Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 14 - Schalkie van Wyk - Страница 7

4

Оглавление

Christelle is om die een of ander duistere rede werklik Floors se vyand, besef Wiandri en buk vinnig af om met haar sandaal te peuter sodat sy nie haar verwarring en teleurstelling aan Christelle verraai nie. As Christelle swart op wit bewyse oor Floors se ware identiteit het, sal sy hom daarmee konfronteer, en Floors sal weggaan … vir altyd weggaan en al haar huiwerende drome oor hulle goue môres saam met hom neem, dink sy hartseer en kom stadig orent.

“Opskud, Wiandri! Die tannies drink tee in tant Lerina se sitkamer, maar tant Grietjie sal nou enige oomblik kombuis toe kom om ons aandete gereed te kry.” Christelle swyg onthuts toe Wiandri haar verwytend aankyk en vra ongelowig: “Is jy nie ook nuuskierig oor julle nutsman wat onder ’n vals naam by julle werk nie? Of weet jy reeds dat Floors Venter nie sy regte naam is nie?”

“Tant Lerina weet, want sy het Floors in diens geneem. Waarom sal sy vir my jok? Maar dit gaan oor die wesvleuel, nie ons nutsman nie, Christelle. Die wesvleuel behoort net aan tant Lerina en haar verlede. Dit sal agterbaks en gemeen wees van jou as jy sonder haar toestemming daar gaan rondkrap,” antwoord Wiandri beskuldigend en hoop sy klink oortuigend.

Christelle frons van ergernis. “Ek het net soveel respek vir tant Lerina se privaatheid soos jy, Wiandri. Maar wat ek jou wil wys, het betrekking op Floors Venter, soos hy homself noem. Die man is onder valse voorwendsels en ’n vals naam hier. Ek moet tant Lerina waarsku dat Floors nie ’n liewe, hulpvaardige jongman is nie, maar ’n uitgeslape bedrieër wat vir haar – vir julle almal – ’n bedreiging is!”

“As dit waar is, waarom weet tant Lerina niks van die swart op wit bewys oor Floors se bedrog as dit in haar eie huis is nie?” vra Wiandri onbeïndruk.

“Tant Lerina was meer as dertig jaar gelede laas in die wesvleuel, my liewe kind. Sy praat nooit oor die wesvleuel of oor die dae toe dit nog in gebruik was nie. Jy weet self dis tant Grietjie wat persoonlik sorg dat die kamers gereeld skoongemaak word, want al waarin tant Lerina belang stel, is dat die deur na die vleuel gesluit bly. Sy het die verlede vergeet, daarom kan sy Floors so maklik vertrou.” Christelle swyg, kyk na die gangdeur en vervolg dringend: “Asseblief, Wiandri, vertrou my net. Ek staan onder ’n verpligting om tant Lerina te help, want ek het ’n groot deel van my jeug in hierdie ou huis deurgebring. Toe, kom ons gaan nou.”

“Ek dink nog dis nie reg nie, Christelle,” kla Wiandri en volg Christelle onwillig na die gang. “Hoekom vertel jy nie vir tant Lerina van jou vermoede dat Floors …” Haar sin rafel uit toe harde stemme en voetstappe regs van hulle opklink. Sy loop nader en sien Wessie holderstebolder by die trap afkom, ’n toornige Grietjie op haar hakke.

“Bose gebroedseltjie!” skel Wessie skril. “Ek het nie ’n skelm haar op my ronde koppie nie, Grietjie Verster! Vir wat sal ek jou huissleutels steel as ek my sigselwers moet lam dra aan my bos winkelsleutels? Los my, jou gryperige skarminkel, of ek byt jou vingertjies stomp af! Jy snuffel g’n in my sakke rond nie!”

“Gryp haar, Wiandri! Moenie haar laat wegkom nie!” roep Grietjie uitasem en rooi in die gesig toe Wessie met ’n waaghalsige sprong voor Wiandri se voete land. “Die agterbakse vroumens het my bos sleutels in haar sak gesteek en nou gee sy voor dis haar winkelsleutels. Hou haar vas, hartjie!”

Wessie trek haar langbroek, wat dreig om oor haar smal heupe af te sak, op, skud haar skouers en lig haar kop soos ’n strydlustige kapokhaantjie op. “Noudat ons tussen ordentlike mense is, sal jy jou ordentlik gedra, gryperige Grietjie. Matronetjie, jy en hierdie asempie is my getuies: Ek het niemand se sleutels gesteel nie. Kyk vir julle sigselwers wat in my broeksakke is: net my eie bos winkelsleutels, een van my oorle Petrus se sakdoeke en ’n paar rosyntjies en grondboontjies.” Sy kyk na Wiandri, vergeet van haar ergernis en vervolg met ’n vertroulike glimlaggie: “Ek bêre die twee bloues in my skoen sodat ek nie beroof kan word nie, dingetjie. Kontantgeldjies is skaars op onse dorpie.”

