Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 14 - Schalkie van Wyk - Страница 6

3

Оглавление

Wiandri kyk in Floors se oë, sien innerlike lag soos glinsterende sonlig op donker waterkuile in sy diepbruin oë weerkaats en glimlag minsaam.“Dankie, Floorsie. Dis die eerlikste huweliksaanbod wat ek nog gekry het, maar ek durf nie ja sê nie.”

Floors frons afkeurend. “Jy bedoel ander werklose sukkelaars wou ook ter wille van Groeneweide met jou trou?” vra hy knorrig.

“’n Hele paar, ja. Sommige jong dokters sit jare lank met studieskuld wat hulle moet afbetaal. Nadat ek die eerste maal ’n mede-aspirantverpleegster Groeneweide toe genooi het, het die storie vinnig in die hospitaalgange versprei: Ek is ’n skatryk erfgename. Geld maak meisies onweerstaanbaar vir mans wat nie kans sien vir ’n skuldlas nie.” Sy kyk op na hom, sien dat hy ernstig na haar luister en vervolg met ’n ongeduldige suggie: “Wat die hele situasie nog snaakser maak, is dat niemand wéét wie Groeneweide gaan erf nie.”

“Sê jy ek het dalk ’n arm meisie gevra om met my te trou?” vra Floors onthuts.

Sy gee hom ’n ligte stampie aan die arm en wens toe sy het nie, want die aanraking van haar vingers op sy songebruinde vel laat haar binneste bewe. Sy draai haar kop weg om haar selfbeheersing te herwin en antwoord onverskillig: “Dis reg, Floorsie. Wees liewer lojaal aan jou vrou en jou ses kinders, want ek is net so arm soos jy.”

“Oom Ben glo jy gaan Huis Groeneweide erf. Glo jy juffrou Lerina sal dit aan ’n liefdadigheidsorganisasie skenk?” vra hy ongelowig.

“Nee, maar ek het ’n halfbroer, Hugo Rosseau. Hy is baie ouer as ek en ons sien hom nie dikwels nie, maar hy is my pa se enigste seun. Ek sê nie tant Lerina sal my nie in haar testament onthou nie, maar dis vanselfsprekend dat Hugo Huis Groeneweide sal erf,” antwoord sy met oortuigende erns en voel net ’n klein bietjie skuldig oor haar leuen.

Tant Lerina het haar op haar mondigwording ’n kopie van haar testament gewys en sy weet Huis Groeneweide en alles wat haar groottante besit, sal eendag hare wees – op ’n baie ver eendag waaraan sy liewer nie wil dink nie. Sy weet nie of Floors getroud is nie, maar as hy nog ongetroud is … Dis opsigtelik dat hy nie in haar as vrou belang stel nie en sy is veels te trots om ’n man –selfs die man wat sy so onvoorwaardelik liefgekry het – se liefde te koop. As sy net geduldig is, as sy net aanhou hoop, leer Floors dalk om haar ’n klein bietjie lief te hê, dink sy met ’n gevoel van seer verlange.

“Dit maak nie sin nie,” onderbreek Floors haar gedagtegang, sy stemtoon misnoeg. “Ek werk byna ’n maand lank hier en juffrou Lerina en tant Grietjie het nog nie een maal van jou halfbroer melding gemaak nie. Hulle praat voortdurend oor jou en sien saam uit na die dag as jy getroud is en daar weer kinders in Huis Groeneweide sal grootword. Jou kinders, Wiandri. Hoekom vra jy nie vir juffrou Lerina of jy die plek gaan erf nie?”

“Wat karring jy so oor die ou huis, Floors?” vra sy omgekrap. “Jy het self erken jy het nie die geld om die plek te koop nie. Ek verseker jou, as dit ooit myne is, sal ek dit nooit, nóóit verkoop nie – en ek sal dit ook nie in ’n herberg of ’n hotel omskep nie, want niemand het rede om op ’n afgeleë dorpie soos Wernerspan te kuier nie.”

Floors tuur fronsend oor die tuin na die sierlike ou sandsteenwoning en mompel kwasterig: “Al daardie sitkamers, eetkamers, slaapkamers en badkamers, selfs ’n onthaalsaal – soveel ruimte vir drie vroue. Dis ’n skandelike vermorsing van kosbare ruimte!”

“Jy klink soos ’n bloedrooi kommunis, Floors. Wat moet tant Lerina doen? Die deure oopgooi en vry verblyf en kos aan werkloses soos jy bied?” vra sy geraak.

