreemdeling kan jou plek in jou tant Lerina se lewe en hart inneem?”

“Nee, maar dis mý werk om tant Lerina geselskap te hou, nie syne nie. Dis waarom ek ’n verpleegster geword het: om tant Lerina nog beter te kan versorg. Tannie verstaan tog hoe belangrik sy vir my is? Sy is my eie-eie, ’n Rosseau soos my pa. Sy en tannie – julle is die enigste band wat ek met my ouers het. ’n Wêreld sonder julle is te groot, te alleen. Tant Grietjie, ek wil tog nooit alleen wees nie.”

“Jy dink jouself hartseer, engeltjie. Ek en juffrou Lerina is nie van plan om jou alleen agter te laat nie, daarom wil ons jou so graag getroud …”

“Ek gaan nie vir my ’n man vang nie!” verskree Wiandri haar byna tot stilte. “Luister tannie nie na my as ek praat nie? Ek het ’n verpleegster geword omdat ek tannie en tant Lerina wil help. Ek kon ’n dokter geword het, maar dit sou my te lank weggehou het van die huis af. Ek wil hier wees, hier by julle om te sorg, te help, te verhoed …”

“Dat ons doodgaan, my liewe kind?” vra Grietjie paaiend toe Wiandri hulpeloos swyg. “Ons oues van dae gaan nie so maklik dood as ons ’n droom het nie. As jy juffrou Lerina werklik wil help, gee vir haar ’n droom. As sy kan uitsien na jou huwelik met ’n goeie man en later julle kinders … Gaan terug Pretoria toe, Wiandri. As jy jou op Wernerspan begrawe, word jy ’n oujongnooi soos ek en juffrou Lerina.”

“Maar … dis belaglik! Verwag tannie dat ek vir my ’n man moet vang om tant Lerina aan die lewe te hou?” vra Wiandri ongelowig.

“Dit werk andersom,” praat Floors vlak agter Wiandri en laat haar snakkend na asem omswaai. Hy verduidelik plegtig: “Mans vang meisies, want hulle kan gewoonlik vinniger hardloop. Of is jy ’n goeie atleet, juffrou Wiandri?”

Wiandri ignoreer hom, swaai terug na Grietjie en vaar driftig uit: “Sien tannie nou? Ons is nie eens meer privaat op ons eie grond nie, hierdie indringer bekruip ons. Steek hom in die pad, tannie. Hy kan sy stewels verkoop as hy nie kos het om te eet nie.”

Grietjie klik haar tong spytig en kyk Floors moedeloos aan. “Ek is jammer, Floorsie, maar ek het jou gewaarsku toe ons twee saam-saam na haar foto’s gekyk het: Wiandri is ’n beeld van ’n meisie, maar koppig en trots. En ek en juffrou Lerina het haar seker ’n bietjie bederf, want sy is al wat ons het.”

Wiandri pluk Grietjie onthuts aan die arm. “Moenie oor my praat asof ek nie hier is nie, tant Grietjie! Floors lyk nie soos ’n hulpbehoewende wesie nie – en nog minder soos ’n nutsman wat los werkies doen. Sy hande lyk …” Floors het die lang, slanke vingers van ’n pianis, dink sy, en verkyk haar aan sy hande, haar agterdog momenteel vergete.

“Foei, ja, Floorsie se hande is die ene hegpleisters en blase, want voordat hy sy werk verloor het, het hy nie met hamers en beitels en allerlei gereedskap gewerk nie,” sê Grietjie simpatiek. “Jy sal nie verstaan nie, Wiandri, maar derduisende mense is werkloos met dié dat so baie maatskappye personeelinkorting moet doen.”

“Waar het jy gewerk voordat jy tant Lerina se nutsman geword het, Floors?” vra Wiandri vyandig.

“Jy stel nie rêrig belang nie, juffrou Wiandri. Jy is vies vir my omdat ek jou natgespat het en jy is jaloers omdat ek juffrou Lerina geselskap hou terwyl tant Grietjie in die kombuis besig is,” antwoord Floors, sy stemtoon verveeld.

“Hou op om my ‘juffrou Wiandri’ te noem, Floors! Ek is nie jou onderwyseres nie,” snou sy geïrriteerd.

“Goed, Wiandri. Is ons nou vriende?” vra Floors onbesorg.

