Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 15 - Schalkie van Wyk - Страница 6

3

Оглавление

Trynie word rooi van boosaardigheid, kom toornig orent en troon oor Sunette wat eers regs mik, dan skielik links swenk en by Trynie se rapende vingers verby na die verste punt van die vertrek hardloop, waar sy voor ’n antieke staanhorlosie vassteek asof dit haar beskerming sal bied.

“Jou goddelose klein sieletjie!” bulder Trynie verwoed. “Ek sukkel van jou eerste skooldag af om van jou ’n fatsoenlike kind te maak, maar daar is geen salf aan jou te smeer nie. Vandag prop ek jou onder my arm en dra jou na een van ons solderkamers toe. As ek jou by die venster uitsmyt en sorg dat jy op jou kop val, sal jy hopelik nooit weer die rus in Huis Kanferfoelie versteur nie.”

“As tannie net ’n sentimeter nader kom, klim ek in die staanhorlosie en hang my aan die ketting van die pendule op! Wil tannie my dood op tannie se gewete hê? Asseblief, ta Trynie, ek is te jonk om sag heen te gaan,” dreig en soebat Sunette beurtelings en pers twee groot trane uit haar oë, haar hande biddend voor haar bors saamgevat.

Trynie ruk in haar spore tot stilstand, draai stadig om na Kayla wat onbesorg bly sit het, en sê bitter: “Te jonk om sag heen te gaan, sê die stout kind.” Haar kop ruk om na Sunette, wat net betyds ’n glimlag van haar gesig afvee, en sy vervolg boos: “Jou soort, klein niksnuts, land met ’n harde slag op die ou duiwel se drietandvurk in die verderf!”

“Ta Trynie, hoekom hou tannie nie van my nie? Ek probeer so hard om tannie te help,” sê Sunette verwytend.

“Dis waar, tannie,” kom dit vinnig van Kayla. “Luister net hoe stil is dit: ek kan selfs tannie se boosaardige gesnork hoor. Moet ek nie vir tannie ’n bloeddrukpilletjie gaan haal nie?”

Trynie plof ergerlik op haar stoel neer en gluur Kayla aan. “Jy weet ek het nie hoë bloeddruk nie, kind, en ek drink net vitamienpille. Sukkel jy oor my bloeddruk omdat jy hoop ek sal vergeet van die klein klits en al daardie lawaaimakers wat in ons huis kom bier soek?” Haar oë rek verskrik en sy swaai vinnig na Sunette toe. “Jy het nie die spul mansmense binnegenooi nie, Sunette? As hulle op Annelize se Victoriaanse stoeltjies gaan sit, bly daar net houtskerwe oor. Ons gebruik nooit die Victoriaanse sitkamer nie want die meubels –”

“Klop-klop!” sê ’n aarselende tenoorstem uit die deur van die ontbytkamer.

“Hallo, oom! Het oom ook kom bier drink?” groet-vra Sunette met ’n stralende glimlag.

Trynie staar verslae na Sebastiaan, vryf haar hande senuweeagtig saam en soek met haar oë hulp by Kayla.

“Meneer Van Oldenbarneveldt … goeiemôre. Ek is Kayla Joubert. Bly te kenne, meneer, en welkom in Huis Kanferfoelie. Briand Olivier het my vertel wie meneer is,” sê Kayla met ’n innemende glimlag en staan op. “Dis juffrou Trynie Geyer, ons huishoudster. Sy is soos ’n eie ouma vir my enne … en my vriendin, Sunette Durand.”

“’n Liewe, eie ouma,” beaam Sunette met ’n heftige kopknik.

“Bly te kenne, Kayla … Sunette,” sê Sebastiaan, tree nader aan Trynie en steek sy hand met ’n galante buiginkie na haar uit. “Dis ’n voorreg om u te ontmoet, juffrou Geyer.”

Trynie skud Sebastiaan se hand en sê bedees: “Bly te kenne, meneer Van Oldenbarneveldt. Ek en Kayla wou oorkom om julle met ’n paar melkterte in ons buurt te verwelkom, maar dit was nog so vroeg … Ek bedoel, u is baie welkom, al is dit nog vroeg.”

“Dankie, juffrou Geyer. As …”

“Sommer net Trynie, meneer Van Oldenbarneveldt. Met ’n professor in die huis is ek altoos omring van professore en doktore. Al die titels is tog nie nodig tussen bure nie?” vra Trynie met ’n skugter glimlaggie. “Maar sit gerus.”