“Ek, klein rissiepit, is lankal nie meer werkloos nie. Ek wérk vir die dak oor my kop en my gereelde etes.” Hy kyk bedroë na die hegpleisters aan drie van sy vingers. “Of liewer, ek probeer werk.” Sy oë skiet uit na haar en hy vervolg nadruklik: “Ek weet juffrou Lerina verskaf werk aan heelwat mense, betaal goeie salarisse en sorg dat hulle ordentlike verblyf het. Dit gaan om …”

“’n Huis wat te groot is vir drie mense,” voltooi sy die sin vir hom en gluur hom vyandig aan. “Liewe land, Floors, tant Lerina is nie die enigste ryk vrou wat ’n groot huis besit nie. Gun jy haar nie haar welvaart nie?”

“Jou tante se rykdom raak my nie, maar sy kan die kamers wat sy nie gebruik nie, verhuur. Soos die grondvloer van die wesvleuel: Daar is minstens tien kamers en vier badkamers wat net daar staan en stof vergaar. Of liewer, dis wat tant Grietjie my vertel het,” antwoord hy en gluur haar op sy beurt aan.

Sy kan dit nie glo nie, dink Wiandri verslae. Sy en Floors maak rusie oor ’n simpel huis en gluur mekaar aan asof hulle aartsvyande is – en intussen wil sy net na hom kyk en wonder oor die gevoel van euforiese geluk wat sy ervaar bloot van by hom wees. Tant Wessie se storie dat Floors kort-kort na haar gekyk het, was blote wensdenkery, want Floors stel meer belang in ’n stokou huis as in haar, besef sy. Sy lig haar ken en antwoord met kille hooghartigheid: “Tant Grietjie het uit haar beurt gepraat. Tant Lerina het ’n persoonlike rede waarom die grondvloer van die wesvleuel nie gebruik word nie, maar ek sal jou aanraai om haar nie daaroor uit te vra nie, Floors.”

“Kan jy my nie vertel wat haar rede is nie, Wiandri?” vra hy met onverwagte erns, ’n onuitgesproke pleidooi in sy oë.

“Ek wens ek kon, maar ek weet niks meer as jy nie. Toe ek klein was, het ek tant Lerina ’n paar maal oor die verbode wesvleuel uitgevra, maar sy het my duidelik laat verstaan dat sy nie haar hele lewe en persoonlike herinneringe met my hoef te deel nie.”

“Jy is nie meer klein nie. Sal juffrou Lerina nie nou jou vrae beantwoord nie?” vra hy hoopvol.

“Nou neul jy, nuuskierige agie, en jy is lankal nie meer klein nie,” spot Wiandri en vervolg sober: “Ek is bang ek sal tant Lerina met my vrae ontstel. Sy is so oud … en kosbaar. Laat haar asseblief met rus, Floors.”

Hy glimlag flitsend. “Dis waarom ek jou uitvra. Ek is nie van plan om juffrou Lerina met my nuuskierigheid te ontstel nie. Wat van tant Grietjie? Weet sy ook niks nie?”

“Ek weet nie – as ek uitgevra het, het sy haar horende doof gehou. Gun tant Lerina haar geheim, Floors. Ek karring nie meer aan jou om jou geheime uit te lap nie.”

“Maar die wesvleuel kan so nuttig gebruik word,” hou hy koppig vol. “Tant Grietjie het gesê …”

“Luister nou vir my, Floors!” val sy hom onstuimig in die rede. “Huis Groeneweide is meer as net ’n gewone ou huis. Die hele grondvloer van die oosvleuel is ’n onthaalsaal. Dit was my geliefkoosde speelplek op reëndae, maar ek het terselfdertyd geweet die skilderye is almal kosbare, oorspronklike werke en ek mag nie met ’n bal daar gespeel het nie. Die antieke meubels en Oosterse matte in al die vertrekke, en die kristalglas, die porselein en die silwermessegoed, is alles onvervangbaar. Huis Groeneweide is ’n kosbare erfenis, ’n stukkie geskiedenis, wat vir toekomstige geslagte bewaar moet word. Hoekom wil jy ’n goedkoop losieshuis van die plek maak?”

Floors maak sy mond oop asof hy haar wil antwoord, bedink hom en pers sy lippe hard op mekaar. Hy glimlag skrams en sê skouerophalend: “Ek is net nuuskierig oor die grondvloer van die wesvleuel. As julle dit nie nodig het nie, waarom kan iemand anders dit nie nuttig gebruik nie? Hou op om gate dwarsdeur my te kyk, Wiandri. Ek het waardering vir ’n historiese ou plek soos Huis Groeneweide. Ek hoop jy het eendag hope kinders sodat jy al die kamers kan gebruik.”