“Gryp haar aan haar voete en skud haar uit, Wiandri!” beveel Grietjie boos en bly met haar hande in haar sye geplant tronend oor die korter Wessie staan. “Wessie Winkel, ek vertrou nie mense wat sulke oorgroot klere dra nie. Wat steek jy alles onder daai wye hemp weg?”

“Net my goeie hartjie en my maer ribbebeentjies, ou Grietjie,” antwoord Wessie met ’n kekkelende koggellaggie, lig haar op haar tone om Grietjie in die oë te kyk en skud haar kop meewarig: “Jou arme sieletjie, jy is dodelik siek. Sulke rooi ogies beteken net een van twee dinge: bloeddruk of varkmasels. Matronetjie, waar is jou bloeddrukmasjientjie en jou inspuitingsnaald? Ou Grietjie is sterwende, maar as jy gou speel, kan jy dalk nog haar mislike lewetjie red.”

Wiandri sien hoe Grietjie haar oë styf toeknyp en haar vuiste bal en sê vinnig: “Ek het die huissleutels in die spens opgetel en vir Christelle gegee om vir tannie te bring. Ek is so jammer daar was ’n misverstand tussen tannie en tant Wessie.” Sy pluk die roerlose Grietjie bekommerd aan die arm en sê paaiend: “Tant Grietjie, jy kan nou maar jou oë oopmaak. Christelle het die huissleutels.”

“Ek het jou gehoor, my engeltjie, maar ek wag vir die onvermydelike,” antwoord Grietjie met aanvaarding en knyp haar oë stywer toe toe Wessie se vermakerige kekkellaggie deur die huis skeerlem.

“Wie is nou oud en kort van gedagte, Grietjie Grootbek?” vra Wessie uittartend en vervolg toornig: “Sê my so sleg dat ek my nie met ’n boks waspoeier sal kan skoon was nie, en al die tyd het jy jou sleutels verloor. En wil sommer my sakke uitdop asof ek ’n ertjiepeul is – eiegeregtige ou vrou! Grietjie, jy skuld my,” sê Wessie bitter.

Grietjie ruk haar oë verontwaardig oop. “Ek skuld jou nie ’n dooie duit nie, Wessie Winkel. Goed, ek is jammer ek het jou vals beskuldig, maar wie anders kon ek verdink?” vra sy verontskuldigend en hou haar regterhand gebiedend uit na Christelle. “My sleutels, kind. En opskud, voordat ek jou uitdop soos ’n ertjiepeul.”

Wiandri voel haar wange gloei van verleentheid toe Christelle haar ’n verwytende blik toewerp voordat sy die bos sleutels aan Grietjie gee. “Was al die lawaai nou nodig, tant Grietjie?” vra Christelle afkeurend. “Ek is seker julle het net vir tant Lerina onnodig ontstel. Julle huispersoneel is lankal huis toe en hulle is in elk geval almal betroubaar. Of is tannie nie seker van Floors Venter se eerlikheid nie?”

“Sies vir jou, asempie!” berispe Wessie haar voordat Grietjie kan reageer. “Onse Floorsie het nie al sy skroefies en moertjies nie, maar hy is ’n alte mooie seunskind met ’n dierbare ou hartjie. Dis mos waar, Grietjie?”

Grietjie staar Wessie oomblikke lank stom aan en glimlag oorwonne. “Ja, Wessie, ja. Floors is ’n goeie kind, maar jy, Wessie Winkel … Dink jy ek het vergeet dat jy my Grietjie Grootbek genoem het? Ek laat my nie beledig deur mense wat met bak handjies voor my agterdeur staan as ek koek en beskuit bak nie!”

“Wag nou, julle twee,” sê Christelle streng. “Tant Wessie, gaan drink nog ’n koppie tee saam met tant Lerina en hou haar ’n rukkie geselskap. Ek het tant Grietjie se hulp nodig.”

“Lekker! Met jou uit die pad, lastige Grietjie, eet ek al daardie koesistertjies en die res van die melktert op!” jubel Wessie en fladder met verbasende spoed die gevleuelde trap op na die eerste verdieping.

“Wat sy nie soos ’n honger meerkat verslind nie, prop sy in elk geval in haar broeksakke,” mor Grietjie en draai afwagtend na Christelle. “Hoekom dra jy jou Sondagsgesig, my hartjie? Het jy gesê ek kan jou help?”