Sebastiaan glimlag ingenome en gaan sit. “Ek stem heelhartig saam met jou, Trynie. ‘Sebastiaan’ is klaar ’n mondvol, maar dis darem korter as my van. En julle dametjies kan my ‘oom’ noem, soos ons mense gewoond is. En nou, Trynie, wil ek jou om verskoning vra dat ek sommerso julle huis binnegekom het, maar die jong mans het op julle drumpel gestaan, gereed om die plek binne te vaar. Ek het hulle uitdruklik beveel om te bly waar hulle is en die voordeur in hulle gesigte toegemaak en die deur gesluit. Het ek te voortvarend opgetree?”

“Ek waardeer jou besliste optrede met my hele hart, Sebastiaan, want Huis Kanferfoelie is propvol kosbare antikwiteite en oorspronklike skilderye. Professor Joubert sou my nooit vergewe het as een van haar besittings deur die spul barbare … e … motorfietsryers beskadig is nie,” antwoord Trynie en kyk betigtigend na Sunette.

“Maar wat nou van die bier wat ek die manne beloof het, ta Trynie? As ons nie gou speel nie, pluk hulle hul fietskettings uit en slaan al die vensters fyn en flenters!” waarsku Sunette en rol haar oë dramaties.

Sebastiaan lag spontaan. “Jy het ’n vrugbare verbeelding, Sunette, maar al dra die jong mans almal leerbroeke en -baadjies, is hulle aangename jong mense en beslis nie ’n bende misdadigers nie.” Hy glimlag gerusstellend vir Trynie. “Jy en jou huismense kan met ’n geruste gemoed snags slaap, Trynie. Die jong klomp is nou wel ’n bietjie lawaaierig met hulle motorfietse, maar hulle sal julle drie dames geen leed aandoen nie.”

“Maar wat nou van die bier, ta Trynie?” wil Kayla ook weet. “Verwag tannie dat ek en Sunette ons eiergeld moet gebruik om vir die manne bier te koop? Sjies … dis sonde om so suinig te wees. Tannie weet self ek en Sunette is tans werkloos en minder bevoorreg.”

Sebastiaan hou sy hand gebiedend op. “Nee, Kayla, jy en Sunette spandeer nie ’n sent van julle swaar verdiende geldjies nie.” Hy glimlag goedkeurend en verduidelik: “Briand het my vertel van julle pogings om selfonderhoudend te wees, en ek dink julle optrede is bewonderenswaardig. Moenie jou bekommer oor die bier nie, Trynie, ek het reeds aan die jong mans verduidelik Sunette het net geterg toe –” Hy swyg toe die luide gebrul van motorfietsenjins skielik die vensters laat vibreer. “Genade, maar dit ís erg!”

“Dis nog erger as die vensters oop is,” sê Trynie hard. “Die stilste plekke in ons huis is die kombuis en die musiekkamer, maar ons kan nie daar boer nie.” Sy draai na Sunette en gee onwillig toe: “Miskien moet ek jou bedank vir jou leuentjie, Sunette, want ons kon mekaar darem leer ken sonder om te moet skree.”

“Ja, ek het nogal ’n liewe hartjie,” beaam Sunette met ’n vroom glimlaggie en tree haastig terug na die staanhorlosie toe Trynie haar vies aankyk.

“Kan ek jou enigiets te ete of te drinke aanbied, Sebastiaan?” vra Trynie hoflik.

“Nee, dankie, Trynie, maar dalk later vandag? Of enige ander dag. Nou, dan groet ek maar. Tot siens, Trynie. Dit was werklik aangenaam om jou – en die dogters, natuurlik – te ontmoet.” Hy staan op.

“Dit was gaaf om met jou kennis te maak, Sebastiaan,” antwoord Trynie, werp Kayla ’n hulpbehoewende blik toe en kom stadig orent. Sebastiaan se kop bereik skaars haar skouer, en sy sug verwese. “Kom, Sebastiaan, ek sal jou na die voordeur toe vergesel.”

“Ek waardeer jou gasvryheid, Trynie,” sê Sebastiaan, lig sy hand groetend vir Kayla en Sunette en volg Trynie die ontbytkamer uit.

“Arme ta Trynie,” sug Sunette simpatiek. “Geen wonder sy kon nooit ’n man kry nie: sy is so lank soos die pilare van ’n Griekse tempel.”

“Jy sê en doen die simpelste goed, Sunette: vergelyk my ta Trynie met ’n pilaar en bied bier aan vir ’n spul wildvreemde mansmense. Is daar nie genoeg mans in jou lewe nie?” vra Kayla en wonder met ’n hinderlike gevoel van jaloesie of Sunette reeds met Briand kennis gemaak het.