“Dit sal van jou afhang, Floorsie. Of het jy vergeet jy het my gevra om te trou?” vra sy uittartend, dankbaar dat hulle blykbaar nie meer baklei nie.

“Het ek?” vra hy, kamma onkant gevang, met die lag dansend in sy oë toe hy vervolg: “O ja, ek het, maar dit was in ’n oomblik van swakheid. Gewoonlik onthou ek van my vrou en ons ses kinders.”

Wiandri draai weg na die rylaan toe sy die naderende geklop van perdehoewe hoor en sê verruk: “Dis Morné en my peetma, Christelle! Kyk, Floors, hulle het my twee ryperde teruggebring. Kom ons gaan wag hulle in by die perdestalle.”

Floors ruk vinnig ’n bottelgroen pet uit sy broeksak, sit dit op sy kop en trek dit laag oor sy oë, sodat niks van sy witblonde hare sigbaar is nie. “Wie is Morné en hierdie Christelle? En hoekom noem jy haar nie tannie as sy jou peetma is nie?” vra hy, merkbaar gespanne.

“Ontspan, Floorsie! Morné Greeff boer saam met sy pa op Môreson, die plaas langs Groeneweide. Ek en Morné het saam grootgeword, hy is net ’n paar maande ouer as ek, en sy pa het ons leer perdry. As ek nie tuis is nie, is my perde op Môreson. ’n Mens kan nie sommer enigiemand met jou perde vertrou nie,” vertel sy en trippel rond van ongeduld toe Floors bly staan asof hy op die grasperk geanker is.

“Ja, ja, ek onthou jou tannies praat soms oor hom,” sê Floors ingehoue, sy blik op die twee ruiters en ’n derde perd, wat hulle gewillig volg, wat sigbaar word tussen die eikebome langs die rylaan. “Vertel my van Christelle,” sê-vra hy bruusk.

“Sy is oud genoeg om my ma te wees, maar ek het haar nog altyd op haar voornaam genoem, sy’s my beste vriendin. Het jy haar nog nie ontmoet nie, Floors? Sy kuier dikwels by tant Lerina-hulle, soms vir ’n paar dae. Sy is die matrone van die privaat hospitaal op die dorp. Ek hoop …” Wiandri swyg onbegrypend toe Floors binnensmonds mompel en vinnig wegstap. “Floors, wag!” roep sy en draf agter hom aan. “Floors, gaan jy stilstaan of moet ek jou pootjie?” vra sy toe sy hom bereik en hy nie eens sy pas vertraag of omkyk na haar nie.

Floors bly staan en tuur met glimmende, donker oë onder die rand van sy pet na haar uit, sy sterk gelaatstrekke stroef en onleesbaar soos toe sy hom die eerste maal gesien het. “Kan ek jou vertrou, Wiandri? As ek saam met jou gaan om jou vriende te ontmoet, kan ek net kom as die dommerige Floors wat jy voor tant Wessie se winkel leer ken het. Sal jy onthou ek is net ’n werklose sukkelaar?”

“As dit werklik vir jou so belangrik is …” begin sy onwillig.

“Ek verkwis nie my tyd op speletjies nie,” val hy haar kil in die rede. “Niks is belangriker as dat jou liewe peetma en jou gawe buurman glo ek is Floors Venter nie – of deel julle drie al jul geheime?”

“Gewoonlik, ja, want Christelle het nog altyd die rol van ’n ouer suster in my lewe gespeel. Tant Lerina is soos ’n liewe ouma, maar ek sou dolgelukkig gewees het as Christelle my eie ma was. Jy kan haar met enigiets vertrou, Floors. Sy …”

“Nee!” onderbreek hy haar weer, sy stem hard van spanning. “Ons maak rusie en ons skeer gek, maar wat ek jou nou vra, is van die uiterste belang. Moenie my verraai nie, Wiandri. Net jy en juffrou Lerina en tant Grietjie weet ek is nie werklik Floors Venter nie. Kan ek jou vertrou?”

“Jy … jy is nie ’n misdadiger nie, is jy, Floors?” vra sy onseker, ongemaklik oor sy intense erns.

’n Glimlag gaan soos ’n flikkerende skadu oor sy lippe. “Nee, ek is nie. Ek is net ’n dommerige nutsman wat sy eie identiteit tydelik geheim wil hou. Het ek jou woord?”

“Natuurlik. Jy is en bly ’n indringer, Floors, maar op jou manier is jy klaar deel van Groeneweide,” willig sy in. Sy vat sy hand sonder om te dink en los dit weer net so vinnig, want die aanraking van sy hand versnel haar hartklop onmiddellik en stuur ’n maalkolk van naamlose sensasies sidderend deur haar lyf. Sy kyk sku op na hom, voel die kleur van haar wange verdiep en beveel kortaf: “Draf, Floors!”