“Ek hoop so, tant Grietjie. Het tannie of tant Lerina Floors Venter in diens geneem?” vra Christelle saaklik.

Wiandri voel haar senuwees in haar maag saambondel, wens dat Christelle nooit kom kuier het nie en wag in ademlose spanning dat Grietjie haar antwoord.

“Ek en juffrou Lerina doen alles saam-saam, want sy is die baas wat die salarisse moet betaal en ek is die huishoudster wat moet sorg dat almal hulle werk doen. Maar hoekom vra jy, Christelle? Floors gesels nie graag nie, maar hy is ’n gewillige werker.”

“Het tannie-hulle Floors se identiteitsboekie gesien?” vra Christelle skerp.

Grietjie frons en vryf-vryf met ’n wysvinger langs haar neus, asof sy ernstig nadink. “Noudat jy vra, my engeltjie … Nee, ek is jammer, maar ek kan nie onthou nie,” antwoord sy eindelik.

“Maar dis ongehoord, tant Grietjie! Alle werkers moet geregistreer word en dis uiters belangrik dat …” objekteer Christelle.

“Sjoes, kind!” maak Grietjie haar stil. “Ons het Floorsie nie geregistreer nie, want hy verdien nie ’n salaris nie. Die stomme seun het sy vorige werk verloor en nou speel hy maar nutsman vir ons, net vir ’n dak oor sy kop en kos in sy maag. Hy is ’n bietjie onhandig met ’n hamer en spykers, maar daar is baie ander werkies wat hy kan doen.”

“Floors versorg my perde,” sê Wiandri partydig en kyk uitdagend na Christelle. “Ek het Floors se identiteitsboekie gesien, Christelle. Hy is Florentius Venter gedoop. Is dit nie ’n besonderse naam nie?” vra sy en glimlag met liewe onskuld in die verbaasde Christelle se oë.

Grietjie byt haar onderlip vas om te verhoed dat sy glimlag en sê tevrede: “Noudat ek weer dink: Floors en juffrou Lerina het lank gesels en hy het al sy persoonlike besonderhede vir haar gegee. Ek onthou hy het ’n ID-boekie gehad, maar ek het nie self daarna gekyk nie.”

“Hoe goed kan tant Lerina op ses-en-tagtig sien, tant Grietjie? Sy sal nie tussen ’n egte en ’n vals dokument kan onderskei nie,” kom dit skepties van Christelle.

“Nou raak jy ’n bietjie persoonlik, Christelle,” sê Grietjie geraak. “Juffrou Lerina het ’n leesbril, maar sy kan nog sonder ’n bril televisie kyk. Sy is nie ’n hulpelose, seniele ou tannie nie, kind, sy sal nie ’n onbetroubare man in diens neem nie.”

“Ek weet, tannie, maar ek is nogtans bekommerd. Ek is oortuig hierdie man wat hom voordoen as Floors Venter is iemand anders. As tannie die wesvleuel sal oopsluit, sal ek tannie wys waarom ek so sê,” hou Christelle vol.

Grietjie frons ongelukkig. “Hoe kan ek, Christelle? Die wesvleuel is nog al die jare verbode terrein.”

“Om liefdeswil!” Christelle maak ’n moedelose handgebaar. “Ek het jare lank in Huis Groeneweide gewoon terwyl my ouers oorsee gewerk het, tant Grietjie. Ek het tannie dikwels gehelp om die wesvleuel skoon te maak. Ek wil nie in laaie krap of in hangkaste loer nie. Daar is iets in die gang wat ek vir tannie wil wys, dis al.”

Grietjie kyk Christelle oomblikke lank oorwegend aan, klik haar tong ongeduldig en haal haar bos huissleutels uit haar groot roksak. “Nou kom dan, hartjie, kom. Jou siel sal nie tot ruste kom voordat jy jou nuuskierigheid bevredig het nie.”

“Mag ek saamkom, tant Grietjie?” vra Wiandri hoopvol.

“Ja, kom, kind, maar jy bly by my. Ek sal nie ’n gesnuffel in juffrou Lerina se spesiale plek toelaat nie,” antwoord Grietjie kwasterig en stap vooruit.

Wiandri volg Grietjie en Christelle die wesvleuel binne en kyk teleurgesteld om haar rond. Dis net ’n breë gang soos in die res van die huis, met stokou foto’s in stokou rame teen die mure – portrette van oorlede mense. Sy kyk vraend na Christelle wat gretig vooruit stap en skielik in haar spore tot stilstand skok.

“En nou, Christelle, hartjie? Waar is die ding wat jy ons wil wys?” vra Grietjie nuuskierig.