“Beslis nie! Ek kan my vriende vertrou, maar ek vertrou jou nie. Jy pas net nie in die prentjie nie, Floors. As jy werkloos was, waarom het jy juis op ons klein dorpie kom werk soek? Hoe moeilik kan dit wees om werk as ’n kelner of ’n verkoopsman in ’n stad te kry? Ek is seker jy is intelligent genoeg om ’n beter werk te kry as jy ophou voorgee dat jy Floors, die dom nutsman, is!”

“Wiandri!” kom dit betigtigend van Grietjie. “Nee a, kind, jy raak nou darem te persoonlik. Floorsie is ’n liewe, betroubare seun wat sy vingers sal deurwerk vir net ’n bord kos en die woonstel bo-op die ou perdestalle. Hy pla nie vir my en juffrou Lerina nie en dit help om te weet daar is snags ’n sterk jongman op ons werf, veral in geval van nood.”

“Oom Ben-hulle woon nog al die jare in die tuinhuis, tant Grietjie. Ons het nie nog ’n man op Groeneweide nodig nie – veral nie ’n man wat my en tannie bekruip en ons privaat gesprek afluister nie,” antwoord Wiandri en kyk Floors agterdogtig aan. “Dis wat jy gedoen het, Floors. Hoekom? Geniet jy dit om die rol van ’n laakbare luistervink te speel?” vra sy, maar onder die klank van haar kwetsende woorde is sy bewus van jubelende sang in haar hart, van ’n lied wat sy nie verstaan nie.

“Nee, ek het gemeen dit sal ongeskik wees om sommer so tussenin te praat. Ek het gesien jy het in die middel van die rylaan stilgehou, toe los ek tant Grietjie se karretjie daar by die ingang onder ’n boom. Ek dag toe ek sal jou pakkie vir jou bring.” Hy hou ’n ligblou inkopiesak na haar uit. “Hier, tant Wessie stuur dit en sê jy moet so gou as moontlik kom betaal, want kontantgeldjies is skaars. En jy moet ekstra betaal vir die plastieksak, want dis die wet.”

Is die man breindood? wonder Wiandri onstuimig. Sy beledig hom, verdink hom van alles wat boos is, maar niks wat sy sê, ontlok ’n vonkie van protes in hom nie. Sy bronskleurige gelaat bly emosieloos soos dié van ’n standbeeld, sy oë soos donker, onleesbare marmer. Geen man het die reg om so onweerstaanbaar aantreklik te wees nie … Nee, nie onweerstaanbaar nie, sy eentonige stem sal enige meisie tot waansin dryf. Of is hy ’n intelligente en uitgeslape vertrouenswendelaar wat sy aantreklike uiterlike wil gebruik om tant Lerina se geld – selfs Huis Groeneweide – in die hande te kry?

“Jy kan darem dankie sê, my poppie,” kom dit verwytend van Grietjie.

“Los my, tannie,” sê Wiandri ongeduldig, lig haar ken en kyk Floors vyandig aan. “Jy kan jou goed inpak en trap, Floors, want ek verseker jou: My tant Lerina sal nie met ’n bogsnuiter soos jy trou nie!”

“Maar, kind …” begin Grietjie en soek vergeefs na die regte woorde om haar verdwasing uit te spreek.

Wiandri sien die klein vonkies lig in die duisternis van Floors se oë, sien dit groei tot ’n warm vonkeling van dansende lag wat sy mondhoeke in ’n glimlag lig. Sy staar asof betowerd in sy oë en ervaar ’n wonderlike, drywende sensasie, asof sy lig soos ’n veertjie deur ’n sagte briesie opgelig word en oor die boomtoppe wegdryf. Nee! Floors lag haar uit, skielik in beheer van die situasie – Floors is beslis nie ’n dommerige nutsman nie.

“Mooi én slim,” spot hy. “Dis hoe ek van my meisies hou, Wiandri, want jy sal simpatie hê met my benarde situasie. Ek is dertig en werkloos, en my enigste bates is, soos my ma so graag gesê het, my bonkige spiere en my mooi gesiggie. ’n Vriend het my vertel van die ryk juffrou Lerina Rosseau en haar kasteel van ’n huis op die grens van Wernerspan. Hy het melding gemaak van jou, maar jy het die gesiggie, nie die geld nie. Ek wil geld en my eie huis hê, maar ek het nie omgegee om my huwelik met juffrou Lerina uit te stel totdat jy jou studie voltooi het nie. Gaan jy my nou soengroet, my aangetroude kleinniggie?”

Schalkie van Wyk Keur 14

Подняться наверх