“Komaan, gee my jou hand, Wiandri. Ons sal vinniger by die stalle kom as ek jou saam met my sleep,” terg hy.

“Ek is tant Lerina se kleinniggie, Floorsie. Ek sal dat my peetma en Morné ons skeef aankyk as ek ons dommerige nutsman se hand vashou,” herinner sy hom en ontwyk sy laggende oë.

“Vervlaks! Ek het vergeet ek is ’n nederige handearbeider, maar dankie dat jy onthou het,” antwoord hy, vies vir homself.

“En, Floors, probeer om nie so trots en selfversekerd te loop of te staan nie – jy is veronderstel om ’n dommerige sukkelaar te wees, nie ’n dominerende landheer nie,” pleit sy, bewus daarvan dat sy nou sy spanning deel.

“Trots en selfversekerd?” vra hy oorbluf en lyk nog meer bekommerd. “Ek weet nie hoe ek vir ander mense lyk nie, maar ek sal probeer om soos ’n dommerige Floorsie te lyk,” antwoord hy met ’n halfhartige glimlag en draf swygend saam met haar.

Christelle is op sewe-en-veertig nog ’n beeldskone vrou met haar groot, wolkblou oë en swart, effens krullerige hare, en net soos tant Lerina het sy die slankheid van haar jeug behou, dink Wiandri met ’n tikkie trots op haar peetma. Sy glimlag bly toe hulle effens uitasem die perdestalle bereik.

“Wat het ek vir jou gesê, Christelle?” vra Morné Greeff onnutsig. “Die meisiekind draf al jare lank agter my aan, maar sy sal haar lam skrik as ek die dag omdraai en haar vang!”

Morné se stem het jare gelede gebreek en die lyn van sy kaak en ken het opsigtelik sterker geword, maar hy lyk nog soos die rooikopseuntjie met sproete op sy wipneusie wat so gereeld saam met haar modderkoekies gebak en later perdgery en boomgeklim het, dink Wiandri. Sy loop glimlaggend in sy arms, soen hom op die wang en trek sy kuif. “Jy lyk niks slimmer as jy jou mond toemaak nie, liewe Morné, so jy mag maar aanhou onsin praat. Hallo, my vriend.”

“Beminde, aantreklike en enigste vriend. Hallo, mooi vriendin. Ek is bly jy is terug uit die bose stad,” skerts hy en hou haar aan haar skouers vas, openlike bewondering in sy ligblou oë.

“Los my peetdogter, Morné,” beveel Christelle speels en stoot hom weg sodat sy Wiandri kan soengroet. “Hallo, Wiandri. Ek weet nie of ek of tant Lerina die blyste is dat jy jou graad summa cum laude geslaag het nie.”

“Hallo, Christelle. Ek is so bly jy het nie by jou ouers gaan kuier nie, want ek kan nie wag om te vra nie: Het jy vir my werk in die hospitaal? Enige werk! As ek iemand kan aflos, sal ek dit gratis doen,” bied Wiandri gretig aan.

“O nee, jy sal nie, snip, jy sal ’n bedreiging vir my en die personeel wees. Ons wil ons salarisse hê, ons werk hard daarvoor,” sê Christelle kamma vies en vervolg met ’n gerusstellende glimlag: “Ek is seker ons sal mettertyd van jou dienste gebruik kan maak, maar moenie te haastig wees nie, Wiandri. Tant Lerina sal my nooit vergewe as ek jou dadelik in die werk steek nie.”

“Maar tant Lerina het net geselskap nodig, nie voltydse verpleging nie, Christelle. Ek gaan my morsdood verveel as ek vir die res van my lewe die rol van ’n liewe geselskapsdame moet speel,” antwoord Wiandri teleurgesteld.

“Tant Lerina verwag dit beslis nie van jou nie, my poplap, maar gee haar net eers die gemoedsrus om te weet jy is eindelik permanent tuis. Ek en tant Grietjie is ewe gelukkig om jou tuis te hê. Ek dink dis die moederhensindroom: Ons kloek almal oor ons enigste kuikentjie,” sê Christelle met ’n tergende laggie en kyk vraend na Floors.

“Ek moet die hoenders gaan kos gee, juffrou Wiandri. Water ok,” mompel Floors met sy toonlose stem.

Sy moenie nou in Floors se oë kyk nie, maan Wiandri haarself, want sy gaan uitbars van die lag. Floors se toneelspel het ongetwyfeld verbeter, want hy byt sy tong in die hoek van sy mond vas en probeer herhaalde male om ’n vlieg met sy hand te vang.