Christelle beweeg stadig af in die gang, keer terug en loop van portret tot portret, ’n frons kepend tussen haar wenkbroue. “Dis nie hier nie, tant Grietjie. Ek kan nie onthou presies waar die portret gehang het nie, maar ek weet dit was hier êrens,” antwoord sy met sekerheid.

“Jy praat van meer as dertig jaar gelede, my liewe kind. Vertel my wat jy soek en dalk kan ek jou help,” bied Grietjie aan.

“Die portret van oom Fanie toe hy ’n jongman was. Onthou tannie nie? Hy het witblonde hare en donker oë en wenkbroue gehad, en hy was een van die aantreklikste mans wat ek nog ooit gesien het. Ek bedoel, toe hy jonk was.”

Grietjie vat haar hande op haar maag saam en lag Christelle goedig uit. “Goeistetjie, liefie, Fanie was ’n stokou man met spierwit hare, nie witblonde hare nie. Hoe sou jy in elk geval die verskil geken het? Die portrette is almal wit-en-swart, nie kleurfoto’s nie.”

Christelle ignoreer haar, haar neus byna teen die muur. “Hier! Kom kyk, tant Grietjie. Daar is ’n lang reghoek op die muur wat witter is as die res. Dis hier waar oom Fanie se portret gehang het. Waar is die portret nou, tannie?”

Wiandri beweeg saam met Grietjie nader, sien die witter deel en kyk vraend na Grietjie. “Wie is oom Fanie, tant Grietjie?” vra sy nuuskierig.

Grietjie ignoreer haar vraag, knip haar oë aanhoudend asof sy moeite ondervind om te sien en glimlag onverwags. “A, nou onthou ek. Dit was die portret van Emily Thornton! Dit het al die jare hier gehang, Christelle, maar met al die afstof en werk, het ek die portret op ’n dag laat val. Die glas het gebreek en die portret is so beskadig dat ek dit in een van die solderkamers weggepak het. Maar ek verstaan nie, hartjie. Wat het onse Floorsie met ou Emily Thornton te doen?”

Wiandri sien hoe Christelle aanhoudend sluk, haar lippe hard saamgepers asof sy haarself moet dwing om nie uiting aan haar ergernis te gee nie. “Christelle, ek sal jou help om na die foto te soek,” bied sy aan, jammer vir Christelle, maar terselfdertyd oneindig verlig dat sy niks teen Floors kan bewys nie.

“Nee … nee, vergeet dit, Wiandri. Ek het my seker misgis. Dankie vir jou moeite, tant Grietjie,” sê Christelle gesmoord en stap vinnig weg in die gang.

“Christelle gaan nie só maklik tou opgooi nie, Wiandri,” praat Grietjie sag langs haar. “Dis ’n groot jammerte dat sy Floorsie vandag gesien het, want sy gaan aanhou karring om agter die waarheid te kom. Ons moes die seun gevra het om sy hare swart te kleur.”

“Lyk Floors soos iemand wat lank gelede in die wesvleuel gewoon het, tant Grietjie?”

“Net toevallig, ja, hartjie. Ons moes seker geweet het Christelle sal nooit vergeet nie en nog minder vergewe. Wiandri, jy is na aan Christelle. Jy sal haar moet oortuig dat Floors ’n liewe, goeie man is wat net probeer om sy brood op ’n eerlike manier te verdien. Sal jy so maak, my engeltjie?” pleit Grietjie.

“Ja, tannie,” antwoord sy en stap tobbend saam met Grietjie in die gang af. Tant Grietjie wil nie haar vrae beantwoord nie, maar noudat sy wat Wiandri is van dié oom Fanie weet, sal Floors dalk bereid wees om te praat. Of sal Christelle gewillig wees om haar meer oor Emily Thornton en oom Fanie te vertel? wonder sy hoopvol, en loop onwillekeurig vinniger.

Wiandri stap vroegoggend die perdestalle binne, steek haar hand uit om die daklig aan te skakel en skrik haar asem weg toe Floors gedemp langs haar beveel: “Moenie!”

“Floors! Ek sal jou met die hooivurk aanrand as jy my ooit weer so groot laat skrik!” dreig sy op fluistertoon, besef dat dit moeilik is om rusie te maak as ’n mens fluister, en vra vies: “Hoekom fluister ons?”

“Omdat Christelle hier was,” antwoord hy sag, die warmte van sy asem soos ’n intieme liefkosing in haar oor. “Ek gaan in die boothuis wegkruip. Ek het Rakker klaar opgesaal vir jou. As jy oor ’n halfuur na die boothuis toe kan kom, bring asseblief vir my kos saam. Ons sal daar praat.”