“Daar is altyd mans in ’n blondine se lewe, my preutse vriendin,” antwoord Sunette treiterend en betrag Kayla krities. “Ek wens dit was nie waar nie, maar jy is mooier as ek, en nogtans is dit om my dat die manne draai. Hulle vra my gereeld oor jou uit, maar jy is te passieloos, vriendin. Hartstog, Kayla, is die voedsel van die liefde.”

Kayla kreun asof sy dodelik gewond is. “Ek weier om na nog ’n lesing oor jou siening van die liefde te luister, Sunette. Hoeveel mans het jy oorgenooi?”

“Al die motorfietsryers. Daar is sewe van hulle en ek het hulle klaar beloof ek sal saam met hulle uitgaan: een vir elke aand van die week, die naweek ingesluit. Maar sal jy jou ouboet Marnus nou asseblief vertel ek is al tien jaar lank getrou aan hom, my liewe vriendin? Ek stuur gereeld vir hom e-pos en ek sorg dat hy hope foto’s van my kry, maar ek kon nog nie die moed bymekaarskraap om hom van my jare lange lojaliteit aan hom te vertel nie.”

“Sunette, doen jy dit opsetlik, of weet jy nie as jy twak praat nie? Hoe kan jy beweer jy is lojaal aan Marnus as jy elke aand van die week met ’n ander man uitgaan en kort-kort dolverlief is op die een of ander vent?” vra Kayla onthuts.

“Jy weet waarom: dis in my gene, wat ek van my flirt van ’n ma geërf het,” antwoord Sunette bitter. “Dis waarom ek met ’n man soos Marnus moet trou, want hy het jou ouers se lojale gene geërf en ons kinders sal almal na hulle aard. Ek beloof jou, Kayla: as jou broer met my trou, sal ek nooit ooit weer met ’n ander man flankeer nie.”

Trynie se harde, ongelowige gesnuif laat hulle vinnig na die deur toe draai. “Asof ons jou glo! Marnus het te veel gesonde verstand om met ’n klein flerrie soos jy te trou. En gee nou pad voor my aangesig, Sunette. Kayla het gisternag nie ’n oog toegemaak nie, sy moet gaan rus. Toe, weg is jy!” bulder Trynie bo die gedreun van die motorfietsenjins.

“Ek soek eintlik net ’n slaapplekkie totdat ek my pa kan –” begin Sunette met ’n patetiese stemmetjie, maar skarrel blitssnel by die deur uit toe Trynie die broodrooster oplig en dit roekeloos in haar rigting swaai.

Trynie sit die broodrooster neer en neem weer aan die tafel plaas, haar uitdrukking onstuimig. “Klein pestilensie! Ek het gehoop ons sal ná al die jare eindelik van haar ontslae wees, maar sy klou soos kougom in ’n kat se pels. Ja toe, ek weet jy lag agter jou hand, Kaylatjie, maar dit was mý arme kat wat maande lank met bles kolle op sy lyf moes rondloop nadat Sunette hom vol kougom geplak het.”

“Ek en Sunette was net sewe, ta Trynie. Ons het gedink ons help die kat toe ons al die stukkies kougom met ’n skêr afknip,” herinner Kayla haar en vra nuuskierig: “Is tannie bly tannie het oom Sebastiaan eindelik ontmoet?”

Trynie sug beswaard en jaag ’n krummeltjie roosterbrood met haar wysvinger op die tafeldoek rond. “Jy kan maar sê ek is bly, sussie, maar ek was gister blyer toe ek op die leer gestaan het en net in Sebastiaan se blou-blou ogies gekyk het.”

“Maar hy was so gaaf, ta Trynie. Of hou tannie nie van sy stem nie?” vra Kayla.

“Die man het ’n wonderlike mooie stem, my engel, maar … Dit was toe ek opstaan en soos ’n hemelbesem oor hom troon dat al die mooi gedagtes wat in my hart was tot in my groot geel tekkies gesak het. Ek weet hoe lank ek in die ou mates was, maar ek is te bang om my in die nuwe mates te meet, want dalk is ek twee meter. Ag, liewe hemel tog, wat moet die goeie man van my dink?” vra Trynie hartseer.

“Briand het my vertel oom Sebastiaan was ’n geskiedenisonderwyser. Hy is ’n ontwikkelde man, ta Trynie – hy sal nie so simpel wees om hom deur so iets te laat afsit nie,” probeer sy Trynie moed inpraat.

“’n Onderwyser? Ag, sussietjie, jy moes eerder gepraat het. As hy ’n doodgewone ambagsman was, kon ek nog gehoop het. Maar ’n man met ’n geleerdheid soos hy … Gaan slaap, Kaylatjie, jy’s moeg. Ek gaan myself in ’n koma in werk sodat ek nie die energie het om aan Sebastiaan te dink nie!”