“Haai, Floors!” groet Morné en steek sy hand uit na Floors, maar Floors konsentreer met al sy aandag op die ontwykende vlieg. “Ek het jou verlede week in tant Wessie se winkel raakgeloop, maar jy was te haastig om te gesels. Het jy matrone Christelle le Roux al ontmoet, Floors?”

“Nee. Ek is nie siek nie,” antwoord Floors belangeloos en kyk afwagtend na Wiandri. “Wat nou van die hoenders, juffrou Wiandri?”

“Floors Venter, nie waar nie?” vra Christelle voordat Wiandri kan reageer en kyk Floors deurdringend aan. “Tant Lerina het my van jou vertel, Floors. Sy sê jy is ’n groot hulp vir haar hier op Groeneweide.”

“Ja, ek is nogal groot,” mompel Floors en benader die drie ryperde versigtig. Hy bly met sy hande in sy sakke staan, buig sy skouers en kyk op, asof hy probeer om die naaste perd se tande te sien.

“Dis Prinses, ’n stokou merrie, en Wiandri se eerste ryperd,” vertel Morné en sluit by Floors aan.

“Prinses? Sy lyk dan soos ’n perd,” sê Floors en skud sy kop onbegrypend.

Morné glimlag geamuseer en verduidelik: “Ek en Wiandri was vyf toe ons ons eerste perde gekry het, Floors, en ons het gedink Prins en Prinses is die mooiste name. Die rooibruin merrie se naam is Rakker en hierdie groot swart hings is my ryperd, Komeet. Weet jy hoe om perde te versorg, Floors?”

“Ja, wat. Behalwe as hulle byt. Byt Wiandri se perde?” vra Floors belangeloos.

“Net as jy jou vingers in hulle bekke steek!” lag Morné en draai na Wiandri. “Sal ek een van ons stalwerkers oorstuur om met jou perde te help, Wiandri?”

“Dis nie nodig nie, dankie, Morné. Ek sal oorgenoeg tyd hê om hulle self te versorg en ek is seker Floors sal my kan help, maar ek sal bel as ek vasbrand,” antwoord sy en draai na Floors wat op ’n veilige afstand om die perde beweeg en hulle bekyk asof dit die eerste maal is dat hy sulke diere sien. “Floors, gaan gee asseblief vir die hoenders kos en water.”

“En die perde?” vra hy.

“Jy kan my later kom help. Toe, weg is jy, Floors!” beveel sy met ’n stemtoon wat in haar eie ore effens paniekerig klink, nog bang dat sy gaan uitbars van die lag vir Floors, wat hom oënskynlik verlustig in sy rol.

“Ja, ek loop. Jy hoef nie te skree nie, juffrou Wiandri. Ek kan goed hoor,” antwoord Floors onbesorg en slenter tydsaam weg oor die werf.

“Sien jou, Floors!” roep Morné. “Kom braai môremiddag ’n vleisie en drink ’n biertjie saam met my!”

Floors bly ’n paar oomblikke lank staan, skud sy kop onbegrypend en stryk mompelend weg om die hoek van die tuiekamer.

“Skaam jou, Morné,” berispe Wiandri hom. “Floors is nie juis spraaksaam nie, maar hy is ’n gewillige werker.”

“Dalk sal ’n bier of twee die arme vent help om makliker te praat,” treiter Morné haar en hou sy hande oorwonne omhoog toe sy hom met moord in haar oë aankyk. “Goed … goed, ek sien jy dink Floors is ’n voëltjie met ’n af vlerk en jy moet hom beskerm. Ek sal jul swygsame nutsman met rus laat, mooie Wiandri.”

Morné is self fris gebou, maar hy lyk skraal langs die breedgeskouerde Floors, dink Wiandri, en voel beledig dat Morné Floors met ’n siek voëltjie sou vergelyk. Sy glimlag egter met sonnige onskuld en sê oortuigend: “Ek is dol op stil, sterk mans, Morné. Christelle, dink jy nie ook Floors is uiters aantreklik nie?”

“Ek het nie werklik gekyk nie,” antwoord Christelle afgetrokke, ’n ligte frons kepend tussen haar wenkbroue.

“Wiandri probeer net om my jaloers te maak, omdat ek haar liewe Floors vir die gek gehou het.” Morné draai na Wiandri en pleit kamma desperaat: “Hou op om vies te wees vir my, my mooiste meisie, en kom braai môremiddag ’n vleisie saam met ons op Môreson. Christelle en die tannies is ook meer as welkom.”