Sy kan nie sy gelaatstrekke duidelik onderskei in die skemering van die stal nie, maar dis asof sy die fisieke krag van sy breë skouers en gespierde liggaam, die hitte en besonderse manlike geur van sy vel, die essensiële hy, kan aanvoel asof sy aan hom raak. Voel hy dit ook? wonder sy, raak bewus van haar gebroke asemhaling en kug saggies.

“Sal jy kom, Wiandri, of het sy jou oortuig ek is ’n skurk?”

“Ek kom sodra ek kan,” beloof sy.

“Wag ’n paar minute voordat jy die stallig aanskakel,” sê hy en glip geluidloos by die staldeur uit.

Wiandri volg hom met haar oë totdat hy in die skadu van die ou waenhuis verdwyn, draai terug om die lig aan te skakel en versteen waar sy staan toe sy naderende voetstappe op die kegelstene hoor. Dit kan net een van die werkers wees, dink sy dan, onthuts oor haar onnodige vrees, en skakel die stallig aan.

Sy bly voor Rakker se staldeur staan, streel oor haar nek en hou ’n appel op haar handpalm na die merrie uit, die klank van die naderende voetstappe nog in haar ore.

“Floors? Ek wil …” begin Christelle, sien Wiandri en glimlag met haar gebruiklike warmte. “Goeiemôre, my poplap. Het jy lekker geslaap?”

“Te lekker,” antwoord Wiandri laggend, en wens hartstogtelik dat Christelle nie so agterdogtig was oor Floors nie. Sy is baie lief vir Christelle, maar sy moet skielik kies tussen haar lojaliteit teenoor haar peetma en ’n onbekende man wat sy in ’n oogknip liefgekry het, dink sy spytig, en vervolg met gedwonge lighartigheid: “Ek kon gisteraand aan tafel omtrent nie my oë oophou nie, so ek het vroeg gaan inkruip. Het julle tot laat gesels?”

“Nee, die tannies is ook vroeg bed toe. Ek dink die opwinding van om jou tuis te hê het almal uitgeput.” Christelle kyk soekend om haar rond. “Ek sien jou perd is reeds opgesaal. Waar is Floors?”

“Ek het hom gistermiddag gevra om Rakker vroeg op te saal, want ek geniet dit om voor ontbyt te gaan perdry, maar ek het hom nie vanoggend gesien nie,” antwoord Wiandri en weet dis amper die waarheid, want sy kon Floors nouliks in die skemerdonker stal sien. “Ek sal Prinses opsaal as jy saam met my wil gaan ry,” bied sy gemaak gretig aan en hoop vuriglik dat Christelle haar aanbod van die hand sal wys.

“Nee, ek is eintlik op soek na Floors. Daar brand nie ’n lig in sy woonstel nie, so hy is seker êrens op die werf besig. Ek sal sommer ’n bietjie rondkyk,” antwoord Christelle en draai weg.

“Wie is oom Fanie, Christelle?” vra Wiandri vinnig.

Christelle bly staan en draai dan tydsaam terug na haar, met kwelling duidelik op haar gesig. “’n Man wat in die wesvleuel gewoon het. Ek sal jou graag meer wil vertel, maar op die oomblik is daar te veel vrae waarop ek antwoorde soek. Ek hoop tant Lerina sal my vrae kan beantwoord, want tant Grietjie ly ewe gerieflik aan geheueverlies – en sy doen dit boonop oortuigend. Sy kan onmoontlik seniel wees, sy is net ’n bietjie meer as agt jaar ouer as ek.”

“Maar sy lyk minstens twintig jaar ouer as jy,” sê Wiandri met ’n onnutsige laggie. “Hoekom gaan loer jy nie by oom Ben en tant Truia in nie, Christelle? As oom Ben nog nie in die tuin besig is nie, drink Floors moontlik koffie saam met hom. Dis Saterdag en oom Ben is nie veronderstel om te werk nie.”

“Ben steur hom nie aan naweke en vakansiedae nie, maar ja, ek sal gou ’n draai maak, al is dit net om koffie te drink saam met Ben en Truia. Ry versigtig, my poplap,” antwoord Christelle en stap haastig weg.

Dit was ’n briljante ingewing om aan oom Ben te dink, wens Wiandri haarself geluk. Die tuinhuis is so ver van die agterplaas af dat sy met veiligheid kan terugdraf huis toe en haar rugsak vol kos en koeldrank vir Floors pak.

’n Halfuur later hou Wiandri haar ryperd onder ’n wilgeboom langs die boothuis in, glip uit die saal en swaai haar rugsak van haar rug af.

“Laat ek help,” praat Floors naas haar en neem die rugsak uit haar hande.

“Floors!” tjilp sy soos ’n verskrikte mossie, ruk haar kop om om seker te maak dat niemand haar na die boothuis toe gevolg het nie en swaai terug na hom, haar gesig nog wasbleek van skok.