Kayla wag totdat die laaste motorfietsenjin net ná eenuur die middag afgeskakel word, klim die leer op om oor die muur te loer, en kyk vas in Briand se goudbruin oë. Sy hand gryp haar aan die skouer vas toe sy outomaties terugdeins.

“Het jou!” terg hy. “Ek wou jou net verras het – nie die oorsaak wees dat jy afval en jou nek breek nie.”

’n Golf van opwinding spoel deur haar toe sy hande haar skouers aanraak en sy slaan haar oë haastig neer, bang dat sy haar onstuimige emosies aan hom sal verraai. “Noudat ek weet julle het ’n leer, sal ek en ta Trynie nie meer op ons leer klim om julle dop te hou nie,” antwoord sy en voel haar hartklop bedaar toe hy sy hande wegneem van haar skouers af.

“Dis die pret van twee lere weerskante van die muur: ons kan heerlik privaat gesels en betyds sien as iemand probeer om ons gesprekke af te luister. Beloof jy om gereeld tydens middagete by my te kom kuier, mooi Kayla?” versoek hy, sy oë laggend in hare.

“Gaan jy nie binnekort terug Brasilië toe nie?” vra sy ewe ongeërg, asof sy planne haar nie werklik raak nie.

“Ek sal jou betyds waarsku en haastig terugkom,” skerts hy en vra nuuskierig: “Maar vertel my eers van ta Trynie: is sy die tannie met die wit hare wat gister oor die muur geloer het?”

“Ja, tant Trynie Geyer, ons huishoudster. Sy is deel van Huis Kanferfoelie en deel van my, amper soos ’n ouma, maar terselfdertyd ’n vertroueling en ’n vriendin. Oom Sebastiaan het haar ontmoet toe hy vroegoggend kom kuier het. Het hy jou vertel van sy kuiertjie?”

“In detail,” glimlag Briand, “want dit was op my aandrang dat hy verhoed het dat die spul manne julle huis binnestorm en ’n bierpartytjie hou. Het julle rêrig bier in die yskas?”

“Nie ’n enkele bottel of blikkie nie. As my tannie se vriende oorkom vir ’n vleisbraai, bestel sy spesiaal bier en gee dan alles weg wat aan die einde van die aand oorbly. Tannie Annelize hou van wyn en ek verkies sjampanje, maar ek kan dit nie bekostig nie.”

“Ek sal onthou wanneer ons saam gaan eet. Maar wat nou van die vriendelike blondekop wat die manne vir ’n biertjie genooi het? Woon sy ook hier?” vra Briand belangstellend en soek met sy oë oor die werf agter Kayla, asof hy hoop om Sunette te gewaar.

Kayla kreun innerlik, weer eens bewus van ’n hinderlike stekie van jaloesie in haar binneste. Geseënd met al die regte rondinge en genoeg skoonheid om ander meisies jaloers te maak, is Sunette vir die meeste mans onweerstaanbaar. Sy weet hoe om hulle te betower met haar sagte, effense hees stem wat sy spesiaal aanwend wanneer sy met mans praat, en haar verleidelike glimlaggies het ’n bekoring wat hulle gevange hou. Sunette kan in ’n wildvreemde man se oë kyk en met soveel opregte bewondering en belangstelling na hom luister dat die arme man glo hy is die belangrikste man in haar lewe en in die heelal. En nou vra Briand haar oor Sunette uit …

Sy is nie verlief nie, herinner sy haarself; sy was nog nooit verlief nie – nie verlief genoeg om jaloers te wees op haar boesemvriendin nie, maak sy haarself wys en glimlag met gedwonge lighartigheid in Briand se oë.

“Sunette Durand is my boesemvriendin vandat ons saam in graad een was, sestien jaar gelede. Sy was in die koshuis, maar omdat sy my beste maat was, het my tannie Annelize toestemming gekry dat sy naweke en sommige vakansies saam met ons kon deurbring. Sy is die kruis in ta Trynie se lewe, want sy vang altyd onmoontlike goed aan – dikwels skreeusnaakse goed.”

Briand skud sy kop, die lig in sy oë nadenkend. “Soos om vreemde mans vir ’n biertjie oor te nooi terwyl sy goed weet hulle het geen bier nie? Nee, ek dink jou boesemvriendin weet sy bemoeilik mense se lewens en lag in haar mou.”

“Jy verstaan nie, Briand. Goed, Sunette het gejok, maar ons het ’n rukkie stilte in ons huis gehad. Het oom Sebastiaan jou nie vertel hoe hard die lawaai van die motorfietse in ons huis is nie?” vra sy partydig, oneindig dankbaar dat Briand nie voor Sunette se sjarme geswig het nie – of het Sunette nie persoonlik met hom gepraat nie?