“Nee, die tannies kan nie,” sê Christelle met finaliteit, “want hierdie tannie kuier die naweek by hulle. Vier vroue, Morné, en geen man is welkom nie – veral nie ’n rooikop wat ’n grap van almal en alles maak nie. Toe, klim op jou perd en ry!”

“Vier vroue … sjoe! Ek is klaar op pad, kwaai Christelle!” antwoord Morné skertsend, trap in die stiebeuel en swaai hom in die saal op sy swart hings se rug. “Nooi my saam as jy gaan perdry, Wiandri. Sien julle!” roep hy terwyl hy op ’n drafstappie wegry.

“Dankie vir al jou hulp, Morné!” roep Wiandri en kyk vraend na Christelle wat met ’n nadenkende uitdrukking op haar gesig voor haar uitstaar. “Wat makeer, Christelle? Jy lyk bekommerd.”

Christelle kyk vinnig na haar en glimlag bedroë. “Dit pla my dat ek nie kan onthou nie,” probeer sy verduidelik, merk Wiandri se verwarring en lag spontaan. “Ek praat van julle nutsman, Floors. Hy dra sy pet so laag oor sy voorkop dat ek net kan wonder oor hoe sy kop lyk en watse kleur hare hy het, maar hy lyk nogtans bekend. Wie ken ons wat soos Floors lyk?”

Wiandri ervaar ’n trilling van ontsteltenis in haar binneste en besef dat sy ter wille van Floors vrees dat Christelle sy identiteit sal raai. Floors sal nie op Groeneweide bly as almal weet wie hy werklik is nie en as hy weggaan … Nee, dit mag nooit gebeur nie, dink sy paniekerig en praat gejaagd: “Floors is nie belangrik nie, Christelle. Hy is net ’n werklose man oor wie tant Lerina haar ontferm het.” Sy glimlag onoortuigend, weet sy, en vervolg met gedwonge opgewektheid: “Ek is so bly jy kuier die naweek by ons, Christelle. Jou kamer is altyd gereed vir jou en as jy nie genoeg klere in jou hangkas …”

“Hoekom vertel jy my dinge wat ek reeds weet, my poplap? Hoekom wil jy nie oor Floors praat nie?” val Christelle haar wantrouig in die rede.

“Goeiste, Christelle, waarom moet ons oor ’n nutsman gesels? Floors is aantreklik, maar hy herinner my aan niemand wat ek ken nie. Ek moet gou eers my perde versorg, maar as jy solank wil ingaan …”

“Ek sal sorg, juffrou Wiandri,” praat Floors haar onverwags tot stilte. Hy’t ongesiens weer nader gekom, eintlik grillerig. “Tant Grietjie het gesê die perde kom, toe sit ek vars hooi in hulle stalle en genoeg voer en water in hulle bakke. Ek ken van perde.”

“O … ek het nie geweet nie,” sê Wiandri, besef dat haar stem asemrig in plaas van verras klink, en hoop vuriglik dat Christelle nie die pynlike gebons van haar hart kan hoor nie. “Dankie, Floors. As jy Prinses kan behartig, sal ek na Rakker omsien. Rakker is ’n hooggespanne perd en nie altyd gelukkig by vreemdelinge nie.”

“Perde …” begin Floors en sluk sy woorde in toe Wessie Wessels se skril stemmetjie oor die agterplaas skeerlem.

“Hoei daar, julle asempies! Julle klouter g’n op julle se perde voordat ek die woord gespreek het nie! Wiandri, jy kan jou nek breek as jy klaar betaal het, maar gee eers my kontantgeldjies in my hande!” skel Wessie van ver af en kom in ’n fladdering van wye broekspype en hempsmoue aangeskarrel na die perdestalle toe.

“Om liefdeswil … !” sê Christelle met ’n besorgde suggie. “Tant Wessie, as jy oor jou lang wye broekspype struikel, val jy en breek ’n been op hierdie harde kegelstene. Wanneer gaan tannie onthou dat vroue van jou ouderdom versigtiger moet wees?”

Wessie ruk in haar spore tot stilstand, snork minagtend deur haar stomp neusie en gluur Christelle boosaardig aan. “Wafferse ouderdom?” vra sy met skrille verontwaardiging. “Matronetjie, dalk het die son en die wind my ou gesiggie effentjies verrinneweer, maar as my ou fiets ’n pap wiel het, draf ek nog lag-lag met my spykerbeentjies al die pad van my ou winkeltjie af tot hier by Groeneweide op die bult. Wens jy my nou oud en sieklik en op die naat van my rug in jou hospitaaltjie sodat jy my vol gate kan steek my jou inspuitingsnaalde?”

“Genade toggie … Ek is jammer ek het my mond oopgemaak, tant Wessie,” sê Christelle, oorweldig deur die tirade.