“Genugtig, meisiekind, gaan jy flou word? Jy het mos geweet ek is hier. Ek is jammer ek het jou laat skrik, maar ek het gedink jy sien my langs die boom staan,” sê hy met ongeduld en kommer wat hulle afwissel op sy gesig. Hy steek sy regterhand uit asof hy haar wil aanraak, maar laat sak dit weer.

’n Onkeerbare laggie glip oor Wiandri se lippe en ontwikkel in ’n byna geluidlose lagbui wat sy agter haar hande probeer smoor, en wat haar hulpeloos met haar kop teen haar perd se nek laat aanleun.

Floors kug en vra saaklik: “Sal ek vir jou ’n glas water bring, Wiandri?”

Wiandri snik-lag, vee met haar handrug haar lagtrane van haar wange en sê verleë: “Jammer, Floors. Ek dink ek’s ’n klein bietjie histeries, want ek het al die pad hierheen verwag dat Christelle my op Prinses se rug gaan agternasit. Toe jy so onverwags langs my praat, het ek my oorhoeks geskrik.”

Dan kyk sy hom baie ernstig aan: “Het jy rede om Christelle te vrees, Floors?”

“Ek dink so, want ek herinner haar duidelik aan iemand uit haar verlede,” antwoord hy gelykmatig, die uitdrukking in sy oë geslote.

“Ek haat dit as jy so na my kyk, Floors!” vaar sy geïrriteerd uit.

“Hoe kyk ek?” vra hy oorbluf.

“Met die dooie oë van ’n marmerstandbeeld! Besef jy nog nie ek probeer jou help nie? Christelle het na jou kom soek in die stal en ek het haar laat glo jy drink dalk koffie saam met oom Ben. Ek … ek lieg en bedrieg die een mens wat nog altyd soos ’n eie ma vir my was. Hoekom vertrou jy my nie?” vra sy gegrief.

“Omdat ek nie seker is of jy my werklik wil help of dalk net Christelle se bevele uitvoer nie. Jy het gesê jy deel al jou geheime met haar,” herinner hy haar en betrag haar wantrouig.

Sal sy nog ’n groter gek van haarself maak en ’n patetiese liefdesverklaring aan Floors doen? dink Wiandri wrang, en haat hom oor sy vermoë om deur sy blote teenwoordigheid verwoesting te saai onder haar emosies. Sy staar bewonderend na sy sonbruin, gespierde bene en arms wat hom soos ’n bronsstandbeeld laat lyk in die helder oggendson, dwing haar om in sy oë te kyk en antwoord met ’n neutrale stemtoon: “Ons het nie ’n keuse nie, Floors. Ons kan mekaar net vertrou, want ek het geen waarborg dat jy nie ’n misdadiger is nie. Maar wie anders gaan vir jou kos aandra terwyl jy in die boothuis wegkruip?”

“Goed,” gee hy halfhartig toe, kyk haar deurdringend aan en vertel onwillig: “Ek het gisteraand onder die kastaiingboom in die agterplaas gestaan toe Christelle die buitetrap na my woonstel opgeklim het. Die lessenaarlig was aangeskakel, maar gelukkig het ek my deur gesluit. Sy het eers geklop en toe aan die deurknop gedraai. Daarna is sy af stal toe. Sy het ’n paar maal gedemp na my geroep, maar ek het die boomstam tussen my en haar gehou. Hoekom is sy so gretig om met my te praat, Wiandri?”

“Kan jy nie raai nie, Floors? Hoe sal ek nou weet?”

’n Frons kerf tussen sy wenkbroue en hy vra bruusk: “Het sy gesê aan wie ek haar herinner?”

“Aan oom Fanie. Sy portret het jare lank in die gang van die wesvleuel gehang, maar toe ons gisteraand daarna wou kyk, het die portret verdwyn. Wie is jou oom Fanie, Floors?” vra sy en kyk hom afwagtend aan.

“Ek het nie ’n oom Fanie nie. My pa, Hardus, is na my oupa genoem.”

“Hardus Venter?” vra sy, glimmende lag in haar oë.

Sy glimlag vee die strak lyne uit sy gelaat. “Ek het byna vergeet jy is ’n opperste snip,” skerts hy halfhartig. “Jy weet ek is nie ’n Venter nie en ná al jou moeite om gister my identiteit geheim te hou en om vanoggend ’n rugsak vol kos agter my aan te ry, kan ek jou seker ’n klein bietjie vertrou. My pa is Hardus de Nyschsen.”

“En jy is?” vra sy, verras oor haar gevoel van blydskap omdat hy haar eindelik vertrou.