“Hy het, ja, en dis ’n sakie wat ek nog moet ondersoek – moontlik sal Hanco my ’n verduideliking kan gee.

“Wie is Hanco nou?” vra sy. Het Briand nie die vorige dag ook van hom gepraat nie?

“’n Ou vriend met briljante sakevernuf. Moontlik stel ek jou in die toekoms aan hom voor.”

Briand praat van ’n toekoms, besef sy, en ervaar weer ’n gevoel van opwinding wat haar hart vinniger laat klop, voordat die harde werklikheid haar huiwerende droom uitwis. “As Hanco ook in Brasilië sy besigheid bedryf, is die moontlikheid skraal – veral as my vliegkaartjie van eierverkope afhanklik is. Jy ken nie dalk iemand in die advertensiewêreld nie?”

“Nee, my werk is gewoonlik lankal afgehandel teen die tyd dat my kliënte van advertensieagentskappe gebruik maak.” Sy groot hand vou die hand toe waarmee sy aan die leer vashou en sy stem is deurvleg van erns en lag toe hy vervolg: “Dalk oorreed ek jou nog om my persoonlike assistent te word – of hou jy net van prentjies teken?”

“Moenie eens probeer nie, Briand – ek kan my niks verveliger voorstel as om ’n sekretaresse te wees nie. Om in Brasilië te woon, klink so aanloklik soos griep in die somer. As ek nie eens ter wille van my ouers in Brasilië wil gaan woon nie, waarom sal ek daar gaan werk?”

“Ek is ook lief vir ons land, maar ek gaan waar my inkomste die beste is. Ek besit ’n woonstel in São Paulo, maar ek het ’n pragtige strandhuis aan die Ooskus en ’n woonstel hier. Klink my aanbod aanlokliker, mooi Kayla?”

“Nie eens ’n bietjie nie. My ouers besit ’n strandhuis naby Durban en ek betaal nie losies om by tannie Annelize te woon nie,” antwoord sy met ’n tergende glimlaggie, onverklaarbaar verlig om te weet Briand het ’n woonstel in die stad en is oënskynlik nie gretig om hom permanent in Brasilië te vestig nie.

“Dan is sy vrygewig, al wil sy nie vir jou ’n nuwe motor koop nie,” gee hy halfhartig toe en vra met onverwagte erns: “Julle huis is selfs groter as die een hier agter my. Kos die elektrisiteit nie ’n fortuin nie? En wat van die onderhoud van die ou gebou? Julle is net drie mense in die yslike ou plek. Ek sou dink ’n meenthuis sou baie goedkoper wees.”

“Ek weet, maar dis die lekkerte daarvan om ’n slim tannie met ’n doktorsgraad in ekonomie te hê: ek hoef my nie oor haar finansies te kwel nie. Ons maak vanselfsprekend van sonverhitting gebruik en ons het ’n boorgat op ons werf. Sukkel jy om jou water- en kragrekeninge te betaal, jou arme man?”

“Snip! Ek is jammer ek het jou gevra om my sekretaresse te wees, maar aangesien oom Sebastiaan van jou ta Trynie se geklets hou, het hy gesê julle …”

“Nee, Briand, nee,” klink Sebastiaan se stem teregwysend aan die ander kant van die muur.

Kayla leun vorentoe om af te kyk na waar Sebastiaan aan die voet van Briand se leer staan, en sy voel haar asem in haar keel vassteek toe Briand sy arm beskermend om haar slaan.

“Ek sal nie val nie,” sê sy, vies oor die asemrige, effens hees klank van haar stem. Sy begin soos Sunette klink, maan sy haarself, weet ineens wat ta Trynie met ‘sielsgelukkig’ bedoel het, en sê haastig: “Hallo, oom Sebastiaan. Ek is bly oom het ta Trynie se geselskap geniet.”

“Goeiemiddag, Kayla. Dis wat ek aan Briand gesê het: dit was vir my ’n aangename verrassing om ’n dame van ongeveer my leeftyd te ontmoet en so lekker met haar te kan gesels. Dis waarom ek Briand gevra het om julle oor te nooi vir middagkoffie so teen vieruur. Sal jy my versoek oordra aan Trynie, dogter? Ek sou graag persoonlik met haar wou gepraat het, maar …”

“Ek sal so maak, oom Sebastiaan, maar met die motorfietse wat so raas … Of sal oom die manne kan oorreed om hulle motorfietse vir ’n halfuur af te skakel?” vra Kayla twyfelend.