“Ja, ek ok, matronetjie, want so ampertjies het ek vergeet vir wat ek my ou asempie weggehol het,” antwoord Wessie, loop op Floors af, kry hom aan die arm beet en vervolg kwaai: “Floorsie, ek het jou vertrou met vier pakke duur lekkergoed. Wat het jy met dit aangevang, jou sondige sieletjie?”

Floors lig sy ken sodat hy onder die rand van sy pet kan afkyk na Wessie en antwoord emosieloos: “Tant Grietjie het die sak gegryp en beginne eet. Ek dink sy het al die lekkers kant en klaar opgeëet, tant Wessie.”

“Nou vir wat beloer jy my so, asempie?” vra Wessie aggressief, skiet haar regterhand blitssnel uit en pluk Floors se pet van sy kop af. “Nee a, Floors, waar is jou respekte? Haal jou pet van jou kop af as jy met ’n ordentlike vrou soos ek praat.”

Wiandri hoor Christelle na asem snak en kyk haar vraend aan, maar Christelle staar asof gehipnotiseer na Floors, haar gesigsuitdrukking ongewoon strak.

“My kopvel!” kerm Floors en bedek sy witblonde hare met sy hande. “Agge nee, tant Wessie. Die son brand my kopvel flenters as ek nie my pet dra nie. Gee terug my pet, toe, tant Wessie.”

Wessie staar Floors oopmond aan en bars gierend uit van die lag. “Het jou, asempie!” hyg sy, kortasem van die lag. “Daardie eerste dag het ek reguit vir jou gesê jou spierwitte haartjies kom uit ’n bottel, Floorsie, want g’n mens word gebore met sulke swart oë en spierwitte haartjies nie. Jy moet in jou pasoppens wees vir goeters wat uit bottels kom, my diertjie. Ou Hannie van Rooikrans het gereeld haar muisvaal haartjies spierwit gekleur totdat haar ou kopvelletjie die ene rowe was. Sy krap toe die rowe af en daar sit sy toe met kaal kolle op haar kop – te aardig! Hou op om jou haartjies te kleur, Floors, anders loop jy een van die dae sonder ’n enkelte haar op jou koppie rond.”

“Goed, tannie, ek sal nie weer nie. Nou moet ek eers Prinses Perd gaan versorg. Tot siens, tant Wessie,” groet Floors toonloos en lei die merrie die perdestalle binne.

“Nou wat moet ek met jou pet doen, Floorsie?” vra Wessie vies en prop die pet in Wiandri se hande. “Hier, dingetjie, vat! Ek moet Grietjie dadelik gaan aanspreek oor my kontantgeldjies vir die lekkergoed.”

“Moenie moedswillig wees nie, tant Wessie,” sê Wiandri ongeduldig, ontsteld oor die manier waarop Christelle Floors aangestaar het. “Tannie weet ék het die lekkers kom koop. Ek het geld in my sak gesit ingeval ek dorp toe gaan. Hier is dit.”

“Sommer twee bloues?” vra Wessie oorbluf en gryp met gretige handjies die geldnote uit Wiandri se hand. “Maar, asempie, ek het nie nou kleingeld vir jou nie. Of is die kleingeld my pasella omdat ek so ver agter jou moes aandrawwe?”

“Ja, tant Wessie, dis ’n pasella. Verskoon my, maar ek moet my ryperd gaan versorg,” antwoord Wiandri, sien die teleurstelling op Wessie se gesig en vervolg goedig: “Tannie is seker moeg en dors na die lang stap hierheen. Loer by die kombuis in, tannie. Tant Grietjie bak altyd melktert en klein koesistertjies as ek huis toe kom.”

“Stap saam met my, tant Wessie. Ek moet ook nog die tannies gaan groet,” nooi Christelle.

Wessie laat val haar kop op haar linkerskouer en betrag Christelle van kop tot tone. “Rydrag,” sê sy en proe-proe met haar lippe asof die woord sleg smaak. “Dis net ’n hemp en ’n broek, nes my kleertjies, maar julle rykes lyk altyd asof julle julle se kerkkleertjies dra. Hoekom dan, matronetjie?”

“Omdat ons meer eet en ronder is, tannie,” antwoord Christelle met gedwonge erns en kyk bekommerd na Wiandri wat reeds haar perd weglei. “Moenie te lank in die stal draai nie, Wiandri. Ek het heelwat om met jou te bespreek.”

“Goed, Christelle,” antwoord Wiandri gelykmatig en byt tobbend op haar onderlip. Sy kan raai wat Christelle wil bespreek: Floors. Wat weet Christelle van Floors wat haar so onrustig laat klink, wonder sy.