“Floors Venter, julle dommerige nutsman,” antwoord hy bruusk, merk haar teleurstelling en vervolg met hoorbare ongeduld in sy stemtoon: “Dis die naam wat almal op Wernerspan ken, en vir tyd en wyl moet dit so bly. Dis wat juffrou Lerina besluit het. As jy my op my eie naam noem, verspreek jy jou dalk voor Christelle – en dan sal ek móét weggaan.”

“Maar Christelle weet reeds jy is nie Floors Venter nie. As sy kan verhoed dat jy werk kry, sal sy. Verstaan jy nie, Floors? Jy het gehoop om haar te bedrieg, maar sy het jou dadelik herken. Jy kan net sowel jou eie naam gebruik,” redeneer Wiandri, meer ontsteld as kwaad.

“Christelle raai, maar sy het geen bewyse nie. As dit afhang van die twee tannies, sal sy ook nooit enige bewyse kry nie – en as ek jou kan vertrou.”

“Ek verstaan nie, Floors,” sê sy onbegrypend. “Selfs al glo Christelle jy is werklik Floors Venter, hoe gaan dit jou help om ’n goeie pos te kry? Christelle gaan nie ’n dom nutsman aanbeveel vir ’n verantwoordelike werk nie.”

“Dis presies hoe ek voel,” antwoord hy grimmig. “Toe ek na Huis Groeneweide toe gekom het, het ek eerlik aan tant Lerina vertel wie ek is en wat ek hoop om op Wernerspan te doen. Sy het aan my gesê Christelle sal alles in haar vermoë doen om te verhoed dat ek die pos kry, daarom moet ek ’n vals naam gebruik, totdat ons weet wat Christelle se reaksie op my is. Ons weet nou – en ek is die verloorder.”

“Nee, Floors!” maak Wiandri heftig beswaar en gryp in haar erns sy regterhand in albei haar hande vas. “Moenie dit sê nie – moenie dit eens dink nie! Die Christelle wat ek ken, is ’n liewe, groothartige mens wat nooit enigiemand skade sal aandoen nie. Miskien moes jy met haar oop kaarte gespeel het. Jy is tog nie verantwoordelik vir iets wat in haar verlede gebeur het nie. Wat ís in elk geval die probleem?”

Hy antwoord nie, sy blik op haar hande wat syne vashou.

“Jammer,” mompel sy, haar wange vlammend van intense verleentheid. Sy probeer haar hande wegneem, maar sy groot hand hou hare stywer vas. “Floors, los asseblief my hande,” versoek sy, bewus van die trilling in haar stemtoon.

Hy ignoreer haar versoek en kyk na haar, die uitdrukking in sy oë enigmaties. “Jy laat my wens ek was Floors Venter, nie ’n gehate De Nyschsen nie. Ry nou, Wiandri, en kom sê my asseblief wat tant Lerina se besluit oor my toekoms is,” praat hy eindelik en tree weg van haar.

Wiandri is nouliks bewus daarvan dat sy op haar ryperd se rug klim en wegry sonder om om te kyk. Floors het haar hande styf vasgehou en gesê hy wens hy was nie ’n gehate De Nyschsen nie. En hy het na haar gekyk met die oë van ’n man wat haar die eerste maal raaksien en weet sy is ’n vrou. Miskien … miskien kan sy hoop, dink sy, en luister met nuutgevonde vreugde na die lied van seer verlange in haar hart. Maar wie ís die De Nyschsens tog?

Wiandri hou op hardop voorlees toe Christelle, geklee in haar rydrag en met ’n onweersuitdrukking op haar gesig, laatmiddag Lerina se sitkamer binnekom en op ’n gemakstoel neersak.

“Kry ons sambrele, Grietjie,” sê Lerina aan Grietjie wat oorkant haar by ’n klein tafeltjie sit, besig om saam met haar ’n legkaart te bou. “Die storm gaan nou enige oomblik oor ons uitbars.”

“Blaas af, Christelle, en eet een van juffrou Lerina se pepermente. My malvalekkers is ’n bietjie min, so ek deel hulle met niemand nie,” sê Grietjie en trek die bakkie malvalekkers besitlik nader aan haar.

“Waar is hy, tant Lerina?” vra Christelle met bytende ongeduld.

“Ben is seker saam met Truia in hulle tuinhuis. Saterdagmiddae …” begin Lerina rustig.

“Ek praat van Floors Venter – of wie hy ook al is!” val Christelle haar ontstoke in die rede.

“My liewe kind, hoe sal ek weet?” vra Lerina verwonderd. “Huis Groeneweide staan op ses hektaar grond en dis onmoontlik om te raai waar die seun hom op die oomblik bevind.”