“Ek kan probeer, Kayla, maar sê tog vir Trynie die lawaai is regtig nie erg in ons eetkamer nie. As ek nou net geweet het wie om aan te spreek oor die benarde situasie waarin ek my bevind …” sug Sebastiaan, groet met ’n vriendelike glimlaggie en stap weg.

“Dankie vir die uitnodiging, oom,” sê Kayla effens harder en gaan gedemp voort: “Jy kan my nou los, Briand. Ek hoef nie meer oor te leun om met oom Sebastiaan te praat nie.”

“Is dit die rede waarom jy so styf teen my skouer aangeleun het?” vra hy afgehaal, neem sy arm weg en kyk haar sonder ’n sweem van ’n glimlag in die oë. “Jy weet hoe om ’n man se selfbeeld te verpletter, Kayla. Ek dag jy voel veilig met my gespierde arm om jou.”

“Het jy spiere?” vra sy en lag onnutsig toe hy haar vies aankyk. “Ta Trynie sal verlig wees om oom Sebastiaan se uitnodiging te kry, want sy was bekommerd dat hy niks met haar te doen sal wil hê nie, omdat sy … e … nogal lank is.”

“A … dis waarom oom Sebastiaan haar as ’n uitstaande vrou beskryf het,” korswel hy. “Kom jy definitief saam met ta Trynie koffie drink by oom Sebastiaan?”

“Ek hoop so. Maar nou moet ek draf, want ta Trynie het gesê ons middagete is byna gereed. Dankie dat ek jou gespierde arm kon leen,” terg sy en glip vinnig by die leer af terwyl Briand onthuts maar vergeefs na haar gryp.

Trynie kyk beskuldigend na Kayla wat met ’n waarderende glimlag na die visgereg op haar bord kyk terwyl sy aan die eetkamertafel gaan sit.

“Lekker! Dankie, ta Trynie. Ek haat die vellose, bleek hoenderborsies wat tannie Annelize gaar stoom en afwurg net omdat sy nog die klere wat sy tien jaar gelede gekoop het, wil dra.”

“Die professortjie eet van jongs af omdat sy veronderstel is om te eet, nie omdat sy dit geniet nie. Sy sal nooit vet wees nie – net so min as wat ek of jy sal vet word of kan hoop om Sunette se verleidelike kurwes te hê,” antwoord Trynie. Sy klink byna bewoë en staar droewig voor haar uit. Dan is dit asof sy skielik iets onthou. “Wat gesels jy en Briand so lank? Hy lyk vir my soos ’n vatterige klong, toe ek deur die eetkamervenster kyk om jou vir middagete te roep –”

“Moenie jok nie, ta Trynie!” val Kayla haar in die rede. “Ek wed tannie het die hele tyd voor die eetkamervenster gestaan om te sien wat ek en Briand doen. Tannie weet, hy het op ’n leer gestaan en toe –”

“Ek het gedink hy staan dalk op ’n leer, maar nou weet ek vir seker, dankie, sussie. Lank, nes jy gesê het, en koringblonde hare. Maar dit was te ver om te sien wat die kleur van sy oë is.” Trynie sug bewerig. “Ek het nog altyd ’n sagte plekkie vir ’n man met blou oë gehad,” erken sy hartseer.

“Toe ek jonk was, het ek altyd oor lang, donker mans gedroom,” sê Kayla.

“Toe jy jonk was,” herhaal Trynie haar woorde verdwaas. “Kaylatjie, as ek nie so verdrietig gevoel het nie, het ek nou uitgebars van die lag. Jy ís jonk, my hartlam, en jy gaan nog vir baie jare jonk wees. Die dag as jy die ryp spierwit op jou kop sien lê, weet jy jou jeug lê agter jou.”

“Ek praat van toe ek ’n tiener was, ta Trynie. Ek is bly oom Sebastiaan het blou-blou oë, en nog blyer dat hy ons uitgenooi het vir middagkoffie.” Kayla kyk na Trynie, maar dié staar stip na haar bord kos en reageer nie op haar woorde nie. Sy raak liggies met haar hand aan Trynie se arm en vra besorg: “Wat makeer, tannie? Wil tannie nie by oom Sebastiaan en sy mense gaan koffie drink nie?”

“Koffie? Sebastiaan? Haai, liefietjie … wat praat jy alles?” vra Trynie verslae.

“Ek dra net oom Sebastiaan se uitnodiging oor, ta Trynie. Hy het ons genooi om vanmiddag om vieruur saam met hom hier langsaan koffie te drink. Tannie wil mos gaan?”