“Dis sy,” praat Floors onverwags langs haar in die skemerte van die stal, sy stemtoon gedemp.

“Vervlaks, Floors, moenie my bekruip nie!” snou sy, merk sy stroewe uitdrukking en vervolg verskonend: “Ek is jammer ek het op jou geskree, maar ek is so gespanne dat ek my yskoud geskrik het toe jy skielik langs my praat.”

“Dan het jy ook agtergekom hoe Christelle na my kyk?” vra hy gekweld.

“Sy wonder oor jou, want jy lyk vir haar bekend. En toe tant Wessie jou pet afruk, het Christelle sommer na asem gesnak,” vertel Wiandri onwillig en gee sy pet aan hom.

“Dankie,” sê hy en steek die pet in sy agterste broeksak. “Jou peetma is te intelligent om tant Wessie se storie oor my gekleurde hare te glo – ek het tog blonde hare op my arms en bene. As ek geweet het sy kom die naweek kuier …”

“Jy het gesê dis sy, Floors. Is Christelle die persoon wat kan verhoed dat jy ’n goeie pos kry?” vra Wiandri ongelowig.

“Ja, want sy ken almal op die dorp en ek is seker sy het invloed op die sakemanne se besluite. Kuier sy net vir die naweek hier?” vra hy ingehoue.

“Ek dink so,” antwoord sy, kyk op in sy gelaat wat lyk asof dit uit rots gekap is, en vra met wanhopige woede: “Wat kan Christelle van jou weet wat so verskriklik is, Floors? Jy het gesê jy is nie ’n misdadiger nie. Ek vertrou ook tant Lerina en tant Grietjie se oordeel. As hulle bereid is om jou te help, kan ek jou as ’n vriend aanvaar. Hoekom kan jy my nie ook vertrou nie? Ek voel verplig om jou teen Christelle te beskerm, maar ek weet nie eens waaroor dit gaan nie!”

’n Glimlag lig sy mondhoeke. “Jy is nie sterk genoeg om my te beskerm nie, Wiandri, maar dankie dat jy bereid is. Solank jy volhou dat ek Floors Venter is, vra ek niks meer nie.”

“Maar as Christelle raai wie jy is, Floors?”

“Hoe kan sy? Sy het my nog nooit ontmoet nie. Miskien weet sy van my of my mense, maar sy het geen bewyse dat ek nie Floors Venter is nie. Maar as sy my voortdurend gaan dophou … Ek weet nie hoe lank ek met my rol kan volhou nie. Dalk moet ek my liewer uit die voete maak.”

“Nee, Floors!” roep sy ontsteld, sien hom sy regterwenkbrou vraend lig en voel verneder oor haar impulsiewe woorde. Maar hy mag nie weggaan nie – hy is reeds deel van Groeneweide, onbewustelik deel van haar, besef sy wanhopig, maar vervolg beheers: “Bly hier ter wille van tant Lerina, jy het haar ’n nuwe belangstelling in die lewe gegee. Ek sal met Christelle praat en jou waarsku as jy rede het om weg te gaan.”

“Ek sal vir die res van my lewe soos ’n verloorder voel as Christelle my verplig om weg te gaan. Ek sal Rakker versorg. Draf huis toe voordat jou agterdogtige peetma na jou kom soek,” antwoord hy en neem die perdeleisels by haar.

Floors raak skrams aan haar hand toe hy die leisels oorneem en Wiandri staan asof versteen, voel hoe ’n helder gloed van onbeskryfbare vreugde deur haar liggaam vloei, luister betower na die oeroue lied van die liefde in haar ore en staar stom na Floors wat fluitend besig is om Rakker af te saal. Floors is ongetwyfeld ’n stommerik van ’n man, dink sy, ineens onredelik kwaad, swaai om en hardloop blindelings huis toe, bang vir die hartseer wat agter haar woede skuil.

Christelle wag Wiandri voor die agterdeur in en vra besorg: “Wat het gebeur, my kindlief? Hoekom lyk jy so ontsteld?”

“Rakker was ’n bietjie gespanne en sy het Floors probeer skop, maar gelukkig nie raak nie,” jok Wiandri sonder om te bloos, nog vasgevang in haar vergeefse gevoel vir Floors.

“Floors Venter,” sê Christelle, ’n vyandige ondertoon in haar stem. “Ek het die sleutel van die wesvleuel in die hande gekry. Kom saam met my, Wiandri. Ek het swart op wit bewyse dat julle nutsman beslis nie Floors Venter is nie.”

Schalkie van Wyk Keur 14

Подняться наверх