“Ek het Groeneweide vanoggend reeds platgery, maar nie een van die werkers het hom gewaar nie. Daarna het ek op die dorp en op al die naburige plase navraag gedoen, maar julle Floorsie het soos ’n groot speld verdwyn.” Christelle wend haar tot Grietjie en vra nydig: “Het jy hom gewaarsku dat ek weet wie hy werklik is, tant Grietjie? Is dit waarom hy die pad gevat het?”

“As ek nie so ’n lui vrou was nie, ou kintatjie, het ek nou opgestaan en jou ’n taai klap gegee,” antwoord Grietjie sonder om werklik vies te klink. “Dis naweek, Christelle, en Floors kan kom en gaan soos hy wil. Wag tot Maandagoggend as jy so gretig is om agter die seun aan te draf.” ’n Onnutsige laggie glip oor haar lippe en sy vervolg uittartend: “Maar hy is ’n bietjie jonk vir jou, Christelle. Dalk sal onse Wiandri beter by hom pas.”

“Stil nou, Grietjie,” beveel Lerina en kyk vraend na Christelle. “Waarom dink jy Floors het ’n ander naam, Christelle? Het hy ’n ander naam gehad toe jy hom vroeër ontmoet het?”

“Ek het hom gister vir die eerste maal gesien, tannie, maar ek weier om te glo dat hy net toevallig die ewebeeld van Fanie de Nyschsen is en net toevallig onder ’n vals naam op Groeneweide werk. Ek vertrou hom nie en dit sal uiters dwaas wees as tannie hom vertrou,” waarsku Christelle.

“Jy praat in raaisels, Christelle. Floors is in my diens en ek weet wie hy is. Ek vertrou hom volkome,” antwoord Lerina met oortuiging.

“Maar hy lyk net soos die De Nyschsens, tant Lerina! Ly tannie net soos tant Grietjie skielik aan geheueverlies? Het tannie skielik van oom Fanie vergeet?” vra Christelle driftig.

Lerina sit roerloos stil, staar oomblikke lank na die legkaart en kyk eindelik op na Christelle. “Die ouderdom het my ’n waardevolle les geleer, Christelle: Die verlede is nie belangrik nie. Ek leef in die oomblik, loop elke dag die paar treë wat ek kan sien, maar kyk nie terug na die lang pad agter my of die onbekende pad voor my nie. Ek stem saam: Floors trek op wyle Fanie, maar hy is nie Fanie se tweelingbroer nie. Waarom sal Floors voorgee dat hy ’n De Nyschsen is, bloot omdat hy blond is met donker oë?”

“Christelle, hartjie, ek raak nou kriewelrig van die ergernis,” kom dit vies van Grietjie. “Wat pla jou nou eintlik, my engeltjie? Is jy kwaad omdat Floors nie ’n De Nyschsen is nie, of hoop jy hy ís ’n De Nyschsen sodat jy hom kan vra om met jou te trou?”

“Ek wil weet wat ’n De Nyschsen op Groeneweide kom soek as hy nie wil erken dat hy ’n De Nyschsen is nie!” antwoord Christelle, hees van ergernis.

“Ek kan nog nie sien hoe die situasie jou raak nie, Christelle,” sê Lerina ongesteurd. “Floors is in my diens, nie joune nie. Selfs al was Floors ’n De Nyschsen, sou hy net so welkom in my huis en op my grond gewees het. Jy het erken jy het Floors gister vir die eerste maal ontmoet, my kind. Het hy jou enige rede gegee om hom te haat?”

“Nee, maar ek wantrou hom, want ek …” Christelle breek haar sin stomp af, maak ’n afwerende gebaar met haar regterhand en staan op. “Ek gaan stort en anders aantrek. Dis duidelik dat tannie-hulle nie die erns van die situasie wil insien nie.”

“Ek kom saam met jou, Christelle,” sê Wiandri en volg Christelle vinnig die sitkamer uit.

“Moenie na my kyk asof ek drie oë en ’n groen baard het nie, Wiandri,” versoek Christelle met ’n halfhartige glimlaggie toe Wiandri in die gang by haar aansluit.

“Ek probeer net verstaan waarom jy Floors en die De Nyschsens haat, Christelle,” antwoord Wiandri onbegrypend.

Christelle bly staan en sê met kille nadruk: “Tant Lerina is nooit getroud nie, maar sy het Fanie de Nyschsen met haar hele hart liefgehad. Ek is seker Floors is Fanie de Nyschsen se kleinseun en speel hy sy kaarte reg, erf hy Huis Groeneweide en alles wat tant Lerina besit!”

Schalkie van Wyk Keur 14

Подняться наверх