“Jy vra nog, sussie! Ek sal my nuwe groen rok …” begin Trynie opgewonde, maar blaas dan soos ’n geprikte ballon af. “Nee, waar is my verstand? Jou tannie Annelize is my werkgeefster en dis my plig om lojaal aan haar te bly. Nee, Kaylatjie, jy kan doen wat jy wil, maar ek durf nie my voete in die hippie-huis sit nie. Die professortjie sal sê ek steek haar in die rug.”

“Maar dis loutere onsin, ta Trynie. As tannie en die hippies goed bevriend raak, oorreed tannie hulle dalk om van die spul motorfietsryers ontslae te raak. Tannie wil mos nie oom Sebastiaan teleurstel nie – veral nie nadat hy vir my gesê het dit was ’n lekker … nee, ’n aangename verrassing om tannie te ontmoet en so lekker te gesels nie. Hoekom praat onderwysers altyd asof hulle woordeboeke ingesluk het?”

“Omdat hulle waardig is en trots is op ons taal,” antwoord Trynie en probeer om ernstig te bly, maar haar lippe glimlag vanself en ’n sagte blos kruip oor haar wange. “Dalk is dit my plig om Sheilah te leer ken en voor te stel dat ons ander loseerders vir hulle sal kry. Het jy al met die ou hippies … Kaylatjie, ek dink ons moet vergeet dat hulle hippies is, aangesien hulle familie is van Sebastiaan.”

“Met die klere wat hulle dra en hulle lang hare en kaal voete is en bly hulle hippies, selfs al noem tannie hulle Voortrekkers of troebadoers,” hou Kayla voet by stuk.

“Soms, sussie, is jy erger as Sunette,” sê Trynie afkeurend, begin rustig te eet en kyk op toe die voordeurklokkie lui. “Loer gou voordat jy die hek oopmaak, liefie. Ouderling Ehlers was reeds vandeesmaand saam met diaken Kriel hier. Die man het die lastige gewoonte om tydens middagete op te daag met die hoop dat ek hom kos sal gee. Vertel my gereeld van sy verskriklike hongerpyne wanneer hy my kos ruik – die ou aasvoël.”

“Daar is niemand by die hek nie, tannie,” sê Kayla, wat voor die naaste eetkamervenster staan. “Die tuinier maak nie sommer vir enigiemand die veiligheidshek oop nie. Dalk is dit weer oom Sebastiaan wat kom …”

“Is hy nie die pragtigste ding wat jy nog gesien het nie, my beste vriendin?” vra Sunette uit die oop deur en probeer om die onwillige Briand saam met haar die eetkamer binne te sleep.

“Sunette, jy is daagliks ’n beproewing vir my gees en veral vir my humeur, maar ek sal nie toelaat dat jy wildvreemde mans sonder enige kennisgewing by ons eetkamer insleep nie. Gaan wag in die sitkamer totdat ek my middagete klaar geëet het,” beveel Trynie omgekrap.

Briand skud Sunette se hand van syne af, kruis sy arms oor sy bors en sê verskonend: “Ek is jammer, ta Trynie. Ek het met behulp van die twee lere in julle erf geklim en die voordeurklokkie gelui, maar toe kom die … e … die meisie en dring daarop aan dat ons Kayla verras. Ek is Briand Olivier, ta Trynie. Ek hoop tannie is bly om my te ontmoet. Ek sal nou in die sitkamer gaan wag.”

“Staan, Briand-broertjie!” beveel Trynie, beskou hom van kop tot tone en kom tydsaam orent. Sy draai na Kayla met ’n salige glimlaggie wat om haar mondhoeke plooi. “Verbeel ek my, liefietjie, of is die man langer as ek?”

“Hy is definitief ’n paar sentimeters langer as tannie,” bevestig Kayla Trynie se vermoede en glimlag toe sy die uitdrukking van verwarring op Briand se gesig merk. “Ta Trynie gaan stap graag saam met mans wat langer … e … met lang mans, Briand. Sy sal jou uitnooi om saam met haar inkopies te gaan doen en om Sondag saam met ons kerk toe te gaan.”

“Ek is ook dol op lang mans … veral lang blonde mans met valkoë wat dwarsdeur my kyk en my koue bewerasie op my maag gee,” sê Sunette hees en kyk van onder haar flikkerende wimpers na Briand.

“’n Knippie koeksoda in asynwater sal jou maagkwaal vinnig genees, Sunette. Jy sal die bestanddele in my kombuis kry, maar bly uit my spens en my koekblikke uit. En kry jy daarna nog koud, klein oorlas, sal ek vir jou ’n trui leen,” sê Trynie ongeduldig en wend haar tot die stilswyende Briand. “Ek is bly om jou te ontmoet, Briand, veral nadat Kayla jou omgery het.”

“Wanneer het dit gebeur? Hoekom het jy my nie daarvan vertel nie, Kayla?” vra Sunette afgehaal, kyk na Briand en vervolg met ’n waarderende glimlaggie: “’n Man van staal – hy het nie eens ’n skrapie aan hom nie. Ek dood oor ’n man met spiere!”

“Sunette,” begin Trynie, haar stemtoon ’n onheilspellende gerammel in haar bors, “ek het jou vanoggend ontsien, maar ek breek die professortjie se kosbare porseleinborde op jou kop as jy nog een woord met Briand praat. Die jong man is ons gas, nie joune nie. Verstaan ons mekaar?”

“Ek sal nie name noem nie,” praat Sunette met die naaste skildery teen die muur, “maar ek mag seker hardop wonder of daar vir my ’n blyplekkie in die buurhuis sal wees, want hier in Huis Kanferfoelie sal iemand my in my slaap vermoor en my liggaam in die kelder tussen die spinnekoppe en rotte begrawe.”

“Sover ek weet, is al die kamers verhuur,” antwoord Briand, knipoog vir Kayla en wend hom tot Trynie. “Oom Sebastiaan het my gestuur om te hoor of tannie sal omgee as hy en Sheilah en Ben liewer hierheen kom om koffie te drink – as hulle mag. Sien, oom Sebastiaan bekommer hom oor tannie se veiligheid, want die motorfietsryers het nou ’n nuwe speletjie: hulle jaag die een ná die ander by die voorhek uit, ry heen en weer in die straat, en jaag terug huis toe. Dis soos oom Sebastiaan sê: die verkeer is nogal hewig voor die buurhuis.”

“Ag, hoe uiters bedagsaam van die goeie Sebastiaan,” sê Trynie. “Sebastiaan en sy mense is meer as welkom, Briand, en ek hoop jy sal ook saamkom. Jy en Kayla gesels juis so lekker.”

“Ek sal graag oorkom, dankie, ta Trynie. Ek probeer nog om Kayla te oorreed om my assistent te wees, maar sy verkies om prentjies te teken,” skerts hy.

“Ta Trynie, mag ek nou asseblief praat?” versoek Sunette bedees.

“Ja wat, stout kind, want stilbly, kan jy nie. Moet net nie verwag dat ek jou gaan uitnooi vir middagkoffie nie, want ek wil die kuiertjie saam met my bure geniet, nie versondig word nie.”

“Ek verstaan, ta Trynie,” antwoord Sunette met ’n soet stemmetjie. “Ek en Kayla sal nie hier kan wees nie, want ek het vir ons werk by ’n restaurant gekry, en ons skof is van vier tot middernag … of dalk later, hangende af hoeveel kliënte ons het en hoe laat hulle saam kuier en drankies …”

“Oor my dooie liggaam!” onderbreek Trynie haar streng. “Ek meen ek praat namens Annelize ook, want sy was destyds met vakansie toe julle twee stouterds skelmpies saans in ’n restaurant gaan werk het – kamma om ekstra sakgeld te verdien. Kaylatjie, jy weet voor jou siel jou tannie sal nooit toelaat dat jy laatnag ’n spul beskonke en vatterige mans in ’n restaurant bedien nie.”

“Wag nou, tannie,” pleit Sunette voordat Kayla kan reageer. “Dis ’n deftige restaurant en as die manne getrek raak, gee hulle groter fooitjies. ’n Ouerige oom het my een aand al die note in sy beursie gegee: ’n hele duisend rand! Kayla, dink net hoe vinnig sal jy vir jou ’n vliegkaartjie kan koop!”

“Ek sal nooit ’n suksesvolle kelnerin kan wees nie, Sunette,” keer Kayla. “Ek weet jy sê dis net toneelspel, maar ek weet nie hoe om met wildvreemde mans te flankeer en boonop toe te laat dat hulle kamtig per ongeluk aan my raak nie. Ek het nooit sulke groot fooitjies soos jy gekry nie.”

“Ek sal jou help om werk te kry, Kayla,” sê Briand, opsigtelik in sy skik met Kayla se reaksie. “Ons kuier netnou weer. Tot siens, ta Trynie. Baie dankie dat tannie nie omgee dat ons oorkom nie.”

Sunette wag ongeduldig dat Briand groet en die eetkamer uitstap en sê pleitend aan Kayla: “Ons het dan besluit om alles saam te doen, vriendin. Ons kan ons fooitjies deel as …” Sy swyg verward toe sy driftige voetstappe in die gang hoor nader kom.

“Daardie man!” sê Annelize en storm ontsteld die vertrek binne. “Ek weet wie hy is en ek wil hom nooit ooit weer in my huis betrap nie!”

Schalkie van Wyk Keur 15

Подняться